Tweede Sondag van Advent

Picture of Woord en Fees

Tweede Sondag van Advent

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jesaja 11:1-10
Ander tekste: Psalm 72:1-7, 18-19; Romeine 15:4-13 en Matteus 3:1-12

Inleiding

Die klem vir die tweede Sondag van Advent val op vrede. Die Messias in Jesaja 11 wat profeties beloof word is die Een wat sal kom om vrede moontlik te maak. Die volk word in die psalmlesing opgeroep tot vrede. Hierdie oproep word ge-eggo in die opdrag aan die gemeente in Romeine om  eengesind te wees en mekaar te aanvaar in liefde. Die evangelielesing getuig van Johannes die Doper, die een wat roep in die woestyn en die pad vir die Messias gereed maak. Die Een wat voorspel is, is die een wat vrede bring.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aansteek van tweede Adventskers
Ons verwerp alle vorme van geweld en ontmensliking omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.
Vrede is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.

Sang terwyl die kers aangesteek word.
Sing Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei” terwyl die tweede Adventskers aangesteek word.

Diens van die Woord

Sien Basisliturgie

Diens van die tafel

Plaas die klem tydens die viering van die nagmaal op die brood en wyn as tekens van vrede.

Uitsending

Slotsang

Musiek en sang 

By die aansteek van die Adventskers: Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”
Lied voor die aanvang van die erediens: Lied 354 “O Christus, ons verlange”
Loflied: Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe”
Slotlied: Lied 533 “Stuur ons, Here”

Preekstudie – JESAJA 11:1-10

Teks 

Hierdie welbekende gedeelte skep vir geleerdes baie probleme. Eerstens is dit onduidelik of hierdie gedeelte wel van Jesaja af kom. Die verwysing na “die stomp van Isai” in vers 1 kan verstaan word as aanduiding dat die gedeelte na die val van die Dawidshuis geskryf is. Boonop kom die heilsbeloftes in vers 9 en 10 nogal ooreen met uitsprake van die profete van latere tye. Ander wys daarop dat die verwoesting wat die Assiriërs in 701 vC gesaai het, inderdaad net ’n “stomp” van die ou Juda oorgelaat het en dat die gedagtes wat in vers een tot vyf  uitgespreek word, eie aan Jesaja is (bv die klem op wysheid en geregtigheid). Oor die mistasting dat Jesaja nooit oor komende heil sou geprofeteer het nie, het ek by die preekstudie van 1 Desember gepraat. Dit bly moeilik om hier ’n finale oordeel te vel.

Dit is ook onseker of die gedeelte ’n geheel vorm. Sommige beskou vers een tot vyf as ’n eenheid wat van Jesaja kom, vers ses tot agt as ’n latere uitbreiding en vers nege en tien as nog latere toevoegings. Vers ses tot agt (of 9) kan nie as ’n aparte gedeelte beskou word nie, want daar is geen inleidingsformule in die Hebreeus nie. Al kan dit ’n toevoeging wees, lyk dit eerder asof dit by die vorige hoort. Oor vers nege is skrywer  minder seker, maar dit pas wel goed as afsluiting. Vers 10 is ’n toevoeging uit latere tye (die aparte inleidingsformule). Ek sou dit nie in die prediking ter sprake bring nie.

Daar is heelwat teksprobleme, soos variante in die ou vertalings aandui. Party maak nie veel verskil aan die hoofstrekking nie. Let egter daarop dat in vers 4, “Hy sal die aarde slaan” waarskynlik moet lees, “Hy sal die geweldenaar slaan” (baie klein tekswysiging). Die NAV wat die digterlike aard van die gedeelte wegvertaal, moet liefs vermy word.

Regte koningskap is die hooftema in vers 1-5. Kom dit van Jesaja? Verteenwoordig dit sy ontnugtering met die konings van sy eie tyd, veral Hiskia, van wie hy aanvanklik baie verwag het? Selfs Hiskia het egter saamgespeel in die magstryd van sy tyd en so oorlog en rampe eerder as vrede en reg vir Juda gebring. Die werklike koning na God se hart sal heel anders moet lyk. Kom dit uit die tyd na die ballingskap? Reflekteer dit ’n terugblik op die mislukking van die Dawidshuis as geheel en die hoop op ’n “regte” koning? In geeneen van hierdie gevalle kan ons van ’n direkte voorspelling van Jesus se koms praat nie. Omdat dit oor ’n komende, volmaakte koning gaan, is die gedeelte wel “messiaans”, want in die Ou Testament is die term “messias (gesalfde) van die Here” van die koning gebruik.

Die nuwe begin waarvan vers een praat, veronderstel die oordeel oor die ou bestel. Die woord vir “stomp” dui daarop dat die ou stam afgekap is en weer van onder spruit. Herstel begin in die sfeer van die godsdiens (2); trouens, die handeling gaan van God uit, want toerusting met God se Gees kom voor enige handeling deur die koning.  Die “wysheid en verstand” wat ’n koning nodig het, is ten nouste verbind met ontsag vir die Here. Dit is in die tradisie van Jesaja, selfs as Jesaja dalk self nie aan die woord is nie, want hy stel God se handeling voorop, leen dikwels by die wysheidstradisie en beskou God as bron van wysheid (Jes 28:25-29).

Dalk verwys vers 3a na die gewilligheid van die koning, maar die teks is effe duister en onseker. Die eerste taak wat die koning self sal verrig, is om reg te verskaf aan diegene wat dit die nodigste het (vgl. Jesaja se prediking oor sosiale onreg). Vers 3b beklemtoon dat beregtiging nie op oppervlakkige dinge, uiterlike voorkoms of valse gerugte kan berus nie. Ware billikheid verg ware wysheid. Hierdie regstaak vervang die beheptheid met eie mag en rykdom wat heersers dikwels beheers.

Dié koning het inderdaad ook ’n “aanvallende” rol, maar die tradisionele koningstaak om vyande te verslaan word hier “gedemilitariseer”. Hierdie koning het bloot woorde nodig om die oorwinning te behaal. Heel moontlik staan Jesaja se afkeur in konings se militêre avonture hier in die agtergrond. Vers 5, wat hierdie onderdeel afsluit, pas die woorde “geregtigheid” en “trou”, wat albei dikwels van God gebruik word, op die koning se optrede toe. In die Ou-Testamentiese beeldwêreld word “omgord” (en “vasgord”) verbind met voorbereiding vir aksie. In ons taal gestel, geregtigheid en trou is die vertrekpunt van al die koning se handelinge.

Vers 6-8 skets die gevolg wat uit vers 1-5 voortvloei. Soos in Jesaja 2:1-5, kan daar slegs vrede heers as die regsorde herstel is. Die omvattende vredestoestand wat hier geteken word, behels selfs vrede in die diereryk. Hoe verskillende geleerdes die vertaalprobleme van hierdie verse oplos, maak weinig verskil, want die geheelbeeld is “digterlik onrealisties”. Leeus se spysverteringstelsel kan nie gras hanteer nie. Al het die skrywer dit seker nie geweet nie, is die bedoeling in ieder geval nie om ’n haalbare werklikheid voor te hou nie, maar om te sê dat alles moontlik word wanneer die koning volkome deur God se Gees gelei word. Dan word ons hele wêreld herskep, omskep, vernuwe.

Vers 9, al mag dit ’n toevoeging wees, is ’n gepaste slot, wat die orde van die voorafgaande omkeer. Daar sal geen vorm van kwaad meer wees nie, omdat die “kennis van die Here” alles sal oordek (vgl vers 2). Die “kennis van die Here” impliseer in die Ou Testament veel meer as “inligting”; dit veronderstel ’n lewende verhouding, ’n volledige erkenning van God. Waar dit allesbepalend is, eerder as broksgewys, is daar vir geen vorm van kwaad meer ruimte nie. Die hele skepping, nie slegs mense nie, deel in hierdie “welsynstaat”.

Die gang van die gedeelte is nou duidelik. Na die inleidende belofte, wat alreeds oordeel in die hede impliseer (die afgekapte stomp), volg die noodsaaklike toerusting van die ideale koning, waaruit die optrede van hierdie koning voortvloei. Die ganse regering spruit uit geregtigheid en trou en daaruit spruit omvattende vrede en welsyn. Daar is geen kwaad nie, juis omdat die kennis van die Here allesbepalend is. Die klem lê dus baie sterk op God se optrede, waarvan die koning slegs die verteenwoordiger is.

Daarom kan ons inderdaad vra of die ideale koning ’n blote mens kan wees. Die heilsbelofte in die latere verse klink totaal buitensporig, maar is die soort regering wat in die eerste verse geskets word, nie ewe werklikheidsvreemd  nie? Ons het hier inderdaad nie met “voorspelling” in die sin van “akkurate beskrywing van die toekoms” te make nie, en allermins met ’n omskrywing van Jesus se werk op aarde. Ons kan praat van ’n digterlike visie, mits ons byvoeg dat dit gebore is uit geloof. God se “uitgangspunt” is geregtigheid, daarom word ongeregtigheid (ook by konings) gestraf, maar ook trou. Op gans verbasende wyse skep God dit wat menslike verstand te bowe gaan: die koning wat met goddelike wysheid God se geregtigheid en trou verpersoonlik en so die vrede bring “wat alle verstand te bowe gaan”.

As ons dit begryp, kan ons ook begryp hoe Jesus selfs hierdie “onrealistiese” verwagting “vervul” – nog voller gemaak – het. Die ideale Koning word die arme wat onreg ly en neem op Homself die straf wat die geweldenaar toekom. Wanneer God ingryp en herskep, kom iets tot stand wat selfs die profetiese visie te bowe gaan.

Konteks

Al kan ons nie hier met sekerheid ’n historiese konteks identifiseer nie, is die “gedagtekonteks” heeltemal duidelik. Dit is die sogenaamde koningideologie wat Israel en Juda byna heeltemal met omliggende volke gedeel het. Hierdie gedagteraamwerk het uitgespel wat volke van hulle konings geglo en verwag het. Psalm 72 gee die spesifiek Israelitiese vorm hiervan goed weer.

Konings is skaars as gewone mense beskou. Buite Israel, veral in Egipte, is hulle soms byna vergoddelik. Omdat hulle as middelaars tussen die godewêreld en die mensewêreld moes optree en harmonie tussen die twee moes bewerkstellig, moes hulle as ’t ware tot albei wêrelde behoort. Ook in die Ou Testament bestaan daar ’n besondere band tussen die Here en die gesalfde koning. Dawid beskou Saul, sy vyand, as onaantasbaar bloot omdat hy die gesalfde is. God sluit ’n spesiale verbond met Dawid en beloof om hom as seun te hanteer. Die koning, eerder as gewone sterflinge, is direk aan God verantwoordelik, daarom word die hele volk gestraf as die koning die verkeerde pad kies.

Die verantwoordelikhede wat uit konings se verhewe status gespruit het, was inderdaad groot. Natuurlik het goeie regering besondere wysheid geverg: Salomo vra wysheid om te kan regeer, maar bomenslike wysheid word ook aan Dawid toegeskryf. Hierdie wysheid was veral nodig in die regspraak (vgl 1 Kon 3), want konings was die opperste regters – die “appelhof”. Konings moes besondere aandag gee aan die armes, swakkes en verdruktes, almal wat hulleself nie kon handhaaf nie (Hierdie tema kom ook by ander volke voor). Terselfdertyd moes konings hulle volke teen vyande verdedig.

Konings moes die “regte orde” herstel of handhaaf en daardeur algemene welvaart verseker. Daar is selfs geglo dat konings deur goeie regering die vrugbaarheid van die land kon bewerkstellig. Egiptiese farao’s het byvoorbeeld graag gespog dat hulle waarheid, reg, die regsorde (Heb. ma’at) herstel het. Hierdie omvattende koninklike taak het uiteraard ’n godsdienstige sy gehad, want die “regte orde” was van goddelike oorsprong. Konings moes tempels bou en onderhou en die openbare godsdiens handhaaf of hervorm. Konings wat in hulle godsdienstige pligte gefaal het, moes ook elders mislukking verwag, soos die Ou Testament telkens uitwys.

Die koningideologie het mooi ideale vir konings gestel – ook buite Israel. Die werklikheid was dikwels heel anders – ook in Israel. Magsmisbruik, selfverryking, verdrukking en oorlogsugtigheid was ook in Israel aan die orde van die dag. Trouens, wanneer mense oor die ideale koning gepraat het, het hulle óf na die verre verlede (Dawid) óf na die verre toekoms gekyk. Die hede was selde eens minimaal bevredigend.

Vir die getroues in Israel het die konings in hulle bemiddelingstaak misluk, omdat hulle nie werklik na God uitgereik het nie. Hulle het vasgevang gebly in menslike strewes – magsug, hebsug en oorlogsugtigheid. Omdat hulle nie reg gebring het nie, kon hulle ook nie vrede en welvaart bring nie. Hierdie gedeelte voorsien dus dat God deur ’n ideale koning na mense sal uitreik – die bemiddeling kom van God se kant af. As blyk van God se trou, sal die koning God se geregtigheid op aarde verbeeld. Eerder as om enige deel van die skepping prys te gee, herskep God alles. Al bring hierdie gedeelte ons nie tot by Jesus as Middelaar nie, wys dit duidelik in sy rigting.

Koningskap en die ou koningideologie mag vir ons na museumstukke lyk. Die sug na “goeie regering” en die regsorde het egter nie verdwyn nie, al gebruik ons woorde soos “dienslewering”. Ook ons kla dat regeerders ontrou word aan hulle taak om aan mense reg te verskaf, maar ook ons, nes die regeerders, soek ons heil sonder verwysing na God.

In een opsig het die oorgang van koningskap na demokrasie ’n verandering gebring. Alles hang nie bloot van ons “konings” (regerings) af nie; burgers wat hulle eie burgerlike pligte versuim, kan nie alle skuld op die regering pak nie. Die “demokratisering” het nog vroeër in die geloofsfeer gekom. Die Nuwe-Testamentiese volk van God het nou self die “koningsamp”, want elkeen het direkte toegang tot God deur Christus. Ek self dra nou voor God die verantwoordelikheid vir die “koninkryk van my lewe”, wat my verhoudinge met ander mense en met die natuur insluit. Christene wat juig dat hulle “koningskinders” is, die voordele van hierdie status gretig aangryp en die meegaande verantwoordelikhede heeltemal versuim, lyk nie veel anders as Israel se konings nie.

Hierdie toepassing mag nie tot moraliserende prediking lei nie. Die preek “Hoe moet ons ons koninklike taak uitvoer?” verwring die gedeelte se boodskap heeltemal. Die punt is eerder dat die “goeie” aardse konings (soos Hiskia) steeds klaaglik te kort geskiet het en dat slegs God enigsins die orde kon herstel. Miskien is juis die “onrealistiese” droom van vers 6-9, gelees in die lig van die ekologiese krisis, ’n aanduiding van hoe magteloos ons staan sonder God se herskeppende werk. Ekologiese moralisering is dus ook onvanpas. Soos ons nie vrede kan nastreef en dan vir God as bondgenoot kan inroep nie, kan ons God ook nie annekseer vir ons kruistog om die planeet te red nie. Die belofte dat God se regverdige oordeel nie God se trou uitwis nie, is ’n geloofs-boodskap, nie ’n oproep tot “goeie werke” nie.

Preekvoorstel

Ek sou vers 5 as sleutelvers kies, met klem op die woorde “geregtigheid” en “trou”.

By die prediking van hierdie gedeelte, moet die teksgedeelte van die vorige Sondag in berekening gebring word. Albei gedeeltes het immers met vrede te make en albei sien vrede as gevolg van die herstel van die regte orde. Hierin staan God se beloftes en handelinge voorop. Ons kan nie met ons drang na vrede by God uitkom nie; alleen as God se wil geskied “op aarde soos in die hemel”, kan ons op vrede hoop. Hierdie terugverwysing kan die preek inlui.

Die eie van hierdie gedeelte is dat dit op die koningsamp (regeringsamp) as bemiddelingsamp fokus. Hoe word God se heerskappy op aarde vergestalt en God se orde gehandhaaf? Alle mense, nie net gelowiges nie, deel die besef dat ons ons lewe en ons leefwêreld moet reguleer (regstel, orden, in orde kry) om in vrede en welvaart te lewe. ’n Soort “regering” is dus nodig. As ons egter bysê dat God die Allerheerser is en dat die “regte  orde” God se orde is, is hierdie regeertaak ’n bemiddelings-taak.

Hiervoor het God met die skepping alle mense aangestel (Gen 1), maar die mensdom het misluk. Mense kon nie eens hulleself beheers nie (die sondeval). Daarom roep en salf God besondere verteenwoordigers om op verskillende gebiede leiding te neem. Deur hulle bemiddeling kry God se orde gestalte op aarde, sodat God se vrede (herinner hier dat vrede in die OT ’n omvattende betekenis het) kan heers. Veral konings het in Israel hierdie rol beklee. Hier kan kortliks verwys word na die ou koningideologie en die verwagtings wat mense van konings gekoester het.

Oor die algemeen het die konings ook misluk, soos die profete telkens moes uitwys. Eerder as om God te verteenwoordig en God se reg te handhaaf, het hulle God probeer vervang, die reg in eie hande geneem en oor mense geheers in plaas daarvan om vir hulle te heers. Omdat hulle eiemagtige regsoordele skeef was, is hulle self veroordeel. Profete het hierdie oordeel bemiddel.

Noodsaaklike profetiese kritiek kan egter nie die “regeerfunksie” vervang nie (beklemtoning omdat selfs teoloë hier soms oppervlakkig dink). God se geregtigheid vereis dikwels kritiek, maar God se trou vereis ook skeppende en herskeppende handeling. God het immers nooit die skepping, geen enkele deel daarvan, “laat vaar” (aan die sonde oorgelaat) nie. Naas gereg-verdigde kritiek moes daar ook positiewe herstel kom.

Jesaja 11:1-10 worstel met hierdie probleem. Israel se konings, selfs die uitverkore Dawidshuis, kon die mas nie opkom nie, dus moes die vrugtelose boom afgekap word. Wat word nou van God se beloftes? Die beeld van die boom wat weer uitspruit, herinner ons dat selfs in die natuur ’n skynbare einde ’n nuwe begin kan aandui. Die ruigte van eiebelang en magsbeheptheid moet verdwyn sodat ’n nuwe lewensboom kan groei. Die boombeeld is gepas omdat bome in die Ou Testament dikwels lewenskrag simboliseer.

Die eerste wat oor die komende koning gesê word, is dat hy deur die krag en wysheid van God se Gees optree. Werklike verteenwoordiging, eerder as eiemagtigheid en eiewysheid, is dus hier ter sprake. Bowenal regeer hierdie koning in die “vrees van die Here”, dus met ontsag vir God se eie uiteindelike heerskappy. Dit is asof God self deur die koning aan die stuur is.

Daarom word die goddelike orde herstel. Die eerste “begunstigdes” is die noodlydendes van elke soort. Die “geweldenaars” (ook van elke soort) word getem, maar sonder “kragdadigheid”. Met die woord alleen oorkom hierdie koning alle teenstand. Inderdaad tree die koning met goddelike insig op en nie volgens die oppervlakkige insig van mense nie (vgl hier 1 Kon 16:7). Die uitspraak dat al die koning se handelinge uitgaan van “geregtigheid en trou” toon verder dat hy inderdaad God self verteenwoordig, want hierdie eienskappe van God word telkens in die Ou Testament genoem.

Hieruit spruit die omvattende vrede van vers 6-9. Die koning vermag veel meer as wat enige aardse koning ooit kon. Al het die ou koningideologie die koning verantwoordelik gemaak vir die vrugbaarheid van die aarde, was dit nooit meer as ’n ydele droom nie. En hier gaan dit veel verder, want selfs vrede tussen mens en dier en dier en dier kom tot stand. Waaroor mense nooit enige beheer gehad het nie, kom tot stand as God werklik op aarde verteenwoordig word.

Kan so ’n koning ’n mens wees? Kan enige mens God voldoende verteenwoordig? Vanuit die Nuwe Testament moet ons sê dat hierdie koning God is . . . en mens! God wat vir ons slaaf geword het en mens wat weer in koningsheerskappy herstel is (Hier kan Jesus se natuurwonders genoem word). In hierdie koning kom God se geregtigheid en trou volkome tot uitdrukking.

Nogtans gaan die evangelie van Jesus Christus nog verder as die reeds verstommende profetiese visie. Dieselfde koning verteenwoordig ook volledig die mensdom – in hulle sondigheid! Die koning kom en bring God se oordeel deur dit self te dra. Hy kom “nie om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” Groter as God se geregtigheid en trou is God se eindelose liefde.

As ons die vredesvisie van die laaste verse teen hierdie agtergrond lees, dat dit nóg ’n ydele droom, nóg ’n menslike haalbare werklikheid is. Waar God se liefde geopenbaar word, alleen daar, word leeus lammetjies . . . en sondaars kinders van God.

Bibliografie

Kommentare: J Blenkinsopp (Anchor); C Seitz (Interpretation); J Oswaldt (NICOT), M Sweeney (OTL); JDW Watts (Word); H Wildberger (BKAT).

Preekstudie: Jesaja 11:1-10

Teks

Verskeie vrae rondom hierdie gedeelte vra onmiddellike aandag:
1. Vers 2-4 stem ooreen met Miga 4:1-3 en vers 5 wyk slegs effe af van Miga 4:4. Hierdie ooreenstemming kan op vier maniere verklaar word: Jesaja se woorde is verkeerdelik aan Miga toegeskryf; Miga se woorde is verkeerdelik aan Jesaja toegeskryf; beide Jesaja en Miga haal aan uit ’n bestaande bron; of die samestellers van die profeteboeke het hierdie gedeelte veel later by beide boeke ingevoeg. Al kan ons nooit seker wees nie, lyk Wildberger se verklaring dat beide profete bestaande woorde uit die kultus (uit ’n psalm of liturgie) aanhaal, die aanvaarbaarste. Immers, predikante haal vandag nog dikwels aan uit gesange, belydenisse of formuliere.

2. Hiermee hang die vraag saam of 2:1-5 as slot van hoofstuk 1 of as inleiding tot hoofstuk 2-4 (wat ’n eenheid vorm) gelees moet word. In die profeteboeke word oordeelswoorde (soos in hfst 1) dikwels gevolg deur heilsbeloftes. Dan sou 2:1-5, wat na die verre toekoms verwys, gepas wees na die aankondiging van onmiddellike oordeel in hoofstuk 1. Ander meen egter dat die heilsbeloftes in 2:1-5 en 4:2-6 die onheilswoorde van 2:6 tot 4:1 omraam. Ek verkies die tweede opsie, omdat 2:1, ’n opskrif wat die gedeelte van hoofstuk 1 skei, moeilik wegverklaar kan word.

3. Waarom vind ons in vers 1 ’n tweede inleiding (na 1:1)? Die eenvoudigste is om te aanvaar hoofstuk 2-4 was ’n aparte versameling Jesaja-woorde, met opskrif en al in die boek ingevoeg.
Die keuses wat ek bo gemaak het, maak dit onnodig om oormatig te tob oor die tydsomstandighede waarin hierdie teks geskryf is. Die woorde van die kultus (erediens) is byna tydloos. Ons sing steeds stokou gesange en bely ons geloof “met die kerk van alle eeue” – in woorde wat in die eerste Christelike eeue beslag gekry het. Dit is nie toevallig nie en nog minder ’n aanduiding dat die kerk “ouderwets” is. Oor wetenskap en tegnologie, oor politiek en ekonomie, selfs oor opvoeding en kultuur, moet ons altyd nuut, eietyds, praat. Oor lyding en liefde, oor geregtigheid en genade, oor verlange en vrede, praat ons harte altyd dieselfde, al is dit ook in hoeveel tale.

As ons die woordlose en uiters eenvoudige taal van die hart in woorde omsit, word ons noodwendig digters. Ons gebruik tydsgebonde beelde en simbole uit ons leefwêreld, wat latere lesers weer moet hervertaal. So gaan dit ook hier: nie alles sal onmiddellik vir moderne lesers glashelder wees nie. Nogtans kan ons met ’n bietjie geleerdheid, ’n rapsie raaiwerk en ’n titseltjie verbeelding oor hierdie hekkie kom. Ek sal hiermee probeer help. Die beste hulp ter wêreld bring ons almal egter bloot voor die skrikwekkende eenvoud van die gedeelte. Daar lê die groot sprong, waar elkeen haar of sy eie lewe en – wat dikwels swaarder is – lewenswyse op die spel moet plaas. Daarsonder kan ons die teks verklaar, maar nie verstaan nie.

Vers 2 veronderstel die oud-oosterse gedagte dat die gode op bergspitse tuis was. Die gedagte spruit uit die algemene simboliek, steeds veranker in ons taal, wat hoogheid en verhewenheid met mekaar verbind. Ook vir Israeliete was Jahwe (die Here) se “tuiste” (soos immers die tempel) op die berg Sion, of hulle dit nou letterlik of metafories verstaan het. Hierdie vers, altans, kan nie naïef-realisties verstaan word nie, want Sion, wat nie danig hoog is nie, word hier as ’t ware bo-op al die ander berge en heuwels geplaas. Kortom, die Here troon uit bo alle aardse en boaardse magte. Godeberge is ook dikwels beskou as wêreldsentrum, “die naeltjie van die aarde”, waar aarde en hemel met mekaar verbind was. Pelgrims het daarheen gestroom om te aanbid en goddelike seëninge het daarvandaan uitgegaan. So, sê ons vers, sal die tempel van die Here almal se fokus, die oriëntasiepunt van hulle lewe, word (3).

Ook die beeld van “weg” (pad, wandel) as lewenswyse bly veranker in ons tale (in Sjina Tao en in Indië Dharma). Om jou bestemming te bereik, moet jy die “regte pad” vind, anders verdwaal jy en mis jou doel. Dit verklaar waarom “wet” hier as iets begeerlik gesien word, terwyl ons geneig is om terug te deins vir wette. Tora is inderdaad eerder “wegwyser” as “wet”. Dit help mense om hulle weg deur die wêreld te vind en in die ware sin “vooruit te gaan”.

Dieselfde geld vir “oordeel” en “regspreek” in vers 4. Vir ons beteken “oordeel” meestal “veroordeel” en is “regspraak” gemik op misdadigers. Israeliete (en hulle bure) het dikwels uit die ander hoek gekyk. Vir hulle het “oordeel” meer dikwels beteken “om weer te verdeel sodat almal hulle regmatige deel kry” en was regters eerstens beregters. “Regspraak” is immers in wese regstellende aksie, daarom was regspraak, veral ten behoewe van armes en verdruktes, ’n kernfunksie van konings. Des te meer, natuurlik, van die Goddelike koning.

Eers dan kom ons by die bekendste woorde van hierdie gedeelte, die belofte van vrede. Uit oorlogstuie word lewenstuie gemaak, sodat die materiaal wat eens verwoes het, nou kan voed. Hier sou ons graag wou begin, want hierdie visie gryp ons steeds aan. Maar, soos geleerdes al dikwels opgelet het, die vrede waarvan die Ou Testament praat en wat veel meer is as die afwesigheid van oorlog, is die keersy van geregtigheid, die regte orde tussen God en mens en mens en mens. Waar geregtigheid ontbreek, help dit nie om “vrede, vrede” te preek nie. Ons kan nie “om vredesnaam” met ongeregtigheid, magsbeheptheid en selfvergoddeliking saamleef en hoop dat God en ons medemense daarmee tevrede sal wees nie.

Vers 5 moet saam met die eerste woorde van vers 2 gelees word. Die oproep aan Israel – en aan ons – word gemotiveer deur te verwys na wat “sal wees”, nie deur wat hulle met hulle optrede kan bereik nie. Hier laat die teks ons wonder – myns insiens doelbewus. Dit sê nie dat Israel niks deur hulle optrede kan bereik nie en ook nie presies wat hulle wel kan bereik nie. Elders is dit duidelik dat God se plan vir Jesaja voorop staan: mense kan dit nie verander of teengaan nie. Tog is mense, of hulle dit wil weet of nie, deel van God se plan. Eendag (die Hebreeus beteken nie heeltemal “aan die einde van die dae” nie) sal God se doel bereik word; vandag kan ons kies of ons saam met God wil streef en of ons nutteloos wil klou aan ons eie misplaaste doelwitte. En as ons reg kies, bereik ons dan iets? Hier raak “bereik” heeltemal dubbelsinnig. Bereik (vermag) ons iets of bereik (haal) ons bloot God se bestemming vir ons?  Of is dit God wat (in ons, met ons, deur ons) alles vermag? Moenie sit en wonder nie; kom, laat ons wandel in die lig van die Here!

Soms help ’n aanvanklike struktuuranalise ons om ’n greep op ’n Bybelgedeelte te kry; dikwels moet ons eers die teks volg om ’n greep op die struktuur te kry. Hier is die struktuur, wat vir die prediking deurslaggewend is, logies eerder as formeel. Dit volg dus nie presies volgens verse nie.

Wanneer:

  • God, verhewe bo alle aardse en boaardse magte, die fokuspunt, die sentrale magneet, vir alle mense word.

Dan:

  • Stroom mense van oral toe om God se weë te leer terwyl God se lering uitstroom in alle rigtings (die dubbele beweging).

Wanneer:

  • God herskeppend regspreek en so die regte orde herstel (vir almal beregtiging bring).

Dan:

  • Verdwyn twis en oorlog en word doodswerktuie lewenswerktuie.

Dit alles word omraam deur die inleiding en slot. Eersgenoemde praat oor wat in die toekoms sal gebeur. Dit is juis nie soos sake nou staan nie. Laasgenoemde is ’n oproep tot aksie in die hede. Juda (en ons) word opgeroep om te lewe vanuit die toekoms, nie vanuit die verlede of selfs die hede nie. So ’n lewe is enersyds toekomsgerig, maar beliggaam andersyds reeds iets van die toekoms. Dit is, op verskillende wyses, lewe “in die lig van die Here”.

Konteks

Selfs tydlose woorde is nie sonder konteks nie. Jesaja het stellig nie toevallig hierdie brokkie uit sy tradisie aangehaal nie. Juis oor vrede is daar ’n pynlike paradoks in sy prediking. Hy verdoem die magsug en politieke speletjies waarmee die heersersklas wat hulle heil in bondgenootskappe en wapentuig soek eerder as in bekering tot God, Juda in oorloë gedompel het (minstens twee in Jesaja se tyd). Tog, en juis omdat hulle God “tweede geplaas” het, voorspel hy oorlog as straf. Oorlog, wat in wese godsveragtend is, word deel van God se plan en word inderdaad deur God bewerk.

Twee kantaantekeninge is hier nodig. Eerstens durf ons nie met sentimentele vredesprediking die strydmotief in die Bybel ignoreer nie. Vers 4 word in Joël 3:10 onderstebo gekeer; Jesus sê dat Hy die swaard bring. Selfs die oordeel wat die regte orde herstel, het vir sommige ’n snykant. Daaroor laat Jesaja se uitsprake oor die (mis)leiers van sy volk geen twyfel nie. Tweedens maak die baie algemene mening onder geleerdes dat Jesaja, omdat hy as doemprofeet geroep is, nooit iets oor toekomstige heil sou gesê het nie, weinig sin. Selfs die gedeeltes wat nooit aan Jesaja ontsê word nie, dui daarop dat hy die oordeel voorgehou het as God se plan met Israel. Dit is bestraffing wat na die toekoms kyk, nie veroordeling wat slegs die verlede in ag neem nie.

Juda se posisie het al hoe benarder geword in Jesaja se tyd. Enersyds was daar die bedreiging van die wêreldmagte van Assirië en Egipte; andersyds het strydlustige bure Juda tot rebellie teen hulle oorheersers aangepor. Die oorloë wat hieruit gespruit het, het Juda tot op die rand van die afgrond gebring. Tog het die rykes hulleself steeds verryk ten koste van die armes; heersers het volgehou met hulle magspeletjies; aansienlikes het bly pronk met hulle statussimbole. Die ergste misdryf vir Jesaja is egter dat die Here vergete bly, want die oordadige godsdiens van die volk is blote skyn. In hulle trots en beheptheid met hulle eie sake, doen hulle hulleself kwaad aan (Jes 3:9), want hulle sien steeds nie dat bekering nodig is nie.

Jesaja gebruik dikwels beeldspraak van rigting en van hoog en laag om te dui op regte en verkeerde lewensingesteldhede. Juda mik in die verkeerde rigting, daarom is “bekering” (Hebreeus beteken “terugkeer”) nodig. Mense verhoog hulleself, daarom sal hulle verneder word. Dit is daarom gepas dat ook die belofte hierdie temas opneem.

Dit is skaars nodig om op ooreenkomste met ons tyd te wys en nog minder om ooreenstemming in alle fyn besonderhede te soek. Jesaja wil, glo ek, sê dat dit altyd min of meer so sal gaan wanneer mense hulle rug op God draai. Dan geld die “wet” van eiebelang en self-verheffing. As mense nie die Drie-enige aanbid nie, aanbid hulle die drie-eenheid van rykdom, mag en status. Niemand beoog hiermee oorlog nie, maar as ander met my om die rykdom, mag en status meeding, nou ja, dan is oorlog mos “onvermydelik”.

Preekvoorstel

In ons gewelddadige tyd is die versoeking groot om die ganse preek rondom die vredestema te bou. Al sou dit nie heeltemal verkeerd wees nie, sal dit die konteks ignoreer en die boodskap mateloos vervlak. Jesaja praat met ’n gehoor vir wie hy oordeel aankondig – die belofte hef die oordeel nie op nie. Bowendien gaan dit skaars om ’n blote heilsbelofte – daar sal weer beter dae kom. Die gedeelte sê eerder wat die voorveronderstellings van die heil is en bied so die basis vir die oordeel. “Omdat sake nou so ver van die ideaal verwyder is, moet julle nie vrede verwag nie.” Nogtans kan die preek met die vredestema begin en die gedeelte dan agterstevoor gepreek word.

Ons smag almal na vrede – of hoe? In die film Miss Congeniality sê al die deelnemers aan ’n skoonheids-kompetisie met fraai glimlaggies dat wêreldvrede hulle hartewens is. Desnieteenstaande sit ons steeds met “oorloë en gerugte van oorloë”. Waarom so?

Ons kan onsself gemaklik verskoon deur die vinger te wys na die maghebbers. Vir die kleinboere in Jesaja se tyd was oorlog ’n ramp en die fabriekswerkers en kantoorwerkers van vandag voel dieselfde. Die probleem lê by die grootbase se onversadigbare sug na rykdom, mag en status. Tog maak die fabriekswerker steeds oorlog met haar bure en die kantoorwerker met sy vrou. Maar, sal hulle sê, hulle het immers goeie rede daartoe. Ander bepleit hartstogtelik vrede sodat hulle in vrede hulle voorregte kan geniet terwyl ander krepeer.

Solank die regte orde ontbreek en mense hulle regte ontneem word, kan ons slegs skynvrede verwag en selfs dit word ondergrawe deur misdaad en twis. In Miss Congeniality maak die polisievrou onder die deelnemers die fout om te sê haar grootste wens is: “Harsher sentencing for parole violaters.” Omdat sy swakker afgerig is . . . praat sy die waarheid. Nadat ons vir haar flater gelag het, kan ons nadink oor ons hartewense. Hoër lone vir plaaswerkers? Gelyke behandeling vir vroue? Menswaardigheid vir almal? Oftewel, rykdom, mag en status, dikwels vir my en my groep.

Tog is sulke wense, met brokkies eiebelang en al, nie onredelik nie. Sonder die saad van “regspraak” kan ons nie die vrug van vrede verwag nie. Gelukkig weet ons elkeen presies hoe om die beregtiging te bewerkstellig. As almal maar na my wil luister – en as hulle nie wil hoor nie, moet hulle voel! Vrede vloei uit reg, maar ook ons oorloë (in die breedste sin) gaan oor “regte”, oor wat aan wie toekom, oor welvaart, bemagtiging en erkenning. Ek sal gou die foute van die maghebbers regstel . . . as julle vir my die mag gee om regter te speel.

Ons vredeswense en ons regsaansprake bly onversoenbaar tensy ’n Beregter van buite, wat reeds oor alle rykdom, mag en status beskik en dus geen “eiebelang” het nie, die orde herstel. Is hierdie Beregter dus ons eintlike hartewens? Miskien nie, want voor hierdie Regter moet ons almal magteloos en regteloos verskyn, gelyk in ons totale armoede en nietigheid. Ek, gelyk met my verkragter, my verdrukker, die verkwister, die bedrieër en die dronklap? Wat dan van die loon wat my toekom en die straf wat hulle toekom? A nee a, ek moet mos vir my regte . . . stry!

Ons kan nie vir onsself vrede bewerkstellig nie. Dalk wil ons nie regtig nie. Solank ons die Regter die reg ontsê om ons (nie net ander nie) te oordeel, kan die regsorde – en dus vrede – nie heers nie. Die voorveronderstelling daarvan is nie eerstens ons regsaansprake nie, maar God se regsaanspraak, God se aanspraak op ons lewe. Solank ons onsself blind staar teen wat ons opsluit wil hê, na onsself omsien, skep ons die onvrede waaronder ons ly.

Gelukkig hang dit nie van ons af nie. Vers 2 is geen wortel wat voor ons neus gehang word nie; dit sê bloot wat sal gebeur (die werkwoordvorm dui op stelligheid). Let op die rigting konsepte wat vers 2 en 3 oorheers. God is verhewe bo alles en almal; almal kyk en beweeg in God se rigting; almal soek God se rigting (weë); God se rigtingaanwysers (Tora) gaan na almal uit. Die regte rigting is die beginpunt van reg en vrede.

Die straf wat Jesaja aangekondig en self beleef het, het geen werklike bekering, rigtingverandering, bewerk-stellig nie. Omdat mense nie na die Regter wou gaan nie, moes die Regter na mense toe kom. Jesaja praat in vers 2 van die openbaring van God se heerlikheid en verhewenheid. Dit het nie presies so gebeur nie – dankie tog! Want eers het die Regter gekom as beskuldigde, die Alryke as kaalgestroopte, die Heerser as slaaf, die Here as Kneg. Jesus het kans gesien om dit te doen waarvoor ons steeds terugdeins: om van alle regte afstand te doen en te sê: “Nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.”

Presies so sien ons vandag God “verhewe”: verhewe aan die kruis, opgestaan uit die dood, en dan, daarna, verhewe aan die regterhand van God. Dit beantwoord twee vrae wat ons mag vra. Sou ek (sondige mens) enigsins die openbaring van God se heerlikheid en verhewenheid kon verdra? Sal dit my nie gans vernietig nie? Nee, want ons het reeds die heerlikheid van God se liefde gesienDie verhewe God is die Vader van ons Here Jesus Christus, wat sy liefde aan ons tot die uiterste bewys het, dit is die Een vir wie ons ook mag sê “Vader”.

Maar sal ons dan, al bly ons behoue, niks kan behou nie? Moet ons regtig elke begeerte wat diep in ons gewortel is, prysgee voor die Regter? Prysgee, ja, vaarwel roep, nee. Jesus het immers opgestaan en opgevaar in heerlikheid. Ons moet en kan ons Regter-Vader toevertrou met alles wat vir ons kosbaar is. Niks minder is genoeg nie, maar niks daarvan sal verlore gaan nie. As ons bly vassteek in ons sug na rykdom, mag en status, sal ons nooit sien wat in hierdie dinge steek nie.Wat daarin begeerlik is, is van God en wys na God. Daarom: “En al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

“Kom . . . laat ons wandel in die lig van die Here!” Kom laat ons, te midde van oorloë, soos vredesmense lewe. Ons mag hoop op die toekoms, omdat ons God in geloof vertrou. Ons vertrou God omdat ons God liefhet, omdat God ons eerste liefgehad het. As dit ons lewensrigting, ons oriëntasie, is, wandel ons in die lig. Het ons ’n wet nodig om die lig bo die duisternis, vrede bo oorlog, liefde bo haat, te kies? Hier het ons met die taal van uitnodiging en aanmoediging te make. As ons nogtans van tora (“wet”) wil praat, laat ons onthou: “All his biddings are to our delight” (CS Lewis).

In die slot kan dit beklemtoon word dat vrede nie iets is wat ons “in die eerste plek” kan nastreef nie. Vrede (en oorlog) kom altyd “in die tweede plek”, want dit is die vrug van ’n lewensingesteldheid.

Hierdie preek sal nie maklik wees nie.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.