Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Toe God Abraham vra om die regte ding te doen al lyk dit onhoudbaar, kon hy gehoorsaam in die geloof dat God aan Hagar en haar kind reg sal doen en sy seën sal gee (Gen 21). Psalm 86 beaam hierdie vertroue in God. Op dieselfde basis van vertroue in God se onbetwisbare gawe van lewe in Christus, skryf Paulus (Rom 6) dat dit ondenkbaar is dat gelowiges in slawekettings van sonde verstrik kan bly. Daarom vier ons in die erediens ons vertroue in God en rus ons in Hom. In hierdie geloofsvertroue hoor ons Jesus deur die prediking roep om “dapper” te wees in ons dissipelskap (Matt 10).

Ander tekste

Genesis 21:8-21
Abraham stuur vir Hagar weg
8Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gehou. 9Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, 10sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, 12maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. 13Tog sal Ek die seun van die slavin ’n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en ’n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. 15Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder ’n doringbos neergesit 16en ’n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. 17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. 18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ’n groot nasie laat word.”

19Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ’n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. 20God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. 21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met ’n vrou uit Egipte laat trou.

Psalm 86:1-10, 16-17
Gee U my tog krag!
86 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog na my, Here,
verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is
u troue dienaar,
red my, want U is my God,
op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe
altyd weer,
U is getrou teenoor dié
wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood
roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk
vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot
en doen magtige dade,
U alleen is God.

11Leer my u pad, Here, 
ek wil wandel in u waarheid; 
leer my U met toewyding dien. 
12Met my hele hart sal ek U prys, 
Here my God, 
u Naam altyd eer, 
13want u liefde vir my was groot: 
uit die dieptes van die dood 
het U my gered. 
14Dit is hovaardige mense 
wat my aanval, o God, 
’n bende geweldenaars 
wat my wil doodmaak, 
mense wat met U 
nie rekening hou nie. 
15U, Here, is ’n barmhartige 
en genadige God, 
lankmoedig, vol liefde en trou. 

16Sien my,
u dienaar van my geboorte af,
in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
17Maak my ’n voorbeeld
van u goedheid,
sodat dié wat my haat,
verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help
en vir my uitkoms gee.

Romeine 6:1b-11
Dood vir die sonde, maar lewend vir God
6 Wat moet ons nou hiervan sê?
Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

Fokusteks

Matteus 10:24-39
Vervolginge wat voorlê

(Mark 13:9–13; Luk 10:3; 21:12–17)
16“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 17Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. 19Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. 20Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ‘n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 22Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. 23As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ‘n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24“‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ‘n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25‘n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ‘n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wie gevrees moet word
(Luk 12:2–7)
26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely
(Luk 12:8–9)
32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.

Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
(Luk 12:51–53; 14:26–27)
34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring
‘tussen ‘n man en sy vader
en tussen ‘n dogter en haar moeder,
tussen ‘n skoondogter en haar
skoonmoeder;
36ja, ‘n man se huismense sal sy vyande
wees.’

37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Beloning
(Mark 9:41)
40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal ‘n profeet se beloning ontvang; en wie ‘n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ‘n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

11 Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Ekstra stof

Hier is ‘n paar opmerkings oor die breër konteks van hoofstuk 10:
Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
Matteus sluit hierdie gedeelte oor die krag en missie van die koninkryk af met die tweede belangrike toespraak van Jesus, die uitsendingsrede, wat onderrig aan die dissipels gee vir die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur. Dit gee sewe perspektiewe wat die dissipels vir hulle taak moet motiveer en versterk, ten spyte van die werklikheid van vervolginge, uitdagings, verdeeldheid.

Matteus vertel egter nie hoe dit met hulle op dié sending gegaan het nie. Markus en Lukas daarenteen vertel wel ook van dié uitsending, maar baie korter en met ‘n kort beskrywing van die resultaat op hulle werk (Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6). Lukas vertel daarby ook van die uitsending van die 72, iets wat ons net by Lukas aantref, hoewel ‘n gedeelte van Jesus se woorde aan dié sendelinge op ‘n ander plek in Matteus herhaal word (Matt. 11:20-24).

Jesus stuur die twaalf dissipels uit – Matt. 10:1-4
Let op dat Matteus die twaalf beide dissipels as apostels noem. Dit is net dié twaalf wat apostels in sy evangelie genoem word waarmee aangedui word dat hulle die gesagvolle verteenwoordigers en gestuurdes (dit is wat die Griekse woord apostel beteken) van Jesus is. Hulle kan dus staatmaak op Sy gesag in die uitvoering van hulle roeping.

Jesus se opdragte aan die twaalf – Matt. 10:5-15
Dit is belangrik om die konteks te verstaan waarvoor Jesus die opdragte gee dat daar nie voorsiening vir geld en ‘n reissak met allerlei benodigdhede gemaak word nie. Die twaalf dissipels word vir eers net na die mense van Israel gestuur, op wie se gasvryheid en ondersteuning hulle kan staatmaak. Dit is daarom nie ‘n opdrag vir alle sendelinge van alle tye nie. Waar ‘n mens in ongasvrye omgewings ingestuur word, sal ander opdragte van die Here geld.

Die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur, word uitgespel as die verkondiging van die koninkryk, die genesing van siekes, die opwekking van dooies, die reiniging van melaatses en die uitdryf van demone – presies wat Jesus tot dusvêr gedoen het (10:7-8). Net soos Jesus dit gratis gedoen het, moet hulle ook. Die enigste weglating uit Jesus se bediening in die vorige twee hoofstukke is die vergifnis van sonde, hoewel die vrede wat Jesus vra dat hulle vir die huismense skenk (of laat terugkeer) ‘n interessante ekstra opdrag is.

Die waardigheid (gesindheid, soos dit in die N.A.V. vertaal is) van die huismense al dan nie, wat bepaal of hulle die vrede kan behou, dui nie op een of ander verdienste aan hulle kant nie, maar of hulle ontvanklik daarvoor is of nie, wat duidelik sou word uit die feit of die dissipels verwelkom word of nie.

Die werklikheid van vervolginge – Matt. 10:16-25
Dit is opmerklik dat Matteus met hierdie perikoop die uitsendingsrede aanpas met opmerkings wat eintlik met die sending na die heidennasies te make het, iets wat wel sin maak in sy skrywe aan die geloofsgemeenskap in Sirië wat besig is met die Groot Opdrag, maar nie werklik inpas in die aanvanklike uitsendingsrede aan die dissipels nie, behalwe as ‘n mens dit as ‘n soort profetiese vooruitskouing sou beskou.

Dit sien ons in die feit dat daar hier van prokurators (goewerneurs) en konings gepraat word aan wie die dissipels uitgelewer sal word, dat hulle voor heidennasies sal getuig en dat die Gees van die Vader, wat op dié punt nog nie uitgestort is nie, deur hulle sal praat. Vergelyk dit met die eerste paar opdragte dat hulle juis nie na die heidennasies moet gaan nie, selfs nie na die Samaritane nie (vers 5).

Die eskatologiese karakter van die volgende verse daarna, vers 21-23, waar van ‘n onvoltooide sending aan die Jode gepraat word by die (weder)koms van die Seun van die mens, dui ook daarop dat dit ‘n woord van Matteus aan sy lesers in Sirië is, uiteraard gekoppel aan die boodskap van Jesus.

Omdat Matteus dus sy lesers wil aanmoedig om hulle huidige taak uit te voer, om die evangelie na die heidennasies te neem, sluit hy dié gedeelte hier in. Daarby waarsku hy hulle skerp teen die heel ander omgewing wat hulle onder die heidennasies sal aantref, een waar hulle behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe moet wees. Hulle moet dus wys wees en op hulle hoede vir die listigheid van mense, terwyl hulle sorg dra dat hulle in alles onberispelik optree. Daarmee sal die Gees van hulle Vader hulle help.

Matteus wy uit oor die verdeeldheid wat selfs in huisgesinne voor sal kom, sowel as die verguising en vervolging wat hulle sal beleef, iets wat hulle natuurlik in Jesus self raakgesien het en uit wie se voorbeeld en teenwoordigheid hulle krag en motivering kan put.

Moenie bang wees nie, God sal sorg – Matt. 10:26-31
Met hierdie woorde moedig Matteus die gelowiges aan om nie uit vrees vir die gevolge van hulle woorde, eerder stil te bly nie. Hulle moet bly getuig van dít wat Jesus hulle geleer het, want hulle Vader het die vermoë om vir hulle te sorg. Selfs die moontlikheid van die dood moet hulle nie afskrik om getrou te bly aan die woorde van die Here Jesus nie.

Aanmoediging om Christus te bely en nie te verloën nie – Matt. 10:32-33
Die logiese gevolgtrekking wat die dissipels uit die voorafgaande aanmoediging moet maak, is dat getuienis nie opsioneel is nie, maar verpligtend. Dit het ewige gevolge nie net vir dié teenoor wie getuig word nie, maar ook vir die mense wat getuig, vir ons as gelowiges. Dit is ‘n harde woord wat ons goed moet hoor.

Lojaliteit aan Jesus bring skeiding – Matt. 10:34-39
Matteus raak nou ‘n pynlike realiteit aan, dat lojaliteit aan Jesus die effek kan hê in huise dat kinders en ouers met mekaar dit haaks kan hê oor die verbintenis aan Hom en dat ‘n mens se huismense jou vyande kan wees. Tragies, ontstellend, maar die realiteit van die keuse waarvoor Jesus mense plaas.

Die vrede wat Jesus bring, is die vrede van ‘n paradoks. Dit manifesteer soms in die teendeel daarvan, in skeiding, verdeeldheid en vyandskap. Wie egter sy lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit behou, sê vers 39.

Gasvryheid en ondersteuning van dissipels bring beloning – Matt. 10:40-42
Die uitsendingsrede word afgesluit met ‘n woord oor die mense wat die boodskap ontvang. Dié wat die dissipels met gasvryheid ontvang en hulle ondersteun, ontvang daarmee eintlik die Here Jesus self, d.w.s. God self, en sal hulle beloning verseker kry. Dit word drie maal herhaal om dit te onderstreep.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 504 of Flam 146 of Vonkk 33

Votum: (Bid Psalm 86:1-13, 15-16)

Seëngroet 

Lofsang: Lied 500

Wet: Romeine 6:1-11

Toe-eiening: Lied 290 of Flam 206

Geloofsbelydenis: (– bely dat Jesus sorg) Lied 544 of Flam 115 of Vonkk 50

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 10:24-39

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: (voorbidding vir vervolgde Christene)

Slotsang: Lied 489 of Flam 292

Seën

Respons: Vonkk 89

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 504 vv 1, 3 en 5 “Kom, laat ons saam tot Jesus nader” of
Flam 146 “Alles Vir My” of
Vonkk 33 “Wees Nie Bevrees Nie”

Votum: (Bid Psalm 86:1-13, 15-16)

Seëngroet
Omdat die Here barmhartig en genadig is, lankmoedig, vol liefde en trou, sien hy ons in genade aan. Daarom groet ek julle in sy Naam: genade en vrede vir elkeen van ons.

Lofsang
Lied 500 “Gods dade is volmaak en goed”

Wet: Romeine 6:1-11

Toe-eiening
Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is” of
Flam 206 “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”

Geloofsbelydenis: (– bely dat Jesus sorg)
Wys die video van Joe Niemand se lied Ek sal nie bang wees nie 
Lied 544 “Soos die voëltjies in die hemel” of
Flam 115 “Kyk Hoedat Die Voëltjies Vlieg” of
Vonkk 50 “Dankie, Heer, Vir Wat Ons Eet” 

Liedere

F146. “Alles Vir My” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding, Verwondering) Teks en musiek: Retief Burger en Leza Liversage
© 2005 Urial Publishing (Ps 23:1, Fil 3:7-11, Joh 14:6-7)

1. Ek staan vandag soos duisende voor my
met ’n vuur hier in my hart voor U.
Deur al die eeue heen is u Naam besing
en saam met engele wil ek ook nou iets bring.

Refrein:
My woorde is min
maar hier moet ek begin, want U is:
Alles vir my, U is die lied hier op my lippe
U’s die Naam wat ek bely, U is
alles vir my, U’s my begin, U is my einde
U’s my weg, U is my lewe
U is … alles vir my, en U is genoeg.

2. Ek weet dat U my elke lofsang hoor
al wil twyfel die geloof in my kom smoor.
Solank as wat ek leef sal ek U prys
tot die dag wat ek ook veilig by U is.

Refrein:

VONKK 33 “Wees Nie Bevrees Nie”
Nav Psalm 91 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Teks : Nada te turbe – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse teks in hierdie vertaling en musiek)
© 2008 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
hul wat by God skuil, hoef nooit te twyfel.
Wees nie bevrees nie, wees nie beangs nie:
vind by God skuiling.

Nothing can trouble, nothing can frighten:
those who seek God shall never go wanting.
Nothing can trouble, nothing can frighten:
God alone fills us.

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis) Teks: Nico Simpson Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers (Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

F115. “Kyk Hoedat Die Voëltjies Vlieg”
(RUBRIEK: Flammikidz uit bestaande bundels – Lof) Oorspronklik: Why Not I
Teks en musiek: John W Peterson en SVR Ford Afrikaanse vertaling: 1993 Attie van der Colf
© 1956 Renewed 1984 John W. Peterson Music Company (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Kyk hoedat die voëltjies vlieg –
sommer so, hoog daarbo!
God laat al die voëltjies vlieg,
hoog daarbo!

Refrein:
Hy doen soveel meer vir my;
ek sal altyd dankbaar bly
en my nie bekommer nie –
Hy’s by my!

2. Kyk hoedat die lelies groei –
in die veld, o so mooi!
God laat al die lelies groei –
o, so mooi!

VONKK 50 “Dankie, Heer, Vir Wat Ons Eet”
Teks: Dankgebed – IL de Villiers 1981 (Pro Deo) Melodie: Amelia van der Merwe 1981 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding Amelia van der Merwe 1981 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Tafelgebed

Dankie, Heer, vir wat ons eet,
wat ons leer en wat ons weet.
Soos die voëltjies wat daar sing,
wil ons ook ons danklied bring.

F292. “Heer Laat My Skyn”
(RUBRIEK: Kruisfuur / Flam – Getuienis) Teks: Marina du Toit Musiek: Marina du Toit © 2008 Urial Publishing

Heer vul my hart, met liefde
U Woorde binne my.
Heer laat my lippe spreek van vrede
en die doodsheid lewe gee.
Want U is God, hier in my en U Gees leef deur my.
Laat ek water bring in ’n dorre woestyn.

Refrein:
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my skyn!
Heer laat die donker nou swig en die twyfel verdwyn,
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!
Heer laat ek (ons) hoop bring vir nood en ’n wêreld in pyn!
Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn! Heer laat my (ons) skyn!
Heer rig ons op, as ligdraers, ’n nasie na u hart.
Heer gee ons hande, net soos U s’n, wat uitreik en genees.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 10:24-39

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor wat hulle bang maak. Praat spesifiek ook oor dié kere wat jy bang is omdat jy die Here volg, bv. as jou maats jou spot omdat jy reg optree, kerk toe gaan, ens., of wanneer jou maats iets verkeerd wil doen en jy weier en weet dat hulle vir jou gaan kwaad wees. Verduidelik dan dat Jesus sê ons hoef nie bang te wees om gehoorsaam te wees nie, omdat hy vir ons sorg.

Vertel dat twee mossies destyds vir 1c verkoop is. Dís hoe min mense dink hulle werd is.
Tog sorg God vir elkeen van hulle! (As jy ou een sente in die hande kan kry, kan jy wys dat daar twee mossies op is en dit uitdeel, sodat almal kan onthou dat God vir hulle sal sorg.)

Grafika – Eiendom van Lip Kee en geneem op 6 Februarie 2011 met ‘n Canon EOS-1D Mark III. Kopiereg gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe.

Jy kan ook kans gee dat mense kyk of hulle mekaar se hare kan tel en dít verbind aan die sorg boodskap – God gee so baie vir ons om, dat hy selfs die hare op ons kop tel!

As jy dit in die hande kan kry, kan jy die pragtige storie van die Bekommerde Mossie of The Very Worried Sparrow deur Meryl Doney in die hande kan kry, is dit die perfekte storie om vandag te vertel (met die mooiste illustrasies)! “The sparrow really is a terrible worrier. Even as a baby bird he worries about food and about learning to fly. And even with loving parent birds who look after all his needs, he still worries. What about the terrible sparrowhawk, and what happens when the snow comes in winter? In spring, when all his siblings are nesting with new mates, he is too shy and worried to try. It is the little female who finds him and their nesting site, but then the very worried sparrow is fearful for the family he is about to bring into the world. There are cats lurking – and that sparrowhawk. It is a turtledove who provides the answer. Does the sparrow not know of ‘the Great Father who made the world and everything in it’? She tells him ‘how the day begins, and where the winds come from, and all the little things that every creature knows.’ And the very worried sparrow becomes happy and sure of himself and his world.”

Of gebruik die storie “Bosbok en Olifant Raak Bang” uit Ewald van Rensburg se “Die Avonture van Bomani Meerkat en ander stories”. Dit vertel van Bosbok se pragtige huis by die rivier. Wanneer Bosbok eendag by die huis kom, ontdek hy daar is iemand met ’n diep stem in sy huisie wat dreig om hom op te eet! Selfs Olifant kan nie help nie. Dit is uiteindelik Leeu wat dapper genoeg is en ontdek dat dit die hele tyd Brulpadda was wat maak of hy gevaarlik is!

Preekriglyn

Meriam Yahia Ibrahim het op 27 Mei 2014 in ‘n Soedannese tronk geboorte geskenk aan ‘n babadogtertjie, haar tweede kind. Die baba heet Maya. Meriam, ‘n mediese dokter, is sedert Februarie in die tronk met haar seuntjie van 20 maande.

Grafika hier beskikbaar, kopiereg onbekend

Die skadu van die doodstraf hang oor Meriam. Sy is op 11 Mei skuldig bevind dat sy die Islamgeloof sou versaak het. Haar pa was ‘n Moslem. Aangesien sy ‘n ander geloof as haar pa aanhang, oortree sy die Islamitiese Sharia-reg wat afdwaling van Islam strafbaar met die dood maak.

Meriam is getroud met ‘n Christen, Daniel Wani, wat weens spierdistrofie van ‘n rolstoel afhanklik is. Aangesien die Soedannese reg nie ‘n huwelik met ‘n Christen erken nie, is sy boonop van ontug aangekla. Vandaar die vonnis dat sy gehang gaan word, en vooraf – weens ontug – 100 houe in die openbaar gaan ontvang.

Na Meriam se skuldigbevinding aan die versaking van Islam en ontug, het sy ‘n paar dae kans gekry om die Christengeloof af te sweer. Op 15 Mei 2014 het sy die hof meegedeel sy bly ‘n Christen. “Ek is ‘n Christen, ek was nooit ‘n Moslem nie,” het sy gesê nadat ‘n Islamitiese geleerde 40 minute gebruik het om haar te oortuig om die Christelike geloof te verloën.

Hierna het die regter in die Hof vir Publieke Orde in El Haj Yousif Kartoem haar vonnis van 100 houe vir ontug en die doodstraf vir afdwaling bevestig.

Daniel Wani is verbied om die hofsitting by te woon, en is lank toegang tot Meriam en sy seun geweier.

Amnestie Internasionaal het die doodvonnis veroordeel en gevra vir haar onmiddellike vrylating. Volgens Manar Idriss, Amnestie Internasionaal se Soedannese navorser, is dit weersinwekkend dat ‘n vrou vir haar keuse van godsdiens ter dood veroordeel kan word, en gegesel kan word vir ‘n huwelik met ‘n eggenoot van ‘n ander godsdienstige oortuiging as dié van haar pa. Dit is ‘n flagrante miskenning van internasionale mensregtestandaarde, berig Christianity Today.

Daar is ook ander lande in die wêreld wat afdwaling van Islam kriminaliseer. Dit is in baie lande moeilik om ‘n Christen te wees, veral waar jy dit openbaar maak (Mat 10:26v).

Intussen gaan verskeie menseregte-organisasies hulle beywer vir die vrylating van Meriam. (By die skryf van hierdie preek was daar nog geen konkrete resultate op hierdie pogings nie.)

Toewyding

Die toewyding van gelowiges aan Jesus Christus in baie onderdrukkende lande van die wêreld bly merkwaardig. In lande soos Soedan, wat toenemend Islamities word, Pakistan, Jemen, Sjina en ander is dit geen grap om Jesus Christus na te volg nie.

Baie Christene het alles ter wille van Jesus prysgegee of verloor – hulle familie, besittings, bevoorregte posisie. Hulle verkeer elke dag in doodsgevaar weens hulle verbintenis aan Christus. Jesus is alles vir hulle. Jesus is al wat hulle het, maar dis genoeg vir hulle.

So was dit ook in die eerste eeue van die Christelike kerk se bestaan in die Romeinse Ryk. Mens het so uitgestaan as jy ‘n Christen was, dat jy moes weet hierdie keuse gaan jou iets kos.

In ons teks berei Jesus sy volgelinge voor op die vervolging wat op hulle wag. Hy help hulle om te verstaan dat hulle sal deel in sy eie lyding. Hierdie lyding was van die begin af deel van die lyding van Christene. Dink maar hoeveel druk op die eerste dissipels geplaas is. Mens kan maar net Handelinge gaan lees om hierdie verhaal te sien ontvou.

Gelukkig of koel?

Kan dit wees dat Christene in die Weste bloot gelukkig is om nie so vervolg te word nie? Natuurlik leef ons in omgewings waar godsdiensvryheid gerespekteer word. Daaroor moet ons dankbaar wees.

Aan die ander kant kan dit wees dat Christen-wees só saamval met die algemene kulturele patrone, dat daar geen spanning is tussen die navolging van Jesus en die dinge wat “gewone” burgers doen nie. Ons staan nie meer uit vir Jesus nie. Daar is nie ‘n bewuste keuse om Jesus getrou na te volg nie. Ons gaan maar saam met die stroom.

Wanneer Jesus, en gehoorsaamheid aan Jesus, alles in jou lewe word, mag jy verras wees oor die druk wat jy ervaar omdat jy Hom navolg. As jy beweeg van afgekoel na toegewyd, wanneer Jesus alles in jou lewe word, gaan dinge gebeur!

Volgens hierdie gedeelte gebeur drie dinge:

Openlik oor jou geloof

Eerstens: Jesus beklemtoon dat gelowiges hulle nie skaam vir hulle verbintenis aan die Here nie (verse 26, 27, 32):
Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.

Navolgers van Jesus is nie geheimsinnig oor wat hulle glo nie. Jesus maak dit duidelik dat ons dit wat ons gehoor het, openlik moet bekendmaak (ook Matt 5:13-16). Jy moet jou kleure wys. Jy moet die Here dien en navolg. Dit vereis totale selfverloëning.

Dis wat Jesus bedoel as Hy sê dat ons ons kruis moet opneem en Hom volg. Ons gee alles prys – lewe, ambisie, toekoms, reputasie en populariteit – ter wille van Jesus. Ons loop die pad wat Jesus geloop het. Ons sal dieselfde behandeling as Jesus kry (10:24, 25).

‘n Marxistiese ateïs het eenmaal die volgende aan ‘n Christen gesê:
Die evangelie is ‘n baie kragtiger metode vir verandering as ons Marxistiese filosofie, maar ons speel nie met woorde nie. Ons wil graag ons doelwitte bereik. Daarom gebruik ons alles om dit te doen. Van ons salarisse en lone hou ons net dit wat ons nodig het om van te lewe. Ons gee ons vrye tyd en selfs ons vakansies prys om ons doelwitte te bereik. Julle is nie gemotiveerd nie. Julle gee net ‘n bietjie tyd en byna geen geld vir die verspreiding van die evangelie nie. Hoe kan enigiemand in die buitengewone waarde van die evangelie glo as julle nie tyd of geld daarvoor opoffer nie?

Prof Willie Jonker skryf:
Om in die kruis van Christus te glo, is om saam met Christus gekruisig te word. Gemeenskap met die lyding van Christus is in die eerste instansie selfkruisiging . . . Die deelname aan die lyding van Christus beteken egter nog meer. Dit beteken ook dat die Christen bereid moet wees om saam met Christus te ly. Dit is ‘n swak getuigskrif vir ons verburgerlikte Christendom dat dit vir ‘n prediker vandag so moeilik is om aan die gemeente duidelik te maak wat dit beteken om saam met Christus te ly. Dit spreek van ons verwêreldlikte soort Christendom wat geen lyding om Christus ontwil ken nie, omdat ons nie vir die wêreld ‘n bedreiging vorm nie.”

Jesus sê dat indien ons enigiets – familie, vriende, ambisie, onsself – bo ons liefde vir Hom stel, ons nie werd is om aan Hom te behoort nie. Nee, ons staan aan Jesus se kant. Staan op, staan op vir Jesus!

Konflik

Tweedens lei dit tot konflik as ons Jesus volg (10:32-35). Dissipelskap lei tot vervolging. Jesus beklemtoon dat sy lyding ook die toonaard vir sy dissipels skep. Wat met Hom gebeur, sal ook met sy dissipels gebeur. ‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester, en ‘n slaaf as sy eienaar nie.

Wanneer ons ly vir ons geloof, beteken dit nie daar is iets met ons fout nie. Baie Westerlinge wil wegskram van lyding, omdat hulle meen ons behoort ‘n lewe vry van lyding te hê. Jesus help ons in hierdie gedeelte om lyding anders te sien. Lyding ter wille van Jesus is ‘n teken van dissipelskap.

In hierdie verband sê Jesus dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard. Daarmee bedoel Jesus die koninkryk van God ken nie ‘n valse vrede wat sê alles is reg terwyl niks reg is nie. Christene moet die moed hê om op te staan en getuienis oor Jesus te lewer, selfs al staar hulle die swaard in die gesig. Meriam Yahia Ibrahim is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Sy staar die galg in die gesig, maar sy bly getrou aan haar geloof.

Jesus bedoel nié ons het die reg om die swaard op te neem en ons geloof op ander af te dwing nie. Daar was al Christene wat Jesus se woorde gebruik het om geweld goed te keur. Dit mag nie. Die koninkryk van God kan nie met die swaard bevorder word nie.

Jesus benadruk dat wanneer ons ons met Hom assosieer, daar wel ‘n swaard sal wees. Daar sal konflik wees. Daar sal tweedrag wees. Die oorsaak sal die evangelie wees, maar die swaard sal in die hand van die wêreld wees wat hierdie evangelie nie verdra nie. Dit kan ‘n fisiese swaard wees, soos baie Christene vandag beleef. Jou lewe kan in die slag bly. Die swaard kan ook emosioneel, geestelik, finansieel, en ‘n verlies aan status wees. Ons verbintenis aan Christus moet egter ons hoogste lojaliteit wees.

Beskerming

Wanneer mens toegewyd aan Jesus leef, kan jy derdens weet jy leef onder die beskerming van die Vader. Daarom moet Christene vir niemand bang wees nie. Ons vrees nie die dood of dreigemente en aksies van vyandiggesinde mense nie. Hulle kan die lewe wat God gegee het, nie wegneem nie.

Slegs God kan die lewe totaal wegneem. Daarom moet ons Hom eerder as mense vrees (10:28). Ons vrees vir vervolging en bespotting is omdat ons met ‘n eendimensionele werklikheid werk. Ons dink dat hierdie werklikheid die enigste is. Ons dink dat as ons ons lewe, waardigheid, reputasie, werk of gewildheid ter wille van Christus verloor, dit die einde is. Dit is nie. As ons egter doelbewus kies om eerder na onsself as na sy Naam om te sien, is dit wel die einde. Die keuse vir of teen Jesus is ‘n saak om lewe en dood – ewige lewe en ewige dood. Ons eer en aanvaar die gesag van Hom wat mag oor ewige lewe en dood het. Daarom bly ons getrou aan ons roeping.

Wanneer ons ons lewe vir Christus verloor, sê ons teks, is ons Vader by ons (10:29). Die NAV het ongelukkig gekies om in 10:29 woorde in te voeg (in hakies aangedui) wat nie in die oorspronklike teks staan nie: “En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder (die wil van) julle Vader nie.” ‘n Rabbynse parallel lui: “Rabbi Simon ben Yohiai said: ‘No bird perishes without God, how much less man'”

Daar is ‘n wêreldse verskil tussen hierdie twee vertalings is. “God wil nie dat die mossie val nie” versus “God is daar as die mossie val.” Die laaste is die korrekte vertaling. God is dus daar wanneer sy mense ter wille van die evangelie ly: “Die woord van die troostende en sorgende aanwesigheid van God . . . gee aan die woorde ‘nie sonder julle Vader’ ‘n heel ander betekenis as die grieselrige ‘God wil dit so'” (Nielsen). Mossies was die heel goedkoopste voël op die mark. As geen mossie sonder God se medewete sterf nie, hoeveel te meer sal Hy nie omgee vir sy mense wat die evangelie versprei nie?

Vreesloos lewe

Dis die soort verbintenis aan Jesus wat in Matteus 10 van volgelinge van Jesus verwag word. Ons moet vreesloos lewe – voor regerings (10:18), ander godsdienstige mense (10:17) en familie (10:21, 37). Die haat van mense mag ons nie afskrik nie (10:22). Ons kan dit doen, want ons leef in die teenwoordigheid van die lewende God wat ons lewe in sy hande hou.

Dietrich Bonhoeffer skryf: “Net hulle wat glo, is gehoorsaam en net hulle wat gehoorsaam is, glo waarlik.” Geloof en lewe, geloof en navolging, geloof en dissipelskap is onskeibaar. Sonder die een beteken die ander niks nie.

Die grootste krisis vir die kerk is egter dat ons hierdie dinge geskei het en heel gemaklik daarmee voel. Dit is vandag glad nie moeilik vir iemand om ‘n Christen en lidmaat van die kerk te wees nie. Jy sê jy glo, maar hoef dit nie te leef nie.

In lewe en sterwe

In sy boek, Seeds of Contemplation, sê Thomas Merton: “Moenie die mens wat nie meer in God glo te vinnig oordeel nie, want dit is miskien jou eie koudheid en gierigheid en middelmatigheid en materialisme en vleeslikheid en selfsug wat sy geloof doodgemaak het.”

Stephan Joubert:
Deesdae dink baie mense hier in ons omgewing dat die kerk net lewendig (of soos hulle sê: “aan die brand”) is as baie mense na die huisbyeenkomste toe kom of as gelowiges allerlei lekker dinge doen. Maar helaas sê Jesus dat die kerk nie juis ‘n suksesverhaal in terme van wêreldse standaarde is nie. Ons loop maar dieselfde pad as wat ons Meester hier op aarde geloop het, naamlik dié van spot, verwerping, fisiese swaarkry en selfs die dood.

Dít is ‘n teken van ‘n lewendige kerk. ‘n Lewendige kerk is nie ‘n groot kerk nie. Dit is waar mense Jesus onvoorwaardelik navolg.

Die ou volkslied van Suid-Afrika het afgesluit met die woorde: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika!” Baie mense het dit met hulle hele hart gesing en bedoel. Hulle het ook vir hulle land gesterf. Met hoeveel passie sal ons sing: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir U, Heer Jesus!”

God stuur ons om te leef

Gebed: (voorbidding vir vervolgde Christene)

Slotsang
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof” of
Flam 292 “Heer Laat My Skyn”

Seën
“Moet dus nie vir mense bang wees nie. “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Respons
Vonkk 89 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.