Tweede Sondag van Advent

Sections

Oorsig

Die tweede Sondag in Advent word gekenmerk deur vrede. Paulus bid in Filippense vir “regte” (heel) verhoudings: regte verhoudings onder mekaar (“ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling”), en ‘n regte verhouding met God (“en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees”). ‘n Mens sou natuurlik ‘n “regte” verhouding met die natuur kon byvoeg.

Dit is die prentjie van sjalom: van God se alomvattende vredesbestaan, waar verhoudings tussen God en mens, mens en mens, en mens en natuur herstel is. Dié vrede is handomkeer anders as die pax Romana, die vrede van Rome, wat destyds geheers het. Paulus kon selfs oor dié soort vrede getuig terwyl hy oor sy gevangenskap nagedink het.

In Suid-Afrika het ons hierdie soort vrede nodig. Kort ná die protesaksies in KwaZulu-Natal in Julie 2021 reik die menseregte-organisasie Abahlali baseMjondolo ‘n verklaring uit waarin hulle sê: “We will do all we can to … build a just peace.” Die kombinasie van die woorde “just peace” het my bygebly. Is dit nie waaroor hierdie Sondag gaan nie? Om te verlang na God se alomvattende vrede, God se regstellende, regte, geregtigde vrede. Maar dan ook meer as dit: om te weet dat Christus daardie vrede ís, dit rééds gebring het, en dit nou ook ‘n werklikheid láát word in die roeping en gestalte van die kerk.

In Lukas 1:68-79 hoor ons hoe Sagaria uitsien na dié soort vrede: “Soos die môreson sal Hy opgaan, en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” In Lukas 3:1-6 doen Johannes wat Sagaria geprofeteer het: Hy getuig van vrede vir alle mense: “Al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

As kerk kom staan ons, soos Sagaria en Johannes, in ‘n vredelose wêreld en probeer ons vandag – met nuwe woorde – om lig te bring en van vrede te getuig. Mag, Heer, u vrede deur ons ook vloei!

Ander tekste

Maleagi 3:1-4
3 Ek gaan nou my boodskapper stuur,
Hy sal die pad voor My uit regmaak,
en dan sal die Here na wie julle soek,
skielik na sy tempel toe kom.
Ja, die Verbondsengel na wie julle
met soveel vreugde uitsien,
gaan nou kom, sê die Here
die Almagtige.
2Maar wie kan die koms van dié Engel
verdra,
wie kan standhou wanneer Hy verskyn?
Hy is soos die vuur van die smelters
en soos die seep van die wassers.
3Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit
om die Leviete te suiwer,
om hulle te louter soos goud en silwer,
sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring
wat bestaan uit regdoen.
4Dan sal die offer van Juda en Jerusalem
weer aanneemlik wees vir die Here
soos in die ou tyd,
soos in jare lank verby.
5Dan sal Ek na julle toe kom as regter:
Ek sal sonder versuim regspreek
teen dié wat hulle met toordery ophou,
teen die egbrekers
en dié wat vals ede aflê,
teen dié wat die dagloner te kort doen,
die weduwee en die weeskind veronreg
en die vreemdeling verdring,
teen dié wat nie vir My eerbied het nie,
sê die Here die Almagtige.
Lukas 1:68-79

Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.
Lukas 3:1-6

Die prediking van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3 Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”

Sleutelteks

Filippense 1:3-11
3Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. 4Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap 5oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, 6juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. 7Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap, sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade. 8Want God is my getuie hoe ek met die innigheid van Christus Jesus intens na julle almal verlang. 9Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, 10om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, 11gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.

Perspektiewe op beloftes in die teks
Paulus begin sy brief met waardering en danksegging, veral omdat die gemeente deelnemers in die verkondiging van die evangelie geword het (vers 5). Hy gebruik die Griekse woord koinonia hier in die betekenis van vennootskap (partnership). Dit sê vir hom dat die genade van God regtig sy werk gedoen het in die praktyk van hulle lewe (vers 7). En daaroor is hy baie bly.

Hy bid dat hulle liefde (agape) nog meer sal toeneem in kennis en insig sodat hulle die dinge wat saak maak kan onderskei. Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ‘n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word. So kan hulle intelligente keuses maak deur in liefde te onderskei wat God se wil is.

Soos Hawthorne dit stel: “Paul prays that the Philippians’ love may be a controlled and developing love for two reasons: (1) that they might know how to make the best choices possible and (2) that they themselves might be the best people possible.”

Ons het dus nodig om op God se beloftes te vertrou en verantwoordelikheid te neem om in ons geloof te groei. Ons kan dit net doen as ons oortuig is daarvan – soos Paulus oor die Filippense – dat God die goeie werk in ons begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (vers 6). Dit sal verseker dat ons op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God.

Liturgie

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar sowel as van vorige bydraes by Preekriglyne. Bestel produkte by www.bmedia.co.za of sluit aan by missio.org.za.

Advent is die begin van die siklus van die Westerse kerkjaar en volg direk na Koninkrykstyd. Die seisoen van Advent begin vier Sondae voor Kersfees en dien ook as opbou tot hierdie feesdag. Die klem is op afwagting en voorbereiding – nie net vir die koms van Jesus as mens wat gevier word met Kersdag nie, maar ook vir Jesus se wederkoms.

Daar is ook baie gebruike wat verband hou met hierdie seisoen, soos die gebruik van ’n “Adventskalender” waarmee die dae tot Kersdag afgetel word. ’n Ander gebruik om die seisoen en spesifiek die Sondae saam te bind, is die Adventskrans in die liturgiese ruimte. Dié krans bestaan uit ’n ronde vorm van immergroen blare waarin vier kerse geplaas word: drie koningsblou kerse en een rooskleurige kers. Die sirkel verwys na die ewige lewe terwyl die immergroen blare verwys na hoop – een van die groot temas van Advent. Daar word ook soms ’n wit kers in die middel geplaas wat op Oukersaand of Kersdag aangesteek word. Die kerse word tradisioneel in die volgende volgorde in die krans geplaas en aangesteek met name vir elke kers/Sondag:
• Eerste Sondag in Advent: “Hoop” – koningsblou kers
• Tweede Sondag in Advent: “Vrede” – koningsblou kers
• Derde Sondag in Advent: “Vreugde” – rooskleurige kers
• Vierde Sondag in Advent: “Liefde” – koningsblou kers
• Oukersaand/Kersdag: wit, Christus-kers

Ander simbole in die Adventseisoen is die stomp van Isai – as aanduiding van Jesus se aardse stamboom vanaf Adam, Abraham en Dawid tot by Josef.

Steek die adventskerse aan indien dit gebruik word.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord  
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.

Seëngroet  
Voorganger: Die Here verander ons lot
soos Hy droë spruite uit die Suidland in waterstrome verander.
Gemeente: Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly (Ps. 126:4, 3).

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Romeine 12:9-21

Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Skuldbelydenis
V: God van geregtigheid, goedheid en vrede, U het ons na u beeld geskep; daarom smag ons, soos U, na geregtigheid, maar tog sukkel ons om dit te beoefen. Here, soos U, dors ons na goedheid, vrede en heelheid, maar tog kan ons dade in twyfel getrek word. Here, ons vra na genade, maar tog hou ons boek van ander se kwaad.

G: Here, vergewe en vernuwe ons.  Mag u beeld, en u vrede, diep binne ons kom wortelskiet  sodat geregtigheid, goedheid en vrede  nie net ons wens is nie, maar ook dit waarvoor ons dag na dag sal lewe. 

V: Ontvang die woorde van Johannes en Paulus: Die Here bring verlossing vir alle mense. Ons almal deel in God se genade. Mag die genade van ons Here Jesus Christus, die Prins van vrede, die liefde van God en die vredevolle gemeenskap van die Heilige Gees met ons elkeen wees, en met almal wat nie ons is nie. Amen.
Uit Leesroostertekste en skuldbelydenis van Isobel de Gruchy (vertaal en aangepas)

Vryspraak: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1, 4”

Geloofsbelydenis in aansluiting by 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders 

(Samevoeging van twee gebede deur Charlene vd Walt geskryf en opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)
Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat, geweld en ontmensliking
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het
en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.
Hoop, vrede, vreugde en liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees.
Amen.

Loflied (opsioneel) 349 Kom kinders besing met ‘n vrolike stem vs 1,2,3,4

Epiklese
9Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, 10om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, 11gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.
Mag die woorde van my mond en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor U aangesig:
o Here, my rots en my verlosser.
Amen

Skriflesing: Filippense 1

Familie-oomblik
Prediking

Gebed
Here, maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar mense seergekry het, help my om vergifnis te bewerk;
waar daar twyfel is, laat my sekerheid bring;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar dit donker is, lig;
waar daar hartseer is, vreugde.
O heilige Meester, gee dat ek nie soseer daarna sal soek om vertroos te word nie, maar om ander te troos;
om begryp te word nie, maar om ander te probeer verstaan;
om bemin te word nie, maar om liefde te gee.
Want dit is slegs wanneer ons gee dat ons ontvang;
dit is slegs wanneer ons self vergewe dat ons ander se vergifnis kan aanvaar; en
dit is slegs wanneer ons sterwe aan onsself dat ons gebore word tot die ewige lewe.
– St Franciskus van Assisi, uit Piet Naudé, Die groot gebedeboek

Offergawes

Wegsending 358 Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3

Seën (Filippense 1)
Ek bid dat julle liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling
sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.
Dan sal julle op die dag waarop Christus kom onberispelik en sonder blaam kan wees.
Deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof eer. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

  1. U is die lig wat deur die donker skyn.
    U is die Een wat duister laat verdwyn.
    Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
    Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
    Jesus Christus, ons glo in U,
    ons buig voor U neer, buig voor U neer.
    Jesus Christus, ons God en Heer,
    ons bring nou aan U die eer.
  1. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
    U het as Koning uit die graf gegaan.
    Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
    Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
    Jesus Christus, ons glo in U,
    ons buig voor U neer, buig voor U neer.
    Jesus Christus, ons God en Heer,
    ons bring nou aan U die eer.
  1. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
    U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
    Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
    Ons bly by U tot in ewigheid.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Liedere

VONKK 97 “Christus, Lank Reeds Verwag”
Teks: Diese heilige Nacht – Duits E16; Hierdie heilige nag – Betsie Els 1981; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Melodie: Tradisioneel Duits E18
Klavierbegeleiding: VONKK Werkgroep 2010
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
© Teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Kinderlied – Kersfees en Epifanie

1. Christus, lank reeds verwag,
is gebore dié nag.
Daarom sing engele bly.
Duisternis is nou verby.

2. Herders hou daardie nag
oor hul skape die wag.
Daar hoor hul engele sing,
wat goeie nuus aan hul bring.

3. Wyse manne van ver
volg die Betlehemster;
bring aan die Kindjie hul eer,
kniel in verwondering neer.

4. Jesus, ons bring U eer –
ons Verlosser en Heer.
Saam met die engelekoor
wil ons ‘n loflied laat hoor.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die volgende suggestie is hier beskikbaar.

  1. Theme
    God isn’t finished with you yet.
  1. Object
    A sign that says “Under Construction.” You could also use a toy truck or grader.
  1. Scripture
    He who began a good work in you will carry it on to completion . Philippians 1: 6

Die Nuwe Testament vir kinders formuleer die teks so…

God Kyk Mooi na julle
3–6 Ek vergeet nooit om vir julle te bid nie. Julle maak my hart altyd bly omdat julle so lief is vir Jesus. Saam met julle maats doen julle wat die Bybel vra.

God is ook goed vir julle en Hy sal goed bly. Hy sal vir julle sorg tot Jesus julle weer eendag kom haal. Julle hoef nie bang te wees dat Hy van julle sal vergeet nie.

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

When I was a little boy we used to go to visit my Grandmother. Every time we made that trip, we would always come to a spot in the highway that was all torn up. There were always road graders, gravel trucks, and a lot of men working on the highway. There were signs along the road that said, “Drive Carefully-Road Under Construction.” I always thought to myself, “What a nice highway this will be when they finish it and there is no more construction.” Well, I still travel that highway occasionally, and it is still under construction! You see, by the time they get finished with on one part of the highway, it is time to go back and make repairs on the parts that they have repaired before! They never really finish working on it.

That is true in our lives as well. As we travel down the highway of life, God is always working to make us into the kind of person He wants us to be. I have seen a button that says, “Be patient, God isn’t finished with me yet.” How true that is. In fact, God will be working on us for the rest of our lives. When he gets finished with one part, it will be time to start working on another.

The next time you pass by a spot in the road that is under construction, remember that God is at work smoothing out the rough places in our lives.

Dear Lord, help us to remember that you are at work in our lives, trying to make us into the kind of boys and girls you want us to be. Amen.

Preekstudie – Filippense 1:3-11
Woord en Fees is ‘n besondere bron met agtergrond oor die teks en liturgiese insette. Besoek gerus www.missio.org.za. Meegaande preekskets maak gebruik van insigte uit woord en Fees.

Preekvoorstel

Ons teks vir vandag kom uit ‘n brief wat ‘n gevangene uit die tronk geskryf het. Dit alleen maak dit reeds ‘n besondere dokument.

Paulus skryf hierdie tronkbrief in samewerking met Timoteus (1:1). Die brief is gerig aan die eerste geloofsgemeenskap wat hy rondom 49-50 nC op Europese bodem in die stad Filippi gestig het (Hand 16:12-40).

Verwysings in die brief dui daarop dat Paulus reeds ‘n geruime tyd ‘n gevangene was, waarskynlik in Rome. Daar is ‘n aanduiding dat Paulus spoedige vrylating verwag het, maar ook dat gevaar vorentoe op hom sou wag (1:20-24).

Ons sou hierdie woorde kon verstaan teen die agtergrond van die onstabiele omstandighede onder keiser Nero in Rome gedurende die begin sestigs, s6e prof Stephan Joubert. Nero het die Christene as ‘n bedreiging vir sy regering beskou. Hy het die plaaslike Christene geblameer vir die brand wat Rome in 64 nC in puin gelê het en hy het hulle wreedaardig vervolg hiervoor.

Danksegging

Vir ‘n brief uit die tronk is hier is ‘n merkwaardige klem op dankbaarheid, spesifiek wanneer Paulus aan die gemeente in Filippi dink.

In die 2020-vertaling is die opskrif by ons teks “Dankgebed”, in die 1983-vertaling is dit “Danksegging en gebed vir die gemeente” en in die New International Version (NIV) “Thanksgiving and Prayer”.

Paulus deel met die gemeente wat met hom gebeur wanneer hy aan hulle dink. Hy beklemtoon dat dit “elke keer” gebeur. Paulus dank God vir hulle.

In vers 4 gaan hy voort met beklemtoning wanneer hy op sy gebedsreaksie uitbrei. Elke gebed vir hulle het altyd spesifieke eienskappe.

Eerstens bid hy met blydskap oor wat hierdie gelowiges vir sy bediening in God se diens beteken het. Hulle het van die begin af (die eerste dag) tot op hede (nou, vandag) deelgeneem of saamgewerk aan die evangelie. Hulle is sy deelgenote.

God is die Bron

Hy brei verder uit oor die gronde van sy dankbaarheid oor die gemeente.

In vers 6 skryf Paulus hy is oortuig, hy is verseker, dat God die Bron is waaruit hulle goeie werk in die evangelie-vennootskap voorspruit. God het dit begin, dit in hulle aan die gang gesit. Omdat Hy die Bron is waaruit hulle goeie werk ontspring, sal dit in die toekoms ook voortgaan. God sal die goeie werk voltooi tot op die dag van Jesus Christus (2020-vertaling), of soos die 1983-vertaling sê: “die dag wanneer Christus Jesus kom.”

Deelnemers

In vers 7 motiveer Paulus sy waardering vir hierdie gelowiges aangesien hy hulle in sy hart hou. Hulle lê hom na aan die hart omdat hulle saam met hom in God se genade deel.

Hierdie deelgenootskap het hulle op twee vlakke bewys, naamlik

  • in meelewing met Paulus se gevangenskap, asook
  • in die verdediging en bevestiging van die evangelie.

Die Filippense het saam met Paulus geywer vir die verkondiging van die evangelie én hulle het hom versorg terwyl hy in die gevangenis (in kettings) was.

Egte liefde

In vers 8 beklemtoon Paulus die egtheid van sy liefde vir hierdie gelowiges (dat hulle in sy hart is), asook sy verlange na hulle met die liefde van Christus Jesus in sy hart. God is sy getuie van die waarheid en egtheid van die oortuiging wat hy (Paulus) in vers 6 gedeel het.

Gebed om wysheid

In vers 9 gaan Paulus voort met die beskrywing van die inhoud van sy gebed vir die Filippense wanneer hy die gebed en die tema van die liefde verbind. Sy gebed is dat hulle liefde nie sal stagneer nie, maar in karakter sal groei. Hulle liefde moet voortdurend (aanhoudend of voortgaande) toeneem in kennis en insig, of soos die 1983-vertaling sê: “begrip en fyn aanvoeling.”

In vers 10 motiveer Paulus waarom hy spesifiek bid dat hulle liefde in kennis en insig sal toeneem. Dit sal hulle toerus om die dinge te kan onderskei wat regtig belangrik is, “wat saak maak” (2020-vertaling); “waarop dit werklik aankom” (1983-vertaling); “things that are excellent” (KJV); “what is best” (NIV).

Paulus betrek dan die toekomsperspektief van hierdie onderskeidende liefde op die dag van Christus. Die groeiende kennis en insig van die onderskeidende liefde sal bepaalde gevolge vir hulle inhou op die dag van Christus. Hulle sal innerlik suiwer en onberispelik wees (2020-vertaling); die 1983-vertaling praat van “onberispelik en sonder blaam”, en die KJV van “sincere and without offence”. Hulle sal met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus gevul wees (v 11, 2020-vertaling) en “geheel en al in die regte verhouding met God wees” (1983-vertaling). Daardeur sal God verheerlik en geloof word.

Tot hiertoe ons verkenning van ons teks.
Kom ons dink na oor wat hierdie teks vir ons beteken.

Dank God

Ons eie bestaan as gemeente is die werk van God. Ons is deur God die Vader in Jesus Christus deur die werk van die Heilige Gees geskep. Uit God leef en beweeg ons, ook as gemeente.

Daarom moet ons met diepe verwondering en dankbaarheid oor onsself dink.

Ons het die voorreg om medewerkers aan se evangelie te wees. Ons is saam met ander die draers van die evangelie, geroep om dit te verkondig en uit te leef. Geroep om ander te ondersteun om dieselfde te doen.

Ons word ook vermaan om uit God se genade te leef. Paulus waarsku teen interne struweling, maar ook teen die optrede van dwaalleraars in die gemeente.

Johannes Calvyn, die Hervormer van Genève, het van praxis pietatis gepraat. Dit beteken: die praktyk van die geloof. Geloof moet prakties gemaak word. Paulus sê vir die Filippense hulle moet hulle geloof prakties maak “deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe”.

Die gemeente het een doel: diens aan God en die naaste, om so die evangelie van God uit te dra, in liefde en waarheid.

Daarom is dit belangrik dat hulle in liefde moet toeneem in kennis en insig, sodat hulle kan onderskei waarop dit neerkom.

Onderskeiding

Verse 9 en 10 lê aan die hart van die boodskap van hierdie teks vir ons vandag:
Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees …

Begrip, fyn aanvoeling en onderskeidingsvermoë.
Wat is reg, wat is wys, wat is goed, wat is waar?

Vir ons beteken dit:

  • dat ons ‘n kerk moet wees wat die Woord van God as die enigste ware gesag vir die kerk erken;
  • dat ons ‘n kerk moet wees wat die evangelie van verlossing uit genade alleen onverkort handhaaf;
  • dat nie menslike ervaring en godsdienstigheid die mikpunt van die kerklike lewe mag wees nie, maar ‘n nuwe gerigtheid op God self soos Hy Homself in Christus geopenbaar het, en gehoorsaamheid aan sy Woord op alle terreine van die lewe;
  • die kerk nie ‘n posisie van eer en mag moet soek nie, maar die gestalte van ‘n dienskneg in die wêreld moet aanneem.

Wat die kerk nodig het, is die werking van die Gees wat die Gees van die liefde is.

In Suid-Afrika in 2021?

Wat beteken hierdie dinge in Suid-Afrika in 2021 / 2022?
Ons het vanjaar die “Swart Week” (8-15 Julie 2021) beleef. Landsburgers in KwaZulu-Natal en Gauteng het die landsekonomie ontwrig, eiendom verwoes en winkelsentrums geplunder deur eenvoudig voorrade te steel en weg te dra.

Ons het steeds vanjaar beleef dat die ganse wêreld steeds onder die impak van die Covid-19-pandemie wankel en regerings landsburgers laat inent met die hoop op kudde-immuniteit wat Covid-19-infeksies kan stuit.

Die donker werklikheid van staatskaping, korrupsie, politieke knoeiery, selfsug en apatie teenoor die lot van ander duur voort.

Wat verwag die Here in so ‘n wêreld van ons?
God verwag dat ons doen waartoe Hy ons geroep het, selfs al raak dinge so donker soos beland in die tronk weens die evangelie, soos Paulus destyds.

Dit is om liefdevol te wees deur kennis en insig in die evangelie en te fokus op ‘n lewe wat pas by die evangelie. Dit is om elke dag waar ons kom lig, sout en suurdeeg te wees. Dit is om hande met ander gelowiges te vat en medewerkers van die evangelie te wees.

So word ons gevul met die vrug van geregtigheid in Christus.

Ons beleef weer ‘n tyd waarin die liefdesdeugde van begrip en fyn aanvoeling onontbeerlik is. Wanneer Jesus-volgelinge antwoorde soek op die praktiese vrae wat ons kerklike getuienis in die wêreld grondig raak, moet ons as deelgenote van die genade, met deernis en liefde vir mekaar, oor hierdie sake besin.

Vreugde in Christus

Dit is Adventstyd.
In hierdie tyd hou ons die oog op die dag van Christus. Christus leef met ons en Christus is op pad om die wêreld eenmaal volledig nuut te maak, ons inkluis.

Daarom is die brief nie net met dank en vermaning gevul nie, maar ook met blydskap.

Paulus pleit dat dié gemeente sy blydskap volkome moet maak. Hy weet wat sy verhouding met Christus werklik beteken; daarom kon hy dié vreugdebrief uit die tronk skryf. Nie sy omstandighede nie, maar sy verhouding met God in Christus bepaal wie hy is en hoe hy in elke omstandigheid optree en leef.

Daartoe roep Advent die kerk van Christus in Suid-Afrika en die wêreld nou op: Om uit dankbaarheid vir wat Christus gedoen het, eensgesind te wees – een in liefde, een van hart, een in strewe – sodat ons deur ons godvresende lewe, soos die Kategismus sê, ons naaste ook vir Christus kan wen. Paulus skryf in hoofstuk 1 vers 27: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

Die kenmerk van ware godsdiens is dat jou lewenswandel met die evangelie van Christus ooreenstem. Daarom moet ons saam met Paulus bid dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons die dinge kan onderskei waarop dit werklik in die kerk van Christus aankom, op ons weg na die dag van Christus Jesus.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.