Tweede Sondag van Koninkrykstyd – Ongewingsondag

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 96
Die Here kom om oor die aarde te heers
96 Sing ’n nuwe lied tot eer van die
Here,
sing tot eer van die Here,
almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here,
prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here
wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe,
bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom,
almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies:
“Die Here regeer;
die wêreld staan vas, dit wankel nie;
die Here sal die volke
regverdig oordeel.”
11Die hemele moet bly wees
en die aarde moet juig,
die see en alles daarin moet druis,
12die veld en alles daarop moet jubel,
al die bome in die bos
moet hulle verheug
13voor die Here, want Hy kom,
Hy kom om oor die aarde te heers.
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Galasiërs 1: 1-12
1 Van Paulus, ’n apostel, en van al die broers wat by my is.
Dat ék ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.
Aan die gemeentes in Galasië.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Daar is geen ander evangelie nie
6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: as iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het—die vloek van God sal hom tref!

10Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

Hoe Paulus ’n apostel geword het
11Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ’n mens uitgedink nie. 12Ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of by ’n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee.

13Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog ’n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. 14En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was ’n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.

15Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het 16om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg 17of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe.

18Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. 19Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. 20Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie—God is my getuie.

21Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. 22Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; 23hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” 24En hulle het God verheerlik oor my.

Lukas 7: 1-10
Die genesing van die offisier se slaaf

(Matt 8:5–13; vgl Joh 4:43–54)
7 Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan.
2’n Offisier daar het ’n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. 3Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe ’n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. 4Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, 5want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.”

6Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier ’n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf is gesond. 8Ek is self ’n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ’n groot geloof teëgekom nie.”

10En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.

Fokusteks

1 Konings 18:21-29, 30-39
Elia en die profete van Baäl
18 Na ’n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.”

2Elia het na Agab toe gegaan. Die swaar hongersnood het nog voortgeduur in Samaria.

3Agab het vir Obadja, die paleisopsigter, na hom toe laat kom. Obadja het die Here pligsgetrou gedien. 4Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja honderd geneem en hulle vyftig-vyftig in grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

5Agab het vir Obadja gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.”

6Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in ’n ander rigting.

7Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!”

8Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”

9Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak? 10So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met ’n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie. 11Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’12As ek nou van u af sou weggaan, en die Gees van die Here neem u weg, sonder dat ek weet waarheen, en ek gaan vertel vir Agab ek het u gesien, maar hy kan u nie kry nie, dan maak hy my beslis dood. En dit terwyl ek die Here van my jeug af dien. 13Het hulle u nie vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie, dat ek honderd profete van die Here vyftig-vyftig in grotte weggesteek het en hulle van kos en water voorsien het? 14Nou stuur u my sommer om vir koning Agab te gaan sê Elia is hier. Hy sal my mos doodmaak.”

15Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.”

16Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom. 17Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”

18Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. 19Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”

20Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.

21Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”
Die volk het hom nie ’n woord geantwoord nie.

22Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. 23Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. 24Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”
Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

25Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies ’n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”

26Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”
Daar was nie ’n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

27Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

28Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. 29Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

30Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.
Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

31Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” 32Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en ’n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.

33Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.

34Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.”
Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog ’n keer gedoen.
Toe sê hy: “Doen dit ’n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.

35Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.

36Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. 37Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

38Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

39Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

40Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.”
Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.

41Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.”

42Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, 43sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.”
Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.”

Dit het sewe keer gebeur. 44Na die sewende keer het hy kom sê: “’n Wolkie so groot soos ’n man se hand kom uit die see uit op.”

Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”

45Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery.

46Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Ons kies om die Omgewing tema aan te spreek binne die liturgie onder verootmoediging.

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord 
4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here
wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom. (Psalm 96)

Seëngroet 
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen (Galasiërs 1)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Verootmoediging
Op Omgewing Sondag buig ons voor die Here vir die gebrokenheid van ons skepping.
The Atlantic bluefin tuna is currently seriously overexploited. Scientists say 7,500 tons annually is the sustainable limit, yet the fishing industry continue to harvest 60,000 tons.

Fish stocks are said to “collapse” if their biomass declines by more than 95 percent of their maximum historical biomass. Atlantic cod stocks were severely overexploited in the 1970s and 1980s, leading to their abrupt collapse in 1992.[1] Even though fishing has ceased, the cod stocks have failed to recover.[1] The absence of cod as the apex predator in many areas has led to trophic cascades.[1]

Op eie werf is die slagting onder renosters uiters kommerwekkend. Onstellende materiaal is te siene op die webwerf.

South Africa, home to almost all rhinos on the continent, has deployed its military, diplomats and police to protect the animals from legions of poachers. But that has not been enough to put rhinos on the brink of species decline, whereby more of the animals are being killed than are being born each year. The country is on pace to lose 812 rhinos in 2013 to poachers.

Lees Psalms 8:1-10
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Skuldbelydenis
Voorganger: Ons bely dat ons van die aarde vervreemd geraak het,
Gemeente: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Voorganger: Ons bely dat ons die planeet veronagsaam het
en misbruik het as ’n eindelose bron van grondstowwe.
Gemeente: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Voorganger: Ons bely ons sonde teenoor U en u goeie skepping.
Gemeente: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Geloofsbelydenis
Ons glo dat die aarde ’n heiligdom is,
deel van God se goeie skepping,
gevul deur die magtige teenwoordigheid van God.
Ons glo dat God se Seun vlees en bloed geword het,
deel van God se goeie skepping;
dat Hy op hierdie aarde geleef en gewerk het;
dat Hy gely het en aan ’n kruis gesterf het
vir alle mense en vir die hele skepping.
Ons glo dat die Jesus wat opgestaan het uit die dood,
die Christus in die hart van die skepping is
wat alle dinge met God versoen.
Ons glo dat die Heilige Gees die skepping vernuwe,
dat Hy saam met die skepping sug
en dat Hy saam met ons wag op die bevryding van die skepping.
Ons glo in God Drie-enig,
die Here van die nuwe hemel en die nuwe aarde.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Lied: Psalm 19 “Die hemel bly vertel vs 1, 2”

Liedere

F23. “Prys Die Here”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Opgeneem op Lentereën  –  Willie Joubert)
(Psalm 148)

Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se Naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

U’s my Here en ek prys U Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys U Naam!
U’s my Here, en ek prys U Naam!

F106. “God Is Groot”
(RUBRIEK: Flammikidz – Verwondering)
Oorspronklike titel: God is great
Teks en Musiek:Frank Hernandez
Afrikaanse vertaling: S. Rautenbach
© Birdwing Music
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

God is groot, God is groot.
Hy is baie, baie, baie, baie groot.
God is groot, God is groot.
Hy is baie, baie, baie, baie, baie, baie groot.

Hy is groter as ‘n olifant en groter as ‘n tier.
Hy’s groter as die grootste beer of watter ander dier.
Hy’s groter as ‘n reuse walvis in die oseaan.
Hul’s kleiner as muskiete as hul voor die Here staan.

Hy is groter as die berge wat aan die wolke raak.
Hy’s groter as die diepste see wat altyd golwe maak.
Hy’s groter nog as al die sterre, aarde, son en maan.
Hy’s groter as die hemelruim en sy planete saam.

En sê nou hy was groot, maar Hy was baie sleg
Dan sou die hele wêreld nie geweet het wat was reg
En sê nou Hy was goed, maar Hy was baie klein
Sou al die wonderwerke van die aarde af verdwyn.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
‘n Gebed tot die God van eb en vloed
Liewe Here, vandag dink ek aan die woorde van Vincent van Gogh:  “Dit ís so dat daar eb en vloed is, maar die see bly die see.”  U is die see.  Alhoewel ek baie ops en afs in my emosies beleef en dikwels groot veranderinge in my innerlike beleef, bly U dieselfde.  U bly dieselfde nie soos ‘n rots nie, maar soos ‘n getroue minnaar.  Uit u liefde het ek tot die lewe gekom en deur u liefde word ek gedra en na u liefde word ek altyd teruggeroep.  Daar is dae van trane en dae van vreugde;  daar is skuldgevoelens en dankbaarheid, daar is oomblikke van mislukking en oomblikke van sukses, maar dit alles word omvou deur u standvastige liefde.

Die enigste groot versoeking waarvoor ek kan swig is om te twyfel in u liefde, om te dink ek is so ver van U af, dat U my nie kan bykom nie, sodat ek myself uithaal uit die genesende gloed van u liefde.  Om dit te doen, is om in die duisternis van wanhoop in te beweeg …

O Here, see van liefde en goedheid, help my om die storms en winde van my daaglikse lewe nie te veel te vrees nie.  Laat my besef dat daar wel eb en vloed is, maar die see bly die see.  Amen.
Outeur: Henri Nouwen
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: 1 Konings 18:21-39

Prediking

Familie-oomblik

Dramatiese stories soos in die fokusteks verdien om gewoon met die nodige aksentuering en drama oorvertel te word. Mens kan ook lidmate met hierdie gawe aanwend om dit te doen.  ’n Kollega vertel hoe hulle die verhaal opgevoer het  – volwassenes in kostuums het die altar gebou.  Die kinders moes saamspeel en hul oë toemaak.  Terwyl die kinders se oë toe was, het een van die volwassenes die altaar aan die brand gesteek.

Gee vir families klippe.  Laat hulle met koki’s boodskappe soos “Die Here is God” daarop skryf.  Laat die hele gemeente ’n altaar pak.

Hier is ook ‘n video wat gekoop en gebruik kan word.

Preekriglyn

Miere offer tyd en effektiwiteit op om ander miere te leer hoe om vinniger voedsel te vind, wat dan hulle hele mierkolonie bevoordeel.

Volgens navorsing wat in Januarie 2006 gepubliseer is, blyk dat die vroulike mier van die spesie Temnothorax albipennis op ‘n soektog na voedsel dikwels ‘n ander mier kies om haar te vergesel. Indien die tweede mier nie die roete na die kos ken nie, sal die leier-mier haar leer deur ‘n proses wat as “tandem hardloop” bekendstaan. Terwyl die leier letterlik na die voedsel hardloop, volg die leerling. Laasgenoemde stop gereeld om “landmerke” op die roete te identifiseer. Nou ontstaan daar ‘n gaping tussen leerling en onderwyser. Wanneer die student gereed is, hardloop sy vorentoe en tik die leier-mier op die agterste bene. Dan gaan hulle weer vorentoe.

Miere wat in tandem hardloop vind ‘n bron van voedsel, bevind die navorsing, gemiddeld in 201 sekondes. Miere wat op hul eie voedsel soek, het ‘n gemiddeld van 310 sekondes nodig. Dit verteenwoordig ‘n positiewe verskil van 35%. Die proses verg ‘n opoffering van die leier-mier. Volgens navorsing verhoog die spoed van die leier-mier tot vier keer as hulle op hul eie, sonder ‘n student, na kos soek.

Waarom offer die leiers hulle tyd en effektiwiteit op om ander te leer? Nigel Franks, die studieleier van die navorsing, sê miere doen dit omdat hulle aan een nes verbonde is, en die voorspoed van die nes gedien word deur hulle leierskap. Deur die leier-miere leer ander miere om hulle weg beter te vind, en word die leerders op hulle beurt weer leiers wat ander miere leer.

Dit is vandag Omgewingsondag. Ons kan gerus by die miere leer, soos die Bybel ons onderrig: “Gaan kyk na die mier … kyk hoe hy werk, en leer by hom” (Spreuke 6:6). By die mier sal ons ook meer oor die Here, en oor hoe die Here mense gebruik, leer.

Leierskap

Die Here gebruik leiers om aan sy volk onderrig en koers te gee. In ons teks ontmoet ons Elia, die profeet van die Here, en Agab die koning van die Noordryk van Israel. Teen hierdie tyd het die 12 stammeryk van Israel reeds in twee geskeur. Dit het na die dood van Salomo gebeur. Die noordelike 10 stamme het hulle eie koninkryk gevorm.

Omri se dinastie

Koning Omri was ‘n gesaghebbende koning van die Noordryk. Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel. Uit ’n politieke gesigshoek was Omri ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word. Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is. Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese steen met inskripsies vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart. Daarom staan die Koningskrywers baie min spasie aan hom af.

Omri was ‘n leier wat die volk in die verkeerde rigting gestuur het. Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou.  Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Die profeet Elia

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig. Daar is min oor Elia bekend. Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn. Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe. Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan.

Maar in sy naam alreeds sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Die Here is God”. Elia word soos ‘n leier-mier wat die volk in ‘n nuwe rigting stuur.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant. Sinkretisme beteken dat meer as een god gelyktydig gedien word, of dat die aanbidding van verskillende gode tot een godsdiens vermeng word. Sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware aanbidding van die Here heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense die Here nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, die Here of Baäl. Die eerste teken aan Agab dat die Here God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom. Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer. Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek. Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg.

Konfrontasie op Karmel

Elia daag Agab uit om die hele volk op Karmel, ‘n berg in die noord van Israel, bymekaar te roep. Die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera moet ook daar wees (18:19). Só gebeur dit dan ook: die profete van die afgode en die hele volk kom op Karmel bymekaar.

Hierdie byeenkoms geskied teen die agtergrond van ‘n langdurige droogte. Om aan te toon dat Hy die gewer van reën en vrugbaarheid is, en nie Baäl nie, het die Here reeds vir ‘n paar jaar die reën laat ophou. Die Here wil dit laat reën (18:1), maar wil die volk eers lei tot die erkenning dat die gawe van vrugbaarheid uit sy hand alleen kom.

Daarom is daar intense konfrontasie op Karmel in die lug. Hierdie is een van die mees dramatiese tonele in die Ou Testament. Elia wil die vraag beantwoord wie die ware God is. Daarom gaan staan hy voor die hele volk en sê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”

“Hy wat met vuur antwoord, is God”

Elia staan man-alleen teen die 450 profete van Baäl. Baäl is die god van vrugbaarheid, reën, klimaat en weerlig. Daarom word Baäl uitgedaag om die vuur te voorsien wat die offerande sal verbrand. Elia gee die Baälprofete die eerste kans en heelwat tyd: die hele oggend en die grootste deel van die middag. Dit is ironies dat Elia, die profeet van Jahwe, die profete van Baäl opdragte gee en hulle gehoorsaam, terwyl dieselfde profete vir Baäl smeek, maar geen antwoord kry nie. Hoe meer die Baälprofete te kere gaan, hoe sterker word die kontras met Baäl se gebrek aan ’n antwoord. As 450 profete nie ’n antwoord verkry nie, sal Baäl ooit kan antwoord? Dit laat Elia toe om met hulle te spot. Miskien slaap Baäl, of dalk het hy ‘n draaitjie gaan loop?

Elia daarenteen laat gooi twaalf kanne water (te midde van ’n langdurige droogte!) oor die brandoffer uit. Die Here se antwoord word in die oortreffende trap geskets: selfs die water in die sloot word deur die vuur opgeslurp.

Die konfrontasie draai om een vraag: Wie is dit wat reën, vrugbaarheid en dus voorspoed verseker? Baäl se onvermoë en die Here antwoord op Elia se gebed, gee ‘n duidelike antwoord.

Nou hink die volk nie meer op twee gedagtes nie.  Hulle val op hulle knieë en roep hard uit: “Die Here is God! Die Here is God!”

Kontras tussen God en afgod

Die opvallende kontras tussen die Here en die afgod Baäl moet nie misgekyk word nie. Die Baälprofete smeek die hele dag dat Baäl tog moet antwoord. Die heidense gode was berug vir hulle wispelturigheid en word geteken as uitermate selfgesentreerd. Hulle moes gesmeek en gesoebat word om guns te verseker sodat mense die luukses wat hulle begeer, kan bekom. Die profete smeek die hele dag, maar kry Baäl nie sover om te reageer nie. Hy reageer nie, want hy kan nie.

Daarenteen word die Here as ‘n betroubare God geteken. Hy is standvastig, en mens kan peil trek op Hom. Daar is geen manipulasie betrokke nie. Elia bid ‘n eenvoudige gebed en God reageer daarop. Elia is nie die wonderwerker nie. Hy bid bloot, en God gee duidelik die antwoord wat sy liefde, guns en versorging van die wat Hom dien, openbaar.

Opvoedingsproses

Die gebeure op Karmel is ‘n aanskouingsles. Dit is soos mens ervaringsleer aanbied.

Weens die afgodediens in die land, het die Here reeds ‘n paar jaar vantevore die reëns gestop. Israel is in ‘n krisis geplaas wat daarop sou uitloop dat hulle weer kans kry om hulle te bekeer tot die ware God. Hulle leer deur harde ervaring wat dit beteken om aan die Here alleen vas te hou en om die lewe by die Here alleen te soek.

Die versengende droogte, die verlies aan lewe en swaarkry sonder water, die keuse op Karmel, die gebedsverhoring wat Elia beleef, is tekenend van ‘n God wat op reis is met sy volk. Hy voed hulle op. Dit laat mens dink aan die Hebreërbrief (12:5-9) wat sê:

Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.

Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

Die regte reaksie op die gebeure by Karmelberg is daarom om voor die grootheid van die Here te buig. Om weg te draai van die ander bronne waarby mens die waters van die lewe probeer soek. Om jou begeertes met smeking en met danksegging aan die Here toe te vertrou en vanuit sy goedheid te lewe. Hy gee wat ons nodig het.

Moderne Baäldiens?

[Nota: Hierdie paragraaf is vir predikers wat die teks veral op Omgewingsondag wil toepas.]

Dit is vandag Omgewingsondag. Ons dink vandag aan die ekosisteem wat in ‘n ernstige krisis is.

Die eerste vraag om onsself te vra is hoe die soeke na “vrugbaarheid” in ons tyd lyk. Niemand van ons aanbid Baäl nie. Kan daar ander weë wees waarlangs ons “vrugbaarheid” (opbrengs, voorspoed, seën, produksie, rendement, rente, wins) najaag, wat egter ewe destruktief is?

In Woord en fees skryf Ernst Conradie die volgende wat deur die prediker benut kan word:

Vrugbaarheid in ons tyd het welvaart geword. Die produksie van welvaart het eksponensieel toegeneem oor die afgelope eeu. Selfs ’n laer-middelklas familie in Suid-Afrika het besittings waarvan hulle oumas en oupas nooit sou kon droom nie. Die toegang tot welvaart is ook versprei dwarsoor die wêreld, oral waar industrialisering gevestig geraak het. Hierdie besef van welvaart word egter op drie maniere in die wiele gery.

  • Eerstens het mense se behoeftes in ’n geïndustrialiseerde samelewing nog veel vinniger toegeneem as die produksie van welvaart. Wat vandag deur baie as basiese behoeftes gesien word (soos toegang tot die internet) was een generasie terug nog ’n ongekende luukse. Dieselfde geld van privaat motors ’n eeu gelede – en dalk weer oor ’n eeu van nou af? In ’n tyd van ongekende welvaart ervaar baie mense steeds dat hulle nie het wat hulle nodig het nie.
  • Tweedens is daar ’n skewe verspreiding van welvaart sodat ongeveer een biljoen mense wêreldwyd nie eers in hulle mees basiese behoeftes kan voorsien nie. Hulle dieet het net nie genoeg kalorieë nie.
  • Derdens word die voortgaande produksie van welvaart op die lang termyn deur ekologiese probleme bedreig. Besoedeling raak alle fasette van die samelewing, maar veral ook gesondheid en die vrugbaarheid van die grond. Vrugbaarheid het in ons dag daarom onlosmaaklik verbind geraak met gesprekke oor volhoubaarheid.

Daar kan geen twyfel wees dat die soeke na vrugbaarheid, voorspoed en nou ook volhoubaarheid in ons tyd steeds deurslaggewend is nie. Dit het van ons kultuur ‘n verbruikerskultuur gemaak. Ons welvaart dien die verbruik van goedere en dienste waarvan ons glo dat dit ons gelukkig sal maak.

Die verbruikerskultuur kom neer op afgodery en kettery.

Gegewe die drievoudige probleem wat die soeke na vrugbaarheid, voorspoed en nou ook volhoubaarheid bedreig, is dit nie verbasend dat mense steeds probeer om dit met behulp van godsdiens te verseker nie. Net soos in antieke tye is daar sekere aspekte wat binne ons lokus van kontrole val terwyl ander faktore wat vrugbaarheid, voorspoed en volhoubaarheid verseker oënskynlik buite ons lokus van kontrole val. Trouens, die godsdienstige soeke na welvaart is ’n besonder vrugbare teelaarde vir nuwe godsdienstige bewegings.

Hier kan gewys word op twee vorme daarvan:

  • Enersyds is daar die godsdienstige legitimering van welvaart vir diegene wat daartoe toegang het. Dit kan vroom uitgedruk word in die vorm van dankgebede vir dit wat ons wel het (kos, behuising, vervoer, mediese dienste) – ten spyte van die skreiend skewe verspreiding van welvaart.
  • Andersyds is daar die godsdienstige uitdrukking van die begeerte na welvaart veral in die vorm van die welvaartsevangelie. In kort: As jy jou beste vir die Here gee, sal die Here jou ryklik seën. Hierdie welvaartsevangelie is ongetwyfeld verstommend aantreklik en verklank die behoefte aan opwaartse sosiale mobiliteit in groot dele van die Suid-Afrikaanse samelewing. Kan dit as ’n eietydse vorm van Baäl-aanbidding beskou word?

Altwee hierdie godsdienstige vorms van die soeke na welvaart berus op die foutiewe aanname dat onbegrensde ekonomiese groei op ’n begrensde planeet moontlik is. Die ekologiese krisis is ’n simptoom daarvan dat dit net eenvoudig nie moontlik is nie, in elk geval nie in terme van biofisiese produksie nie. Daar is grense aan die gebruik van grond, bosbou en vissery, aan die wyse waarop varswater gebruik word en aan die beskikbaarheid van olie, steenkool en uraan. Meer nog, daar is grense aan die biosfeer se vermoë om die afvalprodukte van ’n industriële samelewing te absorbeer (“recycling”). Dit geld veral van koolstofdioksied – die probleem onderliggend aan klimaats­verandering. Op Omgewingsondag moet hierdie sake op die voorgrond kom.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Seën
Mag die Gees van God
wat bo alle dinge
en in alle dinge is
en deur alle dinge werk,
julle vul met die kennis van God
en van sy magtige teenwoordigheid.
Gaan in vrede.
Gaan dien God en sy goeie skepping.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.