Tweede Sondag van Paastyd

Picture of Woord en Fees

Tweede Sondag van Paastyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 20:19-31
Ander tekste: Handelinge 5:27-32; Psalm 118:14-29 of Psalm 150; Openbaring 1:4-8

Inleiding

Die sleutelteks van hierdie Sondag is een van Jesus se verskynings aan sy dissipels na sy opstanding uit die dood. Tomas was egter nie teenwoordig nie tog doen Jesus moeite om hom te help om te glo.
Die Openbaring- en Handelingetekste vir hierdie seisoen vorm hulle eie storielyn met die opgestane Jesus as fokus.
Die eerste Openbaringteks lei ook die boek in en gee die versekering dat Jesus sal terugkeer aarde toe.
Die Handelingestorielyn begin by Petrus wat voor die Joodse Raad getuig van die opgestane Here.
Die goue draad deur al die tekste is die getuienis dat Jesus werklik lewe.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Doopherinnering
God gee die sakramente omdat ons ook dikwels soos Tomas tasbare dinge nodig het om ons te help onthou.
Die voorganger giet water in die doopbak en gee gemeentelede kans om ’n kruis op hulle hand te maak.
Indien die nagmaal nie op hierdie Sondag gevier word nie, plaas ’n brood op die tafel wat gebreek word en wyn wat in die beker geskink word.

Diens van die Woord

Reaksie op Boodskap
Voorganger lees Openbaring 1:3-9 voor en gemeente antwoord met ’n loflied.

Diens van die tafel

Nagmaal
Skep ’n oomblik van stilte nadat die tekens uitgedeel is waar die gemeente hul sintuie kan gebruik om die tekens te ervaar voor hulle dit gebruik (voel, ruik, sien).
Maak die gemeente ook bewus van hulle sintuie wanneer die tekens op die tafel voorberei word en terwyl hulle die tekens gebruik (proe).

Uitsending

Vredesgroet
Voordat die voorganger die seën uitspreek, nooi hy/sy die gemeente om mekaar met ’n vredesgroet te seën met die volgende woorde:
“Vrede vir jou!” en “En vir jou!” as reaksie.

Musiek en sang

Doopherinnering: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”
Toetrede: Lied 155 “Verhef ons harte tot U, Heer”; Flam 318 “Nader tot die Here”
Verootmoediging: Lied 512 “Nader, my God, by U”
Lofprysing: Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”; Lied 464 “O Heer my God”
Tydens offergawes: Lied 519 “Wees stil en weet”
Slotlied:Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”

Preekstudie: Johannes 20:19-31

Teks

Die voorgeskrewe Skrifgedeelte is aan die meeste predikers goed bekend. Dit vorm ’n kerndeel van die berigte in die vier evangelies wat oor die verskyning van die opgestane Jesus aan individue asook die dissipelgroep handel. Betroubare en toeligtende kommentaar is vryelik beskikbaar in die meeste Studiebybels, op die Internet of spesifiek gerigte kommentare. Daar kan dus hier volstaan word met enkele samevattende opmerkinge.

1. Hoofstuk 20 van die Johannesevangelie word gekenmerk deur die besondere manier waarop die gebeure op die Paasdag vertel word. Die betekenis van die dag word oorheers deur die verskyning van die opgestane Jesus – eers aan enkelinge en later aan die dissipelgroep. Tereg word dié dag in die Grieks beklemtoon: “Op die dag, die eerste van die week” (20:1). Die eerste verskyning het plaasgevind “vroeg, terwyl dit nog donker was” (1). Dit was Maria wat na die graf toe is en tot haar ontsteltenis ontdek dat die steen voor die grafopening weggerol was. Sy het gehardloop en dit aan Simon Petrus en Johannes gaan vertel wat onmiddellik na die graf is om te gaan kyk. Terwyl hulle ook ontdek dat die liggaam nie daar is nie, het Maria buite die graf gestaan en huil, diep ontsteld dat hulle die liggaam van haar “Here”’ weggeneem het. ’n Persoon wat sy vir die tuinier aangesien het, vra haar na haar droefheid. Wanneer hy in die gesprek haar naam noem, herken sy Jesus en roep uit “Raboenie”, dit is Meester (20:16). Daarop gee Hy aan haar die opdrag om aan die ander dissipels, na wie Hy verwys as “my broers”, van sy komende hemelvaart te gaan vertel (20:17).

2. Die tweede verskyning van Jesus op die gedenkwaardige dag was “teen die aand” (19). Die dissipels was bymekaar en die deur gesluit uit vrees vir die Jode. Terwyl hulle met mekaar in druk gesprek was, staan Jesus onverwags in hulle midde. Watter vertrek dit was, word nie genoem nie. Sommige dink aan die bovertrek waar Jesus voor sy inhegtenisneming met die dissipels die Pasga gevier en Hy die nagmaal as gedagtenismaal ingestel het.

3. Indien laasgenoemde waar is, is dit treffend dat hierdie die plek was waar die verraaier vir die laaste keer deel van die klein kring dissipels was. Dit het nou egter ook die plek geword waar die twyfelende Tomas deur die sigbare en tasbare merke aan Jesus se liggaam tot die hartgrondige belydenis kon kom: “My Here en my God!” (28).

4. Tereg wys van die kommentare daarop dat dié dag ’n wyerkringende betekenis verkry het vanweë die wêreldveranderende uitwerking wat dit uitgeoefen het as dag waarop die gelowiges vergader het vir lof aan God, gebed en toewyding aan die Here. Dit het die herordening van die week meegebring. Die werksweek het met rus en reoriëntering begin. Die verhouding met die Skepper was die spilpunt waarom alles wat gedoen gaan word draai. Die vernuwing wat die rus bring, was ’n heenwysing na die Skepper wat lewe gee en onderhou.

5. Die groet, “Vrede vir julle”, waarmee Jesus die volgelinge begroet, verdien ook nadere aandag. Nie alleen het die Hebreeuse woord vir “vrede”, te wete sjaloom sowel as die Griekse weergawe eirènè as sodanig besondere betekenis nie, maar ook die feit dat die opgestane Jesus dit in sy eerste en volgende ontmoetinge met sy dissipels as begroeting gebruik het, verdien bespreking. Juis die feit dat Jesus dit na sy opstanding gebruik het, gee daaraan die betekenis van ’n toesegging/geskenk/gawe. Die geloofsverwagting waarmee die sjaloomgroet gebruik is, is nou vervul. Werklike vrede is nou in Jesus Christus ’n gegewe.  Dit beteken baie meer as om vir iemand te sê: “Mag dit met jou goed gaan!” Daar is baie meer hier op die spel. In sy bekende werk “Bijbelse woorden en hun geheim”, gee
F J Pop ’n waardevolle uiteensetting van sowel die Ou-Testamentiese sjaloom as die Nuwe-Testamentiese eirènè’.

Sjaloom het in die Ou Testament dikwels die betekenis dat dit “goed gaan op materiële gebied”. Dit was egter onlosmaaklik verbind met goeie stabiele verhoudinge op godsdienstige, politieke (binnelands en buitelands) en sosiale verhoudinge. Vrede is dan ook baie meer as die afwesigheid van oorlog. Dit gaan om positiewe en stabiele verhoudinge gewoonlik soos vasgelê in ’n verbond. Binne die verbond is elke party se voorregte en verantwoordelikhede duidelik ooreengekom. Wanneer ’n verbond verbreek word, is die vrede daarmee heen. Vir Israel was vrede ’n geskenk van God. Werklike vrede is nie buite God om te bereik nie. Sjaloom is nie ’n blote emosie of gevoel nie. Dit is ’n toestand/situasie waarin die mens sy lewe kan leef. Daarom is sjaloom en geregtigheid ook onlosmaaklik (Ps 85:11). Die Griekse weergawe beklemtoon tereg die orde in die samelewing. God en mens het elk ’n toegewese plek soos uitgedruk in die genadeverbond.

Vrede beteken ’n allesomvattende herordening, ’n opruiming van die lewe met God – mens – aarde in herstelde verhouding. Vrede is ’n helende proses. Dit maak heel wat gebreek het, uiteengeskeur is. Vrede maak sensitief vir die naaste, die medemens. Paulus se bespreking van die liggaam met die baie lede en die verhouding van die lede onderling (I Kor 12) is ’n uitstekende kommentaar op wat vrede is en doen.

Elke gemeente (Christelike geloofsgemeenskap) word gekonstitueer op basis van die vrede wat Christus se gehoorsaamheid aan God bewerk het en na sy opstanding aan hulle geskenk het.

6. Die verrassende is dat Christus ’n opdrag aan sy vredestoekenning verbind. Die gelowiges (dissipels/ volgelinge) word uitgestuur die wêreld in om hierdie vrede na alle mense uit te dra. Dit moet ’n heling van die hele wêreldsamelewing beteken. Waar ook al daar konflik en botsing, verwydering en vervreemding ingetree het, het die Christelike geloofsgemeenskap die opdrag om Christus se verworwe vrede te gaan indra/in werk.

Helaas, sal geen menslike vermoë hierdie opdrag kan deurvoer nie. Daarvoor is die onderlinge afguns en haat te diep en onkeerbaar. In eie krag, sal geen mens dit kan doen of daarmee kan volhou nie. Derhalwe skenk Christus sy Gees aan hulle sodat hulle as sy gestuurdes in die wêreld kan dien.

Konteks

Baie ouer predikers sal redelik verward en selfs geïntimideerd voel met die debatte wat in die openbare media oor Jesus gevoer word. Sterk argumente word aangevoer om sy godheid te loën. Hy sou niks meer as ’n besondere persoon uit die streke van Galilea gewees het nie. Hy kon ook nie die Seun van God gewees het nie want God is nie vleeslik nie en kan dus nie ’n Vader wees nie. Ook die verhaal van die opstanding is deur sy meelopers uitgedink en versprei.

Helaas is die soort argumente nie nuut nie. Ons lees dit reeds in die Bybel en wie ’n bietjie kerkgeskiedenis ken, weet ook hoe hierdie debatte dwarsdeur die geskiedenis selfs op ’n heftige wyse gevoer is. Al is baie bewoordinge skerp en beledigend, is dit elke mens se goeie reg om ’n eie standpunt te hê.

Wie egter wil probeer verstaan wat al die argumente en standpunte voor en teen die godheid van Jesus en sy opstanding uit die dood presies sê, beleef ’n woorde-doolhof waarin dit toenemend moeiliker word om te bepaal wat ’n mens nou wel moet verstaan en uiteindelik kan glo. Dit geld die eeu oue debatte sowel as die moderne studies. En wat ’n mens veral verstom, is die onverdraagsaamheid wat die debatte en optredes van individue en groepe – kerklike liggame ingesluit – teen mekaar kenmerk.

Gaan ’n mens egter terug na die kernbelydenis van die Christelike kerk soos saamgevat in die Twaalf Artikels of Credo, dan vorm die belydenis oor Jesus Christus die grootste deel – 6 van die 12 artikels – van die belydenis. Bedink ’n mens daarby dat die Twaalf Artikels soos dit tans geformuleer is, oor ’n periode van meer as 700 jaar gedoen is, dan moet verdere veranderinge met dieselfde sorg en deeglikheid gedoen word. Dit vra die wyds moontlike betrokkenheid van kundige persone in noue samewerking met die geloofsgemeenskap. Die lukrake en sensasionele wyses waarop uitsprake soms gedoen word, dra nie by tot meer en beter insig nie. Die belydenis omtrent die godheid van Jesus Christus en sy opstanding uit die dood, vorm ’n onlosmaaklike en onvervangbare deel van die evangelie.

Dit beteken egter nie dat die kerk nie volhardend moet besig wees met navorsing oor die inhoud en formulering van die hele belydenis nie. Daarom en daarvoor is daar ’n bepaalde kerklike weg geskep waarlangs vir sodanige herformulering gevra kan word.

Preekvoorstel

’n Somber stilte hang in die vertrek waar die dissipels en ander volgelinge van Jesus vergader is. Die deure dig gesluit uit vrees vir die Jode as gevolg van die ongekende haat en geweld waarmee hulle teen die volgelinge van Jesus begin optree het. Buite gee die laaste sonstrale nog net flouerig lig. Ten spyte van die gedempte gesprekke is daar ’n opgewondenheid. Die nuus het vinnig versprei dat Maria baie vroeg by die graf was en dit leeg gevind het, dadelik vir Petrus en Johannes gaan vertel het, buite die graf gestaan en huil het terwyl hulle ingegaan het om self te sien dat dit leeg is. Hier is sy deur ’n man – sy het gedink dit is die tuinier – gevra waarom sy so huil. Tot haar algehele verbasing en blydskap ontdek sy in die kort gesprek wat volg, dat dit Jesus is. Van Hom ontvang sy die opdrag om die dissipels in te lig dat sy hemelvaart naby is. Verder het twee wat op pad na Emmaus was ook beweer dat hulle die opgestane Jesus ontmoet het.

Terwyl hulle diep in gesprek was, staan Jesus meteens daar tussen hulle en Hy sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Alhoewel Jesus hier die gebruiklike Oosterse groet gebruik, het dit in sy geval baie meer gesê as: “Mag dit met julle almal goed gaan!”

Wie die volle impak van hierdie groet wil begryp, moet besef dat wat hier gebeur die snypunt vorm van heilsbeloftes en voorspellings van die verlede. In sy groet vang ons die eggo’s op van daardie aankondigings. Ons hoor weer die aangrypende lied van die hemelse koor in die nag van sy geboorte: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie hy ’n welbehae het!” (Luk 2:13, 14). En selfs van nog dieper terug in geskiedenis van Israel, klink die belofte deur van ’n Seun wat onder meer “Vredevors” genoem sou word (Jes 9:5).

Besonder betekenisvol is die feit dat Jesus se vredesgroet sy kruisdood, begrafnis en opwekking uit die dood as basis het. Dit is van “anderkant die graf” dat hy hulle toeroep: “Vrede vir julle!” Daarmee bevestig Jesus dat die stryd om die vrede vir hierdie aarde suksesvol deurgevoer is (Lüthi). Die onloënbare bewys daarvoor is die tekens aan sy hande, voete en sy. Almal kan dit sien. Nou kan niemand meer twyfel nie – ook nie Tomas nie! By die aanskouing en aanraking van die wondmerke kon Tomas nie anders as om namens ons almal uit te roep nie: “My Here  en my God!” (28)

Tereg kon Jesus sy volgelinge verseker van ’n unieke vrede as sy geskenk aan hulle: “Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh 14:27). Sy vrede is nie net ’n wapenstilstand nie. Dit skep iets totaal nuut. Enersyds verwyder dit die oorsaak van die stryd, konflik en leed, naamlik die ongehoorsaamheid aan die wil van God. Andersyds ontwapen dit die veglustige mens deur liefde in haar/hom uit te stort (Rom 5:5). Dit maak van vegtendes vriende en van die moordwapens nuttige landbou-implemente (Jes 2:4). Oorloë verwond vir altyd en dompel in armoede en hongersnood. Daarom is dit so ’n onbegryplike dwaasheid!

Sy vrede herorden die totale lewe – maak dit ’n “nuwe skepping” (2 Kor 5:17-19). Die nuwe mens staan in Christus in ’n nuwe verhouding met God, die medemens en die skepping (Die notas van items 1:5 en 6 hierbo kan hierby benut word).

Die geheim is die twee woorde, “in Christus”. Daarbuite is ons aan ons natuurlike self oorgelaat met as feitlike resultaat die gewetenlose vernietiging van die totale werklikheid. Wie egter “in Christus” die lewe gevind het, kan nie ophou om met Tomas in oorweldigende verwondering uit te roep nie: “my Here en my God!” Wie hierdie taal praat, word deur die Heilige Gees toegerus en gelei om dit op alle plekke, op alle lewensterreine, onder alle omstandighede uit te leef. Geloof ken nie ’n ander taal as lewensroeping nie. Hierdie belydenis is die hoogste wat geloof kan reik (Tenney).

Bibliografie

Die Bybel in Praktyk; Barclay, W. The Gospel of John. Vol 2, The Daily Study Bible; Barth, Karl. Kirchliche Dogmatik III/2, 537-540; IV/2, 160-162; Berkouwer, G C. Het licht der wereld. Het Evangelie van Johannes; Bouma, C. Het Evangelie naar Johannes. Korte Verklaring; Durand, Jaap. Doodloopstrate van die geloof. Perspektief op die Nuwe Hervorming; Erdman, Charles C. Die Evangelie van Johannes. ’n Verklaring; Hendriksen, William. A Commentary on the Gospel of John. Lüthi, Walter. Johannes das vierte Evangelium ausgelegt für die Gemeinde; Pop, F J. Bijbelse Woorden en hun geheim. Deel I; Smelik, E L Het Evangelie naar Johannes. De weg van het Woord. Reeks: PNT.

Teks

Vers 1. Lukas 23:56 sluit af met die woorde: “Op die Sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.” Toe dit verby was, op die eerste dag van die week (Sondag) na die donker Sabbat, het hulle graf toe gegaan. Dit was nie onmiddellik toe die Sabbat na sononder verby was nie, maar vroegoggend die volgende dag. Die twee dae word duidelik teenoor mekaar gestel en die “eerste dag” het ’n stereotipe geword vir Sondag (Marshall). Die reukolie is waarskynlik gebruik om die laaste deel van die begrafnis af te handel (Morris). Volgens Lukas is dit voor die Sabbat gereed gemaak (23:56).

Vers 2-3. Markus skryf dat hulle gewonder het hoe die klip weggerol sou word (16:3). Dit ontbreek by Lukas. Hulle ontdek dat die klip weggerol is. Dit is een van die vaste elemente in al die Paasverhale (Schweizer). In die Grieks word dieselfde woord gebruik vir “kry” (die klip weggerol) en “nie gekry nie” (die liggaam van Jesus).

Die uitdrukking “Here Jesus” is belangrik. Dit is die enigste plek in die evangelie waar dit gebruik word (Nolland). In Handelinge word dit meer gereeld gebruik, wat ’n aanduiding is dat dit van groter betekenis is as wat dit op die oog af lyk. Hoewel sommige manuskripte net van Jesus se liggaam praat, verklaar die uitdrukking die nuwe status van die opgestane Jesus. Hy is die Here (Marshall).

Vers 4-5. Die vroue is onseker oor wat gebeur het. Reiling en Swellengrebel vertaal die onsekerheid met “being at loss about this”. Net soos in Handelinge 1:10 (ook Hand 10:30) noem Lukas die engele “manne” (Morris; Marshall; Nolland). Die reaksie van die vroue is nie ’n aanbiddingshouding nie – eerder vrees en respek (Reiling en Swellengrebel; Morris), of selfs om die glans van die twee manne se klere te vermy (Nolland). Net soos die engele Jesus se koms aangekondig het stuur God nou hierdie twee manne om die goeie tyding van sy opstanding te deel (Geldenhuys).

Die vraag aan die vroue kan verstaan word as milde kritiek (Reiling en Swellengrebel). Geldenhuys noem dit ’n “gentle rebuke.” Schweizer verwys na ’n Joodse spreekwoord: “Dit is ’n gebruik om vir die dooies tussen die lewendes te soek en die lewendes tussen die dooies.” Omdat Jesus lewend is soos wat God lewend is, moet Hy nie tussen die dooies gesoek word nie (Schweizer).

Vers 6-7. Die groot aankondiging word gemaak. Nolland skryf: “The angels proclaim the Easter message that will dominate the early church’s preaching: ‘He has been raised.’ The women have come on a wild goose chase.” Daar staan nie dat hy “uit die dood” opgewek is nie, maar “Hy is opgewek”. Die veronderstelling is dat God Hom opgewek het. Die implikasie is dat dit ’n opstanding uit die dood is, veral as ons in gedagte hou dat die twee manne hulle aan Jesus se woorde oor die opstanding uit die dood herinner. Die woorde van die engele kom ooreen met die vroeë kerk se prediking (Hand 3:15; 4:10; 5:30; 10:40-42; 13:30, 31). Nolland skryf: “For Luke, the call to remember is important because for him the significance of the resurrection is inseparable from Jesus’ prior announcement of the necessity of both his suffering and his vindication as Son of Man.” Die “gentle rebuke” is te verstane omdat Jesus tog by verskeie geleenthede vertel het dat Hy sou sterf en opstaan (Luk 9:22; 9:44; 18:31, 32).

Daar is ook ’n ander element wat Nell uitlig, naamlik dat die “opgestane Heer niemand anders is as die aardse Jesus wat vroeër met sy dissipels in gesprek was nie”. Die historiese Jesus, die een wat op die strate van Galilea en Jerusalem geloop het, is tegelyk die opgestane Here.

Geldenhuys wys daarop dat die onvermoë om Jesus se woorde te onthou dalk verband hou met die verkeerde verwagting wat hulle van die Messias gehad het. Sy oorwinning oor sy vyande sou so anders wees as wat hulle hulle voorgestel het. Daarom het die kruisiging en dood van Jesus hulle so verwar. Sy woorde was daarom vir hulle onverstaanbaar. Die vroue was óf teenwoordig toe Jesus hierdie dinge met hulle gedeel het óf het dit by die dissipels gehoor (Marshall).

Vers 8-10. Die vroue onthou. Dis ’n bevestiging dat hulle dit iewers gehoor het; direk by Jesus of die dissipels. Lukas vertel nie wat die vroue gekommunikeer het nie. Die “al hierdie dinge” verwys na alles wat hulle ervaar het; die leë graf en die herinnering van die twee manne aan Jesus se woorde. Lukas se doel was om die feit van die opstanding te kommunikeer, nie die kleiner detail nie (Geldenhuys).

Die vroue word die eerste getuies van Jesus se opstanding. Anders as Markus se weergawe (16:8), waarin die vroue te bang was om te praat, het die vroue getuig. Hulle doen dit hier sonder om met Jesus self gekonfronteer te word. Plummer beweer die tradisie sonder Maria Magdalena uit as getuie (sien Joh 20). Al die ander evangelies gee die name van die vroue reg aan die begin van die verhaal, maar Maria Magdalena word eerste genoem. In Johannes is sy die enigste naam wat deurgaans genoem word. Nie al die name kom in al die evangelies voor nie. Lukas voeg die naam van Johanna by. Sommige van hulle word in Lukas 8:1-3 genoem. Hulle word beskryf as mense wat “uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg” het.

Vers 11-12. Lukas verwys na die reaksie van die dissipels op die nuus van die vroue. Die dissipels glo nie die verhaal nie. Die “onsin” kom in die Grieks ook in mediese taal voor en verwys na die deurmekaar pratery van iemand wat aan koors ly (Plummer). Dit kan ook vertaal word met sinnelose praatjies of leë gepratery (Reiling en Swellengrebel) of “senseless talk” (Geldenhuys). Lukas voeg by dat hulle die vroue nie geglo het nie. Petrus ervaar dieselfde as die vroue. Net soos die vroue wonder hy wat gebeur het, “still some considerable distance from having Easter faith”.

Konteks

1. Waar die kerk ook al bymekaar kom, is dit te danke aan die evangelie van die opstanding van Jesus Christus. Eintlik is elke Sondag Paasfees: “Op Paasfees vier ons die heiligheid van elke Sondag” (Noordmans). In die Russiese taal is Sondag Vaskreseniye (Opstanding). Die sentraliteit van die opstanding in die Oosters-Ortodokse Kerk is welbekend. Die wêreldwye kerk se hele bestaan is afhanklik van hierdie boodskap.

Morris wys op die gemeenskaplike elemente in die Paasverhale, onder andere die leë graf, die huiwering van die dissipels om te glo dat Jesus opgewek is en dat die eerste verskyning aan vroue was. Ten spyte van verskille in die Paasverhale van die evangelies is dit soos ’n wolk van getuies wat dieselfde punt wil maak: “Jesus has indeed arisen as the Conqueror over the grave, death and hell, and lives forever” (Geldenhuys).

2. Die artikel van Dirkie Smit in Woord teen die Lig 3 is ’n groot hulpmiddel vir ons nadenke oor die prediking in die Paastyd. Naas die uitstekende agtergrond en raad uit verskeie oorde, moet een opmerking van Smit uitgelig word omdat baie preekstudies oor die perikoop in hierdie slaggat trap. Hy skryf dat prediking oor die opstanding nie gesien moet word as apologetiek “wat as ’t ware die intellektuele besware uit die weg wil ruim en die geloof by mense wil in-redeneer nie”. Prediking op Paassondag het nie hierdie doel nie. Soms kry mens die indruk prediking ontaard in ’n verdediging van die historisiteit van die opstanding, terwyl die gemeente daar is om dié sentrale heilsfeit te vier.

Indien die prediking wel iets eenvoudig hieroor wou oordra, is die opmerkings van Tom Wright nuttig: “If Luke had been making this story up a generation or more after the event, as people sometimes suggest, not only would he not have had women going first to the tomb (women were not regarded as credible witnesses in the ancient world, as this story itself bears out); he would have had the apostles believe the story at once, ready to be models of faith and to lead the young church into God’s future. Not so: it seemed to them a silly fantasy, exactly the sort of thing (they will have thought) that you’d expect from a few women crazy with grief and lack of sleep. Nor does Luke attempt to describe, any more than the other gospels do, the moment when Jesus actually arose.” Die opstandingsverhale draai nie doekies om die twyfel en verwarring van Jesus se eerste volgelinge nie. Dit bly nie stil oor die vroue wat die eerste keer beleef het die graf is leeg nie. Dit probeer nie die leser met intellektuele besware oortuig nie. Dit herinner die leser Jesus se woorde is in sy opstanding vervul. Die opstanding is nie net nog ’n wonderwerk van God nie. Sy hele lydensweg en dood moes plaasvind. Hy het dit geweet. Hy het ook geweet dat Hy sou opstaan.

Vir God was dit geen verrassing nie. In hierdie verband het Jesus se woorde hulle oortuig. Jirair Tashjian skryf dat die daad van herinnering belangrik is in die Bybelse tradisie: “Throughout Scripture, there is repeated admonition to remember words and events from the past. In fact, one of the pitfalls of humankind is that too quickly they forget what God had said or done. God on the other hand does not forget. God remembers and is faithful to His covenant. The empty tomb will mean nothing unless the women and the other disciples remember what Jesus had said while he was in Galilee. The event of the empty tomb can be understood and interpreted only in light of what the message of Jesus had been throughout his life. The death and resurrection of Jesus are not isolated events. They are part of the ongoing activity of God in history. Each new event in this story must be understood in the context of earlier events and words.”

Die herinnering het die twee mans se ore laat oopgaan vir die Paasboodskap: “Hy is nie hier nie. Hy is opgewek.” Lueking skryf hulle het Hom hoor sê mense se sonde is vergewe, Lasarus moet uit die graf kom en Jaïrus se dogtertjie moet opstaan. Hierdie woorde het hulle nie oortuig nie. Noudat hulle sy woorde onthou, het alles sin gemaak. J P Versteeg skryf Jesus se opstanding is iets anders as die opstanding van die dogtertjie van Jaïrus of Lasarus. Die dood word by hulle net ’n entjie teruggedruk.  By Jesus se opstanding vind die dood die dood. Met Jesus se opstanding word die dood bekeer.

3. Die breër struktuur van Lukas 24 moet genoem word. Daar is drie groot opstandingsverhale wat saam die werklikheid van Jesus se opstanding verduidelik. Die eerste gaan oor die ontdekking dat die graf leeg is en dat Jesus se woorde in vervulling gegaan het (24:1-12). Die tweede verhaal is van Jesus se verskyning aan die Emmaüsgangers (24:13-35). Die derde gaan oor sy verskyning aan die elf dissipels en hulle uitsending (24:36-49). Een van die vaste elemente in al drie verhale is die beweging van onbegrip tot verstaan. Die verskillende groepe se oë word oopgemaak. Die onbegrip word reeds in Lukas 18:34 genoem: “Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.”

Twee hermeneutiese insigte van Ian Nell (Woord teen die Lig I/9) kan in dié verband uitgelig word. Eerstens moet ons in gedagte hou dat Lukas en Handelinge beide deur Lukas geskryf is. Die opstanding is die oorgang tussen die evangelie en Handelinge. Die opstanding funksioneer aan die einde van die evangelie en aan die begin van Handelinge: “Tereg kan gesê word dat Lukas-Handelinge meer as enige ander Nuwe-Testamentiese geskrif verantwoordelik is vir die aanbieding van die Christendom as ’n godsdiens van opstanding.” Nolland lê in sy kommentaar ook klem op die verbinding tussen Lukas en Handelinge. Die opstanding in Handelinge is die goddelike omverwerping van die foutiewe menslike oordeel oor Jesus (2:23-24; 3:13-15; 5:30; 13:29-30) en die goddelike bevestiging van Jesus as Heer en Christus (2:36). Niemand kon Hom in die dood hou nie (2:24, 31). Die dissipels verkondig en maak mense gesond in die Naam van die lewende Here (3:15-16; 4:10). Die opstanding is die publieke versekering dat Jesus deur God aangewys is om die wêreld te oordeel (17:31; sien ook 10:40-42).

Die tweede hermeneutiese insig van Nell is die geloof van die vroue. Die vraag is of hulle geloof reeds opstandingsgeloof is. Hy verwys na Plevnik se studie oor dié vraag en wys daarop dat dit inderdaad opstandingsgeloof is, in onderskeiding van die dissipels se twyfel. Hulle twyfel is weggeneem, hulle het Jesus se woorde onthou en het getuies van sy opstanding geword.

Min twyfel bestaan oor die sentrale rol van die vroue in hierdie verhaal. Hierdie en ander vroue speel ’n groot rol in Lukas. Hierdie evangelis noem die meeste name (24:10). Twee van hulle word reeds in Lukas 8:2, 3 genoem. Waarskynlik was hulle ook deel van die groep by sy kruisiging en die graf (23:27, 49, 55). Arland Hultgren skryf: “The way that Luke reports the Easter story takes us back to the way he tells the story of Jesus all along. The opening scenes of his gospel are about women who have a major role to play in the entire drama of redemption, including Elizabeth (1:41-45), Mary (1:38-56), and Anna (2:36-38). Each is a prophetic figure, speaking of the wondrous works of God. There are additional vignettes that feature women as persons of faith throughout the story (7:1-17, 36-50; 8:2-3; 10:38-42; 11:27-28; 13:10-17; 15:8-10; 18:1-8; 23:27-28), all of which are distinctive to Luke.”

Preekvoorstel

1. ’n Mens moet simpatie met die vroue hê wat op die eerste Sondagoggend die laaste eer aan Jesus se liggaam wou gaan betoon. Hulle het graf toe gegaan om die dooie liggaam van Jesus met reukolie te versorg. As deel van die Joodse gemeenskap het hulle geen idee gehad wat op hulle wag nie. Immers, daar sou uiteindelik ’n opstanding uit die dood plaasvind, maar eers aan die einde van die tye. So het hulle geglo. Geen wonder dat hulle verward was toe hulle sien die klip is weggerol en Hy is nie daar nie. Tom Wright skryf die vroeë oggendure van Pase is een vol verrassing, verbystering, vrees en verwarring: “They weren’t going to the tomb saying to themselves, ‘Well, we’ve got the spices in case he’s still dead, but let’s hope he’s alive again . . . It was simply that nobody had ever dreamed that one single living person would be killed stone dead and then raised to a new sort of bodily life the other side of the grave, while the rest of the world carried on as before.” Wat hier gebeur maak geen sin nie.

Noordmans skryf dat die vroue in baie opsigte die lewenshouding van alle mense verteenwoordig. Ons hou vas aan die balsem: “Met speserye wil hulle die dood bestendig. Daar is geen opstanding nie, net verset teen die dood. Maar dit is ’n verset wat tevergeefs is. Daar is geen oorwinning oor die dood nie.” Maar as dit die einde sou wees, skryf Noordmans elders, sou die evangelie ook aan ’n einde kom. Thomas sou nie van sy twyfel genees word nie. Die Emmausgangers sou geen vreugde ken nie. Daar sou geen Paulus op die Damaskuspad wees nie. Ons sou saam met Hans Küng kon byvoeg: “Sonder Pase – die belydenis van Christus se oorwinning oor die dood, is daar geen evangelie, geen Bybel, geen kerk, geen gemeenskap van gelowiges om te troos nie.” Pascal skryf: “Sonder Christus kan die wêreld nie voortgaan nie. Dit sou of vernietig of in ’n soort hel ontaard.”

2. In hierdie omstandighede verras God ons met ’n boodskap uit die hemel. Dis ’n boodskap uit ’n ander wêreld. Dit is nie wat hulle verwag het nie. Dit is nie wat hulle wou hoor nie, maar dit is wat hulle nodig gehad het (Wilcock). Hy is nie hier nie. Hy is opgewek! Die engele, sê Noordmans, is ook verbaas oor die logika van die dood. God is nie ’n God van die dood nie, maar van die lewe. Die wêreld van die dood en die wêreld van die lewe begryp mekaar nie. Hoe kan julle die lewende Jesus Christus by die dooies soek? Die dood rym nie met die lewende God nie: “Die Vader van ons Here Jesus Christus is nie die Vader van ’n gebalsemde mummie nie” (Noordmans). Twyfel en ongeloof hou vas aan die logika van mense. Geloof hoor dat God sterker as die dood is.

3. Al maak dit nie sin vir die vroue nie, neem die boodskappers van die hemel die vroue terug op die pad van herinnering. Hierdie herinnering is meer as om net te onthou wat Jesus gesê het. Om te onthou is om vertroos, opgebou en versterk te word. Om te onthou is om te verander. Die boodskappers van God herinner hulle aan Jesus se woorde wat keer op keer in hulle ore weerklink het, maar nie ingesink het nie. Inteendeel, Lukas 18:34 herinner ons daaraan dat dit byna onmoontlik vir hulle was om sy woorde te onthou: “Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.”

4. Die vroue onthou. Hierdie mense wat ’n groot rol in die Lukas evangelie speel maar steeds in die samelewing as onbetroubare getuies gesien is, word die eerste getuies. Hulle kan nie stilbly nie. Dis wat gebeur wanneer die woorde van Jesus in ons harte begin weerklink. Die Woord en sakrament herinner ons gedurig aan hierdie woorde van Jesus.

Vergeetagtigheid lei tot ongeloof en afvalligheid (Ps 106). Herinnering lei tot geloof en aksie. Noordmans skryf: “Elke diens wat ons in Christus verrig sal iets wegneem van die werking van die angs vir die dood . . . Elke stap wat ons neem in die sin van die Paasevangelie bring ons nader aan die ontmoeting met die opgestane Heer.”

Met getuienis van die vroue word die eerste stap geneem in die kragtige boodskap van die kerk wat hoop bring vir elke mens. Hierdie vroue het die moed van hulle oortuiging gehad om die dwaasheid van die opstanding te gaan verkondig. Dit maak nie sin nie, maar hulle het geweet dis waar, want die woorde van Jesus het in hulle harte grond gevat. Hulle het Hom nog nie gesien nie. Hulle het nie geweet wat die toekoms inhou nie. Maar hulle het geglo en verkondig!

5. Tom Wright vertel dat een van sy kollegas opgemerk het dat as hy ooit ’n outobiografie sou skryf, die titel sou wees: “I Told You So.” Die tragedie van die Paasboodskap is dat ons dit oor en oor hoor, maar tog nie hoor nie. Dit stop in ons oordromme. Dis asof ons hoor, maar tog nie hoor nie. Die verhaal maak duidelik dat ons slegs werklik hoor as God ons herinner aan sy woorde.

Die Paasboodskap is deel van die herinnering wat gelowiges jaar na jaar (eintlik Sondag na Sondag) beleef. Ons hoor egter nie met ons ore en verstand nie. Ons hoor met ons hart. Om te onthou lei tot geloof (Rom 10:10-17). Noordmans skryf dat herinnering geen intellektuele kennis is nie, maar kennis van die hart. Wanneer die hart gesond word keer die herinnering terug: “Geloof in die opstanding is nie redelike insig nie, maar hartlike vertroue, net soos die vergewing van sondes.” Immers, “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Rom 4:25).

Ons weet nie hoe die opstanding van Christus in ons gebroke wêreld hoop in die mees hopelose situasies van verwoestende twyfel en wanhoop sal bring nie. Al wat ons weet is dat God verrassend nuut begin. Ons weet dat Jesus lewe en ons met Hom. Dood, wie sou vir jou nog bewe? Wright skryf: “From the beginning, the gospel is good news not least because it dares to tell us things we didn’t expect, weren’t inclined to believe, and couldn’t understand. Did we expect the gospel would be something obvious, something we could have dreamed up for ourselves?”

5. Die kerk van Jesus Christus is die draer van die boodskap van hoop in ’n wêreld vol doodloopstrate. Selfs terwyl bestaan nog ’n doodsreuk het, verkondig ons die lewe. Selfs al is die dood die sagte agtergrondmusiek in almal se lewe en besef ons dat almal eenmaal sal doodgaan en elke rekening met dieselfde saldo sal sluit (Brunner), leef ons met hoop omdat Hy nie in die graf is nie. Ons dra dit na ander twyfelende dissipels en stukkende mense toe. Hultgren verwys na ’n oggendgebed in die gebedeboek van die Evangelies Lutherse Kerk: “Mighty God of mercy, we thank you for the resurrection dawn, bringing the glory of our risen Lord who makes every morning new.” Kort daarna antwoord die gemeente met die volgende woorde: “Merciful God of might, renew this weary world, heal the hurts of all your children, and bring about your peace for all in Christ Jesus, the living Lord.”

6. Wilcock vertel ’n storie van ’n predikant wat by sy ordening aan die einde van sy Skriflesing gesê het: “Hier eindig die evangelie.” Die biskop het gesê: “Die hemele behoed dit.” Lukas 24 is die laaste hoofstuk in die evangelie, maar dis nie die einde van die evangelie nie!

Bibliografie

Geldenhuys, Norval  1968. Commentary on the Gospel of Luke: (NICNT). Eerdmans; Hultgren, Arland J. Commentary on Luke 24:1-12 at http://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=1581; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke (NIGTC), Exeter: Paternoster Press; Leon Morris, 1974. The Gospel According to St. Luke: an Introduction and Commentary. Leicester: Inter-Varsity Press; Nolland, 1980 J 1993. Luke 9:21-18:34 (Word Biblical Commentary Vol. 35b). Thomas Nelson; Noordmans, O 1990.Verzamelde werken 8. Kok; Noordmans, O. Verzamelde werken 7. Kok.; Plummer, A. St. Luke (International Critical Commentary). T&T Clark; Reiling, J en Swellengrebel, J L 1987. A Translator’s Handbook on the Gospel of Luke (Volume 10). Brill Archive; Schweizer, Eduard 1984. The Good News According to Luke. John Knox PressTashjian Jirair, Easter Sunday. Commentary on Texts. http://www.crivoice.org/lectionary/YearC/Ceaster1nt.htmlCopyright © 2013 CRI/Voice, Institute; Wilcock, M 1998. The Message of Luke (Bible Speaks Today). InterVarsity Press; Wright, Tom 2001. Luke for everyone. Westminster: John Knox Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.