Tweede Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Vandag se Skrifgedeeltes is ’n avontuur onderweg na bewustelike geestelikheid of innerlikheid. Calvyn het reeds gesê daar bestaan die nouste verband tussen die kennis van God en God self. Psalm 139 verwoord die verwondering wat gelowiges ervaar wanneer hulle besef hulle word deur ’n interaktiewe God geken (1, 14).

1 Samuel 3 skilder die verwondering van ’n jong seun wat ontwaak vir die self en God. 1 Korintiërs 6 brei ons Godbewussyn uit om ook die liggaam en etiese gedrag in te sluit. Johannes 1 wys hoedat Natanael besluit om Jesus te volg nadat hy besef dat Jesus hom ken (48).

Ander tekste

1 Samuel 3:1-10, (11-20)
Die eerste openbaring aan Samuel
3 Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie. 2Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was, 4en toe roep die Here na Samuel.
Samuel het geantwoord: “Ek kom!”

5Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
En Samuel het gaan lê.

6Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”

7Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie. 8Die Here het Samuel toe ’n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”
Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.
10Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”
En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

11Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ’n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met ’n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”

15Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”
Hy het gesê: “Ek kom!”

17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”
18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.
En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

Samuel, ’n betroubare profeet
19Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. 21Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.

1 Korintiërs 6:12-20;
Verheerlik God in julle liggame
12Daar is mense wat sê:
“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets
laat verslaaf nie.
13Hulle sê ook:
“Kos is vir die maag,
en die maag vir kos.”

Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. ’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.

15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ’n deel van Christus neem en dit ’n deel van ’n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met ’n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” h17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.

18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Johannes 1:43-51
Filippus en Natanael
43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”
44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.
45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”
46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”
49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien open afklim na die Seun van die mens toe.”

Fokusteks

Psalm 139:1-6, 13-18
U omsluit my van alle kante
139 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n
Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my,
o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.
19As U tog maar die goddelose
uit die weg wou ruim, o God!
Gaan weg van my af,
julle moordenaars!
20Dit is hulle wat bose planne
teen U smee,
wat so vals teen U optree.
21Moet ek u haters dan nie haat nie,
Here,
moet ek nie ’n weersin hê in mense
wat teen U in opstand is nie?
22Ek haat hulle met ’n uiterste haat,
want hulle is ook my vyande.
23Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie
op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

God nooi ons uit en ons kom tot rus
Lied 179 “Vader in die hemel, U beheer ons lewe, ons aanbid U vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Voorganger: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Gemeente: Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit.

Voorganger: U ken my gedagtes . . .
Gemeente:  . . . nog voordat hulle by my opkom.

Voorganger: Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit.
Gemeente: U is met al my paaie goed bekend.

Voorganger: U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Gemeente: Dié wete oorweldig my. Dis te hoog vir my
begrip (Ps 139:1-6 uit Preekstudies met liturgiese voorstelle 2012).

Seëngroet
2Aan die gemeente van God in ……………………….,  wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(1 Korintiërs 1:2-3)

Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Verootmoediging
Gebruik die fokusteks om vir ‘n oomblik verwonderd te staan voor die misterie van God se bemoeienis met veral die skepping en onderhouding van die mens.

U omsluit my van alle kante
Psalm 139
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.

13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my,
o God,
hoe magtig hulle almal!

Sang: Psalm 139:1 en 4 (Lina Spies)

Riglyn om te leef:
19Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. (1 Kor 6)

Psalm 8 (verwerk) as Geloofsbelydenis
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is ek dan
dat U aan my dink,
Wat is die mensekind dan
dat U na hom omsien?
6U het my net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en my met aansien en eer gekroon,
7U laat ons heers
oor die werk van u hande,
U het alles ons onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Liedere

F228. “Waarom Is Ek Hier?”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

1. Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-Refrein:
Is ek vir U behae beplan?
’n Kind van U familie?
Gemaak om soos U Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
As ’n nuwe mens
Lewe
As ’n nuwe mens
Wys my, lei my, leer my altyd om te
Lewe
As ’n nuwe mens

Brug:
Aanbidding, Familie, Mense wat soos U leef
Bediening, Sending
Hier om te kan sien  (x3)

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese Outeur: Richard Foster
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:

Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Skriflesing: Psalm 139:1-6, 13-18

Prediking

Familie-oomblik

Vanoggend se Psalm sê:  “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.”
Verduidelik vir die kinders hoe wonderlik God mense skape – selfs terwyl ons nog in ons mammas se mae is.  Jy kan uittreksel of twee uit National Geopraphic se “In the womb” wys (dit is geredelik beskikbaar, maar jy kan dit bestel) . Of gebruik jou gratis FLV Converter om hierdie video af te laai. – dit verduidelik die ontwikkeling van ‘n fetus.
Hier kan jy ‘n klomp foto’s met inligting oor die ontwikkeling van die fetus kry.

Vertel  vir die kinders goed soos:
Op dag 22 begin die fetus se hart klop met haar eie bloed – dikwels ‘n ander bloedgroep as die ma s’n.
Aan die einde van week 3 begin die fetus se ruggraat en senuweestelsel vorm.  Lewer, niere en ingewande begin vorm aanneem.
Week 5 begin oë, bene en hande ontwikkel.
Teen week 6 kan brein-aktiwiteit al opgetel word.  Daar is ‘n mond en lippe en haar vingernaels begin groei.
Week 7 skop en swem die fetus al.
Week 8 begin vingerafdrukke vorm en kan die fetus al hoor.
Week 9 kan die fetus al frons – en hik!
Week 11 kan die fetus al goed vashou en funskioneer alle organe.
Week 20 kan die fetus sy/haar ma se stem herken.

Preekriglyn

Adelaide is ‘n dorpie in die skilderagtige Oos-Kaap.  Dié dorpie het in die middel van die 19de eeu as ‘n militêre buitepos ontstaan.  Dit was die onstuimige tyd van verskeie Grensoorloë wat oor byna ‘n eeu gestrek het.  Na die tyd van oorlog het dit ‘n sentrum vir die omliggende boerderygemeenskap geword.  Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is dit deur die Britse magte beset.

Tydens hierdie besetting het die Britte die plaaslike NG kerkgebou oorgeneem en militêre barakke daarvan gemaak.  Die pragtige pastorie (vandag ‘n museum) is in ‘n perdestal omskep.  Die inwoners van Adelaide was bitter ongelukkig hieroor.  Hulle hande was natuurlik afgekap.  Mens kan net dink hoeveel bitterheid die disrespek van die militêre bevelhebbers veroorsaak het.

Natuurlik is die kerkgebou en pastorie in ‘n baie slegte toestand agtergelaat toe die oorlog eers verby was.  Geld was natuurlik skaars.  Almal op Adelaide was bereid om hulle tyd en energie te gee sodat die NG Kerk se gebou as aanbiddingsplek herstel kon word, maar daar was nie geld om die materiaal aan te koop nie.  Die plaaslike gemeenskap  kon nie voortgaan om die geboue te restoureer nie.  Die hartseer en teleurstelling was groot.  Gebede om God se hulp het gereeld opgeklink.

Toe gebeur ‘n wonderwerk!  Drie maande nadat die restourasieprojek laat vaar is, ry twee groot transportwaens die dorp binne.  Op die waens was goeie hout asook ‘n pragtige, handgekerfde preekstoel en ‘n bypassende stoel.  Die gemeente, ja, die hele gemeenskap was verbaas en verwonderd.

Almal het natuurlik gedink dat die Britte tog ‘n gewete het.  Hulle het hierdie waardevolle voorraad van Engeland gestuur om te sê hoe jammer hulle is vir die skade wat hulle aan die kerk se eiendom aangerig het.  Al die lelike name wat hulle vir die Britte gehad het, is teruggetrek.  Dié mense het toe tog ‘n hart, het hulle gedink.

Die verwonderde en verheugde mense van Adelaide het dadelik aan die werk gespring en binne ‘n paar maande was die kerk en die pastorie gerestoureer.  Alles was weer mooi.  Hulle kon op Sondae weer met blye harte kom aanbid.

‘n Rukkie later ontvang die burgemeester van Adelaide toe ‘n brief van die burgemeester van Adelaide in Australië:

Dit is met huiwering dat ons navraag doen of ‘n besending eikehout wat ons twee jaar gelede uit Engeland vir ons nuwe kerk bestel het, nie dalk per ongeluk by u dorp in Suid-Afrika in plaas van ons dorp hier in Australië afgelewer is nie.

Natuurlik was daar nie veel wat die burgemeester en dorpsraad van Adelaide kon doen nie.  Hulle kon net die storie van die Britse besetting en die skade vertel.  Daarmee saam stuur hulle toe foto’s van die gerestoureerde kerkgebou en pastorie.

Tot vandag toe staan mens verstom oor die manier waarop die Here werk en voorsien het in die herstel van die kerkgebou en pastorie.
(Hierdie verhaal word vertel in “God seën Afrika,” deur Ewald van Rensburg, Lux Verbi 2009)

‘n Goedgunstige werklikheid

Mense wat bid, staan dikwels verstom oor die positiewe reaksie op hul gebede.  Ons is nie alleen nie.  Ons is nie aan onsself oorgelaat nie.  Adelaide se mense het dit beleef.

Vir skeptiese Westerlinge is die gedagte dat gebede beantwoord word, dikwels bietjie dik vir ‘n daalder.  Dit is selfs bedreigend.  Ons wil daarom liewer van toeval praat.  Ons noem dinge wat reg uitwerk dikwels eerder geluk.  Die gedagte dat daar ‘n persoonlike God is wat reageer op ons lewe, wat ons gebede hoor en verhoor, is te veel om voor te hoop, of te vreemd om te bedink.

Die Bybel teken ‘n werklikheid wat baie groter is as wat ons kan sien, tas, hoor of ruik.  ‘n Bron van goedheid en lewe werk in hierdie werklikheid.  Dis ‘n wêreld waarin goeie dinge gebeur.  ‘n Wêreld met pyn en swaarkry, maar tog ook ‘n wêreld waarin daar uitkoms koms, waarin mense wat teen die grond lê opgetel en afgestof word.  ‘n Wêreld waarin ‘n beskadigde kerkgebou wonderbaarlik met materiaal wat uit die hemel geval het, herstel kan word.

‘n Persoonlike wêreld

Die wêreld wat Psalm 139 teken, is so ‘n wêreld.  Die diepste karaktertrek van hierdie wêreld is dat dit ‘n diep verhoudingsgedrewe wêreld is wat in en uit die hande van ‘n kreatiewe Skepper-God lewe.

Die diepste karaktertrek van hierdie wêreld is nie dat dit deur natuurwette of fisiese kragte in balans gehou word nie.  Die mees fundamentele aard daarvan is nie dat voorspelbare reëls dit soos gladde klokwerk laat tik nie.

Die diepste karaktertrek van ons wêreld is dat dit God se wêreld is, in God se hande, geken, gebou, voortdurend geskep, deur ‘n lewende Here wat daarvoor sorg en dit wonderbaarlik en kreatief in stand hou.

Psalm 139 oor God se wêreld

Psalm 139 se boodskap is presies dit: die wêreld leef ten nouste in verhouding met God.

Die Psalm is ‘n gebed waarin bely word dat die Here ons ken.  Die Here ken ons gedagtes, Hy skenk die lewe en krag wat ons laat reis of oorbly
U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my,
Dit is te hoog vir my begrip (5-6).

Hierdie diep wyse waarop God sy mense en sy skepping ken, is gebore uit die feit dat God die oorsprong van die skepping is.  Die psalmdigter loof God omdat God hom geskep het, aanmekaargeweef het.  God is die oorsprong van sy bestaan:

Geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot (15).

Verhoudinge sentraal

Die diepste grond van ons bestaan is dus die feit dat ons deur God geken word en dat ons in ‘n verhouding tot God staan.  God skep ons as’t ware van oomblik tot oomblik vanuit hierdie verhouding.  God hou ons in stand, bewaak en versorg ons.

Daarom sê ons die diepste lewensbeginsel van ons wêreld is nie wetmatighede nie, maar die feit dat dit in God se hande ingebed lê.

Gebed sentraal

Vanuit hierdie verwondering oor God se diep ken van die mens, en God se versorging, reageer die psalmdigter in gebed teenoor God.  Die digter spreek sy diepe verwondering oor God se volledige kennis van die mens uit (1-6), God se alomteenwoordigheid (7-12), God se albetrokkenheid (13-18) en God se leiding (19-24).

Verwonderde gebed is die gepaste reaksie op wie God is.  Gebed is die wyse waarop ons voor God se aangesig bly in die verhouding wat God met sy skepsele, waaronder die mens, moontlik maak.

Vanuit hierdie verwonderde gebed is dit vir die psalmdigter onmoontlik om selfs te bedink dat daar mense kan wees wat teen God in opstand kom (19-22).  Hierdie verse is byna ‘n verleentheid.  Die uiterste afgryse en teenstand van die psalmdigter vir mense wat nie in God se liefdevolle hande troos vind nie, verras ons.  Mens wil hierdie verse eintlik graag oorslaan.

Vlug vir God

Die gelowige se reaksie op God se alomteenwoordigheid, alwetendheid en albetrokkenheid, is een van troos.  Hierdie God wat ons ken, is ‘n God by wie ons veilig is.

Daar is egter ook mense vir wie God se alkennis uiters bedreigend is.  Ateïsme word selfs getipeer as menslike weerstand teen ‘n God wat alles weet en alles kan sien.  Mense wat nie vir God wil leef nie, kan dit nie met so ‘n God uithou nie.  Volgens die Bybel is die eindoordeel juis daardie tyd waar dit wat op aarde nie bekend is nie, vir almal bekend gemaak sal word.  God sal die boeke oopmaak, en almal sal sien wat die ware toedrag van sake is.  Só ‘n God is vir baie mense ‘n bedreiging.

Friedrich Nietzsche, Duitse filosoof,  is bekend vir sy God-is-dood opvatting.  Hy skryf in sy Thus spoke Zarathustra dat die mens God móés vermoor.  Die mens kan dit nie uitstaan dat ‘n hemelse Getuie van alles wat hy is en doen bestaan nie.

Die behoefte om van ‘n alwetende God ontslae te raak, word algemeen in die moderne lewensgevoel verwoord.  Bertolt Brecht, gevierde skrywer van Duitse toneel, en bekende Marxis (1898-1956), skryf in sy siniese en satiriese Dankkoraal:

Loof die nag en die duisternis
wat julle omvou!
Kom bymekaar.
Kyk op na die hemel:
vir jul is die dag reeds verby.

Loof van harte die swak
geheue van die hemel!
En dat hy nòg
weet van u naam, nòg van u gesig.
Niemand weet dat julle nog daar is nie.

Loof die koue, die duisternis
en die verderf!
Dink net daaraan:
Julle maak hoegenaamd geen saak nie.
En julle kan onbesorg sterwe.
(Aangehaal deur prof Dirkie Smit, Woord teen die Lig 6, p 32)

Waar Martin Luther God se nabyheid, en ons lewe voor God se aangesig, troosvol beleef en bely dat ons voor God se aangesig lewe (“God is nader aan ons as hemp of rok”), keer die moderne houding dit om.  ‘n Nabye God is ‘n bedreiging.  Daarom word God dood verklaar.  Die grond van ons bestaan word elders gesoek.

Herwin die troos van God se nabyheid

Die troos opgesluit in God se nabyheid het te doen met Wie God is.  Van God bely Psalm 139 dat God ons wonderbaarlik maak en ons wonderbaarlik onderhou.  God verras ons met God se sorg.  Ons staan verwonderd daarvoor.

As Nuwe Testamentiese gelowiges leer ons hierdie God nog beter ken.  Juis dié Een wat alles van ons weet, is die Een wat ons liefhet, en liefgehad het toe ons nog sondaars was.  Dié god aanvaar en bemin ons net soos ons is.  Dis nie nodig om vir God te vlug nie.  Dis nie nodig om met skynheiligheid die beste voetjie te probeer voorsit nie.  Hy ken ons.  Hy aanvaar ons.  Hy het ons lief.  Hy sluit ons in Christus in sy familie in.

Dit word die grond waarop onsself kan liefhê en onsself kan vergewe.  Dit word die veilige net waarin ons kan val, en getroos kan lewe en sterwe.

Leef uit God se leiding

Die psalmdigter sluit af met die behoefte om die lewegewende God na te volg.  Aangesien God alles ken, en alles dra, ken God ook die digter se hart.  Daarom bid hy: “Deurgrond my hart en lei my op die regte pad.”

Waar ons aan die begin van ‘n nuwe jaar staan, kan ons die jaar met vertroue binnegaan.  God dra alles.  God ken alles.  God ken ook vir my.  God dra ook vir my.  Ek kan God se leiding volg.

God stuur ons om te leef

God stuur ons om te leef

Gebed

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën: 2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.