Tweede Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Ons fokus tydens die  eerste paar Lydenssondae op die simbole soos aangeraak tydens die Aswoensdag geleentheid. Vandag fokus ons op die kruis en muntstukke. Dit wys op die dertig silwerstukke wat Judas ontvang het om Jesus te verraai. Vestig die aandag op brons muntstukke wat voor in die liturgiese ruimte geplaas is.

Ander tekste

Genesis 17:1-7, 15-16
Die besnydenis as verbondsteken
17 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!
2Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense
uit jou laat voortkom.”
3Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
4“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees
van ’n menigte nasies;
5jy sal nie meer Abram
genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader
van baie nasies.
6Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.

7“Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 8Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as ’n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”

9Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond. 14Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”

15God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. 16Ek sal haar seën en vir jou ’n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”

17Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ’n man van honderd ’n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ’n kind in die wêreld bring?

Psalm 22:23-31
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Markus 8:31-38
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Matt 16:21–23; Luk 9:22)
31Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. 32Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. 33Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.
“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Matt 16:24–28; Luk 9:23–27)
34Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 35want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. 36Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? 37Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? 38Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Markus 9:2-9
Die verheerliking op die berg
(Matt 17:1–8; Luk 9:28–36)
2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.
5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
7Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

Jesus se dood is naby
(Matt 17:9–13)
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.

Fokusteks

Romeine 4:13-25
Die voorbeeld van Abraham
4 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”‘n Arbeider se loon word nie vir hom as ‘n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:

7“Geseënd is die mense
wie se oortredinge
nie gestraf word nie
en wie se sonde vergewe word.
8Geseënd is die mens vir wie die Here
die sonde nie toereken nie.”
9Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11Hy het die besnydenis as ‘n teken ontvang. Dit is ‘n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.

Wat belowe is, word deur die geloof verkry
13Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ‘n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.”Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Ekstra stof

Romeine 4 – Die genade van geloof
Paulus roep drie OT figure op as bevestiging van sy standpunt dat God se vryspraak, sy genade (4:16), deur geloof ontvang word: Abraham, Dawid en Moses.

4:1-12: In die eerste perikoop fokus hy op Abraham en Dawid.
Met die aanhaling uit Gen 15:6 bevestig Paulus dat Abraham God se vryspraak gekry het deur die geloof.  Hy het nie daarvoor gewerk nie, en kon ook nie staatmaak op sy wetsonderhouding nie – dié is immers eers in die woestyntyd aan die volk gegee.  “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Die besnydenis was ‘n teken van die vryspraak deur die geloof en nie andersom nie (4:11).

Net so haal Paulus vir Dawid in Ps 32:1-2 aan om vryspraak buite wetsonderhouding om te bevestig.  Dié uitspraak het betrekking op dié wat besny is, sowel as dié wat nie besny is nie.

4:13-25: In die tweede perikoop fokus Paulus op Abraham se nalatenskap (vgl Galasiërs waar hy net so ‘n belangrike rol speel) in kontras met dié van Moses.

Let op hoe Paulus hier nie net oor die vryspraak praat nie, maar oor die gevolge daarvan: Abraham en sy nageslag het die belofte ontvang dat hulle die wêreld as besitting (“erfgenaam van die kosmos”) sou ontvang.  Dit is ‘n droom-belofte, dié visie waaraan gelowiges, veral in swaar tye, vasgehou het, ‘n visie op ‘n nuwe volkome werklikheid waar die vryspraak in sy volle konsekwensies geniet kan word, en waar die sonde en die gevolge van die sonde geen invloed meer sal hê nie.

Paulus wys egter weereens onomwonde enige verdienste vir hierdie belofte op grond van wetsonderhouding af, en daarmee ‘n lewe gebaseer op die nalatenskap van die wet van Moses.  Vryspraak sowel as die belofte word uit genade gegee, deur die geloof (4:16). Geloof is ‘n leë hand wat na God uitgesteek word, waarmee die genade van vryspraak uit God se hand ontvang word. Anders sou geloof sy betekenis verloor en die belofte sy krag.  Daarmee staan hy direk teenoor die werkheiligheid van die Joodse interpretasie van Abraham.

Maar daar is meer.  Daardeur kon Abraham die vader van baie nasies word (Gen 17:5) en kon hulle deel in die genade van geloof.  Let op hoe die beskrywings van God gekoppel word aan Abraham se geloof.  Dit is asof die openbaring van God net sigbaar is vir die geloofsoog.

Nog dieper: Abraham se geloof kom ooreen met die beskrywings van God.  God maak dooies lewend; Hy bring dinge uit niks uit (ex nihilo) tot stand.  Net so het Abraham aan die belofte van God dat hy ‘n kind sou hê vasgehou, al was sy liggaam gedaan en Sara al te oud (vgl Hebr 11:11-12).  Dit is asof hy ‘n kind uit die niks uit in aanskyn geglo het, omdat hy aan die God vasgehou het wat juis sulke dinge kan doen!  (Dieselfde is natuurlik eintlik waar van die land as gawe van God en wat uiteindelik uitmond in die hemelse stad – vgl Hebr 11:8-10)

Let op hoe Paulus, anders as wat hy tot dusvêr gedoen het (Rom 3:25-26), in vers 25 die vryspraak aan Jesus se opstanding verbind, eerder as aan sy kruisdood.  Dit is dus nie net die offerdood van Jesus wat die vryspraak bewerk nie, maar ook sy opstandingslewe.  Dit is betekenisvol, omdat dit die opgestane Here is wat ‘n teenswoordige krag in ons word om in die vryspraak te kan lewe (vgl Rom 8:10-11 – “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak … die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is”).

Twee goed bly my by: 1) geloof wat vashou aan God, “toe daar geen hoop meer was nie” en 2) die belofte van die kosmos wat opnuut by my ‘n verlange na God se toekoms vir ons aangesteek het.

Liturgie

RUS

Toetrede: Vonkk 175 [bekend] of Flam of Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Votum: Psalm 22:24-25

Seëngroet

Lofsang: VONKK [bekend] of Lied 190 “Grote God, aan U die eer”

ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD (NGB Artikel 23) VONKK 79 [bekend] of Flam 269 of Lied 182

Geloofsbelydenis: Apostoliese Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Romeine 4:13-25

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 104 [bekend] of Lied 203

Seën

Respons: Vonkk 175 vers 4 refrein of Lied 203 vers 2 laaste twee reëls of F386.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Vonkk 175 Net Soos Ek Is [bekend: ou Halleluja lied] of
Flam 342 Here, U Gee ons lewe (Alles Vir U) of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Votum
Psalm 22:24-25
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.

Seëngroet

Lofsang
VONKK 71 Groot Is U Trou, O Heer [bekend – Great is thy faithfulness] of
Lied 190 “Grote God, aan U die eer”

ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD
(NGB Artikel  23 )
Liturg: Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan.  Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheld daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding   om toereken (Ps.  32:2 en Rom. 4:6).  Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade,  geregverdig is deur die verlossing  wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24).  Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas:

Gemeente:
Ons gee aan God al die eer,
verneder ons voor Hom,
erken dat ons is wat ons is,
en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie,
maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.
Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo;
dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek
en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry

Liturg: En om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan,  terwyl ons nie handel soos ons eerste vader,  Adam,  wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie.  Waarlik,  as   ons   voor  God   moes   verskyn   terwyl  ons,  in   watter  geringe   mate   ook   al,  op   onsself  of  op  enige   ander  skepsel  sou   staatmaak,  sou   ons   –  helaas!  –  verteer  moes   word.  En   daarom    moet  elkeen  saam    met  Dawid   sê:

Gemeente: Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! (Ps.  143:2).
VONKK 79 Genade, So Oneindig Groot [bekend:  Amazing Grace] of
Flam 269 Hy Verwelkom My of
Lied 182 “Ons wil, o Heer, U loof en eer”

Geloofsbelydenis: Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

F342. “Here, U Gee ons lewe (Alles Vir U)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Ferreira Marais
Kopiereg: © 2009 Flam Musiek-Uitgewers (Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Here U gee ons lewe, U maak ons vry deur u genade.
Here U is ons redder, U is die bron van ons krag.
Here U is ons verlange, naby u hart wil ons bly.
Here U is die rede, vir ons lewe.

Ek buig voor U, Ek aanbid U,
neem my hele lewe tot U eer.
Ek gee my gees, Ek gee my siel,
alles vir U.

U is die weg en waarheid,
U is die lewe, net U alleen.

F269. “Hy Verwelkom My”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Elmarie Wiesner © Urial Publishing

1. Ek het toegang tot die Vader
en sy heiligdom.
Op ’n weg wat heel nuut is
voorberei deur Hom.
Vrygespreek en veilig
want Jesus het betaal.
In sy oë heilig,
deur sy liefde so bepaal.

2. Vrymoedig, vol vertroue,
nader ek tot God,
Hy dink nie aan my sonde nie.
Ons het ’n ewige verbond,
Hy het sy wet in my hart gegee
geskryf in my verstand
sy Heilige Gees getuig in my
Hy hou my in sy hand.

Hy verwelkom my,
my plek voorberei.
In genade vry
kom ek nader om te bly.

Vonkk 175 “Net Soos Ek Is”
Teks: Just as I am, without one plea – Charlotte Elliot 1836; Net soos ek is, geen hulp naby – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 ©
Musiek: BOSTON – Lowell Mason (1792-1872) Kantoryverwerking: Lowell Mason (1792-1872)
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Tradisioneel – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Geloof en Vertroue

1.Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
o Lam van God, ek kom!

2. Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
o Lam van God, ek weet!

3. Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer –
o Lam van God, ek kom!

4. Net soos ek is kom en nooi U vir my.
Al moes U ook soos ‘n moordenaar ly,
kom U vergewe en skeld U my vry –
o Lam van God, ek glo!

VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot”
Teks: Amazing grace, how sweet the sound – John Newton 1779 (1725 – 1807); Jacques Louw 2009 ©
Melodie: AMAZING GRACE – Amerikaanse volksmelodie in Southern Harmony 1831; aangepas Edwin Excell 1900
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: openbare besit
RUBRIEK:  Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Genade, so oneindig groot,
gee U, o Heer, vir my.
Ook ek, verlore sondaarmens,
word van my skuld bevry.

2. Deur swaarkry, hartseer en gevaar,
moes ek my pad hier vind.
U goedheid, Heer, het my bewaar
en my aan U verbind.

3. Al was ek so verhard en blind,
al het ek niks verdien,
kon ek by U genade vind –
geloof, wat my laat sien.

5. Ek loof U vir genade, Heer,
so onverdiend aan my.
Vergifnis gee U keer op keer
as ek my skuld bely.

6. Nou leef ek daagliks uit u hand,
my hart na U gekeer.
Met al my gawes en verstand
wil ek U dien, o Heer.

VONKK 71 “Groot Is U Trou, O Heer”
Teks: Great is Thy faihfulness – Thomas O Chisholm 1923; Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: FAITHFULNESS – William Marion Runyan 1923
© Teks en Musiek: © 1923, hernu. 1951 en in hierdie vertaling © 2009 Hope Publishing Company, Carol Stream, IL 60188, USA (admin CopyCare South Africa). Alle regte voorbehou.. Met toestemming gebruik.
For permission to use this hymn, contact www.hopepublishing.com
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Geloof en Vertroue

1. Groot is u trou, o Heer, my God en Vader:
rotsvas u woorde en blywend u Gees.
U trou wyk nooit en u goedheid duur ewig –
U wat vir altyd dieselfde sal wees.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

2. Somer en winter, en lente en oestyd,
son, maan en sterre in stralende baan,
sing juigend saam oor die Skepper se grootheid,
loof God se trou waardeur alles bestaan.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

3. Sondevergifnis en blywende vrede,
u liefdestrou wat vertroos en my lei,
krag vir vandag en ‘n hoopvolle môre:
Duisende seëninge gee U vir my.

Refrein
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph  Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903; Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Musiek: CONVERSE – Charles Crozat  Converse 1832-1918
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

2. As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –
Hy wat van ons swaarkry weet.
Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

3. As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Romeine 4:13-25

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hierdie is ‘n goeie geleentheid om die verhaal van Abraham te vertel, as agtergrond vir die fokusteks.  (Genesis 17:1-7, 15-16 is een van hierdie week se tekste.)  Hierdie video is 4:33 minute lank en vertel van al die beloftes wat God teenoor Abraham gemaak het.

Kinders kan tydens die diens sterre uitknip en versier – soveel as wat hulle kan – en tydens die dankoffer by die preekstoel kom neersit, om ons te herinner aan God se beloftes.  Julle sal ook lekker kan speel met goue ster-plakkers.  Jy sou dit kon verbind aan die doop en ‘n sterretjie op elke kind se voorkop plak.

Hier en hier is oulik inkleurprente van Abraham.

Preekriglyn

Die wêreld is mooi. Daar is soveel skoonheid en pragtige tonele om te geniet. Die kliprantjie agter die Karoo-dorpie, die rustige toneel langs die rivieroewer of die magtige Drakensberge vervul mens met verwondering. Hoe mooi is die wêreld nie!

Veral die wêreld se berge is só mooi. Toe ek onlangs ‘n reeks kortfilms van die Belgiese landskapfotograaf en avonturier, Chris Eyre-Walker sien, is die skoonheid van berge by my ingeskerp. Hy vertel onder andere van ‘n tog op die Pamirroete deur Tajikstan of wys hoe ‘n Belgiese span skouspelagtig “highlining” op die Deense Faroe-eilande doen.

Daar is baie mooi berge. Toegegee. Maar dan is daar die Himalajas. Hulle staan tussen al die ander berge en bergreekse op aarde uit. Die grootse Piek Everest troon oor die Himalajas. Daar is nie nog so ‘n berg en nog so ‘n bergreeks nie.

Tussen al Paulus se briewe troon die Romeinebrief uit. Dit is die Himalajas, die Everestpiek, van die Nuwe Testament. Hier ontmoet ons onvergelykbaar helder vir God, die Vader van Jesus Christus, en vir Jesus Christus self, deur die krag en gawe van die Heilige Gees. En word ons vervul met diepe verwondering oor wie God is en wat God doen.

Romeine is ‘n bergpiek-ervaring.

Lydenstyd

Saam met Christene oor die hele wêreld vier ons tans lydenstyd, daardie tyd van die kerkjaar waar ons nadink oor die betekenis van Jesus se lyding vir ons lewe en ons toekoms.

In ons teks bring Paulus die worsteling van ‘n Ou Testamentiese kinderlose egpaar met God se beloftes in verband. Hierdie beloftes het nie net met Abraham en Sara te doen nie, maar met die toekoms van die hele mensheid, trouens die hele skepping van God.

Ons toekoms wentel om Jesus se lyding, sterwe en opstanding.

Om die punt te maak, roep Paulus Abraham se verhaal in herinnering, en hoe beslissend God in Abraham en Sara se lewe gehandel het. Wanneer ons God se aksie snap, en sien hoe Abraham dit in geloof omhels het, verstaan ons God se aksie in die wêreld. En sien ons hoe ons daarby ingesluit word. Ons verstaan dan wat ons moet doen.

Dit skep hoop in ons.

Abraham se verhaal, ons verhale, Abraham se toekoms en ons toekoms, bring hoop wanneer ons dit in verband bring met Jesus Christus van Nasaret:

Dat hy (Abraham) vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar
ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word,
óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.
Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (23-25)

Geloof

Paulus wys dus daarop dat God in die sterwe en opstanding van Jesus handel om mense in ‘n herstelde verhouding met God te kry.

Hierdie verhouding staan as geloof bekend. Mense wat die gawe van God in Jesus ontvang (deur die leë hande van geloof), staan in ‘n verhouding met God. Jesus se werk, en die werk van die Heilige Gees maak hierdie geloof in ons moontlik. God skep die geloof in ons waarmee ons sy gawe ontvang.

Geloof kom ‘n lang pad. Geloof hou ook verband met die beloftes wat God in die Ou Testament gegee het. In die hede het God Jesus uit die dood opgewek, in die verlede het God ‘n belofte van ‘n erfenis aan Abraham gemaak. Beide die kragtige opwek van Jesus en die belofte van die verlede is God se werk, gerig op die hele mensheid, om ‘n verhouding met mense moontlik te maak. Soos gesê is hierdie verhouding vir Paulus geloof.

Hierdie geloofsverhouding is vir alle mense, Jode en heidene, etniese Jode en nie-etniese Jode, moontlik.

In die Romeinebrief spandeer Paulus baie tyd om te verduidelik die genade is vir Jode en nie-Jode bedoel. Daarom is Abraham so ‘n goeie voorbeeld. God het hom geroep en vir hom gesê al die nasies sal in hom geseën word. Om hierdie seën effektief te maak, het God aan hom ‘n nageslag en ‘n land beloof.

Vir Abraham het hierdie belofte ‘n werklikheid geword omdat Hy God geglo het.

Noudat God beslissend in Jesus se lyding, sterwe en opstanding gehandel het, bly die patroon steeds geloof. Deur in geloof te ontvang wat God beloof, word die belofte werklikheid.

Genade en geloof

Geloof veronderstel God se genade. Dit is God se genade wat geloof moontlik maak. Wanneer ons die verhouding wat in Jesus tussen God en gelowiges tot stand kom:

  • Vanuit God se kant sien, noem ons dit genade
  • Vanuit menslike perspektief sien, noem ons dit geloof.

Daar is geen geloof sonde God se genade in Christus moontlik nie. Egte geloof is die ontvang van hierdie genade.

Vir Paulus lei dit tot die mens se regverdiging voor God. Wie op die genade met die leë hande van geloof reageer, kom in ‘n posisie van regverdigheid voor God te staan. Dit gebeur op grond van Christus se lyding, sterwe en opstanding, soos deur die Heilige Gees in die gelowige se lewe ingedra.

Geloof en die werke van die wet

Paulus skryf hierdie brief aan gelowiges in Rome. Hulle bestaan uit Jode en nie-Jode. Die Jode is opgevoed om vas te hou aan die nakoming van die wet. Só identifiseer hulle hulself as volgelinge van God in die wêreld. Hulle hou die Sabbat, eet sekere voedselsoorte en nie ander nie, berei hulle kos op ‘n spesifieke manier voor en laat hulle besny.

Die vraag is nou of Christene ook hierdie uiterlike merktekens moet dra voordat hulle as volgelinge van God kan kwalifiseer.

Die verdere vraag is of die verdienste van gehoorsaamheid aan die wet mens in die regte verhouding met God bring, of nie?

Is dit dus die krag van God in Jesus se sterwe en opstanding, wat deur geloof lewe wek in sondige mense, wat red? Of is dit (bykomend) die gehoorsaamheid aan die wet. En verder: is dit die nakoming van die wet wat ons as dissipels van God identifiseer, of nie?

Paulus beantwoord die vraag deur op Abraham se geloof in God se beloftes te wys. Abraham het die beloftes geglo nog voordat hy besny is. Hy het ook geglo voordat God die wet in Moses se tyd gegee het. Dit is die inhoud van Abraham se geloof (God, God se beloftes en God se werke) wat red, nie die wet en die nakoming daarvan nie.

Abraham se nageslag

Abraham is daarom die vader van alle gelowiges. Almal wat glo in God op grond van God se werke in Jesus, is gelowige kinders van God. Abraham is dus die vader van Joodse en nie-Joodse gelowiges. Abraham is die Vader van Afrikaanse gelowiges. Net so ook van Arabiese, Xhosa, Engelse en Surinamiese gelowiges. Ook van Jode wat in die Here Jesus glo. Van almal.

Wat beloof God?

Tot sover het ons gesê dat almal wat in God se werke (wat God in Jesus se lyding, sterwe en opstanding doen) glo, in ‘n herstelde verhouding met God staan. Ons is nie in ‘n herstelde verhouding deur ons eie werke nie, maar deurdat ons God se werke omhels en vir onsself toeëien. God werk dit in ons.

Paulus wy heelwat tyd in ons teks aan die inhoud van die belofte wat Abraham geglo het. Hy maak dit later ook op ons, God se Joodse en nie-Joodse kinders deur geloof van toepassing.

Wat het God aan Abraham en sy nageslag belowe?

  • Dat hy die wêreld as besitting sal ontvang (13)
  • Dat hy, wie se liggaam al oud en verswak was, uit ‘n vrou wat te oud was om kinders te hê, ‘n nageslag sal verwek (19).

God het aan Abraham ‘n nageslag beloof. Die nageslag is die Jode, maar veral diegene wat glo – Jood en nie-Jood.

God het aan Abraham ‘n land beloof. Vir die Jode het hierdie belofte in vervulling gegaan toe hulle Israel deur die Jordaan binnegetrek het. Dit was egter nog nie die volle vervulling van die belofte nie – God het “die wêreld” as besitting aan Abraham en sy nageslag belowe.

Dit is ‘n aangrypende belofte, wat gewoonlik totaal misgelees word.

Robert Brawley wys op ‘n ou Joodse tradisie wat reeds geglo het dat die land Israel nie God se belofte aan Abraham was nie, maar slegs ‘n stasie op ‘n groter reis: sy nageslag sal die hele aarde in besit neem.

Deur saam met Vader Abraham te glo, kry ons deel aan die belofte van die wêreld.

Die wêreld as besitting

Wat beteken dit om die wêreld as besitting te ontvang, ‘n belofte aan diegene wat deur geloof in Jesus Christus aan God verbind en voor God geregverdig is?

Hierdie is ‘n geweldige ryk tema in Paulus se briewe. Mens kan maar net na 1 Korintiërs 3:21-23 of Romeine 8:17 kyk. Hier noem Paulus ons erfgename saam met Christus.  Dink ook aan Jesus self wat in Matteus 5:5 sê dat die sagmoediges die aarde sal beërwe.

Die punt is dat diegene wat in Christus is, saam met Christus die heerlikheid van die nuwe aarde sal beërwe.

Tans leef ons nog op die ou aarde. Ons deel aan gebrokenheid. Ons sien soos Abraham soveel dood en hooploosheid rondom ons. Ons deel ook in die swakheid van die mens.

Tog kan ons glo in God se beloftes van nuwe lewe. Dat God aan ons sal doen wat Hy aan Jesus gedoen het. Dat God ons sal optel uit die graf en ons lewend sal maak. Ons kan dit waag om te glo in dié God “wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie tot stand bring deur sy woord” (17).

Ons wat die vrug van Christus se sterwe en opstanding ontvang het – ook ons het nog nie alles ontvang nie. Ons leef ook nog – soos Abraham – met ‘n belofte.

Bly glo en hoop

Daarom het ons die verantwoordelikheid om saam met Abraham te bly glo en hoop (20-21):

Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

Ons geloof in God bind ons – saam met Abraham – in by die ontvangs van God se gawes, en die vooruitsien na die volle heerlikheid van wat ons as erfgename saam met Christus sal ontvang.

In Lydenstyd

Lydenstyd fokus ons aandag op die besonderhede van Christus se lyding en sterwe – ter wille van ons.

Romeine 4 tel ons vandag vir ‘n oomblik uit hierdie detail uit op. Dit help ons om die betekenis van Christus se lyding in die groter prentjie van die plot van God se evangelie te sien.

Dit vervul ons met geloof en hoop op God se wonderlike toekoms wat vir ons – saam met Abraham – weggelê is. Ons sal dit in Christus ontvang.

Die wêreld is mooi. Die berge is mooi. Maar nie naastenby so mooi soos God se nuwe aarde nie. Die wêreld  is ook stukkend. Daar is geweldige baie lyding, onreg, dood en hooploosheid. Soms lyk dit of lelik wen.

Die mooi en die lelik hou egter nie stand teen die ongelooflike nuwe hemel en nuwe aarde wat God beloof het nie.

Saam met Abraham hou ons aan God se beloftes vas. Totdat God dit vervul.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 104 Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus [bekend – ou Halleluja lied] of
Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”

Seën

Respons: Vonkk 175 vers 4 refrein:  o Lam van God, ek glo! of
Lied 203 vers 2 laaste twee reëls:  Loof Hom, prys Hom!  Loof en prys Hom!  Hy’s genadig en getrou.

F386. Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou [ons] Vervul (Benedictus)
(RUBRIEK: Flam – Seënbede)
Teks: Neil Büchner
Musiek: Neil Büchner
© Flam Musiek-Uitgewers
(Rom 15:13)

Mag die God van hoop
deur geloof jou vervul
met alle vreugde en vrede
sodat jou hoop
sterker kan word
deur die krag van Sy Gees.

Tweede:
Laat dit so wees: Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.