Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

God spreek mense uit genade vry. Daarvan getuig albei tekste uit die Nuwe Testament. Die erediens (eintlik elke erediens) laat die gemeente in hierdie genade waarin ons leef, rus. In die Woord bevestig God sy volk in die waarheid dat hulle vrygespreek voor Hom staan, nie deur hulle onderhouding van die wet nie, maar deur geloof.

Na aanleiding van Lukas se getuienis is dit gepas om ook vandag die rol van vroue in die bediening te erken. Die vrou van Lukas 7 se bediening staan in skrille kontras met die gewetenlose Isebel (en Agab).

Fokusteks

Galasiërs 2:15-21

Ander RCL tekste

1 Konings 21:1-10 (11-14) 15-21a (Nabot se wingerd: God se oordeel oor die moordenaars);
Psalm 5:1-8 (Omdat die Here mense van geweld haat, vind die onskuldige toevlug in sy liefde);
Lukas 7:36-8 (Jesus vergeef die sonde van die dankbare vrou en verklaar dat haar geloof haar gered het)

Galasiërs 2:15-21
Geregtigheid uit die geloof
15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ’n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Eksegeties

Galasiërs is een van die onomstrede Pauliniese briewe, daarom ook een van die heel vroegste vroeg-Christelike dokumente, en word meestal tussen die jare 50-55 nC gedateer. Selfs as Galasiërs 6:11 (11-18) en die waarskynlikheid dat die voorafgaande deur ’n sekretaris neergepen is – ’n algemene gebruik in die tyd – in ag geneem word, is die brief in alle opsigte kenmerkend van Paulus. Die brief van Paulus aan die Galasiërs is in elk geval ’n besondere dokument wat telkens, deur die loop van die eeue in die Christelike kerk, ’n belangrike rol gespeel het. Aan die een kant vorm die brief ’n belangrike verwysingspunt binne die Christelike kerk en geloof. Dit was juis in tye van twyfel, onsekerheid en rigtingloosheid dat die kerk telkens teruggekeer het na Galasiërs vir bemoediging en leiding. Soos Lategan dit stel: “Telkens wanneer die grondslae van die geloof onder druk gekom het, wanneer daar onsekerheid en verwarring oor die taak van die kerk en die verantwoordelikheid van die Christen geheers het, het gelowiges teruggekeer na hierdie brief om daaruit leiding en inspirasie te put en om weer duidelikheid oor die wese van die Christelike geloof te kry.” Aan die ander kant is Galasiërs, van al die apostel se briewe, die skerpste bewoord, emosioneel (1:1, 6:17) en sterk polemies (1:8,9; 3:1; 4:11). Die brief is deurspek met sarkasme en harde uitsprake (bv 5:12), waarin selfs die tradisionele dankseggingsdeel in die brief vervang is deur teregwysings en vervloekings (1:6-10).

In Galasiërs 2:15 verrig Paulus met sy inleidende woorde, “Ons is van nature Jode en nie sondaars uit die heidene nie”, gelyktydig ’n aantal verskillende funksies. Hy neem sy vertrekpunt in sy Joodse identiteit en sluit homself duidelik by Jode aan waarby hy ten minste vir Petrus, maar waarskynlik ook (van) sy opponente, in Galasië insluit. So handhaaf en bevestig hy die tradisionele onderskeid tussen Jode en nie-Jode en dus tussen gelowiges en ongelowiges, gereddenes en verlorenes. Volgens Joodse denke het sondaars met hulle wettelose optrede hulle buite die verbond bevind, bestem tot vernietiging en mense wat vermy moes word (bv Ps 1:1, 5; 37:34-36; 63:10; Spr 12:12-13; 24:20). Paulus stel homself as ’n tipiese Jood voor en gebruik terselfdertyd die tipiese terminologie van Joodse faksionalisme – wat dalk selfs deur “sommige van Jakobus” (Gal 2:12) teen Paulus gebruik is? – maar, eintlik ironies, wend Paulus dit hier as versoeningstaal aan. Dit is een van baie min pogings in Galasiërs waar Paulus probeer om gedeelde grond te vind met sy opponente in die gemeente.

Galasiërs 2:16 word allerweë as een van die kernverse in die brief (soos een kommentator dit stel  “This is the text on which all that follows in the Epistle is commentary”) en selfs die Christelike geloof gesien. Veral die woorde “ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus” – stel dit as sentrale waarheid van die Evangelie! ’n Aantal terme en frases staan sentraal in die vers, maar is allermins maklik om te verklaar, deels omdat die lang resepsie-tradisie of geskiedenis van interpretasie so dominant is. Hierdie vers vereis dus ietwat meer aandag as die ander verse in ons perikoop.

a. In Paulus se stelling ou dikaioutai anthrōpos (“’n mens word nie regverdig gemaak . . .”) is dit belangrik om te weet dat Paulus die werkwoord “regverdig maak” 27 van die 35 keer in die Nuwe Testament gebruik. As metafoor is dit ontleen aan die geregshof waar dit ’n regter se verantwoordelikheid was om ’n regverdige uitspraak te bied deur die onskuldige “regverdig te maak – verklaar”, en is tipies ook so in die Joodse tradisie gebruik (vgl Eks 23:7; Deut 25:1; 2 Sam 15:4; Ps 51:4; Jes 5:23; Mig 6:11). Die gevestigde tradisie van God wat regter is en ook as regter sal optree in die eindtyd (vgl Rom 3:6), oor alle mense, is ’n verlengstuk hiervan. Daar is egter ook ’n verskil tussen die Joodse en Griekse opvatting, waarin onderskeidelik die beklemtoning van die verhoudingsmatige (die voldoening aan die legitieme verwagtings wat uit verhoudings met ander voortspruit) en die geregtelike (ideale norm in terme waarvan sekere aannames en pligte verreken kon word) aspekte aangetref word. In die vervloeiing van die twee aspekte van “regverdigmaking” in Paulus se denke, is dit egter duidelik dat die (herstel van die) verhouding met God voorop staan (vgl 2:19-21).

b. Die “wet” waarvan in Galasiërs 2:15-21 sprake is, is nie die eerste-eeuse wetlike sisteem(e) in ’n algemene sin van die woord, of selfs die Romeinse wet nie, maar die Joodse of Mosaïese wet. Die verwysings na die besnydenis (2:3; 5:2; 6:12), dieetwette (2:11-14) en die berg Sinai (4:24-25), asook aanhalings uit die Tora (bv Deut 27:26, in Gal 3:10b) en Paulus se stelling dat die wet 430 jaar na God se belofte aan Abraham gegee is (3:17), bevestig dit. Enige poging om in Galasiërs die soms moeilik verstaanbare en selfs dubbelsinnige uitsprake oor die wet in terme van ’n gewaande onderskeid tussen kultiese en morele aspekte van die wet te verklaar, is histories onverantwoordelik en teologies onverantwoordbaar. Paulus verwys deurgaans na die wet as ’n “geheel” (in die enkelvoud!), en beklemtoon die onderhouding van die “hele” wet (Gal 3:17, 19; 5:13).

c. Die betekenis van die frase “werke van die wet” – wat drie keer (die derde keer bes moontlik as aangepaste verwysing uit Ps 143:2) binne hierdie vers herhaal word – en Paulus se aandrang dat hierdie werke niemand regverdig maak nie, bly ’n eksegetiese probleem. Dit is in die verlede op talle maniere verklaar: niemand is in staat om alle verordeninge van die wet te onderhou nie (die “kwantitatiewe argument”, bv U Wilckens); mense kan nie self hulle saligheid deur wetsonderhouding verdien nie (die “kwalitatiewe argument”, bv G Klein); die koms van die Messias het ’n einde aan die era van die wet gebring (bv H J Schoeps); God se aanvaarding van Jesus bewys die ontoereikendheid van die wet, omdat laasgenoemde Jesus veroordeel (bv M D Hooker); as struikelblok, op sosiologiese vlak, in die weg van die bekering van heidene, was dit die sosiale konteks wat Paulus genoop het om die wet te versaak (bv F Watson); die wet was op teologiese gronde ’n verdelende faktor tussen Jood en heiden, in teenstelling met die “geloof van Christus” (bv G Howard); en daar was geen inherente probleem met die wet nie, dit was gewoon net nie Christus nie (veral E P Sanders).

Aangesien ruimte ontbreek om Paulus se siening van die wet en veral sy teenkanting teen die wet hier volledig aan die orde te stel, is ’n aantal verdere opmerkings tog ter sake (sien ook hieronder, “Konteks”). Paulus se standpuntinname ten opsigte van die wet in Galasiërs moet ook in die breër verband van sy ander briewe – sonder om die spesifieke konteks van elke brief daardeur te ondergrawe – en die eerste-eeuse Jodedom of Tweede Tempel Jodedom gesien word. Dit blyk dan, onderskeidelik, dat Paulus nie die vermoë om die wet volledig te onderhou as ’n onmoontlike taak gesien het nie (vgl bv Fil 3:6), en dat die wet se verband met geregtigheid in Joodse verstaan nie een van oorsaak en gevolg was nie. Die teenoorgestelde is eerder waar: Verlossing kom vir die Jode deur deelname aan die verbond (=genade van God) en wetsgehoorsaamheid was die wyse waarop Jode binne die verbond gebly het. “Werke van die wet” verwys waarskynlik nie na aksies wat normaalweg voortvloei uit die wet nie, maar eerder na aksies wat juis die wet en Jodedom tipeer. In die eerste eeu was dit veral drie aspekte: die besnydenis, dieetwette, en onderhouding van feesdae (oa die Sabbat) – twee waarvan juis in die voorafgaande gedeeltes (Gal 2:1-10 [besnydenis] en 2:11-14 [dieetwette]) onder die soeklig was. Die werke van die wet was dus die manier waarop, in die taal van Sanders, Jode binne die verbond gebly het, eerder as die manier waardeur hulle toegang tot die verbond gekry het.

d. In die eerste deel van 2:16 skryf Paulus dat regverdigmaking plaasvind dia pisteōs Jēsou Christou. Dit kan vertaal word as “deur die geloof ‘in’ Jesus Christus” of “deur die geloof ‘van’ Jesus Christus”. In Grieks kan die genitief as objek of subjek vertaal word. Die tradisionele verstaan is die objektiewe gebruik: geloof ‘in’ Jesus Christus. Maar ’n aantal geleerdes (oa Hays; Hooker) is ten gunste daarvan om die frase as “die geloof of getrouheid van Jesus Christus” te verklaar. Die feit dat Paulus in die volgende deel van die vers die objektiewe duidelik maak deur die werkwoord te gebruik (hēmeis eis Christon Jēsoun episteusamen “ons het in Christus Jesus geglo”), kan gesien word as bevestiging van albei standpunte: bevestiging deur stilistiese afwisseling indien vir die objektiewe verstaan gekies word; of toevoegend in die geval van die subjektiewe verstaan (naas Jesus se getrouheid word geloof in Jesus van mense verwag). Laasgenoemde opsie is hier waarskynlik die beste keuse om Galasiërs 2:16 te verstaan.

Paulus teken in Galasiërs 2:16 kennelik beswaar aan teen ’n Joodse of ten minste Joods-geïnspireerde verstaan van mense se verhouding tot God. Dat dit nie die afwys van ’n werksgeregtigheid was nie, is duidelik uit die tipiese verstaan van God se geregtigheid onder Jode onderling, wat die gedagte dat God se genade verdien kon word, uitgesluit het. Die mees aanneemlike verklaring tans is, in aansluiting by die Nuwe Perspektief op Paulus (NPP), dat Paulus die uitsluiting van gelowiges uit die heidendom op grond van hul onvermoë of onwilligheid om aan Joodse wetsvereistes en spesifiek die Joodse identiteitsmerkers te voldoen, en daarmee saam dus die beperking van God se genade tot ’n sekere volk of etniese groep, sterk afgewys en teengestaan het. Die genade van God is beskikbaar vir almal, ongeag afkoms of geskiedenis, moontlik gemaak deur die getrouheid van Jesus aan die kruis en opgeneem deur mense deurdat hulle presies dít glo.

In Galasiërs 2:17 mag Paulus se verwysing na ei . . . heurethēmen kai autoi hamartōloi (“as . . . onsself ook sondaars bevind word”) die onlangse gebeure in Antiogië (2:1-14) en die beskuldigings wat teen hom gemaak is, oproep. Dit mag selfs verwys na sy ervaring dat hy (en Petrus) deur hulle mede-Jode veroordeel is as sondaars omdat hulle saam met ander sondaars (heidengelowiges) geëet het. Selfs ook die situasie waar Paulus en ander Joodse volgelinge van Jesus nie langer die wet as uitgangspunt neem nie – of juis die totale prentjie! Paulus wys die slotsom waartoe sommige kon gekom het, naamlik dat Jesus as agent van die sonde beskuldig kan word, af. Om Jesus se aanvaarding van sondaars te gebruik om Hom uit te beeld as aanstigter en helper van (die gepersonifieerde mag) sonde, sowel as om te beweer dat die daarstel van een norm, naamlik geloof in Christus, meer sondaars (maw selfs ook Jode wat voorheen die wet as norm tot skuldloos-stelling gebruik het) tot gevolg het. Dit kan nie net as heel oppervlakkige argument aangevoer word nie, maar is ten diepste foutief en totaal absurd. As die verwysing na Jesus as diakonos (kneg of bediende) hier ook die assosiasie met “kelner” oproep, en dus by die konteks van Galasiërs 2:11-14 aansluit, is die beskuldiging duideliker: as saameet met Jesus-volgelinge uit die heidendom die Joodse volgelinge van Jesus sondaars gemaak het, is die uiteinde van die argument dat Jesus die sonde dien – ’n totale absurditeit in Paulus se oë (mē genoito “beslis nie/mag dit tog nooit die geval wees nie”).

Trouens, Jesus Christus is juis in die gedrang omdat die regverdiging van gelowiges plaasvind “in Christus” – die tipies Pauliniese frase wat meer as 80 keer in die Pauliniese korpus voorkom (en daarbuite alleen in
1 Pet). In kort, ’n lokatiewe gebruik is waarskynlik die beste oplossing om die frase te verstaan, naamlik dat ’n beperkende sisteem in die vorm van die Jodendom soos deur die wet bepaal, deur ’n ander, nie volledig nuwe nie (Christus as nakomeling uit die geslag van Abraham), maar nietemin oop en akkommoderende een, naamlik Christus, vervang word. Hoe Paulus die begrip, werking en die implikasies daarvan verstaan het, is deurgaans nie volledig duidelik nie; dat mense se verhouding tot Jesus Christus, en nie hulle Joodsheid nie, die bepalende faktor vir hul identiteit moet wees, is egter bo alle twyfel duidelik.

Die gedagte van iets wat afgebreek en weer opgebou word (2:18), was ’n bekende metafoor uit die Joodse tradisie wat veral in sommige profeteboeke aan die orde is (bv Jer 1:10, 12:16-17; 24:6; 31:4, 28; 33:7). Die skerpheid van die kontras val op in wat vermoedelik ’n outobiografiese verwysing na Paulus se radikale omkeer is, en die onmoontlikheid om terug te keer na sy vorige oortuigings, wat sou beteken dat sy hele lewe as volgeling van Christus en sy werk onder die heidene as ’n oortreding in die lig van die wet gesien sou moes word. Saam met Paulus sou die posisie van bekeerlinge uit die Jodendom natuurlik ook in die gedrang kom. Ander voorstelle soos dat die voorwerp van afbreking en opbou dalk die sosiale skeiding tussen Jode en nie-Jode (1:23) was, of selfs dat dit oor die beskuldiging dat Paulus sy idee van die evangelie aangepas het en steeds aandring op die besnydenis (soos die gerug dit wou hê, vgl 5:11), kan ten beste as deel van die groter prentjie wat Paulus in 2:17 in gedagte gehad het, gesien word.

In 2:19-21 bereik Paulus se argument ’n hoogtepunt. Dit bestaan uit ’n aantal selfs meer kernagtige, kompakte stellings as wat tot nou toe die geval was. ’n Soortgelyke harde kontras as in 2:18, maar nou tussen dood en lewe, is in 2:19 aan die orde, en ingelei deur gar (want), wat hier redegewend is. Paulus kan immers nie ’n wetsoortreder wees as hy die wet afgesterf het nie! In kenmerkende Pauliniese styl word bekering tot Christus as ’n vorm van sterwe wat tot ’n ander vorm van lewe aanleiding gee, uitgebeeld (vgl Rom 6:2-8; 7:6). In ’n volgende verwysing na die gebeure wat reeds in Galasiërs 1:13-16 aan die orde was, beskryf Paulus hoe hy letterlik dit wat voorheen die bepalende faktor in sy lewe was, afgesterf het. Die aanspraak dat hy “deur die wet” die wet afgesterf het, moet in samehang en antisipasie van 2:20 verstaan word; soos 3:13 duidelik maak het Jesus “deur die wet” gesterf, en in sy assosiasie met Jesus, Paulus dus ook!

In Galasiërs 2:20 voer Paulus die gedagte van sterwe ten einde te kan lewe verder, en dit kulmineer in wat implisiet in 2:19 aan die orde was (dat Paulus Jesus navolg, in die sin dat Jesus deur die wet, die wet afgesterf het): Paulus skaar hom by Jesus in Jesus se kruisdood en die lewe wat daaruit voortspruit. Trouens, dit is Christus wat nou in die apostel leef; meer tipies is dat Paulus verwys na die Heilige Gees wat in gelowiges leef (vgl 3:26-29; 4:6; 5:16-25), alhoewel die onderskeid nie altyd duidelik is nie (vgl Rom 8:10a, 11a). Die frase en sarki (“in die vlees”) is ’n nieteologiese verwysing na die menslike lewe, die dikwels brose vlees-en-bloed lewe van mense; dat daar wel spanning tussen hierdie daaglikse lewe en die lewe in Christus is, is gewis en ook ’n teken van lewe tussen die tye (of om dit selfs skerper te stel, ’n teken van die lewe tussen die ou lewe deur die wet en die nuwe lewe in Christus). Die onderwerp van die twee partisipia agapēsantos (“liefgehad het”) en paradontos (“oorgelewer het”) kan hier óf God óf Christus wees, met die mees waarskynlike keuse, Christus. Alhoewel dit hier nog nie by die naam genoem word nie, is vryheid regdeur Galasiërs ’n belangrike tema en bars behoorlik los in Galasiërs 5:1 en verder; maar hier in 2:20 word die belang van vryheid as die geleentheid om tot diens van God en ander mense te lewe reeds beklemtoon.

In Galasiërs 2:21 rond Paulus sy argument in die voorafgaande 6 verse af. Hy staan daarop dat hy nie die genade van God verwerp deur geregtigheid, na die dood van Christus, steeds aan die wet te verbind nie – want dit sou die dood van Christus nutteloos maak. Paulus se woorde is nie gemik teen die wet as sodanig nie, maar die wet in soverre dit heiden-Christene sou verhoed om volledig en sonder beperking die genade van God te ervaar. Gedagtig daaraan dat Paulus ten slotte waarskynlik nog die gebeure in Antiogië in die oog het, was dit klaarblyklik juis Petrus se terugtrede agter die wet wat die grense wat die wet trek uitgewys het en in stand hou. Maar aan die ander kant was dit ook juis Christus se dood wat sulke grense uitdaag en oorskry (vgl Gal 3:13-14), wat die gedagte dat God se aandag tot die regverdiges beperk is, ondermyn.

In Galasiërs 2:15-21, soos ook in die brief as geheel, word die noodwendigheid dat die Christelike geloof deelname aan ’n sekere kultuur of deelwees van ’n sekere volk of nasie veronderstel sterk bevraagteken, eintlik beveg; trouens, Paulus dring daarop aan dat die getrouheid van Christus en dus die genade van God nie op enige wyse beperk mag word nie, selfs nie eers deur sulke items wat deur die Jode as toonbeeld van God se genade gesien is nie, naamlik die wet.

Hermeneuties

Paulus skryf die brief aan die Galasiërs ’n tydjie nadat hy daarvandaan vertrek het. Paulus het self die gemeentes in Galasië tot stand gebring, en alhoewel daar vandag nog geen konsensus onder geleerdes is oor presies waar die gemeentes geleë sou wees nie – in die (geografiese) noordelike streek van Galate (wat stede soos Ankara, Pessinus en Tavium kon insluit), wat ’n later ontstaansdatum (middel 50’s) impliseer; of die suidelike (polities-omskrewe) provinsie (met stede soos Frigië, Likaonië, Pisidië en selfs Pamfilië) met dieselfde naam, en ’n gepaardgaande vroeër datering (vroeg 50’s) – is die ligging in Klein-Asië nietemin duidelik. Hierdie verskil van opinie wat as die Noord- en Suid-hipoteses bekend staan, is vir die uitleg van ons teks nie deurslaggewend nie.

Die historiese gegewens soos wat Paulus dit in die brief aan die Galasiërs verwoord strook nie volledig met hoe dieselfde verhale in Handelinge vertel word nie. Die mees opvallende verskil is dat Handelinge melding maak van drie besoeke aan Galasië (Hand 9:26 eerste besoek; 11:30-12:25 insamelingsbesoek; 15:4 apostelvergade-ring), terwyl Paulus self na net twee (Gal 1:18 en 2:1, wat waarskynlik met die eerste en derde verwysings in Hand korrespondeer) verwys. Die rede vir die verskil is waarskynlik die gerigtheid van die twee dokumente, en omdat Paulus in Galasiërs 1-2 op sy meningsverskil met Petrus oor die hantering van heidengelowiges wou wys. Ironies genoeg is korrelasie met Handelinge bepalend vir die Noord-hipotese in terme van ontvangers, en bepalend vir die Suid-hipotese met betrekking tot datering.

Die argument van die Galasiërsbrief is deur H D Betz, wat ’n uitstekende kommentaar oor die brief in die Hermeneia-reeks geskryf het, maar wat ook intussen deur meer resente kommentare aangevul behoort te word, as apologetiese brief en dus as juridiese – of regsretoriek beoordeel, dus ’n argument wat die hoorders van die waarheid of korrektheid en valsheid van ’n standpunt wil oortuig. ’n Ander gesigspunt is die van
J F Smit wat oordeel dat daar in Galasiërs eerder sprake van deliberatiewe retoriek is, dus dat Paulus die ontvangers van die brief wil oortuig om die regte keuse uit te oefen. Beide juridiese en deliberatiewe is egter in die brief aanwesig, in wat dus as ’n vermenging van die twee aspekte gesien word. Die eenheid van die argument in Galasiërs blyk duidelik uit die wyse waarop 2:15-21 temas aanroer wat in die volgende vier hoofstukke aan die orde gaan kom; die uitgangspunte van 2:15-21 word in die daaropvolgende hoofstukke toegepas op die Galasiërs se situasie. Die brief kan dus nie soos wat in die verlede dikwels op ongenuanseerde wyse gebeur het, in drie grootliks onafhanklike of selfstandige dele (1-2 histories; 3-4 teologies; 5-6 eties) geskei word nie, want die ses hoofstukke vorm ’n hegte retoriese eenheid wat in sy geheel die argument van die brief vorm. Die beklemtoning van een deel van die brief tot uitsluiting van die breër argument kan onvermydelik lei tot misverstand en ’n wanvoorstelling van die brief en ’n spesifieke teks en/of die argument as ’n geheel.

Die verband tussen ons perikoop (2:15-21) en die voorafgaande gedeelte is belangrik om te verreken, en kan op twee maniere verstaan word: dat 2:15-21 direkte rede is en as deel van Paulus se voortgaande reaksie op Petrus gesien moet word (soos selfs in sommige Bybelvertalings met die voortsetting van aanhalingstekens deurlopend vanaf 2:14 aangedui word); of dat dit eerder die afsluiting van die narratiewe gedeelte en ’n soort teologiese eerste persoon-motivering/uiteensetting van sy motiewe vir sy hantering van Petrus en Galasiërs 1-2 is. Hoewel die beste keuse nie heeltemal duidelik is nie, is laasgenoemde opsie meer waarskynlik, veral ook as die struktuur van 2:15-21 van nader bekyk word. In 2:15-17 gebruik Paulus die eerste persoon meervoud, wat waarskynlik, onder andere, ook vir Petrus insluit en daarmee saam die Joodse uitgangspunt stel. Vanaf 2:18 gebruik Paulus die eerste persoon enkelvoud – en gegee die saak wat in Antiogië aan die orde was – stel hy dan veral in 2:19-21 sy uitgangspunt duidelik, ter verdediging van (sy verstaan van) die evangelie. Paulus se volgehoue gebruik van die eerste persoon is waarskynlik representatief en dus veralgemenend en word hier waarskynlik gebruik omdat Paulus terdeë bewus was daarvan dat sy boodskap en persoon in Galasië in twyfel getrek is. Verder blyk dit dat Paulus in 2:15-21 hom telkens teenoor sekere aanklagte of die antisipasie daarvan, die inhoud wat telkens weer (vir ons) onduidelik is, probeer verduidelik en verdedig. Maar dat Paulus op sekere punte eenvoudig ook uit sy eie diep ervaring skryf (vgl 2:20), is moeilik te betwyfel.

Dit is belangrik, te midde van die verwysings na Paulus, Petrus en ander apostels se onderonsies en die konflik in Galasië, dat die oortuigings en uitgangspunte wat die onderskeie partye as gedeelde sake gehad het, nie uit die oog verloor moet word nie. Hier is byvoorbeeld nie van ’n Joods-Christelike debat sprake nie; trouens, die kontensieuse saak was nie oor die belang van die geloof nie, ook nie oor die sentraliteit van Jesus Christus nie, of oor die noodsaaklikheid van ’n gepaste moraliteit en gesonde lewenswyse voor God nie – al drie sake staan alreeds vir Paulus en sy opponente vas.

Die aansprake van Paulus in 2:15-21, maar ook die res van Galasiërs, is deur die geskiedenis in die Christelike kerk meestal verstaan as bevestiging daarvan dat die weg na God se verlossing deur die geloof loop, geloof in Jesus Christus. As direkte keersy, is Paulus se uitsprake as kritiek op die Joodse geloof gesien as sou laas-genoemde ’n werkgeregtigheidsgodsdiens wees waarin mense geglo het dat hulle hulle saligheid kon verdien deur die wet te onderhou. Veral sedert die werk van E P Sanders in die tweede helfte van die vorige eeu oor die Tweede Tempel Jodedom is hierdie verstaan van die Jodendom in Paulus se tyd toenemend sterk in twyfel getrek, en het daarmee saam vrae laat ontstaan oor die betekenis van Paulus se sterk beklemtoning van die geloof in hierdie brief. Om dit net heel kortliks saam te vat, het Sanders gemeen dat die Joodse godsdiens as verbondsnomisme beskryf kan word – dat die onder-houding van die wet voortvloei uit die verbond, wat immers, soos telkens duidelik gemaak word in die Ou Testament, suiwer op God se genade berus, en dat die verbond, en nie die wet nie, sentraal staan soverre dit om God se genade gaan. Die antwoord op Luther se vraag oor waar hy ’n genadige God kon vind, sou vir die eerste-eeuse Jode vanselfsprekend gewees het. Dit is dus ironies dat die anti-werkgeregtigheid gedagtegang wat veral in die tyd van die Reformasie sterk op dreef gekom het, die interpretasie van Paulus se siening van wet en geloof, en die daarmee gepaardgaande veronderstellings oor die Tweede Tempel Jodedom, so bepalend beïnvloed het, selfs tot vandag toe nog.

Die herinterpretasie van Paulus aan die hand van die werk van Sanders en andere het later as die Nuwe Perspektief op Paulus (NPP) bekend geraak. Die meerderheid van kommentare oor Galasiërs is geskryf toe die insigte van die NPP nog nie genoegsaam verreken is nie (van die kommentare onder genoem, is die een deur Dunn ’n uitsondering), en daarom is dit belangrik om die impak van die tradisionele interpretasie deurgaans en bewustelik te verreken ten einde die slaggat dat Paulus in hierdie brief kwansuis werksgeregtigheid aanval, te vermy. Dit beteken nie dat gevaar van ’n oppervlakkige legalisme destyds (en selfs vandag nog) ontken kan word, of dat daar nie soms tekens daarvan te bespeur was onder sekere groepe en mense, en ook eerste eeuse-Jode, nie; om dit egter as tekenend van Tweede Tempel Jodedom en as verklaring vir Paulus se argument te gebruik, blyk histories onjuis te wees.

Ten slotte, Galasiërs plaas ’n aantal sentrale uitgangspunte van die Christelike geloof skerp in fokus (sien Lategan) – juis in so ’n sentrale gedeelte in die brief soos 2:15-21 – soos byvoorbeeld wat die kern van die Christelike geloof is; die verband tussen geloof in Christus en die aard van die vryheid van gelowiges; watter aspekte van die Christelike geloof onveranderlik is of aan die ander kant sosiaal-kultureel of selfs histories bepaal is en dus aan verandering onderworpe is; hoe die kerk haarself te midde van ander en veranderende kulturele omgewings kan handhaaf; in welke mate die universele aanspraak van die Christendom dat dit vir alle mense in hulle onderskeie kulturele en ander groeperinge waar is en in hoe ’n mate die Joodse herkoms en onderbou van die Christendom ’n invloed daarop uitoefen?

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Tema: Die grenslose krag van die genade van God

Rus

Daar is ’n behoefte aan God in elke menslike hart, wat amper as ’n ongeneeslike siekte beskryf kan word. Die mens se hart sal ook onrustig bly totdat dit rus vind in God (Augustinus).  Elke keer wanneer ons reageer op God se uitnodiging om voor Hom tot rus te kom, ervaar ons dat Hy vir ons ’n ruimte skep waar ons sy vrede kan beleef en waar ons met Hom gemeenskap kan hê.

Lees Palm 5:1-8, die Psalm vir vandag, en laat elkeen die woorde van die Psalm ’n persoonlike stilgebed maak.  Bid dit dan in jou eie woorde.

Lied

F5.” Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

Familie-oomblik

Vir hierdie Familie-oomblik het jy ‘n papiervliegtuigie nodig wat op die volgende manier gevou is:

Hierdie stuk papier gaan vir ons ‘n belangrike waarheid leer.  Ek vou dit in ‘n papiervliegtuigie.  Kom ons kyk of dit kan vlieg.  Ja, dit vlieg, maar dit bly nie lank in die lug nie, nê?  ‘n Regte vliegtuig bly langer in die lug, nie waar nie?  Maar kan ‘n regte vliegtuig regtig altyd in die lug bly?  Nee, êrens moet hy weer brandstof inneem.

En sal ‘n mens met só ‘n vliegtuig tot by God in die hemel kan vlieg? Nee, dit sal nie help nie.

Baie mense dink egter dat hulle hemel toe kan gaan as hulle goeie goed doen, as hulle alles doen wat die wet van God sê: jy mag nie steel nie, en jy mag nie moord pleeg nie.  Maar, nes hierdie vliegtuigie nie lank in die lug kan bly nie, so help ons goeie werke nie.  Ons kan nooit só goed lewe dat ons daarmee in die hemel kom nie.

Hoe kom ons in die hemel?  Ek wil vir julle dit wys met hierdie vliegtuigie.  Kom ons knip sy vlerke af.  Wat het ons dan?  ‘n Kruis, ja.  Waaraan laat die kruis julle dink?  Aan Jesus wat aan die kruis vir ons sonde gesterf het.  Jesus het gesê: Elkeen wat in My glo, sal in die hemel kom (Joh 3:16).

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ’n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ’n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ’n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ’n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ’n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Daar was al baie hartseer en ongeluk in die wêreld omdat mense nie luister nie.  Hulle hoor, maar sukkel om werklik te luister en te reageer op wat hulle hoor.

Paulus se brief aan die gemeentes wat hy in Galasië gestig het, is vol van hierdie worsteling.  Luister tog! Hoor tog!  Verstaan tog!  Lewe tog soos ek julle geleer het!

’n Intense argument:die worsteling van ’n geestelike vader

Galasiërs is Paulus se mees intense brief.  Die apostel is opgewerk, ontsteld, soms self brutaal en ongenaakbaar.  Die gemeentes moet hoor!  Hulle moet van die waarheid oortuig word, en valsheid herken.  Hy redeneer met hulle, sodat hulle die regte keuse vir die waarheid kan uitoefen.

Paulus skryf hierdie brief ’n rukkie nadat hy uit Galasië vertrek het.  Hy was terdeë daarvan bewus dat teenstanders sy persoon én boodskap in Galasië in twyfel getrek het.  Daarom verduidelik hy telkens, verdedig homself, en antisipeer bepaalde aanklagte, waarteen hy hom dan uitspreek.  Niemand moet dit vir hom verder moeilik maak nie, want hy dra reeds die littekens van Jesus aan sy liggaam (6:17).  Mense moet egter weet die vloek van God sal hulle tref as hulle ’n ander evangelie verkondig (1:8,9).  Daarom moet die Galasiërs nie met ’n benewelde verstand dink nie (3:1)  Paulus vrees sy werk onder hulle was dalk tevergeefs (4:11).

In die gedeelte wat ons teks voorafgaan vertel Paulus van sy pynlike ervaring met Petrus.  Hy het hom openlik teen Petrus verset.  Petrus het gelowiges uit die heidendom aanvaar en saam met hulle geëet totdat daar Jode uit Jerusalem opgedaag het.  Skielik word die nie-Jode toe uitgesluit, Petrus begin hom eenkant te hou.  Alles omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.  Op ’n harde, reguit manier noem Paulus dit huigel (2:13) en ’n afwyking van die reguit pad van die evangeliese waarheid (2:14).  Paulus se beswaar is dat Petrus mense wat nie Jode is nie wil dwing om te lewe asof hulle Jode is (2:14).

Dit was ’n pynlike situasie.  Vandaar die opgewonde trant van die Galasiërbrief.  Hy is deur mede-Jode as sondaar veroordeel omdat hy saam met nie-Jode geëet het.  Terwyl die reddende krag van Jesus Christus mense tot een verloste gemeenskap saambind, bo-oor die beperkende grense van die Joodse wet, wil die Galasiërs nou weer die grense van die wet handhaaf.

Die krag van ons redding is op die spel

Mag die Galasiërs tog ore hê wat kan hoor wat op die spel is!  Vers 16: “En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo.”

Die klassieke reformatoriese verstaan van hierdie teks is dat die weg na God se verlossing deur die geloof loop, geloof in Jesus Christus.  Ons steek die leë hande van geloof uit na Jesus, wie ons redding is.  Ons word nie deur werke, soos wetsonderhouding, gered nie, maar deur Jesus Christus alleen.  Daar is geen manier waarop wetsonderhouding ons kan red nie.  Jesus Christus red.

Mense soos Luther en Calvyn het daarmee die destydse Rooms-Katolieke leer, waarvolgens mens kan meewerk aan jou redding deur die verdienste van jou eie werkgeregtigheid, skerp afgewys.  Die sekerheid van ons verlossing berus in die werk van Christus, nie in onsself en ons eie verdienste nie.  Hulle pogings om die kerk te hervorm het egter misluk, en hulle moes hulle bediening buite die Katolieke kerk voortsit.

Op grond van hierdie waarheid kan ons vandag nog getroos lewe en sterwe.  Christus is ons redding.

Mense en hulle insluiting in die liggaam van Christus is op die spel

In die afgelope dekades het ’n nuwe perspektief op Paulus (NPP) ontwikkel wat ons help om die rykdom van hierdie teks selfs dieper te verstaan.

Die Jode van die eerste eeu n.C. het genade ook verstaan as iets wat gratis van God ontvang is.  Verlossing was deur die verbondsgenade van God aan te gryp, net soos die Reformatore dit later sou formuleer.  Die rol van die wet was vir hulle nie om jou te red nie, die wet was bloot die manier waarop jy binne die genade gebly het.  Anders gestel: Die wet was nie die toegang of deur tot die genade nie, maar die lewenswyse waarop jy met jou lewe getoon het dat jy die genade ontvang het.  Daar was veral drie aspekte van die wet waarmee jy jou moes assosieer om aan te toon jy leef in verhouding met God:

  • die besnydenis;
  • die Joodse dieetwette, en
  • die onderhouding van die Sabbat en Joodse feesdae.

Volgens hierdie benadering is die probleem met die Jode nie dat hulle dink redding kom deur gehoorsaamheid aan die wet nie.  Hulle weet redding is ’n onverdiende gawe van God.  Máár hulle meen die gepaste manier om die redding uit te leef, is die onderhouding van Joodse gebruike, rondom veral die besnydenis, die dieetwette en die onderhouding van die feesdae.

As jy in Christus glo, en jy is gered, moet jy dit toon deur soos ’n Jood leef.  Dit sluit mense om die verkeerde redes uit.  Daarom skei Petrus hom in Antiogië af van die heidense gelowiges wat gered is, maar nie Joodse gebruike handhaaf nie.  Hy doen dit toe Jode uit Jerusalem opdaag.  Intussen weet Petrus dat God niemand uitsluit omdat hy of sy nie ’n Jood is nie (Hand 10:34).  Paulus noem dit huigelary.

Dit ontstel Paulus dat die Jode God se genade beperk tot die lewensstyl van ’n bepaalde etniese groep of volk.  Die gelowiges uit die heidendom word uitgesluit op grond van hulle onvermoë of onwilligheid om aan die Joodse wetsvereistes te voldoen.  Daarmee word die goeie nuus van Jesus Christus beperk.

Ons word gered deur ons verhouding met Jesus Christus.  Nie deur binne die raamwerk van die Joodse wet te bly nie (2:16).  Die vryspraak van nie-Jode het nie met die wet en wetsonderhouding te doen nie, maar met Christus.  Daarom mag die wet nie as juk gelê word op die lewe van gelowiges wat uit die heidendom tot geloof in Christus gekom het nie.

Die Jode het van die Joodse wet ’n lewenstyl gemaak wat as ’n verpligting op alle nuwe bekeerlinge geplaas is.  Daarmee het hulle ’n “plus” by die goeie nuus geplaas wat die evangelie self bedreig het.  Dit lê ’n beperking op Christus se werk, volgens vers 17.  As Jesus sondaars omhels, en nadertrek, kan mens sê dat Christus in diens van die sonde staan (vers 17)?  Natuurlik nie.  Trouens, die sondaar se redding lê in Christus alleen, en nie in die uitleef van die Joodse wet nie.

Toepassing: Geloof in Jesus Christus ken nie grense nie

Eerstens:
Die toegang tot verlossing in Jesus Christus setel nie in jouself nie, maar in die genade van God deur Jesus Christus.  Daarom kan niemand voorspel wie die genade sal hoor en aangryp nie.  ’n Voorwaarde vir insluiting in die geloofsgemeenskap is nooit hoe ordentlik, aanneemlik, aanvaarbaar en verdienstelik jy is nie.

Mense kom na die Here en na sy kerk letterlik soos hulle is.  Of jy die onrein Samaritaanse vrou by die put is, of Saggeus die hooftollenaar en hoofskurk, die ryk jongman, die Kanaänitiese vrou, Saulus die hoofvervolger van die kerk, Nineve die politieke vyand, of wie ook al is, jy kwalifiseer vir genade.  Jy kan kom soos jy is.

Vanuit menslike oorwegings kan die vrye toegang en die oorvloedige genade van God in Jesus ’n skandaal vir die kerk wees.  Die omhelsing van die sondaar kan vir ons smerig raak, en ons reputasie in gedrang bring.  Letterlik en figuurlik.

Steve Biggs van ’n gemeente in Melville, Johannesburg, vertel hoedat hulle onlangs T-hemde uitgeruil het in hul straatkinderprojek.  Lidmate het letterlik hul eie T-hemde uitgetrek, dit vir die kinders aangetrek, en die kinders se hemde vir hulself aangetrek.  Die volgende dag het hulle die kinders in die erediens ingenooi, en die skoongewaste flenterklere van die vorige dag saamgebring kerk toe, sonder om hul eie T-hemde terug te verwag.  Dit was verskriklik moeilik om dit te doen, maar dit het die kinders op ’n kragtige manier ingesluit.  Christus sluit almal in, sy genade is vir ’n ieder en ‘n elk.  Gelowiges in Melville het die evangelie nuut gehoor, en dit daarom gedoen.

Tweedens:
Wanneer weet ’n mens iemand behoort aan die Here?  Wanneer is iemand waarlik ’n Christen?  Is dit wanneer mense my lewenstyl aanneem en daarvolgens lewe?  My reëls van ordentlikheid en behoorlikheid navolg?  Moet mense aantrek, praat, dink, sing, in die erediens vergader, soos ek dink hulle moet?  Of is daar ander gestaltes van gehoorsaamheid moontlik wat mag verskil van my voorkeure?

Die bekende sendeling en ekumeniese teoloog Lesslie Newbigin waarsku daarteen dat Christene etiese reëls formuleer vir mense wat uit ander kulture of uit ander agtergronde as hulle tot bekering kom.  Wanneer ons reëls aan hulle oplê wat eintlik bloot ons voorkeure is, onderskat ons die werk wat die lewende Christus deur sy Woord en Gees in hulle lewens doen.  Daar is gevalle van sendelinge wat die evangelie plus bv kleredragreëls, of ander reëls, as die volle waarheid verkondig het.

In gemeentes sluit Christene van verskillende ouderdomme mekaar dikwels uit, en veroordeel mekaar, of skep nie ruimte vir mekaar, op grond van voorkeure oor die uitlewing van die evangelie asof dit die evangelie self is.  Dit raak ons musiek, ons style van geloofsbelewing, en kleredrag – om enkele voorbeelde te noem.  Thomas Long het ’n boek oor die “worship wars” geskryf – ’n realiteit in baie gemeentes.

Ons het in Suid-Afrika ’n ongelukkige geskiedenis waarin velkleur by meer as een groep gesien word as deurslaggewend om te bepaal met wie ek my meng, en wie ek bereid is om in te sluit of wie ek uitsluit.  Dit is ’n vergryp teen die evangelie, en teen die Here van die evangelie.

Mens ontvang jou broers en susters, jy kies hulle nie self nie.  Jou broers en susters in die Here ontvang jy ook, Paulus waarsku ons teen die vernietigende effek om mense in of uit te sluit op grond van die lewenstyl wat ons vir onsself gekies het.

Johannes Calvyn is bekend vir die onderskeid wat hy gemaak het tussen die kern van die evangelie en sake van middelmatige belang.  Dit wat van middelmatige belang is (voorkeure, ’n bepaalde lewenstyl, ons gedragreëls, mag nie verhef word asof dit van die hoogste belang is nie.  Jesus is van die hoogste belang, en Jesus sluit almal in wat deur geloof hulle vertroue op Hom as Redder en Here stel.

Sal ons vandag Paulus se dringende boodskap hoor?  Die hart van die evangelie is op die spel.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Laat die gemeente na ‘n verskeidenheid foto’s van verskillende mense en groepe in die gemeenskap kyk.  Laat iemand, of verskeie lidmate, die foto’s vooraf neem en voeg dit saam in ‘n Powerpoint skyfievertoning.  Maak seker dat die foto’s alle mense in die omgewing van die gemeente insluit – van die kinders tot bejaardes, van alle kleure en geure.  Indien daar gereeld toeriste in die omgewing is, sluit hulle ook in.  Wys bloot die foto’s, sonder enige kommentaar of moralisering.

Vra nou lidmate om te bid vir spesifieke mense en groepe soos uitgebeeld op die foto’s.  Dit kan in stilte of (verkieslik) hardop gebeur.  Daar kan vooraf gereël word met lidmate om die gemeente spesifiek en konkreet voor te gaan in gebed vir bv woonbuurte, skole, dwelmsmokkelaars en ander groeperinge in die omgewing.  Bring werklik die gemeenskap in gebed voor die Here.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.