Tweede Sondag van Advent

Sections

Oorsig

Die klem vir die tweede Sondag van Advent val op vrede. Die Messias in Jesaja 11 wat profeties beloof word is die Een wat sal kom om vrede moontlik te maak. Die volk word in die psalmlesing opgeroep tot vrede. Hierdie oproep word ge-eggo in die opdrag aan die gemeente in Romeine om eengesind te wees en mekaar te aanvaar in liefde. Die evangelielesing getuig van Johannes die Doper, die een wat roep in die woestyn en die pad vir die Messias gereed maak. Die Een wat voorspel is, is die een wat vrede bring.

Ander tekste

Psalm 72:1-7, 18-19
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see, 
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring, 
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep, 
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm, 
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.
15Mag die koning lank lewe, 
mag daar vir hom goud uit Skeba
gebring word;
mag die mense gedurig vir hom bid
en die hele dag seënbedes
vir hom uitspreek.
16Mag daar volop graan in die land
wees, 
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif, 
mag die oes so welig wees
soos die Libanon, 
die graan so geil opskiet
soos gras in die veld.
17Mag die koning se naam
altyd onthou word, 
mag sy roem duur
so lank as die son daar is, 
sodat al die nasies hulle
in sy regering verlustig
en hom prys!

18Geloof sy God die Here,
die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam
vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld
vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.

20Hier eindig die gebede van Dawid, 
seun van Isai.

Romeine 15:4-13
Die voorbeeld van Christus
15 Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. 3Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan:
“Die beledigings waarmee mense
U beledig,
het op My neergekom.” 
4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Die evangelie is vir alle mense
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ’n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:
“Daarom sal ek U loof
voor die nasies,
en tot eer van u Naam
sal ek ’n lofpsalm sing.”
10En elders lui dit:
“Verbly julle, ander nasies,
saam met sy volk.”
11En:
“Prys die Here, alle nasies!
Loof Hom, alle volke!”
12En Jesaja sê ook:
“Isai sal ’n nakomeling hê,
en Hy sal opstaan om die nasies
te regeer;
op Hom sal die nasies
hulle hoop vestig.”
13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Matteus 3:1-12
Matteus 3:1-12 ()
Johannes die Doper en sy prediking
(Mark 1:1–8; Luk 3:1–9, 15–17; Joh 1:19–28)
3 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak
die paaie vir Hom reguit.”

4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 5In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. 6Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

7Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. 9Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.”

Fokusteks

Jesaja 11:1-10
Die loot uit die stomp van Isai
11 ’n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen
en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind
in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek
volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.
4Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land
regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land
hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle
om die lewe bring.
5Hy sal regverdig
en betroubaar regeer.
6Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste
sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
7Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
8Babatjies sal by die gate van adders
speel,
klein kindertjies sal hulle hande
uitsteek na giftige slange.
9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

10In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ’n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

11In dié tyd sal die Here ’n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die kuslande rondom die Middellandse See. 12Die Here sal ’n vaandel oprig onder die nasies en sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda laat saamkom van die uithoeke van die aarde af. 13Efraim se naywer sal verdwyn, en Juda se teëstanders sal uitgeroei word. Efraim sal nie weer jaloers wees op Juda nie, en Juda sal nie weer vyandig wees teenoor Efraim nie. 14Saam sal hulle in die weste die Filistyne aanval en saam sal hulle die mense in die ooste plunder. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete verslaan, en die Ammoniete sal aan hulle onderdanig wees. 15Die Here sal die Nyldelta laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind teen die Eufraat stuur en net sewe kanale daarvan laat oorbly wat ’n mens met jou skoene aan kan deurloop. 16Daar sal vir die oorblyfsel van sy volk wat in Assirië is, ’n grootpad wees soos daar was toe Israel uit Egipte getrek het.

Ekstra stof

Jesaja as boek
Die meeste leraars is bekend met die indeling van Jesaja in drie dele: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja. Dit is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C. Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.

Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind. Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien. Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.

Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer. Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie. Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.

Jesaja die profeet

Jesaja se naam beteken: “die Here bewerk redding”. Hy word die seun van Amos genoem, waarskynlik om hom te onderskei van ander persone met dieselfde naam (vgl 1 Kron 3:21; 25:3,15). In teenstelling met die vroeëre profeet Amos (sy naam word anders gespel as Jesaja se pa s’n) wat ‘n boer was, was Jesaja ’n stedeling. Hy woon en werk as profeet in Jerusalem (vgl. Jes 7:3; 22:15; 37:2; 38:1; 39:3). Behalwe dat hy getroud was (Jes 8:3) en ten minste drie kinders gehad het (Jes 7:3,14; 8:3,18), is daar baie min verder oor hom bekend.

Jesaja se profetiese bediening strek oor ’n tyd van meer as vyftig jaar. Hy is as profeet geroep in die sterfjaar van koning Ussia (Jes 6:1), ongeveer 740 v C. Toe die Assiriese koning Sanherib in 701 v C die land binneval en Jerusalem beleër, was Jesaja nog steeds op sy pos (Jes 37:5). Ons weet nie hoe lank hierna hy nog opgetree het nie. Daar is ‘n Joodse tradisie dat hy in die tyd van koning Manasse (696–642 v C) ‘n marteldood gesterf het en middeldeur gesaag is (vgl Hebr 11:37). Interessant genoeg word daar nêrens van enige literêre aktiwiteit van Jesaja in die boek gepraat nie, net van sy oratoriese aktiwiteit. Hy skryf wel op ‘n stuk leer ‘n kort boodskap (Jes 8:1).

Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd as profeet op. Die wêreldmag van die Assiriërs het ook vir Israel en Juda bedreig. Geen wonder dat die kleiner volkere koalisies probeer vorm het om hulle te beskerm nie. Maar dit is juis die aanleiding tot die boodskap van Jesaja. God sal vir Juda sorg, maar dan moet hulle op Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes 7:9).

Ekskursie oor Ussia en sy tyd
Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering. Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee! Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei. Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede in die Negev, suid van Jerusalem. Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad. Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie. En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly. Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei. Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas. Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië. Dit was in die jaar 722 vC. Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Deel 1: Jesaja 1-39
In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word. Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:
1. Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;
2. Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;
3. Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer. Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

Deel 2: Jesaja 40-66
In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 5253) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40). Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek. En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Jesaja in die Nuwe Testament
Jesaja het ’n enorme invloed op die NT skrywers gehad. Die NT skrywers haal meer aan uit Jesaja as uit enige ander boek, behalwe die Psalms. HIer is ‘n lys van aanhalings.

Bv die Dienaar van die Here van Jesaja 52-53 funksioneer in 7 boeke in die Nuwe Testament en word met Jesus Christus verbind.

  • Jesaja 52:15 aangehaal in Romeine 15:21.
  • Jesaja 53:1 aangehaal in Johannes 12:38 en Romeine 10:16.
  • Jesaja 53:4 aangehaal in Matteus 8:17.
  • Jesaja 53:5–6 aangehaal in 1 Petrus 2:22–25.
  • Jesaja 53:7–8 aangehaal in Handelinge 8:32–33.
  • Jesaja 53:12 aangehaal in Markus 15:28 en Lukas 22:37.

Jesus verbind sy eie roepingsverstaan ook direk aan Jesaja 61:1-2 in Lukas 4:16-19. Voor hom het Johannes die Doper dieselfde gedoen (Jes 40:3 in al vier evangelies: Mark 1:2; Mat 3:3; Luk 3:4; Joh 1:23).

Die konsep van ’n nuwe hemel en aarde soos bv. 2 Pet 3:13 daaroor praat, is ook eerste op die tafel gesit deur Jesaja 65:13-25.

En in die kerk bly Jesaja van groot belang. In die tyd van Advent lees gemeentes wêreldwyd uit Jesaja 7,9 en 11, terwyl in Lydingstyd Jesaja 53 prominent funksioneer. Jesaja 1 en 58 is fundamentele tekste wat die verskil tussen ware en valse godsdiens uitspel en Jesaja 6 is ’n model-voorbeeld van God se roeping van sy boodskappers.

Jesaja 11-12
God gee nooit moed op nie
Daar is min woorde wat ‘n mens meer vreugde gee as die klein woordjie SAL wat hier so 37 keer gebruik word. Dit sluit die toekoms oop vir die volk: “’n Takkie sal uitspruit …” , “Die Gees van die Here sal op hom rus …” (vers 1). En dit spel ‘n kernkwaliteit van God uit – Hy gee nooit moed op nie; Alles is nie verlore waar Hy ingryp nie.

Let ook op hoe Jesaja 11 se eerste vers teruggryp na die oorblyfsel idee wat verskeie kere in hoofstuk 6-10 gebruik word. Dit versterk die prentjie van God, dat Hy oordeel om te suiwer.

Wat daarby uiters treffend is, is dat die hoop vir die toekoms gefokus is op ‘n tweede Dawid, die takkie uit die stomp van Isai (vers 1), wat ook die vaandeldraer uit die geslag van Isai (vers 10) genoem word. Op hierdie weergalose leier sal die Gees rus net soos op Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2) wat hom met die nodige eienskappe sal toerus om ‘n deurslaggewende verandering nie net vir die volk van Juda en Israel in ‘n onderlinge eenheid te weeg te bring nie en wat die skeuring van die ryk onder Rehabeam sal herstel nie, maar vir al die nasies van die wêreld (vers 10).

Let op dat sy koninkryk gekenmerk sal word deur harmonie en vrede in die land. Die enigste oorlog sal dié wees teen nasies wat die ballinge se terugkeer sou kon keer, beide na die suide toe in Egipte sowel as na die ooste toe in Assirië (vers 12-16). Dit is ‘n utopia van reg en omgee, van billikheid en sorg wat selfs die verhoudinge tussen mens en dier en dier en dier sal herstel (wolwe kuier as gaste by skape! – dit is die prentjie wat die oorspronklike Hebreeus skets in vers 6), ‘n nuwe paradys.

Die sentrale spilpunt waarom dié utopia sal draai, is die kennis van die Here (vers 9) waarvan die aarde so vol sal wees soos die see vol water is.

Geen wonder dat hoofstuk 12 dan vervolg met die loflied van hierdie verlostes wat op daardie dag aangehef sal word: “U was kwaad … maar nou nie meer nie!” (vers 1). Daarmee som hulle eintlik die vorige hoofstukke se oordeels- en heilsprofesieë op. En dié boodskap sal weereens uitbasuin word vir die volke, want dit is wat God wil hê sy volk se bestaansdoel moet wees (Jes 2), om sy lof aan alle mense te bring. “Groot is die Heilige van Israel … en Hy is by julle!”

Die NT skrywers het natuurlik sonder uitsondering die vervulling van hierdie profesie in Jesus Christus gevind (Bv. Joh 1:32 – “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly.”; Rom 15:7-13: “Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik … Jesaja sê: Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”).

Liturgie

Die klem vir die tweede Sondag van Advent val op vrede. Die Messias in Jesaja 11 wat profeties beloof word is die Een wat sal kom om vrede moontlik te maak. Die Een wat voorspel is, is die een wat vrede bring.

Kleure: Pers/koningsblou; Wit en goud vir Kersdag.

Simbole:
1. Adventkrans met vyf kerse: drie donkerblou kerse en een rooskleurige kers en ’n langer wit kers wat Jesus simboliseer – op Kersdag aangesteek. Die rooskleurige kers word op derde Advent aangesteek.
2 .Isai-stomp (Jes 11:1) om stamboom van Jesus te simboliseer. Wag en waak is baie bekende temas in Advent. Kersboom vir Kersdag.

Aanvangslied: Lied 354 {O Christus ons verlange vs 1,2,3,4″

Aanvangswoord
Lied 284 Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3 terwyl die tweede adventskers aangesteek word.

Seëngroet
Verootmoediging

Lees Galasiërs 5:13-21 as Wet (wat onvrede skilder in die gedaante van die ou mens):

Skuldbelydenis: Lied 159:2 “Here gee ons vrede” of Lied 278 “Verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.”

Vryspraak: Galasiërs 6:14-16 ()

Aanvaarding van vryspraak: Lied 241 “Troue Here van my lewe 1”

Riglyn om te lewe: (Johannes 14:23-31) (Galasiërs 5:13-21)

Lofliedere: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3” en/of Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Epiklese: Lees Lied 253 “U het die brood gebreek” vs 1,2 as ‘n gebed

Skriflesing: Jesaja 11:1-10

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria: (Lukas 1:46-56)

Offergawes

Wegsending: Lied 323 Uit droë hout spruit lewe vs 1,2 of Lied 345 Kom alle getroues vs 1,2,3,4 (indien dit nie by Verootmoediging gebruik is nie)

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die klem vir die tweede Sondag van Advent val op vrede. Die Messias in Jesaja 11 wat profeties beloof word is die Een wat sal kom om vrede moontlik te maak. Die Een wat voorspel is, is die een wat vrede bring.

Kleure: Pers/koningsblou; Wit en goud vir Kersdag.

Simbole:
1. Adventkrans met vyf kerse: drie donkerblou kerse en een rooskleurige kers en ’n langer wit kers wat Jesus simboliseer – op Kersdag aangesteek. Die rooskleurige kers word op derde Advent aangesteek.
2 .Isai-stomp (Jes 11:1) om stamboom van Jesus te simboliseer. Wag en waak is baie bekende temas in Advent. Kersboom vir Kersdag.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord
God versamel ons voor Hom
V: Ons verwerp alle vorme van geweld en ontmensliking omdat ons glo in God die Vader.
G: Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou. Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.

V: Ons erken die menswaardigheid van alle mense omdat ons Glo in Jesus Christus.
G: Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het. Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.

V: Ons praat en leef profeties omdat ons glo in die Heilige Gees.
G: Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid. Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.

V: Vrede is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.

Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3” terwyl die tweede adventskers aangesteek word.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het,
wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)
Of
Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Open 1)

Verootmoediging
Ons werk verder met die tema van vrede… Eerstens betreur ons voor die Here die onvrede in ons leefwêreld en daarna verheug ons ons in die Vredemaker wat van God gekom het.

Lees Galasiërs 5:13-21 as Wet (wat onvrede skilder in die gedaante van die ou mens):

Die Gees van God en ons sondige natuur
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

Skuldbelydenis: Lied 159:2 “Here gee ons vrede”
of Lied 278 “Verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.”

Vryspraak
Galasiërs 6:14-16 ()
14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel—mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

Aanvaarding van vryspraak
Lied 241 “Troue Here van my lewe 1”

Riglyn om te lewe
Jesus het self gesê:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (Johannes 14:23-31)

Teenoor die onvrede van Galasiërs 5 is dan die invloed van die Gees sigbaar:
22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.
(Galasiërs 5:13-21)

Lofliedere
Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3” en/of
Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Liedere

F103. ” Is ‘n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.
Kersfees is ‘n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook aan ‘n kruis moes hang.
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.
Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.
Kersfees is ‘n vreugdefees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook deur ‘n graf moes gaan.
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.
Nie net een keer in ‘n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

F133. “As Ek Stil Word”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding, Verwondering, toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel
U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lees Lied 253 “U het die brood gebreek” vs 1,2 as ‘n gebed
U het die brood gebreek eens by die meer
breek nou die lewensbrood vir my ook Heer
wil steeds U waarheid meer aan my ontvou
tot ek ook in U Woord my Heer aanskou
U is die lewensbrood Heiland vir my
U is die Waarheid Heer, U maak my vry
U beeld straal uit die Skrif- so helder voort
U soek ek Heer, Uself, o Lewend Woord

Skriflesing: Jesaja 11:1-10
Prediking

Familie-oomblik

Ons fokusteks vertel van ‘n takkie wat sal uitspruit uit die stomp van Isai.

Die Bybel verklaar praat soos volg hieroor: ’n Takkie spruit uit. ’n Loot dra vrugte. Die koningshuis van Dawid kom tot nuwe bloei. Die belofte aan Dawid dat sy koningshuis en koningskap vir altyd vas sal staan (2 Sam. 7:16), is nie verbreek nie. Dit word voortgedra deur konings soos Hiskia en Josia, maar dan uiteindelik deur die Seun van Dawid, Jesus Christus (vgl. Rom. 5:12).
Hierdie takkie sal ‘n hele nuwe bestel meebring; ‘n bestel waar wolwe en skape saam sal bly…
Wat ‘n ongewone gebeure…

National Geograpic vertel die volgende oor wolwe:Wolves are legendary because of their spine-tingling howl, which they use to communicate. A lone wolf howls to attract the attention of his pack, while communal howls may send territorial messages from one pack to another. Some howls are confrontational. Much like barking domestic dogs, wolves may simply begin howling because a nearby wolf has already begun.

Wolves are the largest members of the dog family. Adaptable gray wolves are by far the most common and were once found all over the Northern Hemisphere. But wolves and humans have a long adversarial history. Though they almost never attack humans, wolves are considered one of the animal world’s most fearsome natural villains. They do attack domestic animals, and countless wolves have been shot, trapped, and poisoned because of this tendency.

In the lower 48 states, gray wolves were hunted to near extinction, though some populations survived and others have since been reintroduced. Few gray wolves survive in Europe, though many live in Alaska, Canada, and Asia.

Red wolves live in the southeastern United States, where they are endangered. These animals actually became extinct in the wild in 1980. Scientists established a breeding program with a small number of captive red wolves and have reintroduced the animal to North Carolina. Today, perhaps 100 red wolves survive in the wild.

The maned wolf, a distant relative of the more familiar gray and red wolves, lives in South America. Physically, this animal resembles a large, red fox more than its wolf relatives.

Wolves live and hunt in packs of around six to ten animals. They are known to roam large distances, perhaps 12 miles (20 kilometers) in a single day. These social animals cooperate on their preferred prey—large animals such as deer, elk, and moose. When they are successful, wolves do not eat in moderation. A single animal can consume 20 pounds (9 kilograms) of meat at a sitting. Wolves also eat smaller mammals, birds, fish, lizards, snakes, and fruit.

Wolfpacks are established according to a strict hierarchy, with a dominant male at the top and his mate not far behind. Usually this male and female are the only animals of the pack to breed. All of a pack’s adults help to care for young pups by bringing them food and watching them while others hunt.

‘n Skaap is totaal weerloos teen hierdie gedierte en vorm deel van sy natuurlike voedselketting waarin hy magteloos is teen die sterk kake en beweeglikheid van die wolf.

Juis daarom is hierdie nuwe orde waarvan die fokusteks praat so ongelooflik!
Vertel net weer vir die kinders die dramatiese ommekeer ahv die fokusteks…
“Wolwe en skape sal dan saam bly…”

Preekriglyn

“Die lewe is nie ‘n storie nie,” waarsku Timus se pa sy dertienjarige seun wat nie aldag tussen werklikheid en verbeelding kan onderskei nie. Timus is ‘n knaap wat baie dinge raaksien. Hy is ‘n man met stories om te vertel. Hy sien die wêreld waarin hy grootword, met sy baie pyn en ellende, op ‘n vars manier. Hy is vasgeknoop in al die risiko’s waarin ‘n kind op pad na volwassenheid blootgestel is. Hy sien ook die pyn wat mense mekaar aandoen, die gebrokenheid van die mense van sy grootword-wêreld, die sisteem wat dikwels sy eie belange bo dié van mense kies.

Timus sien ook vir Joon, die roepman. Joon verskyn telkemale tot Timus en ander mense se redding. As roepman moet Joon werkers betyds wakker maak. Joon is ook ‘n instrument van wonderwerke. Vasgevalde situasies breek oop as Joon opdaag.

Joon is skeel. Hy moet boontoe kyk om vorentoe te kyk. Sy ma Rosie loop altyd en klippe optel. Makkie, Timus se ouma, weet waarom Joon se ma klippe optel: “… sy glo haar seun is ‘n geroepene wat vir die mense om hom wys hoe ‘n kind van God moet lewe. Hy roep hulle met sy voorbeeld agter hom aan na die Here toe. En oor hy moet opkyk om te weet wat die Here wil hê, kan hy nie altyd die klippe sien wat hom laat struikel nie, dis hoekom sy hulle optel.”

“Dan tel sy die klippe mos eintlik vir die Here op, hè, ouma?” vra Timus.

“Vir die Here, Timus-kind. Ek sê vir jou, Joon sal gelyk het soos hy lyk al was hy nie skeel nie; hy sal bly opkyk het.”

Joon is nie net spoorwegwerkers se roepman nie. Joon is ook die Here se roepman wat die mense wakker maak om God se teenwoordigheid raak te sien. Aangesien hy boontoe kyk, kan hy ook die mense in God se rigting roep.

In Jan van Tonder se uitstekende boek, Roepman, leer ons dat die wêreld – hoe hard en ongenaakbaar ook al – deurspek is van meer as die alledaagse. En by Joon leer ons baie. Mens moet boontoe kyk om vorentoe te kyk. Jy moet wat voor hande is, sien in die lig van boontoe-kyk. Jy sien nie dinge soos dit werklik is, voordat jy nie boontoe gekyk het nie.

Die wêreld is vol roepmanne wat jou hiermee help.

Die Here se roepman

Jesaja is ook die Here se roepman. Sy profesieë vind in ‘n baie moeilike tyd in Juda se geskiedenis plaas. Die wêreldmag van die Assiriërs het ook vir Israel en Juda bedreig. Geen wonder dat die kleiner volkere koalisies probeer vorm het om hulle te beskerm nie. Maar dit is juis die aanleiding tot die boodskap van Jesaja. God sal vir Juda sorg, maar dan moet hulle op Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie.

Aan die begin van die boek fokus Jesaja op die mislukte roeping van Israel om in ‘n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle bedryf eerder alliansie-politiek teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7). Dit lei onvermydelik tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

In hoofstuk fokus die roepman, Jesaja, die aandag op die nuwe begin wat God gaan maak deur die “takkie” uit die “stomp van Isai.” Daar kom ‘n nuwe verlosser. Hierdie belofte volg op die vernietigende oordeel van die vorige hoofstukke. In 10:33-34 lees ons van die hoë bome in die land wat sal val. Die oordeel is geweldig. Tog sal daar uit die verdroogde houtstompe ‘n nuwe takkie spruit waardeur God ‘n nuwe begin met God se volk sal maak.

Te midde van die volk se moeilike omstandighede kyk die roepman boontoe, en sien daarop vorentoe. Hy roep die mense dan in die regte rigting, die rigting van God se werk in hulle midde.

Wandel deur die teks

Kom ons stap vir ‘n rukkie deur hierdie besondere teks, en kyk hoe die kontoere van die boodskap van hierdie teks uitspeel.

‘n Nuwe takkie

Vers 1 praat oor die nuwe takkie wat sal voortspruit uit die stomp van Isai. Isai is die vader van Dawid. Tot nou toe was dit altyd gebruiklik om beloftes van ‘n nuwe messias of koning aan Dawid te verbind. Daar is ‘n tweede Dawid, gegrond in God se verkiesing van Dawid verwag. ‘n Opvolger van Dawid was die bron van hoop.

Die nuwe begin wat God maak gaan egter nie ‘n tweede Dawid wees nie. Dit gaan ‘n nuwe Dawid wees. God gee ‘n nuwe Dawid, ‘n nuwe Koning, ‘n nuwe Verlosser.

Die beeldspraak is treffend. Die volk is soos hoë bome wat afgekap is deur God se oordeel. Al die stompe lê en verdroog. Die woud is gestroop, al; die sierlike seders van die Libanonbos het geval (10:33-34; 2:10-22; 3:1). Al wat mens rondom jou sien is ‘n gestroopte toneel, ‘n droewige herinnering aan die skoonheid en sierlikheid wat die volk eens was.

Dan spruit ‘n nuwe takkie uit die stomp van Isai uit. Nou moet die volk vorentoe kyk en die vervulling van God se belofte verwag. Hulle moenie langer met heimwee terugkyk en hoop Dawid staan op uit die as nie. God gaan iets nuuts doen deur ‘n nuwe Koning.

Toegerus deur die Gees

Die beloofde nuwe Koning of Messias word op ‘n besondere manier, volgens vers 2, toegerus vir sy taak. Die Gees van die Here sal op hom rus. Daarmee word die teenwoordigheid en krag van God self aan hom toegesê. Hierdie toerusting word in drie woordpare beskryf:

  • Wysheid en insig: die gawe om beslissings met oorleg te maak en die regte pad vorentoe te onderskei;
  • Raad en sterkte: die vermoë om die koninklike taak uit te voer;
  • Kennis en eerbied vir die Here: Aangesien kennis baie meer as net Westerse verstandskennis is, beteken kennis en eerbied dat die nuwe Koning sal optree vanuit ‘n persoonlike ontmoeting en verhouding met die lewende God self.
Geregtigheid aan almal in die samelewing

In verse 3 tot 5 word uitgespel hoe besonders die optrede van die Koning sal wees vanuit die toerusting wat die Gees gee. Hy sal vreugde vind in die diens van die Here, en soos ‘n goeie koning betaam sosiale geregtigheid in diens van die Here nastreef:

  • Hy sal nie regspreek of oordeel volgens uiterlike skyn en hoorsê nie (3b)
  • Hy sal armes billik verhoor en ootmoediges regverdig oordeel (die armes wat verontregte en verdrukte mense wat nie guns by die koning kon koop nie) (4a)
  • Terwyl die nuwe Messias-Koning vir die verontregtes sal sorg, sal hy dié wat onreg pleeg swaar straf (hy sal nie verkeerd reg noem nie) (4b)
  • Hy sal regverdig en betroubaar regeer (5)
Die aarde beveilig

As gevolg van die Messias-Koning se regering word die aarde ‘n plek waar brose mense veilig is in die teenwoordigheid van mense wat gewoonlik gevaarlik is. Dit word met beeldspraak wat aan die paradys herinner, uitgebeeld. Roofdiere en prooi sal saam wei. Die brooste van alle lewe, kindertjies, sal ook veilig wees.

Hierdie beeldspraak word opgevolg met die opmerking dat dit veilig sal wees in die Here se teenwoordigheid, en dat die aarde vol sal wees van die kennis van die Here (9). Daarom sal daar veiligheid en lewensruimte vir almal wees.

Die Messias-Koning se optrede sal invloed en leiding oor die hele aarde uitoefen, en die nasies sal na hom vra (10)

Wanneer God Koning word

Hierdie gedeelte is ‘n belofte dat God sy regering deur ‘n beloofde nuwe koning sal uitvoer. Hierdie aksie van God, en hierdie koning, bring nuwe lewe uit die dorre, barre, verwoeste stapel droë stompe wat die volk geword het.

Wanneer God koning word, kom daar vrede en herstel van verhoudinge tussen mense.

Nuwe Testamentiese skrywers verbind die takkie uit die stomp van Isai met Christus. Dink aan Romeine 15: 7-13:

Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik … Jesaja sê: Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.

Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat God se koningskap in Christus werklikheid word. Jesus Christus regeer. Hy is gevul met die Gees, en het deur sy lering en deur sy dade vir ons in die regte verhouding met God, met mekaar en met die wêreld gebring. Hy is die een wat reg oordeel, die vaandel vir die nasies, die een wat die wêreld met die kennis van God vul.

Genooi om by Christus aan te sluit

Terwyl die Nuwe Testament duidelik aantoon dat Jesus Christus die Gestuurde van God is, vertel dit ook dat Jesus ‘n gemeenskap tot stand bring. Christus sluit hierdie gemeenskap in by sy voortgaande bediening op aarde.

Ons is geroep om mede-bedienaars, saam met Christus te wees. Hy het ons nuut gemaak, sodat ons nuut kan gaan lewe. Hierdie nuwe lewe behels dat ons prakties uitvoering aan Christus se bediening gee.

Hoe lyk dit in die praktyk?

‘n Lewe van hoop

Wie vanuit God se beloftes leef, behou die hoop. Ons kyk, soos Joon, boontoe voor ons vorentoe kyk. Ons kan vorentoe kyk, omdat ons boontoe gekyk het.

Volgelinge van die Koning maak nie gevolgtrekkings bloot oor wat ons rondom ons sien nie. Ons behou die hoop, en bly betrokke by ons omgewing, vanuit ons hoopvolle perspektief op God se teenwoordigheid en God se werk in die wêreld.

Natuurlik is ons nooit naïef oor die boosheid rondom ons nie. Wie Christus se koningskap ken, kan veral boosheid rondom jou herken. Maar dis juis dié boosheid wat ons hoopvol laat bly bid en werk vir God se reg en God se regverdige koningskap.

‘n Lewe van geregtigheid

Mense wat die Koning volg, lei self ‘n lewe van reg en geregtigheid. Ons hanteer ander mense regverdiglik, ongeag hulle klas, status of stand. Die vraag is hoe veilig brose mense by my en jou is? Wat kan ek en jy doen om die wêreld ‘n veiliger en ‘n meer betroubare plek vir die mense rondom ons te maak?

‘n Roepman

In Roepman is Joon die een wat dikwels opdaag wanneer noodlydendes hom nodig het. Dit verg besondere opmerksaamheid en ‘n fyn aanvoeling.

Daar is baie mense wie se lewe lyk soos ‘n bos afgekapte, verdorde stompe. God begin weer nuut ook in hierdie mense se lewe. Daar is altyd ‘n takkie van hoop, omdat God teenwoordigheid is. Ons opmerksaamheid, liefde en fyn aanvoeling is instrumente wat God in hierdie proses gebruik.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria: (Lukas 1:46-56)
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”

Offergawes

Wegsending: Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe vs 1,2” of
Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4″ (indien dit nie by Verootmoediging gebruik is nie)

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)
Of
Filippense 4:6-7
6Moet oor niks besorg wees nie,
maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7En die vrede van God
wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou
in Christus Jesus.

Musikale Amen” Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.