Tweede Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Die fokusteks vir die tweede Sondag in Paastyd kom vanjaar uit Openbaring 1. Daarmee plaas dit die opstanding binne ‘n eskatologiese raamwerk aan die einde van die tye, of selfs anderkant tyd en ruimte in die hemel.

Jesus Christus word voorgestel op die troon in die hemel en as die Eerste wat uit die dood opgestaan het, die Heerser oor die konings van die aarde. Hierdie eskatologiese perspektief op die opgestane Jesus aan die einde van alle tye word deur die Psalmteks in die geskiedenis veranker. Hier val die fokus nie op die troon van Christus, soos in die openbaring aan Johannes nie, maar op die altaar in die Allerheiligste van die tempel.

Die twee tekste uit die Nuwe Testament plaas die opstanding van Christus onderskeidelik voor Christus se hemelvaart in die Johannesevangelie en ná die uitstorting van die Heilige Gees in die boek Handelinge. Johannes 20 vertel van Jesus Christus se opstandingsverskyning aan die dissipels, waarna die dissipels onder die krag van die Heilige Gees uitgestuur word om mense hulle sondes te vergewe. In Handelinge 5 getuig Petrus en die dissipels van die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus wanneer hulle voor die Joodse Raad en die hoëpriester gebring word omdat hulle mense in die Naam van Jesus geleer het.

Sleutelteks

Openbaring 1:4-8

Proloog
1Hier volg ‘n openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het. 2Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het.
3Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby.

Groete en Lofprysing
4Johannes,
aan die sewe gemeentes in Asië:
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus Christus,
die betroubare getuie,
die Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.
Aan Hom wat ons liefhet,
en ons deur sy bloed
van ons sondes verlos het,
6wat ons ‘n koninkryk gemaak het,
priesters vir God, sy Vader –
aan Hom kom die heerlikheid
en die sterkte toe,
vir ewig en ewig. Amen.
7Kyk, Hy kom met die wolke,
en elke oog sal Hom sien,
selfs hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke op die aardesal oor Hom rou.
Ja, amen!
8“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

Ander tekste

Handelinge 5:27-32
27Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: 28“Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

29Petrus en die ander apostels het geantwoord: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 30Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. 31God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. 32En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

33Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. 34Een van die Fariseërs in die Raad, ’n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie buitentoe gevat moet word. 35Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen.

Ps 118:14-29
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

of Ps 150
Prys die Here!
Prys God in sy heiligdom,
prys Hom hier onder sy magtige
hemelgewelf!
2Prys Hom oor sy kragtige dade,
prys Hom in sy magtige grootheid!
3Prys Hom met die ramshoring,
prys Hom met harp en lier!
4Prys Hom met tamboeryn
en koordanse,
prys Hom met snaarinstrumente
en fluite!
5Prys Hom met simbale,
prys Hom met galmende simbale!
6Laat alles wat asem haal,
die Here prys!
Prys die Here!

Joh 20:19-31
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Ekstra stof

“Ek kom gou!” Dit is die hart van sy Openbaring aan die kerk van die eeue. “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek. Die trompette blaas. Die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Die bruilofsfees van die Lam en sy bruid is op hande. Die nuwe hemel en aarde is byna voltooi. Bid saam met die Gees en die kerk van die eeue: “Amen! Kom, Here Jesus!”

Die Openbaring van Jesus Christus
Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het in ‘n openbaring aan Johannes. Dit is aan die een kant die testament van sy nalatenskap aan ons, maar aan die ander kant ook sy agenda met die verlossingsplan vir die wêreld. Die agenda sluit die kerk in, dit omvat die heelal en dit word in die geskiedenis uitgewerk.

Openbaring handel nie net oor die apokaliptiese gebeure van die naderende eindtyd nie. Dit bemoedig en versterk gelowiges om vas te staan in geloof en getrou te bly aan die opdrag om as koninkryk van priesters vir God die Vader op te tree (Openb. 1:6) ten spyte van die aanslag op hulle lojaliteit en verbintenis aan God (Openb. 12:17; 13:7-10, 11 vv). Die motivering vir hierdie opdrag is God wat besig is om sy heerskappy te vestig om as alleenheerser op aarde erken te word, soos dit reeds die geval in die hemel is. (Openb. 11:15).

Dié boodskap sluit aan by die boodskap van die Evangelies sowel as die Briewe van die NT. Met Jesus se menswording het die eindtyd immers reeds aangebreek, die kairos (tyd) is vervul vir die tyd van God se koninkryk. Die tyd van die evangelie het aangebreek. Dit roep mense op tot bekering en geloof (Mrk. 1:15). Petrus sê daarom van Jesus se menswording dat dit in die “laaste tye geopenbaar is” (1 Pet. 1:20 – soos dit oorspronklik in die Grieks geskryf is). En Johannes verwoord die tyd waarin ons nou leef as die “laaste uur” (1 Joh. 2:18), die tyd net voor die einde, dié dinge wat “gou moet gebeur” (Openb. 1:1).

Openbaring trek dus die gordyn oop op die onsigbare werklikheid van die lewe vir God se mense. Daar is ‘n geestelike oorlog aan die gang, en die opgestane Jesus openbaar hierdie visioene aan Johannes sodat God se kerk bewus sal wees van wat nou en in die toekoms gebeur. Alhoewel die vreemde beelde skrikwekkend mag voorkom, is die uiteindelike boodskap van Openbaring hoopvol. Alhoewel dit lyk asof die kwaad seëvier, bly God op die troon.

Die goeie nuus van Openbaring is dat Jesus weer kom. “Ek kom gou,” sê Hy vir Johannes in die eerste visioen (Openb. 1:7). Met: “Ek kom gou,” sluit Hy die laaste visioen af (Openb. 22:20). En die Gees en die bruid sê: “Kom!”

Skrywer
Openbaring is waarskynlik deur die apostel Johannes geskryf (Openb. 1:2, 4, 9). Johannes was een van die seuns van Sebedeus, en ook verantwoordelik vir die evangelie van Johannes, sowel as die drie Johannese briewe. Só word dit in die kerklike tradisie aangedui, onder andere deur Justinus die Martelaar (155 n.C.), hoewel daar nie enige interne getuienis daaroor in die geskrif self is nie. Johannes en sy broer, Jakobus, wat ook een van die apostels was, het by Jesus die bynaam van Boanerges of “manne van die donder” gekry (Mrk. 3:17), maar hy was ook bekend as die een wat Jesus lief gehad het (Joh. 21:20).

Johannes was ten tye van dié openbaring op die eiland Patmos, 60 km suid-wes van Milete, ‘n hawestad van Efese. Patmos was dus naby aan Efese in die Egeïese See van Klein-Asië (Turkye) geleë. Omdat ons weet dat die apostel Johannes die laaste deel van sy lewe daar deurgebring het, maak dit die identifikasie van die skrywer van Openbaring met die apostel Johannes heel waarskynlik.

Daar is redelike eenstemmigheid dat hy die visioene aan die einde van die tyd van keiser Domitianus (81-96 n.C.) , ongeveer 95 n.C., gesien het. Dit is onder andere volgens die getuienis van die kerkvader Irenaeus oor Johannes, maar klop ook met die interne gegewens van die boek oor die vervolging waaraan die gemeentes blootgestel is.

Irenaeus wat in die laaste helfte van die 2de eeu n.C. opgetree het, is interessant genoeg juis in een van die gemeentes wat in Openbaring genoem word, naamlik Smirna, gebore, maar word later biskop in Lyons, Frankryk, ver van sy geboorteland. Hy is een van die groot apologete van sy tyd wat vir die waarheid van die evangelie gestry het, sowel as ‘n uitnemende pastor wat in sy gemeente en geloofsgemeenskap daarvoor geëer is.

Boodskap aan die eerste gemeentes
Die sewe gemeentes van Klein-Asië was Johannes se eerste gehoor. Hy skryf aan al die diensknegte van Jesus Christus (Openb. 1:1) en aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Openb. 1:4) – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Omdat van die ander gemeentes soos dié in Kolosse en Troas weggelaat is, dui dié sewe gemeentes waarskynlik op die hele kerk.

As gevolg van die gelowiges se weiering om aan die keiserlike godsdiens (keiseraanbidding) deel te neem, het hierdie gemeentes godsdienstige vervolging uit Rome, sowel as plaaslik van die Joodse en heidense godsdienste ondervind wat in baie gevalle tot die dood gelei het.

Openbaring kritiseer dus die drie leidende godsdienste van hulle tyd.

1. Die Romeinse imperiale godsdiens en Domitianus – die keiser ten tyde van die skryf van Johannes. Dit was nie net die gildes wat dit moeilik gemaak het vir Christene in die ekonomie nie, soos in die gemeente van Tiatira nie (Openb. 2:18-29), maar die hele ekonomiese sisteem wat hulle in stand gehou het, soos aan die einde van Openbaring openbaar word (Openb. 18 vv).
2. Die Griekse godsdiens het steeds ‘n groot invloed gehad, veral in die gemeentes van Turkye, met die hoofgod Zeus – die troon van Satan – wat veral in die gemeente van Pergamum gelowiges vervolg en gemartel het (Openb. 2:12-17).

3. Die Joodse godsdiensdie sinagoges van Satan – het ook op talle plekke die Christene vervolg, soos ons in die briewe aan Smirna (Openb. 2:8-11) en Filadelfia (Openb. 3:7-13) lees.

Dit is benewens die kritiek in die sewe briewe op die afgodediens en onsedelikheid waaraan die gemeentes blootgestel is. Dit is die leringe van :

1. die Nikolaïete (Efese – Openb. 2:1-7; Pergamum – Openb. 2:12-17),
2. die aanhangers van die leer van Bileam en Balak (Pergamum – Openb. 2:12-17), soos geïllustreer in die praktyke van
3. die gruwelike profetes Isebel wat mense geleer het dat losbandigheid onlosmaaklik deel is van die Christelike godsdiens – dinge wat Jesus die “dieptes van Satan” noem (Tiatira – Openb. 2:18-29).

Johannes vermaan dus die volk van God om standvastig te staan gedurende hul tydperk van verdrukking. Aan die een kant teen die uitdagings van buite – polities, ekonomies, en godsdienstig. Aan die ander kant teen die uitdagings van binne – afgodsdiens en onsedelikheid.

Hy moedig hulle aan om tot die dood toe getrou te bly en geen kompromie met die wêreld aan te gaan nie, nie in die samelewing nie, ook nie in die gemeentes nie.

Boodskap aan alle gemeentes
Johannes se visioene in Openbaring lewer vandag dieselfde boodskap van hoop wat dit aan sy oorspronklike gehoor gegee het. Jesus het reeds die oorhand gekry. Hy sal eendag aan bewind kom om sy volk ten volle te regverdig en saam met hulle in die nuwe hemel en aarde gaan woon. Verseker van hierdie waarheid kan gelowiges hoop hê om te volhard in hierdie wêreld.

Elkeen van ons speel ‘n belangrike en onontbeerlike rol in die kosmiese stryd tussen lig en duisternis. Ons mag nie op die kantlyn sit en wag vir die einde van die geskiedenis nie. Jesus self roep ons om saam met Hom te werk aan die koms van die koninkryk (Openb. 2:7; 17:14; 21:7).

Openbaring, profesie en brief
‘n Paar verdere opmerkings oor die boek en sy boodskap:

  • Die boek is die openbaring (apokalips – dit beteken ook onthulling of bekendmaking) van Jesus Christus deur ‘n engel aan sy dienskneg Johannes om aan sy ander diensknegte te toon wat gou gaan gebeur (Openb. 1:1). Dit dra die boodskap oor dat: 1) verlossing nie van binne af uit die wêreld moontlik is nie, maar van buite af moet kom – soos dit altyd in apokaliptiese geskrifte beskryf is – en 2) dat die verlossing van God af, van Jesus Christus en die Gees, sal kom.
  • Alles wat in die boek beskryf word, gebeur tussen Jesus Christus se eerste koms en sy tweede koms (toutologie). Dit beteken dat Openbaring nie net ‘n apokalips is nie, maar ook ‘n profetiese geskrif wat God se wil uitspel vir die hede. Apokalipse het tradisioneel net ‘n radikale breuk met die hede in ‘n toekomstige transformasie verwag. Die boek Openbaring verwag ook ‘n radikale transformasie in die toekoms, maar hou volledig rekening met die verandering wat God reeds in Jesus Christus gebring het met sy eerste koms, en sy voortgaande uitwerking daarvan in verlossing en oordeel in die kerk, heelal en die geskiedenis. Die boek is dus eerder ‘n profetiese geskrif wat vanuit ‘n apokaliptiese perspektief geskryf is.
  • Jesus Christus is die instrument van God se verlossing asook van sy oordeel. Só word Hy in die eerste hoofstuk aan ons bekend gestel. Hy is: “die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet en ons verlos het van die sondes deur sy bloed en ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader: aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid. Amen.” (Openb. 1:5-6). Jesus bring dus verandering van buite af (apokalipties) en van binne af (profeties) – en hierby kan ook priesterlik (Openb. 5:12 – die Lam wat geslag was) en koninklik (Openb. 11:15) soos in die res van Openbaring uitgelê, gevoeg word.
  • Johannes tree as Jesus Christus se profeet en gestuurde op om dit aan gelowiges in die gemeentes van Klein-Asië wat vervolg word, bekend te maak, om hulle te bemoedig in hulle geloofstryd. Die visie op God en sy betrokkenheid in die kerk, heelal, en geskiedenis moet hulle hande sterk om aan God getrou te bly in die hede, en die boodskap van sy teenwoordigheid vandag in verlossing en oordeel uit te dra. Hulle is sy koninkryk van priesters vir God sy Vader.
  • Johannes tree beide as profeet en apokaliptiese prediker op en gebruik apokaliptiese visioene om sy boodskap oor te dra. Hy sien die Goddelike agenda ontvou in visioene, hy hoor God se geopenbaarde wil vir die lewe en hy dra dit in opdrag van Jesus Christus aan almal oor wat ore het om te hoor en oë om te lees. Daarom word sy boodskap ook as ‘n brief aan die gelowiges van sy tyd geskryf en gestuur. Die boek kan dus drievoudig beskryf word, as ‘n apokalips, ‘n profesie, en ‘n brief (Du Rand, Die A-Z van Openbaring. ‘n Allesomvattende perspektief op die boek Openbaring).
  • Die sewe gemeentes wat in hoofstuk 1-3 genoem word, het in volgorde in ‘n halwe sirkel gelê in Klein-Asië, die hedendaagse Turkye. Hulle ligging het dus waarskynlik die orde bepaal waarin Johannes sy boodskap aan hulle geformuleer het.
  • Die getalle en tydperke in Openbaring moet teologies verstaan word – in terme van wat dit oor God en sy werk sê – en nie as mistieke letterlike berekenings van gebeure in die toekoms nie. Dit probeer iets oor God en sy heerskappy sê en nie soseer iets oor datums in die geskiedenis nie (Du Rand, Die A-Z van Openbaring).

Struktuur
Openbaring begin met ‘n inleiding (Openb. 1:1-20) wat ‘n visioen van die Seun van die mens insluit, ‘n persoon wat ook in die Ou-Testamentiese profesie van Daniël verskyn (Dan 7:13).

Die Seun van die mens, Jesus, dikteer in sy Openbaring vir Johannes sewe briewe – een vir elk van sewe gemeentes in Turkye (Openb. 2:1–3:22).

Die grootste deel van Openbaring (Openb. 4:1–22:5) bestaan uit ‘n reeks visioene wat onsigbare werklikhede rakende die toekoms openbaar, maar ook gevolge vir die teenwoordige tyd inhou.

Dit ontvou as drie stelle van sewe visioene – seëls, trompette en bakke. Elke keer as ‘n seël gebreek word, ‘n trompet weerklink, of ‘n bak uitgegooi word, sien Johannes ‘n nuwe visioen van apokaliptiese beelde (Openb. 4:1-16:21).

Nadat die sewende bak die katastrofiese vernietiging ontketen het, sien Johannes visioene wat die val van “Babilon”, die nederlaag van Satan, en die vernuwing van hemel en aarde uitbeeld (17:1-22:5).

In die slottoneel verseker Jesus vir Johannes van sy wederkoms. Jesus sal binnekort weer kom, ‘n belofte wat die sekerheid, en daarom hoop van Johannes se boodskap, bevestig (Openb. 22:6-21).

Verskillende interpretasies deur die eeue
Leon Morris gee ‘n goeie oorsig van die vier hooflyne van interpretasie wat deur die eeue gehandhaaf is. Daar bestaan verskillende skole van interpretasie. Dit kan ‘n mens nogal verwar.

Preteriste
Dit is geleerdes wat dink die boek Openbaring handel oor ‘n periode wat in die verlede lê. Dit het dus geen boodskap vir ons vandag nie. Daar is baie moderniste wat dié idee handhaaf. Die voordeel is dat dit as ‘n boek van groot betekenis vir die eerste eeu se lesers voorgehou kan word. Die nadeel is dat dit heeltemal sinloos vir moderne lesers is.

Historiste
Dit is geleerdes wat dink die boek Openbaring handel oor die hele menslike geskiedenis. Daar is dus minder van ‘n boodskap vir die eerste lesers van Openbaring. Die voordeel is dat dit daarom as betekenisvol uitgelê kan word vir ons wat twee millennia ná die eerste lesers leef. Die meeste kritiese moderne geleerdes volg hierdie benadering. Die nadeel is dat daar min konsensus is by die geleerdes oor die geskiedenis.

Futuriste
Dit is geleerdes wat dink die boek Openbaring handel net oor die laaste dae aan die einde van die menslike geskiedenis. Daar is dus minder van ‘n boodskap vir die eerste lesers, of selfs vir al die ander lesers deur die eeue. Dit het net betekenis vir die laaste geslag, wie hulle en wanneer dit nou ook al sou wees. Dit blyk ‘n te verskraalde siening van die boek te wees.

Idealiste
Dit is geleerdes wat dink die boek Openbaring handel oor idees en beginsels, nie soseer oor werklike gebeure nie. ‘n Mens sou wil saamstem dat daar weliswaar sulke idees en beginsels in die boek is, maar dan moet dit op ‘n manier steeds in die geskiedenis geanker word.

Kombinasie van interpretasies
Die beste manier om hierdie verskillende perspektiewe te hanteer, is om die historiese omstandighede van die eerste lesers volledig te verreken. Daar is ‘n historiese kant aan Openbaring wat duidelik in die boek na vore kom.

Maar, die boodskap is duidelik ook bedoel vir die toekoms, vir die komende geslagte. Jesus verklaar reg aan die begin dat hierdie openbaring opgeskryf moet word, want dit handel oor “wat is, sowel as dinge wat gaan gebeur.” (Openb. 1:19).

‘n Mens moet dus in jou interpretasie die boodskap verreken dat dit vir alle kinders van die Here tot aan die einde van die tyd is. Openbaring is ‘n boodskap vir die eerste eeu, sowel as vir elke ander eeu tot aan die einde van die tyd.

Herkapitulering
Watter model van interpretasie ‘n mens ook al kies, moet ‘n mens ook rekenskap gee van die feit dat daar soveel herhalings in die verskillende visioene is.
Victorinus van Pettau (3de eeu nC) – skrywer van die eerste kommentaar op Openbaring – en Ticonius (4de eeu nC) het eerste met die teorie van “recapitulation” (opsomming) as eksegetiese werkswyse vorendag gekom om die herhalings te verklaar. Dit het deur die eeue ‘n belangrike rol gespeel in die verklaring van Openbaring, en word vandag nog nagevolg, selfs al verskil geleerdes steeds in terme van die simboliese, geestelike of historiese betekenis van die boodskap van Openbaring.

Die teorie van herkapitulering kom basies daarop neer dat Openbaring nie regdeur ‘n beskrywing van opeenvolgende gebeure is nie, maar ‘n weergawe van dieselfde gebeure in verskillende visioene. Vandaar die ooreenkomste in die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe bakke.

Victorinus het wel ‘n chronologiese verloop by die sewe seëls waargeneem. So is dit ook by die sewe trompette en die sewe bakke, net nog meer intens. Hierdie herhalende intensivering word ook ‘n “progressiewe parallelisme” genoem. Die sewe trompette is meer intens as die sewe seëls en die sewe bakke weer meer as die sewe trompette.

In moderne interpretasiemodelle word hierdie herkapituleringsteorie hoofsaaklik toegepas op die formele struktuur van Openbaring om die opvallende herhalings te verklaar. Dit sluit ook die herhaling van temas en gebeure in.

Alhoewel dit nie ‘n totaal omvattende eksegetiese teorie is nie, bied die herkapituleringsteorie in verskillende moderne gebruike daarvan nuttige perspektiewe rakende die “verloop van die verhaal” in Openbaring.

Die getal sewe as verklaring van die struktuur
Farrer (1949) het ook baanbrekerswerk gedoen deur die volgende strukturele merkers as basis te neem vir sy indeling van Openbaring. Dit is daarna deur baie geleerdes as vertrekpunt gebruik vir die samestelling van hulle eie interpretasies.

Farrer het die uitdrukkings “Ek het gesien” en “… sigbaar geword …” beskou as strukturele merkers vir die begin van die visioene. Dit gee die volgende indeling van die boek:

  • sewe boodskappe 1–3 (Openb. 1:1-2)
  • sewe seëls 4–7 (Openb. 4:1)
  • sewe trompette 8:1–11:14 (Openb. 8:1-2)
  • sewe ongenommerde visioene 11:15–14:20 (Openb. 11:19)
  • sewe bakke van toorn 15–18 (Openb. 15:1)
  • sewe ongenommerde visioene 19–22 (Openb. 19:11)

Dit is ‘n baie handige werkswyse om sin te maak van die verskillende herhalende visioene.

Mulholland gebruik drie van hierdie struktuur elemente van “sien” om die boodskap van Openbaring te tipeer as al hoe dieper en groter uitbeeldings van wat gedoen is in Jesus:

  1. In Openbaring 4:1 sien Johannes “‘n geopende deur in die hemel”.
  2. In Openbaring 11:19 sien Johannes “die tempel van God oopgaan”.
  3. In Openbaring 19:11 sien Johannes “die geopende hemel”.

Drie dramas 
Jan du Randt het in sy navorsing dit na my mening egter nog meer eenvoudig ingedeel. Hy werk ook met herhalende aard van die visioene, maar nog breër met die herhalende aard van die inhoud van hoofstukke 4-11 in vergelyking met die inhoud van hoofstukke 12-22.

Hy vind ‘n baie logiese teologiese verdeling – beskryf as drie dramas – op grond van die bepalende rol wat die Here Jesus Christus in elke deel speel.

Hy stel die volgende struktuur vir Openbaring voor:

1. Die opgestane Christus gee sewe briefboodskappe aan die kerk (hoofstukke 1-3);
2. Die Lam maak die verseëlde boekrol oop waarop God se plan deur die sewe seëls en sewe trompette in die kosmos ontvou (hoofstukke 4–11);
3. Die draak en sy misdadigers voer oorlog in die loop van die geskiedenis teen die Lam en sy volgelinge – onder andere deur die sewe bakke – maar verloor die stryd wat lei tot die bruilof van die Lam en die bruid in die nuwe hemel en die nuwe aarde (hoofstukke 12–22).

Elke drama is in ‘n sekere sin ‘n herhaling van dieselfde tema: “God se uitvoering van verlossing en oordeel.”
1. In die “eerste drama” (Openb. 1-3) beoordeel Christus self die leer en lewe van die gemeentes in sy weegskaal en belowe Hy verlossing. Dit is werklike gemeentes, maar hulle verteenwoordig ook die hele kerk. God is deur Christus in sy kerk teenwoordig soos gesien kan word in die wyse waarop Hy die sewe gemeentes begelei.
2. In die “tweede drama” (Openb. 4-11) word die hemelse erediens onderbreek in die soektog na iemand om God se agenda vir die heelal uit te voer. Die Lam tree vorentoe en voer God se verlossende oordeel uit deur sewe seëls en sewe trompette. Met die blaas van die sewende trompet vind die laaste oordeel plaas en word die verlostes in God se koninkryk opgeneem (Openb. 11:15).
3. In die “derde drama” (Openb. 12:22) verskyn ‘n vrou wat geboorte skenk aan ‘n Seun, die Christuskind wat die verhaal in die geskiedenis anker. Die bose driemanskap – die draak (12:3), die dier uit die see (13:1) en die dier uit die aarde (13:11) – veg om die lojaliteit van die gelowiges (12:11,17), maar word in die proses deur die Drie-enige God – die Vader (14:1), Christus die Lam (14:4) en die Gees (14:13) – getroef in ‘n reeks oordeelsvoltrekkings wat met sewe bakke beskryf word, waarna die bruilof van die Lam ‘n aanvang neem met die aanbreek van die nuwe hemel en aarde. Hierdie derde toneel eindig dus met die veroordeling van die prostituut Babilon, en die verheerliking van die bruid van Christus wat haar intrek neem in die hemelse Jerusalem met die wederkoms van Jesus Christus.

God is dus besig in die kerk, in die heelal, en in die geskiedenis. Hy doen dit as Vader deur Sy Seun Jesus Christus en deur die Gees. Hy fokus op verlossing asook op oordeel. Hy staan die Bose teë in die stryd om gelowiges se lojaliteit. Dit is ook die hart van die boodskap van die boek.

Maar, die persoon rondom wie alles wentel, is die Here Jesus Christus. Hy is God se instrument van verlossing en oordeel. Hy gee samehang en struktuur aan die boek en boodskap van Openbaring. Dit is na alles sy Openbaring.

Openbaring is daarom ‘n boek wat ons visie op God en sy betrokkenheid by alles wat bestaan wil verdiep sodat ons met moed en verwagting die geloofstryd in die koms van die koninkryk sal stry.

Wat meer is, Hy stuur ons as gelowiges onder begeleiding van die Heilige Gees om die wêreld daarvan te oortuig. Hy is die alleenheerser in die heelal en wil almal op die aarde onder sy heerskappy verenig.

Die struktuur van die sewe briewe in Openbaring 2-3
Hiermee meer inligting oor die sewe briewe. Elke brief bestaan min of meer uit sewe dele.
1. ‘n Opdrag aan Johannes wat begin met die uitdrukking: “Só sê …” of “Dit sê …” wat kenmerkend van die profete was: “So sê die Here” (vgl. Jes. 7:7; Jer. 2:2; Eseg. 5:5). Dit is die profetiese woord van God wat tot die gemeente kom.
2. ‘n Beskrywing van Jesus waarvan die elemente veral uit die visioen van Johannes in die eerste hoofstuk kom.
3. ‘n Beskrywing van die gemeente se goeie en swak punte.
4. ‘n Beskrywing van hulle dwaling – behalwe by Smirna en Filadelfia.
5. ‘n Waarskuwing of bemoediging.
6. ‘n Aansporing aan al die gemeentes om na die Gees te luister – dws almal moet luister na wat vir die ander gemeentes gesê word.
7. ‘n Belofte aan dié wat oorwin – punt 6 en 7 is omgeruil by die laaste 4 briewe.

Telkens lui die opskrif van die briewe: “Skrywe (ook) aan die engel van die gemeente in …” Die term engel val op, want dieselfde woord as dié vir engel in Openbaring 1:1 word gebruik. Hier is dit egter nie die engel van Jesus Christus nie, maar die engel of boodskapper van die gemeente, dws die leier, leraar of voorganger van die gemeente, soos dit in baie vertalings weergegee word.

Dat die boodskapper in die enkelvoud aangespreek word, dra die boodskap oor dat die leierskap in die gemeente ‘n baie spesifieke verkondigingstaak het, ‘n taak wat die Here self aan hulle opgelê het en waaraan Hy hulle getrouheid meet, al dan nie.

Maar dit is ook regdeur duidelik dat die boodskap vir die hele gemeente bedoel is, soos dit ook eksplisiet in die brief aan Tiatira vermeld word (Openb. 2:23-24) en elke keer aan die einde van ‘n brief meervoudig geïnterpreteer word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes.”

Elke boodskap bevat ook elemente wat eintlik op alle gemeentes van toepassing is. Die uitvoering van die boodskap aan Tiatira sal tot gevolg hê dat: “al die gemeentes sal weet dat dit Ek is” (Openb. 2:23). Soos die opskrif van elke brief aan die onderskeie gemeentes oorspronklik geskryf is, rus daar egter ook ‘n dure plig op dié in leierskap om hulle begeleidingsrol – soos deur die Here aan hulle toevertrou – met oorgawe te vervul.

In vier van die briewe word gefokus op ‘n eerlike beoordeling van die sterk en swak punte van die gemeentes, en word hulle begelei met vermaninge en voorstelle hoe om te luister na wat die Gees sê en hulle lewens daarvolgens in te rig – Efese, Pergamum, Tiatira en Sardis. Twee gemeentes – Smirna en Filadelfia – word net geprys en een gemeente – Laodisea – word net bestraf.

Die hart van die boodskap is dat die Here Jesus gemeentes in sy werk in die wêreld gebruik:

“Through the transformed lives of His people, the Lord is making the gospel attractive to the unrepentant world. He is drawing men and women to Himself through the godly character of His church.” (John MacArthur, Christ’s call to reform the church).

Dit is wat Jesus in die Bergrede as die doel van ons almal se lewens uitgespel het: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matt. 5:16).

Hoe om Openbaring te lees
Hierbo het ek reeds ‘n hele paar leidrade gegee wat jou kan begelei in die lees van die boek Openbaring. Soos jy vorder met die lees van die boek, kan jy gerus van tyd tot tyd terugkom en jouself herinner aan die feit dat jy “teologies” moet lees, dat die boek jou wil help verstaan wat God doen, wat aan die gang is in die wêreld en hoe jy daarop moet reageer.

Maar, uiteindelik moet ‘n mens die boek ook “geestelik” lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede. Die inligting wat ek gee, help jou om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ‘n groter raamwerk om jou eie verstaan in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie. Die Bybel is God se woord aan jou en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met die Here lees.

Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur
Die eerste hoofstuk kan in vier dele opgedeel word:

  • ‘n Openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur – vers 1-3;
  • Johannes se boodskap aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië – vers 4-5a;
  • ‘n Lofprysing aan die Verlosser, dié Een wat weer kom, gebaseer op God se self bekendmaking as die Alfa en die Omega, die Een wat is, wat was en wat kom – vers 5b-8;
  • Johannes se visioen van Jesus Christus wat hom inspan om aan die sewe gemeentes in Asië te skryf – vers 9-20.

‘n Openbaring deur Jesus Christus – vers 1-3
In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes.  Dit is verkeerd.  Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is.  Jesus tree aan die eenkant nie op sy eie op nie.  God die Vader stuur Hom met ‘n baie spesifieke opdrag.  Aan die ander kant tree Jesus met volle gesag op om aan die gelowiges te toon wat binnekort moet gebeur, soos die Vader Hom gewys het.  Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel.

Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges.  Dít is die laaste woorde van Jesus aan sy mense in verband met die eindtyd wat naby is.  Maar belangrik: dié woord van God is nie die getuienis oor Jesus Christus nie, maar “die getuienis deur Jesus Christus“, soos die N.A.V. se vertaling: “wat Jesus Christus bevestig het” eintlik oorspronklik lui.  Jesus word as die uitvoerder van God se opdrag aangedui en die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom.  Kragtig!  In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make.  Hy praat met ons deur die boek.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek (voor)lees – d.w.s. die leraars of bedienaars van die Woord wat dit voorlees – geseënd verklaar , sowel as dié wat daarna luister en belangrik, dit wat daarin geskrywe staan, nakom.  Die dringendheid hiervan het met die tydsgewrig te make waarin hulle lewe.  Die openbaring gaan oor wat binnekort moet gebeur.  Die tyd is naby.

Johannes se boodskap – vers 4-5a
Die aanhef van die brief volg nou waarin Johannes die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aanspreek en groet met die Drie-enige genade (Griekse seënbede) en vrede (Hebreeuse sjalôm) van 1) die Vader wat is en wat was en wat kom – ‘n beskrywing van die dinamiese karakter van God – van 2) die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk (vgl. ook 3:1; 4:5; 5:6 asook Sag. 4:6)  – en 3) van Jesus Christus. Die sewe gemeentes verteenwoordig die hele Christelike kerk.

Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – d.w.s. sy getuienis kan geglo word – die Een wat nie net as Eersgeborene uit die dode opgestaan het nie, maar ook reeds die heerser oor die konings van die aarde is.  Ons hoor hierin die getuienis van Psalm 2 weerklink, dat God se gesalfde koning is en dat almal vir Hom ontsag moet hê.  Let ook op hoe dit as ‘n teenswoordige realiteit beskryf word, nie iets wat eers met die Wederkoms aanbreek nie.

‘n Lofprysing aan die Verlosser – vers 5b-8
Aan dié betroubare getuie kom waarlik die heerlikheid en sterkte toe vir ewig en ewig, soos Johannes in ‘n lofprysing dit uitbasuin.  Dit is Hy wat ons nie net liefhet en verlos het nie, maar ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader (vgl. ook 1 Pet. 2:9).  Daarmee word nie net sy werk as Verlosser verheerlik nie, maar ook ons taak en opdrag as ‘n koninkryk van priesters vir God, sy Vader, uitgespel, om met Hom in kontak te lewe voor die mense en Hom publiek te dien.

In ‘n verdere lofprysing word nie net Jesus se eerste koms in herinnering geroep nie, maar ook sy tweede koms, ‘n koms met die wolke, waarin die Hemelvaart van Handelinge 1 in herinnering geroep word, maar ook die wederkoms vooruitgesien word, een van die sleuteltemas van die boek Openbaring.  Almal sal Hom dan sien, selfs ook dié wat Hom verwerp het en aan die kruis deurboor het (vgl. Joh. 19:37).  Al die volke op aarde sal oor Hom treur, waarskynlik van berou.

Hierdie Verlosser, verklaar die Here God, die Almagtige, dan, is die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letter van die Griekse alfabet – die Een wat is en wat was en wat kom, waarmee dieselfde beskrywing van God die Vader (vgl. 1:4b) op Jesus van toepassing gemaak word.

Johannes se visioen van Jesus Christus – vers 9-20
Johannes noem homself hulle broer (N.A.V. vertaling het “medegelowige“) en ‘n deelgenoot in drie werklikhede: die verdrukking onder Domitianus wat hom na Patmos verban het, die koninkryk van God wat onkeerbaar aan die kom is in die wêreld en “die volharding in ons verhouding met Jesus“, soos dit letterlik daar staan.

Dit is ‘n ongelooflike troosvolle beskrywing.  Hy het nie net deel aan die verdrukkende werklikheid van die Romeinse vervolging van gelowiges nie – spesifiek omdat hy die woord van God verkondig het, d.w.s. die getuienis deur Jesus Christus – maar ook aan die koninkryk van God wat besig is om in te breek in hierdie wêreld.  En hy praat oor volharding as ‘n gawe van God wat Johannes van Jesus binne die verhouding met Hom ontvang.  Volharding is dus vir Johannes nie net ‘n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe wat ontvang en vasgehou moet word.  Dit moet hom laat moed skep!

Johannes vervolg dan met die beskrywing van die visioen van Jesus Christus wat hy gesien het, op die dag van die Here, dit is Sondag, toe die Gees van hom “besit geneem” het (“meegevoer” het die N.A.V. dit vertaal) en die Here Jesus die opdrag herhaal aan Johannes om aan die sewe gemeentes te skryf wat hy sien.

Jesus het tussen sewe goue kandelare gestaan – die simbole van die sewe gemeentes – en Johannes eien Hom as die Seun van die Mens, op voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan. 9:13).  By sy lang kleed het hy ‘n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het.  Sy werk word dus as afgehandel geteken.  Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ‘n toespeling op die kragtigheid en deurpriemende karakter van sy woorde (vgl. Hebr. 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraars van die gemeentes – die uitstaande kenmerke.

Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.

Hierdie visie se doel was om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het – trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe – en nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied of Flam 271 of VONKK 203 [Be Thou My Vision]

Votum: Openbaring 1:8

Seëngroet: Openbaring 1:4-5

Lofsang: Lied 168 of Flam 21 [bekend of VONKK 195

Verootmoediging: Joh 20:26-29

Geloofsbelydenis: Lied 468 of Flam 544

HOOR

Gebed

Skriflesing: Openbaring 1:4-8b

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 589 of Flam 147

Seën: Johannes 20:21

Respons: Lied 176

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 176 “Halleluja! U is Koning” of
Flam 271 U Hou Die Aarde of
VONKK 203 Wees U, O Here, My Uitsig, My Hoop [Be Thou My Vision]

Votum
Openbaring 1:8
“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

Seëngroet
Openbaring 1:4-5
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus Christus,
die betroubare getuie,
die Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.

Lofsang
Lied 168 “Heilige Jesus” of
Flam 21 In Die Hemel Is Die Heer of
VONKK 195 Loof, Loof Die Heer 

Verootmoediging
Joh 20:26-29
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”
27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

Dink na oor die afgelope week. Waar het jy oral die Here se hand gesien? 

Geloofsbelydenis
Lied 468 “Christus, die Seun, is beeld van God” of
Flam 544 Loof die God van Liefde

Liedere

VONKK 203 “Wees U, O Here, My Uitsig, My Hoop”
Teks: Be Thou my vision – E18; Engelse vertaling 1905: Mary E Byrne (1880-1931) en Eleanor H Hull (1860-1935); Afrikaanse weergawe: Hannes van der Merwe 2010/2012 ©
Melodie: SLANE – tradisionele Ierse melodie
Orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Tradisioneel
© Teks: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie en orrelbegeleiding: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Geloof  en Vertroue

1. Wees U, o Here, my uitsig, my hoop.
Kom breek tog die toekoms, geleenthede oop.
En wat ook mag kom in die dag of die nag,
wees U dan my herder en hou U die wag.

2. Wees U die wysheid, die lig op my pad,
En, Heer,  as ek struikel, neem my aan die hand.
Wees U tog my Vader en maak my u kind –
net in u versorging is vrede te vind.

3. Wees U my skuiling, my redder, my krag,
want net deur u hand kan ek uitkoms verwag.
En wees U my vesting, my skild en my swaard.
Heer, skenk tog u vrede – ook hier in my hart.

4. Wees U die eerste en laaste vir my,
want niks op die aarde kan my so verbly.
Wees U dan my lofsang, my bede, my seën;
net op U vertrou ek, Heer, op U alleen.

VONKK 195 “Loof, Loof Die Heer”
Nav Psalm 103 (strofe 1)
Teks: Jacques Louw 2012 ©
Musiek: SAGINA – Thomas Campbell (1825-1876)
Orrelbegeleiding en diskant (strofe 3): Colin Campbell 2012 ©
Kantoryverwerking: Thomas Campbell (1835-1876)
© Teks, orrelbegeleiding en diskant (:3): 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek en kantoryverwerking: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Nagmaal

1 .Loof, loof die Heer met alles binne my!
Ek wil die Here loof en sy Naam besing.
Hy is die Heer wat my skuld vergeef;
met liefde en goedheid wil Hy my kroon.
Hy is barmhartig, geduldig en genadig;
sy liefde sal my lewe lank vir altyd by my bly.
Hy is die Heer wat Hom ontferm
en soos ’n vader ook my beskerm.

2. Loof, loof die Heer, want Hy vergeet ons nooit.
Hy red ons van die dood en genees ons seer.
Hy neem ons sonde en wis dit uit;
uit liefde kom gee Hy vir ons sy Seun.
Hy kom versoen al ons sonde en oortredinge.
Hy gee vir ons die Heil’ge Gees om ons altyd te lei.
Verlosser, Heer, aan U die eer
vir goedheid so onbeskryflik groot.

3. Sing vir die Heer ’n danklied almal saam.
Verheerlik nou die Heer, kom en prys sy Naam.
Hy heers as Koning in ewigheid –
die Alfa, Omega, vol majesteit.
Kom al wat lewe, kom prys Hom in verwondering
tot elke tong sy Naam bely, sy lof en eer besing.
Drie-enig’ God, ons loof nou saam
u Wondernaam so oneindig groot.

F271. “U Hou Die Aarde”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Willie Kamffer
© 2006 NG Moreleta Publishing (geadministreer deur Urial Publishing)

U hou die aarde in die holte van u hand,
U hou u skepping
tot in ewigheid in stand.
Ek besing u grootheid, Heer,
ek wil U vereer
ek besing u almag, Heer.
U alleen is waardig om te prys.

U is die Alfa en Omega.
U is die Eerste en die Laaste.
U’s die Begin en U’s die Einde.
Daar is geen ander God as U nie.

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en musiek: Tom Hiemstra
Teks: (strofes 3,4 onbekend)
© 2001 MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD Ons Koning kom weer)

1. In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in sy Woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

2. Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

3. Drie maal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

4. Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F544.” Loof die God van Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Retief Burger
Kopiereg: © 2014 Urial Publishing
(Opgeneem op Nou en Vir Altyd)

Intro

Vers 1
Loof die God van liefde, loof sy heil’ge Naam
Hy, ons lig en lewe, almal juig nou saam

Vers 2
Kyk, die God van vryheid kondig redding aan
Sterke God van vrede, Rots wat ewig staan

Chorus 1
Hy is Koning, Hy alleen regeer
Hy die Eerste en die Laaste Heer

Vers 3
Hoog bo als verhewe troon sy majesteit
God deur al die eeue, Prins van heerlikheid

Chorus 2
Hy is Koning, Hy alleen regeer
Hy die Eerste en die Laaste Heer
Hy is Koning, Hy alleen regeer
Hy die Eerste en die Laaste
Hy alleen is Heer

Bridge
Heilig, heilig, heilig is die Heer Almagtig
Waardig, waardig, waardig is die Lam vir ewig

Instrumental

Outro

F147. “Wie Is Die Eerste (Dit Is U) T137”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Retief Burger
© 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. Wie is die eerste, hoog bo elke naam?
Wie is die laaste, wat aan die einde nog sal staan?
Wie meet die hemel met die breedte van sy hand?
Wie het die Skepping en alles aan sy kant?

2. Wie roep die sterre elkeen by die naam?
Wie gee die lewe aan alles wat bestaan?
Wie laat die dou se druppel in die nag verskyn?
Wie ken al my vrae, my hartseer en my pyn?
Wie is dit?

Refrein:
Dit is U, U alleen
U wat was, U wat is en vir ewig sal wees.
Dit is U, U alleen
U, Hemelvader, wat in majesteit regeer!

3. Wie maak die storm in die mensehart weer stil?
Wie gee die vrede, waar die dood verwoesting bring?
Wie hou my lewe in die holte van sy hand?
Wie is in Christus volkome aan my kant?
Wie is dit?

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Openbaring 1:4-8b

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bring ‘n (lekker groot en dik) woordeboek saam. Maak oop by die eerste letter – A – en lees die eerste woord. Blaai dan al die pad tot by die laaste woord. Verduidelik die konsep van die begin tot die einde, met alles tussenin. Dis hoe Openbaring sê God van die begin tot einde by ons is. Jy kan voorbeelde noem. Begin by die skepping en hoe God daar was. Verlede week toe julle kerk gehou het. Maandag toe hulle ‘n verrassingstoets geskryf het. Donderdag toe hulle geweier het om skottelgoed te was. Saterdag toe hulle netbal gespeel het. En Jesus gaan daar wees eendag as hulle groot is, klaarmaak met skool, oud is… Jesus gaan daar wees wanneer die wêreld eindig. EN nog daarna. Idee uitgebrei van ‘n idee van John Stevens.

OF

Uit ‘n vorige Preekriglyn:
Om vir die kinders te demonstreer dat Jesus die Here van alles is, die Eerste en die Laaste, speel ’n Alfabet-speletjie.

Wat het jy nodig: Die letters A en Z uitgedruk op ’n A4-folio, asook die Griekse letters Alfa en Omega. (Of gebruik die projektor)

Wat moet jy sê:  Wie van julle kan die alfabet opsê?  Wie kan vir my die 5 vokale noem?  Wie kan vir ons sê wat is die middelste twee letters van die alfabet?  (‘m’ en ‘n’).  Wat is die eerste letter van die alfabet? (Hou die A op).  Wat is die laaste letter van die alfabet?  (Hou die Z op).   So, as ek die ‘A’ en die ‘Z’ so langs mekaar hou, wat verteenwoordig die twee letters?  (Die hele Alfabet).  Al die letters is tussen A en Z.  Al die vokale, al die konsonante, die middelste twee letters, elke letter.

(Wys vir hulle die Griekse letters).  Wie kan vir my sê wat dít is?  Dit is die Griekse letters ‘Alfa’ en ‘Omega’.  Vir die mense in Jesus se tyd  het die ‘Alfa’ en die ‘Omega’ presies dieselfde beteken as die A en die Z vir ons.  Elke letter van die Griekse alfabet is tussen hierdie twee letters.

Toepassing:  In die Bybel lees ons sê Jesus vir Johannes dat Hy, Jesus, die Alfa en die Omega is.  Wat dink julle het Jesus ons probeer leer?  (Moenie verbaas wees as daar geen reaksie is nie, maar wag en kyk of daar nie dalk is nie).

Jesus sê vir ons dat Hy die begin en die einde van hierdie wêreld is.  Hy is die begin en die einde van jou lewe.  Hy het bestaan nog voordat God die Vader die heelal gemaak het en Hy sal nog daar wees, nadat hierdie wêreld ophou bestaan het.   Hy is groter as enige iets in hierdie wêreld, want Hy is die Seun van God.  As dit so is, dan kan Jesus al die goeie en die slegte dinge in ons lewens hanteer.  Onthou dus, Jesus is die Alfa en die Omega.  Hy is die Eerste en die Laaste.  En volgende keer as julle die Alfabet sien, onthou dat Jesus jou omring met Sy liefde en Sy sorg, van die begin af tot aan die einde.

Kom ons bid: Dankie Liewe Here, dat U U Seun, Jesus, vir ons gestuur het om ons met U liefde te omring.  Dankie dat ons nou niks het om ons meer oor te bekommer nie, want ons weet U omring ons, van voor van agter, van onder na bo, met U liefde.  Amen

Preekriglyn

Ons gaan vir die volgende paar weke by Skrifgedeelte uit die Openbaringboek stilstaan. Daarom begin ons eers deur ‘n oorsig oor hierdie merkwaardige troosboek én aansporingsboek vir gelowiges te gee.

Titel van die boek

Die boek Openbaring begin met die Griekse woorde Apokalypsis Iesou Christou (Die openbaring van Jesus Christus). Die eerste woord, Apokalypsis (openbaring), gee hierdie boek sy naam. God gee die openbaring aan sy Seun. Die Seun gee dit dan deur middel van sy engel aan sy dienskneg Johannes. Johannes gee dit deur na die sewe gemeentes in Asië. Dit is nie die openbaring van Johannes nie.

Openbaring is geskryf in ‘n tyd van heftige vervolging van die Christene. Johannes is na Patmos verban omdat hy vir Christus getuig het (1:9), vir ander wag daar gevangenskap (2:10), Antipas het ‘n marteldood gesterf (2:13) en die gelowiges moet hulle gereedmaak vir ‘n tyd van beproewing wat oor die hele wêreld sal kom (3:10).

Die woord “apokalips” word gewoonlik in verband gebring met ‘n verwoestende gebeurtenis, insluitende die einde van die wêreld. Maar die term beteken eintlik “om te onthul” of “om te ontbloot”. Openbaring is dus ‘n bekendmaking van die Bybelse siening van hoe alle dinge tot ‘n einde gaan kom.

Die eerste hoofstuk van Openbaring dien as inleiding vir die hele boek. Binne die eerste verse hoor ons:

  • Dit is ‘n onthulling van die planne van Jesus (van God) (1:1).
  • Die outeur is Johannes (1:4).
  • Die gehoor is die sewe kerke van Asië (1:4).
  • Dit is geskryf op die eiland Patmos, ‘n Mediterreense eiland wat tot die hedendaagse Griekeland behoort (1:9).
  • Die doel daarvan is om lesers ‘n blik te gee op dit wat sal plaasvind (1:1).
Groete aan lesers

In 1:4-6 voldoen die boek Openbaring aan die konvensionele briefformaat van die eerste eeu. Dit gee die volgende inligting: (i) Naam van die skrywer; (ii) Naam/name van die ontvangers; (iii) Groet; (iv) Dankseggingsgebed. Al vier elemente is hier teenwoordig.

Die skrywer is Johannes, een van Jesus se oorspronklike twaalf apostels. Die ontvangers was Christelike huiskerke in die Romeinse provinsie Asië (vandag in die suidweste van Turkye).

Die groet “genade vir julle en vrede” (v 4) weerspieël ‘n standaard Christelike groet. Wat ongewoon is aan hierdie groet, is dat dit nie van die outeur kom wat aanvanklik aangewys is nie, naamlik Johannes, maar van God Drieënig:

  • “Van Hom wat is en wat was en wat kom” (v 4). Hier word van God gepraat. Hierdie woorde beskryf iets van die oneindigheid en tydloosheid van God. Tydloosheid kan ons op geen manier begryp, verstaan of omskryf nie. God is buite tyd. Tyd is ‘n skepping van God.
  • “Die sewe Geeste wat voor sy troon is” (v 4), verwys na die Heilige Gees – met sewe as simbool van volmaaktheid. Die idee van die sewe Geeste kom uit die Ou Testament. Jesaja 11:2 beskryf sewe aspekte van die Heilige Gees: Die Gees van die Here sal op Hom rus; die Gees van wysheid en verstand; die Gees van raad en krag; die Gees van kennis en vrees van die Here. Dit is nie dat daar sewe verskillende geeste van God is nie, maar die Gees van die Here het hierdie eienskappe; volledig en volmaak.
  • “Die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde” (v 5). Jesus is die enigste moontlike getuie wat daar tussen God en mens kan wees. Hy wat mens was en in ons tyd bestaan en geleef het, maar wat ook God is en by die ewige Vader bestaan, sonder tyd. Hy is die Een wat kan getuig. Hy weet!
Genade en vrede

God Drieënig sê aan die lesers genade en vrede toe (vers 4).

  • “Genade” is ‘n betekenisvolle woord in die Nuwe Testament. Dit het sy oorsprong in die Hebreeuse woord hesed, wat in die Ou Testament uitdrukking gee aan die liefdevolle en genadige getrouheid van God. In Grieks beskryf die woord onder meer vrygewigheid.
  • “Vrede” is ook ‘n betekenisvolle kategorie. Dié woord kom amper honderd keer in die Nuwe Testament voor. Sy wortel lê in die Hebreeuse woord shalom. Albei dié woorde verwys na meer as net die afwesigheid van geweld. Dit verwys ook na die lewenservaring wat verkry word deur ‘n diep en opregte verhouding met God.
Wie God vir ons is

Die God wat aan ons genade en vrede skenk, is die God “wat ons liefhet” (v 5). Let op dis in die teenwoordige tyd gestel. Die liefde is nou; dit is teenwoordig; dit gaan voort.

Dis die God wat ons van ons “sondes verlos” het (v 5). Die tyd van die werkwoord (aoristos) beteken dit is afgehandel; klaar gedoen – eens en vir altyd.

Jesus maak ons “konings en priesters vir sy God en Vader” (v 6).

“Heerlikheid” (v 6) is ‘n eienskap van God. Dit word met Jesus gedeel. Ons sien iets daarvan in die verheerliking van Jesus op die berg (Luk 9:28-36) en ook in sy dood en opstanding.

Die krag en mag behoort aan God wat hemel en aarde geskape het en oor alles heers. God deel sy mag met Jesus Christus. Met sy wederkoms sal Jesus op ‘n wolk verskyn in krag en majesteit (Luk 21:27).

“Hy kom met die wolke en elke oog sal hom sien” (v 7). Al die mense van die aarde sal Hom sien wanneer Hy kom. Daar is ook hulle wat Hom deurboor het (v 7). Die verwysing is na die spykers deur sy hande en die soldaat wat die spies in Jesus se sy gesteek het (Joh. 19:37). Hier is hulle die verteenwoordiger van diegene wat Jesus laat kruisig het, en trouens van almal wat deur hulle verwerping van die versoening as’t ware Jesus weer kruisig (Heb. 6:6).

Om die sekerheid van Jesus se wederkoms verder te onderstreep, voeg God self sy bevestiging of goedkeuring by.

“Ek is die Alfa en die Omega” (Op 1:8). Dit is die eerste van drie eienskappe van God wat Johannes in dié vers noem. Die Een wat praat, is die Here God self – God die Vader. Hierdie eienskappe word nog twee keer in die boek genoem (Op 21:6 verwys na die Vader en Op 22:13 na die Seun). Alfa en Omega, die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet, dui volmaaktheid aan. Hy is die begin en die einde. Voor alles was Hy daar en ná alles sal Hy nog daar wees; ewig en alomteenwoordig.

“Die Almagtige” (v 8). Die Griekse woord Pantokrator kombineer twee woorde wat “alles” (pan) en “krag” (kratos) beteken. Johannes wil sê dat God die enigste Een is wat werklik almagtig is.

Troos en bemoediging

Openbaring is vir gelowiges ‘n boek van troos, bemoediging en aansporing. Op hierdie stadium kry die gelowiges swaar weens Romeinse oorheersing en vervolging, weens die Griekse veelgodedom wat steeds invloedryk was en ook vervolging en druk deur die Jode.

Die boek wil sê dat die Here wêreld in God se hande is. Die bestaan van boosheid en die Satan is ‘n werklikheid. Dit beteken dat geloof stryd beteken. Wie egter trou aan God bly en God volg, sal die oorwinning in Jesus Christus smaak.

Jesus is die eersgeborene uit die dood. Volgens die Bybel lê almal wat hulle aan die kruis verbind en oorgegee het se hoop in Jesus se opstanding. Ná die dood wag ‘n opstanding van die liggaam, net soos Jesus s’n. In Openbaring herinner Johannes sy lesers herhaaldelik aan hierdie hoop. Dit bied ondersteuning en versterking vir die moeilike dae wat kan voorlê.

Jesus is die Heerser oor die konings. Volgens die Openbaringboek sal Jesus oor elke aardse koning of maghebber heers. Op die oomblik regeer Jesus in sy koninkryk, maar dit is nog nie ten volle in hierdie wêreld sigbaar nie. Dit is ‘n radikale teenkulturele ingesteldheid, want Jesus as Heerser staan lynreg teenoor die Romeinse keiserlike kultus met sy aansprake op die goddelike keiser en Rome.

Alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan Hom (Matt 28:19; Fil. 2:11; Ef. 1:20; Ps. 89:28). Hier vind ons die kern van ons geloofsbelydenis: Hy het gesterf, is uit die dood opgewek en is verhoog as Here van alle heersers en Koning van alle konings.

Jesus het alles vir ons gedoen

Die boek Openbaring speel af tussen Jesus se eerste en sy tweede koms. Dit kyk terug op die eerste koms, en spel uit wat Jesus Christus vir die gelowiges gedoen het en vandag nog doen. Weer eens word drie dinge genoem:

  • Jesus oorwin die sonde. Hierdie idee veronderstel dat, buiten Jesus se ingryping, niemand die dodelike mag en gevolge van sonde kan oorkom nie. Die Nuwe Testament beskou sonde as ‘n meester wat volkome beheer het oor die lewe van ‘n persoon buite Jesus (Joh. 8:34; Rom. 6:5-14).
  • Hy maak die mense wat Hy deur sy bloed verlos het, tot ‘n koninkryk. Dit is ‘n aaneengeslote, goed geordende en funksionerende gemeenskap met ‘n Koning aan die hoof, en daardie Koning is Jesus Christus. Dit wat God in Eksodus 19:5-6 aan Israel belowe het – “[Julle sal] uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie” (1983-vertaling) – word deur Christus in vervulling gebring.
  • Jesus orden gelowiges as priesters. As priesters dien Christene God in aanbidding. ‘n priester, in Bybelse terme, is iemand wat toegang tot God het, wat God se seëninge aan ander bemiddel en vir die gelowiges se behoeftes intree.

In die Ou Testament was dit verbode om die ampte van koning en priester te kombineer. Koning Ussia van Juda is ‘n voorbeeld van ‘n man wat die twee ampte probeer kombineer en die boete daarvoor betaal het (2 Kron. 26:16-23). Maar onder die nuwe verbond kan ons soos Jesus wees in die sin dat Hy sowel Koning as Hoëpriester is (Luk 1:31-33; Heb. 4:14).

Die einde staan in Jesus vas

Ons kyk nie net terug na Jesus se eerste koms nie. Ons kyk ook, te midde van stryd en swaarkry, vooruit na Jesus se tweede koms aan die einde van die tye.

Jesus se triomfantelike koms (wederkoms) is verseker. Daar is geen twyfel nie. Drie keer in hoofstuk 22 verkondig Jesus self: “Ek kom gou!” (22:7, 12, 20). Elke oog sal Hom sien: Wanneer Jesus kom, sal dit nie ‘n geheime koms wees nie. Almal sal weet.

Met sy eerste koms was Jesus nie baie opsigtelik nie. Tydens sy aardse bediening het Hy nooit die nuus op die voorblad in Rome gehaal nie. Maar wanneer Jesus weer kom, sal elke oog Hom sien. Die hele wêreld sal weet; selfs diegene wat Hom deurboor het. Wanneer Jesus kom, sal dit ‘n besonder betekenisvolle openbaring vir die Joodse volk wees. Natuurlik was dit nie die Jode wat Hom deurboor het nie. Maar ons weet dat Johannes die openbaring van Jesus aan sy eie mense in gedagte het, want dit is waarskynlik ‘n verwysing na Sagaria 12:10.

God praat net twee keer in die boek Openbaring (1:8; 21:5-6). In albei gevalle is die punt dat Hy soewerein is oor alles wat daar is; die hele geskiedenis ontvou onder sy algehele en heilige raad.

Die koms van God word ‘n werklikheid in die koms van die Messias.

Dit is God se boodskap

God stuur ‘n boodskap. Hy wil sy kinders troos en bemoedig. Hy gee hoop. Hy maak die toekoms oop. Hy is in beheer. Die toekoms is in sy hande. Rome moet dit hoor; so ook enige mag of gesag in vandag se wêreld.

Dit is nie altyd maklik om te glo nie. Daar is baie magte werksaam en daar is baie twyfel by gelowiges wat swaar kry. God kom raak ons egter aan. Sy boodskap laat ons onthou dat ons nie alleen is nie.

God is Koning. God is ewig – buite en bokant tyd. Hy is altyd by ons deur sy Gees. Sy Seun, die getroue en betroubare Getuie, was ‘n mens soos ons. Maar Hy is ook God. Hy het opgestaan; Hy leef; Hy heers. Hy verander ons deur ons verlossing uit die mag van sonde. Hy maak ons sy dissipels (heersers en priesters) en gee ons toegang tot God. Hy gee ons werk in hierdie wêreld om te doen totdat Hy weer kom. Hy kom op die wolke. Hy regeer.

In ons deurmekaar tyd moet ons dit ontvang wat ons toegesê word: genade en vrede. God, die Ewige, sê so. Loof die Here, die ewige God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 589 “Verheerlik aan Gods regterhand” of
Flam 147 Wie Is Die Eerste (Dit Is U)

Seën
Johannes 20:21
“Vrede vir julle!” “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Respons
Lied 176 “Halleluja! U is Koning”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.