Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

1 Samuel 8:4-11, (12-15), 16-20 (11:14-15)
Die Israeliete vra ’n koning
8 Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as leiers oor Israel aangestel. 2Die oudste se naam was Joël en dié van die tweede Abia. Hulle was leiers in Berseba. 3Maar Samuel se seuns was nie soos hy nie: hulle het hulle verryk ten koste van ander, het omkoopgeskenke aangeneem en die regspraak verdraai.

4Al die leiers van Israel het bymekaar gekom en na Samuel toe in Rama gegaan. 5Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer ’n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”

6Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog ’n koning om oor ons te regeer.”

Samuel het tot die Here gebid, 7en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle. 8Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien. 9Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.”

10Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom ’n koning gevra het.

11Hy het gesê: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop, 12party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak; 13julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak; 14julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee; 15van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy ’n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee; 16julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik; 17van julle kleinvee sal hy ’n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees.

18“Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

19Maar die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle het vir hom gesê: “Nee, daar moet tog maar ’n koning oor ons wees. 20Ons wil ook soos al die nasies wees. Ons koning moet oor ons regeer; hy moet ons lei en ons oorloë voer.”

21Samuel het na die woorde van die volk geluister en dit vir die Here vertel.

22Toe sê die Here vir Samuel: “Gee toe aan hulle versoek. Stel ’n koning oor hulle aan.”

Samuel het vir die manne van Israel gesê: “Gaan julle nou almal huis toe.”

1 Samuel 11:14-15
14Toe sê Samuel vir die manskappe: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”
15Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.

Psalm 138
Die Here is hoog verhewe
138 Van Dawid.
Ek wil U met my hele hart loof.
Laat die gode maar hoor;
dit is tot u eer dat ek sing.
2Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord
bo alles gestel.
3Toe ek na U geroep het,
het U my gebed verhoor
en my nuwe krag gegee.
4Al die konings van die aarde
sal U loof, Here,
wanneer hulle u woord hoor,
5hulle sal sing
oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here
is groot.
6Ja, al is die Here hoog verhewe,
Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af
deur die hoogmoedige.
7As die nood my oorval,
hou U my in die lewe
teen die woede van my vyande in:
U strek u hand uit,
u regterhand red my.
8Die Here sal vir my alles
goed laat afloop.
Aan u liefde, Here,
is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande
laat vaar nie.

2 Korintiërs 4:13-5:1
13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” cOns het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

Lewe deur die geloof
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

5 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan.

Fokusteks

Markus 3:20-35
Daarna het Jesus huis toe gegaan. ‘n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in ‘n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van ‘n onrein gees besete.” Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Konteks
Dit is nie te moeilik om te verstaan watter implikasies hierdie teksgedeelte vir ons vandag inhou nie. Dit is immers maklik om allerhande vorme van boosheid wat mense en trouens hele samelewings gevange hou te identifiseer. Of is dit?

Daar is byvoorbeeld talle slaggate verbonde aan endemiese armoede. Dink aan bendes en hulle tirannie, die misbruik van alkohol en die gebruik van dwelms, winsbejag met kleinskaalse lenings, die oorbestee van beperkte fondse, dobbelary, prostitusie en besoeke aan prostitute. Ander mag dink aan die soort praktyke wat in Galasiërs 5 genoem word: onsedelikheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, dronkenskap, rusies en haat, en; die ondeugde wat daarmee saamgaan: onreinheid, verdeeldheid, naywer, woede, uit­spat­tigheid ensovoorts. Dit is die vrugte van ‘n bose gees waarteenoor die vrugte van die Heilige Gees veel meer aantreklik is. In die korporatiewe wêreld mag ander dink aan bedenklike transaksies, onregmatige winsbejag, verdraaiing van inligting, korrupsie en onderduimsheid.

Dit is nie moeilik om nog veel meer ondeugde en wanpraktyke te noem nie! Die koerante is elke dag daarvan vol. Dit is egter veel moeiliker om só ‘n situasie om te keer as dit eers wydverspreid posgevat het. As almal met verbale en fisieke geweld funksioneer, is dit moeilik om self daarvan te ontkom. Hoe werk ‘n mens korrupsie in die samelewing teen? En ‘n uitspattige verbruikersmentaliteit? En jaloesie? En geldgierigheid? Hoe beskerm ‘n mens jou kinders daarteen? Hoe word jy self daarvan bevry as dit in jou gedagtes, taalgebruik, gewoontes en houdings ingekruip het?

Dit is selfs nog moeiliker om gevaarlike ideologieë raak te sien en teen te gaan. As ‘n gees van rassisme, elitisme of seksisme byvoorbeeld eers posgevat het, word dit moeilik omgekeer. As korrupsie ‘n hele organisasie deursuur het, kan dit nie so maklik uitgeroei word nie.

Dit is nie moeilik om hierdie lyn verder deur te trek na omgewingsprobleme toe nie. Enkele voorbeelde kan dit illustreer: As almal rommel strooi help dit nie veel om anders te probeer leef nie. As die koolstofvoetspoor wêreldwyd oënskynlik onvermydelik groter raak, kan dit moeilik omgekeer word. As perlemoen kaal gestroop word, wat maak dit saak om self ook te vat wat jy kan kry? As dit nie meer raakgesien word nie en die kwaad nie van die goeie onderskei kan word nie, dan is ons regtig in die moeilikheid. Hierdie soort voorbeelde kan maklik aangevul word vanuit ‘n bepaalde plaaslike konteks.

Hierdie soort bose geeste, so sou ‘n mens kon sê, affekteer die hele huishouding van God. Hier kan gewys word op die etimologiese verband tussen die woorde vir huis, huisgesin en huishouding wat in die teks voorkom. Die oorspronklike Griekse term vir huis is oikia terwyl die woord oikos vir huishouding gebruik word. In eietydse taal word die woorde ekonomie, ekologie en ekumene almal van hierdie Griekse wortel afgelei. Die ekonomie verwys na die reëls (nomoi) oftewel die bestuur van die huishouding. Ekologie verwys na die onderliggende logika (logos) oftewel die grondbeginsels van daardie selfde huishouding. Die term ekumene verwys gewoonlik deesdae na interkerklike verhoudings maar het oorspronklik gedui op die bewoning van die huis, of dan die “hele bewoonde wêreld”. Die vraag wat by hierdie spesifieke huis in Markus 3 opgeroep word, is hoe die bose geeste wat hierdie groter huishouding mag affekteer raakgesien kan word.

Ekstra stof

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.

2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.

4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Die lastering teen die Heilige Gees – 3:20-30
Die samedromming om Jesus het nou so groot geword, dat Hy by die huis nie kans kry om te eet nie (vgl Joh 4:34 – sy voedsel is om die wil van sy Vader te doen).  Sy familie (“sy mense” uit Nasaret) word daardeur baie verontrus, veral omdat hulle sy bediening nie regtig verstaan nie, en dink dat Hy versteurd geraak het.  Daarom kom hulle na Kapernaum om Hom te kom haal, hoewel dit vrugteloos blyk te wees (die vertelling gaan voort in 3:21-23). Die skrifgeleerdes gryp dié kommer van die familie aan om Jesus se bediening verder verdag te maak, en dit ironies genoeg toe te skryf aan besetenheid deur Beëlsebul (“die Heer van die huis” van die Hebreeus Baäl-Zebûl), die duiwel.

Dit bly vir my interessant hoe Jesus telkens op hierdie verdagmakery reageer.  In plaas daarvan om hulle net af te skryf, of te ignoreer, antwoord Hy hulle en probeer verduidelik met 3 voorbeelde – koninkryk, huisgesin en Satan se koninkryk – hoe hulle mening nie sin maak nie.  Hy plaas sy eie bediening dan in die konteks van ‘n “berowing” van Satan.  Hy spel ook die gevaar uit van die mening van die skrifgeleerdes, dat dit uiteindelik God se werk aan die duiwel toeskryf, en dit is ‘n ewige fout, ‘n keuse teen God, die sonde teen die Heilige Gees.

Matteus en Lukas
Daar is redelike onderlinge verskille in detail en beklemtoninge tussen die drie evangelies rondom hierdie verhaal, hoewel dit nie wesenlik is nie, en net die eie Jesus-portret helder skilder wat elkeen vertel.  Waar Markus sy verhaal nie hier aan ‘n konkrete voorbeeld koppel nie, koppel Matteus en Lukas dit aan die uitdrywing van ‘n bose gees uit ‘n blinde en stom man.  Lukas noem net dat hy stom was.

Matteus noem die reaksie van Jesus se familie nie in hierdie konteks nie, Lukas ook nie.  Matteus koppel die negatiewe reaksie van die Fariseërs aan die uitspraak van die menigte dat Jesus miskien die Seun van Dawid (die verwagte Messias) kon wees.  Lukas weer voeg by dat ander Hom op die proef wou stel met ‘n versoek om ‘n wonderteken.

Matteus en Lukas brei verder uit op Jesus se opmerking dat die skrifgeleerdes en Fariseërs se mening nie sin maak nie, deur met ‘n retoriese vraag hulle te wys daarop dat hulle eie volgelinge ook nie die duiwel inspan om die duiwels uit te dryf nie.  Matteus koppel dan die uitdryf van duiwels aan die Heilige Gees en Lukas aan die vinger van God, en wys hoe dit tekens is van die koninkryk van God wat naby gekom het.

Matteus en Lukas vul Markus se verhaal ook aan met Jesus se uitspraak dat dié wat nie aan sy kant is nie, is téén Hom (Jesus gebruik die omgekeerde uitspraak in Markus 9:40: “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.” waar dit ook oor duiweluitdrywing gaan).

Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie
Volgens Markus 6:3 was sy broers se name: Jakobus, Joses, Judas en Simon.  Jesus het ook susters gehad, hoewel hulle name nie genoem word nie.  Aangesien sy vader, Josef, nie genoem word nie, word veronderstel dat hy reeds oorlede was.

Let op die kontras tussen hulle wat buite staan en dié wat binne rondom Jesus sit. En onthou dat sy familie gedink het Hy is van sy kop af (3:21).  Dit is eers later dat van sy broers, spesifiek sy broer Jakobus, deel van die binnekring geraak het en selfs ‘n leier in die kerk van Jerusalem geword het.

“Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship.  The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him.” (Guelich).

Let ook op hoe Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen.  Die band wat die nuwe familiekring saamvoeg, is die doen van die wil van God. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.

  • Vgl ook Markus 10:28–30 – Petrus se vraag of hulle ‘n beter lot as die ryk jongman kan verwag omdat hulle, anders as die jongman, alles verlaat het ter wille van die evangelie, lok by Jesus die reaksie uit dat dié wat dit doen, in hierdie lewe al reeds ‘n honderd keer meer ontvang, saam met vervolging, en in die bedeling wat kom die ewige lewe;
  • Ook Lukas 2:49–50 – Jesus as 12-jarige wat verbaas is dat sy ma nie weet dat Hy met Sy Vader se dinge besig moet wees nie;
  • En Matt. 10:34–36 en Lukas 12:51–53 – die evangelie het altyd die potensiaal om verdeeldheid te bring binne ‘n huisgesin, want Jesus dwing keuses af by mense.

Matteus en Lukas
Matteus identifiseer anders as Markus die mense wat rondom Jesus sit as die dissipels, terwyl Lukas die gedrang rondom Jesus die skuld gee vir die feit dat hulle nie inkom na Jesus toe nie.  Lukas verbind hoor en doen aan mekaar as kante van dieselfde munt.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 of Flam 62

Votum: Psalm 138:1-3

Seëngroet

Lofsang: Psalm 138 of VONKK 121 of Lied 220

Die Wil van God: Lied 250 of VONKK 57 of Flam 173

Skuldbelydenis

Genadeverkondiging: Lied 241 of VONKK 175 of Flam 5

Geloofsbelydenis: 2 Korintiërs 4:13-5:1

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 3:20-35

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 523 of Flam 79

Seën

Respons: Lied 180 of VONKK 59

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
Flam 62 “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede” (Saam Is Ons Beter)

Votum: Psalm 138:1-3
Of wys hierdie video van Psalm 138 as votum.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 138 of
VONKK 121 “Ek Wil U Loof Met My Hele Hart” (Psalm 138) of
Lied 220 “Met ons harte sing ons, Here”

Die Wil van God
Lied 250 “Gods wet va al ons liefde” of
VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod “of
Flam 173  “Dis Die Opdrag Van God”

Skuldbelydenis
Liturg: Here, ons bely dat ons dag na dag misluk om mense te wees soos U bedoel het ons dit moet wees.
Gemeente: Here, ons bely dit voor U.

L: Here, ons bely dat ons dikwels nie liefhet nie, omdat ons nie verstaan wat liefde is nie en omdat ons nie bereid is om onsself te offer nie.
Gemeente: Here, ons bely dit voor U.

L:  Here, ons sny onsself af van mekaar en ons bou mure van haat en jaloesie.
Gemeente:  Here, ons bely dit voor U.

L: Here, ons bely dat ons selfsugtig lewe en soms nie eens ander mense se nood raaksie nie.
Gemeente: Here, ons bely dit voor U.

L: Here, ons bely dat ons al stilgebly heet waar ons geweet het mense word onregverdig behandel.

L: Ons het niks om vir U aan te bied as versoening vir ons sondes nie.  Maar ons vlug in hierdie oomblikke na U toe, Jesus, na U wat in ons plek kom sterf het.
Gemeente:  Here, wees ons genadig! Amen.
(Uit:  2001.  Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle.  Wellington, Lux Verbi.BM.)

Genadeverkondiging
Lied 241 “Troue Here van my lewe” of
VONKK 175 “Net Soos Ek Is” of
Flam 5 “Daar Is Geen Grens”

Geloofsbelydenis: 2 Korintiërs 4:13-5:1

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love  Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration  (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

F173. “Dis Die Opdrag Van God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Kerk en Koninkryk; Getuienis; Wet) Teks en musiek: Willem Gouws © 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Dis die opdrag van God,
dis sy groot gebod
om jou naaste lief te hê soos jouself.
Hy gebruik vir jou en my
om sy koninkryk uit te brei
en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

Refrein:
Hy maak ons deel van sy liggaam,
Hy maak ons deel van sy kerk.
Hy leef in ons harte
en in Jesus se Naam staan ons sterk.

F62. “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Diens en Getuienis / Kerk)  Teks en musiek: Chardi Visser © 2009 MAR Gospel Music (Opgeneem op Uitverkoop)

Ons is hier vir ’n doel en om ’n rede,
om Christus deur ons elkeen te laat lewe,
om te hoor wat Hy sê en die wêreld te verander.

Refrein:
Saam is ons beter, saam is ons meer,
saam bou ons ’n toekoms met dit wat Christus leer.
Saam is ons vir altyd, saam is ons sterk,
saam is ons Sy liefde, saam is ons sy kerk.

Brug:
Saam is ons beter. (x4)
Saam is ons beter. (x2)

Refrein:

VONKK 59 “Ukuthula / Gee Ons Vrede”
Teks: Ukuthula – tradisioneel isiZulu; Vree, volle vree – Afrikaans in Halleluja 1931; nuwe weergawe: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: PAX TECUM – C Vincent 1921 Orrelbegeleiding: Tradisioneel Kantoryverwerking: Tradisioneel
© Afrikaanse teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © isiZulu teks en musiek: Openbare besit.
RUBRIEK: Multikultureel – Gebed

isiZulu
Voorsanger: Ukuthula (Vrede)
Gemeente: Ukuthula

Voorsanger: Ukuthula kulo mhlaba wezono
Gemeente: Kulo mhlaba wezono

Voorsanger: Aleluya
Gemeente/Voorsanger: igazi likaJesu linyenyez’. Ukuthula.

En verder:
2. Usindiso (Vryspraak)
3. Ukubonga  (Lofprysing)
4. Ukukholwa (Geloof)
5. Ukunqoba (Oorwinning)
6. Induduzo (Vertroosting)

Herhaal strofe 1 saggies

Afrikaans
Voorsanger: Gee ons vrede,
Gemeente: Vrede vir ons,

Voorsanger: uit genade ons gegee, aan ons gegee.
Gemeente: uit genade ons gegee.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar nou vrede deur die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Maak ons vry, Heer,
Gemeente: Vry, waarlik vry,

Voorganger: uit die mag van sonde vry, van sonde vry.
Gemeente: uit die mag van sonde vry.

Voorganger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar vergifnis deur die bloed van die Heer.

Voorsanger: Loof die Here!
Gemeente: Loof nou die Heer

Voorganger: al druk hartseer jou soms neer, druk dit jou neer;
Gemeente: al druk hartseer jou soms neer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Kom loof God vir genade deur die bloed van onse Heer!

Voorsanger: Met vertroue,
Gemeente: Glo in die Heer

Voorsanger: met geloof wat niks kan keer, wat niks kan keer.
Gemeente: met geloof wat niks kan keer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Bly glo net met vertroue in die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Met volharding,
Gemeente: Wees meer en meer

Voorsanger: ‘n oorwinnaar in die Heer, wees in die Heer.
Gemeente: ‘n oorwinnaar in die Heer.

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar oorwinning deur die bloed van onse Heer.

Voorsanger: Met vertroosting
Gemeente: Hy sal ons lei

Voorsanger: deur sy Gees wat in ons bly, wat in ons bly.

Gemeente: deur sy Gees wat in ons bly.
Voorsanger: Halleluja!

Gemeente/Voorsanger: Vir ons is daar vertroosting deur die bloed van onse Heer.

VONKK “57 Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35
Teks: A new commandment I give unto you  – Roy Crabtree; Afrikaanse teks:  Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree  Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo) Klavierbegeleiding: Andy Silver
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo) © Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking:  2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

VONKK 175 “Net Soos Ek Is “
Teks: Just as I am, without one plea – Charlotte Elliot 1836; Net soos ek is, geen hulp naby – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 ©
Musiek: BOSTON – Lowell Mason (1792-1872) Kantoryverwerking: Lowell Mason (1792-1872) © Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Tradisioneel – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Geloof en Vertroue

1. Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
o Lam van God, ek kom!

2. Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
o Lam van God, ek weet!

3. Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer.
Net U kan, Heer, my verlorenheid keer –
o Lam van God, ek kom!

4. Net soos ek is kom en nooi U vir my.
Al moes U ook soos ‘n moordenaar ly,
kom U vergewe en skeld U my vry –
o Lam van God, ek glo!

VONKK 121 “Ek Wil U Loof Met My Hele Hart  (Psalm 138)’
Psalm 138 Teks: Jacques Louw 2009 © Melodie: LOURENS – Jacques Louw 2009 © Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

1. Ek wil U loof met my hele hart,
laat al die gode dit hoor.
Ek roem u Naam en u liefdestrou;
dis tot u eer dat ek sing.
Al die konings van die aarde
sal U loof vir wat U doen;
want U is hoog verhewe, Heer.
U mag en krag is groot.

2. Al is U so verhewe, Heer,
gee U vir ned’riges om.
As nood en vyande my oorval,
strek U u hand uit oor my.
Aan die liefde van die Here
is daar nooit ‘n einde nie!
Die goeie werk van u hande, Heer,
sal U mos nooit laat vaar.

F79. “Ek Kies Vir U”
(RUBRIEK: Flammikidz – Toewyding) Teks en musiek: Iné Stander © 1999 Brettian Productions (Opgeneem op Kinder Gospel 2000)

Ek kies vir U, ek nooi U in my lewe in.
Ek kies vir U, my hele hartjie is U s’n.
Ek kies vir U
Jesus, kom woon hier in my hart.
Ek sê “Ja!”, ek vra “Kom!”
ek kies U.

Ek’s nou U kind,
want dis net hoe ek dit wil hê.
Ek’s nou U kind
want U het mos so gesê.
Ek’s nou U kind
Jesus, want U woon nou in my
ek’s U kind, U’s my Pa, ek kies U.

Ek kies vir Jesus
ek kies vir Jesus
ek kies vir Jesus
ek sê “Ja!”, ek vra “Kom”
ek kies U.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 3:20-35

Familie-oomblik

Carolyn Brown (worshippingwithchildren.blogspot.com) herinner ons dat kinders, wat afhanklik is van die volwassenes in hul families, moeilik Jesus se “verwerping” van sy biologiese familie gaan verstaan.  Fokus daarom daarop dat Jesus nie soseer sy biologiese familie verwep nie, maar eerder sê dat ons ingesluit is by God se familie.  Die kinders is dus deel van ‘n groot geloofsfamilie!

Bring ‘n foto van jou familie.  Beskryf die mense in die foto en doen moeite om te verduidelik hoe julle verwant is.  Vertel dan vir die kinders dat dit maar net een van jou families is.  Eintlik het jy ‘n baie groter familie – waarvan die kinders ook deel is.  Daardie familie se naam is die Kerk.  Verduidelik dat Jesus in vandag se teks sê almal wat God se wil doen, Sy familie is.  Daarom is ons mekaar se familie.  Ons is ook familie van alle ander Christene, regoor die wêreld!  Doen moeite om die kinders welkom en deel van die familie te laat voel.  Jy kan selfs van die geleentheid gebruik maak om van jul familielede voor te stel, of spesiale geleenthede soos verjaarsdae of herdenkings te vier.

Preekriglyn

Erik Larson se topverkoper boek, The Devil in the White City, speel af teen die agtergrond van die Wêreldskou in Chicago in die jaar 1893. Die boek vertel die ware verhaal van twee mans, die een ‘n voorbeeld van die goeie en die ander ‘n voorbeeld van die bose in mense.

Daniel Burnham, een van die grootste argitekte van sy tyd, was die dryfveer agter die Chicago Wêreldskou. Hy het dit laat groei tot ‘n fenomeen wat die VSA altyd verander het. In minder as twee jaar het Burnham die konstruksie van meer as 200 geboue langs die kus van die Michiganmeer bestuur. Die grootste van die uitstalgeboue, bekend as die Manufactures and Liberal Arts Building, was groot genoeg om die VSA se kongresgebou, die groot Piramide by Gisa, die Winchester-katedraal, Madison Square Garden (die groot binnenshuise arena in Manhattan) en die St Paul’s katedraal in Londen gelyktydig te huisves.

Die wêreldskou van 1893 het meer as 27.5 miljoen besoekers gehad in die tyd toe die VSA se bevolking sowat 65 miljoen beloop het.

Dr HH Holmes het ook bekendheid in hierdie dae verwerf, maar nie vir die skep van skoonheid en betekenis nie. In die jaar voor die wêreldskou het Holmes ‘n drieverdieping gebou, ‘n straatblok lank, opgerig. Die gebou het beskik oor ‘n klankdigte kluis, verskeie gaskamers, en ‘n spesiale soort vuurmaakplek wat reuke uitgeskakel het.

Holmes het sy gebou die Wêreldskou-Hotel genoem. Daarin het hy ten minste 27 mans, vroue en kinders vermoor. Wel, dit is die moorde wat hy later erken het. Ondersoekers glo die getal moorde was veel groter, aangesien ten minste 50 vroue, wat nooit weer gesien is nie, met Holmes se hotel verbind kon word.

Die argitek Burnham word onthou vir sy woorde: “Moet nooit klein plannetjie maak nie, want dit het nie die krag om mense te roer nie.” Holmes, daarenteen, het gesê: “Ek is gebore met die duiwel in my. Ek kon nie verhelp dat ek ‘n moordenaar is nie, net so min as wat die digter die inspirasie om te sing kan verhelp.”

The Devil in the White City beeld die menslike kondisie uit. Terwyl ons besig is om ons grootste drome en beste potensiaal te bereik, worstel ons met die boosheid wat welig floreer.

Ons leef in die spanningsveld tussen goed en kwaad. Soms kan goed en kwaad maklik onderskei word, soms gee dit ‘n worsteling en ‘n gevoel van onsekerheid af.

Spanning tussen goed en kwaad

In ons teks word daar met goed en kwaad geworstel. Jesus se familie hoor hoe die mense om hom saamdrom, en kom om Hom te haal. Hulle dink hy het van sy verstand af geraak. Van hierdie bediening van Jesus, dink hulle,  sal daar niks goeds kom nie. Die skrifgeleerdes is ook besorg oor Jesus. Hulle dink Jesus is van die owerste van die duiwels besete. Hulle skryf sy werk aan die Satan toe.

Intussen is Jesus besig om mense te leer, siekes te genees en mense in die greep van die bose te bevry.

Daar is spanning en drama in die teks. Dit het te doen met die pole van goed en kwaad, wat enersyds so ver van mekaar verwyder is, maar andersyds so maklik verwar kan word. Die spanning lê ook tussen Jesus, sy familie uit Nasaret, en die skrifgeleerdes.

Uit die manier hoe Jesus hierdie spanninge hanteer, word dit duidelik wat dit beteken om Hom te volg, en hoe dit die belangrikste verhouding in jou lewe word. Om Jesus te volg, beteken om opgeneem te word in ‘n nuwe sosiale kring, om deel te word van ‘n groot huis, onder ‘n nuwe Hoof van die kuis.

Die huis

Die hele gedeelte speel af by “die huis” (20). Dit is nie duidelik van watter huis hier sprake is nie, maar dit is waarskynlik ‘n huis in Kapernaum, moontlik die huis van Simon en Andreas (1:29). Die vorige toneel waar Jesus die twaalf apostels aanstel (3:13-19) speel af teen die berghange, terwyl die volgende toneel (hfst 4) langs die see van Galilea afspeel.

‘n Mens moet hier liefs dink aan ‘n gewone huis in ‘n kleinerige digbeboude dorp. Dis nie wat ons vandag ken as ‘n ruim voorstedelike huis, ‘n hut in ‘n tipiese Afrikadorpie of ‘n RDP-huis in ‘n township nie.

Die Griekse woord vir huis, oikia, kom in verskillende vorme vyf keer in die gedeelte voor, een keer in vers 20, twee keer in vers 25, twee keer in vers 27 en by implikasie ook een keer in vers 31, waar Jesus se moeder en broers buite die huis bly staan het. Hier kan ‘n mens gewoon dink aan die gebou, maar die huisgesin en die hele huishouding is duidelik ook op die spel. Elders in die Nuwe Testament (bv Ef 2:19-22) word dit ‘n beeld vir die hele huishouding van God, gebou deur die Heilige Gees, waarvan Christus self die hoeksteen is.

Terwyl Jesus se huismense na hom kom soek, en die skrifgeleerdes uit Jerusalem (waar die tempel, die huis van die Here staan) Jesus kom ondersoek, is Jesus in die huis besig om ‘n nuwe huishouding te skep. Hier is elkeen wat die wil van God doen ‘n lid van die huishouding van God (35).

Jesus se familie

Die teksgedeelte word omraam met verwysings na Jesus se familie (diegene naaste aan hom) wat vanuit Nasaret (ongeveer 30 km ver) gegaan het om Hom huis toe te bring. Hulle vertrek in vers 21 en kom aan by die huis waar Jesus was in vers 31.

Die vraag in hulle gemoed is dit: Waar is Jesus se eintlike huis? Hulle beweegredes word nie genoem nie, maar is maklik om te raai. Jesus was nodig in die familie se timmerbesigheid (Josef is waarskynlik reeds oorlede).

Jesus is daarenteen besig met ‘n oorspanne godsdienstige beweging wat hom só besig gehou het dat Hy Homself verwaarloos het (sodat hy nie eers tyd gekry het om te eet nie –21). Hy assosieer Homself met vreemde groepe. Boonop is dit duidelik dat sy bediening besig is Hom in konflik te bring met politieke en godsdienstige maghebbers. Daar is alreeds ‘n afvaardiging vanuit Jerusalem om die saak te ondersoek (22).

Die enigste afleiding wat Jesus se familie kon maak is dit: Hy is gek in sy kop en moet gehelp word ter wille van Homself en sy familie se eer. Hulle kom om Hom te haal, om Hom vas te vat. Die woord “gaan haal” kan selfs “arresteer” beteken. Op hierdie stadium kon Jesus se bloedfamilie nie sy bediening aanvaar nie. Ons lees later, in hoofstuk 6, dat die mense van Nasaret ook vir Jesus verwerp.

Jesus se nuwe huisgesin

Die onbegrip van Jesus se moeder en broers staan in kontras met die binnekring van Jesus se dissipels, sy nuwe huisgesin. Die vorige teksgedeelte (3:12-19) gaan immers oor die aanstelling van twaalf dissipels en die gedeelte word afgesluit met ‘n verwysing na die mense wat in ‘n kring om Jesus gesit het. Hulle word sy eintlike broers en ook susters genoem. Die rede word duidelik aangegee: om die wil van God te doen bring meer nabyheid as selfs familiebande.

Die binnekring rondom Jesus sluit uiteenlopende mense in sodat dit moeilik is om te glo dat hulle kon saamwerk. Daar is Jakobus en Johannes (seuns van die donder!), Matteus die tollenaar wat belasting vir die gehate Romeine gehef het en Simon die Seloot, ‘n godsdienstige groep wat juis probeer het om die Romeinse bewind omver te werp. Dan is daar ook Judas Iskariot (die man van Kariot of dalk die dolkdraer – wat hom saam met sluipmoordenaars sou groepeer) wat Jesus verraai, bes moontlik omdat Jesus se bediening nie by sy politieke agenda ingepas het nie.

Die skare wat saamdrom

Hierdie binnekring van dissipels word geplaas binne die konteks van ‘n groter buitekring, die menigte mense wat om die huis saamgedrom het. Die menigte omraam ook die gedeelte (20 en 32). Die aanloop hang saam met Jesus se genesingsbediening (3:1-12), terwyl daar ook ‘n menigte is wat in die volgende toneel by die see saamdrom waar Jesus vir hulle in gelykenisse oor die koninkryk van God geleer het (4:1).

Die samedromming van mense word hier geskets as mense met vele behoeftes aan genesing, rigting en ‘n bereidheid om te luister. Die volgelinge van Jesus sluit duidelik ‘n wyer kring van mense in. Hierdie inklusiwiteit het na Jesus se dood natuurlik veel verder begin strek sodat ook heidene ingesluit word by die huishouding van God.

Die skrifgeleerdes

Die teenpool van hierdie menigte (van naburige dorpe) is die afvaardiging van skrifgeleerdes uit Jerusalem. Hulle is waarskynlik deur die Joodse raad (Sanhedrin) afgevaardig om ondersoek in te stel na ‘n potensieel gevaarlike nuwe godsdienstige beweging wat die politieke stabiliteit in die land kon bedreig. Hulle moes veel verder reis om daar te kom (200 km). Die kommissie van ondersoek het vooraf reeds standpunt ingeneem: Hierdie Jesus is besig met bose werk.

Koninkryke

Daar is nog wyer kontekste waarin hierdie gedeelte afspeel. Nie net die huis in Kapernaum, die familie uit Nasaret, die skrifgeleerdes uit Jerusalem en die skare uit tallose omliggende dorpe en gehuggies is ter sprake nie. Hier gaan dit ook oor koninkryke: die koninkryk van God, en ryk van die Satan. Die koninkryk is inderdaad die nog wyer konteks waarbinne die gebeure by hierdie huis afspeel.

Die nabye koms van die koninkryk van God is natuurlik die tema van Jesus se prediking, alreeds ingelui in 1:15 en is ook die tema van die gelykenisse in hoofstuk 4. In hierdie gedeelte word die koninkryk figuurlik gebruik. As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan dit nie staande bly nie (24). Dit gaan hier oor die aanklag van die skrifgeleerdes dat Jesus self van die duiwel besete is en daarom duiwels kan uitdryf. Dit is teenstrydig en belaglik.

Dink ook aan die destydse politieke konteks. Herodes die Grote se koninkryk is tussen sy seuns verdeel. Hy het by grasie van Rome regeer en was nie self Joods nie. Na sy dood is Judea en Samaria direk deur ‘n Romeinse goewerneur bestuur (in daardie tyd Pilatus). Die skrifgeleerdes was afkomstig uit Judea en het die godsdienstige elite verteenwoordig wat baat gevind het uit die politieke kompromis met Rome. Hulle posisie was afhanklik van stabiliteit en hulle was daarom besorg oor enige moontlik gewelddadige opstand in Galilea. Galilea is die noordelike provinsie van Israel, waar Kapernaum geleë was en ons skare saamgedrom het.

Galilea was daarenteen onder die bestuur van Herodes se seun, Herodus Antipas. Hoewel hy as “koning” regeer het, het die Romeine hom slegs as “goewerneur” erken. Daar was sluimerende ontevredenheid onder die gewone mense in Judea en Samaria wat die hoop laat ontvlam het dat ‘n gesalfde koning (messias) na vore sal kom wat die Romeinse juk (ekonomiese belastings en godsdienstige kompromisse) sal afwerp. In Galilea was daar in 6 nC ‘n opstand onder Judas die Galileër en baie van die Selote was vandaar afkomstig – soveel so dat die woord “Galileër” rewolusionêre politieke konnotasies gehad het.

‘n Nuwe beweging van ‘n rondtrekkende prediker wat groot skares in Galilea lok en wat soms in afgesonderde gebiede saamtrek, sou ongetwyfeld messiaanse verwagtings ontlok het. Enige iemand wat homself as die vervulling van die hoop van Israel aanbied, wat praat oor die koninkryk van God en dit boonop in Galilea doen, het dit noodwendig binne ‘n gespanne rewolusionêre klimaat gedoen. Die gebeure wat by hierdie huis afspeel, het daarom verreikende en inderdaad landswye implikasies gehad. Geen wonder die skrifgeleerdes was hieroor besorg nie.

Spanning oor geeste en boosheid

Die konflik wat binne ons teks afspeel, gaan oor die onderskeiding van die geeste. Jesus kom mense te hulp wat van bose geeste besete was, maar word self daarvan beskuldig dat hy nie net van sy kop af geraak het nie (21), maar dat hy self ook van Beëlsebul besete was (22). Jesus word beskuldig dat Hy met ‘n onrein gees besete is (30).

  • Jesus verwerp hierdie aanklagte met twee argumente:
    Eerstens sou dit immers op onderlinge verdeeldheid tussen duiwels dui as Jesus duiwels uitdryf en self ook ‘n duiwel is (23-26).
  • Tweedens, dui Jesus se uitdryf van duiwels dat Hy in staat is om die duiwels vas te bind en van hulle kragte (en goedere) te beroof (27).

Die term “Beëlsebul” kan verstaan word as die “heer van die huis”. Die beeld van die “sterk man” sinspeel dan daarop. Die skrifgeleerdes wil Jesus met Beëlsebul verbind en so sy wonders as towenary afmaak. Jesus het egter daardie “heer van die huis” gebind en mense van sy mag bevry.

Dit is opvallend dat die skrifgeleerdes nie Jesus se mag om duiwels uit te dryf bevraagteken het nie. Hulle betwis slegs die bron van sy mag. Hulle skryf Jesus se mag aan bose geeste toe. Hy dryf bose geeste met die aanvoerder van die geeste uit.

Onderskeiding van die geeste

Vir Jesus is dit ‘n ernstige saak dat die skrifgeleerdes die werk van die Gees van God kan toeskryf aan bose geeste. Dit wys dat hulle nie tussen die geeste kan onderskei nie. Hulle kan nie sien wanneer boosheid aan die werk is, en wanneer dit God is nie. Om die werk van die Gees van God toe te skryf aan boosheid, is om te laster teen die Heilige Gees. Aangesien niemand in die koninkryk van God kan kom sonder om die getuienis van die Gees te aanvaar nie, kan daar vir sulke mense niks gedoen word nie. Hulle sonde bly tussen hulle en God staan.

Die punt is dat hierdie teks oor die regte onderskeiding gaan. Wanneer is God aan die werk, en hoe herken mens dit? Jesus se familie en die skrifgeleerdes kan nie vir God raaksien nie. Hulle dink Jesus het die kluts kwytgeraak, of Jesus werk met die krag van die bose. Om slegte dinge toe te dig aan die Heilige Gees beteken dat iemand nie eers die verskil tussen heil en onheil, siekte en gesondheid, Satan en die Heilige Gees kan raaksien nie. Of nog erger: dat die verskil tussen goed en kwaad aspris verdraai word sodat iemand kwaad praat oor dit wat goed is. Dan is daar tereg nie veel hoop vir daardie iemand nie.

Familie van God

Te midde van al hierdie spanningslyne, waarby bloedfamilie, skrifgeleerdes en ‘n gespanne politieke balans betrokke is, leer Jesus ons wie werklik familie van God is:

Hy het die mens aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Die ware familie van God is die mense wat aan Jesus se voete sit en by Hom leer wat die wil van God is, en dit dan doen. By Jesus leer mens wat waarheid is, en hoe jy God se wil reg doen. Jy leer reg onderskei tussen goed en kwaad. Jy leer watter dinge God gee, en watter nie.

Jesus beskryf dus sy familie in terme van hoe ons op Hom reageer, en nie in terme van genetiese afstamming nie. Sy natuurlike familie, wat Hom kom haal, verwerp eintlik sy bediening met hulle besorgdheid oor sy geestesgesondheid. Die skare aanvaar Jesus, soek sy teenwoordigheid op, versamel rondom Hom, luister na sy lering.

Mens toon dat jy Jesus aanvaar deur die wil van die Vader te doen. Egte kindskap het te doen met meer as net sosialisering met Jesus. Dit gaan oor die hoor van sy lering, en die doen van die wil van sy Vader. Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus se persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.

Toepassing

Soms is dit maklik om tussen goed en kwaad te onderskei. Die twee hoofkarakters in The Devil in the White City verpersoonlik duidelik goed en kwaad.

Dikwels is dit moeiliker om te onderskei. Jou eie belange kan die waarheid vertroebel.

Jesus se familie kan Hom nie kleinkry nie. Vir hulle is sy optrede, sy lering, sy aansprake en sy genesings, die streke van ‘n seun en ‘n broer wat nie sy verantwoordelikheid teenoor sy familie nakom nie. Die familie dink aan hul sakebelange en hul oorlewing, en word so daardeur vasgevang dat hulle Jesus nie ernstig kan opneem nie. Hy moet van sy kop af wees. Hulle kan nie God aan die werk in Hom herken nie, want hulle verwag God nie in Jesus se optrede nie.

Die skrifgeleerdes is gekondisioneer om God net op een manier aan die werk te sien. Hulle het die Hebreeuse Bybel en hulle ken die tempel met sy offerdiens. Hulle weet hoe God werk, of so dink hulle. Hulle beperkte blik op God, maak dat hulle nie oop is vir wat God in Jesus doen nie. Verder het hulle – net soos Jesus se familie – ook ander belange wat beteken hulle kan nie eintlik ‘n God bekostig wat doen wat Jesus sê God doen nie. Hulle leef in ‘n politieke kompromis met die Romeine wat in gedrang kom as hulle Jesus ernstig sou opneem.

Daar is baie dinge wat mens verblind en maak dat jy Jesus nie ernstig kan opneem nie. As Jesus werklik die Seun van God is wat God se wil openbaar:

  • Koester ons dalk wrokke, verbittering en vyandigheid waarvan ons afstand moet doen;
  • Beoefen ons sakepraktyke wat ons sal moet laat vaar;
  • Is ons familie in Christus van mense wat ons liewer sou wou vrees, wantrou en selfs haat;
  • Is mense wat Jesus radikaal volg, deur bv. ryk prys te gee en vryelik met ander te deel nie so koekoes as wat ons graag glo hulle is nie;
  • Moet ek en my gemeente voortdurend selfondersoek doen in die lig van die Woord van God en my / ons skuld en sonde bely;
  • Is die kerk nie die plek waar ons in beheer is en waar ons ons ideale laat geld nie;
  • Is ons taak om die bose by die naam te noem en met boosheid te breek;
  • Is ons God se gestuurdes na die wêreld wat ‘n boodskap en ‘n lewenswyse het wat vir ander vreemd sal wees, en waarvan ander sal sê dat ons van ons koppe af geraak het.
Kleiner en groter verbande

Die kernvraag is wat is waar en wat is vals, wat is reg en wat is verkeerd. Hierdie vrae raak nie net ons persoonlike lewens en ons gemeente se lewe nie.

Daar is ook in die groter verbande waarin ons lewe baie wat verkeerd, boos en vals is. Dink maar net aan die omgewing, waar dit vandag ook Omgewingsondag is.

Die Griekse woord oikos, huis, is ook die woord wat agter moderne woorde soos ekonomie, ekologie en ekumene sit. Op die ou end woon ons almal saam in een huis, die aarde, en deel ons in die beskikbare hulpbronne van ons planeet. Ons het ekonomiese sisteme wat diegene wat het bevoordeel bo diegene wat nie het nie. Sommige gebruik buite verhouding baie van die aarde se hulpbronne, terwyl ander krepeer.

Implikasies

In hierdie groter verbande is allerhande vorme van boosheid wat mense en trouens hele samelewings gevange hou.

Daar is byvoorbeeld talle slaggate verbonde aan endemiese armoede. Dink aan bendes en hulle tirannie, die misbruik van alkohol en die gebruik van dwelms, winsbejag met kleinskaalse lenings, die oorbestee van beperkte fondse, dobbelary, prostitusie en besoeke aan prostitute.

Dink ook aan die soort praktyke wat in Galasiërs 5 genoem word: onsedelikheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, dronkenskap, rusies en haat, en; die ondeugde wat daarmee saamgaan: onreinheid, verdeeldheid, naywer, woede, uitspattigheid ensovoorts. Dit is die vrugte van ‘n bose gees waarteenoor die vrugte van die Heilige Gees veel meer aantreklik is. In die korporatiewe wêreld mag ander dink aan bedenklike transaksies, onregmatige winsbejag, verdraaiing van inligting, korrupsie en onderduimsheid.

Dit is nie moeilik om nog veel meer ondeugde en wanpraktyke te noem nie! Die koerante is elke dag daarvan vol. Dit is egter veel moeiliker om só ‘n situasie om te keer as dit eers wydverspreid posgevat het. As almal met verbale en fisieke geweld funksioneer, is dit moeilik om self daarvan te ontkom. Hoe werk ‘n mens korrupsie in die samelewing teen? En ‘n uitspattige verbruikersmentaliteit? En jaloesie? En geldgierigheid? Hoe beskerm ‘n mens jou kinders daarteen? Hoe word jy self daarvan bevry as dit in jou gedagtes, taalgebruik, gewoontes en houdings ingekruip het?

Dit is selfs nog moeiliker om gevaarlike ideologieë raak te sien en teen te gaan. As ‘n gees van rassisme, elitisme of seksisme byvoorbeeld eers posgevat het, word dit moeilik omgekeer. As korrupsie ‘n hele organisasie deursuur het, kan dit nie so maklik uitgeroei word nie.

Dit is nie moeilik om hierdie lyn verder deur te trek na omgewingsprobleme toe nie. Enkele voorbeelde kan dit illustreer: As almal rommel strooi help dit nie veel om anders te probeer leef nie. As die koolstofvoetspoor wêreldwyd oënskynlik onvermydelik groter raak, kan dit moeilik omgekeer word. As perlemoen kaal gestroop word, wat maak dit saak om self ook te vat wat jy kan kry? As dit nie meer raakgesien word nie en die kwaad nie van die goeie onderskei kan word nie, dan is ons regtig in die moeilikheid. Hierdie soort voorbeelde kan maklik aangevul word vanuit ‘n bepaalde plaaslike konteks.

Hierdie soort bose geeste, so sou ‘n mens kon sê, affekteer die hele huishouding van God. Die vraag wat by hierdie spesifieke huis in Markus 3 opgeroep word, is hoe die bose geeste wat hierdie groter huishouding mag affekteer raakgesien kan word.

Om deur Jesus vernuwe te word

Dit is nie altyd so maklik om Jesus se lering na te volg nie. Wat leer Jesus ons oor geregtigheid en medemenslikheid, oor verantwoordelike lewe in die oikos van God? Kan ons God aan die werk sien as Jesus op ‘n radikale manier met ons oor liefde, sorg, geregtigheid en diens praat.

Of sal ons hierdie leringe aan dwaasheid en onkunde, aan bose motiewe toeskryf?

Die kuns is om ons wêreld ook te sien as ‘n plek waar boosheid lewe. ‘n Plek waar Jesus voortgaan om mense deur sy Woord en Gees te leer om reg te lewe. ‘n Plek waar Jesus die bose uitdryf, duiwelse sisteme tot ‘n val bring, en genesing vir almal bring.

Die kuns is om Jesus se stem te hoor, en jou lewe te gee vir die doen van die wil van die Vader. So neem ons deel aan die bevryding van die bose wat Jesus bring. Ons help die sterk man bind.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 523 “Goddelike liefdebande” of
Flam 79 “Ek Kies Vir U”

Seën

Respons
Lied 180 “Eer aan die Vader en die Seun” of
VONKK 59 “Ukuthula / Gee Ons Vrede”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.