Tweede Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 2:14a, 22-32; 1 Petrus 1:3-9; Johannes 20:19-31.

Fokusteks 

Psalm 16

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

“Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n gawe uit die hand van God is” (Pred 2:24).
“Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God” (Pred 3:13).

Liedere

Liedboek 421: 1-3 “Die Here Jesus lewe …”
Flam 41: “Beeld van God”
Vonk 95: “Daar is niemand soos U, Here God”

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Eendag, lank gelede, was daar ʼn seun wat in ʼn land gebly het waar baie min mense ooit ʼn perd gesien het. Almal het soort van geweet hoe ʼn perd lyk en wat ʼn perd doen, maar nog bitter min mense het al ʼn perd gesien. Wat nog te sê, op ʼn perd gery!

Daar was ʼn seun, Christiaan, wat ook nog nooit ʼn perd gesien het nie. By die skool het die kinders altyd probeer om perde te teken in die kunsklas. Niemand kon regtig ʼn goeie prentjie van ʼn perd teken nie, want niemand was al ooit naby genoeg aan ʼn perd om presies te weet hoe een regtig lyk nie!

Op ʼn dag het Christiaan in ʼn verlate kerkgebou gespeel en op ʼn baie ou boek afgekom. Dit was ʼn stowwerige boek wat vir jare onder ʼn bank in die kerk gelê het. Christiaan het die boek begin lees, maar kon meeste van die woorde nie verstaan nie. Hy het egter aanhou lees, want hy was seker dat daar ʼn dag sou kom dat hy die woorde sou verstaan. En so was dit ook: Op ʼn dag, toe hy in die boek lees en verstaan wat daar geskryf staan, sien hy op een van die stowwerige blaaie ʼn prentjie van ʼn baie ou deur verskyn. Net toe hy sy hand uitsteek om om te blaai, sien hy dat hy die deur kan oopmaak. Hy steek sy hand uit, maak die deur oop – en ewe skielik staan Christiaan in ʼn veld. En hier, reg voor hom, staan die wonderlikste ding wat hy nog ooit gesien het: ʼn regte perd!

Christiaan was aan die begin skrikkerig en het vir lank net na hierdie dier voor hom gestaar. Hy het elke detail probeer inneem, maar sodra hy weer tussen sy maats of by die huis was, het hy vergeet hoe ʼn perd presies lyk.

Dit was vir Christiaan so ʼn wonderlike ervaring om die perd te sien, dat hy elke dag probeer het om die deur in die boek te gebruik om die perd te ontmoet. Christiaan het later soveel van die perd geleer dat hy naderhand selfs op die perd kon ry!

By die skool kon Christiaan natuurlik ʼn perd al beter en beter teken. Hy het dit naderhand so goed reggekry om ʼn perd te teken, dat sy prente presies soos ʼn regte perd gelyk het. En dit was nie omdat Christiaan besonders kunstig was nie. Dit was net omdat hy al só baie by ʼn perd was dat hy dit so goed kon doen.

Dit was nie lank nie, of sy maats wou ook ʼn perd so goed teken soos Christiaan. Christiaan het opgewonde vertel van die boek met die deur in. Party van sy maats het dadelik die boek begin lees en kort voor lank kon hulle die deur sien en ook in die veld staan waar hulle ʼn régte perd kon sien. Ander was maar net tevrede om te kyk na die perd wat Christiaan geteken het.

Hierdie storie vertel vir ons iets van ons verhouding met God. Wanneer ons Bybel lees én wanneer ons bid, is dit soos ʼn deur waardeur ons stap om vir Jesus te ontmoet. Omdat Jesus regtig bestaan, kan ons met Hom praat en Hom met die oë van ons hart sien.

Wanneer ons baie keer met Jesus gesels het, begin ons anders te dink en anders te lewe. Dan begin mense dit raaksien en hulle wil ook vir Jesus leer ken.

Preekriglyn

Psalm 16 (1983-vertaling)

1 ‘n Gedig van Dawid. Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U.
2 Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3 Die afgode in die land, so aantreklik vir baie – met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4 Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6 ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8 Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9 Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.
10 U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11 U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

Dawid kon die woorde van Psalm 16 sê omdat God ʼn werklikheid vir hom was. God was régtig sy skuilplek. God was régtig die Een by Wie hy veilig gevoel het.
Die vraag is: Hoe het Dawid dit reggekry dat God vir hom só werklik was dat hy Hom in sulke duidelike terme kon beskryf?ʼn Sleutelvers om hierdie vraag te beantwoord, is vers 8 van die 1953-vertaling: “Ek stel die HERE altyddeur voor my” (NAV: “Ek het die Here altyd by my”)
Dawid het met God ontmoet.

In die Paastyd dink ons daaraan hoe Jesus se lyding en opstanding dit vir ons moontlik gemaak het om met God te kan ontmoet. As gevolg van Jesus kruis en opstanding, is die Bybel en ons gebede nou ʼn deur na God se teenwoordigheid toe. Die Heilige Gees maak die Bybel vir ons die lewende Woord wanneer ons daarin delf met die bedoeling om Jesus te ontmoet. Dan word die Bybel vir ons méér as net ‘n ou teks met ou woorde. Dit word vir ons die lewende Woord, dit word vir ons die poort om Jesus self te ontmoet. Jesus word vir ons die pad na die Vader toe.

Met elke só ‘n ontmoeting met God, word ons op verskeie maniere verander:

  • Ons besef al meer dat God ʼn werklikheid is. Só werklik dat ons kan sê: “Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U.”
  • Met elke ontmoeting, leer ken ons God se liefde vir ons. Die twyfel oor sy liefde en of Hy enigsins besorgd oor ons is, word minder. Dan kan ons sê: “Vir my is daar geen goed bo U nie, Here” – én dit bedoel.
  • Wanneer ons so deur die Bybel met God ontmoet, leer ons God se karakter algaande beter ken. Ons eie begeertes skuif dan op die agtergrond. Filippense 3:8-11: “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry.”
  • In die avontuur waarin ons God leer ken, besef ons ook dat ons moet sterfaan ons eie begeertes, drome en idees oor hoe dinge behoort te lyk. Wanneer ons sterf, kan God begin om ons denke te vernuwe. Romeine 12:2 hou die belofte in dat wanneer ons onsself op sy altaar neerlê, God ons denke sal vernuwe. Dan sal ons kan onderskei wat sy wil is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Dan sal ons saam met Dawid kan sê: “Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het.” – v 7 en “U sal my die pad van die lewe bekend maak.” – v 11.
    • ‘n Praktiese voorstel: Jy het nie om dowe neute ʼn verbeelding van die Here af ontvang nie. Visualiseer hoe jy elke deel van jouself, elke droom en denkwyse op God se altaar sit. As jy elke stukkie van jou lewe só aflê, begin Hy om jou hart en verstand met nuwe drome en denkwyses te verlig, en jy begin meer en meer die gesindheid van Christus aanneem.
  • In ons ontmoetings met God, begin ons geestesoë oopgaan, soos Paulus in Efesiërs 1 bid. Ons oë gaan oop sodat ons kan weet watter hoop God se roeping vir ons inhou en hoe wonderlik die erfenis is wat Hy vir ons het. Dan kan ons saam met Dawid in vers 6 sê: “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” Dié bekende vers uit die ou vertaling klink só: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

My erfenis is nie net my wonderlike gesin, my gerieflike kar, my goeie werk of goed geleë huis nie. Ons erfenis is dít wat Jesus vir ons aan die kruis kom doen het. En wat is dit? Ons is nog besig om dit te ontdek, maar van ʼn paar dinge kan ons reeds seker wees:

    • Ons erfenis is om met ons Vader te kan ontmoet, omdat ons met Hom versoen is. “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef 2:17).
    • Ons erfenis is die gawe van die ewige lewe. Jesus sê dat Hy die opstanding en die lewe is – en het ons dit nie opnuut weer beleef met Paasfees nie! As ons dit glo, begin ons besef wat ons erfenis in Jesus is. Dan kan ons saam met Dawid sê: “U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie” – v 10.
    • Hoe weet ons dat die erfenis wat God ons beloof het, wel ons sʼn is? Efesiërs 1:14 het die antwoord: Die Heilige Gees is die waarborg dat ons sal ontvang wat Hy belowe het en dat ons verlos sal word om God se heerlikheid te verkondig.
    • Die goeie nuus is dat ons nóú al die erfenis kan ontvang. Daartoe stel die Heilige Gees ons in staat. As dit God se begeerte om ons te verlos van die sonde, ons vry te maak, ons harte te verlig en ons vol vrede te laat leef – dan gebeur dit hier op aarde reeds!
  • Wanneer jy met God ontmoet, kan jy in geloof saam met Dawid sê: “Ek behoort aan U”
    v 2. Jesus het jou vrygekoop om aan God te behoort. Titus 2:14 bevestig dat Jesus homself aan ons oorgegee het en ons verlos het van alle ongeregtigheid. Hy is besig is om ons, as sy eiendom, te reinig sodat ons ywerig kan wees in goeie werke. Petrus beaam dit wanneer hy sê dat ons ʼn uitverkore geslag is, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet 2:9). Die feit dat jy sy eiendom is, gee vir jou ʼn standvastigheid midde-in die storms van die lewe.

    • Die feit dat jy aan God behoort, mag dalk vir jou iets anders beteken as die persoon langs jou. Hoe meer jy egter van God se karakter ken, hoe kosbaarder raak die wete dat jy aan God behoort – en om aan Hom te behoort, is ʼn wonderlike gerusstelling. God laat vaar nooit die werke van sy hande nie. Hy, wat ʼn goeie werk in ons begin het, sal dit tot die einde toe volbring.

Om God se eiendom te wees, plaas natuurlik ook ‘n verantwoordelikheid op ons. As sy kinders, moet ons begin om dieselfde gesindheid as Hy te hê (Fil 2:5-7), om ʼn getroue beeld van Hom te wees. Juis in ons ontmoetings met die lewende God word ons verander word na sy beeld, soos 2 Korintiërs 3:18 dit sê: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Al hierdie heelhartige soeke om God te ontmoet om daardeur vry te raak van sonde en om sy liefde vir jou te leer ken en Hom as ʼn dieper werklikheid te ervaar – is dit nie baie selfgesentreerd nie?

Ja, dit kan so wees dat dit alles maar net om jou eie heil en om jou eie siel gaan. Maar dan mis jy die punt van waarom God in die eerste plek in jóú belang stel. Hy wil die volheid van Jesus se verlossing vir jou, in jou bewerk en laat gestalte aanneem. Dit beteken dat sy verlossing ook deur jou vir ander sigbaar word.

Ons God is so wonderlik dat, terwyl jy van heerlikheid tot heerlikheid verander word, elke keer wanneer jy in die Gees met Hom ontmoet (2 Kor 3:17 en 18), word jy in staat gestel om Hom in hierdie wêreld getrou te verteenwoordig. Soos in die storie van die familie-oomblik waar Christiaan ʼn perd lewensgetrou kon teken eers toe hy gereeld naby een gekom het, net so kan ons eers ʼn ware beeld van God wees waar ons ook al in die wêreld leef wanneer ons Hom altyddeur voor ons stel, wanneer ons begin het om in sy gereelde teenwoordigheid te leef – nie net in ons veilige kring van Christen-vriende nie, maar ook daar by die werk as ons met Jesus se gesindheid moet optree onder omstandighede wat nie altyd ewe maklik is nie.

Dit is nie om dowe neute dat ons vandag, so kort ná die Paasfees, Arbeidsondag gedenk nie. Ons kan Psalm 16 se 11de vers aanvul: “Uit ‘n lewende verhouding met die opgestane, lewende Here leer ons hóé om te lewe”. Só raak ons bewus van God se roeping vir ons lewe. Só kry ons genade om ons werk goed en met blydskap te doen – selfs blydskap in oorvloed, as ons die Psalmdigter kan glo. Só vervleg ons mandaat om die koninkryk van God hier op aarde gestalte te gee met ons alledaagse arbeid, en leef ons werklik soos God dit wil hê. Mag dit ook ons begeerte wees!

God stuur ons om te leef

Maak dit jou voorneme om hierdie week die pad wat Jesus na die Vader is, te loop. Ontmoet met die Een wat jou liefhet met ʼn ewige liefde. Ontmoet met Hom wat jou ewige erfenis is. Dan sal jy uit jou eie ervaring saam met Dawid teenoor God kan sê: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Ps 16:11 OAV)

Lied: Flam 48: “Uitverkoop” en Vonk 73: “Soos die Vader U gestuur het”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.