Tweede Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Hierdie Sondag word tradisioneel genoem: Quasi Modo Geniti –“Soos pasgebore kindertjies” uit 1 Petrus 2:2.

“Soos pasgebore babatjies” (ekumeniese tema vir dié Sondag) verwys na die dissipels (en gelowiges) wat, na die opstanding, hulle eerste treë op die pad van geloof en getuienis gee. Dit is ook die lyn wat deur vandag se tekste loop.

Dit wat God in Jesus Christus gedoen het, lê ’n verpligting (eis) op ons: God het ons verlos met ’n doel, dat ons sal glo en getuig.

Al vandag se tekste het ’n sterk liturgiese kleur. Dit begin by die groet wat sê wie dat God is en wat Hy in Jesus wil doen. Hierdie “genade en vrede” eis van ons ’n bepaalde lewe – geloof en getuienis.

Fokusteks

Handelinge 5:27-32

Ander RCL tekste

Psalm 118:14-29 of 150 (Die Here doen kragtige reddingsdade. Ons kan ons daarin verheug);
Openbaring 1:4-8 (Jesus, die eerste wat uit die dood opgestaan het, maak ons sy koninkryksmense);
Johannes 20:19-31(Die opgestane Jesus verskyn aan die dissipels en stuur hulle uit as getuies).

Handelinge 5:27-32
Die vervolging van die apostels
17Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp. 18Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop. 19Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê: 20“Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”

21Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer.

Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir ’n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal.

22Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel: 23“Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.”

24Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde dit hoor, was hulle uit die veld geslaan en hulle het gewonder wat van die apostels geword het. 25Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!”

26Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe.

27Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28“Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

29Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

33Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. 34Een van die Fariseërs in die Raad, ’n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie buitentoe gevat moet word. 35Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen. 36’n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het ’n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie. 37Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met ’n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag. 38Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. 39Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!”

Die Raad het na hom geluister. 40Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat.

41Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. 42En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

Eksegeties

Die Sanhedrin (ook bekend as die raad) het bestaan uit altesaam 70 lede uit die party van die Sadduseërs en Fariseërs. Die Sanhedrin se hoëpriester en sy kollegas het die leiding in die arrestasie van die apostels geneem. Die Sanhedrin het by hierdie geleentheid, vir die verhoor van die apostels, die volle raad byeengeroep (Gr pasan ten gerousian) – dit wil sê insluitend die 46 familiehoofde. Altesaam 116 regters sou die saak van die apostels aanhoor. Een van die kernmotiewe van ons gelese gedeelte is die verwerping van die evangelie deur die Sadduseërs en Fariseërs. Die Sanhedrin was met ywer (Gr ζηλου) gevul. Die Griekse woord (ζηλος) beteken warm. Die Sanhedrin was met ywer gevul, omdat die apostels die opstanding van Jesus verkondig wat lynreg teenoor hulle leer staan. Dit was dus vir die Sanhedrin ’n dogmatiese kwessie. Hulle het immers die moontlikheid van ’n opstanding ontken en het ook nie geglo aan engele of geeste nie, nog minder het hulle die bestaan van ’n geestelike wêreld erken (Hand 4:2; 23:8). Hulle het die verkondiging van Christus se opstanding as lynreg teenoor hul geloofsisteem gesien en daarom het hulle die apostels gevange laat neem.

Dit is ook die derde arrestasie van Petrus en Johannes. Gedurende die nag is hulle egter op ’n wonderbaarlike wyse bevry. Vroeg die volgende dag het die Sanhedrin uitgevind dat die apostels nie meer in die tronk was nie en dat hulle blykbaar op ’n wonderbaarlike wyse uit die tronk bevry is. Verder het hulle ook die tyding gebring dat die apostels in die tempel besig is om die mense aangaande Jesus en sy opstanding te leer. Daar was blykbaar altyd Jode wat voor dagbreek met hulle seremonies vir die dag in die tempel begin het.

Vers 26-27: Die bevelvoerder en sy wagte het die apostels, wat hulle vrywillig gevolg het, na die plek waar die Sanhedrin vergader, vergesel. Die wagte het ’n openbare opstand gevrees. Die toehoorders in die tempel was die apostels simpatiek gesind. Die hoëpriester het die apostels op twee aanklagte laat verskyn. Eerstens, dat hulle die bevel van die Sanhedrin om nie die mense in die naam van Jesus te leer nie, geïgnoreer het. Tweedens, dat hulle gepoog het om die Sanhedrin vir die dood van Jesus verantwoordelik te hou.

Vers 28: Die Sanhedrin was bevrees dat die leer van die apostels uiteindelik tot ’n bloedige opstand kon lei. Die hoëpriester noem nie Jesus op sy naam nie, maar verwys na Jesus met “in hierdie Naam”. Vir die Sanhedrin is Jesus dus ’n nonentiteit. Alhoewel Jesus aan die Sanhedrin bekend was, word na Hom in die derde persoon verwys.

Vers 29: Op die aanklagte antwoord Petrus dat ’n mens aan God meer gehoorsaam behoort te wees as aan die mens. Lukas beskrywe Petrus uiteraard as die spreekbuis van die ander apostels. Die apostels het egter met Petrus se argument saamgestem. Op die eerste klag dat hulle die leer onwettig verkondig, is Petrus van mening dat God se opdragte belangriker is as die opdragte van die Raad.

Vers 30: Deur die Joodse leiers van die moord op die Messias, wat God uit die dood opgewek het, te beskuldig, doen Petrus ’n oproep vir ’n Goddelike ingrype. Petrus beskuldig egter nie net nie, maar lê ook klem op die bekering en vergifnis van sondes. Met die uitdrukking “God van ons voorvaders”, probeer Petrus toon dat hy homself nog as Jood beskou. Die vroeë kerk wou aanvanklik nie met die Jodedom breek nie. Die apostels bring dus nie ’n nuwe godsdiens na vore nie. Twee keer in Handelinge (5:30; 10:39) word na Jesus se dood verwys as “aan die kruis gehang”. Die frase wys terug na die Joodse geloof, naamlik dat ’n mens wat aan ’n kruis hang deur God vervloek is (Deut 21:22 ev). Petrus gebruik die uitdrukking “hang aan ’n boom” (Gr kremasantes epi xylou) om na Christus se kruising te verwys (Hand 5:30). In die Nuwe-Testamentiese tyd is die Griekse woord xylon gebruik vir objekte wat uit hout gemaak is, ingeslote die houtpale. Lukas gebruik die Griekse woord xylon om na die stokke te verwys wat by die arrestasie van Jesus gebruik is (Luk 22:52), asook na die blokke waarin Paulus geplaas is (Hand 16:24). Enkele kere in die Nuwe Testament, soos hier in vers 30, word die Griekse woord xylon gebruik om na die kruis van Jesus te verwys (10:39; 13:29; Gal 3:13; 1 Pet 2:24).

Vers 31: Dit is die  eerste keer in Handelinge dat die titel “Verlosser” (Gr soter) gebruik word om na Jesus te verwys. Dit word in Handelinge nog slegs een keer gebruik (13:23). Die titel kom egter 20 keer in die res van die Nuwe Testament voor. God se verlossingsplan werk volgens Lukas, Johannes, Matteus, Petrus en Paulus deur Jesus Christus (Fil 3:20; 2 Pet 1:1; 1 Joh 4:14). Petrus stel dit onomwonde dat verlossing onder geen ander naam aan die mense gegee word nie (Hand 4:12). Deur gebruikmaking van die frase “hang aan ’n boom” (Deut 21:22-23), beklemtoon Petrus die kontras tussen die mense se verwerping van Jesus en God se verheerliking van Jesus as Prins en Verlosser (Hand 5:31). Jesus is nou die Prins in die hemel en die Verlosser van Israel (Dan 9:25; Jes 43:11). Verlossing word ook gebied aan die mense wat Jesus aan die kruishout gehang het; diegene wat Hom verwerp het.

Vers 23: Die apostels se verkondiging was gegrond op hulle getuienis van die dinge waarvan hulle gepraat het. Hulle is onder andere vervul met die Heilige Gees wat deur hulle gepraat het. Petrus beklemtoon in vers 32 dat hy en die apostels gehoorsaam was aan die opdrag van God om die evangelie te verkondig (1:8; 5:20). Volgens Petrus het hulle dit gedoen in medewerking met die Heilige Gees.

Hermeneuties

Daar is verskeie gevalle in die Bybel (Ou en Nuwe Testament) waar die tema, wat ons deesdae burgerlike ongehoorsaamheid sou noem, ter sprake kom (vgl Matt 22:15-22; Mark 12:13-17; Luk 20:20-26; Rom 13:1-8;
1 Tim 2:1, 2; Titus 3:1; 1 Pet 2:13-16). Bybelse voorbeelde van persone wat die strategie van burgerlike ongehoorsaamheid gevolg het, is Jogabed (Eks 1:15-2:10; Heb 11:23), Ester (Ester 3:6, 15; 7:4-6), Daniël (Dan 6:4-15), Johannes en Petrus (Hand 5:29, 41, 42), en Paulus (Hand 16:35-40). In die kerkgeskiedenis het die volgende persone onder andere gekies vir burgerlike ongehoorsaamheid teen die owerhede en politieke beleid van hulle tyd: Martin Luther, Dietrich Bonhoeffer, Martin Niemoller, Martin Luther King jr.

Ook Johannes Calvyn het in sy Institusies ’n bloudruk vir burgerlike samelewing gegee: “establish civil justice and outward morality (4:20, 1), the magistrate, who is ‘the protector and guardian of the laws’ (4:20, 3), Calvin referred to these civil rulers favorably as ‘vicars of God,’ (4:20, 6), ‘the highest gift of (God’s) beneficence to preserve the safety of men’ (4:20, 25), Calvin urged believers to consider that through prayer God might change the hearts of rulers (4:20, 29). Calvin taught not only that there were exceptions to the above considerations but also that obedience to God was primary: ‘(O)bedience (to a ruler) is never to lead us away from obedience to Him’ (4:20, 32).”

Beginsels vir burgerlike ongehoorsaamheid is onder andere dat aan God alleen en geen ander wese nie, soewereine mag behoort en dat alle mag op aarde onder die majesteit van God staan. Christene behoort te bid vir die regering van die dag.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Om aan God gehoorsaam te wees al kos dit wat ook al

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is twee voorstelle vir hierdie Sondag wat jy kan gebruik:

  • Laat die gemeente in ‘n eerste rondte stil word rondom die gedagte dat hierdie eerste Sondag na Paasfees tradisioneel genoem word: Quasi Modo Geniti –“Soos pasgebore kindertjies” uit 1 Petrus 2:2.  Dit verwys na gelowiges wat, na die verrukking van die opstanding, hulle eerste treë op die pad van geloof en getuienis gee, soos ons later van Petrus en Johannes gaan lees.  Dink na oor die wonder van geloof en loof die Here daarvoor.
  • Laat die gemeente in ‘n tweede rondte nadink oor die feit dat “pasgebore” gelowiges ook dikwels teenstand ervaar.  Dit is eintlik onvermydelik dat ‘n nuwe geloofspad tot ‘n konflik met gevestigde belange  sal lei, soos on weereens in die teks van Petrus en Johannes gaan lees.  In baie dele van die wêreld lei geloof in Jesus tot erge vervolging.  Dink aan sulke gelowiges wat in haglike omstandighede steeds vandag, saam met ons, die Here dien.  Bid vir hulle.

Lied

‘n Lied wat uitstekend aan die begin van die diens sal pas:

Flam 266. “‘n Skadu Oor My”
(RUBRIEK:  Kruisvuur – Toewyding)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. ‘n Skadu oor my
deur sonde gedryf in my lewe
‘n God wat bevry
sy Seun aan ‘n kruis, Hy’s my Here
Wat sou ek vir Hom kon bring?
Wat sou ek vir Hom kon sê?

Refrein:
Dis hier waar ek my lewe neer wil lê
Op my knieë word ek God se huis
Dis hier waar ek my oë rig op Hom
en sien die skadu oor my is ‘n kruis.
Ek sien die skadu oor my is ‘n kruis

2. Die Heilige Gees
neem die beheer van my lewe
Dis God binne my
en ek sal bely:  Ek’s vergewe!

Brug:
U het reeds my gehoorsaamheid verdien
U het reeds my sonde uitgewis
Neem nou my hart en maak dit rein
Neem nou my hart net vir U

Familie-oomblik

Die Paastyd dra die boodskap dat die kruis nie ‘n einde was nie, maar ‘n begin.  Dit is ‘n nuwe hoofstuk in God se werk op aarde.  Handelinge 5 is ‘n voorbeeld van wat God deur sy dissipels doen.  Petrus verwoord dit so: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”  Dit is ‘n dapper standpunt wat ons oproep om nie die gewilde keuses van die skares te volg nie, maar wat God wil.

Die verhoor van die dissipels kan gedramatiseer word.  Kies ‘n outoritêre persoon wat die hoëpriester kan speel, twee karakters wat Petrus en Johannes kan voorstel, en ‘n paar kinders wat die res van die Joodse Raad kan speel.  Skryf ‘n kort dialoog op grond van hierdie gedeelte en voer dit op dramatiese wyse op.  Die klimaks is die dapper standpunt van Petrus.

Deel aan elke gemeentelid ‘n klein herinneringsteken uit om hulleself op dieselfde manier as Petrus te verbind om aan God gehoorsaam te wees eerder as aan mense: bv. ‘n klein kruisie van metaal, draad of plastiek, wat hulle in hulle sak kan saamdra deur die hele Paastyd.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Hoog in die bergagtige suid-ooste van Turkye lê die stad Malatya.  Die stad is omring met vrugbare landbougrond, ryk aan water met die magtige Eufraat wat deur die streek vloei, en bekend vir hoë kwaliteit appelkose.  Die finansiële voorspoed van die streek hou direk met die appelkose verband.

Ons verhaal speel op 18 April 2007 in Malatya af.  Vyf jong Turkse mans, tussen 19 en 20 jaar oud, klop aan die Bybelverspreidingskantoor waar Nacati Aydin, 36, Ugur Yüksel, 32, en Tilmann Geske, 45, werk.  Necati en Ugur was Turkse bekeerlinge uit Islam, met Tilmann ‘n Duitse burger en sendeling.  Necati Aydin het ‘n jaar tevore die rol van Jesus in ‘n teaterproduksie vertolk wat op Christelike TV (Turk-7 Sateliet) na Turkye gebeeldsaai is.

Die vyf jongmans dui aan dat hulle in die Christelike geloof belangstel, en wil graag meer oor die Bybel hoor.  Terwyl Aydin, ‘n opgeleide predikant, uit die Bybel voorlees, word die drie Christene gegryp, aan hulle stoele vasgebind, en daarna wreed gemartel. Vervolgens word hulle kele afgesny, sekondes voordat die polisie – wat deur ‘n ander werknemer ontbied is – op die toneel aankom.

Al drie sterf.  Twee van die vermoordes het huweliksmaats en klein kinders agtergelaat.  Die ander een het op trou gestaan.  Tilmann Geske se vrou het besluit om met hul kinders in Malatya aan te bly.  Hy is ook daar begrawe.

Lyding en weerstand teen die evangelie is ‘n werklikheid

Lyding om Christus ontwil is ‘n werklikheid.  Meer mense het in die 20ste eeu vir hul geloof in Christus gely en gesterf as in al 19 voorafgaande eeue.

So was dit reg van die begin af.  Petrus en die ander apostels word vervolg weens ‘n weldaad aan ‘n siek man en oor hoe hy genees is (4:1-21); oor tekens en wonders (5:12-16) en weens hul getuienis oor Jesus van Nasaret.  Wanneer afguns die hoëpriester en sy ondersteuners vervul, stop hulle die apostels in hoofstuk 5 in die tronk.  Dit is Petrus-hulle se derde arrestasie.  ‘n Engel van die Here bevry die apostels en gee opdrag dat hulle die nuwe lewe in die tempel moet verkondig (5:17-21).  Dit lei tot ‘n nuwe onderonsie in ons teks met die volle Joodse Raad.  Uiteindelik word die apostels geslaan en vrygelaat (5:40).

Net soos Jesus se opstanding die dood oorwin het, deurbreek se apostels se gewilligheid om te ly die mag van vrees, straf en afdreiging.  Hulle bly getuig.  Onverstoord verlaat hulle die toneel, “bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.  En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” (5:41-42).

Waar kom die gewilligheid om te ly vandaan?

Waaruit word Christene se kapasiteit om te ly, en selfs te sterf gebore?  Waarom leef, werk en getuig gelowiges dikwels in gevaarlike omstandighede, soos die drie vermoordes in Turkye?  Ons moenie Christene romantiseer nie, baie was deur die eeue afvallig en het Christus in die aangesig van vervolging verloën.  Baie het egter nie, soveel so dat die bloed van die martelare die saad van die evangelie genoem word.

Waar kom die kapasiteit om te lei vandaan?

Een: Georiënteer aan God
In tye van vervolging en swaarkry kan die tronkdeure, die blokke waarin jou voete vasgesluit word, die boeie, die martelinstrumente, die brutale behandeling, die sweepslae, of die sosiale verwerping en fisiese vernedering so maklik die finale werklikheid word.  Die bedreiging kan God verduister.

Petrus en die ander apostels antwoord:  “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!”  God bly die oriëntasiepunt, die swaartepunt waaraan hulle hul optrede meet.

Twee: Georiënteer aan mekaar
Die apostels en gelowiges staan mekaar by.  Dit is opvallend dat die apostels as geloofsgemeenskap ly.  Hulle bly in mekaar se teenwoordigheid.  Hulle help mekaar om die gebeure reg te interpreteer.  Toe Petrus en Johannes by ‘n vorige geleentheid losgelaat word, soek hulle onmiddellik die medegelowiges op en bid saam vir die vrymoedigheid om te getuig.  Hulle herken die vervolging as opstand teen God en sy “heilige Dienaar, Jesus” (4:23-31).

Drie: Georiënteer aan Jesus
Uit Petrus se antwoord aan die Joodse Raad blyk duidelik dat Jesus se lyding, en die moord op Hom – “julle het Hom vermoor deur Hom aan die kruis te hang” (5:30) – hulle belewenis van hul eie lyding vorm.  Hulle herken die Joodse Raad as geweldenaars wat nie moord ontsien nie.  Vanselfsprekend sal die Raad weer dieselfde tegnieke volg.  Dit maak hulle vry om lyding uit die hande van die Raad te ontvang – om Christus ontwil.

Meer deurslaggewend nog: God het bewys dat die reg aan Jesus se kant is deur Hom uit die dood te verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand (5:31).  Die uitsig op die vermoorde, opgestane en verhoogde Jesus, wat nou in die leiersposisie is, verklein die bedreiging van die Raad.  Die dreigemente en die Joodse Raad se kapasiteit om te straf, word gesien vir wat dit is:  kleiner en minder deurslaggewend as gehoorsaamheid en getrouheid aan Jesus.

Daarom kan die apostels die Raad vermaan:  Jesus is verhoog tot Leidsman en Verlosser, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (5:31).  Hiermee dui die apostels aan dat daar ‘n alternatief vir die Joodse Raad is.  Eerder as om met geweld hulle eie posisie te verskans, en hulle hardgebakte weerstand voort te sit, behoort hulle hul te bekeer.  Deur na God as die “God van ons voorvaders” (5:30) te verwys, wil die apostels beklemtoon dat hulle nie ‘n nuwe godsdiens wil verkondig nie, maar die Joodse Raad wil help om hulself in die regte verhouding met God te bring.

Die oriëntasie aan die verhoogde Jesus help die apostels om vervolging in die oë te staar en getrou en gehoorsaam te bly.  Uiteindelik is hulle, ten spyte van sweepslae, bly dat hulle vir die Naam van Jesus kan ly (5:40).

Vier:  Georiënteer aan hul identiteit – getuies deur die Heilige Gees
In die vervolging bly die apostels ‘n duidelike besef van hulle identiteit behou:  “En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is”.

Lyding en vervolg het ‘n intense disoriënterende effek.  Mens kan maklik begin glo dat jy verkeerd is en verward begin raak.  Vervolging is by uitstek daarop ingestel om gelowiges onseker en twyfelend te maak.

Met ‘n beroep op die identiteit en roeping wat hulle van God ontvang het (“ons is getuies van Jesus”) en die bemagtiging deur die Heilige Gees, getuig hulle met vrymoedigheid.  Ten spyte van die uiteindelike straf, hou hulle nie op om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie (5:42).

Toepassing

In ‘n mindere of meerdere mate roep die getuienis oor Jesus Christus as die Here altyd weerstand en lyding op.  In sommige situasies is dit meer, in ander minder.  Ons moet weet:  lyding en vervolging is normaal.  Hierdie wete kom vir Westerlinge nie vanself nie.  Ons kultuur leer ons dat ons wenners moet wees.  Wanneer ons teenstand kry, is ons geneig om te dink iets is fout, en wil ons maatreëls tref om die lyding uit die weg te ruim.  Om weg te draai van lyding, en die opneem van ons kruis ter wille van Jesus te systap, is ‘n ernstige versoeking vir die kerk van die Here.

Lyding is iets wat in die geloofsgemeenskap verduur moet word.  Dit beteken dat ons diegene wat ly moet omarm, en moet bystaan.  Dit geld ons eie, plaaslike geloofsgemeenskappe.

Maar dit beteken ook dat ons die ervaring van die lydende kerk van die Here in lande waar daar ernstige verdrukking, marteling en moord plaasvind, ook ons eie moet maak.  As een lid ly, ly almal.  Die lyding van gelowiges in lande soos China, Saudi-Arabië, Noord-Afrika, Turkye en Noord-Korea is iets waarvan ons bewus moet wees en waarvoor ons voortdurend moet bid.

Verder moet ons ons geloofsdissiplines, soos Bybelstudie, gebed en vas, die gee van dankoffers, afsondering en gemeenskapsdiens, doelgerig beoefen as aktiwiteite wat ons help om aan God, aan sy Dienaar, Jesus, en aan ons identiteit as getuies deur die krag van die Gees georiënteer te bly.

Dit beteken dat mens jouself doelgerig geestelik bly voorberei vir die dag dat lyding ter wille van Christus oor jou pad mag kom.

By dit alles mag ons die geloofsgemeenskap nie geringskat nie.  Dit is in gemeenskap met ander gelowiges dat ons die kapasiteit het om te ly.

Ek vertrou die Here dat hul samesyn, hul geloof en hul uitsig op God Drie-Enig – in hul laaste oomblikke – vir Nacati Aydin, Ugur Yüksel en Tilmann Geske ‘n bron van krag was.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Voorbidding: 

Daar kan vandag voorbidding gedoen word vir die Vervolgde kerk, mense wat aan God gehoorsaam bly, ten spyte van wat dit hulle ook al kos.  Inligting daaroor kan jy hier aflaai.

  • Stilte:

Gee ‘n moment van stilte waar elkeen die Here antwoord op sy opdrag om Hom gehoorsaam te wees al kos dit wat ook al.  Laat hulle spesifiek dink aan geleenthede waar dit iets van hulle gaan kos, en die Here vra om hulle innerlik te versterk om aan Hom getrou te bly.

  • Uitsending:

Verbintenis
Voorganger:
Jesus Christus het opgestaan.
Gemeente: Jesus het waarlik opgestaan.

Voorganger: God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser.
Gemeente: God het deur Jesus ons van sonde verlos.

Voorganger: God het die Heilige Gees aan ons gegee.
Gemeente: Ons sal gehoorsaam wees en nou daaroor getuig (uit Hand 5:29-32).

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.