Tweede Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Die sleutelteks van hierdie Sondag is een van Jesus se verskynings aan sy dissipels na sy opstanding uit die dood. Tomas was egter nie teenwoordig nie tog doen Jesus moeite om hom te help om te glo.

Die Openbaring- en Handelingetekste vir hierdie seisoen vorm hulle eie storielyn met die opgestane Jesus as fokus.

Die eerste Openbaringteks lei ook die boek in en gee die versekering dat Jesus sal terugkeer aarde toe.

Die Handelingestorielyn begin by Petrus wat voor die Joodse Raad getuig van die opgestane Here.

Die goue draad deur al die tekste is die getuienis dat Jesus werklik lewe.

Ander tekste

Handelinge 5:27-32
27Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28“Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

29Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

Psalm 118:14-29
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Psalm 150
Laat alles wat asem haal, die Here prys
150 Prys die Here!
Prys God in sy heiligdom,
prys Hom hier onder sy magtige
hemelgewelf!
2Prys Hom oor sy kragtige dade,
prys Hom in sy magtige grootheid!
3Prys Hom met die ramshoring,
prys Hom met harp en lier!
4Prys Hom met tamboeryn
en koordanse,
prys Hom met snaarinstrumente
en fluite!
5Prys Hom met simbale,
prys Hom met galmende simbale!
6Laat alles wat asem haal,
die Here prys!
Prys die Here!

Openbaring 1:4-8
4Van Johannes.
Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!
8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Fokusteks

Johannes 20: 19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Ekstra stof

Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle.  Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie.  Daar is ’n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie.  Dit is ’n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon.  Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n fisiese/werklike (by gebrek aan ’n beter woord) liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar.  Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het.  Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het.  Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy  Hom kan herken en as Here kan vereer.  Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels.  Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander.  Netso Tomas.  Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan.  En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ’n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Ons praat te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus.  Die leë graf fassineer ons miskien te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.  Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ’n leë graf nie – die graf was immers leeg.  Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 118

Seëngroet: Openbaring 1

Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3”

Wet: 1 Johannes 4

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1 “(herhaal 2/3 maal)

Vryspraak: (Hand 5)

Geloofsbelydenis

Loflied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 20:19-31

Prediking
Doopherinnering

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Offergawes

Wegsending: Lied 418 “Blye môre, blyste van die dae vs 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 118
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Seëngroet: Openbaring 1
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3”

Wet: 1 Johannes 4
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1” (herhaal 2/3 maal)

Vryspraak: (Hand 5)
“’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

Geloofsbelydenis
Voorganger: Ons glo in een God, die almagtige Vader,
Gemeente: die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
Voorganger: en in een Heer, Jesus Christus die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

Gemeente: God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;
Voorganger: deur wie alle dinge ontstaan het;

Gemeente: wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;
wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het;
wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
Voorganger: en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,

Gemeente: wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Voorganger: Ons glo in een heilige, algemene kerk,
Gemeente: gegrond op die leer van die apostels.

Voorganger: Ons bely een doop
Gemeente: tot vergifnis van sondes;

Voorganger: ons verwag die opstanding van die ontslapenes,
Gemeente: en die lewe van die toekomstige eeu.
Amen (uit die belydenis van Nicea).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Loflied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Liedere

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo)
Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: openbare besit
(Liedboek 167)

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2.  Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

F202. “Hoe Groot Is Ons God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: How Great Is Our God
Teks en Musiek: Chis Tomlin, Jesse Reeves & Ed Cash
Afrikaanse vertaling: 2007  Stass van Veuren
© 2004 worshiptogether.com songs / sixsteps Music / Alletrop Music

1. Die weelde van die Heer, geklee in majesteit
Die hele aarde juig, die hele aarde juig
Hy klee homself met lig en duisternis moet vlug
Begin en die einde, begin en die einde

Refrein:
Hoe groot is ons God
Ons sing:  Hoe groot is ons God!
Almal sal sien hoe groot is ons God

2. Eeue kom en gaan
Tyd is in sy hand
Begin en die einde, begin en die einde
Die Godheid drie-in-een
Vader, Gees en Seun
Die Leeu en die Lam, die Leeu en die Lam

Brug:
Naam bo elke Naam
Waardig is die Lam
My hart sal sing
Hoe groot is ons God

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God,
As niemand anders na ons luister nie,
hoor U ons as ons ons hart voor U uitstort.
As niemand anders ons raaksien nie,
sien U ons nood en vul U ons met vreugde.
As almal anders van ons vergeet,
onthou U ons en roep U ons by die naam.
U is die Here, ons God.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.
(Bybelmedia se Woord en Fees, 2014/15)

Skriflesing: Johannes 20:19-31

Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks dramaties uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.
19–23 Jesus se vriende was laat daardie Sondagaand nog bymekaar. Hulle het al die deure gesluit, want hulle was bang vir die Joodse leiers. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar by hulle gestaan en gesê: “Vrede vir julle.” Hy wys toe vir hulle die merke aan sy hande en sy sy. Sy vriende was baie bly om die Here te sien.

Jesus sê toe: “Vrede vir julle. Soos my Vader My na die wêreld gestuur het, stuur Ek julle nou.” Hy blaas toe oor sy vriende en sê: “Ontvang die Heilige Gees* As julle mense help om God se kinders te word, sal hulle sy kinders word. God sal nie kwaad bly oor hulle sonde* nie. Maar as hulle nie na julle wil luister nie, sal God ook nie hulle sondevergewe* nie.”

24–29 Tomas (sy bynaam was Tweeling) was nie by toe Jesus aan sy vriende verskyn het nie. Hy was een van Jesus se beste vriende. Die ander vertel hom toe dat hulle die Here lewendig gesien het.

“Ek glo dit nie,” het Tomas gesê. “As ek nie die spykermerke aan sy hande kan voel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, sal ek dit nie glo nie.”

Omtrent ’n week later was Jesus se vriende weer saam. Tomas was ook daar. Al die deure was weer gesluit. Jesus was skielik weer by hulle en toe groet Hy hulle: “Vrede vir julle.”

Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger hier. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Glo dit.”

“My Here en my God!” is al wat Tomas kon sê.

“Jy glo omdat jy My gesien het. Gelukkig is die mense wat glo, al het hulle My nie gesien soos jy nie.”

Carolyn Brown suggereer rollespel voorlesing ahv die teks.

Preekriglyn

’n Somber stilte hang in die vertrek waar die dissipels en ander volgelinge van Jesus vergader is. Die deure dig gesluit uit vrees vir die Jode as gevolg van die ongekende haat en geweld waarmee hulle teen die volgelinge van Jesus begin optree het.

Buite gee die laaste sonstrale nog net flouerig lig. Ten spyte van die gedempte gesprekke is daar ’n opgewondenheid. Die nuus het vinnig versprei dat Maria baie vroeg by die graf was en dit leeg gevind het, dadelik vir Petrus en Johannes gaan vertel het, buite die graf gestaan en huil het terwyl hulle ingegaan het om self te sien dat dit leeg is. Hier is sy deur ’n man – sy het gedink dit is die tuinier – gevra waarom sy so huil. Tot haar algehele verbasing en blydskap ontdek sy in die kort gesprek wat volg, dat dit Jesus is. Van Hom ontvang sy die opdrag om die dissipels in te lig dat sy hemelvaart naby is.

Verder het twee wat op pad na Emmaus was, ook beweer dat hulle die opgestane Jesus ontmoet het.

‘n Betekenisvolle groet

Terwyl hulle diep in gesprek was, staan Jesus meteens daar tussen hulle en Hy sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Alhoewel Jesus hier die gebruiklike Oosterse groet gebruik, het dit in sy geval baie meer gesê as: “Mag dit met julle almal goed gaan!”

Hierdie is ‘n baie dieper “vrede” as bloot ‘n gewone groetery. In hierdie een woord “vrede” word al die aankondigings oor wat God gaan doen, en al God se beloftes oor die toekoms saamgevat. In Jesus se groet vang ons die eggo’s op van talle aankondigings uit die verlede. Ons hoor weer die aangrypende lied van die hemelse koor in die nag van sy geboorte: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie hy ’n welbehae het!” (Luk 2:13, 14). En selfs van nog dieper terug in geskiedenis van Israel, klink die belofte deur van ’n Seun wat onder meer “Vredevors” genoem sou word (Jes 9:5).

Anderkant die dood

Besonder betekenisvol is die feit dat Jesus se vredesgroet sy kruisdood, begrafnis en opwekking uit die dood as basis het. Dit is van “anderkant die graf” dat hy hulle toeroep: “Vrede vir julle!” Daarmee bevestig Jesus dat die stryd om die vrede vir hierdie aarde suksesvol deurgevoer is. Die vaste bewys daarvoor is die tekens aan sy hande, voete en sy. Almal kan dit sien. Nou kan niemand meer twyfel nie – ook nie Tomas nie! By die aanskouing en aanraking van die wondmerke kon Tomas nie anders as om namens ons almal uit te roep nie: “My Here  en my God!” (28)

Tereg kon Jesus sy volgelinge verseker van ’n unieke vrede as sy geskenk aan hulle: “Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh 14:27). Sy vrede is nie net ’n wapenstilstand nie. Dit skep iets totaal nuut. Enersyds verwyder dit die oorsaak van die stryd, konflik en leed, naamlik die ongehoorsaamheid aan die wil van God. Andersyds ontwapen dit die veglustige mens deur liefde in haar/hom uit te stort (Rom 5:5). Dit maak van vegtendes vriende en van die moordwapens nuttige landbou-implemente (Jes 2:4). Oorloë verwond vir altyd en dompel in armoede en hongersnood. Daarom is dit so ’n onbegryplike dwaasheid!

Sy vrede herorden die totale lewe – maak dit ’n “nuwe skepping” (2 Kor 5:17-19). Die nuwe mens staan in Christus in ’n nuwe verhouding met God, die medemens en die skepping.

Inhoud van die vrede

Die Hebreeuse woord vir vrede is “sjaloom.” Dit het ‘n ryk Bybelse inhoud, wat dui op:
Genesing en herstel, harmonie in die lewe
Geregtigheid – lewensruimte vir elkeen
Vreugde – blydskap omdat die lewe met God goed en vervullend is.
Sjaloom het in die Ou Testament dikwels die betekenis dat dit “goed gaan op materiële gebied”. Dit was egter onlosmaaklik verbind met goeie stabiele verhoudinge op godsdienstige, politieke (binnelands en buitelands) en sosiale verhoudinge. Vrede is dan ook baie meer as die afwesigheid van oorlog. Dit gaan om positiewe en stabiele verhoudinge gewoonlik soos vasgelê in ’n verbond. Binne die verbond is elke party se voorregte en verantwoordelikhede duidelik ooreengekom. Wanneer ’n verbond verbreek word, is die vrede daarmee heen.

Vir Israel was vrede ’n geskenk van God. Werklike vrede is nie buite God om te bereik nie. Sjaloom is nie ’n blote emosie of gevoel nie. Dit is ’n toestand/situasie waarin die mens sy lewe kan leef. Daarom is sjaloom en geregtigheid ook onlosmaaklik (Ps 85:11).

Vrede beteken ’n allesomvattende herordening, ’n herstel van die lewe met God: mens – aarde in ‘n geneesde verhouding. Vrede is ’n helende proses. Dit maak heel wat gebreek het, uiteengeskeur is. Vrede maak sensitief vir die naaste, die medemens. Paulus se bespreking van die liggaam met die baie lede en die verhouding van die lede onderling (I Kor 12) is ’n uitstekende kommentaar op wat vrede is en doen.

Elke gemeente (Christelike geloofsgemeenskap) word gekonstitueer op basis van die vrede wat Christus se gehoorsaamheid aan God bewerk het en na sy opstanding aan hulle geskenk het.

In Christus

Daar is geen vrede buite Christus om moontlik nie. Buite Christus is ons aan ons natuurlike self oorgelaat. Die gevolg is die gewetenlose vernietiging van die totale werklikheid. Wie egter “in Christus” die lewe gevind het, kan nie ophou om met Tomas in oorweldigende verwondering uit te roep nie: “my Here en my God!” Wie hierdie taal praat, word deur die Heilige Gees toegerus en gelei om dit op alle plekke, op alle lewensterreine, onder alle omstandighede uit te leef. Geloof ken nie ’n ander taal as lewensroeping nie. Hierdie belydenis is die hoogste wat geloof kan reik.

Aangee van die vrede

Jesus verbind ’n opdrag aan die vrede wat Hy gee. Die gelowiges word uitgestuur die wêreld in om hierdie vrede na alle mense uit te dra. Vers 21: “’Vrede vir julle!’” sê Hy weer vir hulle. ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’”

Mens ontvang die vrede, om dit aan te gee. Dissipels word geseën om tot ‘n seën te wees. Hierdie aangee van die vrede geskied in die Naam van Jesus Christus. Dit raak ons individuele lewens, maar ook ons gemeente se lewe. Ons is alleen en gesamentlik geroep om Christus se vrede uit te dra.

Uiteindelik moet die aangee van die vrede die heling van die hele wêreldsamelewing beteken. Waar ook al daar konflik en botsing, verwydering en vervreemding ingetree het, het die Christelike geloofsgemeenskap die opdrag om Christus se vrede te gaan indra en in te weef in die wêreld.

Geweld en oorlog is daarom vreemd aan die boodskap van vrede. Geweld is nooit ‘n oplossing of ‘n verlosser nie, selfs al dink baie mense (en politici) só. Geweld is die opsie wanneer mense in hul eie krag en met hul eie vermoë optree.

Natuurlik kan menslike vermoë nooit die opdrag tot vrede deurvoer nie. Daarvoor is die onderlinge afguns en haat te diep en onkeerbaar. In eie krag, sal geen mens dit kan doen of daarmee kan volhou nie. Derhalwe skenk Christus sy Gees aan hulle sodat hulle as sy gestuurdes in die wêreld kan dien.

Gawe van die Gees

Die krag van die Heilige Gees is die grootste krag in die heelal. Die Gees doen meer en groter as wat mense ooit op hul eie kan bedink. Só staan dit in vers 22:

Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Waar ons die lig van Christus in mense se lewens indra, kom die hemel in beweging met vergifnis.

Die vrede en herstel wat God gee, kom waar mense bewus word van hul sonde, bewerk deur die Gees, en waar hierdie bewussyn tot skuldbelydenis en vergifnis lei. Die aangee van die vrede word begelei deur die Gees. Die aangee van die vrede geskied op grond van ons getuienis oor wie Jesus is en wat God in Jesus gedoen het. Hierdie getuienis word begelei en bekragtig deur die Gees.

Ons help niemand as ons getuienis oor Jesus, God die Vader en die Gees stil raak nie. Daar het ‘n mite in die kerk ontstaan dat woorde opsioneel is en dat net dade eintlik tel. Dink maar aan hoe Jesus in sy lering, en die apostels in hul getuienis woorde ingespan het. Ons is geroep om te getuig. As ons nie getuig nie, word die vergifnis van sonde nie ‘n werklikheid in mense se lewens nie.

Ons moet ook nie ons getuienis laat kaap deur ‘n oproep tot morele verbetering nie. Baie gelowiges dink getuienis beteken dat ons vir mense sê hulle moet beter lewe. Hoe belangrik dit ook al is, is die krag van die getuienis oor Christus se vrede nie moralisme nie. Dit is die oorvertel van die dade van God in Christus. Só gee ons die vrede (en primêr die Gees) aan vir mense. Christus self oortuig mense van hul sonde op grond van ons getuienis oor wie Christus is.

Sommige mense meen, aangesien net God mense se lewens kan verander, ons nie moet getuig oor Christus nie. Dit is net so onbybels. Dink maar aan die talle kere waar Handelinge vertel hoe oor Jesus getuig is, en hoe God daardie getuienis gebruik het om mense in sy Vredesryk in te sluit.

Tomas

Wat in ons teks met Tomas gebeur, is ‘n uitmuntende voorbeeld van hoe God werk. Tomas glo nie, omdat hy Jesus nog nie ontmoet het nie. Wanneer Jesus teenwoordig is, en Tomas onder die indruk van sy wonde en die werklikheid van die lewende Christus kom, word geloof in Hom bewerk.

Dit is wat vandag nog met ons getuienis oor Jesus gebeur. Wanneer ons vertel, word die lewende Christus teenwoordig gestel. Dit gebeur deur die krag van die Gees van God. Dan word nuwe lewe, vrede en vergifnis, moontlik.

Presies met hierdie doel het Johannes sy evangelie geskryf (30-31):

Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Die lewende Here

Ons het ‘n nuwe bewussyn van die lewende teenwoordigheid van Christus nodig. Die Christus wat deur Woord en Gees by ons is, en wat die wêreld voortdurend met sy vrede seën wanneer ons dit aangee.

God stuur ons om te leef

Doopherinnering
God gee die sakramente omdat ons ook dikwels soos Tomas tasbare dinge nodig het om ons te help onthou.
Die voorganger giet water in die doopbak en gee gemeentelede kans om ’n kruis op hulle hand te maak.
Indien die nagmaal nie op hierdie Sondag gevier word nie, plaas ’n brood op die tafel wat gebreek word en wyn wat in die beker geskink word.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Offergawes

Wegsending: Lied 418 “Blye môre, blyste van die dae vs 1”

Seën
Mag God ons geestesoog verhelder dat ons kan weet watter hoop sy roeping inhou;
en dat ons kan weet hoe geweldig groot die krag is wat God uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het;
Amen (Ef 1:18-20).
Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.