Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks uit Filippense is ‘n aanmaning aan dissipels van Jesus om in alle opsigte met Hom as Here oor hulle lewe te leef. Dit is ook ‘n waarskuwing aan dié wat nie so leef nie en sluit aan by die evangelieteks vir hierdie Sondag wat Jesus se klag oor Jerusalem weergee.
Genesis 15 is deel van God se verhaal met Abram waar God amptelik ‘n verbond sluit met Abram om God se beloftes in ‘n kontrak te vestig.
Psalm 27 se gebed is ‘n bevestiging van vertroue in die Here wanneer dit goed òf sleg gaan.

Ander tekste

Genesis 15:1-12, 17-18
Die Here sluit ’n verbond met Abram

15 Hierna het die woord van die Here
in ’n gesig tot Abram gekom:
“Moenie bang wees nie, Abram,
Ek beskerm jou!
Jou beloning sal baie groot wees.”
2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
3Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”
4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”
5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”
6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.
7Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”
8Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”
9Toe beveel die Here hom: “Bring vir my ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.”
10Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.
12Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig.

13Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15Jy sal in vrede sterf en op ’n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

Psalm 27
Die Here is my lig en my redder

27 Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
2As misdadigers op my afstorm
om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
m 6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.
10Al sou my vader en my moeder
my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn
van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my en
hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die
goedheid van die Here sal sien in
die land van die lewendes nie…!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Lukas 13:31-35
Klag oor Jerusalem
(Matt 23:37–39)

31Op daardie selfde oomblik het ’n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na ’n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’33In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ’n profeet op ’n ander plek as Jerusalem omkom.
34“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” o

Fokusteks

Filippense 3:17- 4:1
17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.
4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Ekstra stof

Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Die oplossing vir konflik met mense wat anders dink as jy, lê baie keer nie in die direkte konfrontasie met hulle nie, maar in die fokus op jou eie verhouding met die Here Jesus. Om te groei in jou kennis van Hom, en Sy krag te ondervind in die praktyk van jou lewe, is die beste manier om koers te hou, sonder om ander af te kraak, of deur hulle van stryk gebring te word. En wanneer jy dit regkry om dit boonop saam met ander te doen, selfs en veral saam met dié van wie jy verskil, dan groei ‘n gemeenskap in geestelike volwassenheid!

Ontwrigting kom van tradisionaliste en vrysinniges
Die gemeente in Filippi het nog steeds groot ontwrigting ervaar van teenstanders, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap. Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie, maar deur Paulus as dwaalleraars uitgewys word. Hy noem hierdie dwaalleraars “honde” soos dit letterlik in vers 2 staan – ironies genoeg presies die term waarmee Jode soms die heidene beskryf het. Hulle was gelowiges wat steeds aan die Joodse tradisies vasgehou het, en die besnydenis as verpligtend geag het ook vir gelowiges uit die heidene, eerder as die verbintenis aan Christus alleen. Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie.

Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne. Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ‘n seksuele konnotasie – vers 19). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus dit sou bepaal. In albei gevalle wou hierdie mense nie die boodskap van die kruis – ‘n lydende selfontledigende Messias – as paradigma vir hulle lewe aanvaar nie (vers 18), wat vir Paulus beteken dat hulle “as vyande van die kruis van Christus lewe”. En dié mense het die gelowiges in die gemeente van Filippi onseker gemaak.

Ontwrigting moet groter gehoorsaamheid en getrouheid stimuleer
Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusvêr ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil 4:1). Hulle sekerheid (vers 1) moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring. Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk. En om hulle hierin te help, wys Paulus op die voorbeeld wat hyself by hulle gestel het, en ander steeds doen (vers 17): “Follow my example and copy those who live the way we showed you” (New Century Version).

Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Die voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het en waaraan hy sy hele lewe gewy het, was om Christus Jesus te ken (vers 10), en om deur Hom geken te word (vers 12). Dit oortref alles in waarde. Wat vroeër vir hom ‘n bate was, is nou vir hom eerder ‘n las. Om Christus te ken, is waarom dit nou vir Paulus gaan teenoor alle ander dinge waarin mense wins en voordeel soek. “Ons het die ware besnydenis … óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie … want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (vers 3, 8). En dié waarde spel Paulus uit op twee maniere. Dit lê in die vryspraak (geregtigheid) wat God gee aan dié wat in Christus glo, sodat hulle met Hom in ‘n versoende verhouding kan leef. En dit lê in die gelykvormigheid aan Christus in die selfontlediging van Sy dood en die verheerliking met sy opstanding (vgl vers 10 met 2:6-11). Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel. Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê. Daarmee gee Paulus ook ‘n baie spesifieke inhoud aan wat met geestelike volwassenheid (vers 15) bedoel word: dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om al hoe meer gestempel te word deur die kennis van Christus, en te leef uit die werklikheid dat Hy: “my reeds Syne gemaak het” (vers 12). Paulus wil dus in die werklikheid van sy persoonlike alledaagse lewe al hoe meer ervaar wat Hy glo en teologies weet die waarheid is.

Die opstanding maak ons liggame gelykvormig aan Christus s’n
Paulus skryf in vers 10 oor sy hoop om nie net deel te hê aan die lyding van Christus nie, maar ook die krag van Sy opstanding te ervaar in die hoop dat hy ook deel sal hê aan die opstanding (exanastasis ) van die dooies (nekron). Hy verduidelik sy verstaan daarvan verder in vers 21 met twee Griekse woorde: metaschematizo (transformeer of verander) en summorphos (gelykvormig te maak aan) wat die verandering van ‘n nederige (tapeinosis) liggaam na ‘n verheerlikte (doxa) liggaam, dws soos Christus s’n, beskryf. Dit beteken dat die perspektief wat Paulus in Fil 2:9-11 op Christus se verheerliking geskets het, ook iets is waarin gelowiges sal deel. Dit is dus ook hierdie verwagting wat ons motiveer om selfontledigend te lewe (Fil 2:6-8), en nie van stryk gebring te word deur die uitdagings van valse leringe (tradisionaliste) of lewenswyses (vrysinniges) nie, want anders sal ons tereg ook as vyande van die kruis bestempel kan word.

Liturgie

RUS

Toetrede: Vonkk 186 of Flam 28 of Lied 163

Votum: Psalm 27 vers 1 en 4

Seëngroet

Lofsang: Psalm 27 of Lied 378 of Flam 207

Wet: Matteus 16:24-26

Skuldbelydenis: Stil gebed

Genadeverkondiging: Lied 491

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Filippense 3:17-4:1

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 505

Seën

Respons: Lied 505 vers 3 laaste twee reëls: “U is in beheer, ons Verlosser, Heer”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Vonkk 186 “Die Here is my Redder (nav Psalm 27)” of
Flam 28 “Heer Omvou Myof
Lied 163 “Soos ‘n wildsbok”

Votum
Psalm 27 vers 1 en 4
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?

4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 27 of
Lied 378 “Jesus Christus, Heiland, Heer” of
Flam 207 “U Het U Heerlikheid, O Heer

Wet: Matteus 16:24-26
24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?

Skuldbelydenis: Stil gebed

Genadeverkondiging
Lied 491 ‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag

Geloofsbelydenis

Liedere

F28. “Heer Omvou My
(RUBRIEK: Kruisfuur – Afhanklikheid / Geloof en Vertroue / Gebed) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2007 Urial Publishing

1. “U’t die lydenspad vir my kom loop”
en ek is deur U bloed ook vrygekoop.
Maar die wêreld rondom my
sê die sonde maak my vry.

2. “O Heer, omvou my as die nag”
my omsluit van alle kante –
en as die donker U kind weg wil lei,
Heer, omvou my, maak my vry.

VONKK 186 “Die Here Is My Redder (Respons)”
Psalm 27:1 Teks: Driekie Jankowitz 2011 (Pro Deo – postuum) Musiek: DAPPER – Jacus Krige 2011
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Gebede / Geloof en Vertroue

Die Here is my redder,
die Here is my lig.
Vir wie moet ek dan bang wees,
vir wie moet ek dan vlug?

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Filippense 3:17-4:1

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die Filippenseteks sê vir ons dat dit belangrik is dat ons “vasstaan” in God.

Ons is God se mense en ons vertroue is in God se mag.

Gee vir elke kind ‘n klein papierhartjie om in hulle skoene te sit as herinnering om vas te staan vir Jesus.

Moedig hulle aan om dit elke dag vir die res van die week in hulle skoene te sit.

(Bron: Worshiping with Children – Carolyn Brown)

Preekriglyn

Lyding is ‘n werklikheid. Soveel mense spandeer soveel energie om lyding uit die weg te ruim, en dit is goed so. Oor die afgelope 2,000 jaar het Jesus se volgelinge ook op baie terreine lyding probeer versag. Tog is lyding ‘n werklikheid. Daarom sug en verlang ons so dat God di wêreld finaal kom nuut maak.
Die Bybel is eerlik oor lyding. Die Leesrooster se aanbevole Skrifgedeeltes vir vandag getuig almal van die werklikheid van lyding:

• In die voorgeskrewe teks vir die prediking, Filippense 3:17-4:1, praat Paulus oor die lyding wat aktiewe teenstanders van die geloof veroorsaak – “daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe”
• Die Leesrooster verwys ook na Genesis 15:1-12 waar God en sy verbond met Abram aan die orde is, en spesifiek Abram se gebrek aan ‘n nageslag – sy en Sara se kinderloosheid. Abrama het ook nie ‘n land nie. Abram en sy familie is migrante sonder ‘n nageslag en ‘n tuiste. Hulle is vreemdelinge op soek na vlugtelingstatus. Hoewel Abram in gehoorsaamheid aan God op reis is, het die beloofde land en nageslag nog nie gebeur nie. In Genesis 15 is die vraag of God betroubaar is om die belofte van redding waar te maak.
• Psalm 27 word ook aanbeveel vir oordenking hierdie week. Dit is ‘n gebed met ‘n skerp swaai in die gemoedstoestand van die bidder. Die psalmdigter spreek beide vertroue en klag teenoor God uit. Die digter beweeg tussen belydenis en smeking, en gaan voort om op God te wag.
• In Lukas 13:31-35 hoor Jesus dat Herodes Hom wil doodmaak. Jesus is onderweg na Jerusalem en kla oor die stad wat nie God se boodskap wil hoor nie. Jesus bly egter kalm en selfverseker gefokus op God, ten spyte van dreigemente en die dood. Terwyl Jesus op weg is Jerusalem toe waar Hy sou sterf, gaan Hy ongestoord voort om te onderrig, te genees en opponente te konfronteer. Menslike teenkanting teen God bring lyding mee, maar uiteindelik is die teenstanders onmagtig teen God. Jesus bly onwankelbaar toegewy aan God se wil. Hy is ook hartseer oor die teenstand teen God.

Vandag nog is daar mense wat toegewys aan God lewe, en daarom ly. Soos Abraham in ‘n krisis beland het omdat hy God se opdrag om te trek gehoorsaam het, soos die psalmdigter wat worstel met God van wie Hy goedheid verwag, en soos Jesus wat ly omdat Hy God se wil doen, so ly mense vandag nog. Op baie ander plekke in die wêreld, so ook hier by ons.

Lyding

Hier in lydenstyd dink ons aan Jesus se lyding. Sy lyding word die bril waardeur ons na ander en ons eie lyding ter wille van God se werk kan kyk.

Op ‘n dag soos vandag onthou ons die lydende kerk – gelowiges wat in baie lande van die wêreld uitgestoot, vervolg, gemartel en gedood word omdat hulle Jesus volg.

Mens dink aan die talle wyses waarop geloof in God vandag belaglik gemaak word. Geloof word as outyds en oningelig voorgestel. Mense put vreugde uit wat hulle as die ondergang van die Christelike geloof sien.
In baie gemeentes ly gelowiges. Mense wil God saam met mede-gelowiges dien, maar toewyding aan God word verdring deur wanbegrippe oor wat die gemeente is. Mens kan maar net na Dominee Tienie, die movie, gaan kyk om te sien hoe teenstand, onbegrip en afgestompdheid lyding veroorsaak. Niemand is onskuldig nie, ook nie Dominee Tienie nie.

Daar is gelowiges wat getrou bly aan God en daarom nie steel, verduister, of die reëls buig nie. Terwyl die kommissies van ondersoek tans verskriklike verhale van rampokkery na vore bring, hoor mens ook die verhale van mense wat liewer aktief weerstand teen onreg gebied het, uiteindelik moes bedank het, of op ander maniere gely het. Mense wou eerlik en opeg lewe en het daarom gely. Ons kan met reg kla by God oor die lot van soveel eerlike staatsamptenare.

Filippense

Ook Paulus in Filippense ken die lyding wat deur moeilikheidmakers na vore kom. Hy sit in die tronk terwyl hy die brief skryf – ter wille van sy geloof.

Die gemeente in Filippi was die eerste Europese gemeente wat Paulus gestig het. Filippi is alle Westerse gemeentes se moedergemeente. Volgens Handelinge 16:6-10 het Paulus en sy medewerkers die evangelie na Europa geneem na ‘n visioen wat Paulus ontvang het van ‘n Masedoniese man wat pleit om hulp.
Paulus het die tyd daar onthou as dié van swaarkry en lyding. Hy en sy medewerkers is daar skandelik mishandel (1 Tess 2:2 ev; Hand 16:16-40). Paulus het positiewe verhoudinge met hierdie gemeente gehandhaaf, en hierdie brief word as ‘n vriendskapsbrief beskryf. Paulus en die gemeente het mekaar duidelik lief. Hy skryf die brief vanuit die gevangenis met die doel om

• die Filippense te dank vir hul fisieke en geestelike ondersteuning;
• Epafroditus se besoek namens hom met hulle te bespreek, en;
• om uitdagings en potensiële probleme in die lewe van die gemeente te bespreek.

In die brief wat as positief en self opgeruimd beskryf word:

• bespreek Paulus sy situasie (hy was in die tronk) (1:12-16)
• Daarna bied hy ‘n reeks vermanings/aansporings (1:27-2:18)
• Op soortgelyke wyse bespreek Paulus vervolgens sy planne vir die toekoms (2:19-3:1), met verdere riglyne (waarskuwings en vermanings) (3:2-21), en
• daarna die opsomming van sy liefde en wens vir die gemeente (4:1)
• Hierop volg Paulus se instruksies aan die Filippense oor die karakter van die Christelike lewe.

Die prominente onderwerpe wat Paulus deurgaans in die brief ter sprake bring, ondersteun sy onderrig oor die karakter van die Christelike lewe. Hy skryf oor:

• vriendskap (1:3, 7-8; 4:1),
• vergenoegdheid (4:11-12),
• dankbetuiging (1:3; 4:6),
• vrede (4:7, 9),
• blydskap (1:4, 18; 2:2, 17-18, 28, 29; 3:1; 4:1, 4, 10),
• eenheid/ eensgesindheid (1:27; 2:2, 14; 4:1),
• geestelike groei (1:6, 9-11, 25; 2:12-13; 3:12-15),
• volharding (1:27; 2:16; 3:16; 4:1) en
• die versekering van beantwoorde gebed (1:3-6, 19; 4:6, 19).

In die aangesig van lyding

Die hooftemas van die Filippensebrief hou direkte verband met Christene se optrede in die aangesig van lyding. Van die belangrikste hooftemas:

• Die eerste is Jesus se menswording (inkarnasie, dink aan Filippense 2:6-11). Filippense beskryf die aardse loopbaan van Jesus Christus in drie fases: Hy was in die gestalte van God (2:6); Hy is gebore in ‘n menslike liggaam (2:7-8) en het gely tot in die dood, en Hy is deur God verhoog tot Here oor alles (2:9-11).
• Die tweede tema is nederigheid. Die Christuslied in 2:6-11 dien as herinnering aan Jesus se uitnemende voorbeeld van nederigheid. In dié verband is Paulus se oproep in ons teks (3:17) relevant. Hy spoor sy lesers aan om sy voorbeeld na te volg, omdat hy self ook Christus se voorbeeld navolg – sekerlik ook in nederigheid.
• Derdens kry die tema van gemeenskap (“fellowship” – koinōnia) baie aandag. Paulus leef in gemeenskap met die Filippense, en hulle is onderling ‘n gemeenskap van gelowiges. Daar is ‘n band van liefde waarmee gelowiges mekaar dra en ondersteun. Paulus wil aan die Filippense beklemtoon dat “ons saam hierin is”. As medeburgers van die hemel deel hulle ‘n gemeenskaplike hoop en bestemming (3:20).
Ons kan nou meer spesifieke aandag aan ons teksgedeelte gee.

Temas

Mens kan die temas in ons teks as volg uitlig:

Navolging: 3:17 Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.
Vyande: 3:18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.
Burgers met ‘n toekoms: 3:20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 3:21 Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.
Volharding: 4:1 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here.
Onderlinge liefde: Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Navolging
Paulus roep sy lesers op om sy voorbeeld na te volg saam met ander wat ook hierdie weg stap. Die tema van navolging is belangrik vir Paulus. Die oproep tot navolging is ‘n positiewe model wat ingaan teen ‘n negatiewe patroon.

Paulus ontwikkel hierdie oproep tot navolging ook in ander van sy briewe (vgl 1 Tess 1:6; 2:14). Hy roep ander op om hom na te volg omdat hy oor homself dink as iemand wat Christus self navolg (vgl 1 Tess 1:6; 1 Kor 11:1).

Christus self is die rolmodel.
Christus stel die standaard vir lewe en gedrag. Wanneer Paulus en ander Christus navolg, stel hulle ‘n voorbeeld wat nageboots moet word. Dit is die hart van dissipelskap. Leef so as volgeling van Christus dat ander jou voorbeeld kan navolg.

Vyande
Wie Christus navolg, sal met vyande, teenstanders en lyding gekonfronteer word.
In vers 18 verklaar Paulus al huilende (klaiōn) dat daar mense is wat nie volgens hierdie standaard (tupos) leef nie. Hulle leef in vyandskap met die kruis van Christus. Paulus waarsku teen hierdie lewensrigting. Hy herinner aan diesulkes wat beide hulle ywer vir die evangelie verloor het en vyandiggesind is teenoor die goeie nuus.

Iemand skryf:

For the sake of comfort in this life, they have abandoned the costly nature of discipleship which Paul understands to lead to heavenly (eternal) gain.

Vers 19 beskryf hierdie mense se lewensoriëntasie letterlik as: “die god die maag/begeertes”. Die gevolg en uiteinde daarvan is vernietiging. Hulle trots en eer is hulle skandelike lewenstyl. Hulle denke is op aardse dinge gerig.

Burgers met ‘n toekoms
In vers 20 stel Paulus die teendeel van die aardse lewenshouding wat die kruis van Christus vyandig gesind is en tot vernietiging lei. Die teendeel van die vernietigende rigting is dié van die “hemelse burgerskap” of oriëntasie. Paulus en sy medevolgelinge is op hierdie weg en dus die voorbeeld of tipe van die lewenshouding wat Christus eer. Die hemelse oriëntasie verteenwoordig die verlossing deur die Here Jesus Christus. Vandaar verwag Paulus en die hemelse burgers ons Verlosser.

In vers 21 brei Paulus uit op Jesus wat as Verlosser uit die hemelse sfeer verwag word. Hy beskryf die werk wat Jesus in die lewe van die “hemelse burgers” sal doen.

Die Direkte Vertaling stel dit só:

Hy wat ons liggame van nederigheid sal verander om soortgelyk in vorm aan sy liggaam in heerlikheid te wees, kragtens sy mag waarvolgens Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Paulus vertoef nie by die negatiewe lewenshouding van vyandskap teen die kruis nie. Hy doen iets anders. Hy is gevul met vreugde, want hy hou die hoop en toekoms van gelowiges wat hulle lewens aan Jesus toevertrou in gedagte. Jesus is ons verlosser. In die krag van sy opstanding en verhoging het Hy reeds begin om ons lewens nuut te maak, terwyl Hy sy heerskappy vestig.

Onderlinge liefde
In 4:1 lê Paulus die verband tussen sy geloof in Christus en sy verhouding met die Filippense. Hulle is “geliefde broers van my” en “geliefdes”. Hy lê klem op sy intieme verhouding met hulle. Hulle is vir hom belangrik, sy blydskap en kroon. Hy verlang na hulle, daarom sy aanmoediging, vermaning, oproep dat hulle moet volhard en nie wankel nie. “Staan só vas in die Here, geliefdes” (DV). “Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here” (NAV).

Iemand skryf:

Paul simply tells the Philippians to ‘keep on keeping on’ – that is, they are to live all the more in the way that they have been living – in faithful relation to their Lord and Savior Jesus Christ.

Boodskap

Paulus se tronkbrief aan die Filippense beklemtoon dat lyding en teenstand nie die laaste woord oor mens se lewe sê nie. Ons vreugde, blydskap en vervulling kom nie uit ons omstandighede nie. Die vloei uit ons geloof in Jesus Christus. Jesus en dit wat Jesus doen is die inhoud van ons geloof. Dit is die inhoud van ons geloof wat ons troos en ons bly maak.

Daarom kan ons volhard.

Daarom kan ons mekaar ook bly ondersteun. Ons is sáám op die reis van geloof na ons heerlike

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Lied 505 “Jesus, U gaan voor”

Seën

Respons
Lied 505 vers 3 laaste twee reëls: “U is in beheer, ons Verlosser, Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.