Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

In Filippense 3 moedig Paulus die gemeente in Filippi aan om as hemelse burgers te bly leef ten spyte van die “vyande van die kruis” se teenkanting.

Ander tekste

Genesis 15:1-12, 17-18
Die Here sluit ’n verbond met Abram
15 Hierna het die woord van die Here
in ’n gesig tot Abram gekom:
“Moenie bang wees nie, Abram,
Ek beskerm jou!
Jou beloning sal baie groot wees.”
2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”

3Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”

4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”

5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.

7Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”

8Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”

9Toe beveel die Here hom: “Bring vir my ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.”

10Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.

12Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig.

13Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15Jy sal in vrede sterf en op ’n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

18Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê:
“Aan jou nageslag gee Ek
hierdie land,
van Egiptespruit af
tot by die Eufraat,
die groot rivier;

19die land van die Keniete,
die Kenissiete
en die Kadmoniete,
20die Hetiete, die Feresiete
en die Refaïete,
21die Amoriete, die Kanaäniete,
die Girgasiete en die Jebusiete.”

Psalms 27
Die Here is my lig en my redder
27 Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
2As misdadigers op my afstorm
om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.
10Al sou my vader en my moeder
my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn
van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my en
hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die
goedheid van die Here sal sien in
die land van die lewendes nie…!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Lukas 13:31-35
Klag oor Jerusalem

(Matt 23:37–39)
31Op daardie selfde oomblik het ’n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na ’n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’33In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ’n profeet op ’n ander plek as Jerusalem omkom.

34“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”

Die brief aan die Filippense

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon).  Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit Rome skrywe, wat klop met die interne getuienis in die brief self: die “keiserlike wag” (1:13),  “die huis van die keiser” (4:22), en natuurlik dat hy uit die gevangenis skryf (1:7).   Dit beteken dat Paulus die brief waarskynlik in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu geskryf het, so 10 jaar na die stigting van die gemeente.

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem.  Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 nC.  Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand 16:8-10).  Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 nC – die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Fokusteks

Filippense 3:17-4:1
17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 518 “Voel jy soms of die Here te ver is”

Aanvangswoord
U Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
U Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?

8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
(Uit Psalm 27)

Seëngroet
Aan almal in ………………………………………. wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Filippense 1)

Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Verootmoediging
Kom ons gebruik die Woord as ‘n spieël waarin ons lewensbeginsels vir elke dag kan ontdek:

Filippense 1:27-2:4
Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

2 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1”
Kom ons neem die voorbeeld van Jesus met lewensbeginsels vir elke dag:

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 2”

Liedere

F168. “As Ek Opstaan In Die Oggend (Hy Leef)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Opstanding / Getuienis)
Teks en Musiek: Arno Mattheus
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek opstaan in die oggend, en ek sien die son
Elke môre vars genade uit Jesus se hand
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:
Ek gaan sing, skree, spring en dans
Ek gaan vertel dat Jesus my redder is.
Ek gaan sing, skree, spring en dans.
Ek gaan seker maak dat die wêreld hoor:
Hy leef (Hy leef),  Hy leef (Hy leef),  Hy leef (Hy leef)!

2. Ek sal nie vrees nie;  ek sal nie skuil nie,
want Jesus gee my krag.
Hy’s my redder en my leier.  Voluit sal ek Hom volg.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:

Outro:
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie, want Jesus leef.

Hy leef!  (Jesus leef.)
Hy leef!  (Jesus leef.)
Jesus leef!

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:

Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lied 266 of
bid die gebed van Johannes Calvyn uit die Staatsburgse Liturgie van 1545
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U.  Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Fillipense 3:17-4:1

Prediking

Familie-oomblik

Kinders sal gemaklik kan identifiseer  met die idee van navolging.  Illustreer dit aanvanklik met ‘n speletjie soos Simon-sê, en dan deur iets saam te doen, waarin hulle jou voorbeeld moet navolg.

Die volgende verhaal is ‘n mooi illustrasie van hoe rolmodelle ook in die natuur werk… (Uit die bydrae by Seisoen van Luister, 4 Maart 2007).

Die artikel “Laat ons leer van die olifante” het gehandel oor ’n trop olifante in die Pilanesberge.  In ’n poging om die trop in die wildtuin uit te dun, het die wildtuin-bestuur besluit om van die ouer bulle van kant te maak en ’n groep koeie en jong bulle na ’n ander plek toe te verskuif.

Dit was nie lank voordat die renosters in die area doodgemaak is, nie deur wilddiewe, maar deur die jong olifant bulletjies wat hulle “manlikheid” wou bewys.  Een olifant het selfs ’n trop georganiseer wat toeriste busse aangeval het.

Om die probleem op te los, het die bestuur besluit om ’n paar van die moeilikheidmakers te skiet.  Voordat hulle dit egter gedoen het, het iemand toe met ’n beter oplossing na vore gekom:  Hulle het ’n paar ouer bulle uit ’n ander area in die probleem-area losgelaat. Die ouer bulle het dadelik die jonger bulle onder beheer gebring.

Dit was duidelik dat die jong bulletjies nie geweet het hoe om in die dag-tot-dag lewe op te tree sonder die voorbeeld van ouer olifante waaruit hulle kon leer.  Leer deur jou voorbeeld is nie net beperk tot die diereryk nie. Net soos jong olifante ouer olifante as ’n voorbeeld nodig het, het ons as mense ook ’n voorbeeld nodig. Ons het rolmodelle nodig. Ons moet rolmodelle wees…

Preekriglyn

Hoe leer mens om ‘n viool te maak?  Jy moet die tegniek by ‘n vioolmaker gaan leer.  Jy moet kyk hoe hy aan verskillende stukke hout klop, luister om te hoor wat hy hoor, sodat hout met die regte digtheid en goeie klankeienskappe gekies word.  Dan moet jy kyk hoe hy saag, skaaf en die hout uithol.  Hoe dit afgewerk en omvorm word tot ‘n pragtige viool.  Jy luister, kyk en leer.  Eers kyk jy wat hy doen, dan doen julle dit saam, jy oefen en leer, en dan kyk hy hoe jy dit doen.

Daar is nie kortpaaie nie.  Mens leer die kuns deur by ‘n kenner af te kyk.

So leer mense ook vlieg.  Hulle word onderrig, kyk na kenners, oefen onder wakende oë in ‘n vlugsimuleerder, en doen dit dan saam met die gekwalifiseerde vlieëniers.

Vaardighede word deur veel meer as net boekekennis oorgedra.  Rolmodelle is nodig.

Aanmoediging

Paulus is in ons teks besig om met die gemeente in Filippi te worstel oor hulle identiteit as gelowiges. In ’n poging om hulle in hierdie stryd te help, moedig hy hulle soos volg aan: “Wees my navolgers, broers (en susters) . . .”  Paulus spoor dus die gemeente aan om sy en ander se voorbeeld te volg in die uitleef van hulle oortuigings.

Onmiddellik wil mens sê: “Wag, ou maat! Is dit nie dalk ‘n bietjie voor-op-die-wa nie?  Jy matig jouself darem nou ’n bietjie aan.  Ons merk iets van ’n arrogansie.  Dink jy vir een oomblik dat jy dalk beter as ons gewone ouens is? Nee wat Paulus, vee maar eers voor jou eie deur!”  Maar dit is nie die geval nie.  Paulus is baie bewus van die feit dat hy self maar ’n feilbare en gebroke mens is.  Maar waarvan hy ten diepste oortuig is, is die feit dat God bestaan, dat Hy deur Jesus Christus sy lewe verander het en die krag van die Heilige Gees in hom werksaam is.

Hy is so oortuig van dié gebeure in sy lewe, dat hy die gelowiges in Filippi oproep om sy voorbeeld na te volg.  Nie die voorbeeld van sy suksesse nie, maar die voorbeeld van sy bereidwilligheid om sy lewe op die spel te plaas ter wille van die evangelie.  Op dié manier bied hy homself as ’n model aan.  Soos ’n ervare ambagsman vir sy vakleerling wys hoe om ’n moeilike taak aan te pak, sê hy vir hulle: “Wees my navolgers . . .”

Regte rolmodelle

Maar hy laat die lig nie net op sy eie lewe val nie, in dieselfde vers skryf hy ook: “en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.”  Dit is amper asof hy vir hulle wil sê: “As julle moeite ondervind om dit te doen omdat ek ver van julle in die tronk sit, kyk na die voorbeeld van mense in jul eie omgewing.”

Dit gaan dus oor die plek van rolmodelle in die geloof. Jesus is nie meer fisiek by ons nie, daarom het ons andere nodig wat vir ons voorgaan, wat vir ons as rolmodelle in die uitleef van ons geloof kan dien.

Ons as mense lewe in die ruimtes van kerk, werk, huis en ontspanningsplek leef.  Oral het ons ’n diepe behoefte aan rolmodelle wat ons kan help leer hoe om Christus in hierdie kontekste na te volg..

Dit is spesifiek in die kerk as geloofsgemeenskap waar ons kom soek vir gelowiges wat vir ons as rolmodelle oral in ons lewe kan dien.  Dit is nie net Paulus nie, maar ook die sielkunde wat ons leer dat rolmodelle ’n geweldige rol in ons lewe speel.  En dit is in die kerk waar ons hoop om hierdie mense aan te tref. Trouens as ons kinders en jongmense nie die rolmodelle hier aantref nie, waar anders sal hulle dit kry?

Verkeerde versus regte rolmodelle

Dit is ook nie verniet dat Paulus die gemeente in Filippi waarsku oor die gevaar en invloed van verkeerde rolmodelle nie.  Oor hierdie verkeerde rolmodelle skryf hy: “die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.”  Paulus is baie bewus van die negatiewe rol wat die verkeerde rolmodelle op die gelowiges in die gemeente se lewe kan hê.  Die navolg van dié rolmodelle kan hulle einde beteken.  Daarom herinner hy hulle daaraan dat hulle as gelowiges anders behoort te leef, hulle is immers “burgers van die hemel.”

“Burgers van die hemel” is gelowiges wat hulle hemelse identiteit voorop stel en dit elke dag prakties uitleef.  As kerkmense leef ons óral anders en lyk ons rolmodelle ook anders.

Die sielkunde leer vir ons dat rolmodelle ’n geweldige groot rol speel in die aanleer van basiese lewensvaardighede.  Kinders soek rolmodelle.  Nie net in hul ouers nie, maar dikwels ook in die sport, musiek, vermaaklikheidswêreld, noem maar op.  Rolmodelle wat ongelukkig nie altyd ’n positiewe invloed op hulle lewe het nie, maar wat nietemin nagevolg word.  Dieselfde is van toepassing in ons geloofslewe.  In ’n sekere sin sou ons kon sê dat die Bybel ’n boek vol verhale is van rolmodelle in die geloof.  Wat nie beteken dat hulle lewe volmaak was nie, inteendeel, ons lees op byna elke bladsy van hulle mislukkings en gebrokenheid.  Maar deur dit alles sien ons ook die genadige God aan die werk.

Hoe lyk ons lewe anders?

Die vraag is: Hoe lyk ons lewe as mense wat leef as “burgers van die hemel?”  Anders gestel:  Sien mense ’n verskil in die lewe van dié mense wat van tyd tot tyd onder die gewel van die kerk bymekaar kom?

Dalk sien mens veral in die res van ons lewe, as ons nie in die kerkgebou is nie, veral wat die kwaliteit van ons Christelike lewe is.

As jy op groentemarkplein in die middestad van Kaapstad stap, is daar aan die een kant van die mark ’n kroeg, aan die ander kant ’n woonstelblok, op die een hoek ’n kerk, op die ander hoek ’n bordeel en in die middel dryf hulle handel.  Dit is inderdaad hoe die wêreld lyk waarin ons leef – die gewels vloei in mekaar.  Mense beweeg voortdurend van die een ruimte na die ander.  Die vraag is weereens: Waar gaan soek ons ons rolmodelle?  Maak ons, wat aan ‘n kerklike geloofsgemeenskap behoort, ’n verskil?

Geloof wat ‘n verskil maak

Alan Kreider het navorsing  gedoen oor “worship and evangelism in pre-Christendom.”  Hy vra die vraag: “Why did the Church grow at its fastest rate in the first four centuries?” Sy navorsing het die volgende resultate opgelewer:

Die eerste sleutelfaktor was ’n diepe toewyding wat die vroeë Christene gehad het aan die “inklusiewe gemeenskap.”  Die mense was verstom oor die liefde wat Christene vir mekaar gehad het.  ’n Liefde wat alle sosiale blokkasies deurbreek het en wat sonder aansiens des persoon aan almal bewys is.

Die tweede was die graad van “diens wat die Christene aan die wyer gemeenskap gelewer het”. Die mense het agtergekom dat die Christene bereid was om vir die weduwees en wese te sorg, mense by te staan met begrafnisse en teenwoordig was in tye van nood.

Die derde faktor wat bygedra het tot die groei van die vroeë kerk, was ’n “eiesoortige lewensstyl.”  Die vroeë Christene het geweier om die wapen op te neem, sekere praktyke en heidense feeste vermy, ’n eenvoudige lewensstyl gehandhaaf en hulle besittings dikwels met mekaar gedeel.

Volgens Kreider was dit veral dié drie dinge wat mense gefassineer het en wat aanleiding gegee het tot die ongekende groei van die kerk.  As Christene is hierdie sleutelfaktore ook vir ons situasie relevant.  Want na 20 eeue is dit steeds nodig dat ons sal bly nadink oor wat dit beteken:

  • Om ’n inklusiewe gemeenskap van gasvrye mense te wees?
  • Om met toewyding deel te neem aan sosiale transformasie, met ander woorde om van ons wêreld ’n beter plek vir almal te maak?
  • Om op ’n alternatiewe manier te leef wat ’n uitdaging is vir die status quo?
Christus gee krag en vernuwing

Wat maak dit vir ons moontlik om met entoesiasme onsself te bly konfronteer met hierdie vrae? Paulus gee vir ons ’n leidraad wanneer hy skryf: “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (20-21)

As gelowiges leef ons nie uit ons eie krag nie.  Ons weet immers hoe broos ons is as ons dit probeer doen.  Ons neem aan hierdie dinge deel met ’n krag wat as ‘t ware vanuit die hemel ons aardse beperkinge deurbreek.  ’n Krag wat in staat is om selfs die mees moeë en stukkende liggaam te vul met nuwe energie.  ’n Krag wat ons die toekoms intrek wanneer ons moedeloos wil raak in die aangesig van die uitdaging.

Staan vas en bly getrou

Paulus het geweet dat dit nie aldag maklik was vir die gelowiges in Filippi nie. Die “vyande van die kruis” het dikwels die oorhand gekry.  Ons ken daardie gevoel.  Daarom help sy woorde nie net die vroegste gelowiges nie, maar ook vir jou en my wanneer hy skryf: “Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle” (4:1).  Volharding en getrouheid is die deugde wat ons moet bly inoefen as ons ’n verskil wil maak.

En dan sluit hy met woorde wat die goue draad van sy brief weer optel: “Julle is my blydskap en my kroon.” Om as mense onder die gewel van die kerk hierdie verantwoordelikhede op ons te neem, is nie ’n sware plig nie. Dit bring blydskap. ’n Blydskap wat kom uit die wete dat ons leefstyl ’n verskil maak aan mense wat leef op die markplein en onder al die ander gewels van die ander geboue.

Was dit nie die Here Jesus self wat gesê het: “. . .wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe?” (Mark 8:35-36).

Kies jou rolmodelle 

Op die pad van geloof het ons almal rolmodelle nodig.  Ons moet hulle daarom met wysheid kies.  Natuurlik volg ons Jesus na.  Maar ons kies ook medegelowiges wat ons kan help op die pad van geloof.  Ons hou hulle dop, volg hulle na, vra hulle raad, leer by hulle, maak ons lewens – veral ons mislukkings – vir hulle oop.  Dit alles doen ons sodat ons ons hemelse burgerskap met die krag wat Christus gee hier op aarde kan uitleef.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Voorganger: Die Here is my Lig en my Redder,
Gemeente:    vir wie sou ek bang wees?

Voorganger: Die Here is my toevlug,
Gemeente:    vir wie sou ek vrees?

Voorganger: Net een ding het ek van die Here gevra:
Gemeente:    dat ek my lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe.

Voorganger: Op die dag van gevaar sal die Here my red
Gemeente:    en ek sal sing tot eer van die Here.

Voorganger:  Luister tog na my, Here, as ek roep,
Gemeente:    wees my genadig en verhoor my gebed.

Voorganger:  U het gesê ons moet U kom dien.
Gemeente:     Ek is hier om U te dien, Here.

Voorganger:  Moet U tog nie verberg en my wegstuur nie.
Gemeente:     U was nog altyd my hulp.

Voorganger:  Moet my tog nie verstoot en verlaat nie.
Gemeente:     U alleen is die God wat my red.

Voorganger:  Al sou my ouers my verlaat,
Gemeente:     die Here sal my onder sy sorg neem.

Voorganger:  Vertrou op die Here!
Gemeente:     Wees sterk en hou goeie moed!

Voorganger:  Ja, vertrou op die Here!

Offergawes

Wegsending: Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.