Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Deur die eeue heen het mense opgemerk dat die skaduwees van voorwerpe, soos mense en bome, in jaarsiklusse geleidelik langer en dan weer korter word. Hier in Suid-Afrika is die skaduwees tans op hulle langste.

Die wintersonstilstand in die Suidelike Halfrond kom voor wanneer die aarde se rotasie-as só georiënteer is dat die Suidpool die verste van die son af is. Dit is dan ook die tydstip wanneer die sonstrale die skuinsste op die Steenbokskeerkring inval en wanneer die langste nag en kortste dag van die jaar voorkom. Al hierdie eienskappe kom jaarliks op 20 of 21 Junie voor wanneer die keerpunt van die siklus bereik word – van daar die woord sonstilstand. Daar word beraam dat die wintersonstilstand in 2022 op Maandag 21 Junie om 05:31 sal voorkom.

Die wintersonstilstand verteenwoordig ook die keerpunt tussen die winter- en die somerseisoen. Daarom het hierdie gebeurtenis histories in baie kulture met groot feesvierings gepaardgegaan, natuurlik in afwagting van warmer toestande en nuwe groei.

In al die tekste vir hierdie Sondag lees ons dan ook van verandering. Die liturgie sluit hierby aan in die verlange van Psalm 42 en 43. Hierdie verlange na verandering beleef ons ook in die verhaal van 1 Konings. In Lukas lees ons die verhaal van Jesus wat ‘n bose gees uit ‘n man dryf en sy lewe heeltemal verander. Galasiërs vertel ook van die verandering van die nuwe mensheid in Christus.

Sleutelteks

1 Konings 19:1-4, (5-7) 8-15a
1Toe Agab vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het, 2stuur Isebel ‘n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.”

3Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat.

4Hy self het egter die woestyn in gegaan, ‘n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder ‘n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot ‘n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.”

5Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos.

Skielik was daar ‘n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” 6Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop ‘n roosterkoek op gloeiende kole gebak en ‘n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Maar die •engel van die Here het ‘n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.”

8Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. 9Daar het hy in ‘n grot ingegaan en daar oornag.

En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” 10Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 11Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die Here. Kyk, die Here sal weldra verbygaan.”

Daar was ‘n geweldige sterk wind
wat die berge geskeur het,
wat die rotse verbrysel het
voor die Here;
in die wind was die Here nie.
Ná die wind was daar
‘n aardbewing;
in die aardbewing was die Here nie.
12Ná die aardbewing was daar
vuur;
in die vuur was die Here nie.
Ná die vuur was daar
‘n sagte gesuis.
13Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan.

Meteens was daar ‘n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” 14Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 15Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus.

Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. 16Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. 17Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”

ELISA AS ELIA SE OPVOLGER
19Elia het daarvandaan weggegaan en Elisa, seun van Safat, aangetref terwyl hy ploeg. Twaalf pare osse was voor hom aan die werk; hy was self by die twaalfde paar. Elia gaan toe na hom en gooi sy mantel oor hom. 20Hy het die osse net daar gelaat, agter Elia aan gehardloop en gesê: “Ek wil asseblief my vader en moeder met ‘n soen gaan groet, dan sal ek u volg.” Maar hy antwoord hom: “Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?” 21Hy draai toe om agter hom, neem een paar osse, slag hulle en maak die vleis gaar met die osse se trekgoed. Hy gee dit toe vir die mense, en hulle het dit geëet. Toe maak hy gereed en volg Elia. Hy het sy helper geword.

Ander tekste

Ps 42 & 43
Mens, waarom so in vertwyfeling?

42 Vir die koorleier. ’n Gedig van die
Koragiete.
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan
en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan hoe ek opgetrek het
na die woonplek van God,
voor ’n skare uit
na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang—
’n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied,
van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op ’n dag
sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag
’n lied vir Hom sing,
’n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots,
waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese
as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Stuur u lig en u waarheid
43 Laat tog reg aan my geskied, o God,
behartig tog my saak
teen ’n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
2Net U is my skuiling, my God;
waarom verstoot U my dan?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?
3Stuur u lig en u waarheid
dat dié my lei
en my bring na u heilige berg,
na u woning!
4Laat my ingaan na die altaar van God,
die God oor wie ek wil jubel en juig,
dat ek U kan loof met die lier,
o God, my God!
5Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Gal 3:23-29
Slawe en seuns
21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ’n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ’n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

4 Hierby wil ek nog dít sê: Solank ’n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Luk 8:26-39
’n Besetene word van bose geeste bevry

(Matt 8:28–34; Mark 5:1–20)
26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het ’n man van ’n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ’n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ’n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was ’n bose gees wat hom al baiekeer beetgepak het. Al het hulle hom met hand en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.

30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.

32Daar het ’n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.

34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”

Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.

Ekstra stof

Die verhaal van Elisa speel af in die tyd van koning Omri wie se koningskap die begin was van ‘n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel.  Uit ‘n politieke hoek was hy ‘n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word.  Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ‘n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is.  Die Assiriërs verwys bv. ‘n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ‘n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart.  Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou.  Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig.  Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ‘n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ‘n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ‘n nederige afkoms het, ‘n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ‘n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes.  Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ‘n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ‘n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ‘n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ‘n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl.  Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom.  Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer.  Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek.  Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ‘n man van God wat veral ‘n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg.  Let op dat elke wonder van die Here ‘n sinvolle rol speel in sy bediening.

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk.
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref my hoe ‘n belangrike rol gebed in sy lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan.  Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

Let ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ‘n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly.  Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

1 Konings 19 – God lei nooit aan uitbranding nie!
Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, om na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense.  In só ‘n situasie werk ‘n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Hoe ironies dat ‘n leë dreigement só ‘n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ‘n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20).  Hier was ook ‘n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ‘n ontmoeting met ‘n engel het.  Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21).

En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het.

Let op hoe Elia ‘n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11).  Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ‘n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ‘n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24).  Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ‘n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ‘n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”  Uit dié opdragte sou ‘n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.  Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.  God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 42 en 43)

Seëngroet:  (Uit die Basisliturgie vir Koninkrykstyd)

Lied: 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3”

In aansluiting by die oorsig is die tema van “verander” op die tafel.

Verlore en toe verlos: Efesiërs 2:11-22 ()

Uit Galasiërs 3

Efesiërs 2

Geloofsbelydenis: Lied 209 “Heer met my hele hart 1″

Offergawes
Epiklese

Skriflesing: 1 Konings 19

Familie-oomblik
Prediking
Gebed

Litanie: (ná die viering van die nagmaal of voor die uitsending)

Wegsending: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of 
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 42 en 43)
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God

2Net U is my skuiling, my God…

Seëngroet  (Uit die Basisliturgie vir Koninkrykstyd)
Genade en vrede vir julle
van die Vader wat heers oor die groot heelal,
en van die Seun wat die Koning van die konings is,
en van die Heilige Gees wat ons lei in die volle waarheid.

Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3″

In aansluiting by die oorsig is die tema van “verander” op die tafel.

Verlore en toe verlos: Efesiërs 2:11-22 ()
Een nuwe mensheid
11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

Uit Galasiërs 3
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Efesiërs 2
19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Geloofsbelydenis: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Offergawes

Liedere

F230. “Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

Ps 16
1. Ek het vir die Heer gesê
U is my Here
U is my Rots
Daar is geen ander god
Wat my lof verdien nie
Vir wie ek wil besing

Refrein:
Here, U is my lewe
U sorg vir my
En wat ek ontvang kom alles van U af
’n Pragtige deel is vir my afgemeet
Wat ek by U erf, is mooi vir my

2. U Heer, lei my deur U Gees
En ek slaap rustig
U is by my
Elke oomblik van die dag
Is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
En in blydskap, leer U my leef

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand
Juig vir alle ewigheid!

F267. “As Ek Kon Sing (Sy Woorde)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. As ek kon sing soos die eng’le sing
en die hemel se taal verstaan
Dan sou ek
die Here God kon prys
Maar al praat ek in aardse taal
met die vlekke van ‘n mens
luister Hy
na die woorde van my hart

Refrein:
Want Hy leer my weer ‘n lied
met die woorde wat Hy bied
om te sê die Vader is hier by my
Hy’s die Heer wat oor my waak
wat my nooit nie sal verlaat
Hy’s die Een wat ewig sorg vir my

2. Here wat oor die aarde strek
oor elke mens oor elke plek
hoor die lied
wat ek bring om U te prys
En as my woorde somtyds faal
om U grootheid te bepaal
luister tog
na die woorde van my hart

Brug:
In die aand buig ek my neer
om te sing tot Sy eer
al my note skiet tekort
maar Sy Gees word uitgestort
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Dit was net ’n ligte wind
Baie rustig, nes ’n briesie
Dit het ’n haar oor my voorkop gewaai
En ek het geweet dit was God.

Ek is wakker gemaak deur ’n klein straaltjie lig
Dit het deur die gordyn geglip, op my gesig
Dit het my laat opstaan, met gordyne oopgetrek
Het die oggend saggies in my kamer ingehuppel
Ek het geweet dit was God.

Midde-in my eensaamheid het die foon gelui
’n Stem wat ek goed ken, sê:
“Hallo, ek’s lief vir jou.”
Liefde het deur my siel gevloei
Ek het geweet dit was God.

Reën het saggies op die dorstige grond geval
Op ’n aarde wat bedelend daarvoor wag
Deur die heilige druppels het ek geloop,
Ek het geweet dit was God.

Dit was net ’n bietjie bitterheid het ek gedink
Maar dit wou nie my hart verlaat nie
Dit het om my siel vir lank gehang
totdat ’n storm my diepste wese geruk
en al my bitterheid weggewaai het
Ek het geweet dit was God.

Dit was net ’n akkerboom
Oortrek met rooi herfsblare
Maar in die oggendlig
Was dit gevul met hemel
Ek het oopmond verwonderd gestaan
Ek het geweet dit was God.

Ek het my Bybel oopgemaak
In stilte bekende woorde gelees
In die bladsye hoor ek ’n geluid, ’n fluistering
Ek het geweet dit was God.
O Here God, het ek uitger
ep
Ek het U lief
U wil nie vir my wegkruip nie
Tussen die krake van elke dag
Vind ek U wagtend, om deur my aanbid en bewonder te word
U glip in my lewe soos nag en dag, soos sterre en sonskyn
Ek weet dat U God is!

Marina Wiederkehr se gedig “Harvest of God” (Tree full of Angels, Harper Collins, 1988), uit die riglyn by seisoenvanluister.co.za:  1 Konings 19:1-15 – 2007

Skriflesing: 1 Konings 19

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown het die skopus van die teks vir kinders besonder raakgevat…
Elijah wished there had been something spectacular.  He would have preferred that God speak to him in the earthquake or maybe some fireworks.  But God was there in sheer silence in a desert cave.  The point for the children is that often God does not come in flashy or dramatic ways, but in the silence that surrounds us. Worshiping With Children: Year C – Proper 7, 12th Sunday in Ordinary Time, 5th Sunday after Pentecost (June 19, 2016)

Gebruik ’n paar items wat van ’n hoogte op ’n tafel val- ’n bout en ’n swaar spyker, kleiner items (spykers ens), tot by ‘n speld of ’n naald wat val. Die geluid waarmee dit items val word al hoe sagter… Iewers gaan ’n item so sag val dat ten spyte van stilte in die kerk dit nie gehoor word nie.

Iets hiervan was Elia se ervaring- hy het God verwag in fanfare/ trompette/ optog (vergelyk die stormwind/ aardbewing/ vuur…

Elia verwag God se verskyning in duidelik herkenbare natuurtekens, en God kies die stilte van ’n windstilte…

1 Konings 19:11-12 ()
11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”
Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.

Preekriglyn

Ons teksgedeelte bestaan uit ‘n hele aantal gesprekke. Kom ons volg die verhaal, want op hierdie manier kom die boodskap van die teks helder na vore.

Gesprek Een

Ons Skrifgedeelte begin met ‘n gesprek tussen twee karakters, Agab en Isebel. Agab is aan die woord. Hy vertel vir Isebel wat ‘n derde karakter in die verhaal, naamlik Elia, gedoen het. Hy het “al die profete met die swaard doodgemaak”. Ons weet wie hierdie drie karakters is, asook wat die verhouding tussen hulle is: die goddelose koning, Agab, sy gedrewe vrou Isebel, en die onverkrokke profeet Elia wat die koning waarsku teen afgodery. Interessant, daar is ‘n sweem van kruiperigheid by Agab waar te neem. Hy kom ook soos ‘n kind wie se lekkergoed weggeneem is, by Isebel huil.

Isebel reageer allesbehalwe gemoedelik: “Toe Agab vir Isebel alles vertel … stuur Isebel ‘n boodskapper na Elia …” (v 1-2). Indien dit Agab se bedoeling was om maar net ‘n bietjie by Isebel te kom huil oor sy lekkers wat weggeneem is, het haar onmiddellike optrede hom waarskynlik verras. Dit kon hom natuurlik ook diep verbly het. Die inhoud van Isebel se boodskap aan Elia is duidelik ‘n oorlogsverklaring en ‘n uitdrukking van kragdadige optrede: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie” (v 2). Wie is die gode waarvan Isebel praat? Dit lei tot ‘n tweede gesprek in die verhaal wanneer Isebel indirek, by monde van ‘n boodskapper, met Elia kommunikeer.

Gesprek Twee

In vers 3 ontmoet die leser ‘n derde karakter in die verhaal. Toe Elia die boodskap ontvang wat Isebel se boodskapper aan hom oordra, reageer hy ook. Die aard van Elia se reaksie staan in kontras met Isebel se kragdadige optrede. Hy het bang geword en vir sy lewe gevrees.

Hy besluit om pad te gee sodat Isebel hom nie kon kry en haar dreigement kon uitvoer nie. Hy het gevlug en by Berseba aangekom, waar hy sy dienaar agtergelaat het. Hierdie vierde karakter in die verhaal is naamloos en onbekend. Berseba het aan Juda behoort. Die naam kan vertaal word as “put van sewe” of “put van die eed”. Dit verwys na die gebeure in Genesis 21:22-31 waar Abraham en Abimelek met ‘n eed ‘n verdrag gesluit het, met Abraham se sewe ooilammers as getuienis.

Nadat Elia sy dienaar by Berseba agtergelaat het, het hy self nog ‘n dagreis verder gevlug die woestyn in. Dit was die gebied suid van Berseba. Vers 4 beskryf hoe Elia in moedeloosheid verval het. Hy het onder ‘n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot ‘n einde moet kom. Op hierdie punt word God as vyfde karakter in die verhaal bekendgestel.

Gesprek Drie

‘n Derde gesprek volg wanneer Elia vir God sê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie”. Elia se optrede hier in die woestyn verskil skerp met sy sterk optrede in hoofstuk 18 waar hy die profete van Baäl die stryd aangesê het. Hoor sy gebed in 1 Konings 18:36: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het”.

Isebel se boodskap het hom egter geruk en laat hardloop tot in die Berseba-woestyn: “Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos” (v 5a).

Gesprek Vier

In vers 5b kom ‘n sesde karakter op die toneel met ‘n vierde gesprek in die vertelling. ‘n Engel het Elia aangeraak en hom beveel om op te staan en te eet. Daar was ‘n roosterkoek en ‘n fles water by sy kop. Elia het geëet en gedrink. Hy het weer gaan lê, maar die engel van die Here het hom weer aangeraak en hom weer beveel om te eet.

Hierdie keer het die engel gemotiveer waarom Elia moet eet: Hy moet op ‘n veeleisende reis gaan tot by Horeb, die berg van God. Horeb word ook Sinai genoem (Eks 19:11-23). Die voedsel het hom krag gegee vir die reis van veertig dae en veertig nagte.

Gesprek Vyf

Vers 9 vertel dat Elia sy bestemming by Horeb bereik het. Hy het ‘n grot ingegaan en daar oornag. Daar het die woord van die Here tot Elia gekom, met ‘n vyfde gesprek in die vertelling.

Die gesprek begin met ‘n vraag van God af: “Wat maak jy hier Elia?”. Vers 10 bevat Elia se antwoord op die Here se vraag. Hy is ontevrede en kla oor die stief behandeling wat hy van God ontvang. Hy herinner God aan sy ywer vir God se saak en aan die ontrou van die Israeliete wat die verbond verlaat het. In selfbejammering wys hy die Here op sy persoonlike getrouheid aan God en die gevolge daarvan vir hom: “Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem” (2020-vertaling).

Die Here laat Hom nie deur Elia se tirade van stryk bring nie, maar gee opdrag dat Elia uit die grot moet gaan en voor die Here staan, met die belofte dat die Here verby sal gaan. Vers 11 en 12 beskryf verskillende natuurverskynsels wat as openbaring van God se teenwoordigheid verstaan sou kon word: ‘n geweldige sterk wind, ‘n aardbewing en vuur. Telkens word herhaal: “In die wind/aardbewing/vuur was die Here nie.”

Dan beskryf vers 12c ‘n vierde verskynsel wat Elia laat reageer. Daar was ‘n sagte gesuis. Elia het sy gesig met sy mantel bedek en in die ingang van die grot gaan staan. ‘n Stem het weer vir hom die vraag gevra waarmee die Here die vyfde gesprek begin het: “Wat maak jy hier, Elia?” Weer herhaal Elia sy vorige antwoord, waarop die Here reageer met die opdrag om na Damaskus te gaan. Daar moet hy Gasael salf as koning oor Aram, vir Jehu as koning oor Israel, en vir Elisa as sy opvolger as profeet vir die Here.

Die Here het Elia ook gekorrigeer ten opsigte van sy oortuiging dat hy alleen as aanbidder van God oorgebly het: “‘Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie'” (v 18).

Boodskap

Kom ons dink nou na oor die boodskap van hierdie gedeelte.

Roeping

Wanneer ‘n gemeente oor haar roeping nadink, moet sy ook antwoord op die vraag oor wat die kerk van Christus is. Waarmee het ‘n gemeente se vernuwing te make? Net met ons persoonlike godsdiens, of ook met ons lewe buite die mure van die kerkgebou en buite die grense van die gemeente?

Die Here se vraag aan Elia (1 Kon 19:9, 13) by die ingang van die grot op die berg van die Here, is ‘n vraag wat vandag aan ons adres gerig is: Wat maak jy hier? Hoekom het God jou in dié omgewing geplaas? Hoekom is jy deel van hierdie gemeente? Waarom sou God hier ‘n gemeente tot stand gebring het?

Nooit afgehandel nie

Bereik ‘n mens ooit ‘n ouderdom of punt wanneer jy klaar is met God se roeping vir jou lewe? Wanneer God jou nie verder in sy koninkryk of sy kerk kan gebruik nie? Wanneer jy oorbodig voel en soos Elia onder die spreekwoordelike besembos neerval met net een versugting: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie”?

Wanneer bereik ‘n mens die punt van genoeg? Dit is wat die profeet van die Here in hierdie hoofstuk vir God sê: “Nou is dit genoeg, Here! Ek het my deel gedoen. Nou tree ek uit u diens.” Hoor hoe sê Elia dit vir die Here in vers 10 en 14: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring” (1983-vertaling).

Het God nog ‘n roeping vir jou en sy gemeente, sy kerk hier?

Verskonings

Luister na Elia se argument in vers 10 en 14. Dit bevat gedagtes wat as hindernisse in talle gelowiges se roeping deur God voorkom; tipiese argumente en verskonings wat ons ook gebruik om nie aan God se roeping vir ons lewe gehoorsaam te wees nie.

Die eerste selfregverdigende argument is dat ons God daaraan herinner dat ons Hom darem toegewyd gedien het; dat ons ons deel gedoen het; dat ons eintlik nou die reg het om uit te tree. Elia sê in vers 10: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God.” Hiermee wil Elia eintlik sê: “Here, moet tog net nie vergeet wat ek al in die verlede vir U en die kerk gedoen en beteken het nie. Moet my tog nie nou alweer met ‘n nuwe roeping kom pla nie. Ek het vrywillig uit u diens getree.”

Die tweede selfregverdigende argument wat Elia gebruik om die Here se gedagtes te verfris, is die argument van vergelyking: “Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak” (v 10). Hiermee sê Elia eintlik: “Here, kyk net hoe sleg is die ander. Hulle is nie naastenby so toegewyd soos ek nie. Hulle het nie naastenby soveel tyd aan hulle godsdiens gewy as ek nie. Hulle het minder geld as ek gegee. Hulle het minder vir die basaar gewerk. Here, kyk ‘n bietjie verder, dan sal U wel sien dit is nou ander mense se beurt. Los my vir ‘n slag! Ek weet wat dit is om my roeping uit te leef.”

Die derde argument om ons ongehoorsaamheid aan God se roeping te verberg, is die argument van isolasie en blindheid. Hoor wat sê Elia: “Net ek alleen het oorgebly.” Hierdie verskoning is die een wat die deurslag moet gee. “Here, ek kan mos nie alleen alles doen nie. Hier is nie meer een gelowige wat bereid is om my te help nie. Dié wat nog sê hulle is godsdienstig is almal teen my en wil my doodmaak.” Elia wil nie meer vir God dien nie, want hy het homself van God se kinders geïsoleer. Hy het alleen oorgebly …

Roeping hernu

Tog stuur God vir Elia met ‘n opdrag: “Gaan salf twee konings sodat hulle hulle mense kan lei; Ek sal vir hulle die oorwinning in die geveg gee. Gaan salf ook vir Elisa tot profeet en Ek sal sorg dat my werk op aarde voortgesit word.”

Hiermee sê God vir Elia: “Doen jy net jou deel. Moenie so gou wil uittree nie. Jy is nie alleen nie. Ek het in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baäl-beeld aanbid het nie. Jy het geen regverdiging vir jou ongehoorsaamheid nie. Jy het geen verskoning om nie na My te luister nie.”

God vra vir Elia: “Wat maak jy hier? Probeer jy van my af wegvlug? Probeer jy jou roeping systap?” Dan gee Hy vir Elia ‘n opdrag, ‘n bevel: “Draai in jou spore om en gaan na die Damaskuswoestyn toe – daar is werk vir jou!”

Dit is ook waar van elkeen van ons en van ons gemeente. Kom ons gaan versterk hiervandaan weg. Daar is werk om te doen!

God stuur ons om te leef

Gebed
Litanie (ná die viering van die nagmaal of voor die uitsending)
V: Here, ons God,
u koninkryk duur van ewigheid tot ewigheid
en strek tot aan die eindes van die groot heelal.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Here Jesus Christus,
U is die Koning van die konings
wat heers oor alle dinge,
U is Here van die ganse kerk op aarde,
en Koning van my hart.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Heilige Gees, U maak die waarheid van die koninkryk aan ons bekend
en maak dit deel van ons lewe.
G: Laat u koninkryk kom.

V: Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
G: Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen.

Wegsending: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Seën
Mag julle bewus wees van God se teenwoordigheid.
Mag julle God se nabyheid ervaar en
mag die goddelike vrede wat alle verstand te bowe gaan oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus..  Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of 
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.