Tweede Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die eerste Sondag van Paastyd staan bekend as Quasi Modo Geniti – “Soos pasgebore kindertjies” (1 Pet 2:2). Paastyd is ’n tyd waarin gelowiges hulle nuwe geboorte in Jesus Christus vier. Hy wat die nuwe lewe moontlik gemaak het, vergewe ons sonde (1 Joh 2) en laat ons in vrede saamleef. Wanneer ons in vrede saamleef skenk God sy seën (Ps 133). Vandag aan sy tafel is die simbole van sy liggaam en bloed, wat ons saam gebruik, beeld daarvan dat Christus sy lewe met ons deel, en ons alles deel met mekaar (Hand 4). Ons kan nuutgebore uitstap en weet ons het die opgestane Christus “gesien”.

Ander tekste

Handelinge 4:32-35
Onderlinge mededeelsaamheid
32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

1 Johannes 1:1-2:2
Die Woord wat die Lewe is
1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

God is lig
5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Ons het Jesus as ons voorspraak by die Vader
2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Fokusteks

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 415 “Jesus leef en ons met Hom vs 1,2,3”

Aanvangswoord – Paasroep
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Seëngroet
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees. (Psalm 118)

Verootmoediging
Die noodsaak van Jesus se soenverdienste
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis,
lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.
8As ons beweer dat ons nie sonde het nie,
bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie,
maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. (1 Johannes 1)

Skuldbelydenis: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,3”

Vryspraak
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Hy is die Woord, die Lewe.
…as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
…as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is,
het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap
en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
(Uit 1 Johannes 1:1-2:2)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lofprysing
Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”en/of
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Liedere

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef
Die graf het oopgegaan
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan
Hy leef, Hy leef
Dit maak my hart so bly
Jesus leef in my
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Psalm 133
Laat twee lidmate Psalm 133 (beryming van T T Cloete) in beurtspraak lees.

Voorleser 1: “Waar broers saam woon, as hulle eensgesind is, as hulle saam in liefde heg verbind is,
Voorleser 2: hoe goed is dit, hoe mooi geaard.

Voorleser 1: Dit is soos olie, vloeiend ryk van geur,
vanaf die hare loop die oorvloed deur
tot in die priesterlike baard.
Voorleser 2: So is dit waar die eensgesindes lewe,
soos dou wat op die Hermon val en swewe
en ver op Sion daal dit neer.
So wonderlik is dit, so lieflik skoon.

Voorleser 1: “Gods seën rus waar eensgesindes woon,
vir altyd leef hul by die Heer.”
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor wat hulle dink die beste of mooiste ding op aarde is. Noem voorbeelde soos die reuk van vars pannekoek met kaneel en suiker, of om saam met pappa op die vloer te sit en lego speel.

Die Psalm wat ons vandag gelees het, sê die beste, mooiste ding is wanneer mense mooi saam leef. Wanneer boeties en sussies saam speel en omgee vir mekaar, is dit soos die reuk van vars pannekoek. Wanneer kinders en ouers mooi met mekaar praat, is dit soos om op die vloer te sit en lego speel. (Gebruik die kinders se eie voorbeelde.)

Ons is nie net familie met pappa en mamma en boetie en sussie nie. Ons is familie van almal wat Christene is! So eintlik het ons ‘n groot familie! Die Bybel sê wanneer ons mooi saam leef, is dit soos olie wat in iemand se baard afloop, of soos dou vroeg in die oggend – soos die mooiste, beste goed waaraan ons kan dink!

As jy wil, kan jy vir die kinders vra hóé ons mooi saam leef en hulle laat voorbeelde noem. Kry lekker badolie en sit ‘n druppel op elkeen se voorkop, genoeg dat dit so bietjie afloop, maar nie op hulle klere mors nie.

Preekriglyn

Meer as ‘n duisend brandweermanne en vuurslaners het twee weke geneem om ‘n brand, wat in die Swart Heuwels van Suid-Dakota in die VSA ontstaan het, te blus. Die vuur het op 24 Augustus 2000 begin en is eers op 8 September onder beheer gebring. Intussen het meer as tagtigduisend akker kosbare hout afgebrand.

Janice Stevenson, 46, is gearresteer op aanklag van brandstigting. Sy het skuldig gepleit, en is 25 jaar tronkstraf opgelê. Sy is ook beveel om meer as 42 miljoen dollar skadevergoeding te betaal ($42 204 155.48 om presies te wees).

Volgens haar bekentenis het sy op 24 Augustus langs die pad gestop, ‘n sigaret aangesteek, en die steeds brandende vuurhoutjie op die grond neergegooi. Dit het ‘n brand veroorsaak. “Eerder as om die brand te blus,” sê haar verklaring, “het ek na die vuur gekyk en besluit om liewer pad te gee.”

(Bron: CNN.com – 30 September 2000)

Dis maklik om vuur en verwoesting te saai. Gerugte, haatdraende woorde en aksies, ‘n brommery, sarkasme, skadelike bewerings, dalk in ‘n oomblik van woede, begin ‘n vuur. Hierdie is alles brandende vuurhoutjies wat op die grond neergegooi word. Dit het die potensiaal om groot gebiede van familieverhoudinge, moraal in maatskappye, en eenheid in die Here se kerk te verwoes.

Egte goedheid en skoonheid

Die aangrypende Psalm 133 sê in die openingstoneel: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers [en susters] eensgesind saam woon.” Teenoor die verwoesting van gebroke verhoudings, is egte goedheid en skoonheid te vind in geneesde en gesonde verhoudings. Skoonheid en goedheid is soos om na ‘n mooi natuurtoneel te kyk, of die vreugde van heerlike, ontspanne saam-wees te ervaar, ‘n sagte, vriendelike stem te hoor, of ‘n pragtige skildery te aanskou.

Hierdie skoonheid en goedheid word in ons teks verbind aan twee situasies:

  • Herstelde, geneesde, gesonde familieverhoudings, en
  • Verhoudings in die geloofsgemeenskap, die gemeente.

Die psalm is ‘n bedevaartslied. Gelowiges het dit gesing wanneer hulle een keer ‘n jaar saam gereis het na Jerusalem, na die Sionsberg. Terwyl hulle opgaan na die tempel om saam te aanbid, het hulle gesing van die skoonheid van saam wees as gelowiges, verenig rondom die tempel, een in die teenwoordigheid van die Here. Dit gaan oor die saam-wees van die kinders van God in die huisgesin van God.

Die psalm besing óók die eenheid onder broers en susters. In Bybelse tye moes broers saam woon en saam werk soos pa – as hoof van die huishouding van daardie tyd – bepaal het. By die afsterf van die pa moes een broer, gewoonlik die oudste, verantwoordelikheid vat en die gesin so dien. Die ander broer(s) moes die gesin dien. Hier begin God se seën – dit het die Psalmdigter beleef.

Twee beelde

Die psalm gebruik twee beelde om die skoonheid en goedheid van eensgesinde saamwoon en saamleef te illustreer:

  • Die reukolie waarmee die hoëpriester gesalf word, en wat van sy kop en hare versprei na die res van sy kleding;
  • Die lewegewende dou van die hoë Hermonberg af wat versprei deur die aanrollende miswolke ook tot op die Sionsberg.

Beeld 1: Reukolie
Reukolie het in die algemeen die betekenis van vreugde (vgl. 23:5; 104:15). Dit verskaf ook geur (Hoogl. 1:3) en verligting van pyn (Jes. 1:6). Die olie is so oorvloedig oor Aäron se hoof uitgegiet dat dit afgedrup het op sy baard – wat volgens die priesterwette nie gesny mag word nie (Lev. 21:5) en selfs op sy spesiale hoëpriesterlike kleed beland het (Lev. 6:10).

“Kleed” beteken hier die klere wat gebruik word. Die digter sê in werklikheid, die olie loop af op die soom (letterlik “die mond”) van sy bokleed, wat in dié geval die kraag van sy kleed is. Dit dui op die oorvloed olie wat gebruik is. Die oorvloed is soveel dat die hele mens deur die olie aangeraak en gesalf word. Hierdie handeling heilig die hele mens.

Beeld 2: Dou
Vir Israel as droë land was dou lewegewend. Dit is ook as beeld vir God gebruik. In Hosea 14:5 vergelyk die Here Hom met die dou wat lewe gee.

Hermon is die hoogste berg in die oostelike Middellandse See gebied en lê bokant die noordelike Jordaanrivier. Vir sommige was dit ’n heilige berg (Rigters 3:3). In Psalm 133 word die dou verskuif na die laer berg Sion. Dis soos miswolke wat afrol in die valleie vanaf die hoë Hermonberg en ook die Sionsberg bereik.

Trappe-effek

In elkeen van hierdie beelde is daar beweging. Die aangename geur versprei, dra die geur en seën weier – van die kop af verder. Die dou in dorre streke versprei en bring wyer seën mee.

Die werkwoord vir “afdaal” (afloop) word drie keer herhaal. Dit gee ’n trappe-effek aan die lied. Die olie “drup af” oor Aaron se baard; dit “drup af” oor sy klere; en die dou van die Hermon “drup af” oor die berge by Sion. Hierdie herhaling wil die sentrale gedagte beklemtoon en uitbou. In hierdie geval is dit dat die meerdere altyd die mindere in sy aangenaamheid (“reuk” of “verfrissing”) en oorvloed laat deel. Die seën sprei altyd verder.

Seën en beloning

Hierdie eenheid en samewerking in die familie en geloofsgemeenskap hou groot seën in. Die Here beloon dit met ‘n lang, lang lewe (vers 3). Daar is in die Hebreeus ‘n woordspel tussen die woord “broers” van vers 1 en “lewe” in vers 3. Die twee voorbeelde is daarop gerig om te sê: waar familie en geloofsfamilie so eensgesind saam woon, gee die Here sy seën.

Die Bybelskrywers vergelyk dikwels twee dinge met mekaar en voer dan skielik ’n derde punt van vergelyking in waarheen hulle eintlik al die tyd nog op pad was. Hier gebruik die psalmdigter ook hierdie metode om in vers 3b by sy mikpunt uit te kom. Hy wil so ver kom om te sê dat die Here hierdie manier van in vrede saamwoon, met ’n lang lewe beloon.

Eenheid in die familie

Die antieke Joodse gebruik dat broers moet saamstaan en saamwerk, spesifiek waar die vader oor­lede is en die boedel nie verdeel is nie, beklemtoon ook vir moderne tye ‘n belangrike familiewaarde. Net soos antieke familielede dit nooit sou kon maak op hul eie, as hulle in verskillende rigtings getrek het nie, geld dit moderne families ook.

Ons kultuur waardeer nie hierdie eenheid nie. Ons is almal sterk ingestel op ons eie behoeftes. Ons wil onafhanklik wees. Ons wil ons eie ding doen. Ons opvoeding rig ons af om ons eie koers in te slaan.

Psalm 133 beklemtoon inter-afhanklikheid. Opvoeding begin by ‘n baba wat absoluut afhanklik is van versorging. Dit help kinders om onafhanklik te word en na hulleself te kan omsien. Hier haak Westerlinge tradisioneel vas. Ons opvoeding fikseer ons in ‘n voor-volwassse stadium.

Ware volwassenheid is om van onafhanklikheid te groei na inter-afhanklikheid, die wete dat jy ander nodig het. Dat opoffering gevra word om die groter geheel te dien.

Hoë vlakke van egskeiding, gesinsgeweld, en die verbrokkeling van verhoudings het te doen met onafhanklikheid en die bevrediging van eie behoeftes wat ons basiese staanplek in die lewe geword het.

Hierdie antieke teks uit die ou Joodse tradisie is nie verniet deel van die Woord van God nie. Ons het nodig om dit te hoor en onsself in te buig in die verhoudingsraamwerk van ‘n harmonieuse familielewe.

Eenheid in die geloofsfamilie

Hierdie teks moet egter veral verstaan word as ‘n teks wat oor die geloofsfamilie van God gaan.

Jesus het sy familie gesien as dié wat aan God gehoorsaam is. Toe sy biologiese familie Hom kom soek, het Hy na die skare rondom gewys en gesê: “Daar is my moeder en my familie – wie die wil van God doen is my broers en susters en moeder” (Mark 3:34-35). Hierdie woorde van Jesus adem presies die gees van Psalm 133.

Die wêreld is stukkend. Mure en heinings is aan die orde van die dag. Alles die gevolg van die stukkend maak deur die sondeval. Ons leef verwyderd van God en van mekaar. Die konflik regoor die wêreld tussen groot moondhede; die duisende kleiner konflikte die wêreld oor, is alles tekens van die skeiding en gebrokenheid van ons wêreld. Die grootste tragedie is nie die gebrokenheid van die wêreld nie, maar die gebrokenheid van die kerk. Nie net dit wat sigbaar is in die duisende denominasies nie, maar veral ook in die gebrokenheid van verhoudings binne elke gemeente.

Keith Miller vertel van ’n geleentheid waar hy ’n bejaarde weduwee by die kerk spontaan ’n druk gegee het en sy toe in trane vertel dat sy in twintig jaar nooit so deur enigiemand aangeraak is nie. Dit is eensaamheid. Alleenheid. Dink aan die politieke verdelings; die finansiële verdelings; die mag wat mense soek. Die ryke wat sy woord wil doen en sy sin wil hê in die gemeente. Geld praat in die wêreld en geld praat in die kerk. Selfs leraars word daarin vasgevang. Almal soek mag.

Dwight L Moody het glo eenkeer in ’n preek genoem dat Christene in sy tyd begeer om invloed te hê. Maar, het hy gesê, wat hulle kort is krag. Die krag van die Heilige Gees. Die krag om mure af te breek – die mag om vry te wees om mekaar weer te omarm en vas te hou. Die mag kan nie gekoop word nie. Toe iemand dit probeer koop het (Hand 8:20), het Petrus gesê: “Basta met jou en jou geld!”

Baie Christene is seergemaak, moedeloos en gefrustreerd met die onenigheid binne die kerk. Ure en ure word spandeer om mense te versoen. Dominees preek en staan verslae oor die venyn wat andersdenkendes kan uitdeel. Lidmate gee geld en verwag gedienstigheid met politieke en ander standpunte. Mense word seergemaak deur gebede van gelowiges wat voorgee om ernstig en opreg te wees. Baie Christene wil nie saam aanbid nie.

Tog is daar baie wonderlike Christene wat wel saam aanbid. Hul gemeenskap is ’n vreugde vir almal om hulle. Hulle vreugde lê daarin dat hulle wedersydse toewyding en verbintenis aan mekaar bewys deur saam te werk en probleme op te los. Hulle weet waarvan daar in Psalm 133 sprake is – hoe goed is dit as broers saam woon.

Dit sal ’n gelukkige dag wees as die kerk so verenig is dat hierdie lied oral gesing sal word as uitdrukking van dit wat werklikheid is en nie net meer as lied van verwagting van dit wat moet wees nie.

Eenheid in die NG Familie

Ons breër Familie van NG Kerke staan voor ‘n historiese oomblik. Eenheidsprosesse is stadig maar seker in 2012 besig om weer op dreef te kom. Sal ons die betekenis van Psalm 133 snap en daarin slaag om dit uit te leef?

Vuur en vlam

Janice Stevenson het ‘n brandende vuurhoutjie neergegooi en gesien hoe ‘n brand begin. Sy het weggedraai en toegelaat dat vuur en vlam ontsettende skade aanrig. Uiteindelik het daardie oorspronklik klein vlammetjie haar lewe verteer. Sy het in die tronk beland en is finansieel totaal geruïneer.

Mag die Here ons in ons families en geloofsfamilies hiervan bewaar. Mag die Here ons van onsself en ons selfsug bevry, en ons vuur en vlam vir mekaar en vir eensgesinde saamwoon maak. Dit skep seën wat altyd verder en verder versprei.

Die Here seën dit met ‘n lang, lang lewe. Ja, die psalm: sê letterlik: met die ewige lewe.

Hoe goed is dit dat broers en susters saamwoon!

God stuur ons om te leef

Gebed
Opgestane en verheerlikte Heiland:
U wat oor die dood getriomfeer het en vir ewig lewe,
help ons om nooit U opstanding te bevraagteken nie.
Gee dat dit die voedingsbron en die vertrekpunt
van ons elkdedagse bestaan sal wees.
Maak ons onwrikbaar daarvan oortuig
at U altyd met ons is:
in elke oomblik van onsekerheid,
om ons te lei en aan ons rigting te gee;
in elke oomblik van droefheid en pyn,
om ons te vertroos en te genees;
in elke oomblik van versoeking,
om ons standvastig te maak;
in elke oomblik van eensaamheid,
om ons te bemoedig-
ja wees met ons selfs tot in die dood
en bring ons by die ewige woning van God.
Maak ons daarvan seker
dat daar niks in tyd of ewigheid is
wat ons van U liefde kan skei nie.
Gee ons steeds die blye versekering
dat U ons verlos het;
dat ons deur U verdienste
kinders van God geword het
en dat Hy ons daarom van dag tot dag dra.
So sal ons die uitdagings van hierdie lewe
kan tegemoetgaan met moed en sonder vrees.
Ons dank U vir die versekering
van U oorwinning oor die Bose.
Versterk daagliks ons geloof, hoop en liefde.
Ons bring opnuut aan U die offer
van ons lewe en ons liefde;
ons gehoorsaamheid en ons trou,
ons gebede en ons getuienis.
Ons doen dit in die oorwinnende Naam
van Jesus ons Here!
Amen
(Uit: Gebede vir jou lewenspad van Solly Ozrovech, 2009:62)

Wegsending: Lied 417 Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2

Seën
Voorganger: Daardie Sondagaand is die deure uit vrees gesluit,
maar Jesus kom en gaan staan tussen hulle,
en sê: “Vrede vir julle.”
Gemeente: Ons bely uit die Woord en aan die tafel:
“Ons het die Here, vandag weer gesien.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)
of
2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.