Tweede Sondag na Epifanie

Picture of Woord en Fees

Tweede Sondag na Epifanie

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: 1 Korintiërs 1:1-9
Ander tekste: Jesaja 49:1-7; Psalm 40:1-11; Johannes 1:29-42

Inleiding

Die Griekse woord waarvan Epifanie afgelei is beteken “verskyning”. God maak sy verskyning in die gestalte van Jesus onder mense. In 1 Korintiërs 1 word die gemeente aangemoedig om getrou te bly aan hulle roeping deur al die wonderlike gawes waarmee God hulle geseën het, in gedagte te roep. Hulle verwagting van die tweede verskyning van die Here Jesus Christus vorm die basis daarvan. Jesaja 49 vertel van die getroue dienaar van God, wat nie net die lig vir Israel is nie, maar ’n lig tot redding van alle nasies tot aan die uithoeke van die aarde. Johannes se vertelling van die doop van Jesus beklemtoon weer dat die getroue dienaar van God Jesus is, wat tegelykertyd die Lig vir die nasies is wat ons uit ons benoudheid kom red het (Psalm 40).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Kom ons sing ’n nuwe lied tot eer van die Here.

Voorlesing: Psalm 40:1-11 (Lidmaat lees dit voor)

Sang: Sien Basisliturgie: Aanvangslied

Voorganger: Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

Doopherinnering
Sien liturgie vir Eerste Sondag na Epifanie. Indien hierdie opsie oorweeg word, is dit nie nodig om die skuld-belydenis by die basisliturgie te gebruik nie.

Diens van die Woord

Skriflesing: Psalm 40:1-11
Gemeente antwoord met Lied 33:1

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-9
Voorganger: Dit is die Woord van God.
Gemeente: Alle dank aan God.

Diens van die tafel

Uitnodiging
Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees . . . Hierdie is die tafel van die Here. Hy nooi almal wat Hom liefhet en op Hom alleen vertrou vir hulle verlossing om saam met Hom te kom aansit en te deel in hierdie vreugdevolle fees.

Formulier
Sien onder.

Dankgebed
Liefdevolle God, ons dank U dat U ons deur hierdie sakrament gevoed en verenig het met Christus en aan ons ’n voorsmakie gegee het van die hemelse banket in u ewige koninkryk. Stuur ons uit in die krag van u Gees om te lewe en werk tot die eer en glorie van die Naam van Jesus Christus, ons Here. Amen.

Uitsending

Voor of saam met die seën kan die volgende vir die uitsending gebruik word:
Voorganger: Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan
Gemeente: sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.

Voorganger: God is getrou.
Gemeente: Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Musiek en sang

Aanvangslied: Sien basisliturgie.
Lofsang: Lied 158, 167, 169; NSG 4, Lied 184:4; NSG 25; Flam 20
Skuldbelydenis: Lied 230, 231; NSG 61; Lied 238; NSG 216; Vonk 10; Flam 174, 69
By die Woordverkondiging: Lied 33:1
Doopherinnering: Lied 514; NSG 288; Flam 46
Nagmaalviering (met begin van litanie): Lied 266; NSG 325; Flam 55 en aan die einde van die litanie: Flam 55
By gebruik van nagmaal: Sien basisliturgie.
As die instellingswoorde gesing word: Flam 37.
Lofprysing en dankseggingslied: Lied 198; NSG 20
Slotlied: Lied 488; Flam 73

Voorstel
Formulier
Lidmaat: Waarom kom ons na die tafel?
Voorganger: Ons kom na hierdie tafel op grond van Jesus se opdrag en uitnodiging. Tot gedagtenis aan Hom. Jesus beveel ons om hierdie gebreekte brood te eet en hierdie beker te drink in ware geloof en om daarmee aan te hou totdat Hy weer kom.

Lidmaat: Hoe is hierdie maaltyd anders as alle ander?
Voorganger: Deur hierdie maaltyd herinner God ons daaraan dat al ons sonde volledig vergewe is deur die offer van Jesus Christus aan die kruis, waar sy liggaam gebreek is en sy bloed vergiet is. God herinner ons ook daaraan dat die Heilige Gees ons een maak met Christus en in Christus een is met alle ander Christene.

Lidmaat: Watter geloof bely ons aan tafel?
Gemeente: Bely hardop saam die Geloofsbelydenis van Nisea.

Voorganger: Kom dan, mense van God, na die vreugdevolle fees van ons Here.

Voorganger: Hef op julle harte!
Gemeente: Ons hef ons harte op, Here.

Voorganger: Kom ons gee dank aan die Here ons God.
Gemeente: Dit is gepas om ons dank en lof te gee.

Voorganger: Liefdevolle God, U het hierdie wêreld wonderlik gemaak sodat ons dit kan geniet. U het aan ons Jesus gegee om ons Verlosser, Here en Vriend te wees en om ons na U te bring. U het u Gees gestuur om ons een familie in Christus te maak. Vir u liefde aan ons en u goedheid aan almal gee ons dank. Ons dank U dat U u liefde aan ons gewys het deur u Seun na ons te stuur, wat sy lewe vir ons gegee het, uit die dood opgestaan het en wat leef om vir ons in te tree vir ewig. Ons dank U dat Hy alles wat ons van U geskei het, weggeneem het, en dat ons u vriend kan wees en vriende van mekaar. Ons dank U dat Hy ons saam na hierdie tafel bring om deur sy liefde versterk te word. Ons dank U dat Hy ons geleer het om ons stemme te verenig met mekaar en alle ander gelowiges van alle tye en plekke:
Gemeente sing ’n lied

Voorganger: Stuur u Heilige Gees sodat ons hierdie gawes van brood en wyn mag herken as die teenwoordigheid van Christus en dat ons sy getroue volgelinge sal wees wat aan die wêreld u liefde kan wys.
Gemeente: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by ons almal wees.

Lidmaat: Waarom eet ons die brood?
Voorganger: Die brood wat ons breek is die deelname aan die liggaam van Christus. Ons onthou en glo dat die liggaam van Christus ons Here vir ons gegee is as volledige vergifnis van al ons sonde.

Lidmaat: Waarom drink ons van die beker?
Voorganger: Die beker van danksegging is die deelname aan die bloed van Christus. Ons onthou en glo dat die bloed van Christus vir ons vergiet is as volledige vergifnis van al ons sonde.
Kom, want alles is gereed. Die gawes van God vir die mense van God.

Preekstudie: 1 Korintiërs 1:1-9

Teks

Paulus skryf iewers tussen die jare 53 en 55 ’n brief
(1 Kor) aan die gemeente in Korinte, nadat hy waarskynlik in 50 of 51 betrokke was by die totstandkoming van die gemeente in die stad. Hy noem as mede-outeur ene Sosthenes (1:1) oor wie daar egter weinig inligting beskikbaar is behalwe dat hy adelphos (“broer” en dus medegelowige) was; dit bly ’n ope vraag of die verwysing in Handelinge 18:17 dieselfde persoon is. In 1:4 skryf Paulus in die eerste persoon-enkelvoudsvorm wat die indruk skep dat Sosthenes nie regtig aandeel aan die skryf van die brief gehad het nie (in teenstelling met 2 Kor waar Timoteus as mede-outeur genoem word, en Paulus die eerste persoon-meervoudsvorm gebruik het, vgl 2 Kor 1:4 ev). Die mees waarskynlike rede waarom Sosthenes hier vermeld word, is dalk omdat hy ’n bekende uit die gemeente in Korinte was wat sy groete op hierdie manier aan die gemeente oordra. Hierdie brief was alreeds die tweede brief aan die gemeente in Korinte (sien die verwysing in 1 Kor 5:9 na ’n vroeëre brief; sommige beweer dat 2 Kor 6:14-7:1 die oorblyfsels daarvan kan wees). 1 Korintiërs is uiteindelik deel van ’n reeks van ten minste vyf briewe, waarvan ons vandag nog slegs 2 briewe in die Nuwe Testament het; of miskien dalk meer, indien 2 Korintiërs inderdaad ’n saamgestelde brief (wat bestaan uit ’n samevoeging van [dele van] ander briewe) is soos dikwels beweer word. 1 Korintiërs 1:1-9 bevat die eerste twee komponente van die brief, wat – tipies vir eerste-eeuse briewe – bestaan uit die aanhef of openingsgroet
(1:1-3), gevolg deur ’n dankseggingsdeel (1:4-9).

Alhoewel Paulus se groet in 1 Korintiërs 1:1-3 sterk herinner aan die openingsgroet in tradisionele briewe, brei Paulus op sy tipiese manier uit op al drie gebruiklike elemente in die groetgedeelte, in plaas daarvan om bloot die name van die geadresseerdes en die afsenders te noem, gevolg deur die groetwoord self (Gr chairein). Die doel van Paulus se uitbreidings op elkeen van hierdie elemente is waarskynlik om alreeds op ’n heel vroeë stadium belangrike sake wat in die brief ter sprake gaan kom, aan te roer. Ook in die danksegging, wat na die verlede verwys maar reeds in antisipasie ook dank vir sekere toekomstige aspekte uitspreek, val ’n aantal sake op wat later in 1 Korintiërs ter sprake kom, byvoorbeeld Paulus se apostelskap (“geroepe” 1:1), die moreel-sedelike verantwoordelikheid van die gemeente (“geheiligdes” en “heiliges” 1:2), rykdom (“julle het ryk geword” 1:5), aansprake oor geestesgawes, spreek in tale en hoër kennis (“in elke woord” en “kennis” 1:5; “gawe” 1:7), toekomsverwagting (“vol verwagting uitsien” 1:7; “die dag van die Here” 1:8).

Dit is opvallend dat klētos (“geroepe” 1:1) die eerste woord is waarmee Paulus homself, en daarmee saam ook sy apostelskap, beskryf. Trouens, nie alleen Paulus as outeur van die brief nie, maar ook die ontvangers, die gelowiges in Korinte, word as klētois (“geroepe” 1:2) beskryf. Hiermee maak Paulus dit duidelik dat apostelskap nie selfgekose of selfopgenome was nie (soos ’n Jeremia van ouds, vgl Jer 1:4-10; 20:7-9), en maak hy implisiet aanspraak daarop dat die gesag wat aan ’n “geroepe apostel” gekoppel is dus ook nie aan sy eie toedoen te wyte is nie (vgl 1 Kor 9:1-27; 15:9-10). Dit word verder onderstreep deurdat hy noem dat hy “geroepe apostel van Jesus Christus” is dia thelēmatos Theou (“deur die wil van God” 1:1) – met die voorsetsel dia in plaas van kata; waar laasgenoemde sou beteken dat Paulus se apostelskap in ooreenstemming met God se wil was, beklemtoon dia dat sy apostelskap eerder die uitdrukking van die wil van God is!

In hierdie openingsgroet reeds word die gemeente in Korinte dus sterk daaraan herinner dat ook hulle “geroepenes” is, klētois hagiois (“geroepe heiliges” 1:2), wat hier ’n verdere uitbreiding by die woord hēgiasmenois (wat in die perfektum dui op “hulle wat heilig gemaak is en daarom nou heilig is” 1:2) is – nie alleen geheiligdes nie, maar “geroepe” geheiligdes! Dit is dan immers ook hoe Paulus die ekklesia tou Theou (“gemeente van God”) wat in Korinte is, beskryf. Hoewel Paulus ekklesia soms as versamelterm vir alle gelowiges waar ook al gebruik (vgl 1 Kor 12:28), die kerk van Christus oor die wêreld heen, dui dit hier in 1:1 duidelik op die plaaslike gemeente (vgl Gal 1:2; 1 Tess 2:14). Die roeping van die gemeente om te word dit wat God hulle reeds gemaak het, strook met Bybelse logika, en “heilig” beteken hier ook om aan God te behoort as sy eie, spesiale mense, eenkant geplaas en toegewy aan Hom. Maar, dit impliseer nie soseer morele volmaaktheid nie – trouens, die morele tekortkominge van die Korintiërs blyk alreeds vanaf 1:10 duidelik – maar veel eerder praktiese heiligheid, wat beteken om daagliks in Christusgelykvormigheid en goedheid getransformeer te word. Iemand het dit so gestel: “The church is a school for sinners, not a museum for saints”. In 1:9 word daar weer na die Korintiese gelowiges verwys as diegene wat “deur God geroep is”, en dan inderdaad geroepe tot “gemeenskap” met Christus (sien hieronder).

Die frase tois epikaloumenois to onoma tou kuriou hēmōn tou Jesou Christou (“aan hulle wat die naam van ons Here Jesus Christus aanroep” 1:2) is ’n ander manier waarop Paulus die gelowiges in Korinte aanspreek deur te verwys na hulle aanbidding van Christus. In bybelse tye was ’n naam belangrik, anders as in ons hedendaagse spreekwoord “what’s in a name?”, omdat dit karakter of reputasie uitgedruk het. En wie Jesus Christus vir Paulus was, word immers verwoord in “Here”, ’n bekende titel in die eerste eeu (oa gebruik vir pater familias of wettige hoof van die huishouding, plaaslike goewerneurs en regeerders, of selfs die keiser in Rome) wat beide die titel en aanspreekvorm was van die persoon aan wie absolute, onvoorwaardelike trou en gehoorsaamheid betoon moes word. Alhoewel die woorde autōn kai hēmōn (1:2) óf topos óf kurios kan kwalifiseer, is laasgenoemde die mees waarskynlike opsie in hierdie konteks. Te midde van verskil oor opinie met betrekking tot die strekking van die woorde, staan die klem op “hulle en ons Here” afwysend teenoor die waarskynlike geneigdheid van verskillende faksies in die gemeente in Korinte, wat elkeen wil aanspraak maak op hulle eie verstaan en aanbiddingswyse van Christus tot uitsluiting van dié van ander.

Die tipiese Griekse groetwoord (chairein) word deur Paulus vervang met die gelykluidende maar wat betekenis betref, dramaties anders charis (genade). Dan voeg Paulus boonop eirēnē (vrede) ook daaraan toe (1:3). Soos elders in Paulus se briewe, is “genade en vrede” ook hier veel meer as net groetwoorde, want “genade en vrede” is terselfdertyd die inhoud van wat Paulus die gemeente toewens en toebid. Genade verwys na God se gawe aan gelowiges, en die gawe is niks minder as God self nie! Vrede is meer as net ’n innerlike gevoel van rustigheid, en in samehang met die Hebreeuse sjalōm verwys vrede na ’n objektiewe staat van harmonie en wel wees – in ’n christelike konteks. Dit is in die eerste plek harmonie met God, wat juis die bron van vrede is. Genade en vrede kom van God, en word bemiddel deur Jesus Christus. Die nou assosiasie van God en Christus as medegewers van genade en vrede is nie verrassend nie maar wel opvallend.

In 1:4 dui epi saam met die datief (tē[i] chariti “op grond van die genade”) die basis of grondslag van die danksegging aan (die Afrikaanse vertaling van 1933 en 1983 laat ons hier in die steek deur bloot te vertaal met “vir die genade”). Die betekenis is duidelik: Paulus se danksegging berus op die genade van God, wat aan die gelowiges in Korinte gegee is in Christus Jesus. Paulus skryf, “ek dank ‘my’ God” (Gr eucharisto tō[i] theō[i] mou), maar die danksegging is peri humōn (“oor julle” 1:4), wat die toon en die inhoud van die res van die danksegging verwoord: Paulus dank God nie oor sy lewe nie, maar oor die lewe van ander mense, oor wat die Korintiërs ervaar het en nog gaan ervaar. Dit is juis ook die interessante hier, dat Paulus God alreeds dank vir wat nog voorlê, vir wat nog moet gebeur – die toekoms-gebeure staan vir Paulus vas binne sy apokaliptiese verwysingsraamwerk.

Die algemene danksegging in 1:4 word in 1:5 verder aangevul. Die rede vir die dankbetuiging word aangedui as hotieploutisthēte “omdat julle ryk geword het”. Deur ’n metafoor ontleen aan die ekonomie, word die klem steeds duidelik geplaas op dit wat God vir die gelowiges gedoen het en dus op die genade van God. Die “ryk word” word drieërlei gekwalifiseer: en panti (“in elkeen/alles”), hier kwantitatief (eerder as kwalitatief, “op elke manier”); en autō[i] (“in hom”) naamlik in Christus; en, en panti logō[i] kai pasē[i] gnōsei (“in elke woord en alle kennis”). In 1:5 kan en panti logō[i] vertaal word met “in elke menslike woord/uitspraak” of “in elke woord (van God)”, maar in samehang met “kennis” slaan “elke woord en alle kennis” waarskynlik eerder op die Korintiërs se indruk dat hulle besonder begaafd was met betrekking tot retoriese vermoëns en insig, ook ten opsigte van en oor God: spreke oor God sou hier waarskynlik sake soos lering, prediking, persoonlike getuienis, verheerliking, voorbidding, viering, klag en verskeie ander vorme van kommunikasie kon insluit. Die klem op “elke/alle” ten opsigte van “woord en kennis” is weer eerder kwalitatief, en verwys na die reikwydte van die Korintiërs se gawes, eerder as na die optelsom daarvan. (Dit is tragies dat die rykdom van hierdie gawes gelei het tot ’n kompeterende statusbeheptheid en chaos tydens aanbidding, vgl hfst 12-14.) Hierdie interpretasie dat dit hier om die rykdom van retoriese gawes en insig gaan, word versterk deur Paulus se uitspraak in 1:7 hōste humas mē hustereisthai en mēdeni charismati (“sodat julle nie tekort skiet aan [geen=] enige gawe nie”) in afwagting van die openbaring van Christus. Aan die een kant, is dit verder opvallend dat die sake (“elke woord en alle kennis”) in die gemeente waarvoor Paulus God dank, juis grotendeels tot die probleme in die gemeente aanleiding gegee het (bv 8:1). Aan die ander kant is die gebruik van ekonomiese terme (hier en elders in 1 Kor) opvallend, veral as Dale B Martin se argument in ag geneem word naamlik, dat die probleem in Korinte veel minder ’n teologiese verskil oor die heilsgebeure in die toekoms was, as ’n sosiale probleem in die gemeente met mense afkomstig uit verskillende klasse en dus met groot verskille in status en finansiële stand.

Die sentrale posisie wat Christus in die danksegging inneem (vyf verwysings na Christus in ses verse) onderstreep die belangrikheid van tou marturion tou Christou (“die getuienis oor Christus” 1:6). Dit sou ook verstaan kon word as Christus se getuienis in die wêreld, maar die uitdrukking moet heel waarskynlik as ’n voorwerpsgenitief verstaan word. Die getuienis oor Christus is inderdaad ook “bevestig” (ebebaiōthē 1:6) onder die gelowiges in Korinte, en nie alleen gepredik nie, wat wys daarop dat geloof in Christus ’n bepaalde lewenswyse impliseer. Paulus se apokaliptiese denke en teologie kom sterk na vore wanneer hy in 1:7 melding maak van die afwagting van die apokalupsis (“openbaring”) van “ons Here Jesus Christus”. Idees en sisteme is nie die basis of fokus van die christelike geloof nie, maar die persoon van Jesus Christus self. Net soos God die bron en grondslag van alles is wat goed is, so is Christus die bemiddelaar van daardie gawes. Daarom kan Paulus dan direk na die danksegging, in die volgende afdeling, sy appèl tot die gemeente rig, juis “in die naam van Christus” (dia tou onomatos tou kuriou hēmōn Jēsou Christou 1:10).

Paulus se apokaliptiese teologie voorsien, soos elders, die wederkoms van Christus en daarom is die verwysing na ē ēmera tou kuriou ēmōn Jesou (Christou) (“die dag van ons Here Jesus [Christus] 1:8) ’n belangrike teologies-apokaliptiese term, merker en tema. Weer eens word die klemtoon op Christus geplaas, want op hierdie dag sal Christus se werk openlik erken en gehandhaaf word met die gepaardgaande verheerliking. Maar dis juis die handhawing van Christus en sy werk wat dit moontlik maak dat gelowiges ’n “onbesproke” (anengklētous) of blaamloos en onskuldige status kan hê. Dit is vir Paulus belangrik om na die status van gelowiges te verwys, aangesien “die dag van die Here” nie alleen die einde van die oue beteken en die begin die nuwe era inlui nie, maar omdat dit ook ’n oomblik van oordeel is – maar waaroor gelowiges, op grond van genade wat God aan hulle gegee het in Christus, dus nie slapelose nagte hoef te hê nie. Daarvoor dank Paulus nou reeds vir God.

Dat dit nie vir Paulus oor allerlei tegniese teologiese kategorieë van dogmaties gedefinieerde saligheid gaan nie, is duidelik uit sy beskrywing van die band tussen die gelowiges en Christus in 1:9 as koinōnia (“gemeenskap” of “fellowship”); koinōnia dui op ’n vennootskap, en hier gaan dit oor kollektiewe deelname in die seunskap van Christus, met ander woorde om te lewe uit die status van ’n afgeleide seunskap, soos bepaal deur Christus se seun-van-God-wees. Paulus se teologie is in die verlede al dikwels as deelnemend beskryf, soos dikwels met voorsetsel-konstruksies uitgedruk word (bv en Christō[i] Jēsou “in Christus Jesus” 1:2), maar hier uitdruklik in die beklemtoning van gemeenskap of saamwees met Christus vasgevang word.

Konteks

Paulus skryf, ’n tydjie nadat hy vandaar vertrek het, die eerste Korintiërbrief aan ’n gemeente wat hy in die besige, welvarende en metropolitaanse stad van Korinte begin het. Nadat Paulus teen 51 van die stad vertrek het, vestig hy hom waarskynlik in Efese in Klein-Asië (die Turkye van vandag), wat waarskynlik van 52-54 nC sy pastorale en missionêre basis was, en van waar hy dan gemeentes in Galasië, Antiochië en elders sou kon besoek. Wanneer Paulus teen einde 53 of dalk 54 ontstellende nuus ontvang van Apollos, na laasgenoemde se besoek aan Korinte, skryf Paulus sy eerste brief aan die gemeente (waarna in 1 Kor 5:9) verwys word. Wanneer “Chloë se mense” (1 Kor 1:11) kort daarna egter ’n berig (waarskynlik was dit mondelings) van die gemeente aan Paulus kom oorhandig, oor onenigheid in die gemeente en Paulus ook ’n brief van die gemeente self ontvang
(1 Kor 7:1), oor die huwelik en selibaat, oor vleis wat aan afgode geoffer was, oor die gawes van die Heilige Gees en ander sake, reageer Paulus met die skryf van wat ons vandag ken as die Nuwe Testament boek, 1 Korintiërs.

Korinte was ’n belangrike stad in bybelse tye, aangesien dit geleë was op die ismus of landengte (smal landstrook) wat Agaje met die Peloponnesos verbind en dus strategies was met betrekking tot militêre, handels en ekonomiese belange. Met twee hawens, Lechaeum ten noordweste aan die Golf van Korinte en Kenkreë in die Saroniese Golf aan die Egeïese See, was Korinte ’n belangrike handelstad en knooppunt vir noord-suid sowel as oos-wes handelsverkeer. Nadat Korinte, wat in die politiek tussen Sparta en Rome betrokke geraak het, in 146 vC deur die Romeinse leër vernietig is, is die stad weer in 44 vC as Romeinse kolonie opgerig met die naam Colonia Laus Julia Corinthiensis ter ere van Julius Caesar (wat in dieselfde jaar vermoor is). Alhoewel die stad aanvanklik deur “afgetrede” Romeinse soldate, Romeinse vrygestelde slawe en Romeinse slawe bewoon is, het handelaars en sakemanne van elders in die Romeinse Ryk hulle weldra ook in Korinte gaan vestig. As kosmopolitaanse, internasionale sentrum onder ferm Romeinse bestuur, met toegang tot uitstekende handelsroetes, met ’n genoegsame voorraad natuurlike hulpbronne vir vervaardiging en ’n bloeiende besigheids-kultuur, was Korinte in die antieke ’n wêreldstad soos min. Daarom was kompetisie, weldoenerskap, ver-bruikerskultuur en verskillende vlakke en aspekte van sukses belangrike waardes in Korinte.

Naas die bespreking in punt 1 hierbo, kan ’n verdere verduidelikende aantal opmerkinge gemaak word. Die belangrikheid van die woord “apostel” kan in 1 en 2 Korintiërs kwalik oorskat word omdat Paulus in hierdie briewe te kenne gee dat beide sy roeping en persoon onder die Korintiërs in gedrang is. Alhoewel die apostolaat noodwendig gesag meegebring het, synde spreekbuis as gestuurde van God en bekragtig met ’n taak wat aan die persoon opgedra is, eerder dat die persoon die opdrag aangevra het, lê Paulus hier klem daarop dat die fokus nie op die apostel self behoort te val nie, maar op die een wat die apostel geroep en afgevaardig het. Beide Paulus as apostel “deur die wil van God” (1:1) en die Korintiese gemeente “van God” (1:2) se bestaan word aan God gekoppel, trouens sterker nog, van God afhanklik gemaak. Eerder as selfbelang behoort die apostel ’n onbelemmerde uitsig op Christus te bied en aangesien persoonlike verdienste uitgesluit is (1 Kor 15:10), berus apostelskap volledig op die genade van God. Hierdie onderskeidings geld nie alleen ten opsigte van apostelskap van ouds nie, maar bied ook ’n waardevolle en belangrike perspektief op christelike leierskap oor ’n breër front.

Dit is interessant dat Paulus, juis te midde van die “hustle and bustle” van die eerste-eeuse wêreldstad, Korinte, dit nietemin goed vind om die konvensies van die tyd tot sy voordeel te gebruik. So byvoorbeeld gebruik Paulus die vorm van die standaardbrief om met die gemeente daar te kommunikeer, alhoewel hy die inhoud aanpas by die Christusboodskap – in al drie aspekte van die openingsgedeelte (1:1-3), maar veral ten opsigte van die “groet” self (1:3). Jesus Christus word ook met die destyds bekende titel, Here, benoem tot die een aan wie alle gesag eintlik toekom. Die kontra-kulturele implikasies van die evangelie moet dus nie te eensydig en te gemaklik beklemtoon word nie, aangesien die evangelie juis mense binne hulle eie kulturele konteks moet kan aanspreek.

Die belang daarvan om die christelike geloof nie maar net as individu uit te leef nie, maar juis in kollektiewe verband saam met ander gelowiges in Christus in die geloof te lewe en te groei, is vir Paulus van allergrootste belang. Die geroepe heiliges van 1:2 is juis diesulkes, tesame met “almal” wat die naam van “ons” Here Jesus Christus aanroep. Sterker nog, nie alleen die mense van my eie keuse en wat gerieflik naby is nie, maar juis saam met alle mense “op elke plek”, orals. Individuele en ook korporatiewe of kollektiewe selfgerigtheid word afgewys, ten gunste daarvan om oë vir die “ander” te ontwikkel. In ons taal van vandag, is dit duidelik dat Paulus die ekumene, die universele kerk, hier sterk beklemtoon met sy fokus daarop dat die Korintiërs hulle geroepe heiligheid uitleef saam met mense van oral, juis ook omdat hulle en die ander se Here dieselfde Here is.

Die dankseggingsgedeelte (1:4-9) bevat ’n aantal interessante aspekte. In die eerste plek is die danksegging beide vir dit wat op die verlede sowel as die toekoms van toepassing is. Tweedens, die dank word nie alleen op intellektuele gawes gerig nie (“elke woord en alle kennis” 1:5), maar juis op daardie sake wat grotendeels die bron van die verdeeldheid en onmin in die gemeente was. Derdens, in die danksegging word alles wat die gelowiges ervaar en wys geword het, en nog gaan ervaar en wys word, aan God toegeskryf en (afgesien van apekdechomenous, “verwag”) nie aan die Korintiese gelowiges se optrede nie.

Paulus se apokaliptiese denke en teologie sou ’n groot uitdaging stel aan die selfgenoegsaamheid van gelowiges in Korinte, aangesien nie alleen die huidige bestel se attraksie en waarde – om nie van rakleeftyd te praat nie – sodoende in die slag bly nie, maar ook omdat dit wat kom, die nuwe era wat op die dag van die Here deur Christus ingelui word, dramaties ander waardes en norme meebring. In afwagting op die finale openbaring van Christus op die dag van die Here, is dit natuurlik so dat dissipelskap teenswoordig gevul is met dubbel-sinnigheid, maar in afwagting dan tog met genoeg lig om die volgende geloofstree te neem. Maar sodanige geloof is nie arrogant en opgeblase (vgl 8:1) nie, maar word in nederigheid teenoor en juis ook tesame met ander beleef en uitgeleef.

Preekvoorstel

Tipies van die Pauliniese briewe, is hierdie perikoop – selfs al klink ’n brief se openingsgroet en danksegging nie noodwendig na vreeslik opwindende preekstof nie – ryk en vol en sal ’n prediker ’n keuse moet maak vir ’n spesifieke homileties-liturgiese lyn. Aangesien die teks vir die tweede Sondag na Epifanie voorgeskryf word, sou veral op die genadewerk van Christus en die toespitsing daarvan ook buite eie kring, ook op die “ander” gelowiges, gefokus kon word in die liturgie en preek. Sonder om die spanninge op te hef, gaan dit hier oor die uitleef van jou geloof in die plaaslike konteks, maar bewustelik ook as deel van die groter kerk van Christus; oor die toe-eiening van die genadebeloftes van God in Christus deur juis ook op ’n sekere manier te lewe; oor die ervaring van die rykheid en volheid van die gawes van die geloof, ook te midde van ’n afwagting van die dag van die Here waarop God alles nuut maak.

In ’n preek sou Paulus se klem op die aard en strekking van geroepenheid, veral die roeping van christelike leiers maar ook gelowiges in die algemeen, beklemtoon kon word. Paulus maak op sterk wyse aanspraak daarop dat apostelskap nie vir hom om die uitoefening van een of ander apostoliese gesag gaan nie, maar dat dit die aard van apostel oor die verbeelding van Jesus Christus in die daaglikse lewe impliseer eerder as ’n klem op outoriteit.

In die konteks van die Korintiese briewe waar die primêre spanning en verdeeldheid binne die gemeente onder medegelowiges ervaar is, met sprake van groepvorming en onderlinge konflik (ongeag of dit oor teologies-eskatologies of sosiaal-kulturele sake soos status en welvaart gehandel het), is die “gerigtheid op” die “ander” eerder as ’n neiging tot beskerming van die self (individueel en korporatief), opvallend. Dieselfde gerigtheid op die “ander” is ook in die danksegging teenwoordig. Paulus se dank is in die eerste plek nie vir wat Paulus self gekry het of nie, maar dank vir wat ander ontvang het. Deur weg te kyk van die self en eiebelang, kan daar op die “ander” en hulle belange gefokus word.

Trouens, geroepenheid tot diens aan die “ander”, kan eintlik beter verstaan word as diens met die “ander”. Te midde van die spanning in Korinte, word die gelowiges beskryf as diegene “wat die naam van ons Here Jesus Christus aanroep in elke plek, beide hulle Here en ons s’n”. Ook hier is dus van ’n kollektiewe gerigtheid eerder as ’n (krampagtige) individualisme sprake, terwyl die verwysing na “in elke plek” impliseer dat gelowiges oë moet ontwikkel vir die “ander”, ’n bewussyn oor ander mense en so juis ook te kan leer van ander. Die beklemtoning op “hulle en ons Here” verseker dat geen monopolie op een groep se verstaan en belewenis van Jesus Christus opgeëis kan word nie.

Dit is interessant dat die sake waarvoor Paulus God dank, juis die oorsaak is van die spanning: “elke taal en alle kennis” (1:5) en “gawes” (1:7). Gaan dit nie juis hier oor die aanleer van maniere om die “blessings in disguise” te hanteer nie? Die moeilike sake wat soms vir ons meer oor die “disguise” as oor die “blessings” gaan?

Die preek sou afgesluit kon word deur te wys op die basis en grondslag van Paulus se hele betoog oor geroepenheid, tot diens aan ander, tot gemeenskap met die ander: die getrouheid van God teenoor alles en almal. Jesus Christus, na wie vyf keer in ses aaneenlopende teksverse verwys word, is die spilpunt waarom die gemeenskap (koinonia) met Christus draai, soos geïnisieer en moontlik gemaak deur die genade van God.

Bibliografie

Grosheide, F W 1957. De Eerste Brief aan de Kerk te Korinthe. CNT. Kampen: Kok; Martin, D B 1995. The Corinthian Body. New Haven and London: Yale University Press; Prior, D 1985. The Message of 1 Corinthians. Life in the local church. BST. Leicester: IVP; Thiselton, A C 2006. First Corinthians. A Shorter Exegetical and Pastoral Commentary. Grand Rapids, Cambridge: Eerdmans.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.