Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleuteltekste (perikope) vir die volgende vier Sondae vorm deel van die “Abraham en Sara”-siklus in Genesis 11:30-25:18.

Die tekste in die Abraham en Sara-siklus wat in hierdie reeks aandag kry is:

  • Genesis 18:1-15, (21:1-7): Die drie besoekers wat die belofte ‘n finale keer aan Abraham en Sara bevestig.
  • Genesis 21:8-21: Abraham stuur vir Hagar en Ismael weg.
  • Genesis 22:1-14: Abraham word getoets met die opdrag om Isak, aan wie die vervulling van die belofte hang, te gaan offer.
  • Genesis 24:34-38, 42-49, 58-67: Isak kry Rebekka as vrou.

Die inleidende gedeeltes tot die vier preekstudies gee volledige en goeie agtergrond tot hierdie vier verhale uit Abraham en Sara-siklus.

Vandag se sleutelteks raak weereens aan die belofte van ‘n erfgenaam en ‘n nageslag vir Abraham en Sara. Die twee, reeds oues, word by die dag ouer en direk eweredig daarmee verdwyn die belofte al verder in die verskiet tot op die warmste uur van een somerdag dat die twee oues besoek ontvang. Die verhaal wil algaande duidelik maak wat dit beteken om as “belofte-mense” te leef, teen alle verwagtings en teenspoed in. Hulle gasvryheid laat hulle vir God raakloop.

Ander tekste

Genesis 21:1-7
Die geboorte van Isak
21 Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. 2Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het. 3Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem. 4Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was. 5Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.

6Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom ’n seun in die wêreld gebring.”

Psalm 116:1-2, 12-19
Ek het die Here lief
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.

3Bande van die dood het my omsluit, 
doodsangs het my aangegryp, 
ek het benoud en bekommerd geword. 
4Toe het ek die Naam van die Here 
aangeroep: 
“Here, red my tog!” 
5Die Here is genadig en regverdig, 
ons God ontferm Hom oor ons. 
6Die Here beskerm die hulpeloses: 
ek was magteloos, 
maar Hy het my gered. 
7Ek moet nou tot rus kom, 
die Here het goed aan my gedoen: 
8U het my van die dood gered, 
U het ’n einde gemaak aan my trane, 
U het gesorg 
dat ek nie weer struikel nie. 
9Ek kon voor die Here bly wandel 
in die land van die lewendes. 
10Ek het in U bly glo, 
selfs toe ek gedink het 
dit is klaar met my 
11en toe ek in my vertwyfeling besef het: 
ek kan op geen mens staat maak nie. 

12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!

Romeine 5:1-8
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Matteus 9:35-10:8 (9-23)
Die groot oes
35Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.

36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. 37Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Jesus stuur die twaalf uit
(Mark 3:13–19; Luk 6:12–16)
10 Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.

2Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; 3Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; 4Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

Jesus gee opdragte aan die twaalf
(Mark 6:7–13; Luk 9:1–6)
5Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:

“Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie. 6Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. 7Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’8Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9“Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie 10en moenie vir die pad ’n reissak aanskaf of nog ’n kledingstuk of skoene of ’n stok nie. ’n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11“As julle in ’n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. 12As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. 13As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. 14As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. 15Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

Vervolginge wat voorlê
(Mark 13:9–13; Luk 10:3; 21:12–17)
16“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 17Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. 19Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. 20Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 22Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. 23As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ’n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24“’n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Fokusteks

Genesis 18:1-15
Abraham ontvang drie besoekers
18 Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, 2kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. 3Hy het gesê: “Menere, u sal my ‘n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers ‘n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ‘n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”

Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!”

6Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

7Daarna het hy na die beeste toe gedraf en ‘n mooi jong kalf gevat en vir ‘n slaaf gegee om dit gou voor te berei. 8Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien.

9Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.”

10Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê.”

Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant. 11Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring, 12en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?

13Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ‘n kind in die wêreld bring noudat ek oud is? 14Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.”

15Sara het geskrik en toe ‘n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê.

Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet: Matteus 22:34-40

Skuldbelydenis: GEBED AHV PS 67

Vryspraak: Romeine 5:1-8

Geloofsbelydenis

Loflied: Lied 116 “God het ek lief vs 1,2,3,4,5,6,7”

Epiklese

Skriflesing: Genesis 18:1-15

Familie-oomblik
Prediking
Verbintenis van vertroue
Offergawes

Wegsending: Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord
8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Open 1)

Seëngroet
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (2 Tess 1)

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet: Matteus 22:34-40

Die vraag oor die grootste gebod
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis GEBED AHV PS 67
Sal u Here ons genadig wees
en ons seën,
mag U tot ons redding verskyn,
 3sodat U dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
U reddende krag onder alle nasies.

Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.

 6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet U eer
Amen

Vryspraak: Romeine 5:1-8

Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Geloofsbelydenis
“Ek glo in Jesus Christus,
nie in ’n halfgod of ’n halfmens nie,
maar in die ewige Seun van die ewige Vader
wat uit louter liefde die hemel geskeur het,
om ’n mens te word,
wat kon lag en ly, wat kon twyfel en vrees
– een van ons.

Ek glo dat Hy te midde van die haat,
die koue en die verskrikking
as ’n weerlose Kind gekom het
– ter wille van die weerloses en die kinders.

Ek glo dat die eindelose opstand
teen God en die goeie
die enigste Mens wat God en goed was,
geoordeel en vermoor het
en dat die pyn en die godverlatenheid
van die hele wêreld
in sy sterwensroep gestol het.

Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het
en dat sy opstanding
die ewige teken is dat dinge anders kan wees;
dat die stryd tussen die lewe en die dood
finaal ten gunste van die lewe besleg is
en dat hierdie waarheid voortaan uitsig bied
in die mees uitsiglose omstandighede.”

(Gedeeltelik aangehaal uit die Groot Gebedeboek, bladsy 414 )
Soos aangehaal in www.leesrooster.co.za: Jesaja 02_1-5.doc van 28 November 2004

Loflied: Lied 116 “God het ek lief vs 1,2,3,4,5,6,7″

Liedere

F11. “Here U Is Genoeg”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Corli Janse van Rensburg
© 2009 FLAM Uitgewers

Here U is genoeg
Net U vir my, net U vir my
Here u bloed het gevloei
Net U vir my, net U vir my

Ek’s vrygespreek, vrygemaak
Ek is vry in u Naam
Ek staan verwonderd Heer vanaand

F202. “Hoe Groot Is Ons God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: How Great Is Our God
Teks en Musiek: Chis Tomlin, Jesse Reeves & Ed Cash
Afrikaanse vertaling: 2007  Stass van Veuren
© 2004 worshiptogether.com songs / sixsteps Music / Alletrop Music

1. Die weelde van die Heer, geklee in majesteit
Die hele aarde juig, die hele aarde juig
Hy klee homself met lig en duisternis moet vlug
Begin en die einde, begin en die einde

Refrein:
Hoe groot is ons God
Ons sing:  Hoe groot is ons God!
Almal sal sien hoe groot is ons God

2. Eeue kom en gaan
Tyd is in sy hand
Begin en die einde, begin en die einde
Die Godheid drie-in-een
Vader, Gees en Seun
Die Leeu en die Lam, die Leeu en die Lam

Brug:
Naam bo elke Naam
Waardig is die Lam
My hart sal sing
Hoe groot is ons God

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.

Skriflesing: Genesis 18:1-15

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel die storie van Justin.  Die punt is om die idee van ’n belofte wat verwagting skep op die tafel te sit, die wag daarvoor te beklemtoon en daarna die vervulling van die belofte te vertel.

Sluit daarna aan by die verhaal van Abraham en vertel kortliks die storie.

Justin was sóóó opgewonde.  Sy pa het vir hom belowe dat hulle die vakansie gaan visvang.  Dit is vir Justin die lekkerste ding, om saam met sy pa te gaan visvang.  Wat hierdie visvang egter nog meer spesiaal gemaak het, is dat hulle in ’n tent sou bly by die see.

Vir al sy vriende het hy voor die vakansie die storie vertel.  Hy kon nie wag dat die vakansie aanbreek nie.  In die skool het hy gedagdroom oor die groot vis wat hy sou vang.  En hy het uitgesien na die vis op die kole.  Sy pa neem ook altyd marshmellows saam om oor die kole te laat smelt.  Hy het geweet dit gaan sommer ’n groot avontuur wees saam met sy pa.  Hy en sy pa ’n hele week lank saam!

Sy pa was egter baie besig.  Hy moes Kaap toe vlieg vir besigheid.  En Justin het begin wonder of hulle ooit by die visvang sou uitkom.  Sê nou sy pa kan nie, dan is al sy opgewondenheid verniet.  Toe sy pa hom bel hom van die Kaap af, vra Justin heel bekommerd: “Pa, gaan ons nog visvang die vakansie?”

Sy pa het hom verseker hom dat hulle steeds die vakansie sou gaan visvang.  Hy moet net geduldig wees.  Sy pa het belowe en hy sal sy belofte nakom.

Maar Justin was nie so seker nie.  Hy’t gewonder of die belofte sal waar word.  En die eerste week van die vakansie het regtig lank begin raak vir hom.  Dit was sóóó swaar om te wag.  Dit was asof die tyd gaan stilstaan het.  Toe hy weer met sy pa praat en bekommerd is, het sy pa vir hom verseker: “Alles is gereël, hierdie naweek gaan ons die kar pak en ry.  Moenie bekommerd wees nie.  Ons gaan regtig gaan visvang.”

Justin het geweet sy pa hou sy beloftes, maar dit was so swaar om te wag!

Uiteindelik het die eerste naweek in die vakansie aangebreek … en sy pa en hy het die motor gepak, al die visstokke, die tent, lekker eetgoed … en daar is hulle weg, nes sy pa belowe het.

En was dit nou lekker!  Hy het die grootste vis gevang, foto’s geneem, en hom gate uit geniet saam met sy pa.  En hy kon vir sy vriende die wonderlike storie gaan vertel.

Preekriglyn

Genesis begrond die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge.  Die God van Abraham, Isak en Jakob, Elohim, is die God van al die nasies, trouens van die hele heelal.  Hy het nie net alles gemaak nie. Hy tree in verhouding met mense van die begin af soos in die verhale van die families van Adam, Noag en Abraham gesien kan word.  Sy genade word van die begin af sigbaar in die ontstaan en vestiging van families as geloofsgemeenskap.

Genesis 18

Ons teks vertel ‘n belangrike verhaal in Genesis.  Dit is die bes beskryfde 24 uur tydperk in die hele boek van Genesis.  Dit gee ons ‘n besondere kykie in die ontwikkeling van die verhouding tussen God en sy mense.  Dit steek die hoop in ons aan dat ons op dieselfde wyse in ons eie verhouding met God kan groei, nie net in terme van die seën wat dit vir onsself bring nie, maar veral ook in terme van die impak wat dit in die wêreld kan hê.

Abram demonstreer oorvloedige gasvryheid in dié verhaal. Dit is die sleutel om die verhaal se betekenis te ontsluit.

Drie figure in die dynserigheid

Dis warm.  Die bokke staan in mekaar se skaduwee.  Die beeste beweeg net hulle kake om te herkou.  Die skaduwees is kort.  Dis die warmste deel van die dag.

Abraham sit-slaap in die trek van sy oop tentdeur.  Hy staar slaperig uit oor die woestyn.  Die hitte slaan golwe oor die duine.  ‘n Beweging trek sy aandag.  Drie figure staan skielik in die dynserigheid

Abraham is nog gevoelig.  Hy is kort tevore besny.  Waar sou die drie mans so skielik vandaan kom?  Hy het nie goed genoeg opgelet nie.

Sonder om te huiwer, staan Abraham egter dadelik op, draf na hulle toe en buig neer voor hulle:
“Menere, doen my die guns.
Moenie net verby gaan nie.
Laat ek eers ‘n bietjie water gaan haal en julle voete was.
Kom rus hier onder my boom.

U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ‘n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

Die drie mans huiwer ook nie.  “Goed!  Maak so!”

Abraham skarrel in die tent in na Sara en sê vir haar:  “Bak vir ons roosterkoeke, sommer 16 kg s’n.”  Dis meer as 64 koppies meel, meer as ‘n honderd roosterkoeke!

Abraham draf buitentoe na die beeste en vat ‘n mooi jong kalf.  Hy gee dit vir ‘n slaaf om te slag en gaar te maak.  Die beste en sagste vleis wat hy het – omtrent ‘n 100 kg.

Abraham vat botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en sit dit voor die mans neer en bedien hulle self.

Daar onder die boom in die warmste deel van die dag het die drie mans geëet, terwyl hy hulle bedien.

Oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê

Dan neem die verhaal ‘n wending.  Die mans vra na sy vrou en maak ‘n belofte: “oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê”.

Skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat.  Sy gasvryheid het in ‘n ontmoeting met die Here verander!  Hy hou ‘n braai vir die Here!

In die ontmoeting doen die Here ‘n wonderlike ding.  Hy bring vir Abraham en Sara weer bymekaar uit.  24 jaar al wag hulle vir die kind van die belofte.  Sara het al vir Abraham haar slavin Hagar gegee om deur haar ‘n kind te hê.  Maar dit het net verwydering gebring.

Geen wonder dat Sara by haarself lag en dink: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is?  En dit met my man wat oud is?”

Maar die Here maak ‘n belofte vir ‘n spesifieke tyd.  Oor ‘n jaar sal jou vrou ‘n seun hê.

En dit was ook só.

Dan skuif die verhaal na die wêreld

As Abraham saam stap om die Here af te sien, dan begin die Here vir Hom intrek in sy planne vir die wêreld, spesifiek dié vir Sodom en Gomorra.  Trouens, in die Hebreeuse teks staan dit duidelik dat God “voor Abraham” gaan staan, soos Abram kort tevore gevra is om “voor God” te lewe (vgl. Gen. 17:1 met Gen. 18:22)!  Dit is waarskynlik die diepste boodskap van die hele boek Genesis, dat God nie net van ons vra om naby Hom te lewe nie, maar dat Hy inderdaad naby aan ons kom.

Dit is dan ook die rede waarom Abraham toegelaat word om ‘n medewerker van God in sy gebed vir die regverdiges in daardie bose plekke Sodom en Gomorra te word, want Abraham lewe naby God en God is naby Abraham.

Vir ‘n tweede keer word Abraham se broerskind Lot saam met sy familie gered.  In Genesis 14 was dit van die ontvoering deur die Mesopotamiese konings.  Hier is dit van die “oordeel” van God oor Sodom en Gomorra.  Dié God verlate plek word vandag geïdentifiseer met die gebiede van die Dooie See.

Boodskap

Die verhale in Genesis het almal ‘n besondere openbaringskarakter.  Dit help ons om diep na te dink oor die lewe, oor God, oor menswees en oor wat regtig  belangrik is in dié lewe.  Dit sluit vir ons die betekenis van ons menswees oop en nooi ons uit om op die belangrike dinge te konsentreer.

Genesis 18 wys vir ons hoe gasvryheid ‘n sleutel is tot ‘n diep verhouding met God, ‘n herstelde verhouding met mekaar en ‘n lewensveranderende verhouding met die wêreld.  Gasvryheid is nie maar ‘n toevallige ding wat sommige kan doen en ander kan nalaat nie.  Dit het nie net met jou persoonlikheid te make nie, maar met die diepste dele van jou menswees.

Groei na God toe

U is nou eenmaal hier – mense kom nie per toeval oor ons pad nie.  Daar is ‘n stuk voorsienigheid in die gebeure van elke dag, wat ons moet aangryp.

Abraham se huis is nie net vier mure teen die wind nie.  Nee, dit het ‘n oop deur na die mense wat moontlik oor sy pad kan kom.  Sy lewe draai nie net om die beveiliging van sy eie nie.  Hy vra nie net Here beskerm my, Here gee vir my om nie.  Nee, Hy lewe na buitentoe.  Here, U is in alles, ook in die gebeure van elke dag.  U kom  oor my pad in die ontmoetings met mense wat U oor my pad stuur.  Ek wag daarvoor Here, stuur die ontmoetings oor my pad!

Hoekom?  Want Abraham weet, ons groei nie na God net deur ons stiltetyd of deur die erediens of deur een of ander godsdiensoefening nie.  Nee, God is in elke uur van elke dag.  Hy is in die lewe en terwyl die lewe gebeur, kom daar ontmoetings met God, nie net in die Bybel nie, maar in die mense wat nou maar eenmaal oor ons pad kom.  Ons groei na God toe in ons oop tentdeure in die woestyn.

Jesus sluit hierby aan in sy profetiese rede oor die laaste oordeel.  Hy sê vir die skape aan sy regterkant: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is!  Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.  Neem dit as erfenis in besit, want … Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  Vir sover hulle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:34-35, 40).

Die Hebreërskrywer doen dieselfde: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Hebr. 13:2).

Lukas herinner ons aan die twee op pad na Emmaus wat by die vreemdeling wat aan hulle verskyn, aandring om by hulle oor te bly en dan agterkom dat dit al die tyd Jesus was by hulle!  “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk. 24:32).

Niks gebeur net per toeval nie!  Hoe gepas was die gasvryheid van Abraham nie … as jy aan die einde van die verhaal terugkyk!  As jy geweet het God besoek jou in die onderbreking van jou middagslapie, sou jy gehardloop het en nog meer kos gaar gemaak het as Abraham … as jy maar net geweet het!

En dis die eerste punt van dié verhaal.  Gasvryheid is die deur na ‘n ontmoeting met God!  Ons groei na God toe deur gasvryheid te betoon aan die onderbrekings op ons pad!  Die deur na God maak oop die oomblik as jy vir iemand sê wat jou dag onderbreek: “Jy is nou eenmaal hier …” en wie weet waarheen die deur jou sal lei?

Groei na mekaar toe

Maar gasvryheid het nie net betekenis vir ons verhouding met God nie.  Dit het ook ‘n direkte impak op ons verhouding met mekaar.  Die verhaal van Abraham sê vir ons, dat daar iets besonders met ons gebeur wanneer ons ons lewens oopmaak vir die vreemdelinge op ons pad.  Ons eie intieme verhoudings word deur die Here heelgemaak, as ons die vreemdeling op ons pad raaksien en met gasvryheid ontvang!

En die wonder van dié verhaal, is dat die Here selfs die kleinste stukkie gasvryheid raaksien!

Kyk, Sara staan hier nie juis as ‘n model van geloof nie.  Sy lag oor die voorstel van die Here.  Sy wonder, sal sy nog plesier kan hê?  Sal haar man nog dié plesier vir haar kan gee?  En ‘n kind op haar ouderdom?

Maar dis juis dié man van haar, wat die eerste heling bring.  Abraham se gasvryheid breek ‘n deur oop vir hulle albei se verhouding ten spyte van  haar ongeloof!

Maar dan raak sy self betrokke.  Sy raak by die gasvryheid betrokke en bak die roosterkoeke!

Ek kan só identifiseer met Sara en haar werklikheidsvisie.  Dis klaar met ons en dit is al!  En haar dromer-man?  Hý én sý is oor die muur en dit is al.

Maar sy bak darem die roosterkoeke.  Sy skeep nie die vreemdelinge af nie … en die wonder van God se teenwoordigheid in dié vreemdelinge sluit haar ook in!

Vir God is niks te buitengewoon nie en Hy maak hulle verhouding heel, plesier en peuter en al. Vir die brood in die oond, gee die Here vir haar ‘n kind en bevredig haar diepste begeerte na ‘n nageslag en skep vir haar en Abraham ‘n ruimte om hulle huweliksliefde te kan laat groei tot ouerliefde.

O – dat ons nooit die geleentheid sal laat verbygaan om vir iemand wat oor ons pad kom, iets goeds te doen nie.  Ter wille van God, maar ook ter wille van onsself.  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.  Maar dan ontvang ‘n mens ook weer soveel van God, dat die dankbaarheid jou ook weer motiveer om weer te gee en weer en weer … dis die lewe!

Groei na die wêreld toe

Maar dis nog nie al nie!  Dié gasvryheid het nog wyer implikasies as die verhouding met God en met mekaar.  Dit raak die hele wêreld!

Dis interessant hoe die verhaal met die aankondiging van ‘n kind, ‘n heel ander pas aanneem.  Waar dit Abraham was wat rond gehardloop het en reggemaak het en gaan staan het onder die boom om God te bedien, verdiep die gesprek tot ‘n intieme vriendskapsverhouding.

Die teks sê eintlik dat as Abraham die drie vreemdelinge gaan afsien op pad die woestyn in, God voor Abraham gaan staan en intrek in ‘n merkwaardige verhaal van medewerking vir die wêreld.

Die agenda is nie meer net die verhouding met God of die verhouding met Sara nie.  Nee, die agenda omsluit nou die hele wêreld.  God deel met Abraham wat Hy gaan doen met Sodom en Gomorra en lok Abraham uit om saam te gesels en erken Abraham se bydraes.

Abraham se gasvryheid het dus baie meer implikasies as wat hy ooit kon besef het met die eerste draffie die son in om ‘n driemanskap te onthaal.  Sy lewe word onherroeplik verbind aan wat in die wêreld gebeur.  Gasvryheid lei tot God, lei tot geloof, lei tot gemeenskap, lei tot gebed en lei tot verhoring van gebed.

Daarom dat die Nuwe Testament uiteindelik so vol is van oproepe na gasvryheid.  Want dit is die beginsel van die nuwe lewe.  En die basis daarvan is vriendskapsliefde.

  • Romeine 12:13 gee die omvattende liefdesbeginsel: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid (philoxenia – vriendskapsliefde vir vreemdelinge).”
  • Kolossense 4:10 spits dit toe op evangeliebedienaars: “Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang.”
  • 1 Timoteus 3:2 pas dit toe op ouderlinge: “‘n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig;”
  • Titus 1:8  brei uit oor die leiers: “Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers.”
  • 1 Petrus 4:9  herinner ons: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.”

Daar is niks meer opwindend as gasvryheid nie.  Daar is niks meer avontuurlik as om die eerste draffie te gee na iemand wat oor jou pad kom nie.

En dis belangrik om te besef dat dié gasvryheid in die eerste plek bedoel is vir vreemdelinge!  Daarom dat die woord gasvryheid letterlik beteken: vriendskapsliefde vir vreemdelinge.  Gasvryheid beteken om in te nooi, om as gasheer op te tree teenoor iemand wat buite staan.

Pat Keifert sê ons verval te maklik in ‘n soort private intieme godsdiens.  Ons gebruik die metafoor van ‘n intieme familie en sluit daarmee mense uit wat nie deel van die familie is nie.  En hoewel die kerk verseker met die beeld van familie beskrywe kan word, is dit nie net die intieme beeld van familie wat saamgevoeg in hulle huisie sit en beskerm word teen die koue en die gevare nie, maar ook  die beeld van ‘n Abraham wat met sy oop tent sit en drie vreemdelinge ontvang in sy familiekring.  Geen wonder dat Hy God op dié manier ontmoet het nie, want dít is die tipe gasvrye God wat ons het!

Gasvryheid is ‘n kultuur van uitreik na die wêreld.  Dit is die wyse waarop ons ons liefde aan ander bekend maak.  Dit is die ontmoetingspunt tussen mens en God en mens en medemens.  Dit is die helingsmoment wat vervreemding in vriendskap laat verander.

Dink net as ons die beste wat ons het, kan netwerk met die slegste wat ons het!  Die meeste met die minste!  Die siekste met die gesondste!  Die oudste met die jongste!  Die vinnigste met die stadigste!  Die rykste met die armste!  Die slimste met die domste!

My droom is dat die kerk ‘n plek sal word waarvandaan ons gaan lewe daarbuite eerder as ‘n plek waarnatoe ons kom om te lewe.  Die kerk moet my help om nader te groei aan mense daarbuite en nie net nader te groei aan mense hierbinne nie.  En om dít te doen, moet elkeen van ons aktiewe netwerkers word.

Ons moet mense intrek in ons kring en hulle blootstel en inlei in verhoudings met ander mense en met die Here.  En die ideale manier, is deur ons gasvryheid.  Die Nuwe Testament maak geweldig baie van die prinsipiële radikale openheid wat ons teenoor alle mense moet handhaaf, veral teenoor diegene wat op die rand van die samelewing staan. Ons moet vreemdes deel van ons omgee-kultuur maak.

Groei dus na God, mekaar en die wêreld deur GASVRYHEID … dié week en elke week!

God stuur ons om te leef

Verbintenis van vertroue
Voorganger: Leer ons U vertrou, o Here,
Gemeente: leer ons lewe U ter ere,

Voorganger: leer ons reken op u krag,
Gemeente: leer ons vertrou selfs in die nag.

Voorganger: Ag Here, omdat ek u dienskneg is,
Gemeente: het U my boeie losgemaak.

Voorganger: Ag Here, u Naam sal ek aanroep.
Gemeente: Aan U sal ek ’n dankoffer bring. (uit Lied 517 en Ps 116:16-19).

Offergawes

Wegsending: Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Seën
Die Here sal vir jou goed wees en vir jou sorg.
Die Here sal jou raaksien en vir jou sy liefde gee.
Die Here sal jou goedgesind wees en jou van onheil
bewaar.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.