Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Elkeen wat in Jesus glo, word weergebore en kry so deel aan die koninkryk van God (Joh 3). Hierdie mense word deel van die nageslag van Abraham (Rom 4) en geroep om, soos Abraham, tot seën vir alle mense te wees (Gen12). Op hulle reis deur die lewe kan hulle reken op die beskerming en hulp van die Here (Ps 121).

Ander tekste

Genesis 12:1-4a
Die roeping van Abram
12 Die Here het vir Abram gesê:
“Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af
na die land toe
wat Ek vir jou sal aanwys.
2Ek sal jou ’n groot nasie maak,
Ek sal jou seën en jou ’n man
van groot betekenis maak,
en jy moet tot ’n seën wees.
3Ek sal seën wie jou seën,
en hom vervloek wat jou vervloek.
In jou sal al die volke van die aarde
geseën wees.”
4Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek.

Psalm 121
My hulp kom van die Here
121 ’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm,
slaap nooit nie.
4Waarlik, die Beskermer van Israel
sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
5Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan
jou nie kwaad doen nie.
7Die Here sal jou beskerm
teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd.

Romeine 4:1-5, 13-17
Die voorbeeld van Abraham
4 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” o4’n Arbeider se loon word nie vir hom as ’n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.

6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:
7“Geseënd is die mense
wie se oortredinge
nie gestraf word nie
en wie se sonde vergewe word.
8Geseënd is die mens vir wie die Here
die sonde nie toereken nie.” p
9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.

Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” qDít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” r19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Fokusteks

Johannes 3:1-17
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Ekstra stof

Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie
Drie reaksies op Jesus word in hierdie gedeelte vertel: 1) mense wat tot geloof in Hom kom op grond van die wondertekens wat Hy gedoen het – 2:23-25, en 2) die gesprek wat Nikodemus, die Fariseër en bekende leermeester, met Jesus een nag kom voer het – 3:1-22 en 3) die getuienis van Johannes die Doper oor Jesus – 3:22-36.

Let op dat die wonderteken van die water wat in wyn verander is, hou verband met die persoonlike geloofsvernuwing wat in die beoordeling van die wondergelowiges sowel as die geloofsgesprek met Nikodemus aangeroer word. Net so hou die reiniging van die tempel verband met die godsdiensvernuwing wat in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put net hierna in hoofstuk 4 aangeroer sal word.

Die Paasfees in Jerusalem – die tyd waarin ons ook nou is – is die agtergrond vir die eerste twee gedeeltes. Die getuienis van Johannes die Doper vind in die platteland in Enon naby Salim by die Jordaan plaas.

2:23-25: Jesus het meer wondertekens gedoen as die 7 wat uitgelig word in Johannes se evangelie. Dit wil egter duidelik blyk dat geloof wat op wondertekens gebaseer is, nie standhoudend is nie. Jesus “verlaat” Hom nie op hulle nie. Die rede vir hierdie mening word later in die evangelie gegee, waar Johannes skryf oor baie van dié mense wat Hom uiteindelik “verlaat” (6:66 – baie van sy dissipels het omgedraai en nie meer met Hom saam gegaan nie, toe hulle besef dat geloof iets is wat gegee word, en nie iets wat jy self kan opwek nie – uiters interessant, maar daaroor later!). Ons sien hier ook een van die voordele van God se menswording – niemand hoef vir Jesus te vertel hoe mense is nie. Hy weet dit omdat Hy self een is.

3:1-22: Nikodemus kom in die nag – dit kan wees om uit die oog van die Joodse Raad te wees of net bloot om ‘n ononderbroke gesprek te hê – om met Jesus gesprek te voer, interessant genoeg, ook oor die wondertekens wat Jesus doen. Hy sit sy kaarte op die tafel, en sê, God moet by Jesus wees, anders sal Hy nie hierdie wondertekens kan doen nie.

Jesus se antwoord is dat niemand die koninkryk van God kan sien, as hy of sy nie anothen gebore word nie. Die Griekse woord wat Jesus hier gebruik, kan twee betekenisse hê: opnuut of van bo.

  • Dit is uit vers 5 -8 duidelik dat Jesus die woord anothen in die betekenis “van bo” gebruik.
  • Dit is uit Nikodemus se antwoord duidelik dat hy die woord anothen  in die betekenis van “opnuut” verstaan.

Jesus se gebruik van anothen wil dus sê, jy kan God en sy koninkryk net sien as jy deur God aangeraak word, as geloof in jou hart deur Hom aangesteek word, as jy kindskap as ‘n gawe van Hom ontvang.

Nikodemus is dus verward met Jesus se antwoord, en vra hoe ‘n mens “opnuut”, “‘n tweede keer” gebore kan word (waarvandaan ons interpretasie van wedergeboorte kom, wat eintlik foutief is, gegewe Jesus se antwoord). Jesus antwoord hom dan dat daar ook ‘n geestelike geboorte moet wees.

  • Die eerste geboorte is uit water – menslik (sommige interpreteer dit as die doop, maar vers 6 wys dat die natuurlike geboorte is wat met die water bedoel word).
  • Die tweede geboorte is uit Gees – geestelik. Dit doen die Gees in ‘n mens se lewe.

Nikodemus sou moes leer om nie langer “van onder” af oor dinge te dink nie, maar “van bo” af.

Nikodemus se volgende vraag: “Hoe is dit moontlik?” dek dan die tafel vir ‘n uitgebreide antwoord van Jesus waarin hy uitbrei oor die raakvlakke tussen God se wêreld en die aardse wêreld wat met mekaar in stryd is:

  • die aardse vs die hemelse,
  • die wat glo vs die wat nie glo nie,
  • die verlorenes vs mense wat die ewige lewe kry,
  • veroordeeldes vs gereddes,
  • die lig vs die duisternis.

En die spilpunt waarom alles draai, is die reaksie op Jesus, die een wat uit die hemel kom sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Dié wat nie glo nie, bly in die duisternis wat hulle verkies.

Dit alles word begrond in die liefde van God, die sentrum van die spilpunt, by wyse van spreke. God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ‘n kruis (“verhoog” aan die kruis), omdat Hy ‘n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in Sy Seun glo.

God is dus nie op die veroordelingspad nie, maar op die liefdespad. Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan, is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom wat Hy gestuur het.

Let op hoe Jesus Nikodemus aanspreek oor hulle verskil oor aardse dinge (Jesus verwys hier na hulle verskil oor die woord anothen wat Nikodemus as “opnuut” en Jesus as “van bo” verstaan), wat beteken dat dit byna onmoontlik raak om oor hemelse dinge te praat .

Die einde van die gesprek word nie vertel nie. Ons lees egter dat Nikodemus hierna vir Jesus opkom in die Joodse Raad (7:50), en die mengsel van mirre en aalwyn bring om Jesus se lyk mee te balsem, voorsien (19:39). Dit maak dit waarskynlik dat hy ‘n gelowige word, een van die weiniges uit die skare van wondergelowiges.

Die metafoor van die koperslang op die paal in die woestyn (Num 21:9) word gebruik om die noodsaak van geloof te illustreer. Net soos die Israeliete gesond geword het van die slanggif as hulle na die koperslang op die paal van Moses kyk, so kry gelowiges die ewige lewe as hulle glo in Jesus as die Seun van die mens.

3:22-26: Jesus en sy dissipels is nou terug in die platteland in Judea waar hulle soos Johannes die Doper mense doop (Jesus het nie gedoop nie – 4:2). Johannes die Doper tree by Enon naby Salim op.

Die woordewisseling tussen Johannes die Doper en ‘n Jood oor die effektiwiteit van Johannes die Doper se bediening (die reiniging) gee Johannes die Doper die geleentheid om die kollig te laat val op die meerdere waarde van Jesus se bediening as dit met sy eie vergelyk word.

Johannes vertel dan ‘n kort gelykenis om die verskil tussen hom en Jesus as dieselfde tussen die vriend van die bruidegom en die bruidegom self te verduidelik. Sy bediening word dus oortref en vervang deur dié van Jesus. Hy moet meer word, en ek minder word dus op sy bediening van toepassing gemaak.

Die bediening van Bo af (vers 31 – onthou dieselfde gedagte wat in die gesprek met Nikodemus op die voorgrond was) gee toegang tot die ewige lewe wat God aan elkeen gee wat in die Seun glo.

Niks in my lewe wat goed is, kom van myself af nie. Selfs nie my geloof nie. Dat ek glo en veral bly glo, is aan God se werk te danke. Dit is wat dit beteken om “van bo” gebore te wees.

Liturgie

In die Basisliturgie vir Lydenstyd in van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17 word die volgende sinvolle suggesties gemaak om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • simbole soos die kruis, ’n doringkroon en ’n gésel kan dwarsdeur die seisoen gebruik word;
  • op Aswoensdag kan ’n meditatiewe diens gehou word waartydens ’n kruis van as gemeng met olyfolie op die voorkoppe van lidmate gemaak word;
  • palmtakke kan ’n prominente deel van liturgiese versierings op Palmsondag uitmaak;
  • ’n Tenebrae-diens kan op een van die aande gedurende Groot Lydensweek gehou word: die verhaal van die passie van Christus (van die Paasmaaltyd tot die kruisiging) word uit een van die sinoptiese evangelies (vanjaar die evangelie volgens Matteus) gelees en op sekere punte word die voorlesing onderbreek deur die doodblaas van 12 kerse;
  • dit is gepas dat nagmaal op die Donderdagaand van Groot Lydensweek gevier word, verkieslik nie op Goeie Vrydag nie;
  • die diens op die Donderdagaand word afgesluit met die verwydering van alle versierings uit die liturgiese ruimte.

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 121)

Seëngroet  

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Vryspraak: Uit Romeine 4

Geloofsbelydenis: Uit Johannes 3

Lofliedere
Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 3:1-17

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 510 “Genade onbeskryflik groot vs 1,2,3,4”

Seën: Psalm 121

Antwoord; Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

In die Basisliturgie vir Lydenstyd in van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17 word die volgende sinvolle suggesties gemaak om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • simbole soos die kruis, ’n doringkroon en ’n gésel kan dwarsdeur die seisoen gebruik word;
  • op Aswoensdag kan ’n meditatiewe diens gehou word waartydens ’n kruis van as gemeng met olyfolie op die voorkoppe van lidmate gemaak word;
  • palmtakke kan ’n prominente deel van liturgiese versierings op Palmsondag uitmaak;
  • ’n Tenebrae-diens kan op een van die aande gedurende Groot Lydensweek gehou word: die verhaal van die passie van Christus (van die Paasmaaltyd tot die kruisiging) word uit een van die sinoptiese evangelies (vanjaar die evangelie volgens Matteus) gelees en op sekere punte word die voorlesing onderbreek deur die doodblaas van 12 kerse;
  • dit is gepas dat nagmaal op die Donderdagaand van Groot Lydensweek gevier word, verkieslik nie op Goeie Vrydag nie;
  • die diens op die Donderdagaand word afgesluit met die verwydering van alle versierings uit die liturgiese ruimte.

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 121)
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet  
Genade en vrede van die God:
God die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
Jesus Christus die Gekruisigde en
die Heilige Gees wat ons aan Christus verbind. Amen
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet
Lees die 7 kruiswoorde opeenvolgens met ruimte vir stille nadenke na elke skriflesing. Die Bybelse ensiklopedie berig so daaroor…

Jesus het 7 maal aan die kruis gepraat. Geen enkele evangelis maak melding van al die woorde nie, en daarom is dit nie so maklik om die volgorde v.d. kruiswoorde aan te gee nie. Meestal word die volgorde as volg aangegee:

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Vryspraak: Uit Romeine 4
4 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.

. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het.

Geloofsbelydenis: Uit Johannes 3

Ek glo in Jesus Christus… wat geleer het:
As iemand nie opnuut gebore word nie, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

Ek glo dat God die wêreld so lief gehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Ek glo dat God nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word- immers wie in Hom glo, word nie veroordeel nie…
Of
Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.
Ons glo in Jesus Christus, die lewende Here,
wat deur mense gekruisig is,maar deur God opgewek is uit die dood.
Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat die ganse skepping vul met die lewe van God.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Lofliedere
Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Liedere

F144. “God Is Liefde “
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21; Rom 5:1-11; Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903; Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musiek: CONVERSE – Charles Crozat Converse 1832-1918 Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

2. As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –
Hy wat van ons swaarkry weet.
Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

3. As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Heilige God, Vader, Seun en ewige Gees,
U sorg vir ons op soveel meer maniere as wat ons kan begin om op te noem.
U was ons skoon met u trane.
U klee ons met u genade.
U heilig ons met u hoop.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2016-17)

Skriflesing: Johannes 3:1-17

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks (met 2 verse uit Johannes 2) uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Hoe Word ek God se Kind?
23–25 Jesus was mos by die groot fees in Jerusalem. Die mense het die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het. Hulle het geweet die wonderlike dinge wat Jesus doen, wys hoe groot en sterk Hy is. Hulle het Jesus vertrou* en in Hom geglo. Jesus het nie die mense vertrou nie. Hy het hulle te goed geken.

3 1–4 Nikodemus was ’n baie belangrike en godsdienstige man. Hy was een van die leiers van die Jode. Een nag kom kuier hy toe vir Jesus: “Meneer,” sê hy, “ek kan sommer sien dat jy mense die dinge van God leer. Weet jy hoekom? As God iemand nie help nie, sal hy nie kan doen wat jy doen nie, dis verseker.”

“Luister, Ek wil vir jou iets belangriks sê,” antwoord Jesus. “Om ’n kind van God te word, moet ’n mens nog ’n keer gebore word.”

“Dis onmoontlik. As jy al groot en oud is, kan jy mos nie nog ’n keer gebore word nie,” sê Nikodemus toe. “’n Mens kan mos nie vir ’n tweede maal in jou ma terugklim en dan weer ’n keer gebore word nie!”

5–10 “Luister baie mooi. Jy kan nie ’n kind van God word as jy nie nog ’n keer gebore word nie. Maar dit is nie soos ’n geboorte uit ’n ma nie. Dis ’n geboorte uit die Heilige Gees*. ’n Kind wat uit ’n ma gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, lewe op ’n ander, geestelike manier. Uit die natuur is daar ’n goeie voorbeeld van wat ek bedoel. ’n Mens hoor en voel mos die wind waai. Maar jy kan nie vir die wind sê hoe om te waai nie. Dit waai waar en wanneer dit wil. Net so werk God se Gees. Jy kan nie vir die Gees sê hoe en waar om te werk nie. Maar as die Gees in jou werk en jou God se kind maak, sal jy dit weet.”

“Hoe kan dit wees?” vra Nikodemus.

“Ek kan nie glo* dat jy nie hierdie dinge weet nie,” sê Jesus toe vir Nikodemus. “Jy is dan self ’n slim predikant wat ander mense moet leer.”

16–18God het gewys hoe lief Hy vir mense is. Hy het sy spesiale Seun aarde toe gestuur. As iemand op sy Seun vertrou*, word hy of sy ’n kind van God. Dan sal ons nie in die hande van die duiwel* land nie. God het nie sy Seun gestuur om vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het vir almal wat God nie ken nie, van God kom vertel. So kan hulle ook God se kinders word. Dit soos ’n hofsaak. As jy vir Jesus kies, is God nie meer kwaad vir jou nie. As jy nie op Jesus vertrou* nie, bly God kwaad vir jou. Dan is God nie jou vriend nie, want jy wil mos nie sy spesiale Seun se vriend wees nie.

Beklemtoon hoedat die 3 persone van die Goddelike drie-eenheid in die teksgedeelte na vore kom.

Eerder as om geykte voorbeelde van die drie-eenheid soos ’n eier (geel, wit en dop) aan kinders voor te hou (wat hulle in elk geval moeilik vind om van sin te maak), illustreer dit volgens Carolyn Brown aan die hand van verskillende name wat mense mag hê…

’n Kind se ouma mag vir hom/haar oumie wees; die oupa noem haar dalk Poplap en vir haar dogter is sy Moemsie. Dieselfde persoon met verskillende name… God drie-enig as Vader, Seun en Gees.

Carolyn se bydrae is hier beskikbaar.

Preekriglyn

Nikodemus was ‘n belangrike man met ‘n indrukwekkende CV. Hy is ‘n Fariseër, dit wil sê iemand met bewese vroomheid en toewyding aan God. Hy is ‘n leier van die Jode. Hy het sitting in die Sanhedrin, die hoogste Joodse godsdienstige gesagsliggaam.

Nikodemus is vol waardering vir Jesus. Ons teks staan nog maar aan die begin van die Johannesevangelie. Op hierdie stadium is Jesus egter reeds deur Johannes gedoop, het Hy sy eerste dissipels geroep, by die bruilof in Kana opgetree, die tempel gereinig, en by die Paasfees in Jerusalem opgetree.

Middernagtelike besoek

Dalk is Nikodemus een van die mense wat, soos Johannes 2:23 vertel, tydens die Paasfees tot geloof in Jesus gekom het. Wanneer Johannes 3 die Jesus-gebeure verder vertel, daag Nikodemus by Jesus op, iewers in Jerusalem. Hy kom om die nuwe rabbi in Jerusalem van naderby te leer ken. Wie is die Man wat die geldwisselaars uit die tempel verjaag het en daarmee ‘n storm onder Jerusalem se tempel-elite veroorsaak het?

Ten spyte van Nikodemus se status, of dalk weens sy status, kom hy in die nagtelike ure kuier. Hy wil nie gesien word nie. Die mense slaap al. Dit lyk of hy uit persoonlike nuuskierigheid kom en nie wil hê die ander hooggeplaastes moet daarvan weet nie.

Nogtans is Nikodemus vol waardering vir Jesus. Hy sê:

Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.

Dit is óf ‘n kompliment, óf ‘n erkenning van die egtheid van Jesus se bediening. Nikodemus stem saam met Johannes wat aan die einde van hoofstuk 2 sê dat Jesus se tekens en wonders nie sonder die teenwoordigheid van God gedoen kon word nie (2:23-25).

Nou was Nikodemus om te sien hoe Jesus gaan reageer. Sal die nuwe Rabbi inpas by die res van Jerusalem se godsdienstige leiers? Gaan Jesus die Joodse godsdienstige praktyke bloot bevestig? Of gaan Jesus se reiniging van die tempel ‘n nuwe benadering, ‘n nuwe werkswyse in God se Naam inlui?

Jesus se reaksie

Jesus se reaksie is sekerlik van Jesus se mees bekende woorde in die Bybel:

Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (3)

Christene van alle tye is aangegryp deur die gedagte om opnuut gebore te word. Baie herlewings het hierdie beeld vasgegryp. Mense word uitgedaag om ‘n nuwe verbintenis aan God te maak en in die proses opnuut gebore te word.

Vir Nikodemus klink Jesus se woorde soos ‘n onmoontlike raaisel. Hoe kan enigiemand opnuut gebore word nadat jy al reeds groot en oud geword het? Om weer in die baarmoeder terug te gaan, is tog onmoontlik?

Ten spyte van die Fariseër se protes, hou Jesus vol:

Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. (5-7)

Die sleutelwoord in Jesus se opmerking is “anóthen” – om “opnuut” gebore te word. “Anóthen” kan ook beteken om “van bo” gebore te word – die woord het een van hierdie twee betekenisse. Jesus gebruik duidelik hierdie dubbelslagtige betekenis: om weer gebore te word, beteken om beide “opnuut” en “van bo” gebore te word.

Dit is Jesus se reaksie op Nikodemus wat vashaak by die fisieke onmoontlikheid om ‘n tweede keer gebore te word. Jesus praat nie van ‘n tweede, fisiese geboorte nie, ‘n tweede lewe nie, maar van ‘n geboorte “van bo”. Dit gebeur, sê Jesus, deur die werk van die Heilige Gees:

Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is. (8)

Nou is Nikodemus se wêreld geskud. Hoe is dit moontlik, vra hy? (9)

Wat begin het as ‘n geheime poging om die nuwe rabbi van nader te leer ken, word nou ‘n uitdagende teologiese les wat die geestelike wêreld van die Fariseër behoorlik skud.

‘n Geboorteverhaal?

Wanneer ons vandag oor Jesus se woorde nadink, moet ons onthou Jesus se beeld – dat ons van bo gebore moet word om God se koninkryk in te gaan – nie op ‘n menslike besluit dui nie. Babas kies nie om gebore te word nie. Waarom hanteer baie Christene Jesus se woorde as ‘n uitdaging aan mense om te kies om weer gebore te word? Die kern van Jesus se woorde sluit presies menslike aksie of keuses uit.

God is die primêre speler in Jesus se woorde. Hoe ons wedergeboorte werk, weet ons nie. Dit kom van God. Die wind waai waar hy wil. So ook die werk van die Gees. Die nuwe lewe is volledig ‘n geskenk van God.

Sommige Skrifverklaarders sê dat hierdie teks in Johannes die rol speel van die geboorteverhale van Jesus in die ander evangelies. Johannes het nie ‘n tradisionele Kersverhaal soos Matteus of Lukas nie. In plaas daarvan vertel Johannes die geboorteverhaal van elke Christen. Hoe lyk die geboorte van die gelowige? Hoe herken ons die lewegewende werk van die Gees van God, wat nie alleen vir Maria swanger gemaak het met die lewegewende Messias nie, maar ook elke gelowige nuut maak, weer gebore laat word?

Dit is moeilik om die Gees se werk in ons lewe presies aan te dui. Soos Jesus vir Nikodemus sê: jy beleef die wind wat die bome beweeg, maar jy sien nie die lug self beweeg nie. Jy sien maar die effek van die Gees se werk.

Die vrug van die Gees se werk, die nuwe lewe in ‘n gelowige, is iets wat mens ook so sien. Jy sien nie die aanraking van die Gees nie. Jy sien die vrug. Die vrug is geloof in Jesus, nuwe lewe, deel hê en deelneem aan die nuwe geloofsgemeenskap wat Jesus vestig.

Daarom is die geloof wat ons in onsself vind, nie die gevolg van ons werke nie. Dit is ‘n geskenk van God. Dit kom van bo. Natuurlik het mense die verantwoordelikheid om te reageer op God se genade, om die genade met die leë hande van geloof te omhels. Maar dat ons glo, dat God ons nuut gemaak het, daarvoor kan ons God net dank. Daarvoor kan ons net lofprysings en dankgesange sing.

Drie-eenheid

Let terloops ook op hoe hierdie teks dit op die tafel sit dat geloof die werk van die Drie-enige God is. Die Heilige Gees gee geboorte aan God se kinders. Die Vader stuur die Seun omdat die Vader die wêreld liefhet. Die Seun getuig teenoor mense oor die Vader en die Gees.

Ons geloof is inderdaad veranker in die lewe en werk van die drie-enige God.

En Nikodemus?

Wat het na hierdie gesprek in Nikodemus se lewe gebeur? Ons lees weer van hom in Johannes 7:50-52. Op hierdie stadium probeer die hoëpriester en die Fariseërs Jesus arresteer. Hulle is haaks met die tempelwagte wat dit nie reggekry het om Jesus te arresteer nie. Hulle kla oor die mense wat die wet nie ken nie, en wat nie weet God roep niemand uit Galilea as profeet nie.

Op hierdie kritieke punt verdedig Nikodemus vir Jesus. Hy sê dit is nie reg dat die Fariseërs oor Jesus oordeel sonder om Sy kant van die saak te hoor nie? Dit is natuurlik presies wat Nikodemus alreeds in hoofstuk 3 gedoen het.

Die laaste keer wat ons van Nikodemus lees, help hy vir Josef van Arimatea om Jesus se liggaam te balsem nadat dit van die kruis verwyder is (19:39-42). Met ‘n mengsel van sowat 50 liter mirre en aalwyn versorg hulle Jesus se liggaam nadat Hy tereggestel is op aandrang van die Joodse raad.

Daar het duidelik iets in Nikodemus se lewe gebeur na sy middernagtelike besoek aan Jesus. Die waarderende maar skeptiese Fariseër het ‘n nuwe geboorte, ‘n geboorte van bo, ondergaan.

Die Johannes-evangelie vertel nie Jesus se geboorteverhaal nie, maar Nikodemus se (weer-) geboorteverhaal. En daarmee saam elke gelowige se (weer-) geboorteverhaal.

Noodsaak van wedergeboorte

Kom ons gee aandag aan die feit dat Jesus ‘n Fariseër, Nikodemus, meer leer oor die inhoud van Christelike identiteit. Wat definieer gelowiges? Waarin lê nuut gebore mense se identiteit?

Vir die Jode en die Fariseërs was dit hulle Joodse rasse-identiteit, hulle fisiese afstamming van Abraham, wat hulle die volk van God gemaak het. Jesus maak dit duidelik aan Nikodemus dat jou ras, afkoms, kultuur, taal, tradisie nie vir jou ʼn plek in die koninkryk verseker nie. Jesus sê onomwonde vir Nikodemus dat sy wedergeboorte hom die versekering gee dat hy die ewige lewe sal ontvang: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.”

Deur die eeue was daar verskeie sulke identiteite waarop mense hulle status voor God probeer bou het. Afkoms, volksidentiteit, ras, klas en status, gewoonte en gebruik het vir mense sinoniem met Christenskap geword.

Jesus wys al hierdie gronde vir deel hê aan die koninkryk van God af. Wedergeboorte is nodig. God se koninkryk het ‘n hemelse oorsprong en ‘n geestelike aard. ‘n Radikale nuut gebore word deur die Gees is daarvoor nodig.

God het sy Seun gegee

Hiervoor, om hierdie koninkryk te bewerkstellig en hierdie nuwe geboorte moontlik te maak, het God sy Seun gegee:

God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (16)

God het die wêreld só liefgehad – dit wil sê alle mense ongeag ras, klas, kultuur. God het die wêreld lief. Deur sy liefde het Hy sy enigste Seun gegee sodat hulle die ewige lewe kan bekom. God se liefde is ʼn liefde wat niks terughou nie.

Die gesprek tussen Jesus en Nikodemus het Nikodemus se hele lewe verander. Die bang Nikodemus wat onder die beskerming van die nag na Jesus gesluip het, het later in die openbaar om ʼn regverdige verhoor vir Jesus gepleit. Meer nog, toe die dissipels bang weggekruip het, het hy Jesus se liggaam gebalsem. Hy stap uit die donkerte uit en word in die openbaar ‘n volgeling van ons Here, Jesus Christus.

Want so lief het God het die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat dié wat in Hom glo, ook Fariseërs soos Nikodemus en ons, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 510 “Genade onbeskryflik groot vs 1,2,3,4”

Seën: Psalm 121
5Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan
jou nie kwaad doen nie.
7Die Here sal jou beskerm
teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd.
Amen
Of
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(William Temple, uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.