Tweede Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Die Griekse woord waarvan Epifanie afgelei is beteken “verskyning”. God maak sy verskyning in die gestalte van Jesus onder mense. In 1 Korintiërs 1 word die gemeente aangemoedig om getrou te bly aan hulle roeping deur al die wonderlike gawes waarmee God hulle geseën het, in gedagte te roep. Hulle verwagting van die tweede verskyning van die Here Jesus Christus vorm die basis daarvan. Jesaja 49 vertel van die getroue dienaar van God, wat nie net die lig vir Israel is nie, maar ’n lig tot redding van alle nasies tot aan die uithoeke van die aarde. Johannes se vertelling van die doop van Jesus beklemtoon weer dat die getroue dienaar van God Jesus is, wat tegelykertyd die Lig vir die nasies is wat ons uit ons benoudheid kom red het (Psalm 40).

Ander tekste

Jesaja 49:1-7; Psalm 40:1-11; Johannes 1:29-42

Fokusteks

1 Korintiërs 1:1-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Liturgie

Toetrede:  Flam 2 “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”

Votum: Psalm 40:5-6

Lofsang:  Flam 6″ Heer Jesus, My Redder”

Wet:  Psalm 40:7

Skuldbelydenis:  Flam 7 “Here, Ek Vergeet So Gou”

Gebed:  Psalm 40:12-14, 18

Genadeverkondiging:  Johannes 1:29

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Wys vir die kinders ‘n swartbord waarop daar mooi prente in helder kleure bordkryt geskryf is.  Vra wat ‘n mens doen as jy ‘n fout maak?  Jy vee die fout uit en begin van voor af.

Ons lewens is soos ‘n prent wat ons op ‘n swartbord teken.  God wil hê dat elkeen van ons ‘n pragtige prent met ons lewens teken (roeping).  Hy het vir ons gawes gegee om dit mee te doen – soos die helder kryte waarmee ons teken.  Ons teken egter nie alleen aan hierdie prent nie – ander mense (mamma en pappa, maatjies, gemeente, ens.) teken saam met ons aan hierdie prent.

Soms maak ons foute met ons lewens-prent.  Ons baklei met mense, is ongeskik, ens.  Gelukkig bly daardie lelike goed nie vir altyd deel van ons prente nie – God vee dit self uit en gee vir ons kans om dit oor te doen.

(Foto deur Adam Rice by www.flickr.com)

Preekriglyn

Dit is die troue van die jaar.  Die bruid, 72 jaar oud, kom in ’n pragtige wit rok die paadjie afgestap. Die bruidegom, Little Wa, 75 jaar, wag met ’n stralende gesig.

Die bruid het ’n geskiedenis.  Vir bykans 60 jaar was sy ’n prostituut in Hong Kong se berugte Kowloon Walled City.  Só het sy haar heroïen-verslawing gefinansier.  Op 72 kon sy nie meer as prostituut werk nie.  Daar was ook skaars ’n plek op haar liggaam waar sy haar nog met heroïen kon inspuit.  Haar bene en arms was ontsteek, die weefsel totaal verhard, net nog haar rug kon ingespuit word.

Al heenkome was om voor die bordeel met ’n stok te sit en die rioolsloot voortdurend oop te krap en te keer dat dit verstop.  Met ’n bietjie geluk, ’n geldjie en genade kon sy nog met bietjie heroïen uit die pyn ontsnap.  Sy was desperaat vir hulp.

Daar langs die rioolsloot het Jackie Pullinger, werker in die Walled City, die moeder Teresa van Hong Kong, haar ontmoet en na Christus gelei.  (Jackie se verhaal word in die preekskets van 9 Januarie 2011 vertel – daar is ook foto’s van haar en die stad.)  Die geharde heroïen-verslaafde is opgeneem in Pullinger se Fase Een Versorgingsoord, waarna sy ’n paar maande later oorgeplaas kon word na ’n vryer sosiale omgewing.  Aanvanklik was die vrou geweldig moeilik, buierig, en vol konflik.  Dit het broekskeur gegaan.  Maar in die Christelike gemeenskap het daar algaande genesing gekom vir die intense emosionele wonde.

Hier ontmoet sy Little Wa, ’n man van 75, en ontdek só die liefde van haar lewe.  Binne ’n paar maande is die twee verlief, verloof en “verlore”.

Jackie Pullinger, die vrou met die harde voete en sagte hart, beskryf die twee duifies se troue as die huwelik van die eeu.  Die bruid, 72 jaar oud, kom in ’n pragtige wit rok die paadjie afgestap. Die bruidegom, Little Wa, 75 jaar, wag met ’n stralende gesig.  ’n Nuwe lewe lê voor.

Wat het hier gebeur?

Jesus het genade aan ’n arme sondaar betoon.  Vir iemand wat stukkend was, het daar heling gekom.  Sy is nuutgemaak, skoongewas, die oue het verbygegaan, sy is ’n nuwe mens.

In jou hart dank mens God oor die genade wat Hy in Jesus aan hierdie prostituut, en aan baie soos sy, geskenk het (1:4).  In Jesus het God haar ryklik geseën (1:5).  Sy dra ’n wit trourok, nie omdat sy ’n onbevlekte verlede het nie.  Maar omdat Jesus haar gewas het, en sy vooruitsien na die verskyning van ons Verlosser (1:7).  Op daardie dag sal daar geen klag teen haar wees nie, ongeag meer as 60 jaar se prostitusie en dwelmgebruik (1:8).

In Jesus Christus het God se liefde en genade in die wêreld verskyn.

Jesus se medewerkers, mense wat soos Jackie Pullinger geroep en gestuur is (1:1) na elke plek in die wêreld (1:2) dra die lig van God se liefde en genade na elke mens.

Korinte

Korinte was ’n belangrike handelstad ten tye van die Nuwe Testament.  Dit was die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje (min of meer die moderne Griekeland).  Agaje word deur die natuurlike geografie in twee dele verdeel.  Die suidelike skiereiland (die Peloponnesos) word deur ’n smal landstrook met die noordelike vasteland verbind.  Korinte is op die suidwestelike punt van hierdie landstrook geleë.  Om tussen noord en suid te reis, moes jy deur Korinte gaan.  Die stad het see aan beide die oostekant en westekant van die landstrook, sodat dit oor twee hawens beskik het.  (Klik hier vir ’n kaart met Korinte se ligging).

Korinte was op ’n natuurlike kruispunt van belangrike handelsroetes geleë.  Handelaars uit Egipte, Italië, Israel, Sirië en die Ooste het aan die stad ’n egte kosmopolitaanse karakter gegee.

Dié kosmopolitaanse karakter is in die godsdienstige lewe weerspieël.  Daar was ’n tempel vir die Griekse god Apollo, terwyl die god vir genesing, Asklepius, ook aanbid is.  Afrodite, die godin van vrugbaarheid, Demeter en Persefone, godin van landbou en vrugbaarheid, het ook aanbiddingsplekke gehad.

Korinte was berug vir die morele verval in die stad.  Die Griekse woord “korinthiazesthai”, “om soos ’n Korintiër te leef”, het verwys na ’n lewe van dronk orgies.  ’n Griekse skrywer vertel dat wanneer ’n Korintiër op die verhoog uitgebeeld is, hy altyd dronk was.

Die gemeente in Korinte

Deur Paulus se bediening kom ’n gemeente tot stand in dié besige handelstad met sy geweldige morele verval.  Strategies was Korinte egter geweldig belangrik, omdat die evangelie hiervandaan deur al die besige handelsroetes oor die bekende wêreld heen versprei het.

Nadat Paulus Korinte verlaat het (waarskynlik in die jaar 51 n.C.) gaan vestig hy hom vir ’n paar jaar in Efese.  Hier ontvang hy ontstellende berigte oor die omstandighede in die gemeente van Korinte.  Dit het nie goed gegaan nie.

Die Bybellennium (CUM, 1999) som die situasie in die Korintiese gemeente as volg op:

Stel jou voor jy gaan lê besoek af by ’n plaaslike gemeente.  Jy stap by die deur in en iemand wag daar om jou welkom te heet.  “Ek is deel van die Paulus-groep. Hý is die ou om na te luister.”  Terwyl hy nog met jou praat, druk iemand anders in en sê: “Nee, Apollos se omgeegroepie is beter.  Vergeet van Paulus.” Skielik is daar nog ander wat die voriges wegstamp en sê: “Nee, Sefas!”

Teen hierdie tyd oorweeg jy dit al om pad te gee, net om uit te vind dat ’n prominente lid van die gemeente in ’n seksskandaal met sy stiefma betrokke is.  Die hele gemeente weet daarvan en is trots daarop.  “Ons is die beste gemeente,” hoor jy iemand sê.  “Ons weet dié ou leef in sonde, maar ons het hom nogtans lief.  Hier by ons is die geestelike belangriker as die beestelike.”

Jy stap die diens in en dis chaos.  Verskeie gemeentelede profeteer tegelyk, terwyl ander in tale spreek.  Omdat jy nie veel uit die diens kry nie, besluit jy om hulle leerstellige blaadjie by die besoekersbank te lees.  Hier lees jy dat die leerstuk oor die opstanding heeltemal deurmekaar is en dat sommige gemeentelede nie eers daaraan glo nie.

Terug in die kerkgebou, sien jy dat hulle ’n soort nagmaal hou, amper iets soos ’n gemeente-ete.  Party word dronk, ander ooreet hulle en dié wat regtig honger is, kry nie kos nie.  Teen die tyd dat alles klaar is en jy by jou kar uitkom, hoor jy van gemeentelede wat mekaar in die wêreldse howe gedagvaar het.  Ander besoek bordele en sê dis soos om kos te eet; jy bevredig net ’n liggaamlike behoefte.  Uit reaksie hierteen, bepleit sommige geheelonthouding.  Seks is lelik en sleg.  Getroudes wil hieroor skei en ongetroudes wonder of hulle moet trou.

Jy ry daar weg terwyl jy naar voel.  Die hele ervaring is vir jou onwerklik.  Dis jou eerste en laaste besoek aan dié kerk.

Jy het pas kennis gemaak met die gemeente van Korinte…

Die gemeente het die evangelie geglo.  Maar Korinte was vasgevang in die worsteling om die evangelie van Jesus prakties uit te leef.  Die verskillende faksies, beskouinge oor seksualiteit, die verhouding tussen die evangelie en die afgodediens, was van die probleme waarop die lig van die evangelie moes skyn.

’n Brief aan die gemeente in Korinte

Paulus skryf die brief wat ons as 1 Korintiërs ken in die lente van die jaar 54 of 55 n.C. aan die gemeente.  Hy verduidelik wat die betekenis van Jesus se sterwe en opstanding vir die lewe van ’n gemeente is.  Jesus het vir ons gesterf en vir ons uit die dood opgestaan.  Hoe lyk Christene se lewens in die lig van Jesus se werk?  Wat maak ons met al die seëninge wat ons op grond van Jesus se werk ontvang?  Die liefde staan sentraal in die funksionering van gelowiges se lewens en die uitleef van die gawes wat Christus aan ons gee.

’n Aangrypende inleiding

Mens sou kon verstaan as Paulus die brief met ’n heftige uittrapsessie begin het.  Dalk sou ons dit so gedoen het.  Die gemeente moes kortgevat word, wil mens sê.  Hulle het opgesnork en moes reggesien word.

Volgens die gebruik van destyds begin die brief met ’n openingsgroet (1:1-3) en ’n danksegging (1:4-9).  Hieraan gee Paulus besondere inhoud.  Hy herinner die gemeente aan sy gesag en bevestig hulle identiteit en roeping.  Korinte moet onthou  wie hulle in Christus is.  Dit sal hulle help om Jesus Christus getrou te dien.

’n Paar fasette van die inleidingswoord is belangrik.

Dit is eerstens opvallend hoe ’n belangrike rol roeping in die groetwoord speel.  Die gemeente van Korinte is geroep om aan Jesus Christus te behoort (1:2).  Die genade wat in die Korintiërs se lewe as gemeente werk, is die genade van God wat hulle roep om te behoort en te dien.  Te midde van al die gevegte, partyskappe, botsings, etiese kwessies e.s.m. moet die Korintiërs onthou hulle behoort aan God.  Hulle is deur God geroep.  God rig hulle lewe.  Hulle roeping is soos ’n magneetveld wat die gemeente rig op dit wat werklik saak maak: om God te dien.

Die gemeente is geroep om te wees wat God hulle alreeds in Jesus Christus gemaak het.

Tweedens is die gemeente geroepe geheiligdes – klétois hagiois – 1:2.  God het hulle afgesonder vir Christus, geheilig vir Christus.  Die vorm van die werkwoord “heilig” of “afgesonder” (perfektum) dui daarop dat die gemeente heilig gemaak is, en daarom nou heilig moet of kan wees.  Hulle is die gemeente van God (1:2) wat aan God behoort as sy eie, spesiale mense, toegewy aan Hom.  Omdat hulle geroep en heilig gemaak is, kan hulle nou vir God lewe en heilig wees.

Derdens beklemtoon Paulus die ryke gawes wat die gemeente van God ontvang het.  Hulle is ryklik geseën, dit ontbreek hulle nie aan ’n enkele gawe nie, en Christus sal hulle help om vas te bly staan tot die einde toe (1:4-9).

Vierdens staan Christus in die inleiding sentraal.  In ses verse verwys Paulus vyf keer na Jesus Christus.  Christus is die Korintiërs se lewe.  In die gesprek oor hoe Christene wat uit die heidendom tot geloof kom moet lewe, staan Christus sentraal.  Alles wat hulle is, het hulle van Christus en deur Christus ontvang.  Hulle moet leef deur te word wat hulle reeds in Christus is.

Vyfdens speel die gemeente ’n sentrale rol in die inleiding tot die brief.  Later in die brief blyk hoeveel konflikte, partyskappe, trots, selfgerigtheid en eiewysheid daar in die gemeente is.  Deur die klem op die gemeente van God te plaas, verduidelik Paulus reeds aan die begin dat God ons saamvoeg tot ’n geloofsgemeenskap wat saam as geroepenes geheiligdes en begaafdes moet lewe, almal saam verenig met Jesus Christus.

Toepassing

Een:  Dit is God se werk
Die Korintiërbrief help ons verstaan dat die Christelike lewe nie by moralisering, beskaming, blamering en menslike pogings tot selfverbetering begin of eindig nie.  Moralisering is die dood in die pot vir ’n Christelike geloofsgemeenskap.  Dit beteken dat ons mekaar teregwys en van mekaar verwag om met ons eie krag ons eie idees van wat reg of verkeerd is uit te voer.

1 Korintiërs help ons om God raak te sien.  God wat deur Jesus Christus genade aan ons betoon.  God wat ons roep en red.  God wat ons die gawes gee waarmee ons hom en mekaar moet dien.  God wat ons help en ons bemagtig om as heiliges te lewe.

Twee: Daar is hoop
God help ons.  Daarom is daar hoop.  Wanneer ons op afgryslike maniere faal – soos die Korintiërs – is alles nie daarmee heen nie.  God is aan die werk, ook binne-in ons en deur ons.  Hy help ons. Hy voorsien die leiers (apostels)  om ons aan God en God se werk te herinner,  Hy fokus ons aandag op dit wat saak maak.  Hy help ons om te word wat ons reeds op grond van sy genade is.

Drie: Ons is geroep en geheilig
Die Korintiërs was op hulleself gefokus.  Dit het om hul partyskappe gegaan.  Dit het gegaan oor die beste gawes en wie daaroor beskik.  Jy het gehandel ooreenkomstig waardes en oortuigings wat vir jou gewerk het.

Die Korintiërs was die voorlopers van moderne, selfgerigte mense wat vir hulleself ’n wet wil wees.  Niemand anders, niemand van buite, mag ’n woord oor jou lewe sê nie.  Jy bepaal self wat reg of verkeerd is.

Roeping en heiliging trek jou aandag van jouself af en fokus jou op God.  Dit vestig jou aandag op God se standaarde, en die taak wat God vir jou het.  Die gawes wat God vir jou gee, is die gawes waarmee jy jou roeping moet uitvoer.

Ons lewe nie vir onsself nie.  Ons is geroep om verenig te lewe met Jesus Christus, die Seun van God.

Vier: Ons is sáám geroep en geheilig
Ons kultuur leer ons dat die self made man die een is wat bo uitkom.  Jy moet vir jouself sorg, en onafhanklik wees, jy moet jou eie belange bevorder, want niemand anders sal nie.  Ons sou goeie Korintiërs uitgemaak het!

Daarenteen beklemtoon Paulus die feit dat ons deur God verenig is in die gemeente van God (1:2).  Ons is in Christus geskep om saam met ander en vir ander te lewe.  Daarom word daar in die inleiding deurlopend van “julle”, die gemeente, gepraat.  Paulus se dank is in die eerste plek ook nie vir wat Paulus self gekry het of nie, maar dank vir wat ander ontvang het. Deur weg te kyk van die self en eiebelang, kan daar op die “ander” en hulle belange gefokus word.

Die preekstudies en liturgiese voorstelle vir 2011 beskryf dit só:

Trouens, geroepenheid tot diens aan die “ander”, kan eintlik beter verstaan word as diens met die “ander”. Te midde van die spanning in Korinte, word die gelowiges beskryf as diegene “wat die naam van ons Here Jesus Christus aanroep in elke plek, beide hulle Here en ons s’n”. Ook hier is dus van ’n kollektiewe gerigtheid eerder as ’n (krampagtige) individualisme sprake, terwyl die verwysing na “in elke plek” impliseer dat gelowiges oë moet ontwikkel vir die “ander”, ’n bewussyn oor ander mense en so juis ook te kan leer van ander. Die beklemtoning op “hulle en ons Here” verseker dat geen monopolie op een groep se verstaan en belewenis van Jesus Christus opgeëis kan word nie.

Leef uit jou identiteit

Toe Little Wa en sy bruid tydens die troue van die eeu, liefde en trou aan mekaar beloof, kon hulle hulle verlustig aan die ryke genade wat God gee.  Hulle het die goedheid van God ontvang, en gekies om daaruit te leef.

Daar is hoop vir die Korintiërs van alle tye, eeue en plekke.  Daar is hoop vir prostitute, dwelmslawe, mense wat konflik en partyskappe aanblaas, hoop vir onsedelikes en vasgelooptes.  Daar is hoop vir aanstellerige mense wat hulle beter ag as ander.  Daar is hoop vir selfregverdigende mense wat hulle nie steur aan reg en verkeerd nie.

Daar is hoop.  Daar is ’n God wat werk, ’n God wat genade en vrede uitdeel en mense help om daaruit te leef.  Hy gee sy Seun, Jesus Christus, aan ons.  Jesus is ons identiteit en roeping.

God stuur ons om te leef

Sluit aan by die Familie-oomblik se beeld van die swartbord.  Laat mense as toewyding ‘n prentjie op die swartbord kom teken terwyl mooi musiek op die agtergrond speel.  Of skryf vooraf ‘n klomp sondes op die swartbord en laat iemand die swartbord skoon was terwyl die gemeente sing.

Flam 5 “Daar Is Geen Grens’

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.