Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

In die tradisie staan hierdie Sondag bekend as Reminiscere (om te onthou).

Die fokusteks handel oor Jesus se verheerliking op die berg waar Hy weer eens, soos met sy doop, deur God aangewys is as sy geliefde Seun. Die Genesisteks handel oor die roeping van Abraham om tot seën vir al die volke van die aarde te wees. Die psalm is ’n pelgrimslied waarin die gelowige pelgrim verseker word van God se bystand en beskerming op die reispad. Die teks uit Romeine sluit aan by die verhaal van Abraham en beskryf hom as die vader van almal wat glo soos wat hy geglo het. Die teks uit die Johannesvangelie vertel die verhaal van Nikodemus wat Jesus in die nag kom besoek het. Op soortgelyke wyse as in die fokusteks word Jesus beskryf as die enigste Seun van God.

Ander tekste

Genesis 12:1-4a; Psalm 121; Romeine 4:1-5, 13-17 of Johannes 3:1-17

Fokusteks

Matteus 17:1-9
Die verheerliking op die berg

(Mark 9:2–8; Luk 9:28–36)
17 Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle alleen was. 2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.

4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

5Terwyl hy nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. 7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”

8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

Die koms van Elia
(Mark 9:9–13)
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”

10Die dissipels vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?”

11“Elia kom wel om alles weer reg te maak,” antwoord Hy, 12“maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou. So sal ook die Seun van die mens deur hulle mishandel word.”

13Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle van Johannes die Doper gepraat het.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Ons kom tot rus

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord
Liturg: Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?
Gemeente: 2My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Liturg: 7Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.
Gemeente: 8Die Here sal my uitgang en my ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
(AOV 1933)

Seëngroet
Genade en vrede van
God, die Vader, wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
en van Jesus Christus die Gekruisigde,
en van die Heilige Gees wat ons herskep. Amen

Lofprysing
Kies liedere wat uiting gee aan ’n meer “gedempte” lof…
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange”
Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”
Lied 400 “Juig, juig in Hom”.

Liedere

F16.” Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek:  Braam Hanekom
© 1993  MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

F65.  “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur (JEUG-/TIENERLIED) – Geloofsbelydenis / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek:  Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Jesus, u Naam is ons vryheidslied
Ons jubelsang van verlossing
Die sonde se krag word daardeur verbied
Jesus, u Naam is ons lied

Jesus, u Naam is ons vreugdefees
Ons blye dans van vervulling
Ons leef in die lig van die Christusgees
Jesus, u Naam is ons fees

U Naam is ons vlag en ons banier
Dit spel vir ons vrede
Dit bring ons die lewe wat ons vier
Daar is geen ander naam bo elke naam gegee

Jesus, u Naam is ons sterwenswins
Ons greep op die ewige lewe
Die Leeu wat oorwin is die Vredeprins
Jesus, u Naam is ons wins

Jesus, u Naam is ons oorlogskreet
Ons vaandel, ons evangelie
Ons vier die oorwinning, ons almal weet:
Jesus, u Naam is ons kreet

God praat met ons en ons luister

Ons hoor

Lees Joh 3:1-17 en beklemtoon die verse aan die einde wat dui op die wonderlike sekerheid van verlossing nav die soenverdienste van Christus aan die kruis.

Lied 514 “Ek weet verseker 1,2”

Gebed on die opening van die Woord
Here God,
ons kom staan voor U
met ons eie gebrokenheid,
met die gebrokenheid van die wêreld
en die gebrokenheid van die ganse skepping.
Ons kom staan voor U en voor u Woord
met die gebed dat U met ons sal praat
en dat u Woord ons sal heelmaak.
Ons bid dit in die Naam van ons Here Jesus Christus
wat gebreek is
sodat ons kan lewe. Amen.

Skriflesing: Matt 17:1-9

Prediking

Familie-oomblik

Opsie 1: Gesels met die kinders oor “hoendervleis”!

Goose bumps, also called goose flesh, goose pimples, chill bumps, chicken skin, funky spots, or the medical term cutis anserina, are the bumps on a person’s skin at the base of body hairs which may involuntarily develop when a person is cold or experiences strong emotions such as fear, awe, admiration or sexual arousal. The reflex of producing goose bumps is known as horripilation, piloerection, or the pilomotor reflex. It occurs not only in humans but also in many other mammals; a prominent example are porcupines which raise their quills when threatened, or sea otters when they encounter sharks or other predators. Goose bumps do not appear on the face.

Goose bumps are created when tiny muscles at the base of each hair, known as arrectores pilorum, contract and pull the hair erect. The reflex is started by the sympathetic nervous system, which is responsible for many fight-or-flight responses.

As a response to cold: in animals covered with fur or hair, the erect hairs trap air to create a layer of insulation. Goose bumps can also be a response to anger or fear: the erect hairs make the animal appear larger, in order to intimidate enemies. This can be observed in the intimidation displays of chimpanzees,[5] in stressed mice[6] and rats, and in frightened cats. In humans, it can even extend to piloerection as a reaction to hearing nails scratch on a chalkboard, listening to awe-inspiring music,[7] or feeling or remembering strong and positive emotions (e.g., after winning a sports event).[8] Some people have learned to will goose bumps at any time they please.[9]

Vra eerstens of die kinders weet wat dit is en hoe dit werk?
Het hulle al hoendervleis gehad? Waar en wanneer?
Hopelik is daar goeie respons…

In aansluiting by die preektema kan ons dan vertel dat:

  • Hierdie 3 dissipels het daardie dag op die berg by Jesus “hoendervleis”gehad…
  • Toe hulle weer sien straal Jesus se gesig soos die son en word sy klere so wit soos lig!
  • En skielik staan Moses en Elia daar…
  • Petrus wil sommer hutte bou: 1 vir Jesus, vir Moses en vir Elia…
  • En die hoendervleis raak net erger, want skielik is daar’n wolk bokant hulle wat sy skaduwee presies oor hulle gooi, en dan nog ‘n stem wat vertel dat Jesus God se Seun is.
  • En daarom raak die hoendervleis toe so erg, dat hulle selfs beangs op die grond neerval.

Maar die dag se hoendervleis was als die moeite werd…

  • God bevestig aan die dissipels en aan ons: Jesus is die Seun van God!
  • En die gebeure dien as voorbereiding vir Jesus om in ons plek aan die kruis te gaan sterf, en uit die dood op te staan!

Ja-nee, soms is “hoendervleis”die moeite werd…
(Foto deur Quin.Anya by flickr.com)

Opsie 2: Verduidelik aan die kinders dat Jesus op ’n baie spesiale manier die Seun van God is, maar dat Hy ons ook kinders van God maak. Om ’n kind van God te wees is ’n groot  voorreg, maar dit vra ook van ons om so te lewe dat ons, soos Jesus (en Abraham), tot seën vir ander mense sal wees.

Preekriglyn

Met respek gesê, voel mens amper jy het hier met aliens te doen.  Jesus se verheerliking op die berg lees soos ’n buite-wêreldse verhaal.  Die dissipels word uit die bloute en totaal verras wanneer Jesus se voorkoms op die berg heeltemal verander.

Die hemelse gordyn word vir ’n kort oomblik oopgetrek.  Aardse mense word gelei tot op die rand van God se wêreld.  Vir ’n oomblik mag hulle daar inkyk.  Hulle sien die heerlikheid van Jesus as die Seun van God.  Sy gesig begin straal soos die son, sy klere word skitterwit soos die lig.  Eensklaps verskyn Moses en Elia, en praat met Jesus.

Dan kom God die Vader aan die woord.  ’n Helderligte wolk, ’n wolk van gloei van helderheid, verskyn en hulle hoor ’n stem sê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug.  Luister na Hom.”

Wanneer gewone mense vir ’n oomblik in God se wêreld mag inkyk, weet hulle verseker:  Jesus is die Seun van God.  Hy is wie Hy sê Hy is.  Hy is die Gestuurde van die Vader en die Weg na God.  Hy leer ons lewe.

God berei Jesus vir sy lyding voor

Die tydsberekening van die verheerliking op die berg is belangrik.  Net in die vorige hoofstuk kondig Jesus vir die eerste keer sy dood en opstanding aan (16:21-23).  By hierdie geleentheid sê Petrus Jesus sal beslis nie ly en doodgemaak word nie – “Mag God dit verhoed!” (16:22).

Net na die verheerliking op die berg kondig Jesus vir ’n tweede keer sy dood en opstanding aan (17:22-23).  Weer eens is die dissipels diep bedroef.  Vir hulle is Jesus se lyding en dood iets wat liefs vermy moet word.

Kort daarna vind die intog in Jerusalem plaas (21:1vv), die reiniging van die tempel, en loop die laaste week van Jesus se bediening op aarde uit op sy marteling en teregstelling.

Hoe kon Jesus vrywillig hiervoor kies?  Jesus was ware God maar ook ware mens.  Wat het dit vir die mens Jesus moontlik gemaak om die verskriklike lydingspad tegemoet te gaan?  Onthou: Sy dood sou geen gewone dood wees nie.  Hy is nie ’n gewone martelaar wat vir ’n lofwaardige saak ’n gewone dood sou sterf nie.  In sy dood kom die volle las van die hele skepping se sonde en gebrokenheid op sy skouers te lande.

Prof Willie Jonker, gerespekteerde teoloog, beklemtoon dat Jesus na sy menslike natuur ook moes glo dat God Hom deur sy lyding sou dra, en dat Hy uiteindelik uit die dood sou opstaan.  Ons moet versigtig wees om die goddelikheid van Jesus  – hoewel Hy volledig Seun van God is – nie só te beklemtoon dat ons die perspektief op sy menslikheid verloor nie.

Die verheerliking van die God-mens Jesus Christus op die berg is die versekering dat God Hom deur sy lyding sal dra.  Vir Jesus is die verheerliking op die berg die voorskou van wat anderkant sy lyding en dood wag.  Na sy menslike natuur is dit die eerste voorsmaak van die heerlikheid wat uit die lydingsweg sou voortspruit.

Jesus proe op die berg die betekenis van Paulus se latere woorde in Fil 2:8-9: “Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.  Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef….”  Of soos die Hebreërbrief dit stel: “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy dier kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins…” (12:2).

Vanuit die voorsmaak van die volle heerlikheid, kon Jesus gelowig kies om God tot in die dood te gehoorsaam.

God berei dissipels voor vir lyding en gehoorsaamheid

Op die berg van verheerliking word die hemelse gordyne spesifiek ook vir die dissipels oopgetrek.  Hulle sien, en ons sien saam met hulle.

Wat sien ons?

  • Ons sien die verheerlikte Jesus wie so gruwelik sou sterf, maar daarna so wonderbaarlik uit die dood opgeneem sou word in die hemelse teenwoordigheid van God.
  • En ons sien Moses en Elia, die twee figure uit die Ou Testament wat beide die wêreld op ’n wonderbaarlike wyse verlaat het en sodoende nie deel gehad het aan ’n normale menslike dood nie.  Hulle is die voorlopers van die Messias.  Hulle lewenseinde is as’t ware ’n profesie van die opwekking van Jesus uit die dood.

Ons sien ons eie toekoms in die verheerlikte Jesus, omring deur Moses en Elia.

TV-reekse maak gereeld van voorskoue gebruik.  “Next time on Survivor” is ’n bekende refrein vir diegene wat dié werklikheidsreeks volg.

Op die berg sien ons waar die pad ook vir ons sal eindig.  Dit troos en bemoedig ons, terwyl ons nog steeds in die valleie en klowe moet lewe waar dit dikwels donker en duister is.

Die Amerikaanse burgerregte-leier, Martin Luther King, het Moses se bergtop-ervaring (toe hy die beloofde land uit die verte kon sien) gebruik om mense aan te moedig om geweldloos weerstand te bied teen onreg en vas te hou aan die hoop dat hulle ’n nuwe toekoms sal hê.  Op 3 April 1968, kort voor ’n sluipmoordenaar sy lewe kortgeknip het, het hy in Memphis, Tennesee gesê:

Like anybody, I would like to live a long life.  Longevity has its place.  But I’m not concerned about that now.  I just want to do God’s will.  And He’s allowed me to go up to the mountain. And I’ve looked over.  And I’ve seen the Promised Land.  I may not get there with you.  But I want you to know tonight, that we, as a people, will get to the promised land!  And so I’m happy, tonight.  I’m not worried about anything.  I’m not fearing any man!  Mine eyes have seen the glory of the coming of the Lord!

Die verheerliking op die berg is ons eie bergtop-ervaring.  Ons sien die heerlikheid van die Here.  Ons sien die toekoms van Jesus deur die oë van die drie dissipels.  En ons sien die gemeenskap tussen Jesus, Moses en Elia.  Ons sal ook eendag van aangesig tot aangesig sien.  Daarin sal ons deel.

God maak ons vry om te lewe

Petrus raak aan die babbel op die berg van verheerliking.  Hy sê: “Here, dit is goed dat ons hier is.  As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses, en een vir Elia.” (17:4).

Waarom wou Petrus die hutte bou?

  • Hy wou die ervaring vasvang, hy wou in die heerlikheid bly en nie hê dit moet verbygaan nie.  Die beste plan om die oomblik vas te vang, is om blyplek te bou.  Kom ons maak die heerlikheid permanent.
  • Hy wou die lydingspad vermy.  Petrus het Jesus se lydingsaankondiging in die vorige hoofstuk gehoor.  Deur op die berg te bly, kon hy die vallei van lyding vermy.  Wie wil terugkeer na die gewone lewe na ’n ervaring soos hierdie?

Die stem uit die wolk bevestig egter die waarheid van Jesus se identiteit en beveel die dissipels om na Hom te luister.  Wanneer die dissipels baie bang word en op die grond neerval, kom Jesus na hulle, raak hulle aan en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” (6)  En dan stap hulle teen die berg af.

Die aanskoue van die hemelse heerlikheid is nie bedoel om die dissipels uit die lewe, die uitdagings wat voorlê, en die geweldige lyding te bevry nie.  Dit is bedoel om hulle vry te maak om te gaan lewe.

Dit geld ook vir Jesus se moderne dissipels.  Wanneer ons vandag hierdie wonderlike blik op die heerlikheid van Jesus kry, en daarin ’n voorskou van ons toekomstige heerlikheid in die verheerlike Here sien, trek dit ons nie uit die lewe weg nie.  Hierdie prentjie suig ons in die volheid van die lewe in.  Dit is in die lewe van elke dag wat ons die Here met oorgawe moet gaan dien en gaan doen wat reg is.  Met die krag om dit te doen, want ons het die toekoms van Jesus gesien.  Ons het ons eie toekoms in Jesus gesien.

God leer ons dat heerlikheid sonder lyding leeg is

Toe hulle van die berg afkom, beveel Jesus hulle: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.” (9)

Waarom hierdie vreemde opdrag?  Waarom moet die waarheid oor Jesus ’n geheim bly?  Merkwaardig genoeg, herhaal Jesus hierdie opdrag op baie ander plekke en in baie kontekste, soos tydens genesings, wanneer sy heerlikheid na vore kom.  Waarom?

Die waarheid is dat die heerlikheid van Jesus slegs reg verstaan kan word wanneer mens deur die kruis daarna kyk.  Eers nadat Jesus gely, gesterf en uit die dood opgestaan het, kan mense Hom reg ken en bely.  Eers dan kry mens die regte perspektief op Jesus se heerlikheid.

Heerlikheid systap nie die lyding en die gehoorsaamheid wat die kruis vra nie.  Heerlikheid is God se geskenk aan diegene wat Hom gehoorsaam.  Wanneer mens die heerlikheid sonder die lyding en gehoorsaamheid soek, ontstaan ’n fatale kortsluiting.

Jesus vat ons in die bergtop-oomblikke aan die hand en lei ons die lewe in waar ons in die stryd van elke dag moet leer om getrou en gehoorsaam aan God te bly.  Heerlikheid versterk ons vir lyding en opoffering, dit raap ons nie daaruit weg nie.

Die dissipels sou hierdie les leer tydens die laaste week van Jesus se lewe op aarde.  In Handelinge en die res van die Nuwe Testament ontvou die gelowiges se onwrikbare uitsig op die heerlikheid van Jesus aan die regterhand van God die Vader, terwyl hulle as getroues getuies aan die grootste denkbare uitdagings en dikwels die diepste lyding onderwerp word.

Moenie bang wees om te leef nie

Die diepste troos vir die dissipels is dat Jesus langs hulle stap terwyl hulle van die berg afkom.  Die verheerlikte Here is die lewende Here.  En Hy stap tot vandag toe saam met ons.

Soms herken ons Hom nie, soos die Emmausgangers Hom nie herken het terwyl Hy saam met hulle gestap en vir hulle die waarheid van God uitgelê het nie.  Maar Hy is by ons.  Daarom kan ons ons roeping uitlewe.  Ons kan vir God lewe.

In die aangrypende slottoneel van die Matteus-evangelie is Jesus weer saam met sy dissipels op ’n berg.  Hy herinner hulle aan hulle taak om vir God te lewe.  Ons is geroep om van mense dissipels te maak en hulle te leer om vir God te lewe.  Ons is geroep om hulle deur die doop in te sluit in die geloofsgemeenskap.

Ook hier is die taak om te lewe ingebed in die troosvolle teenwoordigheid van die lewende Here.  “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (28:18).  Dis ’n aangrypende beskrywing van die heerlikheid van die Here.  “En onthou: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

God stuur ons om te leef

Ons leef

Apostoliese Geloofsbelydenis

Wegsending: Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
Amen

Atwoord: Lied 314 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.