Tweede Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Here se Gees gee geloof en sekerheid. Dit gee moed, want ons sien meer as net die sigbare (2 Kor 4:13-5:1). “Waar is jy?” bly die opsoekende vraag van die onverstaanbare Almagtige (Gen 3:8-15) aan die mens in die dieptes van gevallenheid, wat dan tog rede kry tot vertroue en bevryding (Ps 130). Die Here is nie die bose nie, maar die Oorwinnaar oor die bose! Hy is die Bevryder wie se familie hulle is wat in Hom glo (Mark 3:20-35).

Ander tekste

Genesis 3:8-15 – God soek die mens in sy sonde op. Waar is jy?
8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”
11Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”
12Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”
13Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
14En die Here God sê vir die slang:
“Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die diere.
Op jou maag sal jy seil
en stof sal jy eet, jou lewe lank.
15Ek stel vyandskap tussen jou
en die vrou,
tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Psalm 130 – Daar is hoop in God se ewigdurende liefde.
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Markus 3:20-35 – Jesus se familie wonder en die skrifgeleerdes wonder oor wie Hy is?
Die lastering teen die Heilige Gees

(Matt 12:22–32; Luk 11:14–23; 12:10)
20Daarna het Jesus huis toe gegaan. ’n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ’n stukkie te eet nie. 21Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”

22Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.”

23Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? 24As ’n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; 25en as ’n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. 26As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.

27“Bowendien kan niemand in ’n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

28“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. 29Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”

30Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van ’n onrein gees besete.”

Die moeder en broers van Jesus
(Matt 12:46–50; Luk 8:19–21)
31Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ’n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 32’n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”

33Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”

34Hy het die mense aangekyk wat in ’n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! 35Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Fokusteks

2 Korintiërs 4:13-5:1
’n Skat in kleipotte
7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8In alles word ons verdruk,
maar ons is nie teneergedruk nie;
ons is oor raad verleë,
maar nie radeloos nie;
9ons word vervolg,
maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi,
maar nie vernietig nie.
10Die sterwe van Jesus
dra ons altyd saam in ons liggaam,
sodat ook die lewe van Jesus
sigbaar kan word in ons liggaam.

11Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.
12Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe.

13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

Lewe deur die geloof
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

5 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan.

2Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. 8Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. 9Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. 10Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Ekstra stof

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.
Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3). Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ’n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword. Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedónië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad. Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ’n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het. Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang. Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9). In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit. En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag. Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie. As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst 1-9 en hfst 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge. Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes). Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg. Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was. Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het. Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is. Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie. Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief. Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik. En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17). Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1). Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het. Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel. ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms. As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil. Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word. Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

Die brief van 2 Korintiërs
Hierdie brief is moontlik die samevoeging van ‘n 4de (2 Kor 1-9) en 5de brief (2 Kor 10-13) van Paulus aan die Korintiërs. Die eerste Korintiërbrief was eintlik sy tweede (1 Kor 5:9), en uit 2 Korintiërs kom ‘n mens agter daar was ook ‘n derde brief (2 Kor 2:4). Onthou hulle het ook briewe aan hom geskrywe (1 Kor 7:1).

Daar is twee redes waarom geleerdes twee briewe onderskei: 1) die situasie van hoofstuk 1-9 blyk ‘n meer stabiele een te wees, vandaar Paulus se blydskap dat dit beter gaan in die gemeente; die situasie in hoofstuk 10-13 blyk heel anders te wees soos die geagiteerde trant van sy aanval op die valse apostels duidelik wys; 2) in 12:18 verwys Paulus moontlik na die kollekte as iets wat al gebeur het, terwyl dit in hoofstuk 8-9 nog in die toekoms is; 12:18 sou egter ook kon verwys na hulle ondersteuning van Titus.

Gordon Fee (2002: How to Read the Bible Book by Book) vergelyk 2 Korintiërs met ‘n baie gekompliseerde televisie dramareeks wat jy in die middel daarvan aanskakel. Mense praat en dinge gebeur, maar jy is nie altyd seker wie al die karakters is nie, en wat aan die gang is nie! 2 Korintiërs is soos ‘n nuwe wêreld wat jy betree na jy 1 Korintiërs gelees het. In ‘n sekere sin is die enigste raakpunte tussen die twee briewe die kollekte vir die gemeente in Jerusalem (hfst 8-9) en moontlik ‘n voorsetting van die gesprek oor afgode en vleis van afgodstempels in 6:14-7:1.

Tog, is daar ‘n dieper verband: die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor 1) sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl ook 7:5-16), 2) die kollekte (hfst 8-9), 3) sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik) en 4) die vals apostels (hfst 10-13; vgl ook 2:14-4:6).

Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”) afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar. Dit laat ‘n mens ook begryp waarom sommige gedeeltes soms so moeilik is om te volg, bv. die vloei van gedagtes in hoofstuk 2 tot 7.

Hoe dit ook al sy, let op dat die brief deur Paulus en Timoteus geskrywe word, terwyl Sostenes saam met Paulus by 1 Korintiërs betrokke was. Paulus was in dié tyd in Masedonië (2:13; 7:5), moontlik in Filippi, en het daar van Titus terugvoer gekry oor hoe dit in die gemeente van Korinte gaan (7:5-7).

Hy skryf aan die een kant omdat hy bly is dat dit beter gaan in die gemeente (7:2-16), maar ook omdat hy ‘n derde keer (12:14; 13:1) by hulle besoek sou aflê om onder andere die kollekte vir die gemeente in Jerusalem te ontvang (8:4,19; 9:1-5) op sy pad daarheen, asook om hulle te waarsku oor die vals apostels (11:13).

In die proses gee hy ‘n diepsinnige teologiese besinning oor God en die bediening van die versoening, met hoofstukke 2:12-6:10 van die beste prentjies in die Nuwe Testament van die werk van die Gees in ons om God se heerlikheid te weerspieël, wat van ons nuwe skeppings van God maak (5:17), sodat ons in die triomftog van die evangelie deur die wêreld hierdie versoening van God met alle mense kan deel. En dit alles gebeur steeds as ‘n kruis-evangelie, deur die bedienaars van die evangelie, die kleipotte wat maklik breek, maar die skat van God aan die wêreld bring.

Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil
Paulus is besig om te skryf oor die verandering in sy reisplanne. In hoofstuk 2:14 het hy homself onderbreek om eers oor die evangelie self te skryf. In hoofstuk 7:5 sal hy weer terugkom na sy reisplanne.

Om die onderbreking oor die evangelie goed te verstaan, help dit om na die metafore te kyk wat hy gebruik. In sy beskrywing van die triomf van die evangelie en die wonder van die nuwe verbond het hy drie metafore gebruik om die rol van die evangelie in ons lewens te beskrywe: ons is soos wierook, briewe en spieëls.

Hier gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (4:16-5:10).

Met die eerste metafoor van die lig van die evangelie spel hy die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na buite, in die wêreld uit – mense van die lig kan die praktyke van die duisternis nie verdra nie, veral nie dinge soos bedrog en vervalsing nie. Die resultaat: ‘n eerlike lewe laat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou skyn.

Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit – ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad en vervolging wat fisiese leed insluit. Tog laat die krag van God nooit toe dat ons terneergedruk, radeloos, God-verlate of vernietig word nie. Die lewe van Jesus word in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid. Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik. Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil 2).

Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra. Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan. Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons: aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef, en aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd. Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, dws aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos ook in 1 Kor 15.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (let op na die ooreenkomste met die brief aan die Filippense 1:20 vv).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die Here se Gees gee geloof en sekerheid. Dit gee moed, want ons sien meer as net die sigbare (2 Kor 4:13-5:1). Die liturgie wil hierby aansluit.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Lied 158 “Bring my na U woning vs 1,2,3”

Aanvangswoord
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
(Psalms 123:2)

Seëngroet
Aan die gemeente van God in ………………………………. en aan almal wat aan die Here behoort:
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(2 Korintiërs 1:1-2)

Verootmoediging
Die Heidelbergse Kategismus

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is;
ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word
en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die een ding waarvan gelowiges doodseker kan wees, is dat ons gered is op grond van die soenverdienste van Christus. Dit is nie iets waarop ons hoop wanneer ons voor God se troon moet verskyn nie- dit is iets wat ons weét!

Johannes (in sy eerste brief) beklemtoon hierdie sekerheid in geen onduidelike taal nie:

1 Johannes 5:1-13
Liefde en geloof
5 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die getuienis oor Jesus Christus
6Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7Daar is dus drie wat getuig 8die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. 9Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Die doel van die brief
13Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Volgens Paulus bevestig die HG hierdie sekerheid van kindskap: Romeine 8:14-17

14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Lied 514 “Ek weet verseker 1,2”

Geloofsbelydenis
Gebruik miskien die alternatiewe opsie uit Geloofsverklaring 2000
Negentiende Verklaring: oor geloof en hoop
Ons glo
· dat, soos die Heilige Gees die gawe van geloof in God deur al die eeue aan mense gegee
het, so sal dit ook in die eeu wat voorlê, gebeur. Nie sekularisme of watter tydsgees ook al sal
die geloof in die Here van die aarde laat verdwyn nie

Ons glo
· dat al God se beloftes waarvan die Bybel ons vertel, vervul sal word. Hoewel ons dit nie nou
alles sien nie, weet ons dit sal gebeur. Dít is geloof!

Ons glo
· dat die Heilige Gees saam met geloof en as deel daarvan ook aan ons hoop gee: teen alle
onsekerheid en twyfel en swaarmoedigheid in, laat die Here ons telkens weer met hoop en
verwagting vorentoe kyk waar dit lig word

Lied 502 “Vol vertroue vas en veilig vs 1,3,5” (die melodie van Lied 203 “Loof die Here al wat lewe” kan alternatiewelik gebruik word)

Liedere

F227. “Ons Sal Nou Gaan”  
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis)
Oorspronklike titel: Wij zullen gaan
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 1997 Celmar Music

Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
Hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.

As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:

As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
en dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: In Christ Alone
Teks en musiek: Keith Getty & Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht
© 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
Deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band
Ons Vaste Grond, ons Fondament
Hier in sy liefde leef ons nou

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid
En deur sy offer word ons vry
Hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
Ontneem die dood sy heerskappy
Hier deur sy sterwe leef ons nou

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan
Hy’t opgestaan in heerlikheid
Hy’t ons van vloek en skuld bevry
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
Tot Hy weer kom, sal ons bly staan

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Gebed om opening van die Woord.
“Reinig die lippe van my gees na binne en my mond na buite. Reinig hulle van alle vermetel woorde en alle leuens. Mag u Skrifte my rein genot wees. Lei my dat ek daarin nie dwaal, en ander daaroor laat dwaal nie. Heer, hou u hand oor my en ontferm U oor my, Heer my God; U, die Lig van die blindes en die Krag van die swakkes; maar ook bestendige Lig van die siendes en Krag van sterkes, druk u oor teen my hart en hoor my as ek uit die dieptes na U roep. Want as u ore ons nie ook in die dieptes opvang nie, wat sal dan van ons word? Tot wie sou ons dan roep?”

(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12; In aansluiting by Ps 130 Augustinus Belydenisse, Lux Verbi, 2007, bl 326)

Skriflesing: 2 Korintiërs 4:13-5:1

Prediking

Familie-oomblik

Opsie 1:
Fokus op die kontras tussen dít wat gesien en dít wat nie gesien kan word nie. Dit voel vir ons baie keer of dié dinge wat ons kan sien – speelgoed, klere, speletjies – die belangrikste is. Maar ons weet ook dat dit nie hou nie – speelgoed breek, klere raak te klein, speletjies kan vervelig raak. Omdat dié dinge nie so lank hou nie, moet ons ook nie so sleg voel as dit gebeur nie.

Daar is dinge wat ons nie kan sien nie, wat eintlik belangriker is – vriendskappe, liefde. Paulus herinner ons aan dié dinge, want hulle hou vir ewig.

Opsie 2:
Gebruik die verhaal van Nathan en Joshua en hulle verlange na hulle ouers, soos in die inleiding van die preekriglyn vertel word. “Ouma, ek is homesick, maar ek is by die huis. Hoe kan dit wees?!”

Preekriglyn

Pat Baily vertel:
My seun, Brian, en sy vrou, Bettie, het alleen gaan vakansie hou om hulle vyftiende huweliksherdenking te vier. Ek het ingewillig om die twee seuns by hul ouerhuis op te pas. My kleinseuns is sewe (Nathan) en vyf (Joshua). Ons drie het ook uitgesien na ons lekker vakansie saam. Ons sou in die swembad ghoef, hulle gunsteling burgers eet, in die speelparkie rondhang, en sommer net lekker kuier.

Brian en Bettie het die oggend so 05:00 by die seuns se kamer ingesluip om ‘n laaste drukkie uit te deel. Toe is hulle weg. So ‘n uur later kon ek die seuns hoor. Ek kry hulle voor die TV, besig om ‘n strokiesprent te kyk.

Dit was ‘n reënerige dag. Ons het speletjies gespeel, video’s gekyk, en prente geteken. Ek het my beroemde Ouma-speelgoedkis oopgemaak en ‘n marionette-skouspel aangebied. Daarna het ons deur die venster na die reën gestaar, wat die swembad nou al merkbaar voller laat word het.

Na ‘n lang dag word dit uiteindelik bedtyd. Op daardie oomblik lui die foon. Dis Brian en Bettie wat sê hulle het veilig aangekom. Die twee seuns gesels lekker met hulle. Terwyl hulle praat, begin die trane vloei. Die kinders is moeg, hulle ouers is ver, en – al is hulle hoe lief vir ouma – hulle wil vir pa en ma hê.

Ek het die kinders probeer troos. Joshua het eindelik aan die slaap geraak, sy mond nog wyd oop soos hy gelê en huil het. Nathan kon nie ophou na sy ouers verlang nie. Deur die snikke kry hy dit uit: “Ouma, ek is homesick, maar ek is by die huis. Hoe kan dit wees?!”

Ek het hom saam met my bed toe gevat, sy rug gestreel en saggies met hom gepraat tot hy aan die slaap geraak het.

Ons het net die eerste dag ‘n tranedal gehad. Ma en pa het geleer om deur die dag te bel sodat die kinders kon gesels as hulle nie te moeg was nie. Vyf dae later was die ouers wees terug by die huis. Die twee seuns se ogies het geblink en hulle het van oor tot oor geglimlag. Die huis was weer hulle tuiste.

Op soek na ‘n tuiste

Ons teks is geskryf vir homesick mense wat weet dat hulle nie by die huis is nie, al is hulle in ‘n bekende omgewing. Dit is vir mense wat verlang na meer. Wat verlang na ‘n egte tuiskoms.

Die krisis van homesickness

Paulus se lesers in Korinte het in die Grieks-hellenistiese wêreld geleef. Dié samelewing het verskillende antwoorde op die soeke na meer geken:

1. Nadenke: Vir die Grieke was verganklikheid die groot lewenskrisis. Panta rei is die bekende Griekse spreekwoord – alles vloei. Dinge begin, maar kom tot niks. Die vernietiging en afbreek van alles wat die moeite werd is – oor tyd heen – het Griekse psige bedreig. Die teenmiddel vir hierdie homesickness was om te soek na volmaakte en vaste vorme. Daarom is die Griekse argitektuur en beeldhoukuns ingestel op die skep van volmaakte vorme. Vir hulle was volmaakte vorm by die hoogste godheid te vind. Verganklikheid word bestry deur die volmaaktheid van die godheid te bedink en daarna te strewe. Daarom het die filosofie of wysbegeerte so ‘n sterk opbloei in die Griekse kultuur beleef. Dit is gesien as hoogste gestalte van die bedink van die ewige, onveranderlike en ware.

2. Krag en mag: Teen die tyd van die Nuwe Testament was die Korintiërs ook deel van die Romeinse Ryk. Brute geweld is toenemend gesien as dié manier waarop mens jouself laat geld en vastigheid en sekerheid skep. Daarom was die nooit volprese Pax Romana (Romeinse vrederyk) so gewelddadig. Dit het nasies, lande en volkere vertrap en gestroop om die Romeinse voordeel te soek. Geweld is dus as verlosser gesien. Jy vat wat jy nodig het, en so skep jy ‘n tuiste.

3. Plesier: Binne die Grieks-hellenistiese kultuur was daar ook diegene wat gesê het “eet en drink” maak mens gelukkig. Handeldryf, selfverryking, die klim op die sosiale en materiële leer was die weg tot geluk. Om ‘n slaaf of slawe te besit, was die teken van ‘n self made man.  

“Hoe gaan ons werklik tuiskom?” Wanneer die antieke Korintiërs hierdie vraag moes beantwoord, sou hulle na die gode kon wys en pogings om dinge reg te hou met die gode, by wie onverganklikheid berus. Hulle sou kon gryp na geld en plesier. Of ‘n swaard uit sy skede pluk en die weermag instuur.

Moderne homsesickness

Baie van die Korintiese manier om ‘n tuiste te skep, is ook in vandag se wêreld te vind.

1. Mag: Wanneer ons tuiste, ons sekuriteit, bedreig word, gryp ons ook maklik die swaard. Redemptive violence is ook deel van ons woordeskat. Dink maar net aan wat die VSA in Irak en Afghanistan gedoen het. Die groeiende aantal gesinsmoorde en selfmoorde in ons samelewings dui ook daarop dat ons geweld toenemend as ‘n oplossing, as ‘n ontvlugting én ‘n tuiskoms in ‘n beter plek sien.

2. Materialisme: Ons is sekerlik selfs meer materialisties as wat die Korintiërs ooit kon droom om te wees. Ons materialisme beteken dat materie vir ons die enigste werklikheid word. Die buitelyne van die sigbare wêreld is die enigste horison waarin ons leef. Ons vrees die verganklikheid. Ons vrees dat hierdie tentwoning afgebreek sal word. Daarom is die soeke na gesondheid, jeugdigheid, krag, langslewendheid so sterk. Die hoeveelheid voedselaanvullings wat ons sluk, sê iemand, beteken dat Westerlinge verreweg die duurste urine in die hele wêreld produseer.

3. Plesier: Hoewel ons gemaak is om plesier te ervaar, en die lewe bedoel is om lekker te wees, is daar baie mense wat van plesier finale vreugde en die ‘n finale tuiskoms verwag. Daarom kan ons ons nie meer verlekker in ‘n gewone blom, sandduin of swempoel nie. Ons soek al hoe meer na eksotiese plesier. Ons onderneem 4 by 4 ritte om by meer verborge skoonheid te kom, ons reis en soek na die ongewone. Ons het afgestomp geraak vir gewone vreugde.

Ons is nie tuis nie

Ons teks is die Here se antwoord op ons behoefte aan ‘n tuiste. Ons teks is vir mense wat weet dat die swaarkry en lyding wat ons hier beleef, nie die finale tuiskoms is nie. Dit help ons om te verlang na meer.

‘n Persoonlike tuiskoms

Paulus vertel dat ons tuiskoms met geloof te doen het. Dit is die geloof wat die Gees wek. (13) Geloof waarin? Die antwoord is betekenisvol:

Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. (14)

Ons tuiskoms lê in geloof in die drie-enige God wat in Jesus Christus werk en vir ons tuis bring in God se teenwoordigheid. Dit het te doen met die Persoon van Jesus, en met dit wat God in Jesus doen.

Die bekende joernalis, Lee Strobel, vertel van ‘n gesprek met Peter Kreeft waarin die vraag is wat ons diepste behoefte na ‘n tuiskoms beantwoord, veral in ‘n wêreld wat soveel lyding ken:

Peter Kreeft concludes that the answer to suffering is not an answer at all. “It’s the Answerer,” says Kreeft. “It’s Jesus himself. It’s not a bunch of words, it’s the Word. It’s not a tightly woven philosophical argument; it’s a person. The person. The answer to suffering cannot just be an abstract idea, because this isn’t an abstract issue; it’s a personal issue. It requires a personal response. The answer must be someone, not just something, because the issue involves someone — God, where are you?” (The Case for Faith, Zondervan)

Dis soos Nathan en Joshua in ons inleidende verhaaltjie. Hulle ouma pas hulle op in hulle ouerhuis. Maar toe hulle ouers weg is, toe is hulle homesick. Sonder pa en ma is die huis nie meer ‘n tuiste nie. Ons tuiskoms vervul nooit ons diepste behoeftes as dit iets anders as ‘n val in die hande van ‘n Gasheer is nie. Tuiskoms geskied in ‘n verhouding.

‘n Toekomstige tuiskoms

Die soeke na ‘n tuiskoms word in ons teks beantwoord deur ‘n historiese verhaal te vertel. Die verhaal handel oor Jesus wat geleef en gesterf het. Maar toe deur God uit die dood opgewek is as die eersgeborene aan die ander kant van die dood. Waar Hy is, kan ons volg.

Ons teks vertel die verhaal van ons lewe as ‘n reis in ‘n wêreld waar daar nog lyding en swaarkry is. Ons intense verleentheid is die tydelikheid van alles. Niks wat ons hier opbou, is blywend nie – alles gaan verby. Ons beleef die afwesigheid van heerlikheid, ons beleef verlange.

Ons bevind ons in ‘n historiese tydlyn waar ons nog iewers in die middel rond is. Dit waarna ons verlang is nog nie daar nie, dit moet nog aanbreek. Ons sal eendag tuiskom in die vaste gebou in die teenwoordigheid van God, maar tans is ons nie daar nie. Ons is verseker waar die geskiedenis gaan eindig: voor God se regterstoel. Maar die geskiedenis het nog nie geëindig nie. Nie die wêreld se geskiedenis nie, en ook nie ons persoonlike geskiedenisse nie.

Ons het egter die belofte van ‘n tuiskoms:
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. (17)

Self ‘n tuisteskepper?

Paulus plaas as’t ware ‘n nuwe bril voor ons oë en help ons om ons wêreld op ‘n nuwe manier te sien. Ons wêreld is beslissend geraak deur die geskiedenis van Jesus se geboorte, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart. Jesus het deur sy lewe vir ons die pad oopgebreek na ons tuiste by God.

Ons word genooi om hierdie bril op ons oë te hou. Ons word genooi om as’t ware binne die geskiedenis van Jesus in te klim en dit ons geskiedenis te maak. Ons word genooi om dit wat God in Jesus vir ons doen, soos ‘n nuwe kleed aan te trek, dit soos ‘n nuwe huis te betrek, en daarin te woon en daarmee te leef.

Mens kan kies om dit te doen. Of jy kan kies om self ‘n tuisteskepper te wees. Jy kies vir mag, plesier of om jou eie filosofie uit te werk.

Ons word genooi om te kies vir wat blywend is:
Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. (5:1)

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal 1,2”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.