Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Paulus se hantering van Abraham se verhaal (Rom 4) wys dat beide Jode en nie-Jode op dieselfde gronde vryspraak ontvang: vryspraak deur die geloof alleen. Hierdie geregtigheid deur die geloof is geloof in die getrouheid van God. Hierdie geloofsvertroue word pragtig uitgedruk in die beroemde woorde van Psalm 121. Dit vorm ook die hart van hierdie week se sleutelteks: Joh 3:1-17.

Ander tekste

Genesis 12:1-4a
Die roeping van Abram
12 Die Here het vir Abram gesê:
“Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af
na die land toe
wat Ek vir jou sal aanwys.
2Ek sal jou ’n groot nasie maak,
Ek sal jou seën en jou ’n man
van groot betekenis maak,
en jy moet tot ’n seën wees.
3Ek sal seën wie jou seën,
en hom vervloek wat jou vervloek.
In jou sal al die volke van die aarde
geseën wees.”
4Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek.

Psalm 121
My hulp kom van die Here
121 ’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm,
slaap nooit nie.
4Waarlik, die Beskermer van Israel
sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
5Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan
jou nie kwaad doen nie.
7Die Here sal jou beskerm
teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd.

Romeine 4:1-5, 13-17
Die voorbeeld van Abraham
4 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 4’n Arbeider se loon word nie vir hom as ’n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.

6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:
7“Geseënd is die mense
wie se oortredinge
nie gestraf word nie
en wie se sonde vergewe word.
8Geseënd is die mens vir wie die Here
die sonde nie toereken nie.” 
9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.

Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Fokusteks

Johannes 3:1-17
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”
10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Liturgie

RUS

Toetrede
Lied 519 “Wees stil en weet: Ek is die Heer” of
Vonkk 37 “Ons hou ons oë op Jesus, die Here” of
Flam 376 “Ek kyk op na die berge”

Votum: (Ps. 121 responsories)

Seëngroet

Lofsang:
Flam 16 “Ek kyk op na die berge” of
Lied 509 “Op berge en in dale”

Wet/Genadeverkondiging: Romeine 4:1-5, 13-17

Toe-eiening:
Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad” of
Flam 334 “Want so lief’ of
Vonkk 28 “Ons aanbid U, Jesus Heer”

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:1-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te vêr is” of
Flam 65 “Jesus u Naam is ons vryheidslied” of
Vonkk 104 “Wat ’n vriend het ons in Jesus”

Seën; (William Temple, uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Respons: Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 519 “Wees stil en weet: Ek is die Heer”
Vonkk 37 “Ons hou ons oë op Jesus, die Here
Flam 376 “Ek kyk op na die berge

Votum: (N.a.v. Ps. 121)
Voorganger: Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
Gemeente: My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

V: Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
G: Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.

V: Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.

Seëngroet

Lofsang
Flam 16 “Ek kyk op na die berge”
Lied 509 “Op berge en in dale”

Wet/Genadeverkondiging: Romeine 4:1-5, 13-17

Toe-eiening
Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad”
Flam 334 “Want so lief”
Vonkk 28 “Ons aanbid U, Jesus Heer”

Liedere

VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903; Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musiek: CONVERSE – Charles Crozat Converse 1832-1918 Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

2. As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –
Hy wat van ons swaarkry weet.
Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

3. As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

F65. “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Jesus, u Naam is ons vryheidslied,
ons jubelsang van verlossing.
Die sonde se krag word daardeur verbied,
Jesus, u Naam is ons lied.

2. Jesus, u Naam is ons vreugdefees,
ons blye dans van vervulling.
Ons leef in die lig van die Christusgees,
Jesus, u Naam is ons fees.

3. U Naam is ons vlag en ons banier,
dit spel vir ons vrede.
Dit bring ons die lewe wat ons vier,
daar is geen ander naam bo elke naam gegee.

4. Jesus, u Naam is ons sterwenswins,
ons greep op die ewige lewe.
Die Leeu wat oorwin is die Vredeprins.
Jesus, u Naam is ons wins,
Jesus, u Naam is ons oorlogskreet,
ons vaandel, ons evangelie.
Ons vier die oorwinning, ons almal weet:
Jesus, u Naam is ons kreet.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

F334. “Want So Lief”
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing
(Opgeneem op By die Kruis)

Want so lief,
want so lief het God die wêreld.
Het God die wêreld gehad.
Want so lief
want so lief het God die wêreld,
het God die wêreld gehad.
Dat Hy sy enigste Seun gegee het
en elkeen wat in Hom glo
nie verlore mag gaan (x3)
maar die ewige, die ewige lewe kan hê.

F16. “Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Braam Hanekom © 1993 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge,
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here,
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”
Teks: Oculi nostri – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008 Musiek: Jacques Berthier 192301992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Latyn, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed / Geloof en Vertroue

Ons hou ons oë op Jesus, die Here.
Ons hou ons oë op Jesus, ons Here.

Our eyes are turned to the Lord, Jesus Christ.
Our eyes are turned to the Lord God, our Saviour.

Oculi nostri ad Dominum Jesum,
oculi nostri ad Dominum nostrum.

F376.”Ek Kyk Op Na Die Berge (Ps 121)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Ioannis Dekas © 1996 MAR Gospel Music Publishers

Ek kyk op na die berge, wie is my hulp?
Wie sal keer as ek struikel, my altyd bewaar?
God wat wag hou oor Israel sal nie sluimer of slaap. (x2)
Deur die dag en die nag sal Hy my steeds bewaar.
Heer, ek vertrou op U, want U is my God.
Heer, ek vertrou op U, want U is my God.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:1-17

Familie-oomblik

Verduidelik wat geloof is – jy kan dit moontlik vroeg in die diens al doen.
Help kinders om die verloop van die Skriflesing te volg deur twee lesers te kry – een lees Nikodemus en een lees Jesus. Lees dan net verse 1-12, 16-17. Die voorganger lees die inleiding van verse 1-2.

Jy kan die pragtige “Papa, do you love me?” deur Barbara M Joosse en Barbara Lavallee aankoop. Hier is verskillende opsies. Die verhaal gaan oor ’n Masai seun wat allerhande vreeslike goed beskryf wat hy dalk kan doen en dan vra of sy pa hom nog sal liefhê, terwyl die pa aandring dat hy sy seun altyd sal liefhê.

Preekriglyn

Touched by the Hand of God is ‘n webblad wat wonderverhale vertel. Trouens, God se teenwoordigheid word nie net deur wonderwerke geken nie, sê die blad, maar ook deur deurbrake wat God gee, en deur Goddelike tekens. (“Miracles, Godsends and Divine Signs”)

Die vingerafdrukke van God, gegee met sekure Goddelike tydsberekening, is oral rondom ons, sê die webblad. Op ‘n verrassende manier, sonder dat dit verduidelik kan word, bring God se aksie hoop, vrede en vreugde. Albert Einstein word met instemming aangehaal: “Toeval is God se manier om anoniem te bly.”

Só vertel ene Sharon van New York hoe sy by geleentheid in Suid-Afrika gestrand was as gevolg van ‘n staking deur personeel van die lugdiens waarmee sy huis toe moes vlieg. Oor die weke wat die staking geduur het, het ‘n groot agterstand van passasiers opgebou. Toe die eerste vlugte hervat, gaan staan sy in die lang tou van wagtendes. Haar pa het ernstig oor die saak gebid. Uit die bloute kom haal ‘n lugdienspersoneellid haar uit die tou en laai haar op die vlug. Sy vertel hoe dié wonderwerk haar geloof in God versterk het.

Laurie vertel op dié webblad hoe die dood van haar skoonsuster haar met rou en wroeging oorlaai het. Sy kon kwalik verder. Op ‘n dag staan sy in die ry en wag om ‘n bestelling vir ‘n wegneemete te plaas. Sy leun teen die muur, eintlik te uitgeput om verder te gaan. ‘n Wildvreemde tik haar op die skouer en sê God het haar opdrag gegee om vir Laurie te bid: “God weet hoe moeg jy is, en sal jou versterk met krag.” Dit het inderdaad na dié gebed gebeur. Die gebed van God se gestuurde het die verskil gemaak.

Wonderwerke en geloof

In Johannes 2, die hoofstuk wat ons teksgedeelte voorafgaan, word vertel hoe Jesus water in wyn verander het in Kana. Hierdie wonderwerk is die eerste van sewe waarvan ons in die Johannes-evangelie lees. Dit maak ‘n groot indruk op Jesus se dissipels. Johannes sê: “Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” (Joh. 2:11)

Die belewenis van die heerlikheid van God kan inderdaad mens se geloof aanvuur. Tog is Jesus nie naïef oor geloof en wonder nie. Later in dieselfde hoofstuk 2 word vertel hoe mense tydens sy optrede en wonders by die Paasfees in Jerusalem op grond daarvan tot geloof in Hom kom. Dit wil egter duidelik blyk dat geloof wat op wondertekens gebaseer is, nie standhoudend is nie. Jesus “verlaat” Hom nie op hierdie mense met hul wondergeloof nie (2:23).

Die rede vir hierdie mening word later in die evangelie gegee. In Johannes 6 word vertel van mense wat na die vermeerdering van die brood agter Jesus aanstroom, maar Hom dan “verlaat” wanneer hulle besef wat geloof in die Here Jesus eintlik inhou. Jesus is meer as ‘n Bron van brood en wyn wat die maag vul. Hy kom van God, en vra dat mense Hom volg op die weg van gehoorsaamheid aan God.

Daar sit meer in geloof as bloot tekens en wonders, aldus Johannes 6. Geloof is ‘n geskenk wat van God kom. Jy kan dit nie self opwek nie. God skenk dit op ‘n wonderbaarlike manier aan jou. Dit is dié wonder wat saak maak.

Presies hieroor gaan die gesprek tussen Jesus en Nikodemus.

In die nag

Nikodemus kom in die nag om met Jesus gesprek te voer. Dit kan wees om uit die oog van die Joodse Raad te wees of net bloot om ’n ononderbroke gesprek te hê. Interessant genoeg, kom hy ook gesels oor die wondertekens wat Jesus doen. Hy sit sy kaarte op die tafel, en sê, God moet by Jesus wees, anders sal Hy nie hierdie wondertekens kan doen nie.

Jesus se antwoord is dat niemand die koninkryk van God kan sien, as hy of sy nie anothen gebore word nie. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik, kan twee betekenisse hê: “opnuut” of “van bo”.

  • Dit is uit vers 5 -8 duidelik dat Jesus die woord anothen in die betekenis “van bo” gebruik.
  • Dit is uit Nikodemus se antwoord duidelik dat hy die woord anothen  in die betekenis van “opnuut” verstaan.
Van bo gebore

Jesus se gebruik van anothen wil dus sê, jy kan God en sy koninkryk net sien as jy deur God aangeraak word, as geloof in jou hart deur Hom aangesteek word, as jy kindskap as ’n gawe van Hom ontvang.

Nikodemus is dus verward met Jesus se antwoord, en vra hoe ’n mens “opnuut”, “‘n tweede keer” gebore kan word. Jesus antwoord hom dan dat daar ook ’n geestelike geboorte moet wees:

  • Die eerste geboorte is uit water – menslik (sommige interpreteer dit as die doop, maar vers 6 wys dat die natuurlike geboorte is wat met die water bedoel word).
  • Die tweede geboorte is uit Gees – geestelik. Dit doen die Gees in ’n mens se lewe.

Nikodemus sou moes leer om nie langer “van onder” af oor dinge te dink nie, maar “van bo” af.

God raak die wêreld aan

Nikodemus se volgende vraag: “Hoe is dit moontlik?” dek dan die tafel vir ’n uitgebreide antwoord van Jesus waarin hy uitbrei oor die raakvlakke tussen God se wêreld en die aardse wêreld wat met mekaar in stryd is:

  • die aardse vs die hemelse,
  • die wat glo vs die wat nie glo nie,
  • die verlorenes vs mense wat die ewige lewe kry,
  • veroordeeldes vs gereddes,
  • die lig vs die duisternis.

En die spilpunt waarom alles draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies.

Die liefdeswonder van God

Dit alles word begrond in die liefde van God, die sentrum van die spilpunt, by wyse van spreke. God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis (“verhoog” aan die kruis), omdat Hy ’n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad. Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

Let op hoe Jesus Nikodemus aanspreek oor hulle verskil oor aardse dinge (Jesus verwys hier na hulle verskil oor die woord anothen wat Nikodemus as “opnuut” en Jesus as “van bo” verstaan), wat beteken dat dit byna onmoontlik raak om oor hemelse dinge te praat .

Nikodemus word ‘n dissipel

Die einde van die gesprek word nie vertel nie. Ons lees egter dat Nikodemus hierna vir Jesus opkom in die Joodse Raad (7:50), en die mengsel van mirre en aalwyn bring om Jesus se lyk mee te balsem, voorsien (19:39). Dit maak dit waarskynlik dat hy ’n gelowige word, een van die weiniges uit die skare van wondergelowiges.

Sinisme en ongeloof

Webtuistes soos Touched by the Hand of God is nie die enigste soort geloofsoortuiging wat op die internet gekommunikeer word nie. Nes ons wêreld, wemel die internet ook van sinisme en ongeloof. Daar is mense wat net geïnteresseer is in wat hulle uit hierdie lewe kan kry, en wat in ‘n geslote wêreld leef. Daar is nie ruimte vir ‘n God wat die wêreld in liefde aanraak, wat sy Seun as liefdesgeskenk stuur as getuienis van die wonder van sy liefde vir die wêreld nie.

Wonderwerke, of die gebrek daaraan, word dan as bewys gebruik om aan te toon dat God nie bestaan nie, of dat ons net materie is en net hierdie wêreld en hierdie lewe het. Daar is geen “van bo” moontlik nie, net soos daar geen “hierna” is nie.

Uit liefde vir die ongelowige

Dis nie ons taak om die siniese mens en die ongelowige te veroordeel nie. Soos God, moet ons in liefde reageer.

Dit is immers vir daardie sinisme en daardie ongeloof dat God sy Seun gestuur het, en die boodskap van Jesus die Here aan die kerk toevertrou het. Diegene wat op die wonderbaarlike geboorte “van bo” – wat Jesus skenk – gereageer het, moet hoor: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.” (Joh. 20:21).

Dit is vir hierdie sinisme en ongeloof dat Jesus vandag steeds deur sy Woord en Gees aan mense verskyn, soos aan die ongelowige en hulle deur die getuienis van sy kerk verbind aan sy wonde, ter wille van ons.

Net soos dit vir hierdie sinisme en ongeloof is dat Johannes sy evangelie geskryf het:

Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
(Joh. 20:30-31)

Ons lewens, waardeur ons die woorde en dade van en oor Jesus ons woorde en dade laat stempel, word die tekens van God waardeur nuwe lewe vir ander moontlik word.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te vêr is”
Vonkk 104“Wat ’n vriend het ons in Jesus”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(William Temple, uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Respons
Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.