Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In hierdie liturgiese voorstel val die klem op die identiteit van God Drie-enig as Almagtige Redder, en die identiteit van ons as gelowiges as één gemeenskap van gestuurdes.

In die sleutelteks, Galasiërs 3:23-29, leer Paulus ons ‘n belangrike faset van ons identiteit as gelowiges: In Christus Jesus is ons één sonder onderskeid tussen ons. In 1 Konings 19:1-4, (5-7), 8-15a is die tema van identiteit weereens opvallend: Die identiteit van God as Almagtige Redder wat Elia versorg, in die aandwind met hom praat en opnuut sy identiteit as profeet bevestig deur hom uit te stuur en dat mens jou vertroue daarin moet stel. Lukas 8:26-39 benadruk Jesus se identiteit as Almagtige Redder en Seun van God aan wie bose geeste gehoor gee.

 Ander tekste

Spreuke 8:1-4, 22-31
8 Dit is Wysheid self wat roep,
dit is Insig wat haar stem laat hoor.
2Op die hoogtes langs die pad,
by die kruispaaie, gaan sy staan,
3langs die stadspoorte, by die ingange,
skree sy dit uit:
4“Ek roep na julle, mense,
ek roep na alle mense:

22“Die Here het my geskep,
Hy het met my begin;
ek is die eerste wat Hy gemaak het,
lank, lank gelede.
23Ek is lankal daar, van die begin af,
voor die aarde daar was.
24Ek het gekom toe die groot waters
nog nie daar was nie,
toe daar nog nie fonteine
vol water was nie.
25Voor die berge hulle plek gekry het,
voor die rante het ek al gekom,
26voor die Here die aarde
met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond
gemaak het.
27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf
opgerig het,
toe Hy die horison oor die see
afgemerk het,
28toe Hy die wolke daarbo gesit het,
die fonteine onder die diep water
laat uitborrel het.
29Ek was daar toe Hy vir die see
sy grens vasgestel het,
die waters aan sy wil onderwerp het,
toe Hy die fondamente van die aarde
afgesteek het.
30Ek het my kennis by Hom gekry,
ek was elke dag sy vreugde;
die hele tyd het ek dit by Hom geniet.
31Ek het my verlustig in die wêreld
wat Hy gemaak het,
die mense was vir my ’n vreugde.

Psalm 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Romeine 5:1-5
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Fokusteks

Galasiërs 3:23-29
Die wet of die geloof
3 Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang! 2Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? 3Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? 4Was al julle swaakrkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! 5Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? 6So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

7Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. 8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.

10Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” 11En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

12By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”

13Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.” 14Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.

Die wet en die belofte
15Broers, ek gaan nou ‘n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As ‘n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. 16God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” g, net een, en hierdie nakomeling is Christus.

17Hiermee wil ek dit sê: God het ‘n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie. 18As ‘n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur ‘n belofte toegesê.

19Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ‘n tussenganger aan die volk gegee. 20Maar as daar net één is wat handel, is ‘n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een.

Slawe en seuns
21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ‘n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ‘n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

4 Hierby wil ek nog dít sê: Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Ekstra stof

GALASIËRS 3 – Ons is kinders van God deur geloof – Sola Fide
Maarten Luther skryf oor Paulus se skerp en sarkastiese toon in hoofstuk 3 dat ‘n mens ‘n soort “afstand en koelheid” opmerk by hom. Hy noem hulle nie sy broers en susters soos hy gewoonlik doen nie. Hy spreek hulle as “Galasiërs” aan om hulle te herinner aan hulle dwaasheid in geloof.  Hy wonder wie hulle “getoor het” om van die ervaring van die Gees se krag in hulle lewens wat deur geloof werk te eindig by die dwaasheid om deur die wet te probeer om hulle vlees in toom te hou.  Dit sal mos nooit werk nie!

Die rede vir sy skerp toon is dat dit nou maar eenmaal só is dat daar telkens slegte dinge is wat aan individuele Christene en selfs hele gemeentes bly vasklou. Die feit dat ‘n mens die genade van die Here ervaar het, verander jou nie skielik in ‘n nuwe en perfekte skepsel nie. Dele van die ou natuur en sy korrupte geaardheid bly voortbestaan. Die Gees van God kan nie alle menslike gebreke in jou met een slag oorwin nie. Heiligmaking duur tyd.

En dan kan jy die verkeerde keuse maak.  Jy kan dink dat die wet jou gaan help.  Maar Paulus wil dié gedagte in die kiem smoor.  Vandaar die beklemtoning van geloof as die enigste manier nie net om jou verhouding met God te herstel nie, maar ook op die pad van heiligmaking te vorder.

Kom ons lees wat Paulus hieroor skrywe:

Die Galasiërs se eerste ervaring van die evangelie
1 O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor? Julle voor wie se oë Jesus Christus so duidelik as gekruisigde geteken is! 2 Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die nakoming van die wet of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3 Is julle so dwaas? Julle het met die krag van die Gees begin; gaan julle nou met menslike krag eindig? 4 Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5 Gee Hy dan vir julle die Gees en verrig Hy kragtige dade onder julle op grond van die nakoming van die wet of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het?

Die Skrif bewys die evangelie
6 Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 7 So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham. 8 En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9 Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. 10 Trouens, diegene wat op die nakoming van die wet staatmaak, val onder ‘n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie by alles wat in die boek van die wet geskryf staan, hou en dit uitvoer nie.”  11 En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Wie geregverdig is op grond van geloof, sal leef.” 12 En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Wie dit nakom, sal daardeur leef.”  13 Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.” 14 Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Die voorrang van die verbond bo die wet
15 Broers, ek gee ‘n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. 16 En die beloftes is aan Abraham en sy Nakomeling toegesê. Daar staan nie “en aan die nakomelinge” soos wat ‘n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat ‘n mens na een verwys: “en aan jou Nakomeling” —dit is Christus. 17 Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos en daardeur die belofte tot niet nie. 18 Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het vir Abraham deur ‘n belofte begenadig.

Die voorrang van die geloof bo die wet
9 Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredinge; dit is gegee totdat die Nakomeling sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele, deur die tussenkoms van ‘n middelaar. 20 Maar ‘n middelaar beteken dat daar nie net een betrokke is nie, en God is tog één!  21 Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar ‘n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die vryspraak in der waarheid op grond van die wet kon geskied. 22 Maar die Skrif het alles onder die sonde ingeperk sodat die belofte wat op geloof in Jesus Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo.  23 Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingeperk met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. 24 Die wet was dus ons oppasser met die oog op Christus, sodat ons deur geloof vrygespreek kon word. 25 Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van ‘n oppasser nie.

Gelowiges is kinders en erfgename van God
26 Julle is immers almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus, 27 want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek. 28 Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus! 29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte erfgename.   (BDV)

SOLA FIDE

Wie het julle getoor met die wet?
Paulus begin met ‘n skoot sarkasme om die Galasiërs te ruk uit hulle onbegrip: “Wie het julle getoor?”  Want Paulus kan dit doodgewoon nie glo dat mense wat deur geloof in Jesus Christus die wonder van die Heilige Gees ontvang, só afvallig kan raak dat hulle by gehoorsaamheid aan die wet kan eindig nie.  In hoofstuk 5 sal hy die ander kant beklemtoon dat mense nie by die genade moet begin en weer by die sonde moet eindig nie.

In hoofstuk 2 het hy vir hulle gewys dat Titus nie besny is nie, want sy geloof in die Here Jesus Christus was genoeg.  Hy het vir hulle van sy publieke teenstand vertel teen die skynheiligheid van Petrus en Barnabas wat ewe skielik soos Jode begin optree het, toe van die Jode hulle neuse opgetrek het vir die etes saam met gelowiges uit die heidene.  En hy het vir hulle ook vertel van die heerlike werklikheid van Jesus Christus wat in hulle woon en wat só ‘n werklikheid is dat dit is asof hulle nie meer leef nie, maar Christus in hulle.

Dit is die gedeelde ervarings van alle gelowiges.  Dat Jesus in ons kom woon. Dat ons die krag van die Gees ontvang.

Maar hoe op aarde, sê Paulus, kan julle dink dat dit deur die gehoorsaamheid aan die wet kan gebeur?  Die wet is ‘n belangrike deel van die Bybel.  Dit het ‘n baie belangrike funksie, soos hy verder op sal uitbrei in vers 19-25, veral in die funksie as ‘n toesighouer en oppasser sodat ons die wonder van Christus nie sal mis nie.

Die wet is soos twee heinings langs die pad wat keer dat ‘n mens nie van die pad na en saam met Christus afwyk nie.  Maar die wet kan jou nie die werklikheid van Christus gee nie.  Net geloof kan dit doen.

God se werk in hulle het ‘n werklikheid geword deur die geloof en die krag van die Heilige Gees, nie deur die wet of hulle eie krag nie.  Die krag van die evangelie het in hulle lewens losgebars deur hulle geloof in Christus.  Sola fide.

Paulus herinner hulle aan hulle eerste ervaring van geloof
Ek weet nie hoe gereeld jy terugdink aan jou eerste ervaring van geloof nie.  Maar, dit is wat Paulus hier met die Galasiërs doen. Dink ‘n bietjie terug hoe dit gekom het dat julle deel van die geloofsgemeenskap geword het.  Julle was heidene, nie wetsgehoorsame Jode nie.  En julle het die boodskap van die Here Jesus Christus as gekruisigde omarm en die vergifnis en nuwe lewe wat Hy gee omhels.  En julle die Heilige Gees ontvang en die pad saam met ons begin loop. Ons kan selfs ook van die verhale lees in Handelinge 13-14.

Jy kan self terugdink aan jou eerste ervaring van die Here Jesus Christus.  Ek kan jou wed dat dit nie was omdat jy die wet gehoorsaam het nie.  Dit sal eerder wees dat jy bewus geword het van jou sonde deurdat jy juis nie die wet kon hou nie, en genade en vergifnis nodig gehad het.  En toe jy in geloof jou vertroue op die Here Jesus Christus geplaas het, toe het daar ‘n las van jou skouers afgeval, die wete dat Hy jou vergewe het, dat Hy nou in jou kom woon, dat Hy nou jou metgesel word, dat Hy van nou af jou Here en Leidsman sal wees.

En dit is so belangrik om hieraan herinner te word, want anders eindig jy met die krag van jou menslike vlees, en ontbeer jy die krag van die Heilige Gees wat aan jou gegee is vanweë jou geloof en vertroue in die Here Jesus Christus.

Natuurlik het jou bekering ingesluit dat jy begin het om die Here Jesus te volg en sy woorde ter harte te neem, en jy het die Woord begin lees en vanuit die beloftes daarin begin leef.  Maar jou saligheid was nie afhanklik van jou gehoorsaamheid aan die wet nie.  Dit was iets wat God vir jou gegee het dié dag toe jy begin glo het in die Here Jesus Christus.

Skrifberoep bepaal ons geloof
Paulus bly egter nie net by hulle ervaring van geloof nie. Want, dit is subjektief.  Nee, hy gebruik ses aanhalings uit die Skrif om vir hulle die waarheid daarvan te onderstreep.  Hy is terdeë bewus van die valse evangelie wat van die Joodse dwaalleraars versprei en wou hulle dwase Skrifgebruik aan die kaak stel, sodat hy hulle kan troef met ‘n verantwoorde Skrifgebruik.

Volg dit saam met my in die Bybel:

 1. In vers 6 haal Paulus uit Genesis 15:6 aan: “Abraham het God geglo en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Hy wou teenoor die Joodse skynheiliges beklemtoon dat geloof die beginpunt is van ‘n verhouding met God, nie die wet nie.  Hy wou hê hulle moet besef dat die mense wat op geloof staatmaak, in der waarheid die kinders van Abraham is.

Sy teenstanders het daarteenoor geleer – heel moontlik op grond van Gen. 17:13 – dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ‘n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word, soos dit daar inderdaad staan.

Maar Paulus troef dit deur ook uit Genesis aan te haal, maar uit ‘n vroeër teks, uit Genesis 15:6, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word.  Die gebeurtenis gaan na sy mening die verhaal van Genesis 17 oor die besnydenis vóóraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis!

In Romeine 4:13 vv. sou Paulus nog meer hieroor skrywe om dié punt finaal te onderstreep.  Paulus beklemtoon dus dat geloof ‘n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham: “dié wat glo, (is) kinders van Abraham“.

2. In vers 8 haal hy die Skrif uit Genesis 12:3 aan wat volgens hom vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek. Daarom het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.”  En daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën.

3. In vers 10 haal hy uit Deuteronomium 27:26 aan wat dié gedagte bevestig dat diegene wat op die nakoming van die wet staatmaak, eintlik val onder ‘n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie by alles wat in die boek van die wet geskryf staan, hou en dit uitvoer nie.” Jy is dus gedoem as jy die wet probeer nakom.

4. In vers 11 haal hy uit Habakuk 2:4 aan wat dié gedagte nog verder onderstreep dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig kan word nie, want die profeet het verkondig: “Wie geregverdig is op grond van geloof, sal leef.” Die lewe lê in die geloof, nie in die wet opgesluit nie.

5. In vers 12 haal hy uit Levitikus 18:5 aan en onderstreep verder dat die wet teenoor die geloof staan, en daarom nie daarop gegrond kan wees nie, want die wet kan nie vir jou die oorvloed van lewe gee wat die geloof in Jesus Christus kan nie. Sy stelling uit Levitikus kan eintlik vir albei, die wet en die geloof, geld: “Wie dit nakom, sal daardeur leef.” As jy die wet nakom, is dit al wat jy het, en jy sal daardeur leef, of meer korrek, daardeur sterf, omdat daar ‘n vloek rus op elkeen wat die wet probeer nakom en nie daarin slaag nie.  Net Jesus Christus kon dit doen.  Daarom is die geloof die enigste manier om die vloek van die wet te ontglip.

6. In vers 13 haal hy uit Deuteronomium 21:23 aan waarmee hy die wonderlike waarheid verkondig dat Christus ons vrygekoop het van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.” Die doel daarmee was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus na die nasies sou gaan, en dat almal die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Dít is die wonderlike werklikheid van geloof.  En niemand moet julle anders leer nie, sê Paulus. En julle moet niemand glo wat nie met hierdie konsekwente boodskap van die Bybel werk nie.  Jy hoef nie geleerd te wees om dié dinge te verstaan nie.  Dit is helder in die Skrif.

Die voorrang van die verbond bo die wet
Maar Paulus is nie klaar nie.  Hy weet dat hulle nog meer ammunisie nodig het om die Joodse dwaalleraars die hoof te bied.  Daarom gee hy hulle nog ‘n aanhaling in vers 16, dié keer uit Genesis 12:7 (vgl. soortgelyke ooreenkomste in Gen. 13:15; 17:7; 24:7).  En dié keer argumenteer hy dat die verbond bó die wet in rangorde geld.  Hy koppel dit aan ‘n voorbeeld uit die daaglikse lewe, dié van iemand se testament.  Nadat dit bekragtig is, kan niemand dit ongeldig maak of bepalings byvoeg nie.  Dit is geldig en die enigste basis van beoordeling vir wat met die bemakings uit die testament kan gebeur.

En volgens Genesis 12:7 word daar in die enkelvoud van Abraham se saad gepraat, en hoewel ‘n mens dit as nakomelinge kan vertaal, om sin te maak daarvan in Genesis, kan Paulus met reg sê, die eintlike bedoeling van Genesis is om van Een Nakomeling te praat, en dít is Christus, die ware Nakomeling van Abraham.

Die verbond is dus van krag in die Een Nakomeling, dit is Christus. Die wet wat daarna gegee is, kan nie die testament van God wat in Jesus Christus van krag word, tot niet maak nie.  Die wet kan nie die genade wat God aan Abraham deur ‘n belofte toegesê het, vervang nie.

Watter rol speel die wet dan?
Paulus weet dat dit daarom noodsaaklik is om die rol van die wet uit te spel, want as die verbond geldig is sonder die wet, en die geloof ‘n mens deel van God se verbond maak, hoekom was die wet dan nodig?

En onthou, vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.

Paulus weet egter dat sulke argumente die dood in die pot is vir geloof in God onder die heidennasies.  As jy eers ‘n Jood moet word voor jy regtig ‘n Christen kan wees, word die sentrale betekenis van die Christus-evangelie versaak en word nie net ‘n kulturele kenmerk ‘n voorwaarde vir geloof  gemaak nie, maar word wetsgehoorsaamheid beklemtoon bo die genade wat deur die geloof werk.

En dit kan nie.  Dit rand die betekenis van die vryheid wat Christus gebring het van die wet in sy wese aan.  En dit maak van die Christelike geloof ‘n eksklusiewe Joodse beweging wat nie universele impak kan hê nie, omdat dit nie die heidennasies kan insluit nie.

So watter rol speel die wet dan?  Wel, sê Paulus, die wet was bedoel as ‘n tydelike maatreël totdat hierdie nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang.  “Die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

Die wet was ‘n noodsaaklikheid weens die sonde.  Dit was gegee as ‘n toesighouer, as ‘n oppasser, as ‘n begeleier om gelowiges te help kies tussen goed en kwaad, tussen wat die Here se goedkeuring wegdra en wat teen sy wil was.

Die wet was daarom nie in stryd met die beloftes van God wat deur geloof ontvang kon word nie.  “Hoegenaamd nie!” sê Paulus.  Die wet was net nie genoeg nie, weens die sondigheid van die mense.  Die wet kon nie keer dat mense steeds afdraai van die pad wat God vir hulle aangedui het.  Hulle het die heinings langs die pad geïgnoreer en verwerp en selfs verander sodat hulle kon leef volgens hulle eie begeertes.

Net Christus kon die ware vryheid bring waarin ‘n mens God se wil nie nakom omdat daar ‘n geen-toegang bordjie op die heinings langs die pad geplaas is nie, maar omdat hulle van binne af deur Christus skoongemaak sou word deur sy vergifnis en verlossing.

Die wet se funksie as ‘n beperker van die boosheid – soos Calvyn daaroor gepraat het – het dus in Christus onnodig geraak.  Waar die wet dít wat jy in jou binneste wou doen, gekeer het, as jy jou daaraan gesteur het, maar niks kon doen om die begeerte na die sonde uit te wis nie, het geloof in Christus vir ons daardie vryheid kom gee.

Calvyn sou aangaan om te sê dat almal wat in geloof in Christus van binne af gereinig is, sal daarom inderdaad die wet kan nakom, maar nie langer as ‘n manier om die sonde te beperk nie, maar as ‘n manier om in dankbaarheid in alles te leef soos God wil.  Nie omdat jy bang is vir die wet nie, maar omdat jy vry is van die sonde wat jou liefde vir God en jou naaste aan bande gelê het.

Paulus sou nog verder hieroor skryf in Romeine 1-8 en nog meer uitbrei oor die wonderlike werk van die Heilige Gees om ons in die vryheid wat God gee, te laat lewe, soos hy wel in Galasiërs 5 sou begin aanroer het.  En hy sou later vir Timoteus in sy eerste pastorale brief nog meer sê oor die positiewe funksie van die wet, iets wat ‘n neerslag gevind het in ons eie belydenisskrifte, veral in Nederlandse Geloofsbelydenis 25 en die derde deel van die Heidelbergse Kategismus.

Maar dit is genoeg vir nou.  Paulus se punt is gemaak.  En hy sluit sy oorsig oor die voorrang van geloof af met ‘n ongelooflike boodskap in vers 26-29.

Gelowiges is kinders en erfgename van God
Die wonderlike waarheid van die Christendom is dat ons: “almal kinders van God is deur die geloof in Christus Jesus.”  Daarvan is ons doop ‘n teken.  Daarvan is ons lewe in Christus ‘n teken: “want ons wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.”  Die doop is die seël van ons inlywing in die liggaam van Christus, maak nie saak op watter tyd dit gebeur het nie.  Ons lewe in Christus is die teken van ons inblywing in die liggaam van Christus.

En omdat ons gedoop is en omdat ons in die Here Jesus Christus lewe, kan ons saam met Paulus die wonderlike werklikheid vier: “Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus!

En op die koop toe: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte erfgename.

Die praktiese implikasie hiervan is geweldig.
Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie.  Daardie rol word nou deur geloof vervul.  Elkeen wat glo, behoort aan Christus en is daarom nakomelinge van Abraham en deel van die verbondsbeloftes van God.

Dit beteken ook dat in Christus is almal één.  Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie.  In Christus Jesus is almal nou één.

Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook in gemeenskap met elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het.  En daar is geen onderskeid nie.  Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus.  ‘n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!

En heiligmaking word nie deur gehoorsaamheid aan die wet bereik en bewerk nie, slegs deur die geloof in die Here Jesus Christus en in die begeleiding van die Heilige Gees om die werke van die vlees dood te maak en Hom toe te laat om die vrug van die Gees in jou aan die werk te sit, dít waaroor hoofstuk 5 en 6 gaan uitbrei.

Sola fide!

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 of VONKK 18

Aanvangswoord: (Gal 2:20)

Seëngroet: (uit Gal 1:5).

Lofsang: Lied 164 of Psalm 42 of Flam 132

Wet: Galasiërs 3:23-25

Skuldbelydenis: VONKK 278

Toewydingsgebed: Outeur: Martin Luther (1483-1546)

Doopherinnering / genadeverkondiging: (Gal 3:26)

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: Lied 272

Skriflesing: Galasiërs 3:23-29

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 520 of VONKK 204

Seën

Respons: Lied 312

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
VONKK 18 Ek Soek Na Die Lewende Water (Psalm 42 en 43)

Aanvangswoord
Die aanvangswoorde (Gal 2:20) kan elke Sondag in die Galasiërs reeks herhaal word, om die eredienste as eenheid saam te bind.

Voorganger: En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
Gemeente: Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Seëngroet
Geliefdes, kinders van God, daar is vir julle genade en vrede van God ons Ewige Versorger, en die Here Jesus Christus wat Homself vir ons sondes gegee het sodat ons nie meer self hoef te probeer nie, sodat ons nie meer tekort skiet nie, sodat ons genoeg kan wees – omdat Hy genoeg is. “Aan God kom alle heerlikheid toe tot in alle ewigheid. Amen” (uit Gal 1:5).
(Aanvangswoord en seëngroet uit Woord en Fees 2018-2019)

Lofsang
Lied 164 Ons is almal hier tesaam” of
Psalm 42 of
Flam 132 Uit Een Hart

Wet
Galasiërs 3:23-25
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

Skuldbelydenis
VONKK 278 Hemelse Vader, van U kom smeek ons

Toewydingsgebed
Here, my beker is leeg en ek verlang dat U my weer sal vul. Ja, Here, kom vul my!
Ek is swak in die geloof – kom en versterk my opnuut.
My liefde is maar lou – kom, Here, en maak my weer warm … vurig, dat my liefde sal uitstraal na hulle naby my.
My geloof is nie sterk nie en dit wankel tog so maklik – ek twyfel soms en ander kere sukkel ek om op U te vertrou.
O Here, help my. Sterk my geloof en vertroue. In U vind ek my rykdom. Ek is arm en U is ryk – en U het juis gekom om vir armes U genade uit te deel.
Ek is ‘n sondaar, U is regverdig en daarom bly ek aan U sy.
Ek het niks om vir U aan te bied nie.
Ek kan alleen maar van U ontvang.
Outeur: Martin Luther (1483-1546)
(Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle)

Doopherinnering / genadeverkondiging
By doopvont:
Die doop bevestig ons as gelowiges se identiteit as kinders van God – ’n identiteit wat ons nie self verdien nie, maar wat God as geskenk deur die werk van Jesus Christus aan ons gee. Wanneer ons die doop saam vier, word ons opnuut herinner aan ons eenheid as Liggaam van Christus en ons taak om as gestuurdes die wêreld in te gaan.

Deur geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort (Gal 3:26).

Geloofsbelydenis

Liedere

F132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Geloofsbelydenis / Ekumene / die kerk) Oorspronklike titel: One Song of Praise Teks en musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling:   Piet Smit  © Scripture in Song

1. Vader van liefde, bron van ons krag
ons bring in aanbidding ons loflied aan U.
Here U het belowe om hier by ons te wees
as ons saam is in u Naam, in waarheid en gees.

2. Jesus, ons Redder, Immanuel
ons kom ons lewens as lof-offer gee.
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
en aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring.

3. Gees van die waarheid, Helper uit God
leer ons om in liefde soos Jesus te dien.
En bind ons dan saam, Heer soos ons hier voor U staan
om met liefde in ons hart na die wêreld te gaan.

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
dat U Erekoning is en dit altyd sal bly.

VONKK 18 “Ek Soek Na Die Lewende Water  (Psalm 42 en 43)”
Psalm 42 en 43  Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: AUAS – Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping

1. Ek soek na die lewende water,
ek roep en dors na U, Heer –
want ek huil dag en nag, o Here, ek smag
om by U te wees nog ‘n keer.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

2. Hul spot en hul vra my aanhoudend:
Waar is dié God van jou nou?
Al het golwe van swaarkry oor my gespoel,
tog wéét ek ek kan U vertrou.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.
3. O Here, kom red en verhoor my,
help my en spreek my tog vry –
met valsheid wil bose mense my vang,
maar U is ‘n skuilplek vir my.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

4. Kom stuur nou u lig en u waarheid,
laat dit my lei na u huis
want, God, U’s my God, –
die bron van my lof,
my lied sal U jubelend prys.

Refrein:
Al is ek ontsteld en mismoedig,
met hartseer en onrus omring,
weet ek God is my hoop,
Hy help my weer op –
ek sal al my lof aan Hom bring.

VONKK 278 “Hemelse Vader, van U kom smeek ons”
Teks:  Elena G Maquiso; Hannes van der Merwe 2014 © Melodie: ILONGGO – Tradisioneel Filippyns
Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2014 © © Teks en orrelbegeleiding: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit  RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede / Drie-eenheidsondag / Geloof en Vertroue
1. Hemelse Vader,
van U kom smeek ons:
Gee aan u kinders
u liefde,  deernis.
Maak ons ‘n eenheid
deur u genade.
Hemelse Vader,
U is ons God.

2. O Here Jesus,
ons kniel hier voor U,
herdenk u lyding
en u oorwinning.
Ons bring ons lofsang
en ons aanbidding
aan U, o Here.
U is ons God.

3. Heilige Trooster,
ons vra afhanklik:
Skenk ons genade,
geloof, volharding.
Neem ons gebede
tot by die Vader.
Heilige Trooster,
U is ons God.

VONKK 204 “Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader”
Teks: Hannes van der Merwe 2010/2012 © Musiek: CHRISTINE – Cecilia van Tonder 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Cecilia van Tonder 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Gebede / Uitsending

1. Mag die vrede van ons Hemelvader,
die genade van sy Seun, ons Heer,
die gemeenskap met die Gees van Waarheid
oor ons harte en verstand regeer.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam

2. Mag die vrede wat bo ons verstand is,
en genade wat ons nuut laat wees,
en die eenheid van geloofsgemeenskap
ons verbind in hart en ook in gees.

Refrein:
Heer, ons loof U as die grote Koning
wat regeer oor alles wat bestaan.
Ons erken U as ons Heer en Meester,
Jesus Christus, ons prys u Naam.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Lied 272 “Stuur nou u lig”

Skriflesing: Galasiërs 3:23-29

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown het verskeie pragtige idees om kinders by hierdie Sondag se diens te betrek.  Sy herinner ons dat reëls vir kinders goed is.  Hulle kan nog nie die onderskeid verstaan wat die teks tref nie.  Gesels eerder met die kinders oor die verskille tussen mense, wat nie saak maak nie.  Vind bv uit oor die verskillende sport-spanne wat hulle ondersteun, verskillende dorpe waar hulle gebore is, ens.  Hoewel dit interessant is, maak dit nie saak nie.  Wanner ons God se kinders is, is dit al wat saak maak.

Daar is ‘n paar pragtige stories wat jy vandag kan vertel:
Strictly No Elephants deur Lisa Mantchev vertel die storie van ‘n seuntjie en sy troetel-olifant, wat uitgesluit word. Dis beskikbaar op kindleHier is ‘n video van die storie.

I’m Like You, You’re Like Me deur Cindy Gainer, is ook beskikbaar op Kindle.  Die video begin eintlik eers op 58 sekondes.

Jonger kinders sal hou van One Family deur George Shannon, wat tel, terwyl almal een bly.  Ook beskikbaar op Kindle.  Kyk ‘n video hier.

Woord en Fees stel voor:
Die sleutelteks van hierdie Sondag val daarop om ons identiteit as gelowiges, as één gemeenskap van gestuurdes te bevestig: Gebruik die voorbeeld van voëlent wat op ‘n boom se tak groei – die blare en sade van die geënte plant mag anders as die res van die takke lyk, maar vir alle praktiese doeleindes is die voëlent en die boom een. So is ons, as gelowiges, ook één met mekaar – al lyk ons verskillend van mekaar, is ons almal, deur die werk van Jesus Christus, één. Hierdie voorbeeld kan na aanleiding van die konteks uitgebrei en aangepas word.

Preekriglyn

Galasiërs is ‘n brief geskryf sonder om asem te skep. Paulus is emosioneel – sy geliefde Galasiërs is op ‘n dwaalspoor, want hulle het afgedwaal van die evangelie van die gekruisigde Jesus Christus. Die evangelie waaroor en waarvoor Paulus so passievol geleef het. Die dwaling het te make met sekere persone wat die gemeente verlei (1:6-7) deur te verkondig dat nuwe heidense gelowiges hulle moet laat besny en ander wettiese bepalinge nakom (3:2, 4:10, 21; 5:2-4, 12; 6:12-13) voordat hulle kan deel hê in die beloftes van God. Dit lei tot twis en rusie en verdeling in die gemeente.

Omdat die brief so in een asem geskryf is, is die verdeling van die teksverse in Galasiërs ingewikkeld en verweef met Paulus se argumente (en emosies) deur die hele brief heen.

Dit help om dit in gedagte te hou, ook die hooftemas oor:

  • die ware evangelie van Jesus die gekruisigde en opgestane Here wat sondaars bevry (1:2, 3-4; 2:4, 16-21; 3:1);
  • die verhouding tussen geloof en die wet (Gal 2-3, veral 2:16);
  • die nuwe identiteit in Christus deur die Heilige Gees en die geskenk van die Heilige Gees (2:19-20; 3:2-5, 14b; 3:26-29; 4:6-7);
  • die oproep om anders, in vryheid volgens die wet van die liefde te lewe (Gal 5-6); asook
  • ons identiteit as kinders en erfgename van Abraham en God.
Kinders en erfgename

‘n Sentrale tema in ons teks is dié van ons identiteit as kinders en erfgename van Abraham en God wat reeds in Galasiërs 3:7 begin en deurloop tot in 4:1-7. Daarom moet mens eintlik hierdie hele gedeelte saamlees. Derhalwe kan 3:1-7 en 3:23-4:7 as Skriflesing gebruik word (2014 Direkte Vertaling word aanbeveel). ‘n Moontlike verdeling kan dan wees

  • 3:19-22 oor die doel van die wet;
  • 3:23-25 oor die bevryding deur die wet;
  • 3:26-29 oor die eenheid in Christus; en
  • 4:1-7 oor ons nuwe identiteit as kinders en erfgename in Christus.
Spanning tussen wet en geloof

Om Galasiërs 3:23-25 te verstaan, moet teruggegaan word na 3:5 en die gesprek oor die spanning tussen die wet en geloof. Die belofte aan en verbond met Abraham, gebaseer op geloof, kom eerste (3:6-14) en geniet voorrang (3:15-18).

Die wet is dus die instrument wat ons in staat stel om ons sondes en ons behoefte aan ‘n middelaar te eien (3:19-22). Die wet het ons gevange gehou, gebonde onder die wet (teenoor die vryheid in Christus) (23).

Daarbenewens is die wet, die “paidagōgos” (pedagoog, 24 en 25), die oppasser/mentor wat oor ons toesig hou. Hierdie beeld dui op die slaaf wat as opsigter jong vrymense leer wat reg en verkeerd is, asook om hulle te begelei totdat hulle volwassenheid bereik. Dit is ‘n beperkte rol – die kind bly erfgenaam en die toesighouer bly toesighouer. Dit is ook ‘n tydelike rol en die toesig verval met die koms van volwassenheid.

Met die koms van geloof is gelowiges dus nie langer onder die toesig van die wet nie, maar onder die vryheid in Christus. Kommentare meen die wet werk soos ‘n spieël. Dit weerkaats ons ons skuld sodat ons ontnugter na Christus toe draai. In Luther se woorde, jaag die wet ons na Christus toe.

Kindskap

Vers 26 en 27 tel die kragtige beeld van kindskap direk op. Vers 26 is die kern:
Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God.

Dit is nie ‘n opdrag of ‘n bevel nie, dit is ‘n feit: ons “is” kinders van God “in” Christus Jesus. Die voorsetsel in beskryf ons identiteit as gelowiges. Ons is ingebind in Christus, met Hom verenig. Dié identiteit kom deur die geloof, deur die werking van die Heilige Gees (Gal 4:6). Dié identiteit, kind van God, is alleenlik in Christus Jesus (vgl Kol 3:9-10; Ef 4:24; 2 Kor 5:15-18).

Dit word nog sterker beklemtoon met twee treffende beelde in vers 27:

  • Eerstens die doop in Christus. Die woord eis wat beter vertaal as “into” met die passiewe vorm van die werkwoord “doop” wat ook aandui dit is ‘n Godshandeling. In Paulus se taal, om saam met Christus te sterwe en op te staan (vgl Gal 2:19-20; 6:17). Die woorde “in Christus Jesus” is tipiese Paulus-woordeskat, aanduiding van die kern van ons vereniging met Christus.
  • Die tweede beeld in vers 27 is dié om Christus as ‘n kleed aan te trek. Die 1983 Afrikaanse Vertaling vertaal dit egter nie. Die Griekse woord enedysasthe beskryf om in ‘n kledingstuk in te sak (“sinking into a garment”) (vgl Jes 61:10; 64:6). Die 2014 Direkte Vertaling lees: “Julle is immers almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.”
Eenheid en gelykheid

Die bekende vers 28 dui op die eenheid en gelykheid in Christus te midde van die diversiteit van etnisiteit, sosiale status of gender (vgl 1 Kor 12:12-13; Kol 3:11; Ef 2:14-16).

Dit verwys moontlik na ‘n formulier wat in die vroeër kerk by die doop of ander liturgiese momente gebruik is. Dit is waarskynlik ‘n herformulering van ‘n man (beide Joodse en ander godsdienste) se daaglikse gebed wat God/gode dank dat hy nie ‘n heiden, ‘n slaaf of vrou is nie.

Let daarop dat hierdie gebed nie noodwendig neerhalend teenoor heidene, slawe en vroue was nie, maar ‘n erkenning dat daar diskriminasie was tussen Jood en heiden, slaaf en vryman, man en vrou en dat eersgenoemdes godsdienstige (en ander) voorregte gehad het wat die heiden, slaaf of vrou nie gehad het nie.

Die herhaling warmee die oorspronklike Griekse woord in ons teks werk is ‘n sterk aanduiding van ons gelyke identiteit in Christus. Enige ongelykheid is eenvoudig vernietig in Christus. Daar is genoegsame Bybelse voorbeelde van die gelykheid in Christus (die voorbeeld van Paulus se “heidense” medewerkers Titus en Timoteus; die voorbeeld van Onesimus en Filemon in Kol 4:9 en Filemon; en talle voorbeelde van vroue wat Paulus se medewerkers was soos Febe en andere in Rom 16 en Fil 4:3).

Erfgename

Vers 29 (saam met Gal 4:6-7) bevestig dat ons identiteit in Christus, om kinders van God te wees, ook beteken dat ons (elkeen, Jood of nie-Jood, vryman of slaaf, man of vrou) erfgename van Abraham is en erfgename van die beloftes van God (vgl Rom 8:16-17; Ef 1:13-14; 3:6). Dit is danksy God (Gal 4:7; 1:1) deur die vrykoop van Jesus Christus (Gal 3:13-14; 4:4-5) en werk van die Heilige Gees (Gal 4:6). Dit is die ware evangelie – die antwoord op Paulus se retoriese vrae aan die begin van Galasiërs 3:1-5 (vgl 1:6-9).

Ons leef anders

Die Galasiërs se dwaling was dat hulle die wet gebruik het om mense netjies in kampies te verdeel. Die streng skeidslyn tussen Jood en Griek, man en vrou, slaaf en vry is sodoende in stand gehou.

Die effek is dat die lewensveranderende krag van die evangelie daardeur ingeperk is. Nie alleen is die dade van die wet te belangrik geag nie, nee, veel erger: die wet is as ‘n sosiale grens gebruik deur Jood om afstand van Griek te hou, deur vryman om afstan van slaaf te hou, deur man om afstand van vrou te hou.

Die krag van die evangelie om een nuwe mensheid in Christus te skep, is daarmee afgewater.

Dit is asof die Galasiërs nie kon onthou dat die genade en verlossing in Christus onversoendheid uit die weg ruim en een nuwe mensheid tot stand bring nie.

“O dwase gemeente, wie het met julle getoor?” hoor ek Paulus vra. Hoe lees julle al eeue lank Galasiërs? Is die geloof in Jesus Christus nie die ware evangelie nie, die enigste kriteria nie (2:16; 3:26)? Ken julle nie die identiteit in Christus uit julle kop nie: Daar is geen man of vrou nie, geen heteroseksueel of homoseksueel nie; in Christus is ons almal een. Daar is geen slaaf of vryman nie, wit of swart nie, bruin of geel, skoonmaker of uitvoerende direkteur nie. In Christus is ons almal een, elkeen gelyk. Geen Griek of heiden nie, geen swart of wit of bruin nie. Ons is almal een in Christus. Nie eenders nie, maar een (3:26-28).

Deur die krag van God

Is dit moontlik?? Ja! Inderdaad! Dit is immers die evangelie (3:13-14). Dalk moet ons meer fokus op die voorsetsels in die teks: “In” Christus en “God” (3:26-27). Ons trek Christus aan. Én dit is deur die onbeskryfbare, kragtige werk van God, die Heilige Gees (4:6-7).

Ons geloof is buite onsself. Buite ons besoedelende vooroordele, buite ons veranderende reëls.

Ons geloof het te doen met God. Dit is ‘n daad van God. Dit is ‘n handeling van God. Dit is genade. Dus, so ook ons vryspraak en ons identiteit as kinders van God. Erfgename van Abraham. Dit het niks, niks, niks met ons reëls te make nie.

Mag ons in die komende jare ons erfenis, die beloftes van God, geniet. Saam. Sonder afguns. Sonder verdeeldheid. Sonder verwyt.

Met vreugde. Met dankbaarheid. As éen. Amen!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 520 “Saam buig on sneer om God te eer”
VONKK 204 Mag Die Vrede Van Ons Hemelvader

Seën
Die Here ons God Drie-enig
seën ons
behoed ons
bewaar ons
en maak ons één
Hy is ons helper en ons God
tot in alle ewigheid
Amen
[Uit Woord en Fees 2018-2019]

Respons: Lied 312 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.