Tweede Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Genesis 12:1-4a
Ander tekste: Psalm 121; Romeine 4:1-5, 13-17; Johannes 3:1-17

Inleiding 

Die tweede deel van die reis in vanjaar se Lydenstyd bring ons by Abram wat in geloof sy vroeëre lewe verlaat. Dis ’n reis na ’n onbepaalde toekoms wat bou op die belofte wat in God self gevind word. Die liturgie word deur die oortuiging gedra dat ons steeds op so ’n reis van geloof is. Op weg, beskerm God self elke reisiger (Ps 121). Deur geloof word dit ’n reis weg van wetsgehoorsaamheid na gelowige vertroue in God (Rom 4). Dis ’n reis uit die duisternis na die Lig (Joh 3). Dit is die reis waarop ons ons finale bestemming bereik (Rom 4). Hierdie reis is niks minder nie as ’n nuwe geboorte deur die Gees (Joh 3). Die liturgie ondervang ons geloofsreis en vestig ’n waardering vir die hoopvolle voltooiing daarvan.

Diensorde

God bring ons byeen

Steek die Christus-kers aan.

Oproep tot aanbidding
Lydenstyd is vir ons soos ’n Christelike-pelgrimsreis, nie na die tempel in Jerusalem nie, maar na die hart van God wat ons deur Christus red. Daarom begin ons vandag met ’n gebed van ’n pelgrim.

Lees Psalm 121.
Laat ons God aanbid wat ons op ons lewensreis begelei.

Seëngroet
Sien basisliturgie.

Aanvangslied
Sien basisliturgie.

Doop of doopherinnering as vryspraak
Sien basisliturgie.

Geloofsbelydenis

Skuldbelydenis
Here,
ons erken ons leef nog dikwels soos mense van die nag.
Soos Nikodemus moet ons uit die nag uit beweeg om u lig te kom soek.
Ons wil nou stil word totdat u woorde aan hom weer in ons harte lêplek kry.
Lees Johannes 3:16-21.

Lofsang
Lied 319:1 “Lofwaardig is ons God, die Heer”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Jesus, U wat as rabbi, die leermeester van God, gekom het, leer ons deur u Woord.
Niemand kan immers doen wat U doen as God nie by hulle is nie.
Hoe kan ons die geboorte van Bo nuut ervaar?
Hoe kan dit gebeur nadat ’n mens in jare gevorder het en reeds vaste idees gevorm het?
Hoe kan ek, by wyse van spreke, nogmaals in my moeder se skoot kom om nuut gebore te word?
Christus Jesus, terwyl ons U aanskou wat teen ’n paal opgehang is,
soos die slang in die woestyn tydens Moses se leierskap,
laat ons verwonder staan voor die heerlikheid van u lyding.
Gees van God, bring die Lig in ons lewe.
Vader, bring ons weer tuis by U
(uit Joh 3:1-21).

Skriflesing
Genesis 12:1-4a

Preek

Diens van die tafel

Dankoffers

Maak die tafel gereed
Sien basisliturgie.

Gebed

Herinnering
Sien basisliturgie.

Gebed om ontsluiting van die nagmaalelemente
Instelling
Uitdeel en gebruik van die brood en wyn

God stuur ons uit

Lofprysing en dankgebed
U is die God wat dooies lewend maak
en dinge wat nie bestaan nie, deur u Woord tot stand bring.
Soos vir Abraham, laat U ons die wêreld as besitting ontvang,
nie omdat ons Moses se wette onderhou nie,
maar omdat ons glo U het ons bankrotskap opgehef.
Geloof beteken vir ons lewe.
U belofte is ons krag.
Ons dank U dat ons reis bestem is om volmaak te eindig
nie omdat ons getrou sou wees aan ’n opdrag of beginsel nie,
maar omdat U dit beloof het.
U genade alleen laat ons u koninkryk erf.
U is die God wat dooies lewend maak
en dinge wat nie bestaan nie, deur u Woord tot stand bring (uit op Rom 4:13-17).

Slotlied
Lied 324 “So lief het God die wêreld”; Lied 582 “Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal”

Seën

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 165 “O wat ‘n vreugde in ons harte”
Lofprysing: Lied 527:2 “Deur lyding heen het U”; Liedboek Engelse Teks 6 “Guide me, O my great Redeemer” (Lied 280)
Skuldbelydenis: Psalm 25 (Totius) “Tot U hef ek hart en hande”; Lied 230 “O Jesus, in u lyding”
Geloofsbelydenis: Lied 511 “Lei U ons, Lig”; Lied 573 “Ruwe storme breek in woede”; Lied 288 “Die Woord het deur die eeue”

Kuns en visueel

Digkuns: “Eers as ek heel myself verloor”, ID du Plessis, uit Die Braambos Brand, Tafelberg.
ʼn Gepaste foto vir agtergrond.
Abram op reis (illustrasie).

Preekstudie – Genesis 12:1-4a

Teks en konteks

Die roeping van Abram (later Abraham) is ‘n langtermynprojek wat die verlossing van die ganse mensdom op die oog het. Dit lyk egter of hierdie projek al van die begin af tot “mislukking” gedoem was. Abram was baie oud en Sara kon nie kinders kry nie. Die belofte van ‘n talryke nageslag klink dus menslik gesproke nie haalbaar nie. Hierdie uitsiglose situasie beklemtoon egter die feit dat die beloftewoord van God aan Abram ‘n woord van hoop in ‘n chaotiese wêreld is. Dié chaotiese wêreld word gekenmerk deur boosheid en opstand teen God, soos dit in die skeppingsverhaal (Gen 3), die broedermoord (Gen 4), die sogenaamde sondvloed (Gen 6) en toringbouers van Babel (Gen 11) gesien kan word. Die roeping van Abram en die gepaardgaande beloftes aan hom, is dus God se antwoord op ‘n vervalle en chaotiese wêreld wat Hy nie bereid is om prys te gee nie. God begin met Abram (en sy nageslag) ‘n lang proses van vernuwing en herstel, wat uiteindelik tot die totale verlossing van die mensdom en sy wêreld moet lei.

Die voorafgaande hoofstukke (Gen 1-11) beskryf dus die prehistoriese gebeure van die Skeppergod wat alles mooi en goed begin het, maar van ‘n mensdom wat herhaaldelik teen God rebelleer het. Dit vertel van God wat dié rebellie met sy genade teenwerk, en op hierdie wyse herstel en nuwe kanse bied. Die tema van goed en kwaad funksioneer dus prominent in Genesis 1-11.

Genesis 12:1-4a vorm een van die mees dramatiese oorgange in die hele verhaal van die Ou Testament. Die teks vorm die oorgang van die prehistoriese gebeurtenisse of oergeskiedenis van Israel na historiese gebeurtenisse, met verwysing na spesifieke historiese plekke. Dit vorm ook die oorgang vanaf God se verhouding met die volke van die wêreld na ‘n verhouding met een spesifieke gesin. Die genadige God kies een gesin waarop Hy fokus om die vervalle mensdom te red. Abraham word beskou as die begin van die vorming van die volk van God, of anders gestel, die vader van die gelowiges. Genesis 12-25 omskryf die gebeure van die aartsvader Abraham, anders bekend as die Abraham-Sara-siklus.

God se woord aan Abram begin met ‘n uitdagende opdrag: “Die Here het vir Abram gesê: ‘Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys’“(12:1 – OAV). Abram en Sara moes die drie bronne van hulle sekuriteit verlaat, ingeslote sy onmiddellike familie — in die antieke tyd die belangrikste van alle verhoudings. Die herhaling (drie keer) van die woord “uit” beklemtoon Abram en Sara se toekomstige (e)migrasiestatus en vreemdelingskap op die onbekende reis wat voorlê, voordat hulle uiteindelik in Kanaän sou aankom.

Die opdrag gaan gepaard met ‘n kragtige en hoopvolle belofte. Die belofte aan Abram bevat drie belangrike elemente: ‘n land of grondgebied (v 1), ‘n nageslag (v 2) en ‘n omvattende seën (vv 2,3). Die seën hou in lewe, voorspoed, vrugbaarheid en ‘n groot naam.

Die verskillende vertalings stel die naam-seën soos volg: “en jou naam so groot maak” (OAV); “’n man van groot betekenis maak” (NAV); “sodat jy geëerd sal wees” (NLV). Baie belangrik sal die seën ook lei tot die seën van al die nasies (v 4). Interessant is die gedagte dat die toringbouers van Babel vir hulle self ‘n naam wou maak (Gen 11:4), maar hier bied God dit aan Abram as ‘n kragtige belofte. Die seën, en spesifiek die gee van die grondgebied of land, is ‘n suiwer soewereine daad vanuit God se genade. Dit is onvoorwaardelik en onverdiend. In die Ou Nabye Ooste was so ‘n geskenk deur ‘n godheid aan een of ander koning of begunstigde gegee.

Die belofte van ‘n groot nasie gaan gepaard met die feit dat Sara onvrugbaar was. Hierdie situasie sou verderaan in die Abramverhaal tot groot spanning tussen die verskillende karakters lei, terwyl daar geworstel word om die geboorte van ‘n kind in vervulling te laat gaan.

Abram se reaksie op God se opdrag en belofte word in vers 4a verwoord: “Toe het Abram weggetrek soos die Here hom gesê het.”Die komplekse interaksie tussen Abram se geloof en gehoorsaamheid aan die een kant en God se beloftes aan die ander kant, loop soos ‘n goue draad regdeur die Abramverhaal, veral met hoofstukke 15 en 22 as kernhoofstukke. Dit is egter primêr God se beloftes en die vervulling daarvan wat die dryfkrag agter Abram se geloof, gehoorsaamheid en roeping is.

Wat beteken dit as God vir Abram sê om te gaan of te trek, en wat beteken dit vir ons vandag?

Dit het vir Abram letterlik ‘n agterlaat van sy hele bestaan en sy bronne van sekuriteit beteken. Dit was ook ‘n geestelike heroriëntasie. In die plek van wat Abram agterlaat, gee God sy beloftes van grond, nasie en seën. Met die opdrag “gaan uit” of “trek uit”, nooi God Abram verder tot ‘n nuwe identiteit van gehoorsaamheid en vertroue op sy reis van vreemdelingskap. Abram moet nou leer om as geroepene van God te leef. So skryf Paulus eeue later in Romeine 4:18-21 oor die geloof en hoop van Abraham: Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: ‘So sal jou nageslag wees”’ (v 18).

Reis as tema is ‘n belangrike metafoor vir ons geloofslewe. Reis impliseer dat ‘n mens oop is vir nuwe toekomsmoontlikhede. Om weereens Paulus aan te haal: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Fil 3:13).

Gelowiges is geroep om in die teenwoordigheid van God op reis te wees. Dit is ‘n reis wat by tye ontwrigtend kan wees, want dit is ‘n reis sonder padkaart. Vir Abram en Sara het dit materiële verlies meegebring. God se beloftes het hulle ook nie op hulle reis bewaar van gevaar, hartseer, skeiding en vervreemding nie. Die res van die Abram-verhaal wys dit uit in hoofstuk 12-25. Abram het byna sy vrou in Egipte verloor deur Sara as sy suster voor te hou (Gen 12,17 en 20). Daar is die hartseer en pyn met Hagar en Ismael (Gen 16,21). Toe die egpaar uiteindelik die vreugde van ‘n seun van hulle eie ervaar, sou hulle hom ook weer byna verloor (Gen 22). Dit alleen is gebeure in Abram en Sara se leeftyd. Die belofte van God sou verderaan in die nageslag nog bedreig word, onder andere deur gebeure soos die slawerny in Egipte.

Hierdie verhaal gaan nie primêr oor Abram en Sara se doen en late nie, maar ten diepste oor wat God doen. Abram se gehoorsaamheid en vertroue is belangrike elemente in die verhaal, maar dit vind binne die raamwerk van God se trou en genade plaas.

In die teks beklemtoon God: “Ek sal”. Dit word in die eerste persoon gestel. Dit is God wat die grond gee, God wat die groot nasie gee, God wat ‘n groot naam gee en God wat seën. “Ek sal” dit doen, sê die Here God. Gedurende tye van beproewing op ons geloofsreis is dit uiters noodsaaklik om mekaar aan die beloftes van God se nabyheid en beskerming te herinner. Die volk moes tydens die uittogjare uit Egipte ook telkens herinner word aan God se beloftes aan die voorvaders.

Die uiteindelike doel van die roeping van Abram is die seën van die hele mensdom en die gevolglike verlossing van almal (v 3). God se verkiesing van hierdie een gesin uit al die ander is God se nuwe plan om die wêreld en sy mense van totale verval en vernietiging te verlos. Abram sou in sy eie leeftyd iets van hierdie seën laat sien in sy ontmoeting en interaksie met ander nasies en konings.

In die Lydenstyd herinner Genesis 12:1-4a ons aan God se voortgaande herstel en verlossingsplan vir die wêreld en sy mense, soos in die lewe en werk van Jesus verwesenlik. Jesus is God se onvoorwaardelike geskenk van liefde aan ons. In die lydingstryd van Jesus leer ons ook dat die bose steeds alle pogings sal aanwend om God se verlossingsplan wat reeds met Abraham begin het, te kelder. Die kerk van Christus vervul ‘n belangrike rol as geroepenes in dié verlossingsplan deurdat ons steeds tot seën moet wees vir die mense in ons omgewing en die wêreld waarin ons woon.

Terwyl die kerk in al sy stryd en beproewing van ontworteling, versoeking en onsekerheid sy roeping uitleef, moet ons (soos Israel) herinner word aan die beloftes van God in die verlede. Hy is en sal getrou bly, totdat al sy beloftes van totale en finale verlossing in vervulling gaan. Dit is God wat in Christus die oorwinning gee en wat sy verlossingsplan beslis sal deurvoer. Ons moet in gehoorsaamheid in die teenwoordigheid van die almagtige en getroue God op die reis in hierdie dikwels chaotiese en opstandige wêreld voortgaan. Dit is dieselfde God van ons geloofsvoorvader, Abraham, wat vir ons nuwe hoopvolle moontlikhede oopbreek soos ons voortreis sy toekoms binne.

Preekvoorstel

Tema: ’n Reis van hoop
Die roeping van Abram is God se antwoord op ‘n mensdom wat gedurig teen sy Skepper in opstand is. Genesis 1-11 vertel van die een na die ander opstand, rebellie, geweld en bose optrede van die mensdom. Dit begin met Adam en Eva in Genesis 3. Daarop volg die broedermoord toe Kain sy broer Abel in Genesis 4 doodmaak. Die boosheid van die mensdom het bly toeneem tot die sondvloed van Genesis 6.

In Genesis 11 het die opstand letterlik “boontoe” uitdrukking gekry in die oprigting (na bo toe) van ‘n hemelhoë toring in Babel waardeur die mensdom vir homself ‘n groot naam wou maak. Elke keer het God reageer met straf, maar ook genade, ten einde die herstel van die gebroke verhouding tussen Hom en die mensdom ‘n kans te gee.

Toe dit later egter blyk dat God se herstelplanne nie die gewenste uitwerking het nie, moes Hy op ‘n meer volhoubare strategie besluit. Dit is waar Abram en Sara in Genesis 12 hulle roeping van die Here ontvang. God fokus nou op een spesifieke gesin om sy herstel en verlossingsplan vir die mensdom en sy wêreld uit te voer.

God beveel Abram (later Abraham) om weg trek, om uit te gaan. Hy moes alles wat vir hom en sy gesin sekuriteit verseker het, agterlaat. Hy word gesê om sy land, sy familie en sy vaderhuis te verlaat en te verruil vir ‘n treklewe. Wanneer Abram en sy gesin en sy broerskind Lot trek, verruil hulle ‘n veilige lewe vir die status van vreemdelinge en reisigers. Hy weet wat hy agterlaat, maar hy weet nie met sekerheid wat voorlê nie. Hy ontvang geen padkaart vir die reis nie.

Al wat hy van die Here ontvang, is ‘n kragtige belofte. Reeds aan die einde van Genesis 11 in vers 30 leer ons dat die egpaar met ‘n vrugbaarheidskrisis te kampe het. Sara kon nie kinders kry nie, wat vir hulle persoonlik ‘n verleentheid en ‘n probleem was. Vir Abram beteken dit geen nageslag van sy eie nie. Vir Sara as vrou, was dit pynlik vernederend. Daarom, toe God aan Abram ‘n groot nageslag belowe, is dit genoeg motivering om met daardie belofte en hoop in sy hart weg te trek. Hy trek dus nie heeltemal met niks nie.

God het egter ‘n groter prentjie in gedagte gehad as net Abram se persoonlike heil en seën. Die Here wil uiteindelik al die nasies seën en in sy genade laat deel, al lyk dit reeds vanaf die begin vanweë Sara se onvrugbaarheid na iets wat nie kan werk nie. Die Here belowe om aan Abram ‘n nuwe land te gee. Verder belowe God om Abram ‘n groot naam te maak. Dit is ‘n omvattende belofte en seën wat aan Abram gebied word.

Die belofte van God het egter nie verseker en gewaarborg dat dit noodwendig voorspoedig met Abram en Sara sou gaan nie. Hulle moes talle versoekings en beproewings op hulle beloftereis deurmaak (sien hier bo).

Abram se gehoorsaamheid om te gaan, het nie net beteken dat hy sy materiële sekuriteit en die geborgenheid van sy familie agterlaat nie. Hy het ook daarmee sy identiteit verruil vir ‘n nuwe identiteit van iemand wat nou met geloof en vertroue moes leef. Hy moes met hoop lewe op ‘n nuwe toekoms wat God vir hom en sy gesin skep. Regdeur die Abramverhaal (Gen 12-25) is geloof en belofte nou met mekaar verweef. Abraham moes leer dat dit uiteindelik God is wat hom vashou en bewaar, dat dit God is wat getrou is en deur genade sy belofte instandhou en in vervulling sal bring. Abraham se geloof en gehoorsaamheid is belangrike faktore in die verhaal wat binne die raamwerk van God se genade en trou geskied. Dit is God wat onverdiend aan Abram gee wat Hy belowe het.

Abram se roeping is ‘n verhaal van hoop vir ons en die hele mensdom. Dit leer ons dat God nie van plan is om die mensdom en die skepping prys te gee nie. Ten spyte van ons rebellie, ten spyte van die chaos in die wêreld en al die boosheid wat heers, triomfeer God se genade oor alles en open Hy vir ons nuwe deure van hoop. Te midde van hopeloosheid en byna onmoontlike situasies, bring God in Jesus Christus weer lig, hoop en nuwe moontlikhede.

As kerk is ons geroep om dit te verkondig en uit te leef. Ons is draers van hoop. Ons is draers van goeie nuus. Om dit te wees en te doen, was nog nooit maklik nie. Dit gaan gepaard met stryd en lyding, versoekings en beproewings, van binne en van buite. Daar was tye van dwaling en duisternis in die kerk se geskiedenis. Ons ervaar vandag onsekerheid oor baie kwessies.

Jesus herinner ons daaraan dat ons kruisdraers is. Ons reis nie sonder ‘n kruis nie. In die wêreld is ons vreemdelinge, bywoners onderweg en op reis, ontworteldes wat nie gewortel en vasgemeer is nie. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Ons is gestuurdes. Ons is geroepenes met die opdrag: “Gaan uit, trek weg”. Ons leef oop, gerig op die toekoms wat God vir ons gee.

Die goeie nuus is dat Jesus reeds ons kruis gedra het. Hy maak die las lig. Hy maak die reis met kruis en al moontlik. Hy verseker die oorwinning wat ons alreeds in Hom behaal het. In Jesus Christus is God se beloftes vir ons vas en seker.

Bibliografie

David JA Clines, 1978. The Theme of the Pentateuch. Sheffield: Journal for the Study of the Old Testament ; Bernhard, W. Anderson, 1978. The Living world of the Old Testament . Third edition: Longman UK; Claassens, J 2014. Working Preacher . (aanlyn) Workingpreacher.org. Available at: https://www.workingpreacher.org/ (toegang 28 Maart 2019); Yamada, F 2008. Working Preacher . (aanlyn) Workingpreacher.org. Beskikbaar by https://www.workingpreacher.org/ (toegang 28 Maart 2019); Yamada, F 2018. Working Preacher . (aanlyn) Workingpreacher.org. Beskikbaar by https://www.workingpreacher.org/ (toegang 28 Maart 2019); Olson, D 2011. Working Preacher . (aanlyn) Workingpreacher.org. Beskikbaar by https://www.workingpreacher.org/ (toegang 28 Maart 2019).

© Missio 2024 | All rights reserved.