Tweede Sondag in Koninkrykstyd (Omgewingsondag)

Picture of Woord en Fees

Tweede Sondag in Koninkrykstyd (Omgewingsondag)

Liturgiese Voorstel 1

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Konings 18:21-29, 30-39
Ander tekste: Psalm 96; Galasiërs 1: 1-12; Lukas 7: 1-10

Inleiding

Die eerste Sondag in Junie word wêreldwyd deur verskeie kerke gevier as Omgewingsondag.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: In die Naam van God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde.
Gemeente: Heilig, heilig, heilig
is die Here die Almagtige!
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid!

Voorganger: In die Naam van die Seun, wat mens geword het en hier op aarde onder mense kom woon het.

Voorganger: In die Heilige Gees, die Herskepper wat die hemel en die aarde nuut maak.

Diens van die Woord

Skuldbelydenis
Voorganger: Ons bely dat ons van die aarde vervreemd geraak het,
Gemeente: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Voorganger: Ons bely dat ons die planeet veronagsaam het
en misbruik het as ’n eindelose bron van grondstowwe.

Voorganger: Ons bely ons sonde teenoor U en u goeie skepping.

Diens van die tafel

Geloofsbelydenis
Ons glo dat die aarde ’n heiligdom is,
deel van God se goeie skepping,
gevul deur die magtige teenwoordigheid van God.
Ons glo dat God se Seun vlees en bloed geword het,
deel van God se goeie skepping;
dat Hy op hierdie aarde geleef en gewerk het;
dat Hy gely het en aan ’n kruis gesterf het
vir alle mense en vir die hele skepping.
Ons glo dat die Jesus wat opgestaan het uit die dood,
die Christus in die hart van die skepping is
wat alle dinge met God versoen.
Ons glo dat die Heilige Gees die skepping vernuwe,
dat Hy saam met die skepping sug
en dat Hy saam met ons wag op die bevryding van die skepping.
Ons glo in God Drie-enig,
die Here van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Uitsending

Seën
Mag die Gees van God
wat bo alle dinge
en in alle dinge is
en deur alle dinge werk,
julle vul met die kennis van God
en van sy magtige teenwoordigheid.
Gaan in vrede.
Gaan dien God en sy goeie skepping.
Amen.

Musiek en sang

Psalm 8 “O, Here God, u Naam is groot op aarde” (Lina Spies);
Psalm 19 “Die hemel stort dit uit, die aarde roep dit luid” (Antjie Krog);
Lied 464 “O Heer my God”

Liturgiese Voorstel 2

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Konings 18:20-21, (22-29), 30-39
Ander tekste: Psalm 96; Galasiërs 1:1-12; Lukas 7:1-10

Elia en die profete van Baäl (Konings).
Die Here kom om oor die aarde te heers (Psalm).
Daar is geen ander evangelie nie (Galasiërs).
Die genesing van die offisier se slaaf (Lukas).

Inleiding

Wie is hierdie God van Israel nou eintlik? Vra Ernst Conradie in sy preekstudie oor vandag se sleutelteks. Lees gerus eers die preekstudie. Hy stel voor dat, gesien die dramatiese aard van die gebeure op Karmel, die preek in narratiewe styl gegiet word. Die verhaal van die liturgie kan aan die hand van dieselfde verhaal en die ander tekste verloop.

“Die fokus moet op die identiteit en karakter van Jahwe bly.  Dit kom in verskillende vrae na vore: Hoekom hink julle op twee gedagtes? Wie is volgens julle die een wat reën en vrugbaarheid (geluk en voorspoed) verseker?  Wat is julle identiteit: Jakob of Israel?” (E Conradie) Uiteindelik bly die vraag ook vaan die gemeente: Wie is hierdie God van Israel nou eintlik?

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Loflied 
Die voorganger vra: Wie is hierdie God van Israel nou eintlik?
Die gemeente antwoord met die loflied wat vertel: Die Here kom om oor die aarde te heers.

Skuldbelydenis
Rig die skuldbelydenis in rondom vrae wat in die verhaal op Karmel gevra word: Hoekom hink julle op twee gedagtes?Wie kies julle: Baäl of Jahwe? (Sien die preekstudie vir meer  vrae wat hier gevra kan word. )

Diens van die Woord

Kindertyd
Laat ’n groepie kinders die verhaal in die liturgiese ruimte speel. (Die koster sal seker nie van ’n brandende altaar en water op die matte hou nie, maar die dramatiese gebeure op Karmel kan tog baie realisties uitgebeeld word.

Diens van die tafel

Sien die voorstel in die basisliturgie.

Uitsending

Seën
Ontvang nou die genade van God ons Vader en die Here Jesus Christus en gaan in vrede in die wete Hy het Homself vir ons sondes gegee sodat ons nou weet wie God eintlik is (uit Gal 1:3).

Musiek en sang

Loflied: Lied 96 (Psalm 96)
Antwoord op skuldbelydenis: Lied 526 “Waar daar liefde is”
By die nagmaal: Lied 568:1-3 “Heer, gee ons vandag ons dag se brood”

1 Konings 18:21-29, 30-39

Teks

1. Die teksgedeelte moet uiteraard binne die breër konteks van die vertellings oor die bewind van Agab as koning van Israel in Samaria (1 Kon 16:19) en van die optrede van Elia as profeet (1 Kon 17:1-2 Kon 2) gelees word. Meer spesifiek volg die dramatiese verhaal op die berg Karmel direk op Elia se aankondiging van die langdurige droogte in 1 Konings 17:1. Verder kan die verhaal van Elia se vlug in 1 Konings 19 gelees word as subtiele kommentaar van die redakteur op Elia se optrede op die berg Karmel (Lawrie). Dit moet daarom saamgelees word.

2. Die geskiedkundige agtergrond rondom Agab se regering is eweneens deurslaggewend. Hiervoor kan talle handleidings geraadpleeg word. ’n Paar aspekte kan hier uitgelig word:

Eerstens was die bevolking van die destydse Israel gemeng in die sin dat daar ’n beduidende groep Kanaäniete was (oorspronklike inwoners wat die Baäl-kultus aantreklik sou vind) naas die Israeliete (wat sedert die dae van Josua hulle met die federasie van 12 stamme geassosieer het). Die aanhangers van Jahwisme was tradisionaliste wat waarskynlik gehunker het na die vorm van sosiale gelykheid voor die koms van die koningskap van Saul, Dawid en Salomo. Laasgenoemde het die inwoners van die Noorde met dwangarbeid verslaaf wat tot die breuk tussen die twee koninkryke gelei het. Die Jahwiste het steeds voor die uitdaging gestaan om die identiteit en karakter van hulle God uit te klaar teenoor ander groepe binne en buite Israel. Hulle teologiese basis was die samekoms in Sigem (Jos 24). Die keuse tussen Jahwe en die vreemde gode by die samekoms in Sigem weerklink ongetwyfeld in 1 Konings 18.

Tweedens was Agab se regering relatief voorspoedig. Hy het talle nuwe bouwerke, selfs met mooi ivoorinlegsels, aangepak. Die Omriede het stabiliteit in Israel herstel. Dit het hulle reggekry met internasionale diplomasie en binnelands deur ’n vorm van godsdienstige diplomasie waarvolgens Jahwisme alleen as onwenslik en onhaalbaar geag is. Daar is twee hoofstede gebou: Vir die Kanaäniete (wat onder Dawid en Salomo aan die kortste ent getrek het) is Samaria met ’n tempel vir Baäl Melqart daarin gebou; vir die Israeliete is die stad Jisreël ingerig. Daar is dus vir die godsdienstige behoeftes van altwee groepe voorsiening gemaak. Hierby moet onthou word dat Agab as koning waarskynlik eerder tot die Kanaäniete as tot die Israeliete behoort het (Deist, 57), al was hy waarskynlik ’n nominale Jahwis (soos die name van sy seuns Ahasia en Jehoram aandui). Hy het dus geen gevestigde belang in die Jahwisme gehad nie. Trouens, godsdienstige eksklusivisme was gevaarlik omdat dit die politieke stabiliteit kon bedreig. Elia se hervorming was gemik teen hierdie godsdienspolitiek. Israel behoort aan Jahwe alleen. Die egte Jahwisme duld eintlik geen koning nie, nog minder ’n koning wat ’n kompromis met ’n vreemde godsdiens aangaan.

Derdens is dit belangrik om te onthou dat die regering van die Omriede gevolg is deur die bewind van Jehu. In die naam van die Jahwisme van Elia en Elisa het dit met ’n ongekende bloedbad gepaard gegaan. Die doel was godsdienstige suiwering, maar die geweld, of ten minste die halfhartigheid van die hervorming, is nietemin deur die Deuteronomistiese geskied­skrywer veroordeel
(2 Kon 10:29-36). Wat op Karmel gebeur het, is klaarblyklik ’n kritiek op die Baäl-kultus en die politieke verdediging daarvan deur koning Agab en sy vrou Isebel. Wat die alternatief daarop was, is egter nie vanselfsprekend nie.

3. Elia (“Jahwe is my God”) word in 1 Konings as ’n Moses-figuur geteken. Hy is afkomstig uit Gilead op die grens van die woestyn (net soos Moses), waar Jahwisme in ’n gesuiwerde vorm kon voortbestaan sonder veel Kanaänitiese invloed. Moses verset hom teen Faro, Elia teen Agab. Beide heersers het teen Israel gediskrimineer. Moses word aan die lewe gehou deur die dogter van Faro, Elia deur die weduwee van Sarfat. Moses is betrokke in ’n demonstrasie met die towenaars van Farao, Elia met die Baälprofete op Karmel. God verskyn aan Moses op Sinai en aan Elia op Horeb. Elia wys sy eie opvolger aan, net soos Moses. Moses se sterfte is in misterie gehul, terwyl ’n wa en perde vir Elia ten hemele voer (sien Deist, 58). Die punt is dus dat Elia hier geteken word as ’n kampvegter in die klassieke tradisie van Moses. Sy verbete hervorming was gemik teen die Kanaänisering van Israel. Nietemin is dit opvallend dat wanneer Elia by die berg Horeb kom (anders as Moses by Sinai), Jahwe vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia”
(1 Kon 19:13)?

4. Bright beskryf Elia as “a figure so eerie and awe-inspiring that his deeds became legendary in Israel” (bl 242-243). Inderdaad, Elia kan dit waag om aan te kondig dat dit nie weer sal reën of dou behalwe as hy dit aankondig nie (1 Kon 17:1). Hy word geteken as enigmaties (hy verskyn dan hier dan daar) en uitermate selfversekerd. Die vraag is of alles wat hy doen wel Jahwe se goedkeuring wegdra. Hy organiseer die konfrontasie op Karmel oënskynlik op bevel van Jahwe (36), alhoewel só ’n opdrag nie in vers 1 aangedui word nie. Dit is hy wat die toneel dramatiseer tot die uiterste toe, deur die Baälprofete aan te por. Is Elia besig met sy eie hervorming, forseer hy Jahwe se hand, of wat gaan hier aan? Is die doodmaak van die Baälprofete ook in opdrag van God? Elia triomfeer wel op Karmel, maar dra by tot die verdere slagting van mense. Gegewe die omstandighede, was daar seker geen alternatief as om die Baäl profete te laat vermoor nie (1 Kon 18:40). Dit was trouens wat die wet geverg het (Eks 22:19), maar Elia se hervorming word tog in ’n ander lig gestel in
1 Konings 19. Is hier sprake van ’n mislukte hervorming? Wat is die belang daarvan dat God geopenbaar word in die windstilte, maar nie in die rukwind, aardbewing of vuur nie?

5. Die agtergrond van die metafoor “hink op twee gedagtes” in 1 Konings 18:21 is onduidelik. Gaan die werkwoord (Heb pasah) om die hink van iemand wat kreupel is? Of van ’n voël se stap? Of is dit die hinkstappe (die buig van die knie) van die rituele danse van die Baälprofete? Of gaan dit daaroor om by iets verby te gaan (deur dit te spaar)? Die werkwoord wat hier gebruik word herinner aan die Hebreeuse woord pesah wat die sleutel is in die Pasga, die fees waar die Here Israel in Egipte gespaar het deur by die deure met bloed verby te gaan. Nietemin is die betekenis heeltemal duidelik, naamlik dat hier ’n beslissing geverg word.

6. Hoekom het die volk niks geantwoord (21) op Elia se vraag of hulle Jahwe of Baäl wil aanbid nie? Het hulle dalk ’n skuldige gewete gehad sodat hulle van skaamte nie geweet het wat om te antwoord nie? Was hulle onseker wat om te kies? Of het hulle voorkeur gegee aan ’n godsdienstige kompromis? Of het hulle dalk nie verstaan hoekom hulle dan moes kies nie (aldus Von Rad)? Kon die aanbidding van Jahwe en Baäl nie liefs naas mekaar bestaan sodat alle godsdienstige belange geakkommodeer kan word nie? Is toleransie dan nie verkieslik bo onverdraagsaamheid nie?

7. Elia beweer in vers 22 (ook in v 18 en 19:10) dat hy alleen oorgebly het as profeet van Jahwe. Het hy dan vergeet wat Obadja hom in vers 13 (sien ook v 3) meegedeel het, naamlik dat hy self honderd profete in grotte weggesteek en van kos voorsien het? In 1 Konings 19:14 herhaal Elia dat net hy oorgebly het, terwyl Jahwe in 1 Konings 19:18 aandui dat Hy darem ’n simboliese groep van 7000 wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie sal laat oorbly in Israel.

8. Waar kom die klipaltaar van Jahwe op Karmel vandaan (30)? Von Rad in navolging van Alt wys daarop dat Karmel buite die federasie van twaalf stamme se grondgebied geval het en ’n vesting van die Baälkultus was. As daar ’n altaar vir Jahwe was, dan kon dit eers rondom die tyd van Dawid opgerig gewees het. Klaarblyklik het Jahwe se altaar bestaan naas die een vir Baäl, maar is afgeskeep en uiteindelik doelbewus omgekeer. Wat Elia hier doen, was daarom ongehoord; daarop aan te dring dat dit onhoudbaar is dat hierdie twee altare naas mekaar kan bestaan. Hy doen dit met ’n beroep op al twaalf stamme van Israel. Die eenheid en identiteit van die volk is hier op die spel. Hulle is immers nie die kinders van ’n bedrieër (Jakob) wat God se seën op bedenklike maniere probeer verseker het nie, maar die volk van God (Israel) (sien vers 31).

9. Die verhaal oor die gebeure op die berg Karmel is een van die mees dramatiese in die Ou Testament. Elia staan alleen teen 450 profete van Baäl, die god van reën, klimaat, vrugbaarheid en weerlig. Van wie meer as Baäl, die god van weerlig en vuur, kan verwag word om te antwoord met “vuur”? Elia gee die Baälprofete die eerste kans en heelwat tyd: die hele oggend en die grootste deel van die middag. Dit is ironies dat Elia, die profeet van Jahwe, die profete van Baäl opdragte gee en hulle gehoorsaam, terwyl dieselfde profete vir Baäl smeek, maar geen antwoord kry nie. Hoe meer die Baälprofete te kere gaan, hoe sterker word die kontras met Baäl se gebrek aan ’n antwoord. As 450 profete nie ’n antwoord verkry nie, sal Baäl ooit kan antwoord? Dit laat Elia toe om met hulle te spot. Miskien slaap Baäl, of dalk sit hy op die toilet? Elia daarenteen laat gooi twaalf kanne water (te midde van ’n langdurige droogte!) oor die brandoffer uit (Hauser & Gregory). Jahwe se antwoord word in die oortreffende trap geskets: selfs die water in die sloot word deur die vuur opgeslurp.

Die konfrontasie draai om een vraag: Wie is dit wat die reën en vrugbaarheid verseker? Dit is opvallend dat dit nie Elia se optrede is wat die deurslag gee nie. Anders as Elisa doen Elia self geen wonderwerke nie. Elia hoef slegs te bid om reaksie van Jahwe te ontvang. Dit is Jahwe self wat die antwoord gee as die volk dan nie ’n antwoord kon gee nie. Die punt is dus dat dit die enigste manier was waarop die volk nog gered kon word; as Jahwe self optree ter wille van sy Naam.

Die reaksie van die volk hierop is uiteindelik onmiskenbaar: Die Here is God (39). Hulle halfhartig-heid het omgekeer in ontsag. Die vraag is egter of hulle iets meer van die identiteit en karakter van hierdie God leer ken het. Jahwe se oorspronklike opdrag was een van ongekwalifiseerde genade: reën vir mens en dier. Elia het egter die geleentheid gebruik as ’n konfrontasie met die Baälprofete en oorwinning vir die Jahwisme. Was dit ’n hol oorwinning, veral as ’n mens kyk na die verdere verloop van die hervorming (hfst 19)? Handhaaf die verteller dalk hier ’n subtiele afstand tussen Elia se strategie en Jahwe se perspektief op die gebeure?

10. Wat presies die dag op die berg Karmel gebeur het dat die hout en stene gebrand het, kan natuurlik nie vandag “wetenskaplik” verklaar word sonder om die voorstellingswêreld van daardie tyd te misken nie. Daar is wel pogings aangewend tot sulke verklarings met verwysing na die gebruik van die ontvlambare middel nefta(r) in 2 Makkabeërs 1:29. Hiervolgens is die kruike met nefta(r) gevul wat met behulp van sonlig of spieëls sou kon ontbrand. Maar dit sou op oëverblindery neerkom – terwyl die profete van Baäl juis elke beweging van Elia dopgehou het. Dieselfde geld van die “vuur van die Here” (38). Dit moet met die verskyning van God verbind word eerder as met ’n weerligstraal op ’n helder sonskyndag.

11. Wat is nou eintlik die punt van die verhaal? Die kern moet gesoek word in die kontras tussen Jahwe en Baäl. Die vraag was of Baäl inderdaad die koms van reën kan help verseker. En is Beëlsebul die een wat siektes kan genees? Vir Elia was daar geen twyfel nie: Dit is alleen Jahwe wat dit kan doen. Aangesien Baäl nie op die gebede van die 450 profete geantwoord het nie, kan slegs een afleiding gemaak word: Baäl is geen god nie. Maar wie is Jahwe dan wel? Jahwe se identiteit kan immers nie bloot by wyse van vergelyking met Baäl vasgestel word nie; as een wat reën bring en wonders doen meer as Baäl. Dan is die godsdiens van Israel niks meer as ’n verbeterde vorm van Baälisme nie (Lawrie). Die heidense gode was berug vir hulle wispelturigheid en word geteken as uitermate selfgesentreerd. Hulle moes gesmeek en gesoebat word om guns te verseker sodat mense die luukses wat hulle begeer, kan bekom. Daarenteen is Jahwe ’n God op wie ’n mens kan staatmaak, standvastig en begaan oor die heil maar ook die heiligheid van Israel (DeVries, 231-232).

Dit beteken nie noodwendig dat Elia as ’n monoteïs in die streng sin van die woord beskou kan word nie (Brongers). Hier is sprake van praktiese eerder as teoretiese monoteïsme: In Israel is Jahwe die enigste God wat tel. Die punt is dat Israel aan Jahwe alleen behoort. Buite Israel kon die Jahwisme immers nie afgedwing word nie. Maar hier kom tog iets radikaal nuuts na vore. Jahwe is nie bloot Israel se beskermer op die patroon van ander nasionale of plaaslike gode wat die voorspoed van die bevolking moet help verseker nie. Jahwe sal geen afgodery duld nie en is selfs bereid om daarom teen Israel self op te tree. Alreeds in Elia se tyd is drie mense gesalf (Hazael van Sirië, Jehu en die profeet Elisa) waardeur Israel bykans vernietig sou word. Alleen ’n gesuiwerde oorblyfsel sal te midde hiervan kan voortbestaan. Voorheen het Israel geweet dat God die volk sou straf, maar ’n klein oorblyfsel was ’n skokkende nuwe wending.

Konteks 

Die Baäl-kultus in Palestina is gebou rondom die behoefte aan vrugbaarheid om voedsel en voortplanting te verseker. Dit gaan hier oor die vrugbaarheid van saad en die bevrugting van eierselle – by mense, maar ook by vee. Vrugbaarheid is afhanklik van faktore wat buite mense se beheer val. Juis daarom is die guns van die gode oënskynlik belangrik om vrugbaarheid te help verseker. In hierdie teksgedeelte gaan dit veral oor die afhanklikheid van goeie, deurdringende reën.

Vrugbaarheid kan in die wiele gery word deur faktore wat binne mense se lokus van kontrole val. Dink hier aan landboumetodes rondom die versorging van grond, maar ook aan sosiale konflik, politieke stabiliteit en godsdienstige singewing. In 1 Konings 18 is dit Agab se regering wat die droogte vererger. Hy is meer bekommerd oor die koninklike perde as oor die kleinboere wat ten gronde gaan in die droogte (5). Dit kan ook in die wiele gery word deur ander rampe en ellendes soos oorstromings, aardbewings, siektes, epidemies en peste (soos sprinkane). Ook hier is die guns van die gode nodig om vrywaring van sulke rampe te help verseker.

In ons eietydse konteks bly die behoefte aan vrugbaarheid onveranderd. Waar mense nie direk van landbou afhanklik is nie, is die besef van ons afhanklikheid van vrugbaarheid natuurlik ook minder direk, maar nietemin onmiskenbaar. Wat wel verander het, is dat voorspoed vandag veel meer behels as vrugbaarheid. Dit het te make met die proses van indus-trialisering wat die produksie van ongekende welvaart moontlik gemaak het. Hierdie welvaart raak alle fasette van ons bestaan, insluitende voedsel, behuising, vervoer, kommunikasie, gesondheid, opvoeding en ’n groot verskeidenheid dienste.

Die produksie van welvaart het eksponensieel toegeneem oor die afgelope eeu. Selfs ’n laer-middelklas familie in Suid-Afrika het besittings waarvan hulle oumas en oupas nooit sou kon droom nie. Die toegang tot welvaart is ook versprei dwarsoor die wêreld, oral waar industrialisering gevestig geraak het. Hierdie besef van welvaart word egter op drie manierein die wiele gery. Eerstens het mense se behoeftes in ’n geïndustrialiseerde samelewing nog veel vinniger toegeneem as die produksie van welvaart. Wat vandag deur baie as basiese behoeftes gesien word (soos toegang tot die internet) was een generasie terug nog ’n ongekende luukse. Dieselfde geld van privaat motors ’n eeu gelede – en dalk weer oor ’n eeu van nou af? In ’n tyd van ongekende welvaart ervaar baie mense steeds dat hulle nie het wat hulle nodig het nie. Tweedens is daar ’n skewe verspreiding van welvaart sodat ongeveer een biljoen mense wêreldwyd nie eers in hulle mees basiese behoeftes kan voorsien nie. Hulle dieet het net nie genoeg kalorieë nie. Derdens word die voortgaande produksie van welvaart op die lang termyn deur ekologiese probleme bedreig. Besoedeling raak alle fasette van die samelewing, maar veral ook gesondheid en die vrugbaarheid van die grond. Dink hier aan probleme soos gronderosie, die oormatige gebruik van chemiese aanvullers (“kunsmis”) en van gifstowwe, die versouting van die grond (deur die gebruik van ondergrondse water), die gebrek aan biodiversiteit in die grond (wat dikwels niks meer as ’n chemiese fabriek geword het) en dan ook veranderinge in weerpatrone wat met klimaatsverandering verbind word. Vrugbaarheid het in ons dag daarom onlosmaaklik verbind geraak met gesprekke oor volhoubaarheid.

Daar kan geen twyfel wees dat die soeke na vrugbaarheid, voorspoed en nou ook volhoubaarheid in ons tyd steeds deurslaggewend is nie. Trouens, al die analises van die verbruikerskultuur waarin ons lewe dui daarop. Dit is ’n frenetiese wêreld van markte en markaandele, van bemarking en bestuur, van advertensies en ongekende begeertes, van koop en verkoop. In die boek Uitverkoop: In gesprek oor die verbruikerskultuur het ek daarop gewys dat die verbruikerskultuur vanuit ten minste ses invalshoeke gekritiseer kan word:

  • Die verbruikerskultuur is nie ekologies volhoubaar nie.
  • Die verbruikerskultuur vererger ekonomiese on-gelykhede.
  • Welvarendes het die slagoffers van hulle eie begeertes geword.
  • Die verbruikerskultuur ondermyn deugde en kweek ondeugde.
  • Die verbruikerskultuur bevorder die kommer-sialisering en vervlakking van kultuur en godsdiens.
  • Die verbruikerskultuur kom neer op afgodery en kettery.

Gegewe die drievoudige probleem wat die soeke na vrugbaarheid, voorspoed en nou ook volhoubaarheid bedreig, is dit nie verbasend dat mense steeds probeer om dit met behulp van godsdiens te verseker nie. Net soos in antieke tye is daar sekere aspekte wat binne ons lokus van kontrole val terwyl ander faktore wat vrugbaarheid, voorspoed en volhoubaarheid verseker oënskynlik buite ons lokus van kontrole val. Trouens, die godsdienstige soeke na welvaart is ’n besonder vrugbare teelaarde vir nuwe godsdienstige bewegings. Hier kan gewys word op twee vorme daarvan: Enersyds is daar die godsdienstige legitimering van welvaart vir diegene wat daartoe toegang het. Dit kan vroom uitgedruk word in die vorm van dankgebede vir dit wat ons wel het (kos, behuising, vervoer, mediese dienste) – ten spyte van die skreiend skewe verspreiding van welvaart. Andersyds is daar die godsdienstige uitdrukking van die begeerte na welvaart veral in die vorm van die welvaartsevangelie. In kort: As jy jou beste vir die Here gee, sal die Here jou ryklik seën. Hierdie welvaarts­evangelie is ongetwyfeld verstommend aantreklik en verklank die behoefte aan opwaartse sosiale mobiliteit in groot dele van die Suid-Afrikaanse samelewing. Kan dit as ’n eietydse vorm van Baälisme beskou word? Die prediker sal ’n genuanseerde antwoord op hierdie vraag vanuit ’n bepaalde plaaslike konteks nie kan vermy nie.

Altwee hierdie godsdienstige vorms van die soeke na welvaart berus op die foutiewe aanname dat onbegrensde ekonomiese groei op ’n begrensde planeet moontlik is. Die ekologiese krisis is ’n simptoom daarvan dat dit net eenvoudig nie moontlik is nie, in elk geval nie in terme van biofisiese produksie nie. Daar is grense aan die gebruik van grond, bosbou en vissery, aan die wyse waarop varswater gebruik word en aan die beskikbaarheid van olie, steenkool en uraan. Meer nog, daar is grense aan die biosfeer se vermoë om die afvalprodukte van ’n industriële samelewing te absorbeer (“recycling”). Dit geld veral van koolstofdioksied – die probleem onderliggend aan klimaatsverandering. Op Omgewingsondag moet hierdie sake op die voorgrond kom.

Preekvoorstel

Voorspoed in Israel in die tyd van Agab het afgehang van reën, maar ook van politieke stabiliteit. Wat voorspoed in ons konteks beteken, is moeilik om te sê omdat die verskil tussen basiese noodsaaklikhede, behoeftes en begeertes in ’n verbruikerskultuur onduidelik geword het. Wat vir een mens absoluut noodsaaklik is (internet toegang) is vir ander ver buite bereik.

Nietemin kan ’n mens ’n verband lê tussen die behoefte aan vrugbaarheid in Israel in Agab se tyd en die debatte rondom vrugbaarheid, voorspoed en volhoubaarheid in ons eietydse konteks. Hierdie verband moet in die prediking gelê word met verwysing na die spesifieke plaaslike konteks en die breër debatte rondom volhoubaarheid.

Wat het godsdiens hiermee te make? Hier is dit belangrik om raak te sien dat aspekte van vrugbaarheid buite ons lokus van kontrole val, terwyl ander aspekte binne ons lokus van kontrole val. Die Baälkultus moet teen daardie agtergrond verstaan word. In ons konteks is die godsdienstige behoefte om vrugbaarheid en voorspoed te verseker onveranderd. Hier kan gewys word op die invloed van loterye en die hoop van baie om op dié gelukkige manier “geluk” te vind. Daar kan ook gewys word hoe die Christelike geloof hierby betrek word óf in die vorm van ’n verdediging van welvaart óf in die vorm van die welvaartsevangelie (sien hierbo).

Teen hierdie agtergrond kan die gebeure op die berg Karmel in 1 Konings 18 opnuut bestudeer word. Gegewe die dramatiese aard van die vertelling, is ’n narratiewe styl hier van pas. Die prediker kan gewoon die verhaal oorvertel, met behulp van aanvullende eksegetiese materiaal.

Die fokus moet op die identiteit en karakter van Jahwebly. Dit kom in verskillende vrae na vore: Hoekom hink julle op twee gedagtes? Wie is volgens julle die een wat reën en vrugbaarheid (geluk en voorspoed) verseker? Wie kies julle: Baäl of Jahwe? Wat is julle identiteit: Jakob of Israel? Word ’n ewe skerp keuse ook in ons dag gevra tussen die welvaartsevangelie en die kruisevangelie?

Uiteindelik bly die vraag egter: Wie is hierdie God van Israel nou eintlik? ’n God van groter vrugbaarheid? Een wat kragtiger wonders kan doen? ’n Tradisionalis wat geen ruimte laat vir politieke diplomasie, toleransie of kompromisse nie? Een wat onverbiddelike trou eis? Een wat meer begaan is oor heiligheid as oor heil? Een wat ’n bloedbad in sy Naam verwelkom? Een wat selfs sy eie volk straf (geen beskermer van plaaslike belange nie)? Een wat slegs ’n klein gesuiwerde oorblyfsel duld?

Die teksgedeelte gee nie vir ons maklike of finale antwoorde hierop nie. Daar is wel tekens in die res van die Elia-siklus. Dink aan die God wat in die windstilte eerder as in die aardbewing, rukwind of vuur verskyn. Dink aan die een wat opkom in die belange van kleinboere eerder as magtige heersers. Maar dit sou nog eeue duur voordat die identiteit en karakter van hierdie God duideliker sou word. Dit vind ons met die koms van Johannes die Doper, ’n figuur in die tradisie van Elia, die wegbereider vir die Messias, die lydende Kneg van die Here. Die identiteit en karakter van hierdie God is egter nog steeds op die spel. Ons lewe en ons keuses rondom vrugbaarheid, voorspoed en volhoubaarheid gee elke dag nog ’n antwoord op hierdie vraag – vir die wêreld om te sien wie hierdie God nou eintlik is. Net soos destyds op die berg Karmel is die vraag watter antwoord ons met ons daaglikse keuses gee.

Bibliografie

Kommentare: Brongers (POT); DeVries (WBC), Gray (OTL), Sweeney (OTL); Aanvullend: John Bright. A history of Israel (1972); Ernst Conradie. Uitverkoop (2009); Ferdinand Deist. Die Noodlottige band tussen Kerk en Staat in Oud-Israel (1975); Alan Hauser & Russell Gregory. From Carmel to Horeb; Douglas Lawrie. “Telling of(f) prophets: Narrative strategy in 1 Kings 18:1-19:18”, JNWSL 23:2 (1997), 163-180; Gerard von Rad. Old Testament Theology Volume 2 (1965).

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.