Tweede Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Die tema van God se oorvloedige vrygewigheid is duidelik te sien in die vier tekste vir hierdie Sondag. Die fokus is die vrygewige Gewer se oorvloedige gawes aan die kerk. Vandag is die eerste Sondag van die nuwe skooljaar. Daarom bevat hierdie liturgie bepaalde voorstelle om verskillende ouderdomsgroepe by die liturgie te betrek. Hoe jongmense reeds deel is van die diversiteit van gawes wat in ‘n gemeente bestaan, kan liturgies ook mooi uitgebeeld word.

Die samehang van die vier tekste wat vir hierdie Sondag gekies is, is nie onmiddellik duidelik nie. Die Ou-Testamentiese tekste bevat verwysings na ‘n “nuwe dag” en “die lig van ‘n brandende fakkel” (Jes. 62:1), en “lig” (Ps. 36:10). Dit is bekende simbole van Epifanie. Johannes 2:1-11, oor die wonder by Kana, is ‘n bekende teks vir hierdie tyd van die kerklike jaar. 1 Korintiërs 12 het oënskynlik geen raakpunte met die ander drie tekste nie.

Cousar, Gaventa, Clinton McCann en Newsome stel egter die volgende gemeenskaplike tema voor: die ongelooflike vrygewigheid van God. Die digter van Psalm 36 getuig van God se “strome van goedheid” en dat Hy “die bron van die lewe” is. Die skrywer van Jesaja 62 kan hom skaars inhou. Jerusalem se redding is voor die deur. ‘n Nuwe naam sal aan Jerusalem toegeken word. Soos ‘n jong man vreugde vind in sy bruid, so vind God vreugde in Jerusalem en sal Hy haar aan die nasies voorhou. Die vrygewige Gewer van die verhaal in Johannes 2 is aan ons goed bekend, terwyl 1 Korintiërs 12 vertel van die Gees se oorvloedige gawes aan die kerk.

Sleutelteks

1 Korintiërs 12:1-11

BAIE GAWES MAAR EEN LIGGAAM
121Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 2Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. 3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.

4Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes,
maar dit is dieselfde Gees;
5en daar is ‘n verskeidenheid dienste,
maar dit is dieselfde Here;
6en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite,
maar dit is dieselfde God
wat al hierdie dinge in almal bewerk.
7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is:
8Aan een word ‘n woord van wysheid
deur die Gees gegee,
aan ‘n ander ‘n woord van kennis
deur dieselfde Gees;
9aan een geloof
deur dieselfde Gees,
aan ‘n ander gawes van genesing
deur die één Gees;
10aan een dinamiese kragte,
aan ‘n ander weer die gawe van profesie;
aan een die onderskeiding van geeste,
aan ‘n ander verskillende soorte tale,
en aan nog ‘n ander die uitleg van tale.
11Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil

Ander tekste

Psalm 36:5-10
Vir die koorleier. Van Dawid, die
dienaar van die Here.
2In die hart van die goddelose
het die opstand teen God
die laaste woord.
Die goddelose het geen vrees vir God nie
3en praat net goed oor homself.
Hy is altyd daarop uit
om kwaad te doen en om te haat.
4As hy praat, is dit kwaadwillig en vals;
verstandig wees en goed doen
bestaan nie vir hom nie.
5Selfs as hy gaan lê,
dink hy net kwaad uit;
hy bly op ’n pad wat nie reg is nie;
wat sleg is, verwerp hy nie.
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek,
tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
11Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.
12Laat my nie onder die voete
van eiegeregtige mense
beland nie,
moenie dat goddeloses
my hier wegdryf nie!
13Dié wat altyd onreg doen,
val net daar waar hulle is;
hulle word platgeslaan
en kan nie weer opstaan nie.

Jesaja 62:1-5
Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self

vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou
genoem word nie,
en jou land nie meer die een
wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land:
“Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ’n jong man met ’n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.

Johannes 2:1-11
Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”
4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”
5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”
Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 520 of Flam 534 of VONKK 360

Votum: Psalm 36:8-10

Seëngroet

Lofsang: Lied 532 of Flam 132 of VONKK 110 [bekend]

Toewyding – doopherinnering

Respons / Geloofsbelydenis: Flam 206 of VONKK 210 of Lied 290

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:1-11

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 211 of Lied 524

Seën

Respons: Een van die Amen-liedere

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

Lied 520 “Saam buig ons neer om God te eer” of
Flam 534 Wie kan na die hemel gaan en terugkom (In sy lig) (nav Ps 36:10; Jes 2:5) of
VONKK 360 Saam is ons byeen

Votum: Psalm 36:8-10
8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.

Seëngroet
Die Here na wie ons smag, die God wat gesê het “laat daar lig wees”, die Een wat as Lig vir ons mens geword het en die drie-enige God wat ons lewe verlig, groet ons elkeen vandag. Genade en vrede vir jou. Amen. (Uit “Woord en Fees 2021-2022”)

Lofsang
Lied 532 “O Vader neem ons hande” of
Flam 132 Uit Een Hart of
VONKK 110  Saam Wil Ons Die Here  (kanon) [bekend]

Toewyding – doopherinnering
Voorganger: Ons dink hier daaraan dat ons saam met Christus gesterf het en begrawe is deur ons doop.
Ons weet egter dat ons ook saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe.
Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat gemaak is by ons doop.
Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus.
Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Voorganger: Bely jy jou sonde met berou?
Gemeente: Ons bely ons sonde met berou.

Voorganger: Draai jy om na Christus toe?
Gemeente: Ons draai om na Christus toe.

Voorganger: Het jy saam met Hom gesterf?
Gemeente: Ons het saam met Hom gesterf.

Voorganger: Het jy saam met Hom opgestaan?
Gemeente: Ons het saam met Hom opgestaan.

Voorganger: Bely dan jou geloof in die drie-enige God.
Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het. Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het. Ek glo in die Heilige Gees wat my daagliks vernuwe en lei.
(deur Johan van der Merwe en Breda Ludik)

Respons / Geloofsbelydenis
Flam 206 Ons glo (Jesus Is Die Heer) of
VONKK 210 Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê of
Lied 290 Dit is my troos dat ek gedoop is

Liedere

F534. “Wie kan na die hemel gaan en terugkom (In sy lig)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: KrissTel
Kopiereg: © Urial Publishing
Ps 36:10; Jes 2:5
(Opgeneem op DuisLig2)

Wie kan na die hemel gaan en terugkom?
Wie kan die wind in sy hande vashou?
Wie kan die waters in ‘n jas toedraai?
Wie het die grense van die aarde bepaal?

Refrein:
Hy bring verborge geheime in die lig
Hy gee lig in donker plekke
Want by Hom is fonteine van lewe
In sy lig sien ons die lig

Wie het jou met sy hand gevorm?
Wie het sy asem in jou geblaas?
Wie kan gebroke harte heelmaak?
Wie het sy lewe vir die mens kom gee?

Refrein:

Brug: x2
Breek die lig deur
Breek die lig deur
In ons lewe

Refrein:

In sy lig sien ons die lig

F132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Geloofsbelydenis / Ekumene / die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song

1. Vader van liefde, bron van ons krag
ons bring in aanbidding ons loflied aan U.
Here U het belowe om hier by ons te wees
as ons saam is in u Naam, in waarheid en gees.

2. Jesus, ons Redder, Immanuel
ons kom ons lewens as lof-offer gee.
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
en aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring.

3. Gees van die waarheid, Helper uit God
leer ons om in liefde soos Jesus te dien.
En bind ons dan saam, Heer soos ons hier voor U staan
om met liefde in ons hart na die wêreld te gaan.

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”

(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis)
Teks: Nico Simpson
Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers
(Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

VONKK 210 “Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê”
Teks: Pieter Malherbe 2011 ©
Melodie: JOHAN SE BELYDENIS – Pieter Malherbe 2011 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Daleen Kruger 2012 (Pro Deo)
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Doop

1. Heer, U het die eerste woord gesê
en by die doop het U gewys dat U my wil hê,
dat ek in u hand kan lewe
en kan weet ek is vergewe –
by die doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.

2. Heer, U het my eerste liefgehad,
in die verbond hoor ek U praat
en U vat my hand.
Deur u bloed word ek beskerm,
U het U oor my ontferm.
By my doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.

VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here  (kanon)”
Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie
Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
© Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing

(1) Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.
Almal loof sy grote Naam!

(2) Hy is goed vir elk van ons;
dank Hom uit een mond tesaam.

(3) Een in Jesus, onse Heer;
wie Hom liefhet, gee Hom eer.

(4) In die Gees is ons tesaam.
God is liefde, roem sy Naam.

VONKK 360 “Saam is ons byeen”
Teks: Eet die brood met my – Jacques Louw 2017 ©
Melodie: OUPA PAUL BREMER – Jacques Louw 2017 ©
Orrelbegeleiding: Jacques Louw 2017 ©
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2017 ©
© 2017 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aaanroeping / Nagmaal

1. Saam is ons byeen, in Jesus is ons een.
Hy bind ons deur sy Gees saam in liefde
om ons, sy kerk, te seën.

2. Jesus maak ons vry, vir ons het Hy kom ly.
Kom en ontvang die vryspraak deur Christus
en weet jy’s waarlik vry.

3. Eet die brood met my en drink die wyn met my.
Kom en ontvang verlossing in Jesus
en deel die fees met my.

4. Wees in Christus bly en laat sy Gees jou lei.
Christus kom gee die lewe in oorvloed
vir dié wat in Hom bly.

5. Gee jouself aan Hom;  jy is sy eiendom.
Hy is jou troos in lewe en sterwe.
Vertrou alleen op Hom.

VONKK 211 “Heilige Gees, U, Die Trooster”
Teks: Pieter Malherbe 2011 ©
Melodie: UITGESTUUR – Pieter Malherbe 2012 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012
Musikale verryking 1: Gerrit Jordaan 2012
Musikale verryking 2: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Pinkster

1. Heilige Gees, U, die Trooster,
tree vir ons in by die Vader.
U ken die kreet van ons harte.
Laat ons u vrede ontvang.

2. Heilige Gees, U, die Leidsman,
leer ons die woorde van Jesus.
U gee aan elkeen ’n gawe.
Laat ons mekaar daarmee dien.

3. Heilige Gees, as Gestuurde,
stuur U ons uit in die wêreld.
U gee ons woorde van deernis.
Laat ons met vreugde getuig.
U gee ons woorde van deernis.
Laat ons met vreugde getuig.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:1-11

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Aangesien vandag die eerste Sondag in 2022 se nuwe skooljaar is, oorweeg dit om voor die tyd die graad 1-kinders en hulle ouers te nooi en te betrek by ‘n spesiale roetemerker wat op hulle oorgang na die laerskool fokus. Sien Roetemerkers (Greyling & Van Niekerk, Bybel-Media, 2019) vir ‘n liturgiese voorstel.

Jy kan ook oorweeg om ‘n “blessing of the backpacks” te doen. Lees Carolyn Brown se baie kreatiewe idees oor die eerste Sondag nadat die skool begin het – en haar gedagtes oor skool as roeping. (Hier is ‘n 2020 Kerbode artikel oor so ‘n seën-stuur diens.) Laat kinders kaartjies van ‘n gunsteling Bybelvers maak (of kies ‘n bybelvers). As jy dit kan laat lamineer, nog beter! Maak “tags” van die kaartjies deur sleutelringe daaraan vas te maak. Dié kan hulle dan aan hul skooltasse vasmaak.

Preekriglyn

“Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges.” So bely ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Wat word bedoel met die woord “heiliges”?

Die Latynse word vir “heiliges” ( sanctorum) het ‘n dubbele betekenis.

  • Dit kan in die eerste plek na mense verwys. In die sin is dit ‘n uitbreiding op die belydenis aangaande die kerk. Die kerk is ‘n gemeenskap van gelowiges, en die gelowiges word ook heiliges genoem.
  • Daar is egter ook ‘n ander moontlikheid. Die woordvorm in Latyn kan ook op “dinge” in plaas van mense dui. Dit sou daarop neerkom dat die kerk ‘n geloofsgemeenskap is wat gevorm word, en in stand gehou word deur heilige dinge.
Heilige dinge

Wat is die heilige dinge?

Die eerste ding waaraan gedink word, is die sakramente. Die doop en die nagmaal is heilige dinge waardeur ons in ons verhouding met die drie-enige God verenig word.

Die heilige dinge kan egter meer insluit, naamlik die oorvloed gawes van die Gees. Hieroor skryf die bekende Nederlandse teoloog AA Van Ruler in sy uitleg van die Apostoliese geloofsbelydenis

Is die heilige dinge dan nie ook (en dalk veral) die tallose gawes van die Heilige Gees wat aan gelowiges en aan die kerk geskenk word nie? Die gemeenskap van die heiliges beteken dan dat niemand iets vir hulself ontvang nie. Elkeen moet alles gewilliglik en met blydskap in diens van die andere stel, en in diens van die opbou van die hele gemeente en die hele kerk.

Veral in hierdie opsig raak ons aan die teksgedeelte in 1 Korintiërs 12. In die belydenis aangaande die gemeenskap van die heiliges, asook in die teksgedeelte gaan dit oor die Gees wat gawes aan elke gelowige gee met die oog op die opbou van almal. Die Gees gee nie vir elke gelowige in sy of haar persoonlike hoedanigheid alles nie. Elkeen kry wel deel aan die oorvloed van die Gees deur deelname aan die geloofsgemeenskap; deur deelname aan mekaar se lewe.

Kom ons staan vir ‘n paar oomblikke stil by ons teks.

Verskeidenheid dien eenheid

1 Korintiërs is Paulus se passievolle pleitrede vir die eenheid van die kerk. Dwarsdeur die brief spreek hy die verdeeldheid aan wat oor ‘n wye terrein in die gemeente voorgekom het. Dit sluit die rol in wat “spirituele” verskynsels tydens byeenkomste en die breër lewe van die gemeente gespeel het.

Paulus beklemtoon die veelkleurigheid en komplementêre aard van die geestelike gawes. Die geestelike gawes kan nie selfgerig, individualisties of verdelend verstaan word nie. Elkeen ontvang een of meer gawes wat die opbou van die hele gemeente ten doel het. Niemand het al die gawes nie. Ons het mekaar nodig.

Belangriker gawes?

Die onmiddellike aanleiding tot Paulus se intervensie in die teks onder bespreking, is die selfgenoegsaamheid van sommige gemeentelede. Hulle het sekere uitings, veral die spreek in tale, uitgesonder en verhef tot klinkklare tekens van die Gees se werk. Waar dié spesifieke uitingsvorme voorgekom het, het dit aan die gemeentelede status en mag gegee – status wat tot selfverheffing gelei het, en die mag om ander uit te sluit.

Dit is belangrik om raak te sien dat Paulus nie die genoemde probleem aanspreek deur die gawes ter sprake te diskrediteer nie. Hy spreek slegs die selfverheerliking aan waarmee mense met die gawes omgaan. Hierin volg hy ‘n vierledige strategie.

Eerstens: die gawes kom nie van ons af nie, maar van die Heilige Gees. Die Gees is die Bron daarvan. Geestelike gawes is nie ‘n natuurlike aanleg soos die talent om klavier te speel nie. Ons vermoë om sekere bedienings te behartig, asook ons ander godsdienstige prestasies kan net aan God se inisiatief toegeskryf word. Aangesien ons nie enige krediet vir ons geestelike gawes kan aanvaar nie, kan ons nie ons gawes gebruik om onsself te verhef nie.

Tweedens: Die Heilige Gees gee ‘n groot verskeidenheid gawes. Daarmee brei hy die verstaan van wat ‘n geestelike gawe is, uit. Paulus se lang lys van gawes impliseer dat die “sensasionele” gawes nie uitgesonder moet word as die enigste of ware gawes ten koste van ander nie. Hierdie uitgebreide lys van gawes dien as ‘n gelykmaker in die geloofsgemeenskap. Nie net sommige gawes nie, maar alle gawes kom van die Gees. Nie net sommige lidmate nie, maar elke lidmaat het ‘n gawe gekry.

Hierdie verskeidenheid kom van die ryke bestaan van God af. In God is daar meervoud, sê ‘n bekende teoloog. Die meervoudige lewe van die Vader, Seun en Gees kom tot uitdrukking in die diversiteit van gawes in die geloofsgemeenskap. ”

Derdens het die gawes ‘n uitdruklike doel, naamlik die opbou van die hele geloofsgemeenskap. Die geestelike gawes word nie aan individue gegee met die oog op persoonlike genieting nie. In plaas daarvan dat dit tot private mistieke ervarings en emosionele hoogtepunte lei, word die gawes gegee om aan die geloofsgemeenskap te kommunikeer, met die gemeenskap te deel en deur die gemeenskap benut te word.

Vierdens beklemtoon Paulus dat die werk van die Gees nie van die Persoon van Christus losgemaak kan word nie. Die Gees rig ons op Christus en wek by ons geloof in Christus. As iemand bely dat Jesus die Here is, is dit die vrug van die Gees se werking in daardie persoon. Die Gees manifesteer nie eers wanneer iemand “buitengewone” gawes ten toon stel nie. Diegene wat wel oor sekere “buitengewone” gawes beskik, moet daarom nie tot die gevolgtrekking kom dat die res uitgesluit is van die Gees se werking nie.

Spiritualiteit

Dit gee ‘n baie belangrike perspektief op spiritualiteit. Die woord “spiritualiteit”, die saak waaroor dit gaan, wek deesdae (steeds) baie belangstelling. Dit lyk vir my asof verdieping in spiritualiteit egter veral geassosieer word met afsondering, privaat geloofsreise en ‘n inkeer na binne.

Terwyl die waarde daarvan nie ontken kan word nie, wys 1 Korintiërs 12 en die belydenis aangaande die gemeenskap van die heiliges ons in ‘n ander rigting. Die Gees werk in die gemeenskap, in die openbaar. Om deel te kry aan die oorvloed van die Gees, moet die reisiger nie net na binne nie, maar ook na buite keer! Daar is ‘n belangrike verband tussen spiritualiteit, verdieping in spiritualiteit en die geloofsgemeenskap.

Geloof nie privaat nie

Die kerk worstel in hierdie tyd, die tyd van die Covid-19-pandemie, met moeilike vrae. Sommige vrae hou verband met die digitalisering van die kerk. Met die digitalisering van die kerk word bedoel dat die kerk in hierdie dae tot ‘n groot mate aanlyn funksioneer.

Kerk-wees kom nou na ‘n skerm in jou huis: ‘n selfoon-, rekenaar- of TV-skerm. Ons aanbid minder saam. Hoewel die inperkingsmaatreëls al verslap is, vind die terugkeer na ‘n meer fisiese vorm van kerkwees baie stadig plaas. Dit laat vrae ontstaan oor wat die toekoms inhou. Gaan die kerk van die toekoms hoofsaaklik digitaal funksioneer met ook ‘n gebou waar die minderheid mense fisies byeenkom? Of sal die omgekeerde gebeur, naamlik dat die meerderheid mense fisies vergader en die kerk ‘n kleiner digitale teenwoordigheid behou?

Kan ‘n skerm geloofsgemeenskap vervang waarin ons ons gawes vryelik met mekaar deel?

In die Apostoliese belydenis bely ons en in 1 Korintiërs 12 word dit uitdruklik gesê dat ons deel kry aan die oorvloed van die Gees deur deel te kry aan die lewe van die geloofsgemeenskap. Ons spirituele reis kan nie (net) ‘n privaat aangeleentheid wees nie; dit kan nie (net) ‘n reis na binne wees nie. Ons geloofslewe kan nie net tot die privaat ruimte van ons leefvertrekke beperk word nie. Die Gees trek ons in die openbare ruimte van die gemeenskap van die heiliges in om ons daar met sy oorvloed te seën.

Boodskap

Ons is tans in die tydperk van die kerkjaar wat as Epifanie bekendstaan. Dit verwys na die verskyning van die goedheid van God in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees.

Vandag ontdek ons dat die geestelike gawes waaroor ons beskik die wyse is waarop die Heilige Gees in die gemeente verskyn, om die gemeente op te bou.

Lees weer die lys gawes in ons teks. Daar is ook ander tekste in die Nuwe Testament waar gawes gelys word. Elkeen van ons het van hierdie gawes, maar nie almal nie. Ons is van mekaar afhanklik.

Dit beteken egter dat ek myself moet gee vir die gemeenskap van die heiliges. Ek moet my gawes beoefen en my gawes deel. Ek moet myself aan die geloofsgemeenskap skenk. Ek moet opdaag.

Die verskeidenheid is nie daar om verdeeldheid te bring nie, maar dien die eenheid. Ek moet so leef dat ek die eenheid en die opbou van die gemeente dien.

Die verskeidenheid gawes leer my dus ook nederigheid en om my plek te ken. God bedoel nie om alles deur my te doen nie. Ek moet hande vat met ander.

Ons leef in ‘n tyd waar mense ‘n hoë selfbewussyn het. Ons is geneig om te dink alles gaan oor ons. My wêreld draai om myself.

Ons teks help ons om onsself en ons plek in die lewe as deel van die geloofsgemeenskap te verstaan. My lewe maak sin omdat ek saam met ander deel is van God se gemeente. Daarin lê my identiteit en my vervulling.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer
Slotsang

VONKK 211 Heilige Gees, U, Die Trooster of
Lied 524 “God roep ons om met woord en daad”

Seën

Respons 
Een van die Amen-liedere

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.