Tweede Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 49:1-7
Ek maak jou ’n lig van die nasies
49 Luister na My, eilande,
gee aandag, nasies wat ver is!
Die Here het my voor my geboorte al geroep;
toe ek nog in my moeder se liggaam was,
het Hy my op my naam genoem.
2Hy het my mond
soos ’n skerp swaard gemaak,
my in die skaduwee van sy hand verberg,
Hy het my ’n skerp pyl gemaak
en my in sy pylkoker weggesteek.
3Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,
jy is Israel,
deur jou maak Ek my mag bekend.
4Ek het gedink:
ek het my tevergeefs vermoei,
ek het my heeltemal verniet afgesloof.
Maar die Here sál aan my reg
laat geskied,
my God sál my beloon.
5En nou maak die Here ’n aankondiging,
Hy wat my in die moederskoot al
sy dienaar gemaak het
om Jakob na Hom toe terug te bring
sodat Israel nie meer verstrooi
sal wees nie.
Die Here het my
’n belangrike opdrag gegee
en my God gee my die krag
om dit te doen.
6Hy het gesê: Dit is nie genoeg
dat jy my dienaar is
om die stamme van Jakob te herstel
en om die Israeliete wat gered is,
terug te bring nie;
Ek maak jou ’n lig vir die nasies
sodat die redding wat Ek bewerk,
die uithoeke van die aarde sal bereik.
7So sê die Here,
die Heilige van Israel,
sy Verlosser,
vir dié een wat diep verag is,
wat deur die nasies verafsku word
en wat ’n dienaar van regeerders is:
Konings sal sien wat gebeur
en sal opstaan,
leiers sal buig
tot eer van die Here wat getrou is,
die Heilige van Israel
wat jou uitverkies het.

Psalm 40:1-11
Here, red my tog!
40 Vir die koorleier. Van Dawid.
’n Psalm.
2Ek het gesmag
na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my uitgetrek
uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op ’n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
4Hy het my ’n nuwe lied
in die mond gelê,
’n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor
en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!
5Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel
en hom nie wend tot duister magte
en tot mense wat hulle
met skyngode ophou nie.
6Here my God, U het baie wonderlike
dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.
Ek sou daarvan wou vertel
en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem.
7Dit is nie diereoffers of graanoffers
wat U wil hê nie,
nie brandoffers of sondeoffers
wat U vra nie;
U wil gehoorsaamheid hê.
8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom
soos dit in die boekrol
vir my voorgeskrywe is.
9Om u wil te doen, my God,
is my een begeerte,
u woord is my hele lewe.”
10Met blydskap het ek
aan die gemeente vertel
U het my verlos.
Ek het nie stilgebly nie,
Here, U weet dit!
11Dat U verlos, het ek nie
vir myself gehou nie,
ek het gepraat oor u trou en u hulp.
Oor u goedheid en u trou het ek
in die gemeente nie stilgebly nie.

1 Korintiërs 1:1-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Fokusteks

Johannes 1:29-42
Die getuienis van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:2–8; Luk 3:15–17)
19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”

Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”

21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”
“Nee, ek is nie,” sê hy.
“Is jy dan die Profeet?”
“Nee!” het hy geantwoord.

22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”

23Hy antwoord toe:
“Ek is die een wat in die woestyn roep:
Maak die pad vir die Here reguit.”
Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”

26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God
29Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ’n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die eerste dissipels
35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi”—dit beteken leermeester—“waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

Filippus en Natanael
43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.

45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”

Ekstra stof

Johannes skets in hoofstuk 1:19-51 ’n opeenvolging van gebeure versprei oor 4 dae wat almal iets sê van wie Jesus werklik is:
1. die getuienis van Johannes die Doper – 1:19-28 (vgl 1:6),
2. die koms van die Heilige Gees wat op Jesus bly – 1:29-34,
3. die eerste volgelinge van Jesus as die Lam van God deur Johannes die Doper se getuienis – 1:35-42, en
4. Jesus wat self begin om volgelinge te werf – 1:43-51.

1:19-28
Die teenstand teen Jesus begin met die ondervraging van Johannes die Doper, sy voorloper. Die Jode – vermoedelik die Joodse Raad – stuur priesters en Leviete, waaronder ’n paar Fariseërs, om Johannes uit te vra. Hulle vraag na sy identiteit is ’n poging om hom in die konteks van hulle verstaan van die Skrif te plaas. Johannes identifiseer homself egter net met die uitspraak in Jesaja 40, en nie met die figure van Christus (Jesaja 45:2 [Kores]; Ps 2:2; 18:50; 20:6; 132:17 [koning en sy nageslag]), Elia (Maleagi 4:5 [3:1]) of Profeet (Deut 18:15,18) nie. Hy is ’n wegbereider in die woestyn.

Die vraag oor die doop hou nie noodwendig verband met die vraag na Johannes die Doper se identiteit nie, maar na die gesag waarmee hy Jode doop. As hy dus nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, op grond waarvan doop hy dan? Waarop Johannes ’n antwoord gee wat eintlik na die toekoms wys, dat daar na hom Iemand kom vir wie hy slegs die voorbereider is. Hy antwoord dus nie hul teologiese vraag nie, maar verklaar doodgewoon sy missie as wegbereider.

Hierdie Betanië is aan die oostekant van die Jordaan en moet onderskei word van die dorpie Betanië wat net 3 km van Jerusalem was, en waar Lasarus en sy susters Marta en Maria gebly het.

1:29-34
Johannes die Doper het uiteraard vir Jesus geken, aangesien hulle nefies was, en 6 maande uit mekaar gebore is. Maar ten spyte van sy opdrag om die wegbereider vir die Here te wees, het hy nie geweet wie dit sou wees nie. Wanneer God dit aan hom openbaar en hy die Gees soos ’n duif uit die hemel op Jesus sien kom en bly, dan skuif die gordyn vir hom oop en besef hy dat Jesus die Seun van God is (iets wat al van Israel [Eks 4:22] en Dawid [2 Sam 7:14] gesê is – vgl ook Ps 2:7). Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

Let ook op hoe hy van Jesus praat as die een vir wie hy die weg moes berei, maar wat hom ook vóór is, want Hy was voor Johannes die Doper al daar, soos Johannes die apostel dit reeds in die proloog gestel het.

Dit is interessant dat Johannes na Jesus as die Lam van God verwys. Duidelik is die idee van die Paaslam teenwoordig (Eks 12 – vgl ook die verwysing na Jesus se bene wat nie aan die kruis gebreek is nie, soos die geval ook was met die Paaslam – Joh 19:31-37), wat plaasvervangend die oordeel van God afweer (soos Jesaja 53:7 wat van die Dienaar van die Here as ’n Lam/skaap praat). ’n Mens lees hier ook alreeds iets in van wat Johannes later oor Jesus as die Goeie Herder wat sy skape lei (Joh 10) gaan vertel.

1:35-42
Die volgende dag herhaal Johannes die Doper die uitspraak oor Jesus as die Lam van God. Dit laat 2 van sy eie dissipels die pad vat agter Jesus aan . Hulle noem Hom rabbi, die gebruiklike manier waarop leerlinge hulle leermeester aangespreek het. Daarmee vra hulle dus om onder sy gesag te kom en deur Hom onderrig te word.

Sy antwoord is insiggewend: “Kom saam, dan sal julle sien”. Dit verwys nie net na die sien van sy blyplek nie, maar na hulle oë wat sal oopgaan, soos in die volgende gesprek met Natanael duidelik sal word. Andreas, een van die 2, gee ’n aanduiding van sy insig in die identiteit van Jesus deur sy broer Simon te gaan haal en na die Messias te bring. Die Hebreeuse woord beteken gesalfde, en word in Grieks met Christus weergegee.

Let ook op hoe Jesus stip na Simon kyk, en hom die Hebreeuse naam Sefas gee, wat in Grieks Petrus is – rots.

 1:43-51
Die inisiatief vir die evangelieverkondiging skuif nou duidelik van Johannes die Doper na Jesus, wat die volgende dag besluit om na Galilea te gaan. Sy missie is om volgelinge rondom Hom te vergader, met Filippus, ook van Betsaida soos Andreas en Simon, en Natanael wat by Hom aansluit, en hulle bloot te stel aan wie Hy werklik is.

Let op hoe Natanael deur Filippus gewerf word, soos Simon ook deur sy broer Andreas, wat wys dat volgelinge van meet af aan die werkswyse van Jesus self volg – om dissipels te maak en in te lyf in die betekenis van wie Jesus is.

Ook Filippus gee ’n aanduiding van sy insig in die identiteit van Jesus deur na die wet en die profete se getuienis oor Hom te verwys, maar Hom ook vierkantig in die konteks van ’n aardse familie te plaas – “Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

Ek hou baie van die interessante spel met woorde tussen Natanael wat wonder of daar iets goeds uit Nasaret kan kom (dit word nie in die OT genoem nie), en Jesus wat van Natanael sê dat hy ’n ware Israeliet is, ’n man in wie daar geen bedrog is nie. Op Natanael se verbasing oor Jesus se insig, reageer Jesus met ’n nog dieper getuienis daarvan – “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien” – wat Natanael laat besef dat Jesus nie maar ’n gewone mens is nie, maar inderdaad die Seun van God. Dat hy hom ook “die Koning van Israel noem” eggo waarskynlik die profesieë van Jesaja oor die Messiaanse koning uit die geslag van Dawid.

Terloops, Natanael word nie in die ander evangelies genoem nie, maar deur die kerktradisie met Bartolomeus verbind. Lees meer hieroor in hierdie bydrae van my: Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge.

Jesus se reaksie is om sy insig nog verder te verbreed deur na die bekende leer van Jakob se verwys (Gen 28) as ’n metafoor vir wat in Jesus se bediening van God se wêreld raakgesien sal word. En onthou, net hierna gaan Jesus na Natanael se tuisdorp, Kana (21:2), wat net agt kilometer van Nasaret af is, om die eerste wonderteken van water in wyn te gaan doen!

Liturgie

Toetrede: Lied 158 of VONKK 147

Votum: Psalm 40:2-5

Seëngroet: 1 Kor. 1:2-3

Lofsang: Lied 215 of Flam 192 of VONKK 256

Wet: Ps. 40:7-9

Toewyding: Lied 320 of Flam 14 of VONKK 142

Genadeverkondiging: 1 Kor. 1:4-9

Toe-eiening: Lied 365 of Flam 6 of VONKK 124

Geloofsbelydenis
Gebed

Skriflesing: Johannes 1:29-42

Familie-oomblik
Preek
Gebed

Slotsang: Lied 167 of Flam 65

Seën

Respons: Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 158 “Bring my na U woning, Here” of
VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”

Votum: Psalm 40:2-5
2Ek het gesmag
na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my uitgetrek
uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op ’n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
4Hy het my ’n nuwe lied
in die mond gelê,
’n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor
en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!
5Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel
en hom nie wend tot duister magte
en tot mense wat hulle
met skyngode ophou nie.

Seëngroet:1 Kor. 1:2-3
2Aan die gemeente van God in ________, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lofsang
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam” of
Flam 192 “Die Koning Is Hier” of
VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jube’l

Wet: Ps. 40:7-9
7Dit is nie diereoffers of graanoffers
wat U wil hê nie,
nie brandoffers of sondeoffers
wat U vra nie;
U wil gehoorsaamheid hê.
8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom
soos dit in die boekrol
vir my voorgeskrywe is.
9Om u wil te doen, my God,
is my een begeerte,
u woord is my hele lewe.”

Toewyding
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel (veral verse 1, 4 en 5)” of
Flam 14 “Jesus Is Die Heer” of
VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”

Genadeverkondiging: 1 Kor. 1:4-9
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Toe-eiening
Lied 365 “Hoor die blye engellied (veral verse 2 en 3)” of
Flam 6 “Heer Jesus, My Redder” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”

Geloofsbelydenis
Liturg: Saam met die eerste volgelinge van Christus bely ons ons geloof in Hom.
Saam met Johannes die Doper:
Gemeente: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

L: Met Andreas:
G: Ons het die Messias gekry!

L: Met Natanael:
G: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!

L: Met die Samaritane:
G: Ons weet dat hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

L: Met Simon Petrus:
G: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

L: Met Maria Magdalena:
G: My Meester!

L: Met Tomas:
G: My Here en my God!

L: En nou ook met die universele kerk, versprei oor alle lande, tale en kulture:
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige…
(Uit: Van der Merwe, J. 2001. “Gebedeboek met liturgiese voorstelle”. Lux Verbi.BM, Wellington)

Liedere

F14. “Jesus Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer, val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer, wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer, Jesus is die Heer,
dit is wat ek glo, ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer, voor Hóm sal ek buig,
Jesus is die Heer, Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer, buig Hy neer
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

F6. “Heer Jesus, My Redder”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: Shout To The Lord
Teks en musiek: Darlene Zschech
Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1993 Hillsong Publishing

1. Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
vol wees van u liefde, Heer.

2. My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van sy mag, van sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.
Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde
en sorg vir my.

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)
Teks en musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste.
Ons sing hosanna want die Koning het gekom.
En Hy is hier vir ons.
Ons sing hosanna want God het ingetree.
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee.
Hy is hier vir ons.

Refrein:
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my lewe.
Die Koning is hier,
die Koning is hier.
Here Jesus U is die Koning van my hart.

2. Ons sing halleluja want God is op die troon.
Ons sing halleluja want die dood het verloor
by die kruis van Jesus.
Ons sing halleluja want die lig het gekom.
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom.
Hy’t gekom vir jou en my.

Refrein:

VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”
Teks: Gideon Brits 2010
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668, ritmies aangepas 2001
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming: NG Kerk-Uitgewers 2001
© Teks en orrelbegeleiding: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Ons bring aan U die lof en eer,
ons sing met vreugdeklanke.
U, Heer, ons Koning, het gekom,
dit was ons hartsverlange.
Van vroeg af is dit reeds voorspel
dat U sou kom, Immanuel.
Ons Heiland is gebore!

2. Kom almal, sing jul lof en dank
aan Hom, die Kind gebore.
”Eer aan die Koning en die Heer”,
sing al die hemelkore.
Met blydskap dink ons aan dié dag
deur voorgeslagte lank verwag.
Ons Heiland is gebore!

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 ©
Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 ©
© Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

2. Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

3. Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,
lewe tot in ewigheid!

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

4. Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010
Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746; harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F65. “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Jesus, u Naam is ons vryheidslied,
ons jubelsang van verlossing.
Die sonde se krag word daardeur verbied,
Jesus, u Naam is ons lied.

2. Jesus, u Naam is ons vreugdefees,
ons blye dans van vervulling.
Ons leef in die lig van die Christusgees,
Jesus, u Naam is ons fees.

3. U Naam is ons vlag en ons banier,
dit spel vir ons vrede.
Dit bring ons die lewe wat ons vier,
daar is geen ander naam bo elke naam gegee.

4. Jesus, u Naam is ons sterwenswins,
ons greep op die ewige lewe.
Die Leeu wat oorwin is die Vredeprins.
Jesus, u Naam is ons wins,
Jesus, u Naam is ons oorlogskreet,
ons vaandel, ons evangelie.
Ons vier die oorwinning, ons almal weet:
Jesus, u Naam is ons kreet.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:29-42

Familie-oomblik

Ter aansluiting by die preek, kan julle dalk deur verskillende kleure lense (of selfs deurskynende plastiek) kyk en gesels hoe dit die beeld wat julle sien, beïnvloed. Verduidelik die konsep van die lense wat in die preek gebruik word – dat ons almal op ’n ander manier na Jesus kyk.

Ons sien die beste in wit lig. Maar wit lig is eintlik nie ’n kleur lig op sy eie nie – dit is die kombinasie van alle ander kleure lig. Wanneer ons die verskillende kleure lig bymekaarsit, kry ons wit lig. (Kyk by hier vir ‘n verduideliking van lig en ’n lekker eksperiment met lig kleur mbv Kersliggies en ’n Styrofoam bekertjie.) As ons alleen na Jesus kyk, sien ons vir Jesus net op een manier, maar Jesus is baie dinge. Daarom het ons nodig om vir mekaar te vertel hoe ons vir Jesus sien, sodat ons hom al beter kan leer ken en volg.

Preekriglyn

Newcameranews.com vertel onlangs die storie van fotograaf Karl Svenson, wat onlangs oornag wêreldroem verwerf het. Hy vlieg rondom die wêreld om pragtige modelle te kiek. Hoe het hy hierdie faam bereik?

Dit het alles met ‘n nuwe kameralens begin. Karl vertel: “Ek het my nuwe lens onlangs op ‘n Woensdag gekry. Dis by die kantoor afgelewer, want daar was niemand tuis nie. Normaalweg vat ek net my mik-en-druk kameratjie kantoor toe, ingeval iets dramaties op pad werk toe, of tydens teetyd, gebeur. Aangesien ek die nuwe lens verwag het, vat ek toe my groter kamerasak saam.”

“Toe die nuwe lens afgelewer word, het ek ‘n paar foto’s geneem van mense wat rondstaan en rook, dames in die teekamer, en ook ‘n paar van die motors in ons parkeerarea. Dit het begin reën, so ek het ‘n paar druppels op voorruite afgeneem, druppels op blare, en so aan. By die huis aangekom laai ek toe ‘n paar van my foto’s op facebook, en gaan slaap – uitgeput van al die opwinding.”

Karl Svenson was totaal onvoorbereid vir wat hom die volgende oggend getref het. Teetyd loer hy in op facebook, net om te sien sy foto’s het oornag duisende “likes” gekry. “Voorheen was ek gelukkig om een “like” in ‘n week se tyd te kry,” vertel hy.

Net toe lui sy foon. ‘n Wêreldberoemde sporttydskrif sê hulle het sy foto’s gesien en wil hom Kinbati toe stuur. “Waar is Kinbati?” “Moenie worry nie,” sê die tydskrifredakteur, “ons vlieg jou soontoe om die voorbladfoto vir volgende jaar se uitgawe oor swemdrag te neem. Ons stuur ‘n motor wat jou oor 30 minute by die kantoor sal oplaai en reguit lughawe toe neem.”

Net daar staan Svenson op, bedank sy werk, klim in die motor lughawe toe en vertrek na Kinbati. “Ek het gevoel soos daai ou in die movies wat die swaard uit die rots trek. Die een dag was hy niks, die volgende oomblik is hy ‘n beroemde koning. Ek is binne een dag, danksy my nuwe kameralens, van zero tot hero gelanseer.”

Na byna ‘n dag in die lug land Svenson in Kinbati. “Die hele tydskrifspan, met al die pragtige modelle, wag daar vir my. Ek is moeg, maar ek het werk om te doen. Ek steek my hand in my kamerasak om die nuwe lens uit te haal…. O deksels, ek het die verkeerde kamerasak by my! My nuwe lens lê in die kamerasak by die huis!”

“Gelukkig is kameratoerusting nie ‘n probleem as jy met so ‘n tydskrif werk nie. Hulle het al die beste kameras daar gehad, met al die beste lense. Daar was die beste beligting, grimeerkunstenaars, alles wat jy nodig kon hê. Dit het nie veel gehelp nie. Hulle het nie my nuwe lens daar gehad nie. Hoe ek ook al probeer het, ek kon nie een foto kry wat die moeite werd was nie. Sonder my nuwe lens was ek ‘n nul op ‘n kontrak!”

Arme Karl Svenson. Sy wêreldroem het net ‘n paar uur gehou. Gelukkig het die tydskrif sy vlugkaartjie huis toe betaal. Toe Newcameranews.com met hom gesels het, het hy net terug by die huis aangekom. “Ek hoop ek kry my ou werk terug,” het hy mismoedig gegroet.

(Tot hier ons storie. Voor ons verder gaan: Newcameranews.com is natuurlik ‘n satiriese pseudonuusblad wat die draak steek met mense se oortuigings oor fotografie, soos dat sekere lense jou beter foto’s laat neem as ander. Daar is nie rêrig letterlik iemand soos Karl Svenson nie. Maar daar is baie mense wat sweer ‘n spesifieke lens is die sleutel tot foto-roem en sukses.)

Grafika: Camera lens, eiendom van Elliot Bennett. Foto geneem op 8 November 2011 met ‘n Canon EOS 1000D. Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing sowel as redigering toe. Geredigeer met Picasa 3. Dit is beskikbaar by

Net een lens?

Daar is verskillende maniere waarop mens na die wêreld en na mekaar kan en moet kyk.

Daar is nie so iets soos een fantastiese, nuwe lens wat jou help om alles op die regte en beste manier denkbaar te sien nie. Ons moet op verskillende maniere kyk om reg te sien.

Dink ook figuurlik hieroor. Ons kyk nie bloot deur letterlike lense (brille, kontaklense of kameralense) na die wêreld nie. Ons het almal figuurlike lense waardeur ons kyk. Dink ter illustrasie aan Hansie Cronjé. Die manier waarop sommige na hom kyk, laat hulle ‘n sondaar en ‘n bedrieër sien. Ander sien ‘n held, ‘n staatmaker, ‘n Christen, een van die grootste sportmanne wat die land opgelewer het.

Nie een van die figuurlike lense is opsigself reg nie. Mens het almal nodig. Natuurlik is Hansie ‘n held. Hansie was ook, soos die res van ons, iemand met voete van klei, ‘n gewone mens wat ook kon fouteer.

Lense vir Jesus

Johannes 1 is waarskynlik een van die hoofstukke in die Nuwe Testament wat die grootste verskeidenheid titels of lense vir Jesus bevat. Vergelyk byvoorbeeld:
1. Lam van God (29, 36),
2. Seun van God (34),
3. Rabbi (38),
4. Messias (41),
5. Hom . . . van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het (45),
6. Jesus van Nasaret, die seun van Josef (45),
7. Rabbi (49), Koning van Israel (49), en
8. Seun van die mens (51).

Die vraag is: Waarom is daar so baie name vir Jesus? Die antwoord vind ons in die feit dat elke dissipel iets anders in Jesus sien en dan daaroor getuig. Elke dissipel het na Jesus met ander verwagtings en behoeftes gekom – een het ’n Leermeester nodig gehad, ’n ander ’n Messias, ’n ander die vervulling van die Skrifte – en elkeen van hierdie behoeftes is bevredig.

Elkeen het met ‘n eie lens na Jesus gekyk.

Tog sou ’n mens uit vers 51 die afleiding kon maak dat nie een van hierdie titels uiteindelik die vraag “Wie is Jesus?” beantwoord nie. Die dissipels se getuienis is dus maar net die begin. Hulle sal nog “groter dinge” sien.

Selfs nog meer lense vir Jesus

Al hierdie titels is maniere van kyk na Jesus. En dis maar die begin van die Johannes-evangelie. Regdeur die boek word die lense waardeur ons na Jesus moet kyk vermeerder. Die wonder van Jesus se menswording, en van die werke van God op aarde is so groot, dat daar nie een manier van kyk is wat alles in fokus bring nie.

Die titels vir Jesus word aangevul deur Jesus se sewe “Ek is”-uitsprake:

  • Ek is die brood van die lewe (6:35)
  • Ek is die Lig vir die wêreld (8:12)
  • Ek is die hek na die lewe (10:9)
  • Ek is die goeie Herder (10:11)
  • Ek is die opstanding en die lewe (11:25)
  • Ek is die weg, die waarheid en die lewe (14:6)
  • Ek is die ware wynstok (15:1)

Dan is daar ook die sewe wondertekens in Johannes waardeur Jesus openbaar word.

Soos wat Johannes se verhaal ontwikkel, word die titels wat ons in Johannes 1 kry, vervang, uitgebrei, verdiep en herdefinieer deur Jesus se woorde en werke, en uiteindelik deur sy dood en opstanding.

Waarskuwing en viering

Die ryke verskeidenheid titels is beide ’n waarskuwing en viering.

Dit waarsku die leser om Jesus nie tot sekere voorveronderstellings of vooropgestelde kategorieë of verwagtings te beperk nie, maar om die oë oop te hou vir God se verrassende openbaring.

Terselfdertyd is hierdie opeenvolgende getuienisse van die dissipels ook reeds viering van die grenslose genade van Jesus.

Kom ons staan by een van hierdie titels stil.

Jesus is die Lam van God…

In Johannes 1:29 sê Johannes toe hy Jesus na hom sien kom: “Dáár is die Lam van God”, en dan net sewe verse verder herhaal hy dié woorde: “Dáár is die Lam!” Nadat ons in die voorafgaande gedeelte gelees het hoedat Johannes eers verduidelik wie hy nie is nie – dat hy nie Christus is nie, nie Elia nie en ook nie ’n profeet nie, gee hy nou ’n positiewe aanduiding van wie hy wel is: “Hy is die een wat roep in die woestyn!” En net nadat hy dit gesê het sien hy vir Jesus aankom en dan sê hy: “Daar is die Lam van God!”

Dit was hierdie titel wat my bietjie in die boeke laat rondkrap het. Wat het Johannes bedoel toe hy van Jesus gepraat het as die Lam van God? Wat is die agtergrond van hierdie beeld? En wat wou hy daarmee vir die dissipels oor Jesus sê? Dit was baie interessant om die verskillende moontlike interpretasies van dié begrip na te vors en ek deel dit graag.

… wat die oorwinning behaal

Die eerste betekenis verbind die kommentators aan die Lam wat die oorwinning behaal. In die Jodedom, veral in die Joodse apokaliptiek, was daar ’n sterk tradisie wat gereken het dat die Lam van God die finale oorwinning oor die bose sou behaal. En dit is presies waarvan ons dan later in die Openbaring van Johannes lees.

Gaan lees gerus Openbaring 4 en 5 se groot verwagting oor wie in staat is om seëls te breek van die boekrol waarin al die geheime van die wêreld opgeskryf is. Een van die ouderlinge sê vir Johannes, die leeu uit die stam van Juda het die oorwinning behaal, hy is in staat. En wanneer Johannes omdraai om na die leeu te kyk, sien Hy ’n geslagte Lam wat op die troon sit. En daarna lees ons net in die volgende hoofstukke hoedat hierdie geslagte Lam sy mense sal lei en uiteindelik die oorwinning behaal.

Vandag is die tweede Sondag na epifanie. Hierdie Lam wat die oorwinning behaal, het mens geword en aan ons verskyn. Epifanie was die begin van sy oorwinningstog en ek en jy is vanoggend bymekaar om dit te vier en te gedenk.

…, die lydende Kneg

Die tweede betekenis wat die Bybeluitleggers vir ons uitwys, is die van die Lam as die lydende kneg. Hierdie beeld het ook ’n baie sterk Ou-Testamentiese agtergrond. Dit is veral in aansluiting by Jesaja 42 en Jesaja 52 en 53 waar die kenmerke van die lydende kneg uitgespel word. Op verskillende plekke in die Nuwe Testament betrek die skrywers dié aangrypende beskrywing van die lydende kneg op Jesus.

Dit is veral Jesaja 53:7 wat dié tema aangrypend beskryf: “Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.” As volbloed Jood, wat self uit die woestyn gekom het en die Ou-Testamentiese geskrifte goed geken het, moes hierdie woorde beslis ook in Johannes se agterkop gewees het.

Ons kan Jesus vandag vier as die Een wat in ons plek gely het. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

…, die Paaslam wat geslag is

Die derde betekenis vind ons in die Lam as die Paaslam wat geslag moes word. Weereens is die Ou-Testamentiese agtergrond aanwesig. Dit is veral die gebeure van Eksodus 22 met die uittog van die Israeliete uit Egipte wat die agtergrond vorm. Ons onthou hoedat die paaslam geslag en die bloed aan die deurkosyne gesmeer moes word sodat die doodsengel verby kon gaan. Dit was op hierdie selfde dag wat Jesus ’n paar jaar later gekruisig is. En dit is juis hier waar al die punte bymekaar kom.

Dit is dus ’n titel vol paradokse en ambivalensie. Die Lam wat die oorwinning behaal het, was nie alleen die lydende kneg nie, maar was ook die Paaslam wat self geslag is. Dit is hier waar die tweede deel van Johannes 1:19 vir ons op ’n nuwe manier betekenis kry – luister net weer wat staan daar: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Is dit nie aangrypend nie? Gee dit nie vir jou ook ’n hol kol op die maag nie? Die Lam van God behaal die oorwinning, maar Hy behaal die oorwinning deur die feit dat Hy bereid was om te ly en geslag te word, sodat die wêreld se sonde weggeneem kon word.

Deur kunstenaars uitgebeeld

Hierdie gebeure het die verbeelding van skrywers en kunstenaars deur die eeue aangegryp. Verskillende skilders het dié tema as onderwerp vir hulle skilderye gebruik.

Daar is byvoorbeeld die aangrypende skildery van net die lam, gereed om geslag te word, deur Francisco de Zurbaran geskilder gedurende die 16e eeu. Dieselfde skilder het ’n ander skildery waarop hy vir Jesus in die krip skilder, maar dan baie aangrypend op die voorgrond ook die lam wat gebind is. Daarmee probeer hy juis om dié twee pole bymekaar te hou – die blydskap en vreugde van die Christuskind se geboorte, maar in die voorgrond die Lam wat gereed is om geslag te word.

De Zurbaran gee vir ons met twee lense aangrypende perspektiewe op die Lam van God.

In die wêreld van musiek is dit groot komponiste soos Händel en Mozart wat roem verwerf het met hulle musiekverwerkings van die Agnus Dei en Holy is the Lamb of God. Dink ook aan JS Bach se aangrypende Kantates, asook sy Matteuspassie en Johannespassie.

Lamb of God (“Agnus Dei”)
Lamb of God (Greek: μνς τοθεο, amnos tou theou; Latin: Agnus Dei) is a title for Jesus that appears in the Gospel of John. It appears at John 1:29, where John the Baptist sees Jesus and exclaims, “Behold the Lamb of God who takes away the sin of the world.”[1]

Although “Lamb of God ” refers in Christian teachings to Jesus Christ in his role of the perfect sacrificial offering, Christological arguments dissociate the term from the Old Testament concept of a “scapegoat,” which is a person or animal subject to punishment for the sins of others without knowing it or willing it. Christian doctrine holds that Jesus chose to suffer at Calvary as a sign of his full obedience to the will of his Father, as an “agent and servant of God”.[2][3] The Lamb of God is thus related to the Paschal Lamb of Passover, which is viewed as foundational and integral to the message of Christianity.[4][5]

A lion-like lamb that rises to deliver victory after being slain appears several times in the Book of Revelation.[6] Although also indirectly referred to in Pauline writings, nothing in the context of 1 Corinthians 5:7 suggests that Saint Paul intends to refers to the death of Jesus using the theme found in Johannine writings.[7]

The Lamb of God title is widely used in Christian prayers, and the Agnus Dei is used as a standard part of the Catholic Mass. It also is used in liturgy and as a form of contemplative prayer.[8][9] The Agnus Dei also forms a part of the musical setting for the Mass.

As a visual motif the lamb has been most often represented since the Middle Ages as a standing haloed lamb with a foreleg cocked “holding” a pennant with a red cross on a white ground, though many other ways of representing it have been used.

Liturgy and music
In the Mass of the Roman Rite and also in the Eucharist of the Anglican Communion, the Lutheran Church, and the Western Rite of the Orthodox Church the Agnus Dei is the invocation to the Lamb of God sung or recited during the fraction of the Host.[24] It is said to have been introduced into the Mass by Pope Sergius I (687–701).[25]

Agnus Dei has been set to music by many composers, usually as part of a Mass setting.[26][27]

Luister na die Agnus Dei (Schubert) hier… 

Gebondenheid van die Lam

Watter impak het hierdie verhaal op ons?

In aansluiting by die skildery van de Zurbaran, verstaan die meeste van ons iets van die gebondenheid van die Lam. Of dit in jou persoonlike lewe is, in jou verhoudingslewe, jou beroep, of sommer jou gevoel in die algemeen oor ons konteks hier aan die suidpunt van Afrika – daar is baie mense wat voel dat hulle beweging ingeperk is.

In dié verband gee die beeld van die Lam van God vir ons ‘n lens of blik op die ambivalensie en paradokse in ons eie lewe. Baie mense kan nie die sin van lyding kon verstaan terwyl hulle in die lydingsproses was nie, maar vertel agterna hoedat hulle juis in daardie momente die naaste aan God was. Hoedat die lyding bygedra het tot ’n ongekende groei in hulle geloofslewe. Hoedat hulle by kante van God se genade uitgekom het wat andersins nooit die geval sou gewees het nie. Iemand het by geleentheid gesê daar is min wat ons leer in die tye wat dit met ons goed gaan. Dit is in die swaarkry tye van die lewe wat ons die meeste van God se sorg en van onsself leer.

Die gebonde Lam, wat ter slagting gelei word, is juis die Lig vir die wêreld. Die Lam is vir ons gebind. Die Lam is ons Losser, ons Verlosser, wat ons vry maak – ook van dit wat ons op aarde bind.

Zoom

Ons bevind onsself tans in die tyd van Epifanie. Dié tyd in die kerkjaar wat ons vier hoe die Lam sy verskyning in ons donker wêreld gemaak het. Maar ons kan nie Epifanie reg verstaan sonder om ook te dink aan die pad wat die Lam uiteindelik moes loop nie. ’n Pad wat geëindig het by die offeraltaar op Golgota.

Terwyl ons vandag na die Lam kyk wat die sonde van die wêreld kom wegneem, sit die Lam ‘n lens in ons hande wat op help om die kruis in fokus te bring. God se oorwinning oor die Bose en die mag van sonde en dood. Die Lam gee ons ‘n zoomlens, wat ook verby die kruis op die leë graf kan fokus, en ook die hemelvaart kan raaksien, ja ook kan in-zoom op die Lam aan die regterhand van die Vader, waar Hy regeer, en vanwaar Hy sal kom om die wêreld eenmaal volkome nuut te maak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Slotsang Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde” of
Flam 65 “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees. tussen ons wees en vir altyd bly.

Respons
Lied 313

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.