Tweede Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag word daar tradisioneel gefokus op Jesus by die bruilof van Kana.

Ander tekste

Jesaja 62:1-5
Die Here het jou lief

62 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou
genoem word nie,
en jou land nie meer die een
wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land:
“Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ’n jong man met ’n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.

Psalm 36:5-10
5Selfs as hy gaan lê,
dink hy net kwaad uit;
hy bly op ’n pad wat nie reg is nie;
wat sleg is, verwerp hy nie.
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek,
tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
9In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
10U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.

Johannes 2:1-11
Die bruilof in Kana
2 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”
6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”Hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” 11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. 12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

Fokusteks: 1 Korintiërs 12:1-11

Die verskeidenheid van geestelike gawes
12 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees. 4Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. 7Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê. 11Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

Ekstra stof

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid
Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het. Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ‘n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.
Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is. Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).
Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31). Hy gebruik die beeld van ‘n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon. ‘n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.
As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik. Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding. Dit wys dat die gawes nie ‘n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.
Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 532 “O Vader neem ons hande vs 1,2,3”
Aanvangswoord: Jesaja 62

Seëngroet

Sang: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Skriflesing: Matteus 3:13-17
Die doop van Jesus

Doop herinnering

Sang:  Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Toewyding

Loflied (Opsionee: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:1-11

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of

F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 532 “O Vader neem ons hande vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Jesaja 62
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.
Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
of
6Here, u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke,
7u geregtigheid tot op die hoogste berge,
die reg wat U spreek,
tot in die dieptes van die see.
U sorg vir mens en dier, o Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God! (Psalm 36)

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van die Vader
wat sy geliefde Seun na ons gestuur het
en sy Gees soos ’n duif op ons laat neerdaal het.
Amen.

Sang: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”
Skriflesing: Matteus 3:13-17

Die doop van Jesus
(Mark 1:9–11; Luk 3:21–22; Joh 1:31–34)
13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”
15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”
Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Doop herinnering
Voorganger: Ons dink hier daaraan dat ons saam met Christus gesterf het en begrawe is deur ons doop.

Ons weet egter dat ons ook saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe.
Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat gemaak is by ons doop.
Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus.
Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Voorganger: Bely u u sonde met berou?
Gemeente: Ons bely ons sonde met berou.

Voorganger: Draai u om na Christus toe?
Gemeente: Ons draai om na Christus toe.

Voorganger: Het u saam met Hom gesterf?
Gemeente: Ons het saam met Hom gesterf.

Voorganger: Het u saam met Hom opgestaan?
Gemeente: Ons het saam met Hom opgestaan.

Voorganger: Bely dan u geloof in die drie-enige God.

Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het. Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het.
Ek glo in die Heilige Gees wat my daagliks vernuwe en lei.
(deur Johan van der Merwe en Breda Ludik)

Sang: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Toewyding
Jesus Christus, ons weet wat u opdragte is.
Laat dit dan ons lewenswyse bepaal:
laat ons die wat honger is iets te ete gee,
laat ons die wat dors het, iets te drinke gee,
laat ons klere gee vir hulle wat sonder klere is,
laat ons vreemdelinge verwelkom,
laat ons siekes en gevangenes besoek.
Dan sal U wat regverdig oordeel vir ons sê:
Kom, julle wat deur my Vader geseën is!
Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.
Neem dit as erfenis in besit. Amen.
(Bisantynse vespers/gebede)

Loflied (Opsioneel): Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

F36. ‘Ek Kom Na U Toe “
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verootmoediging / Toewyding / Votum)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Ek kom na U toe, Heer.
Wees by my,
neem weg my onrus;
laat u stilte bly.
Ek’s aan U voete, Heer.
Ontvang my weer,
sien my hart en weet
dat ek begeer:

Refrein:
Om weer naby U te wees!
Wys weer u liefde deur u Gees.
Maak my meer van U bewus.
Vul my met verwondering, Heer.
Wys my wie U is.

Ek kom na U toe, Heer.
Maak my stil,
kom en doen in my
net wat U wil.
Ek wil myself vergeet,
op U bly wag.
Maak my leeg en vul
my met u krag.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here,
in ons hande lê die Skrif
deur eeue van hand na hand aangegee;
U Woord, oorvertel
van geslag na geslag,
van ouer na kind,
tot dié een wat hier in ons hande lê.
Here,
Dit is in dié Skrifte, in dié Woord dat ons na U soek,
ons eie woorde is maar yl en skraal,
en die baie woorde daar buite,
raak nie regtig ons hart
en bring nie die vrede en koers
waarna ons verlang nie.
Daarom is ons gebed, Here:
dat U ons nou sal hoor –
as ons bid om u teenwoordigheid,
om u nabyheid,
om u oop Woord,
om ons ontvanklike harte.
Maak ons daarvoor, stil.
Amen.
(Gebed deur Jan Lubbe)

Skriflesing: 1 Korintiërs 12:1-11
Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die volgende idee is bekom by Sermon4Kids.

Theme: The church, service to God.
Object: A tool box full of tools
Scripture: There are different kinds of spiritual gifts, but the same Spirit is the source of them all. There are different kinds of service, but we serve the same Lord. God works in different ways, but it is the same God who does the work in all of us. 1 Corinthians 12:4-6 (NLT)

I have a tool box full of tools. I imagine you have a toolbox like this around your house, don’t you? Why do you suppose we need so many tools? It is because each of these tools has a different purpose. There is no one tool that can do everything. If I needed to drive a nail into a board, what tool do you think I would need? Right! I would need a hammer. Here’s my hammer. If I were putting together a bookshelf and needed to put in a screw to hold it together, what tool do you think I would need? You are right again! I’d need a screwdriver, and here it is! Let’s see, suppose I needed to measure something, what tool do you think I would need. Of course, I’d need a tape measure. I wonder if I have a tape measure in here? Yep, here it is. What if I needed to drill a hole? Sure, I would need my drill. It is important to have the right tool for the job.
The Church is like God’s tool box. God has a lot of jobs to do and he has given the people in His Church different gifts and talents to help Him to do those jobs. We are His tools! To some he has given musical talent to help lead others in worship. To some He has given the talent of teaching so that they can help others to learn more about Him. There is no one person in the church that can do everything, is there? Listen to what the Bible says, “There are different kinds of spiritual gifts, but the same Spirit is the source of them all. There are different kinds of service, but we serve the same Lord. God works in different ways, but it is the same God who does the work in all of us.”
If I needed to tighten a screw in my glasses, would this hammer help? Would this great big screwdriver help? No, I would need this little tiny screwdriver. You see, it doesn’t matter what your talent is and it doesn’t matter if you are big or small. What does matter is that when God has a job for you to do, you need to be right there in His toolbox, ready and willing for Him to use you.
Look around you. See this house of worship? It is God’s toolbox. Look at all the people in this room. They are God’s tools. Each one ready and willing for God to use them to do his work in this community.
Lord, we thank you that you have given each of us special abilities to do things for you. We pray that when you need us, we will be ready and willing to do what you need for us to do. Amen.

Die Heilige Gees gee vir ons Baie Geskenke
12 1–3 Liewe vriende, ek wil nou ’n bietjie met julle gesels oor die geskenke wat die Gees vir ons gee. Ek wil graag hê dat julle alles baie mooi moet verstaan. Onthou julle nog wat julle alles gedoen het voordat julle vir Jesus lief geword het? Julle was darem baie dom om afgode* te aanbid! Afgode* is mos van klip of hout gemaak en kan nie eens praat nie. Weet julle hoe kan ’n mens uitvind vir wie iemand lief is? Is hy vir ’n dooie afgod* lief, of vir ons lewende God? Eintlik is dit baie maklik om dit uit te vind. As die Heilige Gees* in iemand bly, sal so iemand mos nooit sê: “Dit is vir my lekker om Jesus te vloek,” nie. Maar as iemand sê: “Jesus is die Here en Koning van almal,” dan weet ons dit is die Heilige Gees* wat in Hom bly.
4–6 Die Heilige Gees* gee vir ons baie verskillende geskenke. Hy gee dit vir ons verniet, omdat Hy vir ons lief is. Maar dit beteken nou nie dat daar meer as een soort Heilige Gees* is nie. O nee! Dit is een en dieselfde Heilige Gees* wat al hierdie dinge vir ons gee. Daar is ook baie verskillende maniere hoe ons die Here kan dien. Ons is mos nie almal dieselfde nie. Maar almal in die kerk dien dieselfde Here. Daar gebeur baie keer mooi en spesiale dinge met ons as Christene. Dit is ook nie altyd dieselfde dinge wat met almal gebeur nie. Maar ons weet dat dit een en dieselfde God is wat dit met ons laat gebeur.
7 Die Heilige Gees* gee vir elkeen van ons in die gemeente* verskillende geskenke. Julle wil seker nou graag weet wat hierdie geskenke is? Dit werk so: die Heilige Gees* help elkeen van ons om in ons gemeente* te werk. Elkeen kan ietsie doen. Ons doen dit nie vir onsself nie, maar om ander in die gemeente* daarmee te help. En omdat die Gees ons help om hierdie werkie te doen, sê ons dis sy geskenk aan ons. Kom ek gee vir julle ’n klomp voorbeelde waarmee die Heilige Gees* ons help.
8–10 Party mense in die kerk gee vir ons goeie raad oor hoe ons moet leef. Ander mense verstaan die Bybel weer baie mooi. Dan is daar weer ander mense wat altyd styf kan vashou aan Jesus se hand. Dit maak nie saak hoe sleg dit met hulle gaan nie. Die Gees help ook party mense om siek mense gesond te maak. Dan is daar ook mense wat dinge kan doen wat ’n gewone mens nie kan doen nie. Daar is ook mense wat baie mooi kan preek. Dan is daar ook mense wat kan weet of iemand regtig vir Jesus lief is en of hy net kamma so maak. Daar is ook mense wat in ’n spesiale taal kan praat en dan is daar mense wat verstaan wat hierdie mense sê al praat hulle in so ’n spesiale taal.
11 Maar dit is net een Heilige Gees* wat al hierdie verskillende geskenke vir ons gee. Hy besluit self wanneer Hy dit wil gee en vir wie Hy watter geskenk wil gee.
Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Preekriglyn

Paulus was – menslik gesproke – die stigter van die gemeente in Korinte, ‘n besige, welvarende en metropolitaanse stad. Nadat Paulus die stad teen 51 n.C. verlaat het, vestig hy hom in Efese in Klein-Asië (die Turkye van vandag). Vir die volgende drie jaar sou dit sy basis wees van waar hy gemeentes in Galasië, Antiochië en elders sou besoek.

Wat ons vandag as 1 Korintiërs ken, is eintlik Paulus se tweede brief aan die Korintiërs. Dit het só gekom: teen einde 53 of dalk 54 n.C. ontvang Paulus ontstellende nuus van Apollos na laasgenoemde se besoek aan Korinte. Nou skryf hy ‘n eerste brief aan die gemeente (waarna 1 Kor 5:9 verwys).

Wanneer “Chloë se mense” (1 Kor 1:11) kort daarna egter ‘n berig (waarskynlik mondelings) van die gemeente aan Paulus oorhandig – oor onenigheid in die gemeente – en Paulus ‘n verdere brief van die gemeente self ontvang (1 Kor 7:1) – met vrae oor die huwelik en selibaat, oor vleis wat aan afgode geoffer was, oor die gawes van die Heilige Gees, en ander sake – reageer Paulus met die skryf van wat ons vandag ken as die Nuwe-Testamentiese boek, 1 Korintiërs.

Oor Korinte

Korinte was ‘n belangrike stad in Bybelse tye, geleë op die smal landstrook wat Agaje met die Peloponnesos verbind het. Die stad was dus ‘n prioriteit in terme van militêre, handels- en ekonomiese belange. Met twee hawens was Korinte ‘n belangrike handelstad en knooppunt vir Noord-Suid sowel as Oos-Wes handelsverkeer.

As kosmopolitaanse, internasionale sentrum onder Romeinse bestuur, met toegang tot uitstekende handelsroetes, met genoegsame voorraad natuurlike hulpbronne vir vervaardiging en ‘n bloeiende besigheidskultuur, was Korinte in antieke tye ‘n wêreldstad soos min. Daarom was kompetisie, weldoenerskap, verbruikerskultuur en verskillende vlakke en aspekte van sukses belangrik in Korinte. Dit het waarskynlik ook tot groter faksievorming en wedywering aanleiding gegee as wat in elk geval tipies was in die eerste eeu n.C.

Die ryk diversiteit van die eerste-eeuse Korinte was volgens alle aanduidings ook aanwesig in die eerste gemeente van Jesus se volgelinge in die stad. Daar het die diversiteit ‘n aantal uitdagings meegebring:

• Daar was mense uit beide Joodse en heidense agtergrond in die gemeente. Dit blyk uit die sake wat Paulus in sy brief aanspreek, alhoewel die oorkoepelende raamwerk waardeur die gemeenskap hulleself verstaan, uit die Ou Testament (veral 1 Kor 10:1-13) ontleen is.

• Die uiteenlopende herkoms van mense in die gemeente is duidelik uit opmerkings soos 1 Korintiërs 1:26 waar na hulle wisselende vlakke van sosiale status en mag verwys word; verwysings na diegene met ‘n meer prominente status as ander soos Erastus (Rom 16:23); en hoofde van huishoudings waar die gemeente byeengekom het (1 Kor 1:11, 16; 16:15-17).

• ‘n Belangrike rede vir die onenigheid in die gemeente, die tema van die eerste vier hoofstukke van die brief, was skynbaar die gemeente se diverse sosiale oorsprong en profiel, en verwagtinge en perspektiewe wat onvermydelik van hulle wêreld na die geloofsgemeenskap oorgedra is.

• Die probleme wat in die gemeente bestaan het, is ook veroorsaak deur ‘n oordrewe entoesiasme, veral in soverre dit die Heilige Gees en die Gees se kragte en gawes betref. Meer beïndruk met die kragte wat hulle deur die Gees ontvang het (1:5-7), was hulle skynbaar minder bekommerd oor die verstaan van hierdie kragte (2:12), as om die kragte in te span en daaroor te roem.

Ons teks

Ons teks, 1 Korintiërs 12:1-11, is die inleidende gedeelte van ‘n langer bespreking van en opdragte oor die gawes van die Gees (1 Kor 12:1-14:40). Die paragraaf se fokus is gerig op eenheid en Paulus kritiseer die onderlinge stryery in die gemeente wat verskille oor die gawes van die Gees insluit. Die kritiek op onderlinge twis in die gemeente kom veral in die tweede deel van die teks (1 Kor 12:4-11) aan die orde, terwyl die noue verhouding tussen Christus en die Gees in 1 Korintiërs 12:1-3 beklemtoon word.

Vers 1 tot 3

In vers 1 spreek Paulus die behoefte uit om die gelowiges in te lig oor dinge wat te doen het geestelike dinge en geestelike gawes.
In vers 2 spreek Paulus die gemeente as voormalige “heidene” aan en herinner hulle daaraan dat hulle, voordat hulle volgelinge van Christus geword het, “weggevoer was” (“mislei was”) tot die navolging van “doofstom afgode”.

In vers 3 beklemtoon hy dat niemand wat deur die Gees praat Jesus kan vervloek nie. Wanneer iemand deur die Gees praat, kan sulke spreke onmoontlik teen God ingaan of godslasterlik wees. Net so kan niemand Jesus as die Here erken anders as deur die werk van die Heilige Gees nie.

Argeologiese ontdekkings in die antieke Korinte wys op die wydverspreide gebruik van “vloek”-inskripsies, selfs op grafte van gelowiges. Binne die konteks van 1 Korintiërs 12 verwys hierdie vervloekingsuitsprake waarskynlik na die optrede van gelowiges en hulle faksies teenoor mekaar. So sterk is onenigheid vir Paulus, dat om medegelowiges te vervloek vir hom neerkom op die ontkenning van Christus as Here.

Wat beteken hierdie drie verse? Die gemeente behoort aan God deur Jesus Christus en word gelei deur die Heilige Gees. Almal wat Jesus as Here bely, is deel van die gemeente. Hulle kan nie gebruike van hulle ou lewe, om vloeke uit te spreek en mekaar te veroordeel, langer duld nie.

Vers 4 tot 11

In vers 4 maak Paulus duidelik dat twiste of rusies, of bloot net verskille oor geestesgawes, nie die feit ophef dat dit oor dieselfde Gees gaan nie – “die Gees is dieselfde”. Nog twee kere herhaal Paulus die klem dat te midde van verskillende gawes, dit telkens om dieselfde Gees, dieselfde Here en dieselfde God gaan.

Geestesgawes (Charismata) verwys hier na daardie gawes wat uit genade of “gratis” ontvang is, God se genade aan die gelowiges openbaar maak, en wat gebruik kan word tot nut van ander gelowiges. Trouens, die doel van die gawes is juis die opbou van die gemeenskap van die gelowiges eerder as individuele begunstiging.

Ook in vers 5 beklemtoon Paulus dat te midde van verskille oor bedieninge die Here dieselfde is. Die kernidee is dat God die gemeenskap van gelowiges (die kerk) toerus, met die idee dat hulle dan beide die gemeenskap van gelowiges sowel as die wêreld kan dien.
Selfs ‘n derde keer, vers 6, wys Paulus daarop dat te midde van verskille van (uit)werkinge of effekte, dit dieselfde God is wat alle dinge – dus al die gawes, bedieninge en aktiwiteite wat in die afgelope drie verse genoem is – in almal bewerk. Gelowiges word opgeroep tot diens maar God is die oorsprong van hulle werk se energie en effektiwiteit.

Volgens vers 7 is die geestesgawes nie eksklusief tot sommige gelowiges of alleen vir sekere mense gegee nie. Die verskyning of werking van die Gees word, tot almal se voordeel vir elkeen gegee (12:7). Die gawes maak die aktiwiteite van die Gees openbaar in die geloofsgemeenskap of gemeente. Paulus se klem is op die gemeente en nie die individu nie. Hy beweer nie dat elke gemeentelid sy of haar eie individuele gawe vir eie gebruik het nie; inteendeel, mense het verskillende gawes en gebruik die gawes tot mekaar se opbou. Elke gelowige ontvang nietemin ‘n gawe omdat elke individu vir God belangrik is, en sonder om individu teen groep af te speel maar juis om onderling en gesamentlik die voordeel van die gemeenskap van gelowiges as ‘n geheel te soek.

In die volgende drie verse (12:8-10) verduidelik Paulus aan die hand van ‘n aantal spesifieke voorbeelde watter soort gawes die Gees bied.

• Dis deur dieselfde Gees dat ‘n woord van wysheid sowel as ‘n woord van kennis gegee word (12:8).

• Aan een word geloof deur dieselfde Gees gegee, en aan ‘n ander gawes van genesing – ook deur dieselfde Gees (12:9).

• Aan nog ‘n ander word gegee die werkinge van kragte, en aan ‘n ander profesie, en aan ‘n ander onderskeidinge van geeste, aan ‘n ander tipes tale, en ‘n ander die uitleg van tale.
• Profesie verwys na uitinge wat deur die Gees geïnspireer is, en wat soos die Ou-Testamentiese profete, mense oproep tot bekering, sosiale kritiek uitspreek, of selfs verwys na God se toekomstige verlossing en oordeel.

• Die gawe van spreke in tale het reeds sedert vroeë tye tot omstredenheid aanleiding gegee soos blyk uit 1 Korintiërs 14. Die Griekse woord glōssa beteken letterlik tong, maar soos ook in ander tale en omdat een funksie van die tong met menslike spraak geassosieer word, is dit metafories gebruik om na taal te verwys. In die verlede is die betekenis van tale in 1 Korintiërs 12 gesien as “gewone” maar vir die aanhoorder, vreemde, tale eerder as taal uitinge wat nie andersins bestaan nie. Dieselfde frase, spreek in tale, word egter vir onverstaanbare ekstatiese uitinge ook gebruik (14:5; Hand 19:6). Spreek in tale is ‘n geldige gawe (sien 14:39), maar skynbaar nie vir alle gelowiges beskore nie (12:29-30). Spreek in tale en die uitleg daarvan was nog ‘n manier om die evangelie te verkondig.

In die laaste vers van ons teks (12:11) beklemtoon Paulus weer eens dat dit een en dieselfde Gees is wat al hierdie dinge vir elkeen individueel of afsonderlik toeken of uitdeel, soos die Gees wil – die gawes van die Gees is vir elke gelowige beskore (12:7, 18). Soos in 12:4-6, lê Paulus in 12:11 weer eens klem daarop dat die veelheid en diversiteit van gawes nietemin van een en dieselfde Gees afkomstig is; en dat die Gees besluit oor die beskikbaarstelling van die gawes.

Oor-entoesiasme vir die Gees

Die oor-entoesiasme vir die Gees en die kragte van die Gees, in samehang met aansprake wat deur sosiale verskille bepaal is, het skynbaar ‘n vorm van geestelike elitisme laat posvat in die gemeente. Oorgeneem deur nuwe kennis, vryheid en die vermoë tot byvoorbeeld ekstatiese spraak wat aan geestelike volwassenheid en volmaaktheid gelykgestel is (2:6-3:4), beoordeel gelowiges mekaar en selfs hulle mentors (4:1-5), maar versuim by tye die morele eise van hulle roeping (5:1-6:20).

Die Gees se gawes van spraak is verstaan op ‘n manier wat houdings van elitisme, mededinging en individualisme op ewe pynlike wyse bevorder het.

Om Paulus se besorgdheid en argument te begryp, moet ons verstaan hoe aktief die geestesverskynsels in die gemeente was, asook hoe hoogs gewaardeer sulke vorms van ekstase in die destydse Hellenistiese wêreld was. Profesie, wat soms mantiek genoem is, was besonder hoog geag en gesien as die resultaat van direkte inspirasie, dat die psige in ‘n sekere sin deur die goddelike Gees oorgeneem word. In hierdie toestand van ekstase, het die profete dan uitgeroep in onverstaanbare spraak, wat vertaling en interpretasie vereis het.

Sulke ekstatiese taal, ongeag die verstaanbaarheid daarvan, is as die hoogste manifestasie van die Gees gesien, teenoor lerende en rasionele woorde. Met hulle kenmerkende kapasiteit om die gawes aanduidings van hulle eie belang te maak, het die Korintiërs sekere gawes bevoordeel en spreek in tale as aanduiding van ‘n ware geestelike persoon verklaar (14:22).

Hierteenoor waarsku Paulus dat sulke optrede die goddelike oorsprong van die gawe(s) uitdaag. Al die gawes kom van God, nie net die ekstatiese gawes nie. Die gawes is ook nie net vir selfverryking en eie status nie, maar moet die gemeenskap van die gelowiges dien (2:12).

In 1 Korintiërs 12:4-10 word die kontras tussen die veelheid van gawes en die een-wees van Gees, Here en God telkens beklemtoon. Die klem is deurgaans op die een onverdeelde Gees – die Gees van die een Here en God – as bron van alle gawes.

Omstredenheid

Paulus noem verskeie ander voorbeelde van gawes van die Gees: geloof, genesing, wonderwerke, profesie, onderskeidende geeste, tale en interpretasie van tale. Hierdie gawes het van vroeg af reeds tot baie verwarring en omstredenheid in die kerk gelei.

Vandag argumenteer verskillende groepe steeds oor die voortbestaan en behoorlike toepassing van hierdie gawes van die Heilige Gees. Een opvatting is dat hierdie wonderbaarlike geestelike gawes opgehou funksioneer het na afloop van die apostoliese periode omdat hulle doel was om te dien as tekens wat die evangelie-boodskap bevestig. Nadat die Nuwe Testament voltooi is (laat eerste eeu of vroeë tweede eeu AJ), was hierdie gawes nie langer nodig nie. Aanduidings van bonatuurlike gebeure wat steeds na die apostoliese periode plaasgevind het, bied egter probleme vir hierdie siening.

‘n Ander siening is dat hierdie gawes van die Gees vandag voortduur en getuienis bied van die voortgesette teenwoordigheid van die Heilige Gees onder gelowiges. Gelowiges glo dat die Nuwe Testament die korrekte gebruik van geestelike gawes aanmoedig omdat die gawes bedoel is om onder gelowiges teenwoordig te wees en hulle te bemagtig om God se werk onder leiding van die Heilige Gees te doen.

Gelowiges wat die voortsetting van die geestesgawes onderskryf, is dit nietemin vandag steeds nie met mekaar eens oor die korrekte gebruik van daardie gawes nie.

Die belang daarvan om die Christelike geloof nie maar net as individu uit te leef nie, maar juis binne groepsverband saam met ander gelowiges in Christus in die geloof te lewe en te groei, is vir Paulus van allergrootste belang. In ons taal van vandag is dit duidelik dat Paulus die ekumene, die universele kerk, hier sterk beklemtoon met sy fokus daarop dat die Korintiërs hulle geroepe heiligheid uitleef met mense van orals anders, juis ook omdat hulle en die ander se Here dieselfde Here is.

Verantwoordelik

Dit is duidelik dat die geestelike gawes verantwoordelik gebruik moet word in die gemeente en geemeenskap. Dit is bedoel tot opbou van die gemeente en as getuienis teenoor die wêreld. Aangesien die gawes van ide Ges kom, kan die gawes nie gebruik word om af te breek wat die Gees opbou nie.

Vir Paulus moet die klem eerder op die eenheid onder gelowiges moet val as eksotiese gedagtes oor geestesgawes – weliswaar sonder om geestesgawes opsy te skuif. ‘n Geredekawel oor die aard, tipe en omvang van die gawes kan enersyds die geskenk sowel as die rykheid daarvan in die skadu stel, en andersyds lei daartoe dat die tema eerder ignoreer word. Beide hierdie roetes sou destyds en sal vandag steeds die geestesgawes in die gemeenskap groot skade berokken.

Trouens, onenigheid oor die gawes van die Gees wat verdeeldheid in die hand werk is nie alleen strydig met Paulus se boodskap nie, maar is in die eerste plek simptomaties van ‘n verkeerde verstaan van die één Gees, die één Here, en die één God.

Ons moet die belang van die gawes van die Gees beklemtoon,

• dat die gawes aan elkeen in die gemeente geskenk word,
• dat daar verskillende gawes is,
• dat al die gawes van God af kom deur die Gees, en
• dat die gawes gemik is op die opbou en uitbou van die gemeenskap van gelowiges, tot groter eenheid en tot verheerliking van God.

Foutiewe gebruik van en persepsies oor die gawes maak egter nie die gawes welf onbelangrik nie. Dit moet gebruik word. Ons gemeente is ʼn charismatiese gemeente, in die sin dat ons gawes het wat ons tot onderlinge opbou van mekaar moet gebruik.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes
Wegsending: Lied 524  “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën
Voorganger: Ons kom bely vandag
Gemeente: Jesus is die Here.
Voorganger: U Woord sê:
Gemeente: Niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.
Voorganger: U Gees begelei ons as ons nou hier uitgaan sodat die wêreld kan sien:
Gemeente: Jesus is die Here ( 1 Kor 12:3).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of

F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg:© Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.