Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 9:35-10:8 (9-23)
Ander tekste: Genesis 18:1-15, (21:1-7); Psalm 116:1-2, 12-19; Romeine 5:1-8

Inleiding

In aansluiting by vandeesweek se sleutelteks, sowel as die groter klem van Koninkrykstyd, word daar in hierdie erediens gefokus op die feit dat God – die een wat wonderwerke doen en ons red en vir ons nuwe hoop gee – ons uitnooi om deel van sy verlossingswerk in die wêreld te wees. Ons, as gelowiges, se redding , geroepenheid én gestuurdheid word dus op prominente wyse in die erediens uitgelig.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 164, “Ons is almal hier tesaam”

Aanvangswoord
Voorganger: Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.
Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?
Gemeente: Met ’n dankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep.
My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.

Voorganger: Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vrygemaak.
Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep.
Gemeente: My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk,
in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here! (uit Ps 116).

Seëngroet
Gemeente, genade en vrede van die drie-enige God wat ons red, ons roep en ons stuur.
Amen.

Lofprysing
Lied 205 “Bring lof aan die Vader”

Diens van die Woord

Gebed om opening van die Woord
Stuur u Gees in ons midde,
en maak ons ontvanklik vir u Woord.
Help ons om nie net te hoor wat U sê nie,
maar dit ook uit te leef.
Sodat die wêreld kan sien en kan glo
dat U die redder van die heelal is.

Diens van die Tafel

Nagmaalsgebed
Heer, vandag, soos telkemale tevore, staan ons weer – met leë hande – voor u tafel. Ons is honger en dors, en hunker na die Brood en Wyn wat lewe gee en versadiging bring. Sien ons raak en voed ons. Bind ons opnuut aan U en aan mekaar, sodat ons u liefde, genade en hoop in die wêreld kan uitleef. Amen.

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer”

Seën
Gaan vanoggend hiervandaan en
soos jy vanoggend ontvang het, gee.
soos jy gehoor het, verkondig.
Die seën van die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal altyd met jou wees.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 454 “Vader, ons eer U”; Flam 17 “Dit is die dag”
Lofprysing: Flam 33 “Halleluja in my hart”; Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”
Geloofsbelydenis: Lied 498 “Hy wat glo, word nie beskaam nie”; Lied 514 “Ek weet verseker”
Slotlied: Flam 144 “God is liefde”

Preekstudie – Matteus 9:35–10:8 (9-23)

Teks

Hierdie gedeelte is besonder ryk en vol. Hier is regtig ʼn surplus van betekenis wat dikwels (altyd) in ʼn bepaalde teksgedeelte skuil. Eers ʼn woord of twee oor die strategiese posisie en funksie van hierdie gedeelte in Matteus se plot en evangelie.

Matteus 9:35-11:1 staan bekend as Matteus se “groot sendingpreek”. Jesus se bergpredikasie (Matt 5-7) en genesingswonders (Matt 8-9) word hier saamgevat en uitgespel. Die gedeelte wat hierdie twee eenhede voorafgaan, naamlik Jesus se aankondiging en begin van sy openbare bediening (4:17-23), eggo steeds helder. Nie net is die punt van 4:23 (“Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.”) intussen gemaak in die lering (Matt 5-7) en die doen (Matt 8-9) van die Woord nie. Die einste punt gaan nog duideliker word in die sending van sy dissipels . Matteus 9:35 se herhaling van 4:23 bevestig hoe die hele gedeelte daardie punt maak en ontwikkel, asook hoe daardie einste punt opnuut gestel gaan word en nog verder sal uitkring in die eenheid wat kom. Die gedagtegang in 4:23 en 9:35 eggo telkens deur eers op te som wat ons reeds in die evangelie teëgekom het, asook deur ons opnuut in te lei en te oriënteer met betrekking tot wat ons verder mag ontdek of herontdek.

Net soos ons in 4:17-23 met die fokusse van sleutelverse soos 1:21-23, 1:1 en 1:1-17 rekening moes hou in die uitleg en verstaan van die wyse waarop Jesus sy bediening aankondig en begin (sien Carter 2004 se uitstekende artikel in dié verband), net so moet ons daardie gedagtes voor Jesus se groot sendingpreek herroep. Die woorde eggo nie net in 9:35 nie, maar ook in 10:7-8 met Jesus se opdrag aan die twaalf: “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig die melaatses en dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” Kortom, ons kan beswaarlik die eenheid van 9:35-10:8 en die “groot sendingpreek” (9:35-11:1) peil sonder om die groter pennestrepe en beweging in die evangelie baie ernstig te neem. Ons sal enersyds sien wat dit werklik beteken om “vissers van mense te wees” (4:19), en andersyds ons nie regtig ʼn ander lewenspad kan verbeel as dié wat kenmerkend Jesus s’n is nie.

Daar is reeds aangedui dat die afgebakende perikoop (9:35-10:8) soos in ‘n raam aangebied word. Dit is ʼn duidelike eenheid, maar beslis ʼn eenheid binne ʼn groter (en nóg groter) eenheid. Die potensiële byvoeging van 10:9-23 by die afgebakende perikoop, maak ʼn spesifieke en bepaalde teologiese aanspraak nog duideliker (sien veral die heel laaste punt of paragraaf in hierdie bespreking onder teksgedeelte). Al die kommentare stem ooreen oor hoe die onderskeie onderdele en oorgange van die groot sendingpreek saamgestel is, maar verskil tog in die fyner nuansering van hoe om dit te interpreteer en te benoem. Bruner (2004:445-446) se benaming in die strukturering van die sendingpreek maak myns insiens die uiteindelike teologiese aanspraak hier ter sprake die duidelikste.

Brunner verdeel die sendingpreek in drie dele: a) bronne van sending (9:35-10:4); b) sendinginstruksies (10:5-39); en c) gasvryheidsbelonings (10:40-11:1). Die belangrike punt hier is hoe sendingbronne (Christus se hart wat na mense in 9:36 uitgaan, die gebed van die dissipels vir nóg werkers in 9:37-38, gawes vir die bediening van heling in 10:1 en die apostoliese gemeenskap van die kerk in 10:2-4), aan die sendinginstruksies (reisinstruksies in 10:5-15, vervolgingsinstruksies in 10:16-23 en vertrouensinstruksies in 10:24-39) verbonde is.

Die vergestalting en daadwerklike voortvloei van die sendingsopdrag – in ooreenstemming met Hom in wie dit ontspring – is duidelik. Anders gestel: Die sending kan nie anders as om oor te gaan tot daadwerklike aksie nie, veral (soos ons sal sien) herkenbaar daarin dat dit Gód se sending is. Die verbeelde sending van die twaalf is duidelik gegrond in die ingewande van Jesus én die hart van God wat uitgaan na die Jode en die wêreld. So gesien is die sending nie net gerig na buite nie. Dit gaan nie net uit nie, wil ook nie net oes nie, maar alles gebeur pertinent onder die leiding van Jesus se styl, sý lewe, sý kruis en opstanding, sý mag  … of nog beter, onder leiding van “die Gees van julle Vader wat deur julle praat” (10:20). Ja, kenmerkend aan sý ingewande wat in beroering kom toe Jesus die skare sien (9:36). Soos 9:35 mooi omsirkel tot by 10:7-8, sien ons ook hoe die erbarming wat Jesus se maag laat draai in 9:36 gelykstaande is aan die kenmerkende brose en kwesbare styl van sy dissipels op dié sendingweg (soos veral in 10:9-23 duidelik word). Wat veral opval, is om te sien hoe nou verbonde Jesus se “mag” (9:35 en 10:7-8) – en natuurlik die openingsin van sy laaste woorde in 28:18 se “Die groot opdrag” – en “maag” (9:36) aan mekaar is. Die enigste verskil tussen Jesus se mag en maag is maar net ʼn “a”! Ons kan dít verkondig: Daar is mag in sy maag, en maag in sy mag , wat net die grootste respek en navolging – in plaas van bewondering (Kierkegaard) – meebring.

Derdens, uit bogenoemde beskrywing is dit duidelik dat 9:36 se bekende esplanchnisthe verdere nadenke benodig. Jonker wys daarop dat dié term in die Evangelies telkens as drang vir sy wonderwerke aangebied word (vgl Matt 14:14, 15:32, 20:34; Mark 1:41, 6:34, 9:34; Luk 7:13). Vir ons doeleindes kan dit nou ook as drang rede en bron vir sy sending beskou word. Trouens, sê Jonker (1991:32), alhoewel die term in die Evangelies vir Christus gereserveer is – met weliswaar die uitsondering van drie gelykenisse waar dit ook voorkom, naamlik (amper te wagte) “die gelykenis van die barmhartige Samaritaan” (Luk 10:25-37), “die gelykenis van die verlore seun” (Luk 15:11-32) en “die gelykenis van die onbarmhartige amptenaar” (Matt 18:23-35) – is die uiteindelike gevolg dat die twaalf en die ganse wêreld as die voorwerpe hiervan gesien behoort te word. Die Afrikaanse vertaling (1933 en 1983) met “innig jammer kry”, bring allesbehalwe die volle betekenis van die begrip na vore. Meeste van die kommentare meld ook dat die Engelse vertalings hiervan nie die volle betekenis openbaar nie. Daar is taamlik konsensus dat die Engelse “his heart goes out”, die naaste (alhoewel nog ver te kort) daaraan kom. Wat ons hier hoor, is nie eens simpatie of empatie of enige vorm van menslike patos nie, maar ervaring en meelewing in die maag van Christus – en by implikasie die hart van God self. Daarom val dit ons op en maak dit ook volledig sin dat Jesus “ al die dorpe en klein plekkies besoek” (9:35). Die vroeë kerk vind dit reeds uiters waardevol dat ons Heer nie net in groot stede en belangrike mense belangstel nie, maar júis in die klein plekke en in die geringstes. So ook dat Jesus “ elke soort siekte en kwaal gesond maak” (9:35). Daar is duidelik niks en niemand wat sy waarneming en ervaring hier ontglip nie.

Warren Carter se sosio-politieke lees van die evangelie met ʼn duidelike antenna vir die Matteus-Evangelie se aanvoeling vir die gemarginaliseerdes in die samelewing, help beslis om die reikwydte en diepte van esplanchnisthe verder te peil. Carter (2000:125) stel die betekenis van die genesings in dié konteks juis genuanseerd en omvattend voor, naamlik: a) fisieke herstel, heelheid en beter lewe; b) ʼn nuwe vorm van gemeenskap en sosiale interaksie (sonder die isolasie en vervreemding wat siektes meebring); c) Jesus se oorwinning oor sonde en die duiwel wat nou in God se reddende teenwoordigheid en koninkryk manifesteer; en d) baie belangrik, Jesus protesteer en ontmasker eintlik hiermee “die siek imperiale wêreld” van destyds (en vandag!), soos die nabyheid van die koninkryk na vore tree.

Carter se punt is: Net soos Jesus omvattende redding en heling in gedagte het, het Hy ook omvattende, geïntegreerde en holistiese sending in gedagte . Daar is eenvoudig geen manier waarop Jesus “die skare”, “die menigte” wil prysgee nie. Siele en sonde is nie waarin Jesus primêr belangstel nie, maar mense (sien Barth, en veral Smit se uitstekende opstel in hierdie verband. So ook die bespreking hiervan onder die eerste punt van konteks). Net so gaan dit ook vir Jesus nie om geld en getalle nie (dink maar net aan die drie bekende g’s – allermins dié Gees! – van geld , getalle en [nog groter] geboue waarmee gemeentes en kerke hulle groei en sukses soms meet), maar om mense, dié skare! Nog minder is dit ʼn imperiale of paternalistiese meerderwaardigheid waarin Hy homself die reg toeëien om mense as nommers, syfers en blote besittings te hanteer vir sy eie verskuilde agenda en eie gewin.

Vir dié Mens, óns God, gaan dit om die mens(e) as sodanig – alles en almal – voor Hom. Daarom verwys Hy juis hier na “die verlore skape van die volk Israel” (10:6), “hulle wat moeg en hulpeloos was soos skape sonder ʼn wagter” (9:36). Weereens, vanuit die Ou Testament weet ons dat die term “herders” nie net ʼn religieuse betekenis gehad het nie, maar ook ʼn besliste en doelbewuste sosio-politiese betekenis (Carter 2013:83). Vir Jesus gaan dit om mense en spesifiek om hulle welstand en heil op soveel vlakke (sien veral Carter 2004 se artikel hieroor). Daarom behoort ons nie hier in die versoeking kom en verlei word om Jood en heiden teenoor mekaar te stel nie. In Matteus se Evangelie gaan dit duidelik om albei. Dink maar net aan die klassieke sin waarmee die Matteus-Evangelie begin: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham” (1:1). ʼn Nuwe begin en skepping waarin die twee groot lyne byeenkom en oormekaar getrek word sodat die Joodse linie – Seun van Dawid – en dié van die (vader van die) nasies – Seun van Abraham – nou aan ons bekend gaan word. Die Joodse fokus is deurgaans, soos ook in ons teks, voortdurend daarop gerig om te openbaar hoe hierdie voertuig die ganse wêreld op die oog het.

Vanuit die partikuliere is die beweging na die algemene en universele – soos ons reeds sien by Jesus se geboorte wanneer die sterrekykers uit die Ooste opdaag (2:1-12); of soos Jesaja se profesie “Galilea waar die heidene woon!” (4:15); of soos die gerugte oor Hom wyd versprei en mense omtrent van oraloor na Hom begin stroom (4:24-25); of dat die dissipels pertinent “sout vir die aarde” (5:13) en “lig vir die wêreld” (5:14) genoem word; of dat daar die genesingswonder van die offisier se slaaf (8:5-13; en sien veral 8:11!) plaasvind; of die genesing van die besetenes in Gadara (8:28-34) … tot by die uiteindelike bekende woorde: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (28:19) aan die einde van die Evangelie. Kortliks, die beroering in die hart en binnegoed van God gaan allermins om die een of die ander, om hierdie of daardie, om dat of wat, maar duidelik om albei, almal en alles te vind.

Ten slotte is daar natuurlik vir sommige ʼn nóg meer voor die handliggende rede waarom hulle eers na die verlore skape van Israel moes gaan. Dit is naamlik dat die twaalf (!) nie net dissipels in die algemeen is nie, maar sý dissipels is, ooreenkomstig die fokus en beweging in sý bediening waarin onder andere die ware betekenis en vervulling van die twaalf stamme van Israel in die gemeenskap van die twaalf dissipels as alternatiewe gemeenskap na vore sal tree. In die woorde van France (2010:383): “Its function here [verwysend na 10:8, maar myns insiens ook wyer] is perhaps more to tighten the link between the disciples’ mission and what their Messiah has already been doing than to provide a blueprint for subsequent Christian practice.” Die punt is nie soseer wat presies hier van die dissipels per se gesê word nie (enersyds die mag aan hulle geskenk, of die vervolging wat hulle kan verwag), maar veel eerder of ons sien hoe Matteus retories die dissipels se werk aan Jesus self verbind. Eerder as om dit waaroor die dissipels beskik as selfstandig te stempel, op te eis en as eie besittings voor te hou – boonop asof dit ʼn uitsluitende keuse impliseer van of die een of die ander – is die bedoeling om te sien hoe die dissipels se sending van ʼn al groter en voller bediening van Jesus self sal getuig.

Een van die groot aansprake in hierdie gedeelte is dat die dissipels se sending ten nouste ooreenkomstig Jesus se sending is. Wat die dissipels as sendelinge hier hoor, stop of stol nie by Hom nie, maar gaan voort deurdat Hy hulle roep, bemagtig, insluit, betrek en stuur in die doen van sy werk. Daarom die dringendheid, hoë intensiteit, tot by (veral!) die einde van ons perikoop (10:21-23; veral 23!) met sy meervoudige, veelvlakkige en voortdurende koms insake die dringendheid en getrouheid van ons getuienis. Die vraag hier teen die einde is nie hoe pas 10:23 in ons geskiedenis in nie, maar eerder hoe ons geskiedenis heenwys en getuig van Hom! Die diepe verbintenis en verbondenheid van die dissipels as sendelinge aan Jesus se bedieningspad word in asimmetriese terme en kategorieë hier voorgehou. Die dissipels kom tot hulle reg soos wat hulle sending heenwys na, getuig van en gekenmerk word deur Hom wat hulle roep en stuur. Jesus se groot sendingpreek skep verbeelding oor hoe hulle uitgaan om waarlik opnuut tuis in Hom te kom.

Konteks

Die verwysing na Jesus se erbarminge in 9:36 speel ʼn belangrike rol in die verstaan en uitleg van die groot sendingpreek in Matteus 10. Karl Barth lewer op verskeie plekke in sy Church Dogmatics kommentaar op die teksgedeelte (vgl CD II/1, 390; III/2, 211; en IV/3, 774). Veral in IV/2, 184-187 (Jesus se koninklike amp in die versoeningsleer wat Hom vir ons openbaar as die ware, koninklike mens) kom die breëre teologiese konteks en interpretasie van die gedagte aangrypend na vore.

Paul T Nimmo (2017) wys in ʼn onlangse opstel daarop dat Barth in sy lees van die teks dit juis het oor Jesus wat “die skare” raakgesien het. Niemand van ons wil in die skare verdwyn en in die menigte verswelg word nie, maar ons wil eerder uitstaan en uitstyg. Ons menslike toestand is ongelukkig van so ‘n aard dat ons almal gevalle is en in die skare verdwyn. Jesus sien egter in sy medelye en erbarming dié mens(e) in die skare raak. Op grond daarvan word die dissipels ook raakgesien en uitgestuur om ook só na mens en God te begin kyk.

Hierdie punt is so insiggewend en radikaal dat wanneer “die (einste!) skare” later sou skree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” (vgl 27:22-23), Jesus hulle steeds raaksien en hulle volkome met Homself versoen. God se sending en uitreik na die mens handel nie net om bepaalde mense nie, maar is ‘n universele uitreik na die mens as sodanig. Dit is ook nie ‘n uitreik na diegene wat op ʼn bepaalde manier eksklusief daarvoor kwalifiseer of dit waardig is nie. Weereens word na mense as sodanig, soos hulle in die skare verval en verdwyn, uitgereik. Op meer as een manier is ons sending dus om onsself in hierdie skare raak te sien.

Hierdie soort van gedagtegang het Dirkie Smit (2009) uitgewys in sy kommentaar oor die sogenaamde “paradigms of radical grace” in die Belhar-Belydenis (sien veral Artikel 4: “God is in die besondere die God van die noodlydende, arme en veronregte …”) en teologie van Karl Barth. Smit wys in sy opstel hoe in die lig van Christus se vrye en radikale genade, ons eenvoudig die evangelie sou verskraal (en selfs verdraai!) indien ons sou getuig Christus is besorg oor sondaars, eerder as oor mense (en hulle omstandighede en ellende) as sodanig. Christus stel nie eers soseer in mense belang vanweë of as gevolg van hulle sonde(besef) nie, maar reeds onvoorwaardelik en vrylik in mense ten spyte van hulle sonde! Anders gestel: Ons as mense hoef nie eers oor die een of ander morele drempel te klim of aan allerlei vrome godsdienstige kwalifikasies te voldoen om so as’t ware eers bo die skare uit te styg sodat God ons tog kan raaksien en jammer kry nie. Die wonder van die evangelie – en die sending waartoe ons geroep en ingereken word – is dat God ons as mense reeds ten volle daar in die skare raaksien. Gevolglik kom Hy by en tussen hulle staanplek inneem sodat hulle name en gesigte nie sal verdwyn en hulle vergete bly in die skryf van die geskiedenis nie. God kom staan juis daar waar ander mag twyfel en huiwer. Sodoende openbaar Hy sy vrye, onvoorwaardelike en radikale genade teenoor mense as sodanig. Só is God, en só word ook die kerk geroep om Hom hierin na te volg (vgl Belhar, artikel 4).

Wat Smit (2009:349-350) hier skryf op voetspoor van Barth oor die geskiedenis van Protestantisme is uiteraard ook van kardinale belang vir ons sendinggeskiedenis en toekoms: “They understood the message from the viewpoint of humanity – humanity as sinful and in need of repentance and forgiveness – instead of from the viewpoint of the kingdom itself, of God and his unconditional, free grace toward humanity, not only as sinners, but as his creatures in need of total redemption and a new life. As a result of that bias, Protestantism became a ‘moralistic affair’ and, remarkably, ‘so indifferent to the question of man itself’, that question of humanity in misery and suffering. … By looking at the gospel from an anthropological perspective, the sin of humanity was virtually made a new condition for grace! The only way, and the only reason why, God could believe to show mercy towards someone was because of that person’s sin and guilt. Sin became almost meritorious, therefore restricting God’s free and unlimited grace.”

Miskien word die punt dalk die heel beste gemaak deur tog te let op die diverse en uiteenlopende samestelling en groepering van die twaalf wat uitgestuur word. Die wêreld waarheen die kerk geroep word om Christus na te volg, is reeds subtiel sigbaar beliggaam in die blote samestelling van hierdie alternatiewe gemeenskap wat heenwys na en getuig van die liggaam van Christus se sending in die wêreld.

‘n Verdere belangrike teologiese opmerking in hierdie konteks, is dat die sending van die twaalf nie ʼn tweede-orde-stap náás die ander, voorafgaande beskrywings verteenwoordig nie. God se hart vir mense (sien “Christus se maag” onder die teksbespreking), aanbidding en gemeenskap in apostoliese gemeenskap – alles sake wat ons in 9:36-10:4 sou teëkom – staan alles behalwe los en verwyderd van God se sending van die twaalf. Die een impliseer onomwonde die ander en behoort voortdurend as eenheid beskou te word. So gesien is die sending allermins ʼn addendum, latere toevoeging of blote handeling wat eers later en daar buite deur sommige individue (“sendelinge”) geskied. Dit is veel eerder inherent reeds ingeburger en gesetel in die apostoliese gemeenskap se byeenkomste, aanbidding en viering.

Dit mag dalk klink asof ons onsself nou weerspreek, maar vir die teksgedeelte om weer te spreek, is die kerk se roeping altyd ten diepste die aanroeping van hierdie God! Die Christelike lewe (etiek) en getuienis (sending) ontspring in die liturgie (aanbidding en viering van God se Woord), sodat die lewe van die liturgie en die liturgie van die lewe in ʼn onlosmaaklike verbondenheid na vore tree. Enige gesprek oor missionale ekklesiologie veronderstel eintlik ten diepste insig in missionale liturgie en aanbidding.

Ruth Meyers se Missional worship, worshipful mission – Gathering as God’s people, going out in God’s name toon op insiggewende wyse hoe die kerk reeds in aanbidding die ganse werklikheid tegemoetkom en -gaan. Die missionale DNA van elke liturgiese beweging en handeling in die erediens word aan die hand van verskeie tradisies en liturgiegeskiedenis opnuut weer herontdek en afgestof. Sy skryf oor die belang van voorbidding in die erediens: “[Intercessory prayer] extends beyond ourselves and our immediate personal concerns to those outside our community of faith. When we pray for the world, we invite the Spirit to pray within us (Rom 8:26-27), we express our hope for God’s new creation, and we place ourselves with God’s desires for the world, God’s mission of reconciling love, and we participate in that mission. … [T]he world comes to worship in those who gather. … in the intercessions, the assembly gives voice to its concerns and the needs of the world.” (111-112).

“The assembly’s offering of intercessory prayer is part of its work on behalf of the world – that is part of its liturgy, its public service. By praying in Christ, with Christ, and though Christ, the assembly expresses its confidence that God does love the world … Prayer for the world is thus a form of participation in God’s mission of reconciliation” (113).

“In other words, in its intercessory prayer, whether that prayer is a response to the proclamation of the Word or part of the Eucharistic prayer, the assembly participates in Christ’s liturgy, Christ’s self-offering for the sake of the world” (117).

“An introverted cultus performed by the covenant people is therefore a contradiction of their office, a rejection of their commission, and a failure to participate in the missio Dei . It makes nonsense of the whole idea of covenant and priesthood” (119-120).

So gesien het sending al minder eintlik te make met spesifieke take, bepaalde programme, nuwe tegnieke en sewe stappe wat ons moet volg en deurwerk om suksesvol te wees. Sending setel in wie ons ís. Dit is nie soseer ‘n taak vir ons om te verrig nie, maar dit is veel eerder ons diepste identiteit en wese, ons begin en einde (vgl Bosch se Transforming Mission ; en Daryll Guder se Missional Church insake hierdie skuif van “mission” en “missions” na “missional”). Anders gestel: Sending is in ons bloed, in ons murg, in ons pype en in ons diepste wese, sodat alles wat die kerk is en doen hierdie gerigtheid (“sending”) openbaar. Die kerk is op ʼn missie (sending) wanneer ons ironies genoeg juis nie meer ʼn sending het nie, maar in die greep van God se sending self is.

Dit bring ons by ʼn derde belangrike teologiese opmerking in hierdie konteks, naamlik om doelbewus albei kante aan broosheid en kwesbaarheid hier na behore te onderstreep en krities te ontwikkel. In die woorde van Kristine Culp (2010:94), is dit belangrik om na aanleiding van ons teks die volgende in te sien: “Vulnerability signals not only the capacity to suffer harm and to be damaged, but also the capacities implied by contrast: to keep safe and whole, to have integrity and dignity, and to be healed and lifted. Human creatures are complexly vulnerable to harm and to healing and, as a result, their lives and communities are necessarily ambiguous mixtures of creativity and destruction, holy and demonic, good and ill, true and false.”

Jesus se groot sendingpreek illustreer inderdaad op aangrypende wyse die kompleksiteit en veelkantigheid van ʼn lewe wat só kwesbaar en broos – in die wonde van Christus (Calvyn), onder sy kruis (Luther) – in die konkrete en alledaagse omstandighede van hierdie wêreld voor God se aangesig geleef word. Albei versoekings, om triomfantlik, selfversekerd en “gearriveerd” oor dissipelskap, kerkwees en sending na te dink, of andersyds om sektaries, verwyderd, vervreemd, onttrekkend en in ontkenning te leef, word verwerp. Dit is opvallend dat hier (of enige van die ander Sinoptiese Evangelies) nie enige besonderhede vermeld word insake die afloop en uitkoms van hulle sending nie. Al wat saak maak, is dat ons diep onder die indruk sal kom dat ons by Christus se sending ingereken en betrek word. Christus se sending en sendingpreek impliseer allermins ʼn gepantserde bestaan wat laer trek in veilige strukture en ander sekerhede (naas die Woord van God en Christus se sending) waar die wêreld vir ons geen bedreiging inhou nie. Dit impliseer wél ʼn versonkenheid in Christus se sending wat sowel die wonde van die kruis en die glorie van die opstanding omvat. Só gesien, impliseer die sending van Christus inderdaad ʼn konstruktiewe en getransformeerde verstaan van wat dit beteken om broos en kwesbaar in hierdie wêreld as Christus se dissipels te leef.

ʼn Vierde en laaste opmerking oor die diskoers van “missionale teologie en ekklesiologie” wat tans in ʼn groot mate die teologiese nadenke en gesprek in die NG Kerk oorheers. Die gewaarwording en insigte wat hierdie diskoers aan ons bied, is uiteraard belangrik en insiggewend, veral wanneer ons luister na ʼn paar kritiese stemme wat wys op sekere subtiele versoekings en blindekolle wat dikwels in die gesprek sluimer, of onbewustelik veronderstel word. So wys die werke van Flett (2010) en Paas (2017) hoe ons dikwels maar alte maklik met sekere begrippe, terminologie en diskoerse – soos “missionale ekklesiologie” – vir ons ʼn valse fasade skep waarmee ons heimlik teruggryp op en verlang na ʼn wêreld wat vir goed nie meer bestaan nie. Anders gestel: Die reste van die Christendom, natuurlike teologie, volksteologie (die NG Kerk se staatsteologie tydens Apartheid) verdwyn nie oornag in ʼn post-wêreld wat ons meer en meer tegemoet gaan nie. Daarom behoort ons krities-bewustelik só te worstel dat ook hierdie diskoers ons nie sal verlei om te dink dat die vleispotte in Egipte (se slawerny!) beter was as die huidige manna en kwartels van die uiteindelike beloofde land waarheen ons geroep en gestuur word nie. Solank sommige nog huiwer oor of selfs apologeties is vir “volk” en “witheid”, is missionale ekklesiologie gekontamineer, gevaarlik en beslis onwenslik.

Pat Kiefert (2017:81) se kritiese opmerking oor die Noord-Amerikaanse konteks behoort teen die agtergrond van ons eie apartheidsverlede nog ernstiger geneem te word: “Furthermore, the conversation is clearly a white middleclass conversation, which desperately needs a more diverse set of conversation partners to meet the challenges inherent in the themes of the missional conversation.” Dit impliseer uiteraard nie net ʼn sterker politieke antenna in hierdie gesprek nie, maar ook ʼn veel sterker sosiaal-etiese en veral ekonomiese gewaarwording waarmee missionale teologie in ons kerk en konteks bedryf word. Guder (2015:37) se insig in is hier belangrik: “The ‘marketing’ of the Christian faith has emerged as perhaps the dominant reaction to the end of Christendom and the perceived need to regain territory. The partnership of church and state has effectively been replaced by the partnership of church and marketplace.” Ons teksgedeelte se missionale (en ekonomiese!) verbeelding vloek teen steeds beter bemarking en intenser kommersialisering van die evangelie met die doel dat ons net nóg aandele en opgehoopte welvaart in die godsdienstige mark kan probeer bekom. Die mag wat sendelinge ontvang, is immers gebore in die maag van Christus wat ineentrek toe Hy die skare sien.

Preekvoorstel

In die Sweedse rolprent Songs from the Second Floor (2000) is daar ʼn betekenisvolle slottoneel. Ons sien hoe Uffe, ʼn verkoopsman, buite die stad krusifikse van verskillende groottes vanaf sy bakkie op ʼn rommelhoop gooi. Kalle, ʼn kennis van Uffe, daag intussen op met sy motor. ʼn Onthutsende gesprek tussen die twee volg. Vroeër in die film het Uffe aan Kalle vertel dat hy dink dat die jaar 2000 vir hom ʼn reuse-sakegeleentheid sou bied om op groot skaal met plastiekkrusifikse te smous. In Uffe se woorde: “Ons is op pad na die jaar 2000. En daardie Jesus aan die kruis is die verjaardagman. Jy kry ʼn kans soos hierdie net een keer in ʼn leeftyd. Dit gaan nog ʼn 1 000 jaar wees voor hierdie man weer só belangrik gaan wees.” Maar Uffe het hom duidelik misgis met sy projeksie. Daarom vind ons hom teen die einde van die film waar hy skaam-kwaad sy plastiekkrusifikse op die ashoop stort. Vol bitterheid en verwyt sê hy teenoor Kalle: “I am so embarrassed, my face is red. I staked everything on a loser.”

So ʼn soort van interpretasie en “navolging” van Christus, het dit op talle punte verkeerd. Hierdie Christus is allesbehalwe een van plastiek, tot vervelens toe gereproduseer, ingestel op wins en nog groter welvaart, boonop ʼn gedagte slegs een keer elke 1000 jaar! Nodeloos om te sê, so ʼn soort van sending het niks met Christus se eie sending te make nie. Dit is nie die soort sending waarvan Jesus gepreek het en waartoe Hy ons roep nie.

Bogenoemde verhaal mag dalk vir ons snaaks, lagwekkend, verregaande en selfs lasterlik en ongeloofwaardig klink. Tog, as ons mooi daaroor nadink, is daar beslis subtiele en bepaalde manifestasies hiervan in ons eie konteks en lewe (op talle punte in die voorafgaande bespreking het sekere gekamoefleerde reduserings en subtiele verdraaiings van Christus se sending na vore getree wat lyk op die film se verregaande slottoneel). Waarvoor Matteus 10 se eerste deel in Jesus se groot sendingpreek ons nooi en roep, is om te sien hoe die kerk en Christene se sending volledig in Jesus se eie sending en lewe ingetrek word. Eintlik is daar maar net één sending, en ons is genadiglik self gevind om onomwonde en verbonde daarby ingereken te word.

Aan die hand van die agt opmerkings in die voorafgaande dele (vier opmerkings onder konteks, en vier onder teks), sou ons ál dieper tot in die binneste roerings van Christus se ingewande kon ingaan, net om verder te ontdek hoe dié roerings al wyer uitkring. Ons sending is volgens die Matteus-Evangelie volledig deel vanaf die eerste tot die laaste woord van Christus se sending. Dit impliseer ʼn missionale teologie wat ál meer sal raaksien dat mag ooreenkomstig Christus se erbarming gedefinieer word, en dáárom onsself en ander in die skare begin raaksien. Dit is ‘n teologie wat missionaal beliggaamd is en in die liturgie van die lewe en die lewe van die liturgie na hierdie God vra en mense wat so werklik en eg as moontlik is. Dit is ‘n teologie wat ʼn tegemoetkomende broosheid en helende kwesbaarheid in die midde van die alledaagse lewe openbaar. Dit gebeur soos wat ons groei en tuiskom in Christus se vervolging én hartlike ontvangs, in sy kruis én opstanding, in sy lewe deur die Woord én die Gees, in sy dissipels én sy kerk — kortom, sý sending as die enigste sending wat ma(a)g!

Bibliografie

Barth, K 1958. The Doctrine of Reconciliation – Church Dogmatics, Volume IV/2 . Edinburgh: T&T Clark; Bosch, D 1991. Transforming Mission: Paradigm Shifts in Theology of Mission . Maryknoll: Orbis Books; Bruner, FD 2004. Matthew – A Commentary. Volume 1: The Christbook – Matthew 1-12 . Grand Rapids: Eerdmans; Carter, W 2000. Matthew and the Margins. A Sociopolitical and Religious Reading. New York: Orbis Books; Carter, W 2004. Matthew and the Gentiles: Individual Conversion and/or Systematic Conversion? JSNT 263: 259-282; Carter, W 2013. Seven Events that shaped the New Testament World . Grand Rapids: Baker Academic; Culp, KA 2010. Vulnerability and Glory. A Theological Account . Louisville: WJK; Flett, JG 2010. The witness of God. The Trinity, Missio Dei, Karl Barth and the nature of Christian community . Grand Rapids: Eerdmans; France, RT 2007. The Gospel of Matthew (NICNT) . Grand Rapids: Eerdmans; Guder, D (Ed) 1998. Missional Church: A Vision for the Sending of the Church in North America . Grand Rapids: Eerdmans; Guder, D 2015. Called to Witness. Doing Missional Theology . Grand Rapids: Eerdmans; Jonker, WD. 1991. Matteus 9:35-10:15. In: CW Burger, BA Müller & DJ Smit (reds.), Woord teen die Lig III/2: Riglyne vir die prediking oor die wandel met God , 31-37. Kaapstad: Lux Verbi; Keener, CS 1999. A Commentary on the Gospel of Matthew . Grand Rapids: Eerdmans; Kiefert, P 2017. The history of the missional conversation in the United States. In: CW Burger, F Marais & D Mouton (reds.), Cultivating missional change. The future of missional churches and missional theology . Wellington: Bible Media; Myers, R.A. 2014. Missional Worship, Worshipful Mission. Gathering as God’s People, Going Out in God’s Name . Grand Rapids: Eerdmans; Nimmo, P.T. 2017. The Compassion of Jesus Christ. Barth on Matthew 9:36. In: Daniel L. Migliore (Red.), Reading the Gospels with Karl Barth , 67-79. Grand Rapids: Eerdmans; Paas, S. 2017. Strangers and priests: Missional ecclesiology for a (very) secular environment. In: C.W. Burger, F. Marais & D. Mouton (reds.), Cultivating missional change. The future of missional churches and missional theology , 230-250. Wellington: Bible Media; Smit, DJ 2009. Paradigms of radical grace. In: Robert Vosloo (Red), Essays on Being Reformed – Collected Essays 3 , 337-358. Stellenbosch: Sun Press.

© Missio 2024 | All rights reserved.