Tweede Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag dink ons daaraan dat ons God volledig kan vertrou. Hy het ‘n wonderlike plan vir ons lewe en Hy voer dit uit. Hy waarborg dit op grond van Jesus se opstanding. Ons moet daarna streef om al hoe meer soos Jesus te leef en Hom aan die wêreld bekend stel met ons hele lewe. Op hierdie pad kan ons die Here vra om ons te lei en te beskerm. Jesus gee aan elkeen van sy volgelinge die opdrag om van Hom te getuig.

Ander tekste

Handelinge 2:14a, 22-32
Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17Só sal dit in die laaste dae wees,
sê God:
Ek sal my Gees uitstort
op alle mense:
julle seuns en julle dogters
sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars
en my dienaresse
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag
van die Here kom.

Handelinge 2:22-34 ()
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:
Ek het die Here altyd voor oë.
Hy is aan my regterhand;
ek sal nie wankel nie.
26Daarom is my hart bly
en my tong jubel,
ja meer, ek het die verwagting
dat my liggaam sal lewe,
27want U sal my nie
aan die doderyk oorlaat nie;
U sal nie toelaat dat u troue dienaar
vergaan nie.
28U het my die paaie van die lewe
geleer;
u teenwoordigheid sal my
met vreugde vul.
29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:
Hy is nie aan die doderyk
oorgelaat nie,
en sy liggaam het nie
vergaan nie.
32God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.

34Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy:
Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
35totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het. f
36Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Psalm 16
Niks goeds nie behalwe by God
16 ’n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie
behalwe by U.
3Die afgode in die land,
so aantreklik vir baie-
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ’n ander god vereer,
baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers
uitgiet nie,
hulle name sal ek nie
op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar
nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Johannes 20:19-31
Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Fokusteks

1 Petrus 1:3-9
1 Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus.
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. 2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Die lewende hoop en die egte geloof
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Ekstra stof

Inleiding op 1 Petrus
Petrus in die Bybelteks
Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer.  Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus  word in die Bybelteks as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken.  Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see!  In die proses het hy soms foute gemaak en soms bitterlik gehuil oor sy beperkinge.  Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk.

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd.  Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad.  Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees.  In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

Die versoeking is dus groot om in diepte sy menswees en bediening na te speur in die NT.  Dit sal egter ‘n omvattende studie wees, aangesien ‘n mens dan die ongeveer 180 verwysings na hom in die NT in berekening sal moet bring.  Dit sal ‘n uiters fassinerende studie wees om die 30 plus groter verhale oor hom te neem as ‘n venster op hierdie geloofsheld se unieke pad met God. Daaruit sal ons baie kan leer wat ons op ons eie pad met God kan inspireer.

Dink maar net aan die volgende:

  • Sy geloofsmoed om uit die skuit te klim om op die water na Jesus te loop – Matt. 14.  Hy het daarmee ‘n aanmoediging vir ons geword om dit met die Here te waag en op Hom te vertrou.
  • Sy belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God – Matt. 16; Mrk. 8; Luk. 9.  Geen wonder Jesus het hierdie belydenis as ‘n rots vir die kerk beskrywe nie.  Sy naam Petrus, dié naam wat Jesus aan hom gegee het, beteken immers rots in Grieks.  Daarby het hy het in ‘n sekere sin só die rots van die eerste kerk geword.  Dit is ook Petrus wat gesê het: “U het die woorde wat ewige lewe gee.” (Joh. 6:68).
  • Sy eerlike interaksie met Jesus waarin hy Hom bv. lyding wou spaar – Matt. 16; Mrk. 8.  Al was dit dwaas in die lig van die kruispad wat Jesus móés ondergaan, gee dit ‘n mens ‘n kykie in die hart van dié weerbarstige okkerneut van ‘n man.  Dit gebeur juis meermale dat hierdie eerlike interaksie met Jesus belangrike waarhede na vore bring: rondom die vraag na tempelbelasting en die vraag oor vergifnis (Matt. 17) sowel as die vraag na die beloning vir hulle dissipelskap (Matt. 18; Luk. 12).  En wie kan die voetewas episode vergeet toe hy eers nie wou hê dat Jesus sy voete was nie, maar toe hy besef dat dit noodsaaklik is, sommer heeltemal gewas wil word! (Joh. 13).
  • Sy verwondering oor Jesus op die berg van verheerliking wat hom verdwaas laat voorstel dat hulle hutte daar bou om die moment vas te vang – Matt. 17; Mrk. 9; Luk. 9.  Dié optrede van hom word ‘n geleentheid vir God om vir ons almal te sê, luister na Jesus.  Petrus was die katalisator vir dié baie belangrike uitspraak van God.
  • Sy verwildering en verloëning in Jesus se uur van nood in Getsemane sowel as in die binnehof van die hoëpriester se woning – Matt. 26; Mrk. 14; Luk. 22.  Hy het nie net aan die slaap geraak nie, maar ook die hoëpriester se slaaf, Malgus, se oor afgekap, wat Jesus gelukkig genees het (Joh. 18).  En uiteindelik het Petrus die Here Jesus verloën voor ‘n eenvoudige diensmeisie wat as deurwagter opgetree het.  Dit staan vir ons almal vir altyd as ‘n waarskuwing teen vleeslike bravade en oormoedigheid.
  • Sy getuienis oor die leë graf wat die vroue se waarnemings bevestig het en die kerk se vaste belydenis oor die opstanding van Jesus Christus geword het – Luk. 24; Joh. 20.  Die effek hiervan is haas onbepaalbaar groot.  Met Jesus se ontmoeting met hom by die see van Galilea, waar hulle verhouding op só ‘n intieme manier herstel is, kon dié boodskap met krag verder gevoer word.  Boonop het Jesus hom aangestel as herderleier van die vroeë kerk, ‘n taak wat hy met onderskeiding vervul het (Joh. 21).
  • Sy helder verduideliking van die uitstorting van die Heilige Gees en die impak wat dit nie net vir hulle eie tyd sou hê nie, maar vir alle generasies en tot in lengte van dae (Hand. 2).  Dit is daarom ook betekenisvol dat dit juis hy is wat deur die Here gebruik is om eerste dié boodskap uit te dra na gelowiges uit ander nasies, waarvan Kornelius die eerste was wat ingesluit is (Hand. 10).  Hy was ‘n sendeling van formaat, kom ons in die loop van Handelinge agter.  Trouens, hy beskryf sy bediening as volg: “Julle weet dat God my al van die vroeë dae onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God die kenner van die harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle net soos aan ons, geskenk het.”  (Hand. 15:7-8).  Al het Paulus dus uiteindelik meer grense oorgesteek en ‘n groter wêreldwye impak gehad as Petrus, moet ons altyd onthou dat die grensoorskryding by Petrus begin het.  Daarom kon Petrus saam met Paulus en Jakobus by die eerste “sinodesitting” van die vroeë kerk ‘n beslissende stem uitbring in die guns van die insluiting van gelowige uit die heidennasies (Hand. 15).  Anders sou die Christelike beweging ‘n eng sektariese Joodse beweging gebly het.
  • Die beginsels wat hy deur die loop van sy bediening neergelê het, en deur ander as Christelike leerstellings oorgelewer is en tot vandag toe nog ‘n impak het: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” (Hand. 3:6).  “‘n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” (Hand. 5:29).

Maar, dié paar opmerkings moet vir eers genoeg wees oor die lewe van hierdie ongelooflike instrument in God se hand.

Die eerste brief van Petrus
Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C. uit Rome (aangedui as Babilon in die brief – 1 Pet. 5:13 – soos dit ook in Openbaring gedoen word – Openb. 14:8; 17:5).

Daar is twee oorwegings vir die datum.  Die eerste oorweging is die feit dat dit uit Petrus se brief duidelik is dat lyding en vervolging van Christene begin toeneem het, en ons weet dat dit juis in die sestigerjare onder keiser Nero begin toeneem het.  Trouens, die eerste amptelike vervolging van Christene deur die staat is deur Nero begin in 64 n.C. toe hy onverdiend die Christene vir ‘n brand in Rome verantwoordelik gehou het.  Die tweede oorweging is die feit dat Petrus ‘n marteldood gesterwe het in Rome aan die hand van keiser Nero êrens tussen die jare 64-68 n.C.  Omdat Nero in 68 n.C. dood is, moes dié brief voor 68 n.C. geskryf gewees het.

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word.  Hy doen dit egter op ‘n ander manier as wat Jakobus dit gedoen het in sy eie brief (Jak. 1:1).  Jakobus het Joodse Christene bedoel, terwyl Petrus duidelik van Christene uit die heidennasies praat (vgl. 1 Pet. 1:14: “As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike neigings van vroeër toe julle nog sonder kennis was nie.“; 2:10: “Julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is …“; 4:3: “Julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen …“).

Die term vreemdelinge dui dus aan die een kant die vreemdelingskap van Christene aan binne die politieke bedelings van die streke waar hulle woon.  Aan die ander kant sluit Petrus hulle met die term Diaspora ook duidelik in binne die een volk van God wat verspreid is oor die aarde, iets waarvoor sy oë die eerste oopgegaan het in die vroeë kerk, soos die verhaal van Kornelius bewys (Hand. 10).

Hoewel die brief waarskynlik ook die status van ‘n omsendbrief gehad het en deur baie gemeentes ontvang is, rig Petrus dit ook spesifiek aan Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1).  Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie.  Trouens, Paulus is deur die Heilige Gees verhinder om in Asië en Bitinië te gaan werk (Hand. 16:6-7) wat tot die evangelisering van Europa gelei het met die werk wat in Filippi begin is in antwoord op die roepstem van die Masedoniese man in Paulus se nagvisioen.

Sou dit dus gebiede wees wat Petrus besoek het en onder wie hy die evangelie verkondig het?  Hy praat immers van homself ook as ‘n sendeling na die heidene en verwys daarna as iets wat aan die vroeë kerk bekend was (Hand. 15:7-8).  Was dit moontlik die rede hoekom die Gees van Jesus Paulus verhinder het om daar te gaan werk, omdat Petrus reeds daar aan die werk was?  Ons weet nie, maar die moontlikheid prikkel ‘n mens se verbeelding.

Wat ons wel weet, is dat die wyse waarop die vyf gebiede genoem word ‘n natuurlike roete van opeenvolgende besoeke sou kon beteken, omdat ‘n mens by een van Pontus se hawens sou kon aandoen in die noordooste, die roete deur Galasië kon volg (die noordelike provinsie – Paulus se brief aan die Galasiërs is waarskynlik aan die suideliker etnies-geografiese streek in Turkye gerig, wat ook Galasië genoem is), dan afswaai meer na die binneland in Kappadosië en die roete verder wes na die provinsie Asië kon volg, en dan weer opswaai na die noordweste in Bitinië om weer die reis per boot na Rome te kon voortsit.

Die vraag kan dus gevra word of Petrus in die wyse waarop hy hulle noem, verwys na vorige besoeke aan hulle, of dui dit moontlik die roete aan waarlangs Silvanus die brief moes gaan aflewer?  Dat Petrus ‘n band met hulle gehad het, is duidelik.  Ons weet egter te min om daaroor sekerheid te kan hê.

Petrus skryf die brief in samewerking met Silvanus (1 Pet. 5:12).  Dit kan ook wees dat Silvanus die brief volledig geskryf het, gesien in die lig van die hoë kwaliteit van die Grieks in die brief.  Silvanus is die Latynse vorm van die naam van dieselfde man wat ons in Handelinge aantref en daar regdeur met sy Griekse naam Silas beskryf word.  Hy was sedert Paulus se tweede sendingreis sy vennoot in die bediening en het saam met hom baie deurgemaak, onder die tronkervaring in Filippi (Hand. 16).  Silvanus was ook ‘n medeskrywer van Paulus in sy briewe aan die Tessalonisense en het saam met hom en Timoteus gepreek in Korinte (2 Kor. 1:19).

Uit die brief van Petrus lei ons dus af dat Silas nie net van groot hulp vir Paulus in dié se bediening was nie, maar ook vir Petrus.  Hoe jammer dat ons nie meer van dié begintyd van ons geloof weet nie!

Petrus dra ook groete oor van (Johannes) Markus (1 Pet. 5:13), dié een wat deur Barnabas, sy oom, met Paulus versoen is ná hulle uitval op Paulus se tweede sendingreis (vgl. Hand. 15:36-41 met Kol. 4:12 en 2 Tim. 4:11).  Markus was dus ook by beide Paulus as Petrus betrokke.  Volgens oorlewering het Markus sy evangelie geskrywe aan die hand van die herinneringe van Petrus en is dit daarom geen wonder nie dat ‘n mens baie ooreenkomste kry tussen die evangelie van Markus en die twee briewe van Petrus nie, bv. die fokus op Jesus as die Lydende Kneg van Jesaja (vgl. Mark. 10:45; 1 Pet. 1:18).

Die boodskap van 1 Petrus
In sy brief beklemtoon Petrus dat die gelowiges burgers is van God se koninkryk.  Hulle lewe op aarde dus as vreemdelinge en bywoners (1 Pet. 2:11).  Dit beteken dat hulle waardes nie bepaal word deur hierdie lewe nie, maar deur God se koninkryk (1 Pet. 2:9).  Hulle is mense wat uitverkies is om deur Hom heilig gemaak te word deur die Heilige Gees (1 Pet. 1:2, 14-16), om aan Hom gehoorsaam te wees en die Here Jesus met hulle hele lewe lief te hê (1 Pet. 1:8).

Dit is daarom ook die rede waarom hulle houding teenoor ander mense getransformeer kan en moet word.  Hulle word opgeroep om mekaar hartlik en ongeveinsd lief te hê (1 Pet. 1:22) en hulle “goed (te) gedra” onder die heidene sodat dié God kan verheerlik omdat hulle die gelowiges se “goeie dade” gesien het (1 Pet. 2:12).  Die hoop is dat die “onkunde van dwase mense” stopgesit sal word deur goeddoen, nie deur kwaaddoen nie (1 Pet. 2:15).  God het hulle immers vry gemaak om alle mense te respekteer, sowel as die keiser en die owerhede (1 Pet. 2:13,17).

Nie dat dié inskiklike ingestelheid altyd met grasie deur die wêreld ontvang sal word nie.  Daarom moet hulle nie verbaas wees wanneer daar teenstand en beproewings oor hulle pad kom nie.  Dit is nie iets vreemds nie, maar deel van die pad van lyding wat alle Christene tref (1 Pet. 4:12-14).  “Dus moet ook hulle wat in oorstemming met die wil van God ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.” (1 Pet. 4:19).  Goeddoen bly die goue reël vir gelowiges in alle omstandighede.

Indeling
Inleiding – Volhard vol vreugde in vervolging en lyding
Hfst. 1 – Jubel oor God en leef uit die hoop
Hfst. 2 – Groei geestelik deur die voorbeeld van Jesus Christus te volg
Hfst. 3 – Wees mense wat seën, sodat julle seën as erfdeel kan verkry
Hfst. 4 – Bo alles moet julle mekaar innig liefhê
Hfst. 5 – Versorg mekaar en wees voorbeelde vir mekaar

1 Petrus 1 – Jubel oor God en leef uit die hoop
Petrus begin sy brief met ‘n helder trinitariese visie op God – 1 Pet. 1:1-2.  Hy kies drie aspekte van God se verbintenis aan hulle uit om die gelowiges te bemoedig:
1. God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af,
2. die Heilige Gees se heiligmakende krag om hulle tot gehoorsaamheid aan God te begelei, en
3. die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus wat nie net iets is wat met die doop gebeur het nie, maar inderdaad deur hulle hele lewe hulle reinig om voortdurend met God in verhouding te kan staan.

Dit volg hy op met ‘n verdere lofrede op God – 1 Pet. 1:3-5 – waarna hy van hulle op hulle beurt ‘n paar verbintenisse vra:
1. Hy roep hulle op om oor hierdie God te jubel – 1 Pet. 1:6-12 –  en
2. uit die hoop wat God gee, te leef – 1 Pet. 1:13-25.  Dit sluit in dat hulle hele persoonlike lewenswandel heilig moet word (13-21), en dat hulle mekaar in die geloofsgemeenskap innig met rein harte moet liefhê (22-25).

Dit sal opgevolg word met verdere oproepe in die volgende hoofstukke:

  • om te fokus op geestelike groei binne die geloofsgemeenskap – “laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis” (1 Pet. 2:1-10),
  • sowel as op ‘n lewe van respek in die publieke gemeenskap (1 Pet. 2:11-17),
  • wat gewys moet word in arbeidsverhoudinge (1 Pet. 2:18-25),
  • die huwelik (1 Pet. 3:1-7),
  • en ‘n goeie leefwyse (1 Pet. 3:8-16).

Dit is immers wat dit beteken om Christus na te volg as mense wat deur God uitgekies is, en daarom as vreemdelinge in die wêreld lewe.

1 Petrus 1:1-2 – Die Drie-enige God is aan julle verbind
Petrus rig sy brief aan die “vreemdelinge van dieDiaspora” en dui daarmee die Christene uit die heidennasies aan wat verspreid in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, woon.  Petrus het duidelik ‘n band met dié gelowiges, hoewel ons nie presies weet hoe dit gebeur het nie.

Die drie aspekte wat Petrus in vers 2 van die Drie-enige God se verbintenis aan hulle uitspel, is baie bemoedigend en eintlik al genoeg om vandag oor na te dink:

1.  “Hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader ….(BDV)
God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af dui aan dat God se verhouding met sy mense iets is wat in Homself begin het.  Die Griekse woord wat hier met voorkennis vertaal word, is die woord prognôsis  wat ons natuurlik ook sal herken in die mediese term prognose.  God het dus vooraf geweet dat Hy ons gaan kies! Hy het vooraf besluit om ons te ken!

God se keuse vir en van ons is daarom nie maar ‘n tydelike bevlieging nie, maar het ‘n ewige karakter.  Sy voorkennis is ook nie gebaseer op hóé sy mense is nie, óf wat hulle gedoen het of nog sal doen nie, maar gebaseer enkel en alleen op grond van sy eie genadige voorneme.  Voorkennis beteken dus: God het geweet wat Hy gaan doen.

Sy uitverkiesende besluit is daarom gebaseer nie op wat ons gaan doen nie, maar op wat Hy gaan doen.  In sy genade het Hy besluit, voordat ons kon kies of kon vra, om met ons die pad te stap na die nuwe koninkryk wat Hy gaan vestig.

Dieselfde gaan in vers 20 oor sy voorkennis van die Christus gesê word, dié een wat in tyd aan ons geopenbaar is.  Hy het ook vooraf geweet dat Hy Jesus as die Christus gaan bekendstel.

Oor só ‘n voorkennis en uitverkiesing kan ‘n mens net juig.  Trouens dit is al manier om daarop te reageer.  God se keuse vir ons kom dus nie net uit die verre verlede nie.  Dit kom uit die tydlose ewigheid voor alles tot stand gekom het wat ons as die heelal ken!  Tóé al het Hy geweet Hy gaan ons kies om deur die Gees heilig gemaak te word sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.

Ons het dus in God se gedagtes bestaan, lank voor ons die lewenslig aanskou het.  Wat ‘n diep voorreg en vreugde is dit nie!

2.  “om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees ….(BDV)
Die Heilige Gees se heiligmakende krag begelei hulle tot gehoorsaamheid aan God.  Ons dink nie genoeg hieraan nie.  Heiligmaking is net so ‘n geskenk van God as wat geloof dit is.  Die feit dat ons aan God gehoorsaam lewe, kom ook van Hom af.  Hy het geweet Hy gaan ons heilig maak sodat ons Hom kan ken.  En Hy is besig om dit nou uit te voer deur die Gees.

Dit gebeur uiteraard nie sonder dat ons Hom toelaat en met Hom saamwerk nie.  Vandaar die oproep in die res van die brief om op God se verbintenis aan ons te reageer met ‘n verbintenis aan Hom in die praktyk van die lewe.  Maar, heiligmaking bly steeds iets wat die Gees in ons doen, en daarom ‘n geskenk van God.  God werk dus in ons met die oog op die toekoms.  Hy wil ons volmaak saam met Hom in sy koninkryk inneem.

3.  “en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word. (BDV)
Die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus dui nie net op iets wat met die doop en met wedergeboorte gebeur nie, maar inderdaad op iets wat deur die hele lewe van toepassing is.  Die bloed van Jesus Christus reinig ons voortdurend om met God in verhouding te kan staan, soos ‘n mens ook in Hebreërs 9:14 lees: ” hoeveel te meer sal die bloed van Christus … ons gewete reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien.

God neem dus ook deur Christus verantwoordelikheid vir ons hede, sodat ons by dié toekoms waarop Hy reeds in die ewigheid besluit het, kan uitkom.

1 Petrus 1:3-12 – Jubel oor God in allerhande beproewings
Met hierdie inleiding is dit geen wonder dat Petrus uitbars in ‘n lofbetuiging aan God nie.  Hy fokus op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word.  Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ‘n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem.

Let op hoe Petrus in vers 5 ons geloof en die krag van God aan mekaar verbind: “ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing.” Beide God se krag sowel as ons geloof speel ‘n rol in ons volharding tot die einde toe.  Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het.

Oor hierdie erfenis en hierdie toekoms moet ons jubel … “al moes julle nou eers vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.”  Daar is immers ‘n doel met beproewings – dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is.  Die toetsing deur beproewings wys dat geloof beproefd is, dat dit die moeite werd is.  En die motivering vir ons volharding kom van ons liefde vir die Here Jesus Christus, in wie ons glo, al het ons Hom nog nie gesien nie.  Hy is die Een van wie ons glo dat Hy ons by die verlossing sal uitbring, sodat ons die einddoel van ons geloof kan bereik.

Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete.  Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

Liturgie

Gelowiges verlustig hulle steeds in die wonder van die opstanding van Christus. Die liturgie wil steeds hierdie gebeure vier…

Indien die gemeente kerse gebruik…

Die Lig …

’n Kers word aangesteek.

Aanvangswoord: Johannes 20

Paasroep
Seëngroet  

Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Handelinge 2

Jesus het opgestaan…

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Lofprysing: Psalm 16

Geloofsbelydenis: (Lied 468)

Loflied 405 Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4

Epiklese

Skriflesing: 1 Petrus 1:3-9

Familie-oomblik

 

Prediking

 

Gebed

 

Offergawes

 

Wegsending 414 Juig verlostes, juig en sing vs 1,2

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Gelowiges verlustig hulle steeds in die wonder van die opstanding van Christus. Die liturgie wil steeds hierdie gebeure vier…

Indien die gemeente kerse gebruik…
Die Lig wat die wêreld probeer doof het, kon nie uitgedoof word nie. Vandag steek ons die kerse weer almal aan om daarmee God se skeppings- en herskeppingskrag te verkondig. Soos dit lig word, loof ons die Here dat sy lewensveranderende liefde wat was en is en tot in ewigheid in ons sal wees. Vandag vier ons nuwe lewe, nuwe vreugde, nuwe moontlikhede. Die Here leef en Hy leef tussen ons.

Terwyl ons die kerse aansteek erken ons dat daar steeds pyn en lyding in die wêreld is, maar ons plaas ons vertroue in die Here. In die duisternis, is daar lig. In die pyn van die dood, is daar lewe. Midde-in wat vir ons oorweldigend lyk, is God in ons en in die wêreld aan die werk, besig om geregtigheid en vrede, deernis en liefde, lewe in oorvloed tot stand te bring.

Jesus het opgestaan. Jesus het in ons opgestaan, want waar ons bymekaar is in sy Naam, is die lewende Here teenwoordig.

’n Kers word aangesteek

Aanvangswoord: Johannes 20
9Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

Paasroep
Kom ons groet mekaar nou saam met Christene van alle tye en oor die wêreld heen met die woorde van die Paasgroet:
Voorganger: Christus het opgestaan!
Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Christus het opgestaan!
Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!

Seëngroet  
Die lewende Here, wat hier teenwoordig is, groet julle:
Ek gee vir julle my vrede.
Die Vader het my gestuur. Nou stuur Ek julle ook.
Ek gee julle die Heilige Gees.

Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Petrus se toespraak op Pinksterdag het die opstandingsgebeure baie netjies in ‘n neutedop saamgevat:

Handelinge 2
29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:
Hy is nie aan die doderyk
oorgelaat nie,
en sy liggaam het nie
vergaan nie.
32God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.

Jesus het opgestaan…
Voorganger 1: Dit is die dag
Voorganger 2: waarop trane afgevee word;
waarop stukkende harte heelgemaak word;
waarop vrees met vreugde vervang word.

Voorganger 1: Dit is die dag waarop die Here
Voorganger 2: die klip van vrees wegrol;
dood se klere uittrek;
voor ons uitstap God se toekoms in.

Voorganger 1: Dit is die dag wat die Here gemaak het.
Voorganger 2: Die dood maak ons nie meer bang nie;
die sonde het nie meer houvas op ons nie;
God maak die grafte van ons harte oop en vul ons met nuwe lewe.

Voorganger 1: Dit is die dag – Opstandingsdag – Paasfees.

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Lofprysing: Psalm 16
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het,
is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my
tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus
van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is,
sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar
nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Geloofsbelydenis
Christus, die Seun, is beeld van God –
van God onsigbaar, groot.
Hy is die Eerste, Hy alleen,
die hoog verhewe Heer.

Alles wat is, is daargestel
déúr Hom, vír Hom alleen.
Voor iets daar was, was Hy reeds daar;
deur Hom hou alles stand.

Hy is die oorsprong van die kerk,
ons Hoof, die Heer is Hy.
Ons is sy liggaam, één met Hom;
en in Hom is ons één

Christus het waarlik opgestaan
as Eerste uit die dood.
In die heelal sal Hy dus wees
die Eerste – Hoof en Heer.

God met sy  volheid woon in Hom,
só het God self besluit.
Daarom kon Hy versoening bring –
Gods vrede weer herstel.

Christus moes sterwe aan ‘n kruis,
Hy moes sy bloed laat vloei.
Hemel en aarde, die heelal,
is só met God versoen.
(Lied 468)

Loflied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Liedere

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan

U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon

Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom

Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: In Christ Alone
Teks en musiek: Keith Getty & Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht
© 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
Deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band
Ons Vaste Grond, ons Fondament
Hier in sy liefde leef ons nou

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid
En deur sy offer word ons vry
Hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
Ontneem die dood sy heerskappy
Hier deur sy sterwe leef ons nou

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan
Hy’t opgestaan in heerlikheid
Hy’t ons van vloek en skuld bevry
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
Tot Hy weer kom, sal ons bly staan

God praat met ons en ons luister

Epiklese
“Here, U het aan die begin van ons tyd saam met U aan ons bevestig dat U getrou by ons is. Daarom is ons vanoggend bly en voel ons veilig. Ons verwag dat U ons ook nou meer gaan leer hoe om te lewe, sodat die oorvloedige blydskap wat by U is nog meer ons s’n kan word.

As gemeente bely ons:
Ons behoort aan U.
Daar is vir ons niks goeds nie behalwe by U.
Met afgode wil ons niks te doen hê nie.
U is die lewe. U sorg vir ons.
Wat ons ontvang kom alles van U af.
Ons sien dit so helder in u teenwoordigheid:
’n Pragtige deel is vir ons afgemeet;
wat ons ontvang het, is mooi.
Ons sien ook met afwagting uit na die woorde uit u mond” (aangepas uit Ps 16).

Skriflesing: 1 Petrus 1:3-9

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Wat sal vleis die beste bewaar?
Teen kamertemperatuur in ’n plastieksakkie? Lekker koud in ’n yskas? Kliphard gevries in ’n vrieskas? In ’n botteltjie met formalien?
(Verduidelik dalk net die aard van formalien…)
Wat dink julle sal die toestand van die vleis oor ’n week wees?

Dié teen kamertemperatuur in die plastiese sakkie sal sleg raak en jy sal dit moet weggooi. Die een wat lekker koud is in die yskas sal dalk ’n week hou, maar dit sal na ’n maand sleg wees en sal ook weggegooi moet word. Die gevriesde vleis in die vrieskas sal eers na ’n paar maande, dalk selfs jare sleg wees, sodat jy dit moet weggooi. Dié in die formalien sal vir ewig bewaar bly.

Maats, geliefdes, en so is ‘n mens se lewe ook maar beperk. Daar kom ‘n einde. Ons is soos vleis in ‘n yskas of vrieskas…

Ons word dalk 70 of 80 jaar oud sê die Psalmdigter. Maar die een ding waarvan niemand kan loskom nie is ‘n einde aan hierdie lewe.

Maar nou is daar tog 1 moontlikheid vir gelowiges wat aan Jesus vashou. Daar is ‘n formalien-moontlikheid vir alle mense. En dit het met Jesus se opstanding uit die dood te doen….

Die enigste ding wat iets vir altyd laat hou, wat ons help om vir ewig te lewe is, is die opstanding van Jesus wat vir ons die ewige lewe verseker. As ons glo, het ons die krag van God wat ons hoop gee en ons voluit laat lewe.

Daarom sing die gemeente so graag…
Juig, verlostes, juig en sing.
Halleluja! Halleluja!
Jesus het die dood oorwin.
Halleluja! Halleluja!
Hy het uit die graf gegaan.
Halleluja! Halleluja!
Loof ons Koning, prys sy Naam.
Halleluja! Halleluja! (Lied 414:1)

Preekriglyn

Ons teks

Ons teks is ‘n wonderlike lofbetuiging aan God en God se groot genade. Petrus fokus in ons teks op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ‘n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem.

Let op hoe Petrus in vers 5 ons geloof en die krag van God aan mekaar verbind: “ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing.” Beide God se krag sowel as ons geloof speel ‘n rol in ons volharding tot die einde toe.  Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het.

Oor hierdie erfenis en hierdie toekoms moet ons jubel … “al moes julle nou eers vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.”  Daar is immers ‘n doel met beproewings – dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is.  Die toetsing deur beproewings wys dat geloof beproefd is, dat dit die moeite werd is.

En die motivering vir ons volharding kom van ons liefde vir die Here Jesus Christus, in wie ons glo, al het ons Hom nog nie gesien nie.  Hy is die Een van wie ons glo dat Hy ons by die verlossing sal uitbring, sodat ons die einddoel van ons geloof kan bereik.

Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete.  Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

Toepassing

Christene kan dikwels Bybelse waarhede hanteer soos wat ‘n mens oulike plasings op Facebook hanteer. Jy “like” dit, en gaan aan met jou lewe! ‘n Rukkie nadat jy iets (gewoonlik een of ander algemene waarheid) op Facebook “ge-like” het wat jy juis behoort te onthou en toepas, het jy dit (gewoonlik) vergeet.

‘n Week gelede is die opstanding van Jesus Christus uit die dood gevier. Intussen het ons aangegaan met die lewe (wat natuurlik nie verkeerd is nie). Die vraag is of die viering daarvan enigsins ons uitkyk op die lewe verander het? Het dit enige aanpassing in ons blik op die lewe in ons huidige omstandighede gebring?

Daar is daagliks baie sake wat gelowiges se aandag verg. Dink maar aan:

  • Die COVID-19 virus wat oor die wêreld gespoel het. Op baie plekke maak dit mense ongelooflik angstig;
  • Aandelemarkte wat onstabiel verhandel en mense se spaargeld of die waarde van hul pensioene negatief raak;
  • Geweld en misdaad, groepe wat ander groepe teiken.

Hierdie dinge maak dat ons gou-gou (soos met Facebook) die vreugde en verwondering van Paassondag vergeet. Daar is vrae wat ons oor ons eie geloof, God en die lewe in die algemeen kan vra, veral wanneer daar gebeurtenisse is wat ons as gelowiges se geloof en praktiese lewe wil verdag maak of selfs verneder, goed wat maak dat ons as gelowiges ons koppe wil laat hang!

God se liefde onpeilbaar

God se liefde, genade en geduld met mense soos ons as sy kinders, is onpeilbaar. Dit is juis asof God dit opnuut met vreugde en groot geduld vir sy kinders in die eerste twee verse wil uitspel:

“My liewe kinders, Ek weet julle kan so gou vergeet. Ek weet julle kan so gou grootoog na alles rondom julle loer en my talle beloftes aan julle vergeet. Ek het julle elkeen oneindig lief. Daarom wil Ek julle weer daaraan herinner dat elkeen van julle uitgekies is. Julle is elkeen afgesonder (geheilig) met ‘n spesifieke roeping, wat ook al julle konteks is. Ek het ‘n plan vir julle lewe. Ek droom groot drome vir julle. Daarom is ek deur die Heilige Gees in elkeen van julle afsonderlik teenwoordig.

Verlos deur die opgestane Jesus

“My liewe kinders, Ek weet dit moet soms vir julle voel asof julle as gelowiges dubbele lewens lei.

“Aan die een kant het julle opnuut verlede Sondag gehoor dat Jesus uit die dood opgestaan het. Elkeen van julle is toe weer opnuut opgeroep en aan julle verlossing deur dié opgestane Jesus herinner. Julle is opgeroep om julle verlossing opnuut te omhels en te vier. Ek, Jesus wat oral teenwoordig is en oor alles regeer, het uit die dood opgestaan.

“Daarom is julle ook uitgekies om getroue getuies van God se nuwe wêreld wat in Jesus aangebreek het, te wees. Dit is ‘n nuwe wêreld wat ná Jesus se opstanding uit die dood nie meer gekeer kan word nie. Ek bevestig nou opnuut julle roeping om met julle hele lewe goeie advertensies vir daardie nuwe wêreld van God te wees. Mense moet in julle gesprekke en reaksies op negatiewe idees en praatjies oor dinge soos die land se toekoms, die kerk en die lewe in die algemeen, kan hoor en beleef dat Ek, Jesus, die Here is en dat my Vader nie onkant gevang word met dit wat in die wêreld aan’t gebeur is nie.

Lyding en twyfel

“Aan die ander kant weet Ek, my Vader en die Heilige Gees waardeur julle soms gaan. Ons weet dat julle soms (hoe subtiel ook al) verskillende vorms van spot en verdagmakery, beproewing en verwerping as gevolg van julle geloof in Ons verduur. Ons weet hoedat julle self soms twyfel en ly. Ons verstaan. Ons bly altyd lief vir julle – ook in julle oomblikke van twyfel!

“Juis daarom die liefdevolle herinnering. Dit wat die Vader deur Jesus vir elkeen van julle gedoen het, behoort julle (al klink dit dalk aanvanklik vreemd) met ‘n diepe vreugde te vervul. Dink net daaraan: Ons het julle ons kinders gemaak, sonder dat julle dit enigsins verdien het. Ons wou! Ons was nog altyd lief vir julle. Ons het nog nooit aan ons liefde vir julle getwyfel nie. Julle behoort aan Ons! Julle is altyd Ons kinders!

‘n Goeie einde lê voor

“Maar daar is nog méér. Julle kan verseker weet (hoop) dat, ten spyte van al die aaklige goed wat daagliks rondom julle gebeur, julle lewe nie in ‘n gemors gaan eindig nie. Julle gaan nie bankrot eindig nie. Inteendeel! Julle weet alreeds: Die onbeskryflike hemel is julle voorland.

“Niemand kan julle hiervan beroof nie. Nie eens die slegste nuus of die slegste ervaring hier op aarde nie. Ek self beloof dit vir julle. Ek hou julle styf in my hande. Aan die einde van julle lewe (in die lewe ná hierdie lewe) sál julle dit ervaar. My kind, Johannes, het alreeds vir julle geskryf (Joh 10:28) dat niks of niemand julle uit my hand sal ruk nie! Hierdie vooruitsig maak dat julle lewe immer ten goede sal verander. Hoe meer julle julleself hieraan herinner, hoe meer sal julle gedrag en ingesteldheid op aarde verander.

“Ja, Ons weet swaarkry is nie lekker nie. Tog herinner Ons julle daaraan dat dit juis in julle swaarkry is waar julle as gelowiges verander. In die ongemaklike situasies van die lewe waar julle keer op keer vir Ons kies, dáár sal julle geloof in Ons groei. Dáár sal julle karakters groei. Dáár word julle getuies dat geloof in Ons die kosbaarste saak vir enige mens hier op aarde is. Dit is immers hierdie geloof in Ons wat maak dat julle verder kan kyk as om net julle huidige omstandighede raak te sien, sal julle voortdurend herinner om julle aardse lewe met entoesiasme en energie verder te leef. Ons is alreeds in julle. Ons is die waarborg van die ongelooflike lewe hierna.

Groter vreugde

“My kinders, hoe meer julle aan hierdie goeie waarheid vashou, hoe blyer sal julle raak, hoe groter sal die vreugde van die lewe hier én hierna wees. Hoe meer julle aan hierdie goeie waarheid vashou, hoe groter sal julle geduld wees in tye van slegte nuus en ervarings, en hoe groter sal julle getuienis wees. Wat egter soos ‘n paal bo water sal uitstaan (“soos ‘n kruis bo die doopwater” — HW Rossouw), is dat julle geloof in alle omstandighede sal vasstaan. Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is die waarborg daarvan!”

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Seën
Die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees,
is vir julle die Algenoegsame in alles,
te alle tye en in alle omstandighede,
van nou af tot in ewigheid.
Hy sal julle seën en vul met sy lig
sodat julle die lig vir die wêreld kan wees.
of
“Neem dit ter harte en bly hoop:
Deur die liefde van die Here sal julle nie vergaan nie.
Daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.
Sy trou is groot” (uit Klaagl 3:21-23).

Dit kan uitgebrei word met die woorde: 
“Die genade van ons Here Jesus Christus,
die waarborg van ons hoop,
die liefde van sy Vader, wat ons heil in trust hou,
en die gemeenskap en die krag van die Heilige Gees,
sal met julle elkeen wees.”

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.