Tweede Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die sleutelteks uit Korintiërs 6 fokus op die gedagte dat die liggaam van gelowige mense ‘n tempel is van die Heilige Gees en dat God daarom nie net met die gees van die mens nie, maar ook met die liggaam gedien moet word. Daarom waarsku die gedeelte ook teen seksuele losbandigheid. Die roepingsverhaal van Samuel (1 Sam 3) bevestig dat God mense roep om Hom met oorgawe te dien, en nie net gedeeltelik soos die seuns van Eli nie. Ook Jesus se dissipels (Joh 1) word geroep om Hom onvoorwaardelik en met oorgawe te volg. Psalm 139 bevestig dat God die mens in elk geval volledig ken en dat elke deel van die mens se lewe geborge is in God.

Ander tekste

1 Samuel 3:1-10, (11-20)
Die eerste openbaring aan Samuel
3 Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie. 2Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was, 4en toe roep die Here na Samuel.

Samuel het geantwoord: “Ek kom!”
5Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
En Samuel het gaan lê.
6Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
7Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie. 8Die Here het Samuel toe ’n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”
Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.
10Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”
En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

11Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ’n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met ’n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”

15Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”
Hy het gesê: “Ek kom!”
17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”
18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.
En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

Samuel, ’n betroubare profeet
19Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. 21Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.

Psalm 139:1-6, 13-18
U omsluit my van alle kante
139 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n
Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.

7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
uisternis so goed soos lig.

13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my,
o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.
19As U tog maar die goddelose
uit die weg wou ruim, o God!
Gaan weg van my af,
julle moordenaars!
20Dit is hulle wat bose planne
teen U smee,
wat so vals teen U optree.
21Moet ek u haters dan nie haat nie,
Here,
moet ek nie ’n weersin hê in mense
wat teen U in opstand is nie?
22Ek haat hulle met ’n uiterste haat,want hulle is ook my vyande.
23Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie
op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Johannes 1:43-51
Filippus en Natanael
43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”
44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.
45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”
46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”
48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”
49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien open afklim na die Seun van die mens toe.”

Fokusteks

1 Korintiërs 6:12-20
Hofsake tussen gelowiges
6 Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie? 2Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake? 3Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge. 4As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien? 5Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie ‘n enkele verstandige mens onder julle wat ‘n saak tussen gelowiges kan besleg nie? 6Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters?

7Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? 8In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander te kort, en dit doen julle aan medegelowiges.

9Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Verheerlik God in julle liggame
12Daar is mense wat sê:
“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets
laat verslaaf nie.
13Hulle sê ook:
“Kos is vir die maag,
en die maag vir kos.”

Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. ‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.

15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ‘n deel van Christus neem en dit ‘n deel van ‘n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met ‘n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” h17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.

18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Ekstra stof

1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid
Paulus spreek vervolgens twee verdere etiese kwessies aan: hoe om kleiner onderlinge verskille te hanteer, en hoe om seksueel onberispelik te lewe. Die hoofsaak in die eerste is om onreg te vermy, en in die tweede om onsedelikheid te vermy.

Paulus werk met die uitgangspunt dat die regstelsel van daardie tyd nie geestelik van aard is nie, en volgens menslike regsreëls gewerk het.  In die lig van die feit dat ware wysheid van God af kom (vgl hfst. 1:18-31) en gebaseer is op ‘n kruis-evangelie (2:1-5; ook vers 6-16), moet gelowiges nie van die regstelsel verwag om uitspraak te gee in sake wat primêr binne die gemeenskap van gelowiges hoort nie.  Hy noem die mense binne die regstelsel letterlik “onregverdiges” teenoor die gelowiges wat hy “heiliges” noem.  Omdat laasgenoemde weet wat God wil hê, moet hulle vertrou word om uitspraak in geskille te lewer, ‘n funksie wat selfs in die hiernamaals aan gelowiges toevertrou sal word (vgl ook Open 20:4).

Hy pas die kruisevangelie ook toe op dié wat onreg ly, dat hulle liewer self te kort skiet as wat hulle optrede ander ‘n onreg aandoen.  Daarmee gee hy natuurlik ook vir ons die sleutel om die lysie van “onregverdiges” te verstaan, want dit is oor die onreg wat onsedelikes, egbrekers, diewe en kwaadpraters aan ander doen, wat hulle nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (vgl ook Gal 5:19-22 waar hierdie tipe onreg met die vrug van die Gees gekontrasteer word).

Let op hoe Paulus die eerste perikoop afsluit met ‘n verwysing na vryspraak, en dan direk oorgaan na die verkeerde idee wat die Korintiërs het oor vryheid, asof dit geen perke het nie.  Die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginsel vraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie.

Hy pas dit dan toe op die seksuele lewe – hy sonder dit uit onder die lysie van sondes in vers 9-10 – en skiet die idee af dat seks op dieselfde vlak as eet lê.  Die Korintiërs het die spreekwoord: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos” ook op die liggaam en seks toegepas: “Seks is vir die liggaam, en die liggaam vir seks.”  Die vernaamste rede waarom so ‘n seksuele losbandige houding verkeerd is, is omdat gelowiges ‘n intieme verhouding met God het, en seksuele onsedelikheid en losbandigheid God deel sou maak daarvan.  En dit kan tog nie, sê Paulus.  Ons liggame is daar vir die Here.  Dit geld alle seksuele verhoudings wat nie binne die huwelik plaasvind nie, soos hy in die volgende hoofstuk uitspel.

Net soos die Gees die liggaam van die gelowiges as ‘n tempel gebruik (3:16-17), gebruik Hy ook die liggaam van gelowiges as tempel (6:19).  Ons behoort dus nie aan onsself nie, en moet God ook in ons liggaam verheerlik deur nie onsedelik te lewe nie.

Wat baie duidelik is, is dat Paulus ‘n baie hoë sedelike standaard daar stel waaraan gelowiges hulleself moet meet.  Omdat God deur sy Gees in ons woon, behoort ons nie aan onsself nie, kan ons nie net maak wat ons wil nie, kan ons nie eers op onreg reageer soos wat die wêreld dit doen nie, maar is ons gebonde aan ‘n ander stel reëls wat met omgee en opoffering te make het.  En daarvan is en was Jesus die uitnemende voorbeeld.  En dit is Sy voorbeeld wat ons moet navolg.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 189 of VONKK 146 of Lied 162

Votum: Psalm 139:13-18

Seën

Lofsang: VONKK 139 of Psalm 139 of Lied 184

Die Wil van God: Henri Nouwen in Bread for the journey

Toewyding: Flam 413 of Lied 308

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: Lied 254

Skriflesing: 1 Korintiërs 6:12-20

Familie-oomblik: Flam 234 of Lied 550

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 129 of VONKK 287 of VONKK 286 of Lied 286 of Lied 284

Seën

Respons: Een van die “Amen” liedere 312 – 315

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 189 “Vul My Hart, O Heer “[bekend:  “Change my heart, o God”] of
VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam“[bekend – Halleluja lied. Kan ook as toewyding of epiklese gesing word]
Lied 162 “U self het ons geroep, Heer”

Votum
Psalm 139:13-18
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my,
o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.

Seën

Lofsang: VONKK 139 Ek bewonder U, my Heer [nav Psalm 139] of
Psalm 139 of
Lied 184 “Lofsing die Here”

Die Wil van God
Henri Nouwen skryf in Bread for the journey: “In so many ways we use and abuse our bodies. Jesus’ coming to us in the body and his being lifted with his body into the glory of God call us to treat our bodies and the bodies of others with great reverence and respect. God, through Jesus, has made our bodies sacred places where God has chosen to dwell. Our faith in the resurrection of the body, therefore, calls us to care for our own and one another’s bodies with love. When we bind one another’s wounds and work for the healing of one another’s bodies, we witness to the sacredness of the human body, which is destined for eternal life.”

Tyd vir stil refleksie.  Jy kan bogenoemde aanhaling op die skerm gooi, of jy kan mense met vrae in refleksie begelei (onthou om genoeg tyd vir stil refleksie te gee).  Vrae soos:  dink aan maniere waarop mense se liggame in ons wêreld gebruik en misbruik word;  op watter maniere kommodiseer jy jou eie en ander se liggame;  Jesus se opstanding roep ons om anders te dink oor ons liggame – op watter maniere moet jy jou liggaam met meer liefde behande;  ander se liggame met meer liefde behandel?  Waar het jy verby ander se pyn gestap? Waar roep God jou om ander se wonde te erbind; om te getuig oor die heiligheid van ons liggame?

Toewyding
Flam 413 Ja, Ons Sal Praat En Ons Sal Sê of 
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer” (veral verse 2 en 3)

Geloofsbelydenis

Liedere

F189. “Vul My Hart, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Verootmoediging)  Oorspronklike titel:    Change My Heart, Oh God
Teks en musiek: Eddie Espinosa  Afrikaanse vertaling:     Pieter Malherbe 2007
Kopiereg: © 1982 Mercy/Vineyard Publishing/Administrasie deur Sheer Music Publishing.

Vul my hart, o Heer
met ’n nuwe gees.
Heer, verander my
laat my soos U wees.

Heer, in U hande is ek soos klei
vorm my en maak my
laat my soos U wees.

F413. “Ja, Ons Sal Praat En Ons Sal Sê”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Iné Stander © Brettian Productions

Refrein:
Ja, ons sal praat en ons sal sê
en ons sal gaan waar die Here wil hê.
Ja, ons sal praat en ons sal sê
en ons sal gaan waar die Here wil hê.

My lewe is u eiendom,
die prys het U betaal.
Ja, U was nooit ooit te besig
as die skares voor U staan.

Refrein:

Heer, neem my hand, my voet, my mond
Stuur my lyfie oral rond
Maak my hart vol van u Woord
Laat al my maats aan U behoort

Refrein:

F129. “Hier Is My Lewe”
(RUBRIEK: Flam – Lof, toewyding) Teks en musiek: Danie Botha © 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Heilig heilig my hande o Heer.
Heilig my lewe om u Naam te kan eer.
Heilig my voete my hart en verstand
dat ek kan wandel op die heilige pad.

Refrein:
Ek wil U loof uit ’n heilige hart.
Ek wil U eer soos die Gees my leer.
Hier is my lewe hier is my hart,
hier is my lewe ek kom lê dit nou neer.

2. Open my ore om U fluist’ring te hoor.
Reinig my denke in die wêreld verloor.
Gee my die krag om nou biddend te staan,
gedryf deur die waarheid, die Woord en U Naam.

Refrein 2:
Hier is ek Here met my hele bestaan,
nietige mens met my foute en al.
Gebruik wat U kan al is ek niks Heer.
Gebruik wat U kan kom verander my meer.

Refrein:

F234. “Ek Kan Sien”
(RUBRIEK: Flammikidz – Verwondering) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kan sien.
Ek kan hoor.
Ek kan my hande klap
en Jesus loof.
Ek kan sing.
En ek kan spring
en al my dankbaarheid
aan Jesus bring.

2. Ek kan draai.
Ek kan swaai.
Ek kan my arms lig
en hande waai.
Ek kan buig.
Ek kan juig
en aan die Koning
dank en lof betuig.

Dankie, Jesus. U is goed. (x2)

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig  Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

VONKK 287 “Die heerlikheid van God”
Irenaeus van Lyon: Gloria Dei est vivens homo – Die heerlikheid van God is ’n mens wat léwe
Nav Gen 1:27  Teks: Breda Ludik  2014 ©  Melodie: GLORIA DEI EST VIVENS HOMO – Cecilia van Tonder 2014 ©
Orrelbegeleiding; Gerrit Jordaan 2014 ©  Klavierbegeleiding: Francé Ludik 2014 ©  © 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – Menswaardigheid / Skepping en Onderhouding /  Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Die heerlikheid van God is ’n mens wat kan léwe,
wat vry en vol vreugde op aarde kan wees.
Die heerlikheid van God is ’n vrou wat haarself is,
’n man wat homself is – ’n mens waarlik méns,

Refrein:
Gaan vul die hele aarde, gaan heers oor die see –
gesante van die Here wat lewe tot sy eer.
Die beeld van die Vader, die Seun en die Gees
is sigbaar in die wêreld, is ingebrand in ons.

2. Die vreugde van my Heer is waar hemel en aarde,
my gees en my liggaam, in menswees versmelt.
Die vreugde van my Heer is my denke, my dade,
my lag en gebede, my lewe, my hart.

Refrein:
Gaan vul die hele aarde, gaan heers oor die see –
gesante van die Here wat lewe tot sy eer.
Die beeld van die Vader, die Seun en die Gees
is sigbaar in die wêreld, is ingebrand in ons.

VONKK 286 Na u beeld, Heer
Teks: Hannes van der Merwe  2014 ©  Musiek: ANTHROPOS – Cecilia van Tonder 2014 ©
© 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK:  Kontemporêr – Menswaardigheid / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Na u beeld, Heer, het U my geskep;
deur u asem my lewend gemaak,
sodat ek nou voor u oë mag leef,
in u Naam die wêreld mag raak.
Ek is mens voor U, ek is mens voor U,
deur u liefde as waardig verklaar.
Ek is mens voor U, ek is mens voor U,
dat die wêreld u liefde ervaar.

2. Maar as mense selfsugtig bly leef,
word ons wêreld so stukkend en seer.
En ons sien die ander mens nie raak,
soos onsself ons lewe beheer.
Hy is mens voor U, sy is mens voor U,
deur u liefde as waardig verklaar.
Hy is mens voor U, sy is mens voor U,
dat die wêreld u liefde ervaar.

3. Maar U maak ons u liggaam, o Heer,
om u hande en voete te wees.
En U maak ons lede van mekaar,
saamgebind deur Christus se Gees.
Ons is mens voor U, ons is mens voor U,
deur u liefde as waardig verklaar.
Ons is mens voor U, ons is mens voor U,
dat die wêreld u liefde ervaar.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Lied 254 “Spreek Heer” [nav die Samuel-teks van vandag]

Skriflesing: 1 Korintiërs 6:12-20

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Met kleiner kinders kan jy fokus op hoe spesiaal en kosbaar ons liggame is.  KidsXpress het ‘n hele reeks hieroor, getiteld “Wikkelwurms”.  Gesels oor die manier waarop God ons liggame gemaak het en hoe ons liggame verskil.  Wys verskillende haarkleure, oogkleure, ens.  Herinner almal telkens daaraan dat God dit alles gemaak het en daarvan hou.  Laat almal bv. aan hul neuse vat.  Dalk kan hulle vir mekaar sê watter vorm hulle neuse is (hul eie neuse, nie die ander een s’n nie!).  Herinner hulle dan weer dat God elkeen gemaak het en daarvan hou.

CLF het oulike pamflette vir kinders wat gaan oor lyfies en sake rondom lyfies, wat jy kan bestel en uitdeel, soos “Ek kan nee sê”.

As eksperiment t.w.v. volwassenes, kan jy dalk iets soos hierdie probeer.  Vra eers dat al die grootmense in hulle gedagtes dink wat hulle graag aan hul liggame sal wil verander.  Vra dan van die heel kleiner kinders wat hulle sal wil verander.

Sing liedjies wat dankie sê vir lyfies, soos

Flam 234 Ek Kan Sien of
Lied 550 “Twee ogies om Gods werk te sien”

Preekriglyn

Die gemeente in Korinte moes naby aan Paulus se hart gelê het. Hy skryf meer aan die Korintiërs as aan enige ander gemeente, en hy bespreek meer konkrete uitdagings in hierdie briewe as in enige ander. Hy ken die Korintiërs duidelik baie goed. Hulle het hom ook meer pyn besorg as omtrent al die ander gemeentes saam.

Wie was die Korintiërs? Dit was ‘n uiteenlopende groep mense, hoewel verenig deur hulle geloof in Jesus Christus. Van hulle was Joods, ander uit heidense agtergrond, sommige ryk en ander arm, geleerd en ongeletterd. Paulus weet hoe moeilik dit vir sulke uiteenlopende groepe kan wees om oor die sake van elke dag saam te stem. Daarby moes hulle hul geloof uitleef in ‘n vyandige omgewing.

Agtergrond

Die groter konteks vir ons teksgedeelte is die verdeeldheid in die Korintiese gemeente (hoofstukke 1 en 3) en die seksuele wangedrag in die gemeente waaroor Paulus berigte ontvang het (5:1). Daar was gevalle van Christene wat mekaar hof toe gevat het (6:1-8) wat Christene ‘n slegte naam in die omringende heidense gemeenskap gegee het.

Ons teks dien as’t ware as ‘n brug tussen die voorafgaande en die volgende hoofstukke. Die tema van ons teks word aan die einde van hoofstuk 6 aangedui: “Julle moet God in julle liggaam verheerlik” (20).

In die aanloop tot ons teks (die onmiddellik voorafgaande gedeelte) herinner hy die Korintiërs dat “mense wat onreg doen” nie deel sal kry aan die koninkryk van God nie (9), waarna Paulus ‘n hele lysie immorele gedrag beskryf. Dan stel hy sy argument op: die Korintiërs se sonde is afgewas, hulle is geheilig en vrygespreek in die Naam van Jesus en deur die werk van die Heilige Gees (11).

Daarmee is Paulus gereed om die spesifieke probleem van ons teksgedeelte aan te spreek. Die sentrale tema is ‘n saak wat Paulus herhaaldelik hanteer: “Aangesien ons deur genade vrygespreek is en nie langer onder die wet staan nie, wat is dan die grense van hierdie vryheid wat ons ontvang het?” Dis byna dieselfde vraag wat Paulus in Romeine aanspreek: “Moet ons aanhou sondig sodat die genade kan toeneem?” (6:1). In sy brief aan die Galasiërs spreek hy dieselfde saak aan: “Moenie julle vryheid gebruik as ‘n geleentheid om sonde te doen nie” (5:13).

Geen skeiding

In ons teks spreek Paulus Korintiërs aan wat gedink het die Christelike geloof gaan net oor die mens se gees. Die Griekse dualisme (skeiding) tussen liggaam en gees was ongetwyfeld hoe party van hulle se koppe gewerk het. Dualistiese denke beperk godsdiens tot die gees en siel. Dit dink godsdiens het nie regtig met die liggaam te doen nie, want geloof behoort tot die gees of siel. Wat mens dan met jou liggaam doen het niks met jou godsdiens te doen nie. As jy so dink, kan jy met jou liggaam doen wat jy wil – sonder dat dit jou geloof raak.

Paulus dink vanuit die Ou Testamentiese agtergrond waarvolgens die mens ‘n eenheid is. Die hele mens is die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 3:16-17) en misbruik van die liggaam is ‘n vergryp teen die Heilige Gees wat in gelowiges woon.

Ons teks help ons as moderne mense geweldig baie. Ons dink nog steeds godsdiens is iets vir die gees of siel, met min impak op ons liggame, besittings of die wêreld daarbuite. Die Griekse dualisme (skeiding) tussen liggaam en gees leef voort.

Dit lei tot die volgende probleem. Baie moderne mense meen ons is vry – vry om self te besluit wat vir ons reg of verkeerd is, vry om te kies wat vir ons werk en wat nie. Dit lei tot wanopvattings oor Christelike vryheid. Dieselfde probleem as wat Paulus 2,000 jaar gelede in Korinte aangetref het.

Uitdagende gesprek

Die opmerklike kenmerk van ons teks is die wyse waarop Paulus hier met die Korintiërs in ‘n werklike persoonlike gesprek tree. Hy gebruik ‘n kontrasterende styl van oorreding waar hy telkens ‘n opinie stel en dit dan uitdaag of kontrasteer met sy eie opinie.

Daarbenewens is retoriese vrae volop. Paulus span dit juis in om sy argumente te staaf. Hy sluit uiteindelik in vers 20 af met die hoogtepunt van sy argument: Duur is hulle gekoop. Daarom behoort hulle God in gees en liggaam te verheerlik.

Vervolgens word die inhoud van die perikoop in drie dele bespreek: 12-14, 15-17 en 18-20.

Heerskappy van Jesus

Die tema van verse 12-14 is: Christelike vryheid binne die raamwerk van die heerskappy van Jesus.

In vers 12 en 13 begin Paulus telkens die eerste deel op ‘n oënskynlik positiewe trant met ‘n aanhaling of slagspreuk (hetsy die Korinte se eie opinie, of meer algemene filosofiese slagspreuke van die tyd), wat hy dan in die tweede deel korrigeer met sy eie interpretasie (voorgestelde lees in kursief, gebaseer op die 1933-vertaling):

  • Vers 12a. Daar word gesê: “Alles is my geoorloof,” maarek sê vir julle:  “nie alles is nuttig nie.”
  • Vers 12b. Daar word gesê: “Alles is my geoorloof, maarek sê vir julle: “ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.”
  • Vers.13a. Daar word gesê: “Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak.”  Vers 13b. Maar ek sê vir julle: “En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam.”

Wat beteken die vryheid van volgelinge van Jesus vir hulle liggame, veral as dit lei tot die seksuele misbruik van hierdie vryheid? Twee maal herhaal Paulus die uitdrukking, “alles is my geoorloof” (12) en twee maal daag hy die uitdrukking uit. Die eerste maal met ‘n redelik voor die hand liggende stelling, naamlik dat alles nie noodwendig nuttig/bruikbaar is nie (en gevolglik nie hoef beoefen te word nie); die tweede maal deur aan te dui dat ‘n bepaalde beoefening van vryheid as ‘t ware net weer tot ‘n vorm van oorheersing (in die geval, ‘n slaaf van seksuele begeertes). Die misbruik van vryheid kan dus lei tot ‘n nuwe vorm van slawerny.

Selfs binne die Grieks-Romeinse konteks was beheer oor passies en begeertes ‘n deug om na te streef en is daar neergesien op “onbeheerste” persone. Die effek van onbeheerstheid was nie net sleg vir die individu nie, maar veral vir die gemeenskap wat daaronder ly.

Met verwysing na voedsel en die maag (13a) merk Paulus op dat die liggaam nie geskep is vir die bevrediging van behoeftes nie, maar vir die Here – en die Here vir die liggaam. Dus: die Here, sy heiligheid en sy verlossingswerk, het beslis ‘n effek op die manier hoe ons liggaamlik leef. Jesus het liggaamlik vir ons sonde gesterf, sodat ons liggaamlik vir die Here kan leef.

Liggaamlike opwekking

In vers 14 kom die hoogtepunt van hierdie deel van Paulus se argument ter sprake: Jesus is “in liggaam” opgewek (nie net in siel nie). Daarom geld dieselfde belofte vir sy volgelinge. Dieselfde krag wat die liggaam van Christus uit die dood uit opgewek het, sal ook die “liggame” van sy volgelinge opwek.

Hier is dus ‘n toekomsverwagting wat implikasies het vir sowel die hede as die toekoms asook vir beide die liggaam en die siel. Ons opstandingsgeloof, skryf Paulus, begrond in die liggaamlike opstanding van Christus, dwing ons tot die voortgesette morele waarde van ‘n liggaamlike bestaan.

Hierdie skakel tussen die opwekking van Jesus en gelowiges is wesenlik belangrik in 1 Korintiërs en sal in hoofstuk 15 ‘n hoogtepunt bereik. Paulus sê hier as ‘t ware: as liggaamlike wesens is ons deel van die opgewekte liggaam van Christus. Dit beteken ons liggaam verteenwoordig Jesus se liggaam. Hoe behandel ons hierdie liggaam? Hoe getuig ons met ons liggaam dat Jesus ons verlos het?

Eenheid met Christus

Die tema van verse 15-17 is: Eenheid met Christus en dit wat ‘n mens met jou liggaam doen.

Paulus gaan voort met drie stelle retoriese vrae om sy stelling in vers 13b te bevestig (in 15, 16, 19). Onderliggend aan al drie vrae is die Bybelse verstaan van heiligheid. Binne die raamwerk van heiligheid is grense en die nie-vermenging van kategorieë sentraal (sien bv Lev 11 en Deut 14). Vandaar maak dit sin dat Paulus homself so sterk uitdruk.

In vers 15 stel Paulus die kontras tussen gelowiges se liggame as lede van (die liggaam van) Christus, teenoor lede van (die liggaam van) ‘n prostituut. Dit gaan daaroor dat die Korintiërs faal om hulle verhouding met Christus bo enige ander verhoudings te stel, insluitende verhoudings wat porneia behels. Iemand wat in ‘n verhouding met Christus staan, kan nie terselfdertyd ook in ‘n verhouding met porneia wees nie. Deur prostitute te besoek, weerspreek die Korintiërs die heerskappy van Christus oor hulle lewe en ontken die opstandingslewe wat nog vir hulle voorlê. Hulle tree ook op ‘n manier op wat die liggaam van Christus skade en selfs geweld aandoen.

In vers 16 stel Paulus die kontras tussen verenig wees in “een vlees” met Christus, teenoor verenig wees in “een vlees” met ‘n prostituut. Die Korintiërs faal om die volle aard van hierdie soort seksuele verhouding te begryp: dit behels dat twee een word (soos die soort intimiteit beskryf in Gen 2:24). Seksuele omgang met ‘n prostituut is ‘n heelliggaam-ervaring, wat daarom nie eenvoudig afgemaak kan word as die bevrediging van drange (‘n “no strings attached” benadering) nie.

Hierdie soort intieme verbintenis is ook onversoenbaar met die gelowige se intieme, een-gees verhouding met die opgestane Here (17). Sodanige seksueel intieme taal as beskrywing van God se verhouding met sy kinders, is nie vreemd binne die konteks van die antieke wêreld nie (alhoewel dalk wel vir hedendaagse lesers). Meermale verwys die Ou Testament na die verhouding tussen God en die volk as ‘n huwelik en druk getrouheid (en ontrouheid) in seksuele terme uit. Paulus gebruik self ook graag die beeld (vgl 2 Kor 11:2). Die “geestelike” huwelik tussen Jesus en sy volgelinge impliseer ook ‘n bepaalde eienaarskap van hulle liggaamlikheid soos wat dit die geval is vir huweliksmaats.

Maar dit is ook meer as net “liggaamlike” eenheid wat tussen die Here en sy volgelinge veronderstel word; dit is juis ook ‘n geestelike eenheid. Die lewegewende Gees van God self maak hierdie geestelike eenheid moontlik.

Vermaning

Die tema van vers 18-20 is: Vermaning oor onversoenbaarheid tussen seksuele immoraliteit en Christelike identiteit.

Paulus se opdrag aan die Korintiërs is om hulle te weerhou van enige handeling van porneia. Dit is hulle identiteit in Christus. Daar is dringendheid in sy keuse vir die bewoording van die opdrag (18a): “vlug”.

Vers 18b bied die motivering vir hierdie opdrag om te “vlug”, naamlik dat sogenaamde “gewone” sonde wat ‘n mens doen, buite die liggaam is, maar wie porneia bedryf, sondig teen hulle eie liggaam. Die effek van seksuele immoraliteit is potensieel erger as ander sonde. Die veronderstelling is dat porneia die heerskappy van God oor die mens bedreig soos wat geen ander sonde kan nie.

Met “die liggaam” bedoel Paulus die fisieke bestaan as geheel. Die liggaam is eerder die netwerk van menswees in al die moontlike fasette waaruit dit kan bestaan. Daarom dat porneia ook elke deel van menswees affekteer, ten diepste die mens se verhouding met God.

Vers 19 beklemtoon hulle liggame is tempels: dit beteken hulle liggame is heilig omdat dit plekke geword het waar die Heilige Gees teenwoordig is. Sommige Korintiërs tree egter op asof dit nie die geval is nie. Daardeur vernietig en besoedel hulle die geheel.

Vers 19b-20a span die taal van slawerny in en eggo vers 12b. Aangesien God hulle “duur” gekoop het, is hulle onder ‘n bepaalde verpligting: om God te verheerlik in liggaam “en” in gees, want beide behoort aan God. Dit is eerder waarin liggaamlike verhoudings volgens hulle ware bestemming georden is: die heerlikheid van God wat Christus liggaamlik opgewek het en ons liggame ook sal opwek deur sy krag.

Positief oor seksualiteit

Mens moet versigtig wees om hierdie teks nie te lees as “moets” en “moenies” rondom seks nie. Dit klink dalk so. Ons moet onthou dit kom uit Paulus se afgryse oor die dualisme van die Korintiërs en die misbruik van hulle vryheid.

Sodra mens bietjie dieper delf kom jy agter hoe positief Paulus oor die liggaam en oor seksualiteit is. Vir hom is die seksuele nie “stout” of “‘n verkeerde ding” nie. Hy is positief dat ons liggaamlik geskep en liggaamlik deur Jesus verlos is. Ons roeping is om ons liggame vanuit ons verhouding met die Here te verstaan en te leef. Ons moet die Here met ons liggame verheerlik.

Hoe leef die gemeente?

Paulus se doel met die gesprek is groter as om net sg. individuele sondes te bekamp. Paulus is besig om die identiteit van die Christelike gemeente te beskryf. Hoe lyk die gemeente se lewe? Hoe lyk dit waar mense die vryheid wat Christus van die sonde bring, beleef? Wat is die geloofsbakens waarvolgens ‘n Christelike geloofsgemeenskap behoort te leef?

Hy praat met ‘n jong geloofsgemeenskap wat nog uitpluis wat vryheid in Christus beteken, en waar die grense vir hulle gedrag lê. Paulus herinner hulle dat liefdelose seksuele praktyke tussen (waarskynlike) vreemdelinge, slegs gerig op fisieke bevrediging, nie deel behoort te wees van die lewe van gelowiges nie. Fisieke bevrediging kan nie losgemaak word van ons geloof nie, want ons is fisies gered en ons verwag die fisiese opstanding van ons liggame.

S-woorde

Seksualiteit en spiritualiteit is twee belangrike woorde. Volgens Paulus raak die grense tussen seksualiteit en spiritualiteit onsigbaar vir mense wat hulle identiteit in Jesus Christus vind. Die een het alles met die ander te doen. Paulus het geen probleem om met gemak te benadruk dat God en God se verhouding met ons deel uitmaak van elke aspek van ons menslikheid nie. Inteendeel, hy verwoord in intieme liggaamlike taal die wyse waarop ons aan die Here verbind is.

Hoe bevrydend is dit nie om die vryheid van die opstanding so te mag vier nie! Deur die goeie, die mooi en die pret van ons liggaamlikheid en seksualiteit op ‘n gesonde en helende wyse uit te leef, verheerlik ons God. En Paulus nooi ons juis uit om dit te doen! So kan die liggaam die gees versterk en andersom.

Seksualiteit is ‘n uitnodiging tot ‘n diepe spiritualiteit en bewussyn van God.

Ongemaklikheid

Gegewe die Christelike tradisie se ongemaklike verhouding met seksualiteit (reëls eerder as viering, oordeel eerder as aanmoediging, stilswye eerder as gesprek), kan dit baat om op ‘n gepaste wyse tog hierdie doodnormale ervaring van menswees op die tafel te plaas en te vra:

  • Wat is dan gesonde en lewegewende seksuele praktyke, benaderings tot seksualiteit, in ons hedendaagse konteks?
  • Hoe behoort ons oor seksualiteit te praat – as en met kinders, tieners, paartjies, getroudes, enkellopendes, volwassenes, bejaardes, weduwees, wewenaars, geskeides?
  • Hoe begelei ons as geloofsgemeenskap ook mekaar as medegelowiges om self hierdie vraag te beantwoord (eerder as om ‘n bloudruk dokument vir mense in die hand te wil druk)?
Misbruik van vryheid

In ‘n gebroke wêreld soos ons s’n, kan ons ook nie anders as om onsself af te vra nie: Wat is die effek van die misbruik van vryheid ten opsigte van seksualiteit in ons eie konteks?

Die statistieke oor seksuele geweld en verkragting spreek vanself; ervarings hiervan is deel van elke gemeenskap in ons land – gelowig of nie. Pornografie en ander seksueel eksplisiete materiaal is vrylik beskikbaar (dink maar aan bemarking, musieklirieke, video-materiaal). Jong kinders en vrouens is dikwels slagoffers in die proses.

Prostitusie word oraloor bedryf. Sekswerkers se verhale is dié van seer en desperaatheid – tot bepaalde keuses gedwing ter versorging van kinders en oorlewing. “One night stands” is vir talle persone, jonk en oud, ‘n manier om vir ‘n oomblik te ontsnap uit ‘n sinlose bestaan; vir ander is dit eenvoudig ‘n manier om begeertes te vervul.

Wat is gelowiges se reaksie hierop? En waar bevind ons onsself in terme van hierdie wêreld? Hoe lyk die rol van die kerk – hulle wat deel het aan die liggaam van Christus – in ‘n konteks waar liggaamlikheid vir mense verskillende dinge beteken?

Ons gemeente

Ons gemeente het werk om te doen. Ons is geroep om ons verhouding met God getrou na liggaam en gees uit te leef. Ons druk ons oorgawe aan Jesus Christus met liggaam en gees uit.

Dit beteken dat ons moet afsien van sekere dinge. Daar is seksuele gedrag wat nie pas by Christene nie. Ons moenie daaraan deel hê nie.

Tweedens moet ons nuut leer praat oor die seksuele. Dit is deel van ons geloof om die Here seksueel liggaamlik te dien. Ons moet met ons kinders en jongmense daaroor praat. Ons bring dit in verband met ons verhouding met die Here, wie liggaamlik uit die dood opgewek is en ons liggame eendag nuut gaan maak.

Ons moet meer erns met ons liggame in ons geestelike byeenkomste maak. Ons moet meer lag en huil, meer beweeg en die Here loof. So skep ons ‘n geloofsgemeenskap wat weet dat ons liggaamlik tempels van die Here is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 129 Hier Is My Lewe of
VONKK 287 Die heerlikheid van God of
VONKK 286 Na u beeld, Heer of
Lied 286 “Here God van liefde” of
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën 

Respons: Een van die “Amen” liedere 312 – 315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.