Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag staan bekend as Reminiscere (“gedenk”) na aanleiding van Psalm 25:6: “Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.” Genesis 17 vertel van God se herbevestiging van die verbond met Abraham. Hierdie klem op die inisiatief van God word in Psalm 22 bevestig met die psalmdigter se belydenis dat sy loflied van die Here af kom. Romeine 4 herinner dat hierdie verbondsverhouding (vryspraak) met God nie verdien word nie, maar dat dit louter genade is. Markus 8 stel dit duidelik dat die vryspraak van die gelowige binne hierdie lewende verbondsverhouding met God beteken dat die kruis opgeneem moet word en dat Jesus gevolg moet word.

Ander tekste

Psalm 22:23-31
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.

Romeine 4:13-25
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Markus 8:31-38
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Sleutelteks

Genesis 17:1-7, 15-16
Besnydenis 
17 1 Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. a Leef voor My, en wees onberispelik! 2 Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.”
3 Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat:
4 “Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van ‘n menigte nasies word.
5 Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham b wees, want vader van ‘n menigte nasies maak Ek jou.
6 Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom.
7 Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
8 Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.”
9 God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen.
10 En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word.
11 Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle.
12 Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook ‘n kind uit die huishouding, c en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie.
13 ‘n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as ‘n ewige verbond.
14 ‘n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.”
15 God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara d wees.
16 Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou ‘n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.”
17 Abraham het neergeval met sy gesig teen die grond, maar hy het gelag en in sy hart gesê: “Kan daar vir ‘n honderdjarige ‘n kind gebore word? Of sal Sara, ‘n negentigjarige, kan geboorte skenk?”
18 Toe sê Abraham vir God: “As Ismael maar net voor U kan leef!”
19 Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak e noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.
20 Wat Ismael betref: Ek het jou verhoor. Kyk, Ek sal hom seën, hom vrugbaar maak en hom buitengewoon talryk maak. Twaalf leiers f sal hy verwek, en Ek sal hom ‘n groot nasie maak.
21 Maar my verbond sal Ek handhaaf met Isak, wat Sara teen hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.”
22 Nadat Hy klaar met hom gepraat het, het God opgevaar, weg van Abraham af.
23 Abraham het sy seun Ismael geneem, ook al die kinders uit sy huishouding en almal wat met sy geld gekoop is, elke manlike persoon onder die mense van Abraham se huishouding, en hy het die vlees van hulle voorhuide besny – nog daardie selfde dag, soos God vir hom gesê het.
24 Abraham was nege-en-negentig jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid,
25 en sy seun Ismael was dertien jaar oud g toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid.
26 Op dieselfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny,
27 en ook al die manne van sy huishouding, die kinders uit sy huishouding en dié wat met geld gekoop is van vreemdes. Hulle is saam met hom besny.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (pp. 52-53). Kindle Edition.

Ekstra stof

Hoofstuk 17 en 18 is verbind aan mekaar deur twee verskynings van die Here aan Abram kort na mekaar in sy nege en negentigste jaar, dertien jaar ná die vorige episode met Hagar en Ismael.

Met die eerste verskyning in hoofstuk 17 herbevestig die Here sy verbond met Abram, hierdie keer met die teken van die besnydenis en verander sy naam na Abraham. Die twee name is eintlik variante van mekaar: “vader van vele“, en is net betekenisvol omdat dit aan die belofte verbind word dat hy die: “vader van ‘n menigte nasies” sal wees. Ook Sarai se naam verander na Sara. Weereens is die twee name variante van mekaar: “prinses“, en is net betekenisvol omdat dit verbind word aan die eerste direkte belofte aan haar dat die nageslag uit haar gebore sal word.

Met die tweede verskyning in hoofstuk 18 herbevestig die Here in die gedaante van drie persone sy belofte aan Abraham en Sara van ‘n nageslag, dié keer met ‘n definitiewe datum daaraan gekoppel en lig Abraham in oor wat die Here met Sodom en Gomorra gaan doen.

Lewe naby My en wees onberispelik
God gebruik die lewe van Noag as ‘n voorbeeld vir Abram soos ‘n mens kan sien in die ooreenkoms van die beskrywing van Noag se lewe met God wat hier as ‘n opdrag deurgegee word aan Abraham: “Lewe naby My en wees onberispelik“. “Onberispelik” is hier ‘n beter vertaling van die Hebreeuse woord tā·mîm wat in die NAV vertaling as: “opreg” weergegee word. Vergelyk die opdrag aan Abram met die beskrywing van Noag: “Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef“. (Gen. 6:9). Dit kom ook ooreen met die beskrywing van die lewe van Henog (Gen. 5:24).

Om naby God te leef – om met Hom te wandel, soos dit ook vertaal kan word – is een van die wonderlikste werklikhede wat vir elkeen wat hom- of haarself ‘n gelowige noem beskikbaar is, soos Miga baie jare later sou sê: “wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mig. 6:8). Luther sou dié frase met die bekende Latynse coram Deo in sy lewensveranderende traktaatjie The Babylonian Captivity of the Church, weergee wat in 1520 tot ‘n wydverspreide herlewing as deel van die Hervorming aanleiding gegee het.

Maar, dan vra dit ‘n doelgerigte fokus om “onberispelik” in jou lewenswandel te wees, sodat dit God waardig kan wees. Soos Psalm 119:1 sê: “Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.” God vra dus van Abram om net so moreel blaamloos en in gedrag onberispelik te lewe soos wat Noag dit voor hom gedoen het.

Dit sluit in om te doen wat reg is en met ‘n mens se hele hart die waarheid te praat (Ps. 15:2). Dit beteken dat ‘n mens jou weerhou van opsetlike sondes en nie toelaat dat dit oor jou heers nie (Ps. 19:14). Dit is dan wat ‘n mens kan staatmaak op God se beskerming (Spr. 2:7, 21; 11:20). God het ons immers: “uitverkies om heilig en onberispelik (amōmos – moreel gesproke blaamloos) voor Hom te wees,” soos Paulus in die NT in Efesiërs 5:27 verkondig, veral uitgespel in terme van gedrag (Tit. 1:6 – anenklētos – sonder beskuldiging, dw.s. blaamloos).

God se verbond sluit ‘n nageslag en ‘n grondgebied in
Die verbondsluiting word herhaal om nie net nog duideliker uit te spel wat die voordele daarvan vir Abraham en sy nageslag sal wees nie – d.w.s ‘n “menigte nasies” en die hele land Kanaän (die eerste keer wat dit gespesifiseer word) – maar om ook twee ekstra dinge te beklemtoon: die blywende karakter daarvan en die besnydenis as teken van die verbond.

Waar Noag die reënboog in die hemel gekry het as teken van die verbond, kry Abraham die besnydenis van elke manlike nasaat as teken van die verbond.

Die reënboog is iets wat God op ‘n natuurlike wyse laat verskyn as ‘n teken van sy verbintenis aan die aarde. Dit is eintlik ‘n herinneringsteken vir God self. Elke keer wat die reënboog op aarde sou verskyn, sou dit God herinner daaraan dat Hy die aarde en sy mense genadig moet wees.

Die besnydenis darenteen is iets wat van Abraham gevra word as verbintenis aan die verbond. Met elke manlike geboorte sou dit die geloofsgemeenskap herinner aan hulle blywende verbintenis aan God. Net so permanent as wat die besnydenis in die vlees van elke man sou wees, so permanent is die verbintenis aan God in die verbond wat Hy met hulle gesluit het.

Trouens, elke keer wat ‘n man met ‘n vrou gemeenskap sou hê, sou die besnydenisteken hulle herinner aan die feit dat God van hulle vra dat hulle naby Hom en onberispelik moet leef. ‘n Kragtige herinnering nie net aan ‘n moreel-etiese lewe binne die uitdagings van die Kanaänitiese afvallige seksuele praktyke nie, maar ook ‘n herinnering daaraan dat hulle onberispelik voor God moet leef.

Dit is interessant dat die Joodse skrywer Philo, ‘n tydgenoot van Jesus en Paulus, vier redes lys waarom die besnydenis as teken gekies is. Dit was volgens hom vir: 1) gesondheid, 2) reinheid, 3) ‘n herinnering aan voortplanting en 4) vrugbaarheid (Special Laws). Hy lys dan twee redes wat sy eie denke verteenwoordig, maar wat hy as die mees belangrike beskou:

  • eerstens om die volk op ‘n simboliese manier te leer dat hulle wellus moet vermy en hulle gedagtes rondom seks moet beheer;
  • tweedens om die volk te leer dat ‘n mens nie geestelik volmaak kan word as jy nie alle boosheid uit jou hart weer nie.

Uiteraard het dié teken dus om baie meer gegaan as net die moreel-onberispelike seksuele lewe wat daarmee van die volk gevra is. Dit het oor die hele wandel met God gegaan. Reeds in Deuteronomium word die besnydenis as ‘n teken van ‘n dieper geestelike realiteit gebruik – die besnydenis van die hart – wat dui op ‘n onberispelike gehoorsaamheid aan die wet en Woord van God (Deut. 10:16; 30:6), iets waarop Jeremia (Jer. 4:4; 9:25) en later Paulus ook klem gelê het, met spesifieke verwysing na Abraham (Rom. 2:28-29; 4:11-12; 1 Kor. 7:19: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God“; Gal. 5:6,11; 6:15; Fil. 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.“).

Abraham vind die belofte uiters onwaarskynlik
Abraham vind die belofte uiters onwaarskynlik vanweë hulle ouderdom en dink steeds dat Ismael die enigste moontlike uitkoms vir hulle sal wees. Die Here herhaal egter sy belofte sonder om Abraham te erg tereg te wys en belowe dat Isak oor ‘n jaar vir hulle gebore sal word. God sal só sy verbond nakom as ‘n bevestiging aan Abraham dat hy God kan vertrou.

Tot Abraham se krediet gehoorsaam hy die Here en vat “op daardie selfde dag” alle manlike lede van sy uitgebreide huishouding, slawe ingesluit, en laat hulle almal besny. Abraham is self ook besny. En daarmee het die die afwagting vir die vervulling begin wat ‘n jaar later ‘n werklikheid geword het.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 126  of Flam  340

Votum: Psalm 22 of Vonkk 126 gelees

Seëngroet

Lofsang: VONKK  84 [selfde melodie as “Herders op die ope velde”] of Psalm 105 verse 1-3

Wet en genadeverkondiging; Romeine 4:13-25

Doopherinnering: VONKK 210 (Kan voorgelees word)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Genesis 17:1-16a (Gelees deur oudste persoon)

Familie-oomblik
Preek 

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 588 verse 1 en 3 O God van hoop, gee ons u vrede

Seën

Respons
Enige van die “Amen” liedere

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 126 Hoër As Die Hemel [kan ook voorgelees of as toetrede gebruik word] of
Flam  340. Ek Kyk Op Na U (Hier By My)

Votum
Psalm 22
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
OF
Vonkk 126 gelees

Seëngroet

Lofsang
VONKK  84 Loof God In Die Hoogste Hemel (Psalm 150) [selfde melodie as “Herders op die ope velde”] of
Psalm 105 verse 1-3

Wet en genadeverkondiging: Romeine 4:13-25
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Doopherinnering
VONKK 210 Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê As die gemeente dit nie kan sing nie, laat minstens twee persone dit voorlees, of lees dit responsories, met die gemeente wat die refrein lees.

Liedere

F340. “Ek Kyk Op Na U (Hier By My)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Hoop en Vertroue / Toewyding) Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: Ó 2009 Flam Musiek-Uitgewers
(Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Ek kyk op na U en ek
staan in verwagting
want ek weet U sien soveel meer.
Ek lê my lewe neer,
elke deel van myself,
my hoop is in U o Heer.

Ek sal U loof ek sal U prys,
my hele lewe sal getuig,
want U is hier, hier by my.

Ek hou vas aan U beloftes,
ek hou vas aan U woord.
Daar’s ’n toekoms vir U kinders,
daar is hoop in alle nood.

VONKK 126 “Hoër As Die Hemel”

Teks: Hannes Gräbe 1995/2011 © Melodie: GRÄBE – Hannes Gräbe 1995 © Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2011 Kantoryverwerking: Jacques Louw 2011 © Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2011
© 2011 VONKK Werkgroep (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Verwondering / Lofprysing

1. Hoër as die hemel,
dieper as die see,
wyer as die heelal,
die mens en al sy weë,
groter as die skepping,
kosbaar – baie meer –
onverdiend en ewig
is die liefde van die Heer!

Refrein:
Hy is Koning, grote Koning,
God van mag en krag,
God van woord en daad.
Prys die Koning, grote Koning,
God van son en reën,
God van sorg en seën.
Hy regeer!

2. Groter as die mensdom
se kennis en verstand,
meer as al die sterre,
ontelbaar soos die sand,
hoër as die berge,
groter as ‘n meer,
ver bo ons gedagtes
is die liefde van die Heer!

Refrein:
Hy is Koning, grote Koning,
God van mag en krag,
God van woord en daad.
Prys die Koning, grote Koning,
God van son en reën,
God van sorg en seën.
Hy regeer!

VONKK  84 “Loof God In Die Hoogste Hemel  (Psalm 150)”
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo) Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
© Melodie: Openbare besit © Orrelbegeleiding: 1978 NG Kerk-Uitgewers (met toestemming gebruik)
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing

1. Loof God in die hoogste hemel,
loof sy grootheid en sy krag.
Oor die wye sterrehemel
straal die omvang van sy mag.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God
in die hoogste hemel.
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God
in die hoogste hemele.

(Opsioneel:
Gloria in excelsis Deo.
Gloria in excelsis Deo.)

2. Loof God met die mooiste klanke –
fluit, viole en kitaar.
Orrelklanke en simbale
loof Hom saam met stem en snaar.

Refrein:

3. Dans en loof met tamboeryne,
jubel met trompetgeskal.
Alle wesens loof die Here
galmend oor die groot heelal.

Refrein:

VONKK 210 “Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê”
Teks: Pieter Malherbe 2011 ©¬ Melodie: JOHAN SE BELYDENIS – Pieter Malherbe 2011 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Daleen Kruger 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Doop

1. Heer, U het die eerste woord gesê
en by die doop het U gewys dat U my wil hê,
dat ek in u hand kan lewe
en kan weet ek is vergewe –
by die doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.

2. Heer, U het my eerste liefgehad,
in die verbond hoor ek U praat
en U vat my hand.
Deur u bloed word ek beskerm,
U het U oor my ontferm.
By my doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Genesis 17:1-16a
Vra die oudste persoon in die gemeente / erediens om die skriflesing te doen.

Familie-oomblik
Preek 

Familie-oomblik

Sluit aan by Carolyn Brown se gedagtes en gesels oor die hoeveelheid sterre daar in die hemel is. Min kinders sal vandag ‘n konsep hiervan hê, weens die hoeveelheid ligbesoedeling waarmee ons saamleef. Jy kan dalk vra wie al op ‘n helder aand iewers was waar daar vir kilometers geen elektrisiteit was nie – en hoe die sterre toe gelyk het. As jy die kerkgebou lekker donker kan maak, kan jy ‘n foto van sterre wys. Iets soos hierdie, veral nommer 21, kan ook goed werk.  Of wys ‘n video vlug deur die heelal. Hierdie video van ‘n skaal-weergawe vlug deur die waarneembare heelal kan goed werk. Kinders sal egter nie vir 3 minute stilsit en net daarna kyk nie. Jy kan die video goed elders in die erediens gebruik, as deel van lofprysing of stil-word (veral aangesien ons nie nou kan sing nie), dalk by die toetrede of lofsang. Plak dan, soos Brown voorstel, vir elke kind ‘n sterretjie op die hand om hulle te herinner dat hulle deel van Abraham en Sarah se nageslag – en God se belofte – is.

Ons het vantevore al die volgende voorstelle gemaak:
Gesels met die kinders oor name.  Hoe het jou ouers jou naam gekies?  Verwys na familiename, wat sê aan wie jy behoort.  Jy kan ook vra wie weet wat hulle name beteken.  Vind uit wat jou naam en van die kinders se name (of meer algemene name) beteken.  Johan, John, Jan ens.  beteken “begenadig deur God”.  Elizabeth, Elize, Lize, Lizette, Liezl, Beth, ens. beteken “God se belofte”.  (Kyk by www.behindthename.com).

As jy baie dapper is, kan jy ook praat oor liefdesname en byname.  Verduidelik dat mense soms, omdat hulle lief is vir mekaar, mekaar op ‘n ander naam noem.  Vra dan wie se ouers dit doen en wat hulle mekaar noem.  Soms noem ons iemand “Slimjan” omdat hulle slim is, of “Liefie” omdat ons baie lief is vir hulle, of “Sussie” om te wys dat sy ons s’n is.

Vertel die storie van Abraham vir die kinders – dit is belangrik dat hulle die Bybel sal ken!  God het aan Abram verskyn en vir hom belowe om sy God te wees en dat hy ‘n groot nageslag sal hê.  Verduidelik wat ‘n nageslag is – verwys na oumas en oupas, nefies en niggies, ooms en tannies.  Jy kan ook hier weer verwys na familiename, of gesels oor vanne.  God het ook Abram se naam verander na Abraham en Abraham se vrou se naam verander Sarai na Sara.  Daarmee het God gesê wat dit vir hulle gaan beteken dat hy hulle God is.  Abraham beteken “vader van vele” en Sara beteken “prinses”.

Sing “Father Abram”.

Hier is moontlike inkleurprente.

Preekriglyn

Ons het verlede week gefokus op die verbond wat God met Noag en die hele skepping gesluit het. Vandeesweek kry ons te doen met die verhaal van nog ‘n verbond. Dit is ‘n verbond wat God met Abram (en Sarai) sluit toe hulle al op ‘n hoë ouderdom was.

Ons begin deur te kyk na sentrale temas in ons teks, naamlik: verbond en belofte, naamsverandering en die reaksie van Abram en Sarai.

Een: Belofte

Dit is nie die eerste keer dat God ‘n belofte aan Abram maak nie. God se beloftes staan sentraal in die Abrahamverhaal. Reeds in Genesis 12 toe God vir Abram sê om sy land te verlaat, belowe God hom dat Hy hom ‘n groot nasie sal maak en dat diegene wat van sy naam afstammelinge is, ‘n seën vir alle nasies sal wees: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:2-3).

In Genesis 15 herhaal God hierdie belofte (selfs nadat Abram sake in sy eie hande geneem het en ‘n kind by Hagar gehad het). God herhaal sy verbond en belofte aan Abram en bevestig dat Abram se eie seun sy erfgenaam sal wees.

Twee: Naam

In die Bybel was name baie belangrik. Van die begin af het name betekenis gehad. In die eerste skeppingsverhaal reeds wil dit voorkom asof iets amper nie klaar geskep is nie totdat God dit ‘n naam gee. Ook in die tweede skeppingsverhaal is die naam wat God vir Adam gee van betekenis. “Adam” herinner daaraan dat die mensdom “van die aarde” kom.

In Jesaja 43:1, 49:1, Johannes 10:14-15 en Filippense 4:3 hoor ons dat God mense by die naam ken. Ander plekke in die Bybel waar God mense se name verander, bring hierdie naamsveranderings ‘n radikale verandering by die persoon teweeg, of plaas dit ‘n besonderse klem op die persoon se identiteit. So byvoorbeeld verander Jakob se naam na Israel.

In ons verhaal word Sarai “Sara” en Abram “Abraham”. Voortaan sal die moeder en vader van nasies en konings deur hierdie name geken word. Hulle name heroriënteer hulle as’t ware, verander hulle roeping en gee vir hulle nuwe identiteit. Daarmee saam verteenwoordig dit die identiteit wat God vir hulle gegee het. Dit plaas hulle in ‘n spesifieke verhouding met God.

Drie: Verbond

Uiteindelik is die groot tema van hierdie teksgedeelte die verbond wat God (weer) met Abram (en Sarai) sluit. Hierdie verbond is anders as die voriges, aangesien God die verbond nie met Abram alleen maak nie, maar sy vrou word ook ingesluit. Dit herinner Abram daaraan dat dit nie Abram en Hagar se kind is uit wie die nageslag sal kom nie (hoewel daar in vers 20 beloof word dat hy ook baie nakomelinge sal hê).

Net soos die verbond met Noag, is hierdie verbond ‘n onvoorwaardelike verbond. Die verbond wat God maak is ewig. In die geval dat iemand nie besny word nie, word so iemand van die verbond afgesny, maar God se verbond bly staan. Of Abraham en sy nasate dus kies om die verbond te onderhou, bly hulle keuse, maar dit maak nie die verbond as sodanig ongeldig nie.

Die besnydenis (wat in die res van die hoofstuk beskryf word) het in hierdie konteks ook betrekking op “naamgewing”. Die seuns ontvang ‘n liggaamlike merk om te wys dat hulle aan God behoort – die verbond is in hulle vlees: “So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ‘n blywende verbond” (v 13b). Op hierdie manier word God se belofte op die liggame van sy volk ingeëts sodat hulle sal weet hulle diepste en egte identiteit is dat hulle God se volk is en aan Hom behoort. Bowenal is hierdie merk vir enigiemand anders verborge – slegs die persoon wat die teken ontvang het, sien dit.

Die besnydenis word gebruik om Abraham daaraan te herinner om getrou aan God te wees.

Net soos die nuwe naam, is die besnydenis ook ‘n manier om Abraham se Godgegewe identiteit te bevestig.

Vier: Abraham en Sara

Die hoofstuk lê klem daarop dat dit juis Abram en Sarai se kind sal wees (terwyl Abram op hierdie stadium dink dat die nageslag maar uit Ismael na vore moet kom, soos ons in vers 18 lees) wat ‘n groot nageslag sal hê. Abram ontvang die naam Abraham, wat in die Bybel die betekenis gegee word “die voorouer van ‘n menigte”. Die direkte vertaling van die Hebreeuse abraham sou ook vertaal kon word met “die vader word verhoog”.

Tussen hakies: Nasate of erfgename is ook ‘n belangrike konsep in hierdie verhaal en word dertien keer in die hoofstuk genoem.

Anders as met die vorige beloftes/verbonde, word Sara op ‘n besonderse manier by hierdie verbond ingesluit. Sy is ‘n deelnemer in die belofte rakende ‘n seun en sy nageslag. In eie reg word aan haar ook ‘n belofte gemaak. Sara het voorheen verstaan dat sy nie noodwendig deel hoef te hê aan die verbond nie, daarom dat sy Abram aanmoedig het om ‘n kind by Hagar te verwek.

Die nasie wat God uit Abraham en Sara skep, is duidelik nie mensewerk nie. Slegs God kan dit doen. Slegs God stempel die roeping en identiteit van hierdie nasie.

Vyf: Getrouheid

Vers 1 bied baie besonderse parameters vir ‘n lewe binne die verbond met God: “Lewe naby My en wees opreg.” Nog beter vertaal: “Leef voor My, en wees onberispelik”.

Dit is die reaksie wat God van Abraham en Sara vra.

Ook verder in die hoofstuk staan getrouheid aan God en aan sy verbond sentraal. Getrouheid aan God is waaroor dit in die eerste plek in die verhouding (vanuit die nuwe identiteit) gaan. God beloof sy getrouheid aan ons. En as dit oor getrouheid teenoor God gaan, word ons met die mens se feilbaarheid gekonfronteer. Terselfdertyd leer ken ons God se genade hierin ken.

Boodskap

Ons teks het ‘n ryk boodskap ook vir ons vandag.

Identiteit

Eerstens beklemtoon ons teks dat ons ons identiteit van God af ontvang. Dit het ten nouste te doen met ons doop, waar ons naam en God se Naam in dieselfde asem genoem word.

Met die doop, wat in die plek van die besnydenis gekom het, word iemand op die naam genoem. Die doop is die teken dat Christene in God se familie ingelyf is. In daardie oomblik word Christene se ware identiteit in Christus gevier deur ‘n sigbare teken en sakrament. Dit is betekenisvol dat mense se name by hulle doop genoem word.

Deur die loop van mense se lewe gebeur verskillende dinge met hulle. Uiteindelik sou dit kon gebeur dat ons allerhande goed omtrent onsself begin glo. Baie van hierdie goed is dalk nie heeltemal waar nie, of is maar net ‘n perspektief wat ons oor onsself het. Dit word dikwels die identiteit wat ons aan onsself koppel. Dalk glo of dink ons ons is vuil of dat ons nie goed genoeg is nie. Wat ons ook al van onsself glo en wie ons ook glo ons is, God ken ons ware identiteit. Hy bevry ons en roep ons om te leef ooreenkomstig die naam wat Hy vir ons gee.

Om ons ware naam te leer ken, is soos om soos Abram en Sarai om te draai, om ons lewe te heroriënteer en volgens dié nuwe oriëntasie te lewe. Hiervoor is vers 1 van Genesis 17 ‘n besonderse oproep: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!” “Leef voor My, en wees onberispelik”.

Kompeterende identiteite

Ons moet kliek dat daar baie verhale in die wêreld is wat ons probeer vorm, ons identiteit en roeping probeer stempel. Ons hoor ons is verbruikers wat net gelukkig sal wees as ons die regte adres of voertuig het. Ongebreidelde ambisie word opgehemel, ‘n rustige lewe met die ritme van gebalanseerde werk en rus is nie wat ons nastreef nie.

Daar is ‘n storie wat sukses aan grootte koppel: die grootte van jou aansien, status, bankrekening en prestasies.

Hierdie kompeterende verhale trek ons aandag af en fokus ons roeping op die verkeerde prioriteite. Iemand het vertel hoe sy droom was om die hoof- uitvoerende beampte van ‘n groot maatskappy te word. Toe hy hierdie mylpaal met groot wroeging en die verwaarlosing van onder andere sy gesin bereik, het hy gou gesien daar was ‘n banier oor die wenpaal gespan. Dit het gelees: mislukking. Die rol van HUB het nie die vervulling gebring wat hy gedink het nie.

Mens moet daagliks aan jou voorkop vat en aan jou doop dink. Dink aan jou naam en God se Naam wat in dieselfde asem genoem is. Leef uit jou identiteit as God se gemerkte mens, God se eiendom, en leef bedagsaam en toegewyd aan God.

Beloftes

Tweedens leef ons steeds onder God se beloftes
Wanneer ons die beloftes van God in hierdie teksgedeelte oordink, is dit dalk moontlik om te sê ons voel partymaal asof God se beloftes verregaande is. Wanneer dit oor Abraham in hierdie verhaal gaan, kan ek ook dink dit het waarskynlik vir Abraham so gevoel – veral ná al die tyd en planne wat hy en Sara gemaak het en die geboorte van Ismael. “Hier gaan ons al weer met God se beloftes!”

Iets wat ons as mensdom goed regkry, is om ons verwagtings te bestuur en aan te pas soos situasies van ons vereis. Ons sien hoe Abraham dit ook met al die beloftes van ‘n nageslag (regdeur die hele Abrahamverhaal) doen. Hy neem waarskynlik aan dat die nageslag waarvan God hier praat, die nageslag is wat uit sy seun Ismael sal kom.

Ons pas ook soms ons verwagtings van God aan volgens wat ons dink moontlik lyk. Ons persepsies van wat God se plan vir ons lewe is, word aangepas sodat dit binne ons beperkte verstaan en persoonlike verwagtings kan inpas. God kom verander egter ons naam en daarmee ons denke, ons begrip en ons verwagtings.

In die Covid-tyd mag ons veral geneig wees om eerder ons omstandighede as God se beloftes raak te sien. Wanneer die skroewe aangedraai word deur ons omstandighede, mag ons kleingelowig en desperaat raak.

Intussen het ons die beloftes dat God ons by die naam ken, ons vir God roep, ons waardevol ag en ons gebruik om God se doel te bereik. Daarom is ons geroep om getrou aan God te bly en vir God te lewe.

Verbond van genade

Derdens: God is getrou en God is verbind aan ons.
Waarom maak God hoegenaamd hierdie belofte aan Abram en laat dit waar word? Is dit omdat God gaaf en oulik wil wees? Is dit omdat Hy ‘n nice guy is? Hoekom verander God Abram se naam? Beslis nie omdat Abram so spesiaal was en altyd aan God getrou nie. Nee, die enigste rede is omdat God genadig is.

Dit is dikwels so moeilik om God se genade te omhels en te aanvaar. Om uit die genade te leef.

Sarai en Abram se kinderloosheid is die eerste angs oor die verbond. Hulle is oud en die idee dat hulle ouers sal word, is werklik lagwekkend. Is hierdie onwaarskynlike ding hoegenaamd iets wat sal kan gebeur? Veral toe dit al 24 jaar later is sedert God die eerste keer belowe het dat hulle ‘n kind en ‘n nageslag sal hê. Ondertussen het so baie gebeur. Abram het die Egiptenare probeer oortuig dat Sarai sy suster is. Abram se seun by Hagar, Ismael, is al dertien jaar oud en Abram moes sy broerskind, Lot, gaan red.

Dit lyk so onwaarskynlik dat God genadig is en dat ons uit die genade kan leef, daarop kan staatmaak.

Miskien kan ons in Lydenstyd op dieselfde manier na Christus se kruisiging kyk. Dit kan dalk onwaarskynlik lyk dat daar ‘n Christus, ‘n Messias is wat kan kom en aan die kruis vir ons redding kan sterf. En dan boonop uit die dood opgewek word! Miskien lê die wonder hiervan juis in die onwaarskynlikheid daarvan. Soms is dit vir ons verstand nodig om ook by hierdie werklikheid uit te kom.

Samevatting

Ons besef ook dat die beloftes van God dalk vir die wêreld waarin ons leef, vreemd en onsinnig kan lyk. Daarom kan ons vir onsself afvra of ons nie ook soms lag as ons op ons knieë val om te aanbid nie. Wanneer ons by opstandingsdag kom, word ons keer op keer herinner aan die beloftes van God wat vervul word – en dan lag ons weer, maar hierdie keer is dit ‘n vreugdeslag. Dan maak die twyfel plek vir vreugde en vertroue.

Wanneer ons gedoop word, ontvang ons ‘n nuwe naam – “kind van God”. Wanneer ons hierdie genade wat ons ontvang aanvaar, kry ons ook die naam “Christen”. Ons word lede van Christus, getuies. God se genade strek baie ver en is altyd vir ons beskikbaar.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer
Aangesien daar tans nie dankoffer opgeneem kan word nie, kan hierdie oomblik gebruik word vir nadenke en toewyding

Slotsang
Lied 588 verse 1 en 3 O God van hoop, gee ons u vrede

Seën

Respons
Enige van die “Amen” liedere

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.