Tweede Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se tekste beklemtoon die groot verskille tussen aardse konings of regerings en die ewige Koning, Jesus Christus. In die sleutelteks waarsku Samuel die volk teen die probleme wat ‘n aardse koning kan meebring. Psalm 138, in teenstelling met die sleutelteks, besing die liefde en trou van die verhewe Here. In 2 Korintiërs 4:13–5:1 word gelowiges opgeroep tot eenheid en ‘n vaste geloof, met die gevolg dat wanneer ons aardse woning afgebreek word, ons ewige woning by die Vader vir ons sal wag.

Ander tekste

Psalm 138
Van Dawid.
Ek wil U met my hele hart loof.
Laat die gode maar hoor;
dit is tot u eer dat ek sing.
2Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord
bo alles gestel.
3Toe ek na U geroep het,
het U my gebed verhoor
en my nuwe krag gegee.
4Al die konings van die aarde
sal U loof, Here,
wanneer hulle u woord hoor,
5hulle sal sing
oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here
is groot.
6Ja, al is die Here hoog verhewe,
Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af
deur die hoogmoedige.
7As die nood my oorval,
hou U my in die lewe
teen die woede van my vyande in:
U strek u hand uit,
u regterhand red my.
8Die Here sal vir my alles
goed laat afloop.
Aan u liefde, Here,
is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande
laat vaar nie.

2 Korintiërs 4:13–5:1
13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

Lewe deur die geloof
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

5 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan.

Markus 3:20-35
20Daarna het Jesus huis toe gegaan. ’n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ’n stukkie te eet nie. 21Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”

22Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.”

23Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? 24As ’n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; 25en as ’n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. 26As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.

27“Bowendien kan niemand in ’n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

28“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. 29Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”
30Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van ’n onrein gees besete.”

Die moeder en broers van Jesus
(Matt 12:46–50; Luk 8:19–21)
31Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ’n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 32’n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”

33Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”

34Hy het die mense aangekyk wat in ’n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! 35Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Sleutelteks

1 Samuel 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15)
Versoek om ‘n koning 
8:1 Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. 2 Sy eersgebore seun se naam was Joël en sy tweede seun se naam was Abia. Hulle was rigters in Berseba. 3 Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai.

4 Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. 5 Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons ‘n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is.”

6 Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons ‘n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die Here gebid.

7 Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. 8 Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou.

9 Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer.”

10 Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom ‘n koning gevra het. 11 Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop.

12 Hy sal hulle vir hom aanstel as aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. 13 Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. 14 Julle beste landerye, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee. 15 Van julle graanoes en wingerdoes sal hy ‘n tiende vat en vir sy paleisamptenare en dienaars gee.

16 Julle slawe en slavinne, die keur van julle jong manne en donkies sal hy vat en vir sy eie werk gebruik. 17 Van julle kleinvee sal hy ‘n tiende vat. Julle self sal sy slawe wees. 18 Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die Here sal julle op daardie dag nie verhoor nie.” 19 Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet ‘n koning oor ons wees! 20 Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.”

21 Samuel het na al die woorde van die volk geluister en dit aan die Here voorgelê.
22 Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle ‘n koning aan.”
Samuel het daarna vir die mense van Israel gesê: “Gaan elkeen dan nou na sy stad toe!”

Herbevestiging van Saul se koningskap 
11:12 Die manskappe het vir Samuel gesê: “Wie het gesê, ‘Moet Saul oor ons koning wees?’ Lewer dié manne uit, sodat ons hulle kan doodmaak!” 13 Maar Saul het gesê: “Niemand mag op hierdie dag doodgemaak word nie, want vandag het die Here redding bewerk in Israel.”

14 Samuel het vir die manskappe gesê: “Kom, laat ons na Gilgal gaan en die koningskap daar herbevestig.” 15 Al die manskappe het toe na Gilgal gegaan en hulle het Saul daar in Gilgal, in die teenwoordigheid van die Here, as koning ingehuldig. Hulle het daar voor die Here maaltydoffers geslag. Saul en al die manne van Israel was baie vrolik daar. (Die Bybel 2020-vertaling).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 175 of Flam 86

Votum: n.a.v. Psalm 138:1-3 of 1 Samuel 16:7b

Seëngroet: 2 Korintiërs 1:2

Lofsang: Lied 499 of Flam 447 of VONKK 121 (Psalm 138)

Verootmoediging: Psalm 138 responsories

Geloofsbelydenis: Lied 496 of Flam 77

HOOR

Gebed: Lied 254

Skriflesing: 1 Samuel 8:4-11, 16-20

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 470 of Flam 455

Seën

Respons: Flam 455 REFREIN of VONKK 204 (Die voorganger sou telkens die verse kon lees as seën, waarna die gemeente as respons reageer met die Refrein)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 175 Majesteit of
Flam 86 Ons Bring U Hulde, Heer 

Votum: n.a.v. Psalm 138:1-3
Ek wil U met my hele hart loof.
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord
bo alles gestel.
Toe ek na U geroep het,
het U my gebed verhoor
en my nuwe krag gegee.
of (uit Bybel-Media se Woord en Fees):
1 Samuel 16:7b
Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie.
Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.

Seëngroet: 2 Korintiërs 1:2
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees!

Lofsang
Lied 499 “Die Heer is God, en niemand meer” of
Flam 447 Grote Koning, Majesteit of
VONKK 121 Ek Wil U Loof Met My Hele Hart (Psalm 138)

Verootmoediging
Psalm 138 soos voorgestel in Bybel-Media se Woord en Fees:
V: Ek wil U loof met my hele hart; voor die gode wil ek U met begeleiding prys.
G: Ek wil in aanbidding buig na u heilige tempel; ek wil u Naam loof oor u troue liefde, oor u betroubaarheid; want U het u Naam, u woord, groot gemaak bo alles.

V: Op die dag wanneer ek roep, antwoord U my; U besiel my met innerlike krag.
G: Al die konings van die aarde moet U loof, Here, wanneer hulle die woorde van u mond hoor.

V: Hulle moet die weë van die Here besing: “Groot is die majesteit van die Here.
G: Ja, verhewe is die Here, maar nederiges sien Hy raak en hoogmoediges ken Hy van ver af.”

V: As ek in nood verkeer, beskerm U my lewe teen die woede van my vyande; steek U u hand uit, verlos u regterhand my.
G: Die Here tree vir my in. Here, u troue liefde duur vir ewig; moet tog nie u handewerk laat vaar nie!

Geloofsbelydenis
Lied 496 “Jesus, U die lewe” of
Flam 77 Jesus Is Die Heer Bo Alle Here

Liedere

VONKK 121″ Ek Wil U Loof Met My Hele Hart  (Psalm 138)”
Psalm 138 Teks: Jacques Louw 2009 © Melodie: LOURENS – Jacques Louw 2009 ©
Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

1.  Ek wil U loof met my hele hart,
laat al die gode dit hoor.
Ek roem u Naam en u liefdestrou;
dis tot u eer dat ek sing.
Al die konings van die aarde
sal U loof vir wat U doen;
want U is hoog verhewe, Heer.
U mag en krag is groot.

2. Al is U so verhewe, Heer,
gee U vir ned’riges om.
As nood en vyande my oorval,
strek U u hand uit oor my.
Aan die liefde van die Here
is daar nooit ‘n einde nie!
Die goeie werk van u hande, Heer,
sal U mos nooit laat vaar.

F77. “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Soekie Rautenbach en Danny Anthill
© Brettian Publishers (Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

1. Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja!
Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!

2. Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja!
Jesus, sterke God, eer Hom!
Halleluja!

F86. “Ons Bring U Hulde, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede / Verwondering) Oorspronklike titel: We declare your majesty
Teks en musiek: Malcolm du Plessis Afrikaanse vertaling: 2005 Johan Engelbrecht © 1984 Maranatha Praise, Inc.

Ons bring U hulde, Heer
en besing u grootheid, Vader;
want u glorie en heerlikheid,
U krag en majesteit,
laat ons met lof en eerbied voor U buig.
U Naam word verhef oor die hele aarde.
U het ons verlos uit liefd’ en genade.
Hoor ons dan nou waar ons tot U nader.
Ons buig in aanbidding hier voor U troon.

F447. “Grote Koning, Majesteit”
(RUBRIEK: FLAM – Verwondering / Geloof en vertroue)  Oorspronklik: King Of Kings Majesty
Teks en musiek: Jarrod Cooper Afrikaanse vertaling: Stass van Veuren
Kopiereg: © 1996 Sovereign Lifestyle Music (geadministreer deur Brettian Publishers) (Opgeneem op Onbeskaamd Herwin2)

1. Grote Koning, Majesteit,
God oor alles, U woon in my.
U’s my redder, U’s my vriend
U’s my einde, U’s my begin,
alles binne my roep uit na U.

2. O Majesteit,  ek buig voor U,
ek gee my alles net vir U.
U genade verdien ek nie
ek leef vir U, o Majesteit.

3. Hemel en aarde ken u Naam
en u liefde sal ewig staan.
U koop die nasies, elke siel,
met u lewe; U was verniel.
Alles binne my roep uit na U.

F455. “Ek Sal Sing”
(RUBRIEK: FLAM– Lof)  Teks en musiek: Simonet van Tonder Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

1. Jesus, Jesus, ek loof U, Heer!
Vader, Vader, ek eer U, Heer!
Ek eer U, Heer, want ek is lief vir U,
want ek is lief vir U.
En ek sal sing, en ek sal sing.

Refrein:
Halleluja vir u Koninkryk.
Halleluja vir U, Majesteit.
Halleluja tot in ewigheid.
Halleluja! U’s vir ewig Heer.

2. Majesteit, Majesteit, ek aanbid U, Heer.
Ek aanbid U, Heer.
Vader, Vader, ek prys U, Heer.
Ek prys U, Heer, want ek is lief vir U,
want ek is lief vir U.
En ek sal sing. En ek sal sing.

Refrein:

3. Tot in lengte van dae sal ons sing.
Tot in lengte van dae U prys.
Want ek is lief vir U,
want ek is lief vir U.
En ek sal sing, en ek sal sing.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 254 “Spreek Heer”

Skriflesing: 1 Samuel 8:4-11, 16-20

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media se Woord en Fees stel voor:
Nooi die gemeente om die teks dramaties voor te lees. Die voorganger en ander persone lees die karakters se gedeeltes en die gemeente die mense se woorde:
V: Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan.
Die mense: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer ‘n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”

V: Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog ‘n koning om oor ons te regeer.” Samuel het tot die Here gebid, en die Here het vir hom gesê:
Die Here: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle. Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien. Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.”

V: Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom ‘n koning gevra het. Hy het gesê:
Samuel: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop, party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak; julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak; julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee; van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy ‘n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee; julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik; van julle kleinvee sal hy ‘n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees. Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

V: Maar die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle het vir hom gesê:
Die mense: “Nee, daar moet tog maar ‘n koning oor ons wees. Ons wil ook soos al die nasies wees. Ons koning moet oor ons regeer; hy moet ons lei en ons oorloë voer.”

V: Toe sê Samuel vir die manskappe:
Samuel: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”

V: Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.

Carolyn Brown maak ‘n paar baie oulike voorstelle:

Sy herinner ons dat baie kinders gaan sukkel om die konsep van ‘n koning te verstaan en stel twee stories voor.

“No” deur Claudia Reuda gaan oor ‘n beertjie wat nie “nee” vir ‘n antwoord wou aanvaar nie en opsluit in die winter wou uitgaan. Ongelukkig kon ek dit nie opspoor nie, net ‘n Spaanse weergawe! (As jy Spaans verstaan, kan jy dit dalk vertaal.) Enige storie oor iemand wat “nee” sê – en die gevolge van nie na die “nee” luister nie – kan goed werk.

The Mixed Up Chameleon gaan oor ‘n verkleurmannetjie wat soos al die ander diere wil wees – en op die ou end nie ‘n vlieg kan vang nie. Brown verbind dit aan die Israeliete wat soos al die ander volke rondom hulle wil wees.
Sy stel ook voor dat jy die geleentheid gebruik om vir verskillende soorte leiers te bid.

Preekriglyn

Publieke leierskap is dikwels ‘n ramp. Jy kan maar enige Suid-Afrikaner daaroor uitvra. Dis nie net van ons land waar nie. Selfs in Europa word staatshoofde by ongerymdhede betrek en beland in diep moeilikheid. Dieselfde geld die VSA en ander sg. ontwikkelde lande.

Ons teks is ‘n eerlike blik op leierskap. Dit praat met elkeen van ons, want ons is ook leiers: by ons werkplekke, in ons families, vriendekringe, sportklubs, of selfs in ons woonbuurte. Ons gedrag het gevolge vir ander. Daarom is ons leiers, nie in die minste nie van onsself en ons eie optrede.

Opvallend is die Bybel baie realisties oor leierskap en ook genuanseerd. Die Bybel – en hierdie teks – is eerlik en allesbehalwe naïef oor leierskap.

In ons teks ontmoet ons die groot eksperiment in die vroeë lewe van Israel as ‘n volk. Ons staan hier by die begin van die era van konings in Israel. Ons teks is nie tevrede om ‘n eendimensionele storie van sukses of mislukking te vertel nie. Die oorgang van gesag van een bedeling na ‘n ander is kompleks en loop net so maklik beide op mislukking en sukses uit. Niks is ooit eenvoudig nie.

Uiteindelik sou Jesus vir ons kom demonstreer hoe ware leierskap lyk.

Rigters regeer

Op hierdie stadium in Israel se geskiedenis is die volk deur Rigters geregeer. Die Bybelboek Rigters vertel vir ons van hierdie periode. Dit was ‘n tyd van groot verwarring en dwarstrekkery. Daar was baie geweld en periodes van anargie.

In die Rigtertyd is leierskap voorsien deur die onverwagse en onvoorspelbare aanwysing van ‘n leier deur die Gees van die Here. Sommige rigters was bekwame en grootse figure (soos Deborah) en sommige twyfelagtige karakters (soos Simson). Elke rigter (‘n soort van ‘n gevegsleier) het ‘n suksesvolle periode beleef, gevolg deur ‘n tyd van mislukking en rampspoed. Hierdie tyd het voortgeduur tot ‘n volgende rigter aangewys was.

Israel was ‘n ontluikende nasie wat meer sekerheid nodig gehad het as wat rigters kon voorsien. Die gebrek aan stabiele leierskap het ook gelei tot dwarstrekkery en gebrek aan eenvormige aksie. Daarom sluit die Rigterboek met hierdie bekende sinnetjie af:

In daardie tyd was daar geen konings in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë (21:25).

Die laaste rigter

Samuel was die laaste rigter van Israel. Hy was eintlik meer as ‘n rigter. Op die hoogtepunt van sy gesag het Samuel elke aspek van Israel se publieke lewe beheer: ekonomies, polities en godsdienstig.

In ons teks, 1 Samuel 8, ontmoet ons die rigter op ‘n hoë ouderdom. Daarom “het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel” (8:1). Samuel tree eintlik soos ‘n tipiese koning op. Hy sien homself eintlik as die hoof van ‘n dinastie met sy seuns wat sy regeerposisie erf. Niemand sou dit eintlik kon waag om die magtige Samuel die regte ontsê om sy opvolgers te bepaal nie. Hy het Israel immers baie goed gelei. Wie sou nou beter opvolgers wees as die seuns van hierdie groot figuur?

Die naam van Samuel se oudste seun is Joël, wat beteken “Die Here is God”. Sy tweede seun heet Abia, “die Here is my Vader”. Dis goeie name vir die ontluikende nuwe leiers van Israel. Samuel het hulle aangestel as rigters in Berseba, die suidelike woestyngedeeltes van die land, sodat hulle die nodige ervaring kon opdoen om die hele land na Samuel se dood te regeer. Dit het gelyk of ‘n nuwe Samuel-dinastie tot stand sou kom, ‘n soort permanente rigtersfamilie wat mekaar sou opvolg.

Seuns wat ontspoor

Daar was egter ‘n probleem (8:3):

Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai.

Samuel het sy lewe gegee om stabiliteit en reg in Israel te vestig, Hulle het skynbaar geplunder, omkoopgeskenke aanvaar en nie die reg gehandhaaf nie. Sulke karakters kan tog nie toegelaat word om Israel te regeer nie. Die volk kon aanneem Samuel sou self kon insien ‘n ander plan moet gemaak word.

Die volk wil ‘n koning hê

Ons teks suggereer die oudstes van Israel kon nie langer wag nie. Samuel was oud en kon enige tyd sterf, dan sit die volk met hierdie niksnutte vir leiers. Ontsteld en ontstoke nader hulle Samuel in sy huis in Rama:

“Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons ‘n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is.” (5)

Eintlik is dit ‘n redelike versoek. Samuel het self ‘n proses begin om die tweehonderd jaar oue gebruik hoe leiers in Israel aangewys is te wysig. Hy het immers probeer om ‘n eie rigters- of koningshuis te vestig. Waarom nie al die pad gaan en ‘n volwaardige koningshuis te vestig nie? Soos die ander nasies doen, kan stabiele gesag gevestig word en Samuel se onderduimse seuns kry dan nie hulle kloue op die regeergesag in Israel nie.

Die oudstes se versoek aan Samuel is nie ‘n godsdienstige verwerping van God se gesag nie. Hulle soek stabiliteit en wil hulself bewaar van Joël en Abia se opmars na regeermag.

Samuel ontstoke

Die versoek om ‘n koning was verkeerd in Samuel se oë. Die redes hiervoor is kompleks:

  • Eerstens moes die versoek om ‘n koning die ou rigter en profeet ontstig het – hy het die volk sy lewe lank goed gelei en nooit gevra om self koning te word nie;
  • Die volk se behoefte om ‘n koning “soos dit by die ander nasies is” het Samuel ontstel, omdat Israel die unieke volk van God was en ‘n unieke verhouding met die ware God gehad het;
  • Derdens was Samuel waarskynlik woedend om die ondankbare oudstes hom en sy seuns verwerp het: vir hom noem hulle oud, en sy seuns noem hulle skuim.

Behoorlik ontstig bid Samuel tot die Here. Die Here se antwoord was egter nie heeltemal waarop Samuel gehoop het nie.

“Luister, Samuel”

Die Here raai Samuel aan om na die volk te luister (7-9):
Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer.”

Twee keer sê die Here Samuel moet na die volk luister en vir hulle gee wat hulle vra. Kortliks kom dit daarop neer: Gee vir hulle ‘n koning!

Dis nie moontlik om die Here verkeerd te hoor nie. Dit is egter asof Samuel net die laaste gedeelte van die Here se woorde hoor. Samuel is maar te gretig om die volk teen ‘n komende koning te waarsku. Samuel trek behoorlike los en in ‘n lang relaas (verse 10-18) waarsku hy die volk teen ‘n koning wat totaal buite beheer is. Hy beskryf ‘n kleinlike tiran wat mense uitbuit sover hy kan. Samuel sluit die katalogus van alles waartoe ‘n koninklike booswig in staat is af met ‘n strak vermaning:

Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die Here sal julle op daardie dag nie verhoor nie (18).

Let op: die duidelik ontstelde Samuel het die Here hoor waarsku teen ‘n koning, en niemand kon ontken hy het hulle gewaarsku nie. Maar die Here het ook twee keer gesê Samuel moet vir hulle ‘n koning aanstel. Hieroor sê Samuel niks en hieraan doen Samuel niks.

Dit is die Bybel se sobere perspektief op hoe leiers dikwels optree. Dit lyk vanselfsprekend dat Samuel se persoonlike gevoel van verwerping (verwerping van hom, sy seuns en sy “koningshuis”) sy oordeel so aangetas het dat net waarskuwings en donker prentjies oor ‘n toekomstige koning uit sy mond kan stroom.

“Nee, Samuel”

Die volk was nie oortuig nie. Hulle luister dus ook nie na Samuel nie (19-20):
Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet ‘n koning oor ons wees! Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.”

Die prioriteit is stabiliteit, en die vooruitsig dat Samuel se kinders die opvolgers word, is onaanvaarbaar. Nou lees ons hoe die verontwaardigde, dalk woedende, profeet hom in gebed na die Here wend. Hy is seker die Here sal saamstem dat die koning-koning-eksperiment ‘n gevaarlike speletjie is. Hy verwag die Here sal sy, Samuel se, prioriteite en planne bevestig.

Weer word Samuel teleurgestel (22):
Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle ‘n koning aan.”

Vir die derde keer gee die Here opdrag dat Samuel ‘n koning aanstel. Weer, verstommend, weier die profeet. Hy draai na die volk toe en gee opdrag dat hulle huis toe moet gaan.

Baie kante en perspektiewe

Hierdie is ‘n wonderlike verhaal wat die baie kante en perspektiewe wat met leierskap gepaard gaan vir ons belig. Wanneer mens na die nuus op TV-staar (met jou mond wawyd oop oor wat “hulle” nou weer aangevang het), of die koerant met knaende onrus lees, is hierdie teks ‘n bril waardeur mens kan kyk om God se perspektief op leierskap te sien.

In hierdie gebeure sien die Here die behoefte raak vir ‘n koning, hoe gevaarlik so ‘n stap ook al mag wees. Baie mag word in een mens se hande geplaas. Die Here en Samuel se versigtigheid word later reg bewys soos die geskiedenis rondom Israel se koning ontplooi.

Dink maar hoe ‘n mislukking die eerste koning, Saul, uitdraai. Dawid, sy opvolger, blyk ‘n briljante koning te wees in sy publieke rol as koning. As vader en eggenoot is Dawid egter ‘n mislukking. Salomo, Dawid se seun, draai uit soos Samuel voorspel het voor die eerste koning gekroon is.

Die Here kry dit reg om na die mense en hul behoeftes te luister. Samuel is egter vasgevang tussen God en die mense. Samuel probeer oorleef, en sy verwerping oorkom, deur te praat maar niks te doen nie.

In hoofstuk 9 is daar nie langer opsies nie. Samuel word gedwing om ‘n koning aan te wys. Hy kan nie langer wegkom van die Here se opdrag nie.

Besluite is moeilik

Hierdie gebeure vertel hoe moeilik dit is om gesag reg te hanteer. Aan die een kant is daar ‘n angstige bevolking wat ‘n koning as die oplossing vir veiligheid en ‘n beter toekoms sien. Daar is ook ‘n weifelende, hardkoppige leier, wat sukkel om van sy planne en sy verstaan van sy mag en invloed af te sien. God is ook teenwoordig. Die geskiedenis speel uit deur die interaksie van hierdie drie partye.

Hoe ons, die mense rondom ons, ons bestaande leiers en God tot vandag toe met mekaar in gesprek tree, ons besluite, ons angste en ons oorwegings vat ons na ‘n toekoms toe wat dikwels heeltemal anders lyk as wat ons kon voorsien of wou hê.

Dit help ons nadink oor wat groepe wil hê en wat groepe dink reg is om te doen. Is ons saam so reg as wat ons dink ons is? Verder: hoe seker is ek dat ek – soos Samuel – die toekoms reg sien en weet watter leierskap – en wie se leierskap – die beste is vir die pad vorentoe?

Nog dieper: hoe ken ons die wil van God? Hoe kan ons so seker wees dat ons weet wat God wil hê ons moet kies?

Eenvoudige antwoorde

Israel is in die knyp. Hulle soek antwoorde gegrond op die beproefde model van ander nasies.

Te midde van misdaad, korrupsie en magsmisbruik, soek ons steeds ‘n regsorde en beskerming. Die gevaar is dat ons vinnig, oppervlakkige antwoorde sal soek. Ons is so seker “witmonopoliekapitaal” is die probleem, en nou soek ons “radikale ekonomiese transformasie” as antwoord.

Dagblaaie se briewekolomme wemel van ondeurdagte kitsoplossings vir nypende probleme. Ons moet net soos Amerika (of China of Skandinawië) word. Gee ons ‘n koning!

Of ons weet “die armes” of die “township” is ons probleem. Dan bou ons hoë mure, ons blameer en kla en ons spandeer groot op sekuriteit, sonder om ooit die “ander” te ontmoet, te leer ken en saam oplossings te soek.

Entoesiaste vergeet maklik dat elke stelsel sommige mense bevoordeel en ander benadeel. Elke hervorming is ook vervorming. Dit is maklik om eiebelang as “die algemene belang” voor te hou: “die belastingbetalers”, “die werkersklas” en “wetsgehoorsame burgers” – lees deurgaans “my groep”. God se belang kom natuurlik eerste – en ek is die beste verteenwoordiger daarvan.

Versigtig en verantwoordelik met mag

Dienslewering is nie kosteloos nie. Dit is die reg van konings (state) om belastings te hef om hulle taak uit te voer. Dit is hulle gebruik om meer te eis as wat hulle toekom. Hulle skep nuwe werkgeleenthede en verwoes ou samelewingspatrone.

Omdat magsuitoefening skep én vernietig, rus die mag wat by my berus soms swaar op my, veral as ek my alte koninklik gedra.

In hierdie gedeelte wil alle mense koning kraai: Samuel se seuns wat hulleself verryk, Samuel wat aan sy gesagsposisie klou en die Israeliete wat hulle sin wil hê. Samuel wil die volk se geldige klagtes nie hoor nie. Hulle wil na sy geldige waarskuwing nie luister nie. Net God tree “onkoninklik” op. God eis nie en beveel nie, Hy luister.

Konings soos Christus

Ons hoef nie sinies oor mag, beheer en regeer te raak nie. God kan inderdaad met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan. Wat saak maak, is nie die reguit hou nie, maar dat die stokke self reguit word. Uiteindelik moet ons self konings wees, nie vra vir konings nie. Maar beslis nie “konings soos by al die nasies” nie! Ons voorbeeld is immers gans anders ….

Ons voorbeeld berus op Jesus Christus, die volmaakte Koning. Jesus het regeer deur sy lewe te gee vir baie. Hy is die volkome mens wat God se wil soek, en dit uitvoer deur te dien. Hy leer ons om juis nie konings soos die nasies se konings te wees nie, Ons is geroep om te regeer deur te dien.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 470 “U, Here, is ons koning”
Flam 455 Ek Sal Sing

Seën
Mag Jesus Christus, die Koning van die Wêreld,
se heerskappy deur jou lewe sigbaar word.

Mag Sy heerskappy jou voortdurend herinner
om Sy liefde en genade in hierdie wêreld te weerspieël
en ander uit te nooi om ons Koning te ken.

Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Respons
Flam 455 Ek Sal Sing REFREIN of
VONKK 204 Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader
(Die voorganger sou telkens die verse kon lees as seën, waarna die gemeente as respons reageer met die Refrein)

Teks: Hannes van der Merwe 2010/2012 © Musiek: CHRISTINE – Cecilia van Tonder 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Cecilia van Tonder 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Gebede / Uitsending

1. Mag die vrede van ons Hemelvader,
die genade van sy Seun, ons Heer,
die gemeenskap met die Gees van Waarheid
oor ons harte en verstand regeer.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam

2. Mag die vrede wat bo ons verstand is,
en genade wat ons nuut laat wees,
en die eenheid van geloofsgemeenskap
ons verbind in hart en ook in gees.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.