Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die Sondag word Reminiscere (“Gedenk”) genoem na aanleiding van Psalm 25:6 “Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.”

Die Here betree getrou die Lydensweg na Jerusalem, waar Hy sal sterf. Hy wou sy trou aan hulle bewys, maar hulle slaan nie ag daarop nie (Luk 13:31-35). Die Here bevestig sy trou aan Abraham met ʼn verbond. Hy bly getrou aan sy beloftes (Gen 15:1-12, 17-18). Vind by die Here ʼn veilige skuilplek selfs wanneer jy bedreig word (Ps 27). Staan vas en bly getrou aan die Here
(Fil 3:17-4:1).

Ander tekste

Genesis 15:1-12, 17-18
Die Here sluit ’n verbond met Abram
15 Hierna het die woord van die Here
in ’n gesig tot Abram gekom:
“Moenie bang wees nie, Abram,
Ek beskerm jou!
Jou beloning sal baie groot wees.”
2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
3Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”
4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”
5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”
6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.
7Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”
8Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”
9Toe beveel die Here hom: “Bring vir my ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.”
10Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.

12Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig.

13Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15Jy sal in vrede sterf en op ’n hoë ouderdom begrawe word. 16Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

18Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê:
“Aan jou nageslag gee Ek
hierdie land,
van Egiptespruit af
tot by die Eufraat,
die groot rivier;
19die land van die Keniete,
die Kenissiete
en die Kadmoniete,
20die Hetiete, die Feresiete
en die Refaïete,
21die Amoriete, die Kanaäniete,
die Girgasiete en die Jebusiete.”

Psalm 27
Die Here is my lig en my redder
27 Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
2As misdadigers op my afstorm
om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.
10Al sou my vader en my moeder
my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn
van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my en
hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die
goedheid van die Here sal sien in
die land van die lewendes nie…!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Filippense 3:17-4:1
17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Fokusteks

Lukas 13:31-35
Klag oor Jerusalem
(Matt 23:37–39)
31Op daardie selfde oomblik het ‘n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na ‘n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”

32Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’ 33In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ‘n profeet op ‘n ander plek as Jerusalem omkom.

34“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”

Ekstra stof

Waar Jesus se bediening in hoofstuk 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland  van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”.  Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31).  Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk.  En dit kan Hy net in Jerusalem doen.

Ná Lukas in die eerste deel, hfst. 9:51-11:54, gefokus het op God en die naaste, fokus hy heel gepas op God se sorg vir sy dissipels in dié proses.

Lukas 12:1-13:35 – God sorg vir sy kinders in gevaar
Met ‘n groeiende skare wat om Jesus saamdrom waarsku Jesus nou die dissipels teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs wat hulle ware self wegsteek agter uiterlike vertoon.

Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.

In twee gelykenisse skilder Jesus eerstens aan die skare die dwaasheid van ‘n gejaag na geld en nie na God toe nie (gelykenis van die ryk dwaas – 12:13-21).  In die tweede plek rig Hy Hom weer tot die dissipels en lê klem op God se sorg (gelykenis van die lelies van die veld – 12:22-34, geleen uit Matteus se weergawe van die Bergrede), waarskynlik omdat vrae hieroor by hulle sou opgekom, veral omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg.

Hy vervolg met ‘n oproep tot waaksaamheid in die gelykenis van die waaksame slaaf (12:35-48) sowel as ‘n uitspel van die onvermydelike konflik wat sal kom weens hulle getrouheid aan Hom (12:49-53).

Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus se oproep aan die skare om die tekens van die tye te beoordeel  (12:54-56) en self te besluit wat die regte ding is om te doen (12:57-59) wat waarskynlik terugverwys na die persoon wat in 12:13 gevra het dat Jesus regter speel in erfsake, maar ook breër kon gewees het na die verskil tussen Sy lering en dié van die Fariseërs.

Dié interpretasie word versterk deur die sterk appèl wat Jesus aan die skare rig om hulle te bekeer tot God (13:1-5) en vrugte te dra wat daarby pas, anders sal hulle soos ‘n onvrugbare vyeboom uitgekap word (13:6-9).

Jesus vat weer die Joodse leiers aan oor hulle interpretasie van wat mag en wat mag nie op ‘n sabbatdag, deur ‘n vrou op die sabbatdag te genees, tot skaamte van sy teëstanders, en tot blydskap onder die skare (13:10-17).  Daarmee illustreer Jesus die krag van die koninkryk wat nie ingeperk kan word deur die stiksienigheid van die leiers nie, soos mosterdsaadjies en suurdeeg ook ‘n impak het baie groter as hulle fisiese grootte (13:18-21 – gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg).

Dit beteken ook dat die krag van die koninkryk van God se werk afhang, en nie van die werk van mense wat probeer om uit eie krag dit te beërwe nie.  Daarvoor is die deur daarheen te smal (13:22-30)!  Dit is net dié wat deur God self aangeraak word, wat die pad sal vind daarheen.

Hoofstuk 13 sluit met ‘n interessante tussenspel af, waar sommige van die Fariseërs Jesus wil waarsku oor Herodes se aggressie (in kontras met sy onsekerheid in 9:7-9), en Jesus sy heerskappy bevestig deur die tyd en plek van sy dood op sy eie terme te kies (13:31-35).

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 318 of Lied 163

Votum: (n.a.v. Psalm 27:1–14)
Stilte / kers

Seëngroet: (Ps 27:14)
of die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16

Respons: Lied 272

Wet: Matteus 22

Skuldbelydenis: VONKK 28 of Flam 75 of Lied 379

Bemoediging / Vermaning: Filippense 4:1a

Toewyding: VONKK 14 of Flam 207 of Lied 384

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53

Lofsang: Lied 385

HOOR

Gebed

Skrifslesing: Lukas 13:31-35

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 55 of Lied 280

Seën

Respons
Lied 280 vers twee laaste twee reëls of Vonkk 55 vers twee laaste twee reëls.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 318 Nader Tot Die Here
Lied 163 “Soos ‘n Wildsbok”

Votum
(n.a.v. Psalm 27:1–14)
Liturg:  Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?
Gemeente:  Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?

Liturg: Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag:
Gemeente: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. 
Liturg: ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring, ek sal ’n lied sing, ek sal sing tot die eer van die Here terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.

Gemeente: Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed.
Liturg: Ek onthou wat U gesê het: “Julle moet My kom dien!”

Gemeente: Ek is hier om U te dien, Here.
Liturg: Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red. Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

Stilte 
As julle elke Sondag tydens Lydenstyd ‘n kers aansteek of doodblaas, kan dit hier gedoen word.  So-nie is hier net ruim tyd vir stilte.

Seëngroet: (Ps 27:14)
Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!
**** of die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees 2015-16

Aanvangswoord en seëngroet
Voorganger: Mag God die Vader,
wat ʼn gebroke gees nie verag nie,
jou ʼn verslae hart gee.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag Christus
wat ons sonde aan die kruis gedra het
vir jou genesing bring deur sy wonde.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag die Heilige Gees
wat ons in die volle waarheid lei woorde van vergifnis en vrede tot jou spreek.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Die Here ontvang jou met deernis
in sy teenwoordigheid.
Gemeente: U alleen wil ek aanbid en eer.

Respons
Lied 272 “Stuur nou u lig”
[Die lofsang is eers ná die geloofsbelydenis.  Die gemeente kan gerus bly sit vir alle liedere en eers by die lofsang staan, om sodoende ook liggaamlik die lewe, hoop en bevryding te simboliseer.]

Wet: Matteus 22
Een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis
VONKK 28 Ons Aanbid U, Jesus Heer of
Flam 75 Jesus, Rots Vir My Geslaan of
Lied 379 “Jesus Christus, Lam van God”

Bemoediging / Vermaning: Filippense 4:1a
Staan vas en bly getrou aan die Here.

Toewyding
VONKK 14 Hy Het Self Ons Sondes of
Flam 207 U Het U Heerlikheid, O Heer
Lied 384 “Jesus, o dink aan my”

Geloofsbelydenis ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
(Gebruik dieselfde Powerpoint as verlede week vir bogenoemde geloofsbelydenis.

Lofsang
Lied 385 “Loof, loof die Here, dis volbring”

Liedere

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede) Teks en musiek: Neil Büchner © Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.

2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.
U is naby aan ons Here.
Ons nader tot die Here.

F75. “Jesus, Rots Vir My Geslaan”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Skuldbelydenis) Oorspronklik: Meine Hoffnung Stehet Feste (1680) Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 239)  Musiek: Elmarie Wiesner © Urial Publishing

1. Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
Laat u lyding sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en -mag.

2. En ek self – wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
En ek self, wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei –
nog gebede, nog geween,
kan my red, Heer, U alleen.

3. Leeg, net my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Leeg, net my sondelas
Hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was, my Heiland, maak my rein!

4. Heer, my Rots bo almal groot
Staan U vas in elke nood.
Heer, my Rots bo almal groot
Staan u vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes “
1 Petrus 2:24 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: JOANIE – Francé Ludik 2003 © © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.  Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks: Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers © Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skrifslesing: Lukas 13:31-35

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

In vandag se skrifgedeelte is Jesus hartseer oor mense wat hom nie wil volg nie.  Hy beskryf sy liefde vir hulle soos ‘n moederhen se liefde.  As jy dit betyds in die hande kan kry, kan jy die verhaal vertel van “Five little chicks” deur Nancy Tafuri. Dit gaan oor ‘n moederhen wat 5 kuikens kry.  Hulle is honger en soek kos.  Moederhen sorg vir hulle deur vir hulle te wys waar en hoe om te skrop vir kos.  In die aand vat sy  hulle veilig na die hoenderhok en hou hulle onder haar vlerke (‘n paar van die bladsye kan gesien word hier.)

Of vertel self hoe ‘n hen op haar eiers lê, hoe sy na die kuikens omsien.  Enige google soektog gaan vinnig vir jou pragtige foto’s gee van hoenderhenne met kuiekens onder haar vlerke.  (Of google “jacana chicks wings” vir die koddigste foto’s van ‘n grootlangtoon met haar kuikens onder haar vlerke, soos hierdie een)

Jy kan die hen vergelyk met die kinders se mammas wat hulle vashou in haar arms en dan verduidelik dat Jesus ook só lief is vir ons.

Preekriglyn

Wie beheer ons wêreld en ons toekoms? Verskillende mense beantwoord hierdie vraag op verskillende maniere. Soms laat dit mens glimlag.

In 1797 het predikante in die VSA skielik begin waarsku teen die Illuminati, volgens hulle ‘n geheime organisasie van vrydenkers. Van die preekstoele het waarskuwings weerklink oor aanvalle wat die Illuminati teen die VSA beplan, met onder andere ‘n soort tee wat aborsies gaan veroorsaak, en ‘n geheime manier om slaapkamers met gasse te besmet wat peste dra.

Die volgende golf van sameswering-teorieë in die VSA het in 1835 gebreek. Toe was dit die Pous wat die wêreld probeer beheer. Die Pous het glo vermomde Jesuïete oor die hele Amerika versprei om die land oor te neem, met behulp van “onnatuurlike” nonne (wat dit ook al is).

Nader aan ons tyd is in 1958 vermoed President Eisenhower het ‘n kommunistiese agent geword, en dat hy – saam met ‘n Russiese kolonel by die Verenigde Nasies die VSA vir Rusland gaan oorneem.

Vandag is dit Donald Trump wat dink Amerika sal veiliger wees as alle Moslems en Meksikane (met wie hy graag eiendomstransaksies aangaan) uit die land gesit kan word. En intussen bly die Rockefellers, Bush-familie en Rothchilds deurloop.

Wie beheer die wêreld?

Sommige mense se antwoorde is meer subtiel as die banale teorieë oor sameswering. Vir baie is dit ekonomiese werklikhede: die rentekoers, repokoers, opbrengskoers, wisselkoers, kommoditeitspryse, aandelemark, en so meer.

Vir ander is politici volledig in beheer. Dinge kan slegs verbeter as politieke mag gebreek word en nuwe, revolusionêre magte in beheer geplaas word.

Wat is jou antwoord? My antwoord? Ons antwoord?

Lydenstyd is ‘n tyd vir stilte en nadenke. Na die uitbundige Adventstyd, die Somerkersfees, vakansie, die lang aande van die somermaande met die blye tyd van epifanie, word dit nou tyd om meer nadenkend te wees. Kom ons dink na: Wie beheer die wêreld?

In ons teks

In Lukas 13:31-35 gee Jesus ‘n lewende antwoord op hierdie vrae in terme van die uitdagings en struikelblokke waarmee Hy gekonfronteer is. Hoewel sy situasie uniek was, gee dit ons ook baie stof tot nadenke vir ons eie verstaan van hoe om ons lewe te leef.

Jesus is besig om met mense oor God en sy koninkryk te praat wanneer ‘n groep Fariseërs Hom kom waarsku dat sy lewe in gevaar was. Herodes, ‘n koning met werklike mag oor lewe en dood was op sy spoor.

Vers 31: “U moet padgee  . . . want Herodes wil u doodmaak.” Op die oog af is die Fariseërs besorg oor Jesus se welstand. Herodes Antipas, die seun van Herodes die Grote, was die tipe persoon wat nie sou skroom om ‘n moontlike opponent te elimineer nie. Het Jesus nie voortdurend verwys na ‘n ander koninkryk en koning nie? Die Fariseërs se waarskuwing was dus nie ‘n leuen nie, maar ‘n wesenlike gevaar. Dalk wou die Fariseërs boonop eerder vrees vir die dreigement gebruik as ‘n manier om Jesus in ‘n strik te lei of om Hom uit die area te laat vlug.

Jesus antwoord in vers 31: “Gaan sê vir daardie jakkals.” Wat ook al die motivering vir die waarskuwing was, Jesus toon geen vrees nie. Hy weet in wie se hande sy lewe en sterwe was en dit was beslis nie in Herodes s’n nie. As Hy Herodes ‘n jakkals noem, kan dit na sy slinksheid of vernietigende karakter verwys. Beide was ‘n raak beskrywing van hierdie koning.

Ontsteltenis verbode

Jesus laat nie toe dat hierdie nuus Hom ontstel nie. Inteendeel, Hy gebruik dit as ‘n geleentheid om duidelik te maak wie werklik in beheer is, nie net van sy lewe nie, maar van die hele volk, Israel se nabye en verre toekoms.

In sy antwoord op Herodes se dreigement kom die volgende baie duidelik uit:
1. Jesus is oortuig dat God in beheer van die wêreld is. Dit maak dat Hy sonder vrees op koers bly.
2. Jesus bly, ten spyte van die wesenlike dreigement, aktief besig met die werk wat God Hom gegee het om te doen.
3. Jesus gaan ‘n moeilike toekoms vasberade tegemoet, omdat Hy God se plan vir sy lewe ken en vasberade is om dit deur te sien.

God is in beheer

Jesus is gedryf nie deur vrees nie, maar passie om God se wil te doen. God se wil is om Jerusalem, om mense wat soos skape sonder ‘n herder is, bymekaar te maak en te versorg. God se wil is deurslaggend, God is in beheer, God bepaal die toekoms, en daarom wou Jesus sy Vader gehoorsaam.

Vandaar Jesus se woorde in vers 34: “Jerusalem, Jerusalem! . . . hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke.”

Paul Isaak beskryf die gevoel van hierdie sin treffend: “In this verse we can hear the heartbreak of God! We cannot read it without seeing God’s tears and hearing God’s love for this city.”

‘n Ander teoloog sê ons het hier ‘n teer portret van God se moederlike liefde. God begeer om God se volk lief te hê en te beskerm. In die psalms word dikwels poëties geskryf oor hoe God se volgelinge skuil in die skadu van sy vlerke en daar rus vind. Hier roep Jesus uit hoe dit sy begeerte was dat die Jode sy “beskermende vlerke oop sou sien”, om daaronder rus en veiligheid te vind. “Maar julle wou nie” (34). God het geroep en meeste Jode het geweier om te luister. ‘n Verskriklike tragedie met geweldige gevolge.

Fokus op die taak

Aangesien Jesus nie uit vrees reageer nie, kan Hy ten spyte van die dreigement op gehoorsaamheid bly fokus. Hy bly aktief besig met God se werk.

Vers 32: “Vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.”

Jesus se mag oor bose geeste en siekte was bewys van wie Hy was, naamlik die Gestuurde van God, die Messias. Hy het reeds vir meer as drie jaar die werk gedoen waarvoor die Vader Hom gestuur het. Sy hooftaak het egter nog voorgelê, naamlik om verlossing vir sondaars te bring en versoening tussen God en die ganse mensdom te bewerk. Dit sou binnekort gebeur deur sy dood en opstanding in Jerusalem. Daarna sou sy werk op aarde klaar wees.

En vers 33: “In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat ‘n profeet op ‘n ander plek as Jerusalem omkom.”

Jesus het doelgerig en planmatig beweeg na die voltooiing van sy werk wat in Jerusalem sou plaasvind. God se verbondsvolk het oor die eeue heen die hartseer reputasie gehad dat hulle die gestuurdes van God, sy profete, verwerp en dikwels doodgemaak het. Hierdie gewelddadige verset sou ‘n hoogtepunt bereik in die verwerping en doodmaak van Jesus.

Jesus volhard

Jesus sê in vers 35: “Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom.”

Die Jode se verwerping van Jesus sou vernietigende gevolge vir hulle hê. Oordeel het egter nie die laaste woord in hierdie saak nie. Daarvoor sou God se trou sorg. Hy het eeue terug beloftes aan Abraham en sy nageslag gemaak en dit telkens deur die Ou Testament bevestig. Sy volk se ontrou kon nie sy getrouheid tot niet maak nie.

Daarom bevestig Jesus dat daar in die toekoms ‘n dag sal kom waar die Jode Jesus sal erken as die Messias en dat hulle dit met ‘n Ou-Testamentiese lofuitroep sou doen. “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom”, is ‘n aanhaling uit Psalm 118:26. Hier gebruik Jesus dit om in die toekoms in te kyk wanneer God sy trou sal bewys.

Volg Jesus na

As volgelinge van Jesus moet ons in sy voetspore volg. Ons kan lewe met die oortuiging dat die verheerlikte Jesus saam met die Vader en die Heilige Gees in beheer van die wêreld is. Nie die media, politieke kenners, finansiële adviseurs of supermoondhede het die laaste woord nie. God het!

Daarom moet ons met geloofsvertroue in gehoorsaamheid aan Hom leef. Sy opdragte en nie omstandighede of mense se opinies nie, moet ons daaglikse handel en wandel bepaal. Daar kan moeilike tye vir ons wag, maar ons moet met dieselfde geloofsvertroue vorentoe gaan en doen wat ons weet God se wil vir ons is. God se pad is uiteindelik die beste, vrugbaarste en veiligste pad – uit ‘n ewigheidsperspektief.

Bly liefdevol

Jesus neem die gesprek verder. Hy draai die fokus na Jerusalem en die Jode. Ten spyte van hulle harde harte en verwerping van Jesus as hulle Messias, druk Jesus sy liefde en omgee met treffende beeldspraak uit. Hy kan egter nie anders as om hulle rebellie te herken en die straf daarvoor aan te kondig nie. Sy uitspraak eindig genadiglik nie met oordeel nie, maar met ‘n blik op die toekoms waardeur God se trou kragtig na vore kom.

In navolging van ons Meester, moet ons toelaat dat God se liefde deur ons vloei na ‘n wêreld wat rebelleer. Ons moet met sy liefde na die mense om ons kyk. Ons moet die erns van God se waarskuwing verstaan dat volhardende verwerping van Jesus tot felle oordeel sal lei. Hoewel dit onafwendbaar is, kan ons vashou aan God wat getrou is aan sy woord. Hy begeer dat sondaars na Hom moet kom. En ons kan verseker wees dat sy belofte waar sal wees dat daar mense uit elke volk, taal en nasie voor sy troon sal wees.

Met dit in gedagte moet ons vertrouend en volhardend vorentoe gaan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 55 Jesus, Toe U Mens Geword Het of
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”

Seën

Respons
Lied 280 vers twee laaste twee reëls: Vas kan ek op u vertrou.
of Vonkk 55 vers twee laaste twee reëls: Laat my liefde opmerksaam bly, wil U my lei om aan u diens my toe te wy.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.