Tweede Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die Evangelieteks bou op Jesus se doop van laas week voort en is Johannes se getuienis dat Jesus die Seun van God is. Johannes wys vir twee van sy volgelinge dat Jesus die Lam van God is en dan word hulle Jesus se eerste dissipels. Die sleutelteks is die inleiding tot die eerste brief aan die gemeente in Korinte. Teen die agtergrond van konflik in die gemeente bevestig die inleiding die gemeente se afgesonderdheid en geroepenheid. In Jesaja 49 vertel Jesaja dat God hom geroep het om ‘n lig vir die nasies te wees. Die psalmis skryf in Psalm 40 dat hy nie stilgebly het oor God se verlossing en trou nie. Behalwe vir die tema van roeping wat in al die tekste na vore kom, kan die sentraliteit van God en spesifiek Jesus Christus, in veral die Nuwe Testament se tekste, nie misgekyk word nie. Soos die preekstudieskrywer opmerk, is ons identiteit en roeping gesetel in Christus.

Aangesien dit die eerste Sondag van die nuwe skooljaar in Suid-Afrika is, word die liturgie ingerig as ‘n soort uitstuurdiens vir onderwysers, leerders en die gemeente se jeugleiers.

Ander tekste

Jesaja 49:1-7
Ek maak jou ’n lig van die nasies
49 Luister na My, eilande,
gee aandag, nasies wat ver is!
Die Here het my voor my geboorte al geroep;
toe ek nog in my moeder se liggaam was,
het Hy my op my naam genoem.
2Hy het my mond
soos ’n skerp swaard gemaak,
my in die skaduwee van sy hand verberg,
Hy het my ’n skerp pyl gemaak
en my in sy pylkoker weggesteek.
3Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,
jy is Israel,
deur jou maak Ek my mag bekend.
4Ek het gedink:
ek het my tevergeefs vermoei,
ek het my heeltemal verniet afgesloof.
Maar die Here sál aan my reg
laat geskied,
my God sál my beloon.
5En nou maak die Here ’n aankondiging,
Hy wat my in die moederskoot al
sy dienaar gemaak het
om Jakob na Hom toe terug te bring
sodat Israel nie meer verstrooi
sal wees nie.
Die Here het my
’n belangrike opdrag gegee
en my God gee my die krag
om dit te doen.
6Hy het gesê: Dit is nie genoeg
dat jy my dienaar is
om die stamme van Jakob te herstel
en om die Israeliete wat gered is,
terug te bring nie;
Ek maak jou ’n lig vir die nasies
sodat die redding wat Ek bewerk,
die uithoeke van die aarde sal bereik.
7So sê die Here,
die Heilige van Israel,
sy Verlosser,
vir dié een wat diep verag is,
wat deur die nasies verafsku word
en wat ’n dienaar van regeerders is:
Konings sal sien wat gebeur
en sal opstaan,
leiers sal buig
tot eer van die Here wat getrou is,
die Heilige van Israel
wat jou uitverkies het.

Psalm 40:1-11
Soos ’n herder versorg Hy sy kudde
40 Die uitkoms is hier!
Die uitkoms is hier!
Dit, sê julle God, moet julle
vir my volk sê.
2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,
sê vir hom sy swaarkry is verby,
hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here
die volle straf ontvang
vir al sy sondes.
3Iemand roep:
“Maak vir die Here ’n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
’n grootpad vir ons God!
4Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant
moet gelykgrond word.
Elke bult moet ’n gelykte word
en elke koppie ’n vlakte.
5Dan sal die mag van die Here
geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”
6Iemand sê: “Roep!”
En ek vra:
“Wat kan ek roep?
Alle mense is soos gras,
alles waarop hulle staatmaak,
is soos ’n veldblom:
7gras verdor en blomme verwelk
as die Here sy wind
daaroor laat waai.”
Dit is so, die volk is soos gras.
8Gras verdor en blomme verwelk,
maar die woord van ons God
bly vir ewig.
9Klim op ’n hoë berg en roep hard, Sion,
jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem,
jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!”
10Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam
wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort,is by Hom.
11Soos ’n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar
in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.

Johannes 1:29-42
Die Lam van God
29Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ’n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die eerste dissipels
35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi”—dit beteken leermeester—“waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

Fokusteks

1 Korintiërs 1:1-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ‘n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Verdeeldheid in die gemeente
10Ek doen ‘n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Liturgie

In die tyd ná Epifanie besin ons oor ons lewenswandel in navolging van Christus. Die Evangelie-tekste fokus daarom in hierdie tyd op Jesus se woorde en dade terwyl Hy as mens op aarde was.

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se preekstudies sowel as van vorige bydraes by seisoenvanluister.co.za.

Aanvangslied: Lied  177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Psalm 40

Seëngroet: 1 Korintiërs 1

Sang: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Liturgiese moment waarin ‘n formulier vir die uitstuur van onderwysers in die gemeente gebruik word.
FORMULIER VIR DIE STUUR VAN ONDERWYSERS AS SENDELINGE IN DIE SKOOL WAAR HULLE GEPLAAS IS
ONDERWYSER(S) WORD VORENTOE GEROEP.  (Ring van Port Elizabeth)

Geloofsbelydenis (Kort)

Gebede
Onderwyser(s) word hande opgelê terwyl ‘n lidmaat (ouer of kind) vir hulle bid.

Seënbede
Vonk 38 melodie van Lied 582 (3 verse)

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-9a

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Psalm 40

3Iemand roep:
“Maak vir die Here ’n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
’n grootpad vir ons God!

11Soos ’n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar
in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.

Seëngroet: 1 Korintiërs 1
2Aan die gemeente van God in ___________________, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Sang: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Liturgiese moment waarin ‘n formulier vir die uitstuur van onderwysers in die gemeente gebruik word.
FORMULIER VIR DIE STUUR VAN ONDERWYSERS AS SENDELINGE IN DIE SKOOL WAAR HULLE GEPLAAS IS 
ONDERWYSER(S) WORD VORENTOE GEROEP.  (Ring van Port Elizabeth)

DIE AARD VAN ONS ROEPING 
Die Here gebruik mense in Sy diens- gewone mense. So was die profete in die Ou Testament dikwels gewone mense met ‘n spesiale roeping – Amos was ‘n boer! In die Nuwe Testament kies Jesus hoofsaaklik vissermanne om Sy dissipels te wees.

Vandag nog stuur die Here gewone mense, om ‘n verskil in hulle omgewing te maak. So gebruik Hy sakelui, mediese personeel, winkeliers, wetenskaplikes, munisipale beamptes en vele meer om Sy koninkryk elke dag te laat kom in gebedsverhoring op gelowiges se versoeke: “Laat U wil geskied, laat U koninkryk kom”.

Elke gelowige kan midde in hul omstandighede ‘n koninkryksverteenwoordiger wees. Daarom dat Paulus skrywe dat elkeen in die omstandighede moet bly wat die Here vir hulle gegee het. Inteendeel, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hulle was toe God hulle geroep het. (1 Kor 7)

Oor die spesiale ampte skrywe Paulus “Aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. (EFESIËRS 4:7, 11-13, 15, 16 NLV)

So stuur die Here ook onderwysers om op spesiale wyse diensbaar in Sy Ryk te wees. Dit is juis kinders en jongmense wat besonder ontvanklik is vir die vrymakende en verlossende nuus van die evangelie. En dit is juis hierdie evangelie wat van kinders en jongmense môre se volwassenes maak- volwassenes met gesonde en gebalanseerde waardes. En so word vandag se kinders en jongmense môre se leiers met ‘n visie op die hemelse koninkryk wat in ons dorp en stad realiseer vir alle mense ten goede.

Vir Jeremia het die Here gesê: “Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.” (Jer 1:7-8) Hierdie gemeente stuur u na die skool waar u geplaas is. U word gestuur om waarde toe te voeg aan die lewens van kinders wat onder u sorg geplaas is. U word gestuur om ‘n gesant te wees, ‘n ambassadeur. Onthou, die Here is by jou.

VERBINTENIS 

  • Glo jy dat God self jou spesiaal geroep het vir hierdie besondere bediening?
  • Aanvaar jy dat roeping van ons gemeente om gestuur te word na die skool waar God jou geplaas het?
  • Onderneem jy om hierdie roeping in afhanklikheid van die Gees na die beste van jou vermoë uit te leef?

Onderwyser(s) antwoord 
Liewe gemeente, julle het hierdie onderwyser(s) se verbintenis gehoor.

  • Onderneem julle om hulle te ondersteun in hierdie besondere bediening, deur:
  • gereeld vir hulle te bid
  • hulle en die skole waar hulle dien, prakties te ondersteun soos nodig
  • en jul kinders te leer om hulle te respekteer en te gehoorsaam?

Gemeente antwoord

Geloofsbelydenis (Kort)
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees. Amen.

GEBED 
Onderwyser(s) word hande opgelê terwyl ‘n lidmaat (ouer of kind) vir hulle bid.

SEËNBEDE 
Gaan dan nou in die Naam van die Here,
wat u sal seën en beskerm;
wat tot u redding sal verskyn en u genadig sal wees;
wat u gebede sal verhoor en aan u vrede sal gee! (Num 6)

Vonk 38 melodie van Lied 582 (3 verse)

1.  Here, ons God, as ons nou skool toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F112.(a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy0.
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

(b) “Ek Roem U Naam”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: I lift my hands
Musiek: André Kempen
Teks: Braam Hanekom  (met toestemming André Kempen)
© 1989 Kempen Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II;  Opgeneem op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek roem u Naam,
ek wil graag sing.
Ek wil U eer,
U hulde bring.
want daar is trou en liefde by U, Heer.

Refrein:
Ek wil voor u almag buig,
met my hele hart getuig
van u groot ontferming,
genade vir ‘n sterfling.
Ja, daar is geen einde aan u liefde nie

2. My diepste nood
bring ek voor U.
Ek bid tot U,
ek vra U, Heer,
sien my tog raak, genees my grootste seer.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-9a

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

1. Die preekstudieskrywer het ’n mooi beeld van ’n spieël waarin ’n mens na jouself kyk en ’n glas waardeur jy na ander mense kyk om iets uit te beeld van hoe God ons in konfliksituasies gebruik.
2. Carolyn C Brown maak die opmerking dat dit waarskynlik die eerste generasie kinders is wat nie briewe ken nie. Doen dus moeite om vir kinders te verduidelik wat ’n brief is. Haar volledige voorstel is beskikbaar hier.
3. Gesels met die kinders oor die gawes waarmee God hulle geseën het om gedurende die nuwe skooljaar as God se kinders te leef, spesifiek ook in die skool.
of
Wys vir die kinders ‘n swartbord waarop daar mooi prente in helder kleure bordkryt geskryf is.  Vra wat ‘n mens doen as jy ‘n fout maak?  Jy vee die fout uit en begin van voor af.

Ons lewens is soos ‘n prent wat ons op ‘n swartbord teken.  God wil hê dat elkeen van ons ‘n pragtige prent met ons lewens teken (roeping).  Hy het vir ons gawes gegee om dit mee te doen – soos die helder kryte waarmee ons teken.  Ons teken egter nie alleen aan hierdie prent nie – ander mense (mamma en pappa, maatjies, gemeente, ens.) teken saam met ons aan hierdie prent.

Soms maak ons foute met ons lewens-prent.  Ons baklei met mense, is ongeskik, ens.  Gelukkig bly daardie lelike goed nie vir altyd deel van ons prente nie – God vee dit self uit en gee vir ons kans om dit oor te doen.

Grafika bekom met Google Advanced Search, geen kopiereg en beskikbaar hier.

Preekriglyn

Wat moet ‘n arme predikant, apostel of gemeenteleier doen as hy of sy in ‘n gemeente die een ná die ander geraamte in die kas kry? Hoe gemaak as jy jou beste as geestelike leier oor jare of dalk dekades gedoen het, net om te ontdek daar wag konflik en onenigheid om elke hoek en draai? Veg jy of vlug jy, of sit jy versteen sonder om te weet watter kant toe?

‘n Mens kan jou kwalik in Paulus se situasie indink. Hy het ongeveer 18 maande (Hand 18:11; waarskynlik tussen 49/50 en 51/52) in Korinte gewerk. Hy het werklik moeite gedoen.

Toe kom daar ontstellende nuus.

Verdeeldheid

Paulus ontvang berig van Chloë se mense (1:11) dat daar groot probleme in die gemeente is.

“Chloë se mense” verwys waarskynlik na bekeerde, vrygemaakte slawe van Chloë. Hierdie groep, Chloë se mense, vertel van konflik en partyskappe in die gemeente. Aangesien hulle bekeerde, vrygemaakte slawe was, pas dit in by die prentjie dat deel van die partyskappe op verskille in sosiale klas gebaseer was.

Ons weet ook dat sommige Korintiërs verskillende leiers aangehang het. Sommige het hierdie leier (bv Paulus) verkies, en ander weer daardie leier (bv Apollos).

Daar was ook ‘n “amptelike verslag” van hoe dit in gemeente gegaan het. Daardie amptelike verslag van Korinte (16:17) het skynbaar niks van die innerlike spanning verwoord nie. Diegene wat in beheer was, wou ‘n mooi prentjie van die gemeente voorhou. Mense wat die verdeeldheid aan die lyf gevoel het, sou eerder daaroor wou praat en hulp wou vra.

Paulus moes persoonlik seergemaak gevoel het. Hy het immers deur sy bediening daarna gestreef om mense uit die verskillende sosiale lae – Jood of Griek, slaaf of vryman – in die Naam van Christus onder een identiteit te bring.

Fokus op identiteit

Wat doen Paulus om die verdeelheid aan te spreek?

Sonder om uit selfverdediging beskuldigings uit te deel en mense links en regs te vervreem, begin hy deur die konflik en verdeeldheid terug te bring na identiteit – die gemeente se identiteit in Christus Jesus. Deur nege keer in die nege verse van ons teks Jesus se Naam te noem, beskryf hy die Christelike identiteit van die gemeente.

Sonder om in ‘n verbale geveg die probleme een vir een aan die kaak te stel, begin Paulus deur die oplossing eers te verwoord. ‘n Gemeente moet oor haarself dink in die lig van hul verhouding met God die Vader deur Jesus Christus.

‘n Span leiers

Die identiteit in Christus vra van gelowiges om saam te werk.

Opvallend genoeg begin die brief deur na Sósthenes te verwys in dieselfde asem as die outeur, Paulus. Dit kan op twee maniere verstaan word:

  • Sósthenes was waarskynlik dieselfde man wat die owerste van die sinagoge in Korinte was (Hand 18:17), tot bekering gekom het en daarna Paulus Efese toe gevolg het. Deur sy naam in die gesprek in te bring, word ‘n bekende en gesiene lid van die gemeenskap in Korinte ‘n waarborg of getuie vir die inhoud van die brief wat volg en van Paulus se apostelskap. Hoofstuk 4 gee verdere aandag aan Paulus se apostelskap, maar die inleidende woorde stel dit reeds aan die orde. Sósthenes word as getuie daarvan genoem. In die Joodse reg was die woord van twee getuies as bewyslas genoegsaam. Paulus stel dit hier as ‘n feit, en sal later meer volledig daartoe terugkeer.
  • Die verwysing na Sósthenes as broer dien ‘n verdere doel. Sy status en volmag as dienaar van die Woord (egter nie ‘n apostelstatus nie) word verwoord, asook sy verhouding met Paulus as medewerker. Deur Sósthenes as broer uit te wys, help om die angel uit verdere partyskappe te haal. Later in die brief wys Paulus die onderlinge partyskappe tussen aanhangers van die verskillende leiersfigure uit. Ten minste sou daar nie sprake van kon wees by die volgelinge van Paulus en Sósthenes nie!

Aangesien Paulus en Sosthenes albei dienaars van God is, werk hulle as ‘n eenheid saam.Hulle goeie verhouding illustreer die punt wat hy vir die Korintiërs maak.

Eiendom van God

Die hoogste status behoort egter aan Koning Jesus. Die eerste nege verse bevat nege verwysings na Jesus Christus. Saam met die beskrywing van die kerk as gemeente van God, word die eienaarskap van die gemeente onmiddellik aan God en Christus verbind.

Dit is deurslaggewend in die gesprek met gelowiges in Korinte. Die lesers moet reeds van die begin af kennis neem dat die enigste leier en Here Jesus Christus is. Hy is die begin en voleinding van die identiteit van elke gelowige. Buite Jesus om is daar nie sprake van gelowige, kerk of gemeente nie.

Soos Paulus in vers 5 en 7 opmerk, het die Korintiërs nie teruggestaan wanneer dit by geestelike gawes gekom het nie. Hoofstuk 11 vermeld dat ook vernames onder hulle getel het. Ongetwyfeld sou hierdie feit en die beoefening van die geestelike gawes (hfst 12-14) tot geestelike hoogmoed en meerderwaardigheid kon lei (wat beslis die geval was!). Om dit reeds aan die begin in die kiem te smoor, verwys Paulus herhaaldelik na die Here van die kerk (Jesus Christus) as die eintlike eienaar van die gemeente. Die gemeenskap moes besef dat hulle identiteit buite hulleself in Christus setel.

Geroep en afgesonder

Die gemeente het nie net ‘n Christelike identiteit nie, maar ook ‘n Christelike roeping, ‘n taak aan hulle opgedra deur God. Hulle leef onder God se opdrag. Hulle is (vers 2) dié wat deur God geroep en afgesonder is om sy eie mense te wees.

Hulle is nie soos die wêreld en die omliggende kultuur nie. Hulle moet anders wees. Hierdie tema kom sterk uit die Ou Testament. Hulle woon in ‘n heidense stad, Korinte, maar hulle is nou afgesonder vir God. In Levitikus 19:2 is ‘n verwysing na die opdrag aan Joodse gelowiges om heilig te wees, aangesien God heilig is. Hiermee saam moet ons 6:11 lees wat die gelowiges aandui as gewastes, geregverdig en geheilig.

Konflik en partyskappe verbreek die heerlike roeping van God wat hulle afgesonder het om in God se diens te staan.  Onheiligheid is niks minder as ondermyning van die heiligheid van God nie.

Genade en vrede

Teen die tyd dat die eerste lesers “genade en vrede vir julle” (vers 3) gehoor het, het hulle ore by wyse van spreke reeds getuit. Uit die terloopse verwysings van Paulus, is dit immers reeds duidelik dat hy presies geweet het wat in Korinte aan die gang was.

Hy was egter nie daarop uit om hulle te verkleineer of te verneder nie. Met pastorale sensitiwiteit en groot sorg wil hy hulle op ‘n mooi manier begelei en tot ander insigte bring. Die groet van genade (Grieks charis) en vrede (Hebreeus shalom) wil verder op ‘n inklusiewe wyse die gelowiges voor God die Vader en die Here Jesus Christus saambring .

Positief

Die positiewe manier waarop Paulus in vers 4 tot 9 oor die gemeente met hulle praat, al is hulle soos probleemkinders, onderstreep dat die genesing van konflik begin deur te onthou wie jy in Christus is en wat jou roeping is.

Wanneer Paulus – maar te bewus van Korinte se stapel probleme – deur die oë van die dienende, gekruisigde Christus na die gemeente kyk, kan hy nie anders as om positief oor hulle te oordeel nie.

Gemeenskaplike herkoms

In die danksegging van 1:4-9 word die gelowiges aan hulle gemeenskaplike herkoms herinner. Met ‘n woord van danksegging en lof aan God, beklemtoon Paulus die goedgunstigheid van God in die oorsprong van die gemeente. Dit is aan God te danke dat hulle bestaan.

Weereens word die gevaar van menslike prestasie negeer. Nóg Paulus, nóg enige van die gemeentelede, is die rede vir hulle bestaan. Dit is aan God alleen wat die dank toekom.

God het egter nie net gesorg vir die ontstaan nie. Hy het die gemeente in hulle verhouding met Jesus Christus ook met goedheid (lees “gawes”) oorlaai. Verder het God die gelowiges in elke opsig ryk gemaak.

  • Op materiële vlak was Korinte vooruitstrewend. Gevolglik was van die gelowiges ook welvarend. Dit was dalk die rede waarom sommige vroeg by die nagmaal kon opdaag (hfst 11), terwyl ander moes werk en eers later kon aansluit.
  • Die gelowiges was egter ook ryk in geestelike bates. Hulle was immers bekend vir hulle geestelike gawes. God het vir die gemeente alles voorsien wat nodig was. Hulle kon met reg uitsien na die wederkoms – mits hulle enduit kon vasstaan. Daarom is die gelowiges nou tot meer in staat as babas (3:1-5). Danksy God se trou en voorsiening, kan hulle die situasie in die oë kyk.

In die bestek van net nege verse het Paulus die gemeente deur sy inleidende woord en danksegging van die verlede deur die hede na die toekoms gebring. Hulle herkoms, huidige situasie met gawes en rykdom, is immers deel van die trajek wat na die toekoms reik. Meesterlik het Paulus hulle oë en ore kom vestig op wat voorlê, eerder as op wat gebeur het of aan ‘t gebeur was. Asof hy ‘n dik streep in die sand getrek het, is die weg nou berei om by die eerste van die probleemsituasies in vers 10 tot 17 uit te kom.

Wat ons sien, is ‘n sensitiewe keuse van woorde en oorheersende pastorale fokus om die gemeente se gesig na God toe te draai en Jesus Christus deurentyd voor hulle te hou. Hy is immers die Here van die gemeente, net so veel as wat Hy hulle Verlosser is.

Boodskap vandag

Wat is die boodskap van hierdie teks vir ons vandag? Kom ons dink aan ‘n paar sake.

Verskyning van God se genade

Ons is tans in dié tyd van die kerkjaar wat as Epifanie bekendstaan – dit beteken die verskyning van God se genade.

Op die tweede Sondag van Epifanie is dit gepas om te onthou dat God tot ons redding verskyn. Terwyl ons na oplossings soek, en worstel met ons uitdagings, daag God keer op keer by die deur op. Hierdie verskyning is onverwags, maar ook ‘n vingerwysing. Dit wil die gemeenskap voor God versamel, ‘n gemeenskap wat hulle bestaan en identiteit aan Hom te danke het. Dit wil daarom reeds dat ons aan die begin van die nuwe jaar op God en mekaar fokus.

Terwyl nuwejaarsvoornemens (wat dalk teen hierdie tyd al begin sneuwel) ‘n persoonlike geneigdheid het, wil die epifanie ons gemeenskaplike identiteit voor die verskynende God uitlig. In Jesus Christus het God vir die wêreld verskyn. As gemeenskap, is daar dus bande wat ons aan mekaar bind wat deur die epifanie belig word.

Stad van God

Toe die Romeinse Ryk aan die tuimel was, skryf Augustinus in die vyfde eeu in sy Die stad van God dat daar ‘n groot verskil tussen die stad van God en die stad van die mens is. Volgens Augustinus begin alles by die punt waar God ons roep om in sy stad in te gaan. Die stad begin as ‘n stad van die mens, maar groei en ontwikkel tot iets veel groters, in dié sin dat in die stad van God, die liefde vir God en my naaste die botoon voer. In die stad van die mens is eiebelang die hoogste waarde, maar in die stad van God is dit afwesig. ‘n Nuwe manier van leef en bestaan kom só tot stand.

In God se stad is ons as gelowiges aan mekaar verbind. Ons word definieer deur ons “ons-wees” en nie “ekkigheid” nie (om Willem Nicol buite konteks aan te haal). Liefde vir God en liefde vir my naaste, is onlosmaaklik verbind. Saam is ons – soos die gelowiges van Korinte – in elke opsig ryk gemaak en met genadegawes geseën, sodat ons gretig na die toekoms en wederkoms kan uitsien.

Danksegging

Paulus gebruik die identiteit van die gelowiges, hulle rykdom en vooruitsigte, as grondslag vir sy danksegging. Om dankie te sê, word ‘n bousteen vir die hantering van die moeilikheid wat voorkom. Om dankie te sê, word die drumpel wat oorgesteek word wanneer gelowiges van die stad van die mens na die stad van God oorstap.

Te midde van ons onderlinge stryd en verskille, is die vermoë om dankie te sê die eerste tree tot versoening. Dit is in die dankie sê dat ons iets aan die moeilikste van ons onderlinge verskille kan begin doen – ons eiegeregtigheid. Paulus se danksegging vervul hierdie brugfunksie op treffende wyse. Dit is immers aan Jesus Christus te danke dat die hoorders nou Christene is. Christene kan hulle geskille bylê. Paulus gebruik deurgaans die meervoudsvorm “julle”. Almal word oor een kam geskeer; niemand is méér of mínder heilig nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën
Hou julle oë op die Lam van God en gaan in vrede. As julle uit die kerkgebou gaan, gaan julle nie uit as slawe wat uit vrees gehoorsaam is aan ’n hardvogtige meester nie. Nee, julle gaan uit as die vrygemaakte kinders van God, vir wie God liefhet met ’n grenslose, ewigdurende liefde.
Dien God met blydskap,
dien jou naaste met liefde,
dien jou geliefdes met dankbaarheid,
en dien jouself met vriendelikheid en sagtheid.
Die liefde van die heilige God omring jou,
die liefde van die heilige Christus verlos jou,
en die liefde van die Heilige Gees bly in jou,
nou en vir altyd.
Amen!
(uit ’n liturgie van Bruce Pewer).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.