Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die tekste verwys weereens na die verbond tussen God en die mense wat God na Hom roep. Dat God getrou bly aan sy verbond is te sien in die verheerliking op die berg.  Jesus praat met Moses en Elia, nie net as verteenwoordigers van die Wet en die Profete nie, maar ook as die twee wat na die berg gekom het om met God te praat. Dit is ’n bevestiging van Jesus se Godheid en volg op Petrus se belydenis dat Jesus die Messias is

Ander tekste

Psalm 22:23-31 (Die glorie wat sal volg na lyding)
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Romeine 4:13-25 (Abraham is vrygespreek omdat hy geglo het)
Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” qDít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” r19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Markus 8:31-38 (Die koste vir dissipels om Jesus te volg)
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Fokusteks

Genesis 17:1-7, 15-16
Die besnydenis as verbondsteken
17 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!
2Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense
uit jou laat voortkom.”
3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees
van ’n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram
genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader
van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.
7“Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.
8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ’n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”

9Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond. 14Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”

15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou ’n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”

17Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ’n man van honderd ’n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ’n kind in die wêreld bring?

18En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”

19Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom hou as ’n blywende verbond, en ook met sy nageslag. 20Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom ’n groot nasie laat word. 21Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”

22Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.

23Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het. 24Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25en sy seun Ismael dertien. 26Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny. 27Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

Ekstra stof

Oor Genesis
Die verhaal van Genesis kan in twee hoofdele verdeel word, hfst. 1-11 en 12-50.  Dit is die verhaal van die:

  • Oergeskiedenis (‘n paar millennia), wat die begin van alles vertel, met ‘n fokus op vier sleutel gebeure: Skepping, Sonde, Vloed en die Nasies en ‘n meer universele karakter het – hfst. 1-11.
  • Aartsvaders (ongeveer 300 jaar) wat die begin van die heilsgeskiedenis en die volk van God vertel, van Abraham en sy “saad” met eweneens vier sleutel karakters: Abraham, Isak, Jakob en Josef  – hfst. 12-50.

Elke nuwe fase in dié geskiedenis word ingelei met die frase: “Dit is die (familie) geskiedenis van …” (11x – die eerste in 2:4 [hemel en aarde] en die laaste in 37:2 [Jakob])

Interessant: drie van dié sleutel karakters word eintlik as ‘n onderafdeling van die familiestorie van hulle pa vertel: Abraham is deel van Tera se storie (11:27), Jakob is deel van Isak se storie (25:19), en Josef is deel van Jakob se storie (37:2).

Die familie lyne van beide die “verkose” families en die “verwerpte” families word aangegee. Die verskil is egter, dat die “verkose” families se storie ook vertel word, en net die geslagslyste van die “verwerpte” families vertel word.

Twee ander stories van God se bewaring gee ‘n eenheid aan Genesis: Noag (God bewaar mense in die vloed – hfst. 6-9) en Josef (God bewaar mense in die hongersnood – hfst. 37-50).

‘n Mens kan ook Genesis indeel as vier roepingsverhale opgebou rondom God se beloftes (Brueggemann):

  • Die voorgeskiedenis – die Soewereine roeping van God
  • Die Abraham verhaal – die Omhelsde (embraced) roeping van God
  • Die Jakob verhaal – die Konflikterende (conflicted) roeping van God
  • Die Josef verhaal – die Verborge (hidden) roeping van God

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke. (Ps 22:29)

Seëngroet
7Aan almal in Rome ……………………………….vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Rom 1:7)

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1, 2, 3, 5”

Verootmoediging
Die tema van die fokusteks het te doen met God se genadige verbondstrou teenoor Abram en Sarai wat uiteindelik ook aan ons bewys is in Christus se soenverdienste. Die verootmoediging wil langs die lyn loop om te kom by die vryspraak aan Abram vir ons onthalwe in Rom 4.

Skuldig!
Romeine 3
Niemand is regverdig nie

9Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10Daar staan immers geskrywe:
“Daar is nie een wat regverdig is nie,
selfs nie een nie.
11Daar is nie een wat verstandig is nie;
daar is nie een
wat na die wil van God
vra nie.
12“Almal het afgedwaal,
almal het ontaard.
Daar is nie een wat goed doen nie,
selfs nie een nie.

Romeine 3:19-20 ()
19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

Begenadig
Romeine 4
22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Romeine 3:23-25 ()
23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

Dankbaar
Uit Markus 8
Om Jesus te volg
34Jesus het toe vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.

Lofprysing uit dankbaarheid
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3” en/of
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,3,4”

Liedere

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep:  “Dit is volbring!”

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, gee ons geloof in die evangelie, sodat ons ons kan bekeer, en U U nie vir ons sal skaam wanneer U saam met die heilige engele kom nie. Gebruik nou die boodskap van die kruis, en red deur die prediking die wat glo. Laat u Gees in en deur die prediking werk sodat ons die dinge in ons lewens wat pla kan verander, en die dinge wat ons nie kan verander nie aanvaar. Maak ons ore oop en stuur u Gees. Amen.
(Uit Preekstudies met liturgiese voorstelle, BUVTON 2003:118)

Skriflesing: Genesis 17:1-16

Prediking

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor name.  Hoe het jou ouers jou naam gekies?  Verwys na familiename, wat sê aan wie jy behoort.  Jy kan ook vra wie weet wat hulle name beteken.  Vind uit wat jou naam en van die kinders se name (of meer algemene name) beteken.  Johan, John, Jan ens.  beteken “begenadig deur God”.  Elizabeth, Elize, Lize, Lizette, Liezl, Beth, ens. beteken “God se belofte”.  (Kyk by www.behindthename.com).

As jy baie dapper is, kan jy ook praat oor liefdesname en byname.  Verduidelik dat mense soms, omdat hulle lief is vir mekaar, mekaar op ‘n ander naam noem.  Vra dan wie se ouers dit doen en wat hulle mekaar noem.  Soms noem ons iemand “Slimjan” omdat hulle slim is, of “Liefie” omdat ons baie lief is vir hulle, of “Sussie” om te wys dat sy ons s’n is.

Vertel die storie van Abraham vir die kinders – dit is belangrik dat hulle die Bybel sal ken!  God het aan Abram verskyn en vir hom belowe om sy God te wees en dat hy ‘n groot nageslag sal hê.  Verduidelik wat ‘n nageslag is – verwys na oumas en oupas, nefies en niggies, ooms en tannies.  Jy kan ook hier weer verwys na familiename, of gesels oor vanne.  God het ook Abram se naam verander na Abraham en Abraham se vrou se naam verander Sarai na Sara.  Daarmee het God gesê wat dit vir hulle gaan beteken dat hy hulle God is.  Abraham beteken “vader van vele” en Sara beteken “prinses”.

Sing “Father Abram”.
(Die inkleurprent van Abraham kom van www.biblekids.eu)

Preekriglyn

Lord Melbourne was koningin Victoria se eerste eerste minister.  Een oggend het hy brommend uit die kerk gekom: “Godsdiens is alles goed en wel, maar dit gaan darem bietjie te ver wanneer die eise daarvan te veel met ’n mens se lewe begin inmeng.” Iemand skryf: “Business is business and religion is religion, and never the twain shall meet.” Ons hou daarvan as die evangelie ons gemaklik en rustig maak. Ons hou nié daarvan as die evangelie met ons lewe inmeng en ons lewe ontwrig nie.

Verbondsgenade werp ons lewens omver

Die genade waarmee God Godself aan mense verbind, is gratis.  Maar die genade is nooit goedkoop nie.  God se genade skep ‘n band (verbond) tussen ons en God wat ons lewe dikwels omverwerp, en eise aan ons stel.

Die verbond van God met Abraham, die vader van die gelowiges, is ‘n voorbeeld hiervan.  Dit skud Abraham en sy gesin. Eers moes Abraham laat in sy lewe na ’n ander land toe trek. Toe moes hy wag dat die Here op sy tyd sy beloftes waar maak. Toe dit nie gebeur nie, neem hy en Sara sake in hulle eie hande. Toe het hulle ’n rustige tyd vir 13 jaar na Ismael se geboorte.

Net toe hulle dink hulle lewe is rustig, skud die Here hulle hier in Genesis 17 weer uit hulle gemaksones. Walter Brueggemann skryf: “Abraham en Sara se gereedheid bepaal nie God se vasbeslotenheid om ’n nuwe toekoms te skep nie. Dit sal gebeur. As dit nie binne die konteks van die oop hand van geloof is nie, sal dit binne die konteks van vreesagtige, opstandige gelag plaasvind.”

God se vasbeslote liefde

Die verbond in Genesis 17 praat van God se vasbeslote liefde en verbintenis aan sy wil vir die wêreld. Hy is die een wat lewend, getrou en aktief met ons lewe inmeng. God se voorsienigheid bepaal ons lewe, nie “toevallige” omstandighede nie. God se beloftes skryf die geskiede-nis, nie blote moontlikhede of potensiaal nie. Hierdie verhaal sê dat die wonder van God se genade daarin geleë is dat ons nie een enkele angstige oomblik hoef te hê nie, want in die hemel is ’n plan B nie nodig nie.

Ja, hulle het van God se beloftes begin vergeet, maar God het onthou. Geen wonder dat Abraham begin lag nie. God se pad maak nie sin nie. Hy meng ernstig met hulle lewe in.

Name verander

God se verskyning het egter veel radikaler gevolge. Hy verander hulle name. Van nou af, elke keer as iemand met hulle praat, sal Abraham hoor: “Vader van menigtes”. Sara sal hoor “Prinses”, want sy sal ’n ma vir konings wees. Hulle name verklap God se bedoeling vir hulle lewe. Hulle het dalk vergeet van God se beloftes, maar nou sal hulle dit móét onthou. Elke keer wanneer iemand hulle naam noem, sal hulle aan God se beloftes en hulle nuwe roeping en identiteit herinner word. Dit is ’n ewige verbond wat van geslag tot geslag oorgelewer word.

God voer God se plan uit

Die prediker kan fokus op verhale van God se “inmenging” in mense se lewe – hoe God ons lewe oorskryf. Al hierdie verhale vertel van God wat eensydig, sonder ons toedoen, die rigting van ons lewe verander. Sy uiteindelike doel is om sy plan vir ons lewe en die wêreld waarin ons lewe uit te voer. Die ewige verbond wat Hy met Abraham gesluit het, word tot in die duisendste geslag deur Hom gehou.

Ons weet dat Abraham nie die gehoorsaamste mens was nie. Sy lewe was vol twyfel en eie pogings. Die “Almagtige” openbaar homself egter aan Abraham. Dis ’n warmhartig en genadige Almagtige. Hy wíl en kán dinge beheer. Daarvan is sy verbond ’n waarborg. Ferdinand Deist skryf: “Hy kan iemand liefhê wat Hom haat, want Hy wil mense liefhê. Hy kan geduldig wees met  hard-koppige mense, want Hy wil geduldig wees. Hy kán die gemors wat ons aangevang het in goed verander, want Hy wíl chaos in orde omskep. Hy láát sy son oor regverdige en onregverdige skyn, want hy wíl volmaak wees in sy liefde.” Dis hierdie Verbondsgod wat elke keer nuut begin, geslag na geslag.

God se trou verander die storielyn

Daar is soveel storielyne wat kompeteer om ons harte, dae, energie, krag en bronne. Die storielyn wat alles verander, is die trou van God. Abram, die niks-vermoedende heiden word Abraham, die vader van die nasies – alles as gevolg van God se genade. In Christus is hierdie trou van geslag tot geslag opnuut bevestig. In Christus is al die beloftes wat God aan Abraham gemaak het, vervul. Abraham en Sara word die geboortekanaal van die Koning van alle konings – Jesus Christus. In Hom word alle nasies ingesluit by die seën wat God aan Abraham belowe het.

Dis nie deur ons harde werk nie, maar uit genade; nie deur ons eie pogings nie, maar omdat die Koning alle geregtigheid in ons plek vervul het; nie omdat ons so styf aan God vasgehou het nie, maar omdat Hy sy beloftes gehou het. Lydenstyd help ons om op die wonder van God se genade te fokus. Dit help ons om aan die hand van hierdie verhaal van lewensveranderende genade te praat.

Doop en nagmaal as verbondstekens

Die doop benadruk hoe sy naam oor ons uitgeroep is. Die nagmaal bevestig sy verbond van genade. Elkeen wat deur die geloof in hierdie verbond deel, ondergaan soos Abraham en Sara ’n naamsverandering, ’n wesens-verandering. God maak ons deur Christus nuwe mense (2 Kor 5:17). Nou, sê Paulus aan die nageslag van Abraham, leef ons nie meer nie, maar Christus leef in ons (Gal 2:20).

Nuwe land, nuwe wêreld

Die belofte van ’n land aan Abraham word in Christus verder gevoer. Die Here het belowe om die gevalle wêreld te red en nuut te maak. Eendag sal sy kennis en heerlikheid die aarde vul. Elke sentimeter sal heilig wees. En eendag sal mense van elke nasie, stam en taal aan Hom eer bring (Op 7:9). Dis duidelik: sending is nie ’n werk nie, maar ’n vreugde vir God. Dis nie ’n plig of las nie, maar ’n voorreg. God se hart is oneindig groot!

Onderwerping aan God

Dietrich Bonhoeffer skryf: “Dit is deel van die dissipline van nederigheid dat ons nie ons hand sal terughou wanneer ons ’n diens kan verrig nie en dat ons nie dink dat ons program ons s’n is wat deur ons beheer moet word nie. Dit moet deur God beheer word. Wat maak dit saak as ons eie planne in die wiele gery word? Is dit nie beter om ons medemens te dien as om dinge op ons manier te doen nie?”

Bonhoeffer se woorde benadruk God se “inmenging” in ons lewe. Wanneer God inmeng in ons lewe, beteken dit nie dat Hy slegs aankondig of meedeel dat dinge nou anders is nie. Dit behoort tot totale onderwerping aan God se wil te lei. Abraham lag nou, maar sy lewe word later selfs meer radikaal verander. Deur die kragtige werking van die Gees spreek God die mens in sy trou deur die evangelie aan met die doel dat die mens in die geloof op die toesegging van sy beloftes in die evangelie moet reageer. Adrio König skryf: “Die basiese inhoud van die verbond is dus dat God uit genade in gemeenskap met sy volk leef (en in gemeenskap met alle mense wil leef), hulle seën en bewaar, hulle lei en vermaan, hulle sonde vergewe en hulle ’n nuwe lewe gee sodat hulle Hom sal liefhê, Hom sal prys en dien, na Hom sal luister en daarom anders sal leef . . .” God se storielyn in ons lewe maak ons karakters en draers van sy seën, sy groot storie van verlossing en naams-verandering!

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Dit sal goed wees om die doopgeloofbelydenis op die Sondae in Lydenstyd te gebruik:
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees.
(Uit Basisliturgie in Lydenstyd, Preekstudies 2012 (Bybel-Media))

Wegsending: Lied 275 “O God van Jakob deur U hand 1,2,3,4,5”

Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen
(Num 6)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.