Tweede Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Tweede Sondag in Lydenstyd

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Markus 8:31-38
Ander tekste: Genesis 17: 1-7, 15-16; Psalm 22:23-31; Romeine 4:13-25

Inleiding

Hierdie week neem ons ’n tree verder op die verbondspad. Die Ou-Testamentiese teks verhaal die verbond met Abraham. En word gevolg deur die teks uit Romeine wat bevestig Abraham is deur geloof vrygespreek. Die karakter van die verbond berus op geloof en nie “wet” nie.

Psalm 22:23-31 is ’n loflied vir God se verbondstrou wat Hom nie terugtrek van die nood van die hulpelose nie. Dele van die aangewese deel uit Psalm 22 kan by verskeie geleenthede in die liturgie gebruik word om die gedagte oor die trou van God deurentyd voor oë te hou.

In die sleutelteks kom ons by Petrus se reaksie op Jesus se aankondiging van sy lyding sterwe en opstanding – neem jou kruis op en volg Jesus.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Laat twee ander kinders hierdie week die Christuskers met die doringstruik om aansteek.

Aanvangslied
Laat sing vandag die “Kyrie Eleison”.
Sien voorstel by die basisliturgie.

Seëngroet

Skuldbelydenis
Laat die skuldbelydenis direk op die seëngroet volg. Die vryspraak dien dan as oorgang tussen die verootmoediging (van die week) en viering van die opstanding (op Sondag)

Diens van die tafel

Eucharistiegebed/Grootnagmaalgebed

Na die nagmaal
Laat ’n lidmaat sonder aankondiging as lofbetuiging na die nagmaal Psalm 22:31 en 32 lees.
Die voorganger volg dan met die “Lofgebed aan die Drie-enige God” wat gewoonlik op die “Ons Vader” aan  die begin van die eucharistiegebed volg.
Dit sal weer die oorgang na die Sondag as Opstandingsondag vorm.

Uitsending

Seën en wegsending
Gebruik die voorstel in die basisliturgie.
Laat twee of meer persone hier aan die gemeente praktiese geleenthede aanwys waar hulle die komende week kan betrokke raak.

Slotlied
Lied 191 “Grote God, ons bring U die eer”
Laat sing moontlik ’n tweede slotlied wat weer ons vertroue op God bevestig.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 247 of 248 “Kyrie Eleison”
Antwoord op die prediking: Lied 491 “’k Het Jesus lief”; Lied 499 “Die Heer is God, en niemand meer”
Slotlied: Lied 191 “Grote God, ons bring U die eer”; Lied 505 “Jesus, U gaan voor”

Preekstudie: Markus 8:31-38

Teks

Hierdie teksgedeelte is in Preekstudies en Liturgiese voorstelle – 2001-2002 behandel. Die Markusevangelie is in ’n groot mate die vertelling van die lyding van Jesus (sien verder by Konteks). Markus wil moontlik die vraag antwoord waarom Jesus, die Seun van God, moes ly, en hoe die hoorders en die lesers hulle eie lyding moet verstaan. Vanaf 8:27 is Jesus doelgerig op weg na Jerusalem. Telkens word hierdie “op weg” of “op pad” herhaal as ’n kragtige samevatting van die hele boodskap van Markus. Die weg is sy lydensweg, asook die weg wat sy dissipels as sy volgelinge moet gaan. Jesus se lydensweg word al duideliker en die dissipels word al dieper ingelei in die aard van hulle eie lydensweg.

Vers 31. Die lydensgeskiedenis van Jesus oorheers die Markusverhaal. Hy is wel die Messias, nie om te heers nie maar om te ly (sien Konteks). Hy moet ly as die Dienaar van die Here (vgl Jes 53:4, 11). Die “moet” beteken hier omdat dit volgens God se plan is. Hier is die eerste van Jesus se drie lydensaankondigings. Die doel daarmee is om te wys dat Jesus se persoon en werk net verstaan kan word as sy lyding verstaan word. Die konflik met die godsdienstige en burgerlike leiers word voorspel, wat lei tot sy sterwe en ook sy opstanding. Die verwerping van Jesus maak deel uit van sy lydenspad. Lyding is nie beperk tot die fisieke nie, dis trouens nie die kern van sy lyding nie.

In die Markusevangelie noem Jesus Homself 14 keer die Seun van die mens. Markus verbind veral hierdie titel van Jesus aan sy lyding. Dis asof Markus elke ander titel wat nie sy lyding in ag neem nie, korrigeer met die verwysing na die “Seun van die mens”. In Daniel 7:13-14 word die ‘Seun van die mens” gebruik om ’n koninklike figuur van die eindtyd aan te dui, en word dit nie met lyding in verband gebring nie. “Seun van die mens” kan dus dubbelsinnig verstaan word, om sy lyding en glorie in te sluit. Eers na Jesus se kruisiging word dit duidelik dat Jesus inderdaad ’n koninklike figuur is.

Vers 32-33. Jesus het reguit met sy dissipels gepraat. Nie in gelykenisse nie. Maar reguit, duidelike woorde kan ook misverstaan word en tot verset lei. Markus beeld in hierdie evangelie die dissipels uit in hulle mislukkings, hulle gebrek aan begrip, misverstand en verblinding. Daar was egter ook goeie oomblikke, wat mens laat besef dat die dissipels se optrede ambivalent of dubbelsinnig is. Die rede kan wees dat Markus ’n pastorale bedoeling het, dat die hoorders en lesers hulleself moet sien en herken in die optrede van die dissipels. In die lewe van mense wat Jesus probeer navolg is daar probleme en teenstrydighede, wat aantoon dat die weg van navolging van Jesus onvermydelik ook ’n weg van lyding en selfverloëning is.

Petrus kon nie aan Jesus dink as die lydende Messias nie. Markus stel twee gesigspunte teenoor mekaar, te wete om te dink aan wat God wil hê of om te dink aan wat die mense wil hê. Dit is dramaties vir die hoorders en lesers van hierdie evangelie dat Petrus, wat pas die korrekte belydenis uitgespreek het, “U is die Christus” (29), hier die perspektief van die Satan verteenwoordig! Elkeen wat Jesus van die lydensweg wil weghou, doen die werk van Satan. Daar is ook nog nie begrip vir hulle eie lydenspad nie.

Vers 34-35. Na die misverstande en weiering rondom Jesus se aankondiging, soos met die ander aankondigings van Jesus (9:31; 10:32-33), gaan Jesus voort om die aard van navolging uit te spel, as ’n weg van die kruis. Dit spel die mees radikale implikasies vir die navolging van Jesus uit. Hier verwys Jesus die eerste keer na die “kruis” self. Die gebruik van die woord “evangelie” is opvallend. Hiermee vereenselwig Markus Jesus en die nuus oor Jesus se sterwe en opstanding, met die evangelie. Om iets vir die evangelie te doen is dieselfde as om dit vir Jesus te doen. Na sy opstanding is die navolging van Jesus nou die navolging van die evangelie, die somtotaal van sy woorde en werke. Terwille van die evangelie het ook ’n sending gerigtheid. Dit beteken ook lyding terwille van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

Jesus leer die dissipels en die menigte: daar is ’n prys om te betaal vir dissipelskap. Baie wat Hom gevolg het oor die wonderwerke, sal nie kans sien vir die prys nie. Die navolging bevat drie momente: die self verloën; die kruis opneem, en; Jesus volg (tot die bereidheid om te sterf). Ons volg Hom deur alle selfgerigtheid en eiebelang af te lê en die kruis op te neem. Dit beteken om teen alle koste God se wil te gehoorsaam. As ons onsself verloën, met Jesus se lyding en dood identifiseer en Hom gehoorsaam volg, sal ons, vanuit ‘n menslike oogpunt, onsself verloor, maar vanuit God se perspektief sal ons onsself wen. Ons sal al meer soos Christus word wat ons unieke indiwidualiteit na vore sal bring. Dit klink teenstrydig: As ons ons eie belange verloën, selfs tot by die punt om te sterwe, beveilig ons juis ons lewe.

Vers 36. Om jou lewe te verloor volgens vers 36, is om dit te vermors, om uiteindelik verwerp te word. Ons word opgeroep om ons lewe te behou – te belê in Christus – om ons lewe te laat tel. So word ons al meer soos Jesus en sal ons God se heerlikheid ontvang. Die sterwe is dus ’n deurgang na ’n lewe van gemeenskap met God. Verder, as ’n mens sy aardse lewe ten alle koste wil behou, sal hy hierdie gemeenskap met God verloor, sy plek in die ewige lewe verloor. As ’n mens bereid is om sy aardse lewe terwille van Christus te verloor, sal hy sy lewe in die ewigheid behou. Die waarde van ’n verhouding met God is baie meer as die rykdomme van die wêreld.

Vers 38. Van Jesus se volgelinge sal terugdeins (skaam in Markus se woorde) vir hierdie moeilike keuse om Hom te volg. Hulle moet weet dat Jesus by sy terugkeer Hom dan ook vir hulle sal skaam.

Konteks

Ons weet nie presies wie die Markus is wat die evangelie geskryf het nie. Dit kon dieselfde een wees na wie elders verwys word (Hand 12:12; 1 Pet 5:13). Ons weet wel dat hy waarskynlik ’n Joodse Christen was en dat Grieks nie sy moedertaal was nie. Dit is voor die evangelies Matteus en Lukas, teen 65-70 nC, geskryf. Die gebeure rondom Jesus is op hierdie stadium nog mondelings oor vertel. Markus maak baie gebruik van hierdie oorvertellings, asook enkele kort geskrifte. Matteus en Lukas het waarskynlik van Markus se manuskripte gebruik gemaak toe hulle hulle evangelies geskryf het, daarom die ooreenkomste. Die eerste lesers/hoorders van die Markusevangelie het in een of ander bedreigende situasie geleef. As hulle naby Palestina geleef het, kon dit verband hou met die oorlog wat die Romeine teen die opstandige Jode gevoer het. As die eerste lesers in Rome gewoon het, kon die bedreiging verband hou met die berugte keiser Nero wat die Christene vervolg het. Hulle het die eise van die evangelie in moeilike omstandighede ervaar.

Die Markusevangelie se tema is die diep misterie van Jesus, die Messias wat nie kom heers nie, maar kom dien, kom ly en sterf. Wie hierdie Jesus as dissipel wil volg, moet bereid wees om swaar te kry.

Vanaf hoofstuk 8:27 tot die einde behels ’n nuwe deel van die Markusverhaal. Die lydensweg van Jesus begin hier en daarmee saam sy onderrig aan die dissipels aangaande hulle lydensweg vir Hom en die evangelie. Markus 8:27 tot 10:52 vorm ’n blok. Daarin vind Jesus se lydensaankondigings en lering plaas. Die wonderwerke skuif op die agtergrond en Jesus spits hom toe op onderrig van die dissipels.

Jesus se aankondiging van sy lyding het die dissipels verwar. As Jesus die Christus van God is, hoekom sal Hy dan moet ly? As die Ou Testament sê die Messias sal hulle vyande oorwin en ’n koninkryk vir Israel vestig, hoe kan hy verwerp word? Dit kan wees dat Markus se lesers ’n soort teologie van glorie en oorwinning wou aanhang, en nie kans gesien het vir die weg van die kruis nie. Uit Markus word dit duidelik dat Jesus nie die soort Messias is wat baie navolgers verwag het nie. Markus verkondig Jesus se koningskap, maar met ’n element van lyding, aldus die lydende kneg van die Ou Testament. Markus verkondig eerder ’n kruisteologie as ’n teologie van oorwinning.

In die kommentare word klem gelê op dissipelskap as ’n sterkpunt van Markus se verhaal. Dit sluit direk aan by Markus se Christologie. Om Jesus te verstaan, is om sy lyding te verstaan. Daarmee is dit ’n gegewe dat dissipelskap ook die weg van die kruis is. Die werk en persoon van Jesus in sy lydende gestalte word saamgevat in Markus 10:45: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Dit is ook die essensie van dissipelskap. D J Smit (97) verwys na Bonhoeffer se werk oor dissipelskap in Markus, veral sy bekende uitspraak, wanneer Christus ’n mens roep, roep Hy jou om te kom sterf. Vir Bonhoeffer was dit belangrik dat die lyding en verwerping van die kruisweg iets heel anders is as die daaglikse angs, nood en ongerief van die natuurlike lewe. Die ontberinge van die wêreld is nie dieselfde as die kruis van Christus nie. Daar is baie vorme van lyding wat nie direk aan die navolging van Christus en die evangelie verbind kan word nie. Tog stem ek saam met F Nel (243) dat daar versigtig met hierdie onderskeidinge omgegaan moet word, omdat lyding nie te sterk in kunsmatige afgebakende kategorieë ingedeel kan word nie. Lyding kan baie vorme aanneem.

Smit (99) wys ook op die geskiedenis van die Christendom waarin daar altyd ’n spanning tussen, aan die een kant isolasie van die wêreld, en aan die ander kant aanpassing by die wêreld, bestaan het. In die eerste geval word dissipelskap verstaan as onttrekking van die wêreld en aardse belange, omdat die wêreld nie meer ’n terrein van God se genade en seën kan wees nie. Aan die ander kant word dissipelskap juis die vervulling van die alledaagse roeping en lewenstaak, en word normale kultuurtake en daaglikse arbeid deel van die geestelike roeping van ’n dissipel. Hierdie spanning is ook aanwesig in die onderskeid wat Nel (242) maak tussen ’n triomferende Christendom waarin God alles kom regmaak en waar alle siektes en probleme voor gebed en geloof verdwyn, en aan die ander kant, die gelate aanvaarding van lyding as iets wat maar so moet wees, en dan gesien word as berusting in God se wil.

In aansluiting by laasgenoemde moet navolging van Christus in sy lyding nie verwar word met swaarmoedigheid, ewige pessimisme, selfbejammering en selfhaat, ’n gelate aanvaarding van al wat sleg is, ’n soort masochisme nie (Smit, 102). So kan die oproep tot selfverloëning, kruis en lyding ’n ideologiese funksie vervul om mense wys te maak dat hulle ander se heerskappy, mag, geweld, uitbuiting en verdrukking moet aanvaar. Dit kan lyk na dissipelskap, maar is in werklikheid oorgawe en kapitulasie, ’n gewoond maak aan swaarkry en dood wat mense willoos en magteloos laat. In die bevrydingsteologie speel dissipelskap wat roep tot lyding ’n belangrike rol. Dissipelskap vervang eintlik geloof as die manier waarop ons deel kry aan Christus en die heil.

Preekvoorstel

Een van die sleuteluitsprake in Markus is die woorde van Jesus in vers 33. Markus wil ons leer om te dink aan die dinge wat God wil hê, en nie aan wat die mense wil hê nie. Hierdie woorde aan Petrus staan in die middel tussen die twee gedeeltes waarin Jesus praat oor sy lydensweg en die dissipels se lydensweg.

Vanaf vers 27 skakel die evangelie oor na ’n nuwe rat. Jesus is van hier af op weg na Jerusalem. Die “op weg” dui op sy lydensweg; Hy is op pad na Jerusalem om te gaan sterf. Hier in vers 31 begin die eerste van drie lydensaankondigings in Markus.

1. Ons sien in Petrus se reaksie op Jesus se aankondiging hoe mense dink, wat mense wil hê. Die mense verwag van die Messias, die Gesalfde van God, om ’n oorwinnaar te wees. Hy is immers ’n koning. Hy moet Israel verlos van die Romeinse oorheersing en ’n nuwe aardse koninkryk stig. Ons sien in Petrus die tipiese reaksie van hulle wat inderdaad die dinge van die mense bedink en daarom Jesus se identiteit, taak en lot nie kan begryp of aanvaar nie.

2. Daarteenoor kom sê Jesus dat dit wat God wil hê, die teenoorgestelde is. Hy praat reguit met hulle, in verstaanbare taal, nie meer deur gelykenisse nie en sê dat Hy verwerp en doodgemaak moet word. Uit Petrus se reaksie sien ons dat Jesus se voorspelling dat Hy uit die dood gaan opstaan, nie mooi gehoor is nie. Dit het weggeraak agter die voorspelling van sy lyding. Jesus noem Homself die “Seun van die mens”. Dit wys daarna dat Hy wel ’n Koning is, maar ’n Koning wat gekom het om te dien, ’n Koning wat moet ly. Dit is immers oor ons sonde dat Hy na die wêreld toe gekom het, om deur sy lyding vir ons met God te versoen. Hy moes die straf dra wat vir ons vrede kan bring.

3. Petrus hulle het natuurlik geweet dat as hulle Here moet ly, gaan hulle wat sy navolgers is ook op een of ander manier geraak word deur wat met Hom gebeur. Inherent is hier dus ook onbegrip of weerstand teen die lydensweg wat die dissipels sal moet loop. Dit is tipies wat mense sal wil hê. In Markus 9:34 praat die dissipels immers oor wie van hulle die belangrikste is. In Markus 10:37 vra Jakobus en Johannes vir Jesus: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Wat die mens bedink, is om die grootste en die sterkste te wil wees, om oor ander te heers.

4. Daarteenoor kom sê Jesus dat God die teenoorgestelde wil hê. Jesus leer die dissipels en die menigte: daar is ’n prys om te betaal vir dissipelskap. Navolging van Jesus vra om die self te verloën, die kruis op te neem en Jesus te volg (tot die bereidheid om te sterf). As ons onsself verloën, met Jesus se lyding en dood identifiseer en Hom gehoorsaam volg, sal ons, vanuit menslike oogpunt, onsself verloor, maar vanuit God se perspektief sal ons juis onsself wen. Ons sal al meer soos Christus word en ons unieke identiteit in Christus vind. Baie wat Hom gevolg het oor die wonderwerke, sal nie kans sien vir dié prys nie.

5. Die Markusevangelie verhaal heelwat positiewe dinge oor die dissipels, soos dat hulle hulle alledaagse lewe gelos en Jesus gevolg het. Markus wys egter ook op die dissipels se mislukkings, onbegrip en blindheid, soos die geval met Petrus hier. Petrus is hier die verteenwoordiger van die dissipels. Die dissipels se optrede is ambivalent of dubbelsinnig, hulle swaai heen en weer tussen wat God wil hê en wat mense wil hê. Dit is presies hoe dit met ons ook gaan. Petrus se optrede is ’n spieëlbeeld van onsself. In ons lewe is daar ook ’n stryd tussen dit wat God wil hê en dit wat ons as mense wil hê.

6. Daar is mense wat aan ’n “oorwinningsteologie” (heerlikheid sonder lyding) vashou, wat nie werklik begrip het vir die sentrale rol wat lyding in Jesus se lewe en in die dissipels se lewe speel nie. Alle sonde en siekte moet eenvoudig weggevee word voor die Almag van God. Hierdie skrifgedeelte waarsku ons om nie op hierdie wyse op die evangelie te reageer nie. Dit is volgens wat mense wil hê. Christus roep ons op tot ’n “kruisteologie” (lyding wat verander in heerlikheid). Hy vra van ons dissipelskap, selfverloëning, kruisdra. Ons moet leer om soos Jesus te dink, om te dink aan wat God wil hê. Dit sal altyd ’n stryd wees, met tye van mislukking en misverstand, asook tye wat ons daarin slaag om te dien soos Jesus, selfs met ons lewe as dit moet. Alleen so sal ons al meer die nuwe mens word wat God wil he ons moet wees, die nuwe mens waarvoor Christus gesterf en opgestaan het. Gods weg gaan deur die dood heen tot heerlikheid.

Bibliografie

Elwell, W A 1996, c1989. Vol. 3Evangelical commentary on the Bible. Baker reference library. Grand Rapids, Mich: Baker Book House; Groenewald, E P 1973. Die evangelie van Markus. Kaapstad: NGK-Uitgewers; Mays, J L, Harper & Row, P, & Society of Biblical Literature. 1996, c1988. Harper’s Bible commentary. San Francisco: Harper & Row; Nel, F 2011-2012. Preekstudies en Liturgiese Voorstelle. 241-243. Kaapstad:  Communitas en Bybel-Media; Smit, D J 1992. “Lyding, Christologie en dissipelskap volgens Markus” in Woord teen die Lig 1/8; Kaapstad: Lux Verbi; Smit, D J 1992. Markus 8:(27-30) 31-38 (9:1), in Woord teen die Lig 1/8. Kaapstad: Lux Verbi; Tolmie, F 1999. Die Bybellenium Eenvolumekommentaar. Vereeniging: CUM; Van Zyl, A 1997, c1993. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Verklarings oorspronklik in 1989 uitgegee saam met die Bybelteks onder die titel: Verklarende Bybel. Kaapstad: Lux Verbi; Walvoord, J F, Zuck, R B, & Dallas Theological Seminary. 1983-c1985. The Bible knowledge commentary: An exposition of the scriptures (2:142). Wheaton, I L: Victor Books; Wiersbe, W W 1996, c1989. The Bible exposition Commentary. “An exposition of the New Testament comprising the entire ‘BE’ series”. Wheaton, Ill: Victor Books.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.