Tweede Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die eerste Sondae van koninkrykstyd val die klem veral op die koninkryk wat reeds hier is.

Ander tekste

Genesis 22:1-14 (Abraham word beproef met die menslik-onmoontlike opdrag om Isak te offer); Psalm 13 (Hoe moet ek die Here se paaie en optrede verstaan?); Romeine 6:12-23 (Van sonde bevry en volledig slawe van God)

Fokusteks

Matteus 10:40-42
Dit is belangrik om die drie verse binne die konteks te plaas van Jesus se sending van die twaalf, en as die eindpunt van sy opdragte en lering aan hulle te sien. Daarom plaas ons die hele hoofstuk hier (sowel as vers 1 van hoofstuk 11):

Jesus stuur die twaalf uit
(Mark 3:13–19; Luk 6:12–16)

10 Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.

2Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; 3Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; 4Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

Jesus gee opdragte aan die twaalf
(Mark 6:7–13; Luk 9:1–6)

5Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:

“Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie. 6Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. 7Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’8Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9“Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie 10en moenie vir die pad ’n reissak aanskaf of nog ’n kledingstuk of skoene of ’n stok nie. ’n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11“As julle in ’n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. 12As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. 13As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. 14As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. 15Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

Vervolginge wat voorlê
(Mark 13:9–13; Luk 10:3; 21:12–17)

16“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 17Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. 19Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. 20Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 22Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. 23As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ’n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24“’n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wie gevrees moet word
(Luk 12:2–7)

26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely
(Luk 12:8–9)

32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.

Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
(Luk 12:51–53; 14:26–27)

34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
‘tussen ’n man en sy vader
en tussen ’n dogter en haar moeder,
tussen ’n skoondogter en haar
skoonmoeder;
36ja, ’n man se huismense sal sy vyande
wees.’
37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Beloning
(Mark 9:41)

40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

11 Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Liturgie

RUS

Lied 202:1,2,3

Aanvangswoord 
“Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee,
juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het” (Ps 13:6).

Groet: Romeine 1:7
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 196:1,3,4

Verootmoediging

Lees die dele uit Romeine 6:12-23
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

Lied 231:1,3

17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.

22Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Lied 231:4

Apostoliese Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed om opening van die Woord ahv 1 Pet 2:2-5 (W Wait)
Here
Ons wil soos pasgebore kindertjies smag na melk, smag na die suiwer geestelike melk,
sodat ons daardeur kan opgroei en die saligheid kan verkry.
Ons het immers ondervind dat U die Here goed is.
Daarom kom ons na U toe, U wat die lewende steen is, die steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.
Ons wil ons as lewende stene laat opbou tot ’n geestelike huis,
ons wil ’n heilige priesterdom wees
en ons wil geestelike offers bring
wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
Breek vir ons die brood,
wat hierdie die geestelike melk is,
sodat ons gevoed mag word en mag opgroei!
Amen

Skriflesing: Matt 10:40-42

Preek

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

Flam 10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1991 Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

Flam 70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons

Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang

U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur
Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop
Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Ons is van mening dat Genesis 18:1-19 presies illustreer waaroor dit in ons teks gaan. Vertel dus die verhaal vir kinders met klem op die feit dat Abraham onwetend hemelse besoekers ontvang het en uitnemend gasvry teenoor hulle opgetree het.

Abraham ontvang drie besoekers
18 Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, 2kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. 3Hy het gesê: “Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”

Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!”

6Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

7Daarna het hy na die beeste toe gedraf en ’n mooi jong kalf gevat en vir ’n slaaf gegee om dit gou voor te berei. 8Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien.

9Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.”

10Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara ’n seun hê.”

Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant. 11Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring, 12en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?

13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ’n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? 14Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ’n seun hê.”

15Sara het geskrik en toe ’n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê.

Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

Abraham pleit vir Sodom se mense
16Toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham ’n entjie saam met hulle gestap. Die mans het afgekyk in die rigting van Sodom, 17en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? 18Abraham sal tog ’n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word. 19Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

Preekriglyn

Wie Jesus se gestuurdes ontvang, ontvang Jesus self. En wie Jesus ontvang, ontvang die Vader wat Jesus gestuur het. “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (Mat 10:40)

Matteus 10:40 is só bekend, ons sukkel om die werklike betekenis daarvan raak te sien. Dit beteken dat God in ons lewens aankom deur die mense wat God na ons stuur. Ons keuse om mense te ontvang, of nie, bepaal of God in ons leefwêreld aankom. Deur God te ontvang, neem ons deel aan die koms van God se koninkryk. Of nie.

Abraham by die terpentynbome van Mamre

Genesis 18 vertel hoe Abraham op die warmste van die dag by die ingang van sy tent sit. Die plek is die hoë terpentynbome van Mamre (OAV), waar dié ook al was. Dis die middel van die dag. Die kraaie gaap. Abraham sit op ’n koel plekkie waar so ietwat van ’n luggie hopelik trek. Meer konkreet en gewoon kan ’n toneel nie beskryf word nie.

Dan daag God op.

Abraham dog eers dis drie gewone menslike besoekers. Daarom doen hy wat in die destydse wêreld van ’n mens verwag is. Hy volg die gasvryheidsreëls van die Ou Nabye Oosterse wêreld. Hy draf nader aan die besoekers, buig voor hulle, gee hulle water, was hulle voete, en bied vir hulle skaduwee aan waar hulle kon rus. Asof dit nie genoeg is nie, het hy die hele huishouding in rep en roer om ’n feesmaal voor te berei. Terwyl hulle eet, vra die besoekers uit oor Abraham se vrou.

In die middel van die gesprek hou die verhaal skielik op om die meervoud – hulle – vir die besoekers te gebruik. Op hierdie punt begin die verhaal die enkelvoud gebruik: “Toe sê die Here…” (Gen 18:13).

Die drie besoekers is God. Was die drie besoekers mense of was hulle engele? Abraham en Sara het gedink dis mense. In hierdie drie mense het Abraham en Sara God ontmoet, in die vlees en bloed van mense.

Saam met die Here ontvang hulle ook die belofte. Sara sal die volgende jaar ’n seun hê, en so sal die belofte van die Here in vervulling gaan dat Abraham ’n groot nasie word.

Ons sien die aangesig van die Here in die mense wat ons ontvang. Ons neem deel aan die sending van God, aan die bedoelinge en beloftes van God, deur die gasvrye ontvangs van mense. Nes Abraham.

In Bethlehem

Maria is op die punt om geboorte te gee. Maar nêrens in Bethlehem is daar plek vir Josef, Maria en die baba nie. Uiteindelik maak ’n herbergier vir hulle plek in ’n stal, waar die Seun van God gebore word.

As mense maar net geweet het, God net kon herken, sou hulle iewers plek gemaak het vir die Seun van God. Wanneer mens God se mense ontvang, ontvang jy Jesus, en die Vader wat Jesus gestuur het. Kry jy deel aan die sending van God in hierdie wêreld.

Soos die eienaar van die nederige stal in Bethlehem sou beleef. Wie Josef en Maria ontvang, ontvang Jesus. Wie Jesus ontvang, ontvang die Vader.

Op pad na Emmaus

Twee mense loop op Paassondag met geboë hoofde, vertel Lukas in hoofstuk 24, van Jerusalem na hul tuiste in Emmaus. Hulle is uitgeput en hooploos na ’n intense Paasfees in Jerusalem. Hulle het gehoop Jesus van Nasaret sou vrede na Jerusalem bring, die Romeine verdryf, en dit moontlik maak om God op die regte manier in Jerusalem te aanbid.

Op pad begin ’n vreemdeling saam met hulle stap. Hulle verduidelik hierdie dinge aan Hom. Net soos Abraham en Sara weet hulle nie hulle het met God te doen nie. Die man, saam met hulle op die stofpad na Emmaus, was in werklikheid Jesus, die Seun van God.

Soos Abraham, nooi hulle die Besoeker in hulle huis in, en bedien ’n maaltyd. Jesus self word die Gasheer en breek die brood. Juis by die breek van die brood herken hulle die man wat die Bybel so duidelik aan hulle uitgelê het. Dit is Jesus self.

Deur ’n vreemdeling te ontvang, het hulle God van aangesig tot aangesig ontmoet.

In die strate van Kabul

Hussein Andaryas was ’n toegewyde Moslem. In die strate van Kabul, Afghanistan, maak hy op 15-jarige ouderdom kontak met ’n gelowige uit ’n ander land. Dié skeur op straat ’n paar bladsye uit ’n boek en gee dit vir hom. Dit is ’n gedeelte van die Nuwe Testament, uit Matteus. Hussein neem dit, begin dit te lees. Aanvanklik vermoed hy dis Russiese propaganda, aangesien Afghanistan op daardie stadium deur die USSR beheer is. Later besef hy dit moes uit die Bybel kom. Hy verwerp doelbewus Jesus se woorde in Matteus 5:43-44 waarin geleer word dat jy jou vyande moet liefhê. Maar die woorde los hom nie.

‘n Paar jaar later besoek hy familie in Teheran. In ’n park raak ’n Christen-gelowige met hom aan die gesels oor Jesus se opdrag om jou vyande lief te hê. Hy ontmoet die man gereeld in die geheim. Uiteindelik word beide gearresteer en vlug Hussein. Hy bly honger na die Bybel, maar is steeds huiwerig om Jesus te volg. Sy lewenspad lei deur Egipte (Kaïro), Pakistan (Karachi) tot in Indië (Nieu Delhi). Oral kruis sy pad met mense wat God se liefde ken en daarom in liefde teenoor ander (ook hulle vyande) reageer.

Uiteindelik herken hy God se liefde in die mense wie sy pad kruis, en besluit om Jesus te volg. Vandag bedryf Hussein Andaryas verskeie evangeliese webtuistes en saai hy op radio en TV uit na lande waar mense die God van liefde nie ken nie.

God het oor ’n lang tyd deur verskeie mense aan hom verskyn, en hom langsamerhand gelei om die Bron van liefde self te ontmoet. Dit het sy lewe verander.

Die dinamika van ons teks

Ons teksvers, Matteus 10:40, staan binne die konteks van die uitstuur van die twaalf dissipels. Jesus stuur mense op Hom na ander te neem. Hulle gaan as draers van Jesus se vrede as vreemdelinge na ander. Wie dié gestuurde vreemdelinge ontvang, ontvang Jesus. En wie Jesus ontvang, ontvang die Vader.

Jesus se gestuurdes neem deel aan die missio Dei. Hierdie Latynse term is (van vroeg in die Christelike kerk se geskiedenis) ’n uitdrukking wat verwys na die Vader wat die Seun na die wêreld stuur, en die Vader en Seun wat die Gees oor die wêreld uitgiet.

Missio Dei verwys ook na die Drie-enige God wat mense stuur. Ons neem deel aan die missie of sending van God. Jesus sê: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle… (Joh. 20:21).

Hieroor kan ons twee dinge sê:

Een:
Wie Jesus se gestuurdes ontvang, neem deel aan die bediening van Jesus. Meer nog: hierdie gasvryheid sluit ons in by die werk van die Drie-enige God self. Dink weer aan al die verhale wat ons vertel het:

  • Abraham en Sara ontvang God, en word ingeskakel by God se skep van ’n groot nasie, Israel, wat die draer van God se verbondsgenade sou word;
  • Die herbergier word die gasheer wat die veilige geboorte van die Redder van die wêreld borg;
  • Die Emmausgangers huisves die Verlosser en word getuienis en bevestigers van die opstanding van Jesus uit die dood
  • Hussein ontvang die Here se genade deur ’n wye verskeidenheid kontakte, en word self ’n draer van die verlossingsboodskap.

Die dinamika van die evangelie maak altyd gebruik van vreemdelinge wat in die Naam van die Here kom en die genade bemiddel. Soos Jesus in Hand. 1:8 sê: “Julle sal my getuies wees….” Hierdie getuienis moet gasvry ontvang word, wat die ontvangers verander en inlyf by die volk van die Here.

Twee:
Die beloning vir die gasvrye ontvangs van die Here se gestuurdes is gemeenskap met die Here self, eintlik met die Drie-enige God self.

Wie geestelik wil groei, wie wil deel in Christus se seëninge, wie God se werk in die wêreld wil verstaan en deurleef, moet gasvry wees. Dit is moeilik, want gasvryheid;

  • Vra dat mens jou eie agenda moet opskort, en aandag gee aan die vreemdeling wat jou pad kruis. Dink aan Abraham wat hoogmiddag bietjie rus, en dan skielik moet kosmaak. Die herbergier moet in ’n druk tyd plek maak. Hussein moet sy eie vooropgestelde godsdienstige oortuigings opskort om die stukkie Bybel wat in sy hand gestop is, te verreken in sy lewe.
  • Vra dat mens oop moet wees vir verrassing, ’n Goddelike nuuskierigheid aan die dag moet lê. Elke moontlike mense wat jou pad kruis, elke situasie, roep Godsvrae op. Hoe is God hier teenwoordig? Waarmee is God besig? Hoe wil die Here hê moet ek op hierdie situasie reageer?
  • Vra dat mens niet net op die lyne lees nie, maar ook tussen die lyne. Vra dat mens nie net swart letters op wit papier moet raaksien nie, maar ook die wit spasies tussen die letters en die lyne. Gasvryheid vra minder vaste oortuiging en meer openheid, minder voorskryf en meer respek vir die vreemdeling, minder leer en meer leerbaarheid, minder voortou neem en meer diensbaarheid.

Die loon? Wie My gestuurdes ontvang, ontvang My, En wie My ontvang, ontvang de Een wat My gestuur het.

God stuur ons om te leef

LEEF

Lied 284:1,2,3

Uitsending

Toewyding en verbintenis
Voorganger: “Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel?” vra die Here. “Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.”
Gemeente: So is ons in u hand, o Here! (Woordwyser, 2006, bl 242)

Seën
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en
jou in sy waarheid lei
(Gebedeboek met Liturgiese voorstelle, Lux Verbi, 2001, bl 99).

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.