Tweede Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalms 36:5-10
Hoe kosbaar is u trou, o God!
36Vir die koorleier. Van Dawid, die
dienaar van die Here.

2In die hart van die goddelose
het die opstand teen God
die laaste woord.
Die goddelose het geen vrees vir God nie
3en praat net goed oor homself.
Hy is altyd daarop uit
om kwaad te doen en om te haat.
4As hy praat, is dit kwaadwillig en vals;
verstandig wees en goed doen
bestaan nie vir hom nie.

5Selfs as hy gaan lê,
dink hy net kwaad uit;
hy bly op ’n pad wat nie reg is nie;
wat sleg is, verwerp hy nie.
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek,
tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.

11Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.
12Laat my nie onder die voete
van eiegeregtige mense
beland nie,
moenie dat goddeloses
my hier wegdryf nie!
13Dié wat altyd onreg doen,
val net daar waar hulle is;
hulle word platgeslaan
en kan nie weer opstaan nie.

1 Korintiërs 12:1-11
Die verskeidenheid van geestelike gawes
12 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

7Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.

Johannes 2:1-11
Die bruilof in Kana
2 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”
4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”
5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”
Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

Fokusteks

Jesaja 62:1-5
Die Here het jou lief
62 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou
genoem word nie,
en jou land nie meer die een
wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land:
“Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ’n jong man met ’n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 587 “Kyk, hy kom!” Wag, laat ons luister
Vonkk 55 verse 1-2 “Jesus toe u mens geword het”
Flam 318 “Nader Tot Die Here”

Votum
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek,
tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.

8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
11Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.
(Psalm 36:6-11)

Seëngroet
Gemeente, wees gegroet in die Naam van die Drie-enige God:
Mag die Here ook aan julle liefde en trou betoon.

Geloofsbelydenis
Voorganger: Glo jy in God die Vader?
Gemeente: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.
V: Amen.
(Cas Wepener, Soos ‘n blom na die son draai, Bybel-Media, 2011)

Lofsang
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser”of
Vonkk 80 “Ek is bly”of
Flam 136“Nuwe Lewe”

Liedere

F327. “Jesus, Rots”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Hoop en Vertroue)
Oorspronklik: Meine Hoffnung Stehet Feste (1680)
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 503)
Musiek: Gewysig deur Carli Lessing

1. Jesus, Rots, my hoop vir ewig,
veilig kan ek op U bou.
U is Heer, my anker stewig,
vas kan ek op U vertrou.

2. U, my hoop, my koers op aarde –
U gee aan die lewe sin.
Heer, U gee my lewe waarde;
nuut kan ek met U begin.

Refrein:
Deur u mag, deur u krag
dra U my van dag tot dag.
Aan U Heer, altyd weer
lof, aanbidding, dank en eer
lof, aanbidding dank en eer.

3. U, my hoop, my hede, toekoms,
leer my werk en bid en wag.
U gee op my vrae uitkoms,
Inspireer my elke dag.

Refrein:

Brug:
U vergeef, U laat leef
in U krag kan ek oorwin.
U vergeef, U laat leef
in U krag kan ek oorwin, kan ek oorwin.

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede)
Teks en musiek: Neil Büchner
© Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.

2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.

U is naby aan ons Here.

Ons nader tot die Here.

F136. “Nuwe Lewe “
(RUBRIEK: Flam – Lof)
Teks en musiek: Willie Kamffer
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletapark)

Nuwe lewe, Here, gee U my
nuwe vrede, want U maak my vry
van die bande waarmee
die vyand my wou bind.
Nuwe toekoms; ek is in U hand
met die wete U is aan my kant.
In oorwinning sal ek vir altyd triomfeer:
Nuwe lewe!

U het my uit die put van dood gehaal
aan die kruis het U al my skuld betaal.
Deur U bloed is ek silwerskoon gewas
ek is vry deur U Gees wat in my bly.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

VONKK 80 “Ek Is Bly”
Jesaja 61:10
Teks: Malan Nel 1974
Melodie: JEUG-TOT-JEUG — Awie van Wyk 1974
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© 2009 VONKK  Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap. Ek is bly.
Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!

VONKK 16 “God Van Ons Verlede”
Teks: Jannie Hougaard 2003/2009 ©
Melodie: JANNIE – Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003/2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue

God van ons verlede,
U skep ook ons hede.
U laat ons weer nuut begin,
loop voor ons die toekoms in,
lei ons in u vrede.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe”
(vers 2:  T’rug tot in die grys verlede bou Gods word vir ons ‘n brug; oor die troebel van die hede open dit ‘n toekomsvlug.)

Skriflesing: Jesaja 62:1-5

Familie-oomblik

Jy kan die verhaal van die eend-kerk aan die kinders vertel.  Jy kan selfs ‘n paar plastiek eendjies byderhand hê!  Kyk hier vir voorbeeld

Of sluit aan by verse 4-5 van die teksgedeelte, wat sê dat God sy volk liefhet en dit soos ‘n bruilof uitbeeld:  “Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid,  so sal jou God oor jou bly wees.”  Jy kan lidmate se troufotos wys en vertel hoe bly die bruidegom oor sy bruid is – of vra een of twee pappas om self te vertel.  Verduidelik dan dat God net so bly is oor ons – dat ons, die kerk, Jesus se bruid is.  Gee vir die kinders blomme en laat hulle op die maat van die troumars weer gaan sit.

Preekriglyn

Elke Sondag, in ‘n sekere dorpie, skommel die eende uit hulle huise.  Hulle waggel al met Hoofstraat langs tot by hulle kerk.  Hulle skuifel die kerkgebou binne en gaan sit op hulle gebruiklike sitplekke.

Die eende-koor waggel dan binne en neem hulle plekke in.  Dan kom die eende-predikant vorentoe en slaan die Eende-Bybel oop.  Hy lees voor: “Eende!  God het vir julle vlerke gegee!  Met vlerke kan julle vlieg!  Met vlerke kan julle hoë hoogtes bereik en sweef soos arende.  Geen muur of grensdraad kan julle binnehou nie!  Julle het vlerke.  God het vir julle vlerke gegee en julle kan vlieg soos voëls!”

Waarop al die eende hardop skreeu: “Amen!”
Dan waggel hulle huis toe.

Grafika: Titel – Duck mob
Son Bou beach, south coast of Menorca. There’s a freshwater duck lake (in the background) near the beach, frequented by lots of ducks who are well fed by the tourists.
Eiendom van jf1234 (skuilnaam), geneem op 12 Mei 2004 met ‘n Kodak CX 4210.
Kopiereg gereël deur Creative Commons en laat plasing en verandering toe.

Beloofde toekoms

Jesaja 62 is ‘n ryk teks waarin die Here God by monde van sy profeet Jesaja ‘n nuwe beloofde en voorkeur-toekoms vir sy volk bekend maak.  God is op koers met sy volk.  Hulle identiteit, roeping en omstandighede moenie net vanuit die verlede of hede verstaan word nie, maar veral vanuit die toekoms.

Gedink vanuit die verlede, is daar min lig vir Israel.  Hulle is immers in ballingskap vanweë hulle hardnekkige sonde.  Tempel, stad en land is verwoes.  Gedink vanuit die hede is daar net die druk van moeilike omstandighede.  Die uitkoms lyk ver en onbereikbaar.  Die volk is vasgevang in die swaarkry van die hede.

Hoop word gebore wanneer die volk vanuit die toekoms oor hulle omstandighede kan dink.  Die soort toekoms wat ter sprake is, is veel meer as maar net menslike optimisme of “positive thinking.”  Die toekoms, en die verwagting van groter en meer, het met God te doen.  God openbaar dat hy ‘n toekoms aan sy volk skenk.  Dit is ‘n belofte en getuig van ‘n goddelike voorkeur- en beloofde toekoms vir die volk.

Hierdie woorde eggo Jeremia se vroeëre woorde aan die ballinge: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” (Jer. 29:11).

Agtergrond oor die teks

Ons teks kom uit ‘n merkwaardige gedeelte in Jesaja.  Jesaja 60-62 bestaan uit die volgende onderafdelings:

  • Jesaja 60 beskryf ’n nuwe staat van seën en heil wat deur die Here vir Sion/Jerusalem geskep sal word.  Jerusalem sal herbou word en ’n lig in die duisternis wees waarheen die volkere sal stroom.  Daar sal allerlei kosmiese veranderinge plaasvind.
  • In Jesaja 61 bevestig die profeet sy gesag as aankondiger van troos en heil.  Hy troos met die belofte van ’n heerlike toekoms, naamlik die herbouing van die stad en die herstel van die stad se eer.
  • Jesaja 62 is ook ’n heilsbelofte waarin die profeet God se troue beskerming belowe.
Terugkeer uit ballingskap

In 538 v.C. is die bevel uitgevaardig dat die ballinge na die beloofde land mag teruggaan en dat die tempel herbou mag word.  In die eerste twintig jaar na die bevel uitgevaardig is en die eerste ballinge teruggegaan het, het egter weinig gekom van die hoë verwagtinge wat die volk gekoester het.  Vir die meerderheid van die volk was die situasie teleurstellend.  Van die herbou van die tempel het nog niks gekom nie.  Die mense wat na jare van ballingskap terugkeer het, vind dat alles in hulle afwesigheid verander het.  Met hulle eerste oeste het dit ook nie goed gegaan nie, hulle het as volk onveilig gevoel en ’n stryd gevoer om hulle grond terug te kry waarop ander mense hulleself intussen tuisgemaak het.

Boonop is hulle gekonfronteer met ’n situasie waarin ’n verskeidenheid gode in die land aanbid is.  Hulle moes opnuut hulle plek in die veranderde situasie vind.  Soos mens kan verwag, het die mense na hierdie situasie gekyk en onmiddellik een gevolgtrekking gemaak: Die Here het hulle in die steek gelaat. Te midde van die onsekerheid en verwarring, kom die klag dat God sy volk in die steek gelaat het.

Eerste paaiement

Jesaja 61 en 62 is die antwoord op hierdie klag van die volk.  Dis belangrik om te verstaan dat die profeet nie hier vir hulle vertel van die heil wat gaan aanbreek aan die einde van die ballingskap nie.  Hy is besig om met hulle te praat oor die implikasies van die vrede van God.  Hy is tegelykertyd ook die enigste een wat die geloofsmoed het om dit te waag om as ’t ware oor sy eie tyd heen te kyk na die vervulling van God se beloftes.  Met ander woorde, die terugkeer uit die ballingskap was soos die eerste paaiement wat begin uitbetaal.  Daar is nog veel meer wat op God se volk wag.  Meer as dit, Jesaja verkondig ook dat die beweging van God meer as net Israel insluit.

Stilte verbreek

Uit die begin van Jesaja 62 is dit duidelik dat die Here God besluit het om die stilte te verbreek. Ter wille van Sion sal die Here nie swyg nie. Die profeet sê dat hy nie ophou verkondig en bid nie totdat daar vir Jerusalem redding deur sal breek soos ’n nuwe dag (vgl. 60:1-3).  Hy maak Homself hoorbaar ten behoewe van sy volk.

Hierdie nuwe toewending van die Here tot sy volk mond uit in ’n naamsverandering wat oor hulle voltrek word (2).  Dit is betekenisvol omdat ’n naamsverandering gedui het op ’n nuwe identiteit, nuwe geleentheid en nuwe lewe in die wêreld.  Israel se “ou” identiteit het ingehou dat hulle ’n verstote volk was, ‘n volk wat deur die nasies gesmaad en deur die Here verlaat is (37:4; 54:6-8 vgl. Ps. 22:1; Jer. 30:17; Klaag. 5:20). Dit gaan alles verander.  Nou gaan hulle ’n naam kry wat die Here self vir hulle gekies het.  ‘n Nuwe identiteit waarvoor die Here self borg staan.

Jesaja 62:1-5 kondig die uitkoms uit die vernedering en ellende van die ballingskap waarin die volk verkeer, aan.  Die aankondiging bevat nie net die belofte van redding nie, maar is ook ’n kragtige oproep om gebed dat dit moet gebeur.

Beloftes uit liefde gebore

Die profetiese aankondiging sê aan die volk van die Here dat, in plaas van verlate te wees soos ’n verstote vrou, Jerusalem bevolk sal wees.  Sy sal wees soos ’n meisie wat met ’n jong man trou en daarna deur hom versorg word.  Dit is omdat die Here haar liefhet soos ’n bruidegom sy bruid: hy is bly oor haar.

Die verhouding tussen die Here en sy volk word ook elders met die huweliksverhouding van ’n man en vrou vergelyk (vgl. 54:1 ev.; Jer. 2:2; Hos. 2:13 ev.; Sef. 3:17).  Die Here het sy volk met ’n onuitspreeklike liefde lief.  Jesaja 62:1-5 kondig verder aan: Julle moet ’n beroep doen op die Here se beloftes van stoflike en geestelike seën en voorspoed vir sy volk.  Jesaja 62:1-5 kondig aan om die pad gereed te maak, want die Here bring sy volk na Jerusalem toe.  Hulle sal ’n nuwe begin maak en blywend die volk wees wat aan die Here gewy is.

Beloofde toekoms

Die profeet verkondig dat Jerusalem nie die werklike eindbestemming is nie.  Die Here is steeds met sy mense op pad. Hulle gaan met Hom ’n nuwe toekoms tegemoet. Hulle eindbestemming is die nuwe Jerusalem, die nuwe hemel en die nuwe aarde (Jes. 65:15-18).

Jesaja 62 volg die wonderlike boodskap van die oorwinning van die dienaar van die Here in Jesaja 61 op en lewer ’n sterk appèl aan die volk om die belofte van oorwinning vir hulleself toe te eien en hulle lewe daarvolgens in te rig (62:1-5).  Jesaja jubel oor die redding van Jerusalem en maak dit aan almal bekend (62:1-5).

Dit is in die uitspreek van die toekoms wat die toekoms ’n werklikheid word.  Dit is hoe God in die eerste plek geskep het.  Hierdie profesie het dieselfde mag, omdat dit op God se beloftes geskoei is. God se liefde vir sy mense is die rede vir sy redding.  Hy maak alles nuut, sy verhouding met hulle inkluis.  En weereens is die boodskap ook vir die nasies bedoel.

Toepassing

Wat beteken hierdie gedeelte vir ons wat in die een-en-twintigste eeu leef?

Een: Dink toekomsgerig oor gehoorsaamheid
Hierdie gedeelte help ons om diep oor die toekoms na te dink.  Dit help ons ons vertroue in God plaas, maar leer ons ook verstaan dat ons God se beloofde en voorkeur-toekoms vir ons kan verpas deur volgehoue ongehoorsaamheid.

Kom ons gebruik ekologie as voorbeeld om die punt te illustreer.  Die ekologiese ramp waarop ons afstuur, begin sommige mense se oë oopmaak dat die toekoms nie so positief, maak-baar en haalbaar is as wat ons mag dink nie.  Daar is reeds TV-programme wat praat oor die wêreld na die mens.  Ingeligte toekoms-scenario’s maak daarvoor voorsien dat ‘n katastrofe op ons wag.  Ook die menslike geslag is uiters kwesbaar.

Ons het God veral nodig om die toekoms vir ons oop te breek.  Dalk is ons, wat die klimaatskrisis betref, soos Israel in die dekades onmiddellik voor die ballingskap.  Daar is dalk nog kans om onsself ekologies te bekeer, en God se goeie aarde te bewaak en te bewerk eerder as om dit uit te buit en bronne te mors.  Anders kan ons met die verskriklike konsekwensies van ons ongehoorsaamheid as bewerkers en bewakers van God se handewerk gekonfronteer word.

Soos Israel moet ons leer om toekomsgerig oor ons gehoorsaamheid te dink.  Wat is die gevolge van ons dade.  Wat gaan gebeur as ons volhou soos ons tans doen.  As ek oor my eie lewe dink, wat gaan gebeur as miljoene mense verbruik soos ek verbruik, spandeer soos ek spandeer?  Wat gaan gebeur as almal aandring op dieselfde lewenstyl as ek?

Niks minder as ‘n radikale ekologiese bekering, uit gehoorsaamheid aan God, is nodig nie.

Twee: Nooit in die verlede vasgeverf nie
Dit bly een van die wonderlikste eienskappe van God, dat Hy iets so nuut kan maak, dat dit is asof daar nooit iets verkeerds was in die eerste plek nie.  En die rede daarvoor lê opgesluit in sy liefde vir mense, meer spesifiek in hierdie gedeelte, vir die mense van Jerusalem en Sion.

Dit geld steeds vandag.  Wat ook al gebeur, God se liefde, trou en beloftes troon oor elke situasie van doodsheid, verlies, straf en vasgelooptheid in ons lewens.  Geen situasie kan ooit so dood wees dat God nie vernuwing kan bring nie.  Selfs meer as vernuwing: ook lewe uit die dood.

Israel het beleef dat hul onbesonne optrede, ongehoorsaamheid en dwaasheid hulle in ‘n doodloopstraat laat beland.  Verkeerde keuses het hulle die ballingskap op die hals gehaal.  God se liefde en trou beteken nie dat ons die konsekwensies van dwaasheid gespaar word nie.  Daarvoor is die hele Bybel se aksent op wysheid té sentraal.  God se verbond sluit ook ons verantwoordelikheid in.

Tog is selfs ons dwaasheid, sonde, opstand en ongehoorsaamheid nie die laaste woord oor ons lewens nie.  God se troue liefde spreek die laaste woord.  Daarom het ons die belofte van meer.  Ons kan meer genade, seën, liefde en trou beleef.  En ons sál.  God se liefde waarborg dit.

Die wyse ding is daarom om altyd te kies vir die veilige ruimte van God se liefde, deur trou en gehoorsaam voor God se aangesig te lewe.  Binne die ruimte van gehoorsaamheid bly ons ten diepste versorg en bly ons hoopvolle toekoms in die visier.

Dit sluit nie Jobservaringe uit nie.  Die pad wat ons deur die lewe loop maak vreemde draaie.  Ons ken ten dele en weet nie waarom baie dinge oor ons pad kom nie.  Ons ervaar verliese en beleef teenslae.  Die terugkerende ballinge is goeie voorbeelde van hierdie ervaring.  Maar die koers van God met ons lewe bly altyd in ‘n hoopvolle toonaard.  Dit het te doen met wie God is.

Drie: Versterk deur die toekoms
In ons teks word die volk bemoedig en versterk deur aan die toekoms wat God beloof, te dink.  Dit is ‘n sentrale Nuwe Testamentiese perspektief.  Dink aan die wyse waarop die Hebreërbrief ons voortdurend bemoedig om vas te staan in ons geloof.  Die motivering hiervoor is God se beloofde toekoms.

Hierdie is ‘n baie diep perspektief.  Christus is nie net die Gekruisigde nie (verlede tyd).  Christus heers ook op die oomblik aan die regterhand van die Vader (teenswoordige tyd).  En: Christus is die Here wat weer kom aan die einde van die tye om ons finaal vry te maak.  Christus, Wie weer kom, is die Een wat die beloftes van o.a. Jesaja 62 waar maak.

Ons moet onsself meer en meer oefen om toekomsgerig te dink, te glo en te verwag.  Hierdie toekomsgerigte geloof help ons reg kies en reg voor die liefdevolle God se aangesig in die hede.

Dit is presies die perspektief wat die waggelende eende elke Sondag mis.

God stuur ons om te leef

Verootmoediging en voorbidding
Dink na oor die afgelope jaar:
Al die kere wat ons nie die Here ons God liefgehad het met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand nie.
Al die kere wat ons liefdeloos was teenoor ons naaste

Stilte
Dink na oor die jaar wat voorlê:
alles waarvoor jy bang is, waaroor jy bekommerd is, waarna jy opsien.

Stilte
Wat ook al in 2012 gebeur het, wat ook al in 2013 gaan gebeur, God se liefde, trou en beloftes troon oor elke situasie van doodsheid, verlies, straf en vasgelooptheid in ons lewens.  Geen situasie kan ooit so dood wees dat God nie vernuwing kan bring nie.  Selfs meer as vernuwing: ook lewe uit die dood.

Daarom sê Fil 3:13b-15a: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.  Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê.

VONKK 16 “God Van Ons Verlede” (God van ons verlede, U skep ook ons hede. U laat ons weer nuut  begin, loop voor ons die toekoms in, lei ons in u vrede.)

Dankoffer

Slotsang
Lied 327 “Dag van verlossing!  Kyk, Hy kom” (n.a.v. Jes 61) of
Flam 327 “Jesus Rots”

Seën: Jesaja 62:2-5

Respons
Lied 317 “Inkoms en uitgang”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.