Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week neem ons ‘n tree verder op die verbondspad. Die Ou-Testamentiese teks verhaal die verbond met Abraham. En word gevolg deur die teks uit Romeine wat bevestig Abraham is deur geloof vrygespreek. Die karakter van die verbond berus op geloof en nie “wet” nie.

Psalm 22:23-31 is ‘n loflied vir God se verbondstrou wat Hom nie terugtrek van die nood van die hulpelose nie. Dele van die aangewese deel uit Psalm 22 kan by verskeie geleenthede in die liturgie gebruik word om die gedagte oor die trou van God deurentyd voor oë te hou.

In die sleutelteks kom ons by Petrus se reaksie op Jesus se aankondiging van sy lyding sterwe en opstanding – neem jou kruis op en volg Jesus.

Ander tekste

Genesis 17: 1-7, 15-16
Die besnydenis as verbonsteken
17 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!
2Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense
uit jou laat voortkom.”
3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees
van ’n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram
genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader
van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.
7“Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.
8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ’n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”
9Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond. 14Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”

15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou ’n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”

17Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ’n man van honderd ’n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ’n kind in die wêreld bring?
18En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”
19Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak jnoem. Ek sal my verbond met hom hou as ’n blywende verbond, en ook met sy nageslag. 20Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom ’n groot nasie laat word. 21Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”

22Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.
23Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het. 24Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25en sy seun Ismael dertien. 26Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny. 27Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

Psalm 22:23-31
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Romeine 4:13-25
Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” qDít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” r19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Fokusteks

Markus 8:31-38
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

9 Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 247 of Vonkk 152 of Vonkk 11 of Flam 7 refrein

Terwyl kers aangesteek word

Votum: Psalm 22:23-31

Sang: Psalm 22 of F207.

Verootmoediging: Romeine 4:13-15

Sang: Lied 395 of VONKK 28

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed
Skriflesing
Familie-oomblik

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 378 of VONKK 55 of F208.

Seën
Respons Lied 379 (Oorweeg om dit die hele lydenstyd as respons te sing)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 247 of
Vonkk 152 of
Vonkk 11 of
Flam 7 refrein

Terwyl kers aangesteek word

Votum: Psalm 22:23-31

Sang
Psalm 22 of
F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer

Verootmoediging: Romeine 4:13-15

Sang
Lied 395 of
VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in God – God die Seun.
Voorganger: Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf  om die vloek van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.
Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Gemeente: Ek glo in God — God die Heilige Gees.
Voorganger: Ek glo dat Hy dit wat Jesus vir my verwerf het waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en my verseker van die verlossing (uit die “Heidelbergse Kategismus”).
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Liedere

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd) Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en musiek: Mark Altrogge Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace PraiseCCLI Song No. 24047; CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid.
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam: “Kom na My”.

Vir ewig is ek dankbaar, o, Heer,
dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra.
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig”
Teks: Jannie Hougaard 2003 © nav Kyrie eleison
Melodie: MINKIE-ANNE – Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.

Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

VONKK 152 “Heer, ontferm / Kyrie”
Teks: Kyrie eleison 1 – Taizé; Afrikaanse weergawe: VONKK werkgroep 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik
© 2010 VONKK Uitgewers (Admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Heer, ontferm, Heer, ontferm U tog oor my.
Heer, ontferm, Heer, ontferm U tog oor my.

Kyrie, kyrie eleison.
Kyrie, kyrie eleison.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks: Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 8:31-38

Familie-oomblik

Gebruik die boek of fliek van “Horton Hears a Who” deur Dr Seuss.

Wanneer Horton besef daar woon mense op die stoffie, doen hy alles in sy vermoë om hulle t help.  Hy offer sy reputasie ter wille van ander en waag selfs sy lewe om ander te red.   Hy verloën homself, soos die teks sê.

Wanneer Jesus ons vra om hom te volg, vra hy dit ook ter wille van ander:  sodat ander mense kan ontdek dat Jesus lief is vir hulle.  Soms beteken dit dat mense ons spot of uitsluit [dalk kan jy hier voorbeelde gebruik wat gepas is vir die kinders in jul gemeenskap], maar ons doen dit omdat ons vir Jesus én die mense wat hom nie ken nie, lief het.

Preekriglyn

Mense se siening oor sukses kan nogal wyd uiteenloop. ‘n Studie van die Success-tydskrif in die VSA in 2006 bevind 60% van respondente meen ‘n sakeonderneming is net ‘n sukses as dit waarde tot die lewe van ander toevoeg. Slegs vir 18.8% was sukses om “‘n klomp geld te maak.”

Op die vraag, “Wat is die enkele, mees belangrike element vir sukses,” het mense gesê:

  • Geloof – 41%
  • Familie – 25.5%
  • ‘n Gebalanseerde lewe – 11.7%
  • ‘n Gelukkige lewe – 7.3%

Nog ‘n vraag was: Wat is die mees belangrike bydraende faktore tot sukses:

  • ‘n Goeie verhouding met familie – 89.9%
  • ‘n Goeie verhoudings met jou huweliksmaat – 89.6%
  • ‘n Goeie verhouding met God – 86%
  • Die vryheid om te doen wat jy wil – 61.7%
  • Finansiële sekuriteit – 57.5%
  • ‘n Goeie loopbaan – 47.1%
  • Geld en rykdom – 32.3%
Lyding

Al hierdie elemente en faktore maak sin. Dit is die soort van goed wat geen mens ‘n ander ontsê nie. Groot dele van die opvoedingsproses, en die Christelike onderrig wat ouers en kerk kinders gee, het te doen met die vaardighede om goeie verhoudinge te vestig – met God, huweliksmaat, gesin, familie, kollegas by die werk, en mense van die omgewing.

Teen hierdie agtergrond is dit so verrassend dat Jesus sy projek om die wêreld te transformeer, die vestiging van die regering van God, verbind met lyding en dood:

Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. (31-32)

Petrus weet dadelik dat lyding en dood nie ‘n goeie faktor vir sukses is as mens ‘n nuwe geloofsgemeenskap op die been probeer bring nie. Hy neem Jesus opsy om Hom te berispe, maar loop self berisping op die lyf:

“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Jesus gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.” (33)

Petrus het nie Success-magazine se navorsingsresultate hierbo gehad nie. Maar hy ken mense.

Verloën en kruis opneem

Jesus gaan egter verder. Asof Jesus se eie lyding en dood nie genoeg is nie, beklemtoon Hy ook lyding as die lot van diegene wat kies om Hom te volg:

Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.
Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?
Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.” (34-38)

Wie sien hiervoor kans?

MTD

In ‘n omvattende ondersoek oor hoe Amerikaanse jongmense oor God en die wêreld dink, gepubliseer in die boek Soul searching word bevind dat daar ‘n gemeenskaplike “teologie” by Amerikaanse jongmense aanwesig is. Dit kan as volg opgesom word, vertel Todd Billings in sy uitstekende boek, Union with Christ:

  • Daar bestaan ‘n God wat die wêreld geskep en georden het, en wat die wag hou oor menslike lewe op aarde.
  • God wil hê mense moet goed en gaaf en regverdig teenoor mekaar wees, soos die Bybel en trouens die meeste wêreldgodsdienste leer.
  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en goed oor jouself te voel.
  • God hoef nie besonder betrokke in mens se lewe te wees nie, behalwe wanneer jy God nodig het om ‘n probleem op te los.
  • Goeie mense gaan hemel toe wanneer hulle sterf.

Hierdie godsdienstige beskouing staan as MTD bekend: Moralistiese Terapeutiese Deïsme:

  • Deïsme (mtD) is ‘n Godsbeeld wat erken dat God geskep het, maar wat glo God is nou ver, op die agtergrond, behalwe wanneer God nodig is om ‘n probleem op te los. Terwyl sommige Christene sal sê God het sy Seun gegee om vir ons te ly en te sterwe, word hierdie gebeure op die agtergrond gedwing. Die rede is dat mense nie meer glo ons het ‘n Middelaar nodig wat vanweë ons sonde versoening tussen ons en God bring nie.
  • Terapeuties (mTd): die doel van God is nie langer om ons vervreemding van God en mekaar te herstel nie. Godsdiens is daar om ons gelukkig en goed oor onsself te laat voel. Hoe maak godsdiens ons gelukkig? Dit help ons om goeie keuses te maak.
  • Moralisties (Mtd): Godsdiens help ons om goeie keuses te maak, want God wil hê mense moet goed, regverdig en en gaaf wees. Godsdiens is ‘n oefening in moralisme.

Hier is geen sprake van ‘n heilige God wat genade op sondaars uitstort nie. Niemand hoef deur lyding en sterwe heil vir ander te bewerk nie. Hoekom nie? Want mense is basies goed en sal reguit hemel toe gaan as hulle volgens die reëls lewe. Ons is nie van God vervreem nie. Ons is OK.

Mens voel dadelik aan dat hierdie oortuigings ook wyd in Suid-Afrika posvat – nie net onder jongmense nie, maar ook onder volwassenes.

Onvermoë tot verbintenis

In ‘n belangrike opvolgstudie van Soul Searching, getiteld Souls in transition, word die godsdienstige oortuiging van jong volwassenes in die VSA ondersoek. Hierdie studie bevind ‘n diepliggend identiteitskrisis by Amerikaanse jong volwassenes. Hulle het ‘n behoefte om ‘n diep verbintenis aan iets groter as hulself te maak, maar word deur kulturele kragte daarvan weerhou.

Die Amerikaanse kultuur dring daarop aan dat alle godsdienste gelyk is, dat godsdiens net ‘n privaat mening sonder enige algemene waarheid is, en dat mens versigtig moet wees om diep verbintenisse aan te gaan. Jy moet jou opsies oophou. Anders bring godsdiens jou selfvervulling in gedrang.

Weer eens herken mens hierin algemeen-verspreide menings wat jy elke dag in Suid-Afrika op jou facebookmuur lees. Godsdiens is moreel en terapeuties met ‘n veraf God wat geen aansprake maak nie, maar wat graag help as dinge dalk taai raak.

‘n Diep verbintenis

Die eerste lesers van die Markus-evangelie ly ter wille van hulle geloof. Dalk is hulle in Rome waar Nero besig is om Christene intens te vervolg, of dalk beleef hulle die onweerswolke van die Romeinse verwoesting in Palestina en die val van Jerusalem.

Hulle worstel met die verbintenis wat Christus van hulle vra.

Markus beklemtoon in sy evangelie eerstens die diep verbintenis wat God in Christus tot ons maak. Christus word mens, plaas sy skouer onder ons sonde en lyding in by sy doop, en dra ons laste. Ons diepste krisis is ons vervreemding van God en ons weerloosheid teen die vernietigende boosheid wat welig tier. God gee Godself egter in Christus om vir ons bevryding te bring. God kom tot by ons, God word een van ons, uitgesonder die sonde, om vir ons verlossing te bring.

Ter wille van ons verbind Christus Hom tot lyding en sterwe. Daaroor praat Jesus reguit met die dissipels. Tweedens vra Hy ook ‘n sterk verbintenis van hulle. Ter wille van die genesing van die wêreld, en God se nuwe toekoms, moet die dissipels hulself ook verbind tot diens vir die beswil van die wêreld.

Van so ‘n Messias hou Petrus nie.

Wat mense wil hê

Ons sien in Petrus se reaksie op Jesus se aankondiging hoe mense dink, wat mense wil hê. Die mense verwag van die Messias, die Gesalfde van God, om ‘n oorwinnaar te wees. Hy is immers ‘n koning. Hy moet Israel verlos van die Romeinse oorheersing en ‘n nuwe aardse koninkryk stig.

Ons sien in Petrus die tipiese reaksie van hulle wat inderdaad die dinge van die mense bedink en daarom Jesus se identiteit, taak en lot nie kan begryp of aanvaar nie.

Wat God wil hê

Daarteenoor kom sê Jesus dat dit wat God wil hê, die teenoorgestelde is. Hy praat reguit met hulle, in verstaanbare taal, nie meer deur gelykenisse nie en sê dat Hy verwerp en doodgemaak moet word. Uit Petrus se reaksie sien ons dat Jesus se voorspelling dat Hy uit die dood gaan opstaan, nie mooi gehoor is nie. Dit het weggeraak agter die voorspelling van sy lyding.

Jesus noem Homself die “Seun van die mens”. Dit wys daarna dat Hy wel ‘n Koning is, maar ‘n Koning wat gekom het om te dien, ‘n Koning wat moet ly. Dit is immers oor ons sonde dat Hy na die wêreld toe gekom het, om deur sy lyding vir ons met God te versoen. Hy moes die straf dra wat vir ons vrede kan bring.

‘n Bloeddorstige God?

Wanneer Jesus in vers 31 aankondig dat die Seun van die mens baie moet lei, druk die woord “moet” ‘n byna goddelike noodwendigheid uit. Baie Christene neem aanstoot aan die noodsaak van Christus se lyding, want dit skep die indruk dat God bloeddorstig en wraaksugtig is, en die onskuldige Christus se bloed eis om satisfaksie vir sy absolute eis tot geregtigheid te kry.

NT Wright, in sy boek Simply good news, voer aan dat hierdie beeld van God eintlik heidens in oorsprong is. Die bloeddorstige beeld van God, as verklaring vir Jesus se lyding, is nie te rym met die Bybelse God nie, sê Wright. Dit is jammer dat daar Christene is wat hierdie soort godheid verkondig.

Die God van die Bybel is soewerein, heilig, die Skepper, liefdevol en betroubaar. Aangesien Hy God is, is dit nie ons primêre taak om Hom te probeer analiseer nie, maar Hom te dien. Ons taak is nie om Hom uit te pluis nie, maar om Hom toe te laat om ons uit te pluis.

Hierdie God pluis inderdaad ons wêreld uit en genees dit. Ons sien sy bedoeling in Jesus se bediening, skryf Wright. Jesus verduidelik nêrens die pyn en hartseer van die wêreld nie. Hy kom waar die pyn die ergste is en neem dit op Homself. Hy verduidelik nie waarom daar lyding, siekte en dood in die wêreld is nie. Hy bring genesing en hoop. Hy maak die probleem van boosheid nie die onderwerp vir ‘n akademiese lesing nie. Hy laat dit toe om Hom ten volle te tref. Hy put die magte van lyding en boosheid uit, Hy dreineer die mag en geweld daarvan weg, Hy kom te voorskyn met nuwe lewe anderkant die volle aanslag van die bose. So word sonde en boosheid oorwin.

Dat Jesus moet ly, dui nie op ‘n bloeddorstige wraaksug by God nie, maar op God se versugting na heil en genesing vir die gebroke wêreld.

God as regter

NT Wright wys ook daarop dat God deur Jesus se lyding en sterwe oordeel oor boosheid, onreg en sonde. Wat doen God as God verwerp word? God se liefde, wanneer dit verwerp word, oorkom die verwerping deur meer en meer liefde. Daarom is Jesus se lyding en sterwe die openbaring van God se liefde, waardeur sonde en dood veroordeel en oorwin word. Só kom daar genesing vir die skepping.

Verbintenis gevra

Petrus hulle het natuurlik geweet dat as hulle Here moet ly, gaan hulle wat sy navolgers is ook op een of ander manier geraak word deur wat met Hom gebeur. Inherent is hier dus ook onbegrip of weerstand teen die lydensweg wat die dissipels sal moet loop. Dit is tipies wat mense sal wil hê.

In Markus 9:34 praat die dissipels immers oor wie van hulle die belangrikste is. In Markus 10:37 vra Jakobus en Johannes vir Jesus: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Wat die mens bedink, is om die grootste en die sterkste te wil wees, om oor ander te heers.

Daarteenoor kom sê Jesus dat God die teenoorgestelde wil hê. Jesus leer die dissipels en die menigte: daar is ‘n prys om te betaal vir dissipelskap. Navolging van Jesus vra om die self te verloën, die kruis op te neem en Jesus te volg (tot die bereidheid om te sterf).

As ons onsself verloën, met Jesus se lyding en dood identifiseer en Hom gehoorsaam volg, sal ons, vanuit menslike oogpunt, onsself verloor, maar vanuit God se perspektief sal ons juis onsself wen. Ons sal al meer soos Christus word en ons unieke identiteit in Christus vind. Baie wat Hom gevolg het oor die wonderwerke, sal nie kans sien vir dié prys nie.

Deur ons lewe te gee in diens van ander, deur deel te neem aan die uitstorting van God se liefde oor die wêreld, verkry ons alles wat die lewe die moeite werd maak. Selfs al kos hierdie verbintenis ons lewe.

Stryd

Die Markusevangelie verhaal heelwat positiewe dinge oor die dissipels, soos dat hulle hulle alledaagse lewe gelos en Jesus gevolg het. Markus wys egter ook op die dissipels se mislukkings, onbegrip en blindheid, soos die geval met Petrus hier. Petrus is hier die verteenwoordiger van die dissipels. Die dissipels se optrede is ambivalent of dubbelsinnig, hulle swaai heen en weer tussen wat God wil hê en wat mense wil hê. Dit is presies hoe dit met ons ook gaan. Petrus se optrede is ‘n spieëlbeeld van onsself. In ons lewe is daar ook ‘n stryd tussen dit wat God wil hê en dit wat ons as mense wil hê.

Dit is spesifiek hierdie diep verbintenis aan Jesus wat ons Westerse kultuur so nodig het. Jesus, die lydende Kneg, wat ons verhouding met God herstel, is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Slegs wie sy of haar lewe volledig verbind aan hierdie Jesus, vind die bestemming en identiteit wat God vir ons bedoel het. Slegs wie hulle lewe verloor in God se diens, sal dit verkry.

Kruisteologie

Moralistiese, terapeutiese deïsme is ‘n leuen. Dis ‘n teologie wat alles maklik maak en sukses met ‘n paar eenvoudige stappe en menslike faktore waarborg. Dit is ‘n oorwinningsteologie wat aan heerlikheid sonder lyding vashou. Dit het nie werklik begrip vir die sentrale rol wat lyding in Jesus se lewe en in die dissipels se lewe speel nie.

Hierdie skrifgedeelte waarsku ons om nie op hierdie wyse op die evangelie te reageer nie. Dit is volgens wat mense wil hê. Christus roep ons op tot ‘n “kruisteologie” (lyding wat verander in heerlikheid). Hy vra van ons dissipelskap, selfverloëning, kruis dra. Ons moet leer om soos Jesus te dink, om te dink aan wat God wil hê. Dit sal altyd ‘n stryd wees, met tye van mislukking en misverstand, asook tye wat ons daarin slaag om te dien soos Jesus, selfs met ons lewe as dit moet.

Alleen so sal ons al meer die nuwe mens word wat God wil hê ons moet wees, die nuwe mens waarvoor Christus gesterf en opgestaan het. God se weg gaan deur die dood heen tot die heerlikheid van die opstanding waarin ons ook deel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 378 of
VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Hetof
F208. “U Het Nie Gewag Op My”

Seën
Die Here het Homself weer opnuut aan ons gegee hier aan tafel, dink daaraan dat ons nou weer die barmhartigheid wat God aan ons bewys het moet gaan vier. Die nagmaal stuur ons noodgedwonge na die mense wat in nood is en gebrek ly.

Die Here wat die Brood en Wyn is, gaan jou nou seën. Kyk mooi na die voorganger se hande die palms wys na onder. Die seën is nie net ’n stukkie brood en slukkie wyn wat die Here vir jou gee nie. Dit is ’n opdrag wat Hy op jou lê, om ’n seën vir ander te gaan wees. Om brood vir ander te gaan gee.
Die Here sal jou seën en jou beskerm;
die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees;
die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.
Amen.
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Respons
Lied 379 (Oorweeg om dit die hele lydenstyd as respons te sing)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.