Tweede Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Genesis 17:1-7, 15-16

Teks

Daar is verlede week op die verbond wat God met Noag en die hele skepping gesluit het gefokus. In hierdie week kry ons te doen met die verhaal van nog ’n verbond. Dit is ’n verbond wat God met Abram (en Sarai) sluit toe hulle al op ’n hoë ouderdom was. Hierdie preekstudie fokus op die verbond en belofte, die naamsverandering en die reaksie van Abram en Sarai.

Genesis 17:1-27 verteenwoordig ’n hoogtepunt in die Abrahamverhaal. Hierdie verhaal bevat vyf toesprake van God wat elke keer uitbrei op die beloftes wat Hy aan Abram maak.

Belofte
Dit is nie die eerste keer dat God ’n belofte aan Abram maak nie. God se beloftes staan sentraal in die Abrahamverhaal. Reeds in Genesis 12 toe God vir Abram sê om sy land te verlaat, belowe God hom dat Hy hom ’n groot nasie sal maak en dat diegene wat van sy naam afstammelinge is, ’n seën vir alle nasies sal wees: “Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:2-3).

In Genesis 15 herhaal God hierdie belofte (selfs nadat Abram sake in sy eie hande geneem het en ’n kind by Hagar gehad het). God herhaal sy verbond en belofte aan Abram en bevestig dat Abram se eie seun sy erfgenaam sal wees.

Naam
Ons name identifiseer ons, dit stel ons voor en beskryf ons. Elizabeth Webb meen dat ons name een van die mees intieme dinge omtrent ons identiteit is. Sy sê dat name die naaste daaraan kom om te definieer wie ons werklik is: “To a large extent, we are our names.”

Hoewel Abraham en Sara se nuwe name se betekenis baie na aan dieselfde as hulle vorige name is (Abram en Sarai), dui hierdie naamsverandering op God se intensie dat hulle albei deel het in die skepping van ’n nuwe nasie. Die naamsverandering dui op die verandering in die status van Abraham en Sara toe die verbond met hulle gesluit word. Daar is nou ’n nuwe verhouding met God, die naamgewer. In die verbond self word taal ook op ’n besonderse manier aangewend: “Ek sal jóú God wees” (v 7), ’n baie persoonlike aanspreekvorm.

God word in hierdie verhaal as El Shaddai, God Almagtig, bekend gestel. Wanneer hierdie Naam vir God gebruik word, het dit altyd te doen met die belofte van ’n nageslag en erfgename.

Abraham
Die hoofstuk lê klem daarop dat dit juis Abram en Sarai se kind sal wees (terwyl Abram op hierdie stadium dink dat die nageslag maar uit Ismael na vore moet kom, soos ons in vers 18 lees) wat ’n groot nageslag sal hê. Abram ontvang die naam Abraham, wat in die Bybel die betekenis gegee word “die voorouer van ’n menigte”. Die direkte vertaling van die Hebreeuse abraham sou ook vertaal kon word met “die vader word verhoog”.

Nasate
Nasate of erfgename is ook ’n belangrike konsep in hierdie verhaal en word dertien keer in die hoofstuk genoem.

Verbond
Uiteindelik is die groot tema van hierdie teksgedeelte die verbond wat God (weer) met Abram (en Sarai) sluit. Hierdie verbond is anders as die voriges, aangesien God die verbond nie met Abram alleen maak nie, maar ook met sy vrou. Dit herinner Abram daaraan dat dit nie Abram en Hagar se kind is uit wie die nageslag sal kom nie (hoewel daar in vers 20 beloof word dat hy ook baie nakomelinge sal hê).

Die woord “verbond” kom dertien keer in die hoofstuk voor. Dit word beskryf as ’n “Leitwort” (sleutelwoord) vir die hoofstuk. Hierdie sleutelwoord bring al die dele in die Abrahamverhaal oor die verbond bymekaar en plaas die prentjie van die verbond in ’n groter perspektief. Hoewel dit aanvanklik lyk asof die verbond net tussen God en Abraham gesluit word (17:2), begin dit nou al hoe duideliker word dat sy familie, sy nasate, ook hierby ingesluit word (7:7).

Sara
Anders as met die vorige beloftes/verbonde, word Sara op ’n besonderse manier by hierdie verbond ingesluit. Sy is ’n deelnemer in die belofte rakende ’n seun en sy nageslag. In eie reg word aan haar ook ’n belofte gemaak. Sara het voorheen verstaan dat sy nie noodwendig deel hoef te hê aan die verbond nie, daarom dat sy Abram aanmoedig het om ’n kind by Hagar te verwek.

Getrouheid
Vers 1 bied baie besonderse parameters vir ’n lewe binne die verbond met God: “Lewe naby My en wees opreg.” Ook verder in die hoofstuk staan getrouheid aan God en aan sy verbond sentraal. Getrouheid aan God is waaroor dit in die eerste plek in die verhouding (vanuit die nuwe identiteit) gaan. God beloof sy getrouheid aan ons. En as dit oor getrouheid teenoor God gaan, word ons met die mens se feilbaarheid gekonfronteer. Terselfdertyd leer ken ons God se genade hierin.

Konteks

Naam
In die Bybel was name baie belangrik. Van die begin af het name betekenis gehad. In die eerste skeppingsverhaal reeds wil dit voorkom asof iets amper nie klaar geskep is nie totdat God dit ’n naam gee. Ook in die tweede skeppingsverhaal is die naam wat God vir Adam gee van betekenis. “Adam” herinner daaraan dat die mensdom “van die aarde” kom.

In Jesaja 43:1, 49:1, Johannes 10:14-15 en Filippense 4:3 hoor ons dat God mense by die naam ken. Ander plekke in die Bybel waar God mense se name verander, bring hierdie naamsveranderings ’n radikale verandering by die persoon teweeg, of plaas dit ’n besonderse klem op die persoon se identiteit. So byvoorbeeld verander Jakob se naam na Israel, en Saulus s’n na Paulus.

In ons verhaal word Sarai “Sara” en Abram “Abraham”. Voortaan sal die moeder en vader van nasies en konings deur hierdie name geken word. Hulle name heroriënteer hulle as’t ware, verander hulle roeping en gee vir hulle nuwe identiteit. Daarmee saam verteenwoordig dit die identiteit wat God vir hulle gegee het. Dit plaas hulle in ’n spesifieke verhouding met God.

Verbond
Net soos die verbond met Noag, is hierdie verbond ’n onvoorwaardelike verbond. Die verbond wat God maak is ewig. In die geval dat iemand nie besny word nie, word so iemand van die verbond afgesny, maar God se verbond bly staan. Of Abraham en sy nasate dus kies om die verbond te onderhou, bly hulle keuse, maar dit maak nie die verbond as sodanig ongeldig nie.

Die besnydenis (wat in die res van die hoofstuk beskryf word) het in hierdie konteks ook betrekking op “naamgewing”. Die seuns ontvang ’n liggaamlike merk om te wys dat hulle aan God behoort – die verbond is in hulle vlees: “So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond” (v 13b). Op hierdie manier word God se belofte op die liggame van sy volk ingeëts sodat hulle sal weet hulle diepste en egte identiteit is dat hulle God se volk is en aan Hom behoort. Bowenal is hierdie merk vir enigiemand anders verborge – slegs die persoon wat die teken ontvang het, sien dit.

Die besnydenis word gebruik om Abraham daaraan te herinner om getrou aan God te wees. Interessant dat die besnydenis nie ’n vreemde gebruik in daardie tyd was nie. Ook Israel se buurvolke het die gebruik gehad om kinders te besny. Die besnydenis bring dus nie vervreemding teenoor die naburige volke mee nie. Die betekenis wat die Here vir hierdie gebruik gee, is egter uniek en besonders.

Ons lees in vers 17 (wat buite die Skrifgedeelte van die week val) dat Abraham op sy gesig geval en begin lag het oor die belofte dat hy en Sara kinders van hulle eie sou hê. Ek dink ons het begrip vir Abraham se reaksie, al is ons in die gelukkige posisie om vandag te weet dat hierdie belofte van God wel waar geword het.

Gewoonlik word Abraham se daad om op sy gesig te val as onderdanigheid, gehoorsaamheid en aanbidding verstaan (soos in v 3 van dieselfde hoofstuk). Dit lyk egter of Abraham se aanbidding en gehoorsaamheid ook met kleingelowigheid vermeng word. Dit is asof Abraham se lyf weet wat om in hierdie situasie te doen – om God te aanbid – maar dat sy kop nog nie heeltemal in pas met sy lyf gekom het nie. God se belofte lyk vir hom nog té onwaarskynlik!

Preekvoorstel

Baie kulture het die tradisie om familiename te gee. Daar is verskillende maniere hoe hierdie name gekies en oorgedra word. Daar is ook blykbaar die gebruik om vir kinders ’n samevoeging van hul ouers se name as naam te gee. Is dit dalk ’n manier om te sê ons was hier, en dit is wie ons is?

Met die doop word iemand ook op die naam genoem. Hoewel dit nie meer ’n algemene gebruik vir Christene is om besny te word nie, word die doop die teken – weer eens nie sigbaar vir andere nadat dit gebeur het nie – dat Christene in God se familie ingelyf is (die doop het ook ander betekenisse). In daardie oomblik word Christene se ware identiteit in Christus gevier deur ’n sigbare teken en sakrament. Dit is betekenisvol dat mense se name by hulle doop genoem word.

Deur die loop van mense se lewe gebeur verskillende dinge met hulle. Uiteindelik sou dit kon gebeur dat ons allerhande goed omtrent onsself begin glo. Baie van hierdie goed is dalk nie heeltemal waar nie, of is maar net ’n perspektief wat ons oor onsself het. Dit word dikwels die identiteit wat ons aan onsself koppel. Dalk glo of dink ons ons is vuil of dat ons nie goed genoeg is nie. Wat ons ook al van onsself glo en wie ons ook glo ons is, God ken ons ware identiteit. Hy bevry ons en roep ons om te leef ooreenkomstig die naam wat Hy vir ons gee.

Om ons ware naam te leer ken, is soos om soos Abram en Sarai om te draai, om ons lewe te heroriënteer en volgens dié nuwe oriëntasie te lewe. Hiervoor is vers 1 van Genesis 17 vir my ’n besonderse oproep: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!”

Wanneer ons die beloftes van God in hierdie teksgedeelte oordink, is dit dalk moontlik om te sê ons voel partymaal asof God se beloftes verregaande is. Wanneer dit oor Abraham in hierdie verhaal gaan, kan ek ook dink dit het waarskynlik vir Abraham so gevoel – veral ná al die tyd en planne wat hy en Sara gemaak het en die geboorte van Ismael. “Hier gaan ons al weer met God se beloftes!” Iets wat ons as mensdom goed regkry, is om ons verwagtings te bestuur en aan te pas soos situasies van ons vereis. Ons sien hoe Abraham dit ook met al die beloftes van ’n nageslag (regdeur die hele Abrahamverhaal) doen. Hy neem waarskynlik aan dat die nageslag waarvan God hier praat, die nageslag is wat uit sy seun Ismael sal kom.

Ons pas ook soms ons verwagtings van God aan volgens wat ons dink moontlik lyk. Ons persepsies van wat God se plan vir ons lewe is, word aangepas sodat dit binne ons beperkte verstaan en persoonlike verwagtings kan inpas. God kom verander egter ons naam en daarmee ons denke, ons begrip en ons verwagtings.

Tog sukkel Abraham nog om God te glo. Hy probeer selfs om ’n kompromie aan te gaan en vir God te vra om die belofte oor Ismael waar te maak (v 18).

’n Verdere vraag vanuit hierdie teksvers is hoekom God hoegenaamd hierdie belofte aan Abram maak en laat waar word. Is dit omdat God gaaf en oulik wil wees? Is dit omdat Hy ’n nice guy is? Hoekom verander God Abram se naam? Beslis nie omdat Abram so spesiaal was en altyd aan God getrou nie. Nee, die enigste rede is omdat God genadig is.

Sarai en Abram se kinderloosheid is die eerste angs oor die verbond. Hulle is oud en die idee dat hulle ouers sal word, is werklik lagwekkend. Is hierdie onwaarskynlike ding hoegenaamd iets wat sal kan gebeur? Veral toe dit al 24 jaar later is sedert God die eerste keer belowe het dat hulle ’n kind en ’n nageslag sal hê. Ondertussen het so baie gebeur. Abram het die Egiptenare probeer oortuig dat Sarai sy suster is. Abram se seun by Hagar, Ismael, is al dertien jaar oud en Abram moes sy broerskind, Lot, gaan red.

Miskien kan ons in Lydenstyd op dieselfde manier na Christus se kruisiging kyk. Dit kan dalk onwaarskynlik lyk dat daar ’n Christus, ’n Messias is wat kan kom en aan die kruis vir ons redding kan sterf. En dan boonop uit die dood opgewek word! Miskien lê die wonder hiervan juis in die onwaarskynlikheid daarvan. Soms is dit vir ons verstand nodig om ook by hierdie werklikheid uit te kom (net soos Abraham wie se verstand nog moes uitkom by wat sy lyf alreeds verstaan het toe hy voor God neergeval en gelag het).

Ons besef ook dat die beloftes van God dalk vir die wêreld waarin ons leef, vreemd en onsinnig kan lyk. Daarom kan ons vir onsself afvra of ons nie ook soms lag as ons op ons knieë val om te aanbid nie. Wanneer ons by opstandingsdag kom, word ons keer op keer herinner aan die beloftes van God wat vervul word – en dan lag ons weer, maar hierdie keer is dit ’n vreugdeslag. Dan maak die twyfel plek vir vreugde en vertroue.

Wanneer ons gedoop word, ontvang ons ’n nuwe naam – “kind van God”. Wanneer ons hierdie genade wat ons ontvang aanvaar, kry ons ook die naam “Christen”. Ons word lede van Christus, getuies. God se genade strek baie ver en is altyd vir ons beskikbaar.

Vrae om te oorweeg:

  • Het jou naam vir jou enige betekenis?
  • Was daar al ’n gebeurtenis in jou lewe wat vir jou besonderse betekenis gehad het?
  • Was daar dalk al so ’n gebeurtenis wat gemaak het dat jy dalk jou naam wou verander?
  • Is daar gebruike in jou (geloofs)lewe wat dalk in ander kringe ’n ander betekenis het, maar vir jou bevestiging van jou verhouding met Christus is?
  • Het jy ook al soms gevoel dat jy wil lag oor ’n belofte van God af?

Bibliografie

Bratt, D, 2018, Genesis 17:1-7, 15-16, https://cep.calvinseminary.edu/sermon-starters/lent-2b-2/?type=old_testament_lectionary; Dunn, JDG & Rogerson, JW (reds), 2003, Eerdmans Commentary on the Bible, Eerdmans; Freedman, DN (red), 2000, Eerdmans Dictionary of the Bible, Eerdmans; Fretheim, TE, 2009, Commentary on Genesis 17:1-7, 15-16; https://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=257; Howard, CBR, 2015, Commentary on Genesis 17:1-7, 15-16; http://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=2384; Webb, E 2012 Commentary on Genesis 17:1-7, 15-17 https://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=1223

© Missio 2024 | All rights reserved.