Tweede Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie liturgiese voorstel is gerig op die grense wat Jesus oorsteek in die genesing van die offisier se slaaf. Dit gee ook aandag aan die mag van God wat in al die tekste van die dag aan die orde kom.

Ander tekste

1 Konings 18:20-21, (22-29), 30-39
20Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.

21Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”

Die volk het hom nie ’n woord geantwoord nie.

22Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. 23Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. 24Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”

Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

25Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies ’n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”

26Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”

Daar was nie ’n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

27Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

28Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. 29Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

30Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.

Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

31Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” 32Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en ’n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.

33Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.

34Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.”

Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog ’n keer gedoen.

Toe sê hy: “Doen dit ’n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.

35Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.

36Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. 37Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

38Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

39Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

Psalm 96
Die Here kom om oor die aarde te heers
96 Sing ’n nuwe lied tot eer van die
Here,
sing tot eer van die Here,
almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here,
prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here
wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe,
bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom,
almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies:
“Die Here regeer;
die wêreld staan vas, dit wankel nie;
die Here sal die volke
regverdig oordeel.”
11Die hemele moet bly wees
en die aarde moet juig,
die see en alles daarin moet druis,
12die veld en alles daarop moet jubel,
al die bome in die bos
moet hulle verheug
13voor die Here, want Hy kom,
Hy kom om oor die aarde te heers.
y sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Galasiërs 1:1-12
1 Van Paulus, ’n apostel, en van al die broers wat by my is.
Dat ék ’n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.
Aan die gemeentes in Galasië.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Daar is geen ander evangelie nie
6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: as iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het—die vloek van God sal hom tref!

10Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

Hoe Paulus ’n apostel geword het
11Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ’n mens uitgedink nie. 12Ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of by ’n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee.

Fokusteks

Lukas 7:1-10
Die genesing van die offisier se slaaf
(Matt 8:5–13; vgl Joh 4:43–54)
7 Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan.

2’n Offisier daar het ’n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. 3Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe ’n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. 4Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, 5want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.”

6Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier ’n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf is gesond. 8Ek is self ’n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ’n groot geloof teëgekom nie.”

10En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.

Ekstra stof

Lukas 4:15-9:50 fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 7:1-50 – Jesus het gelowiges en twyfelaars lief
Dit is ’n baie belangrike gedeelte hierdie.  Aan die een kant laat die groot geloof van die offisier Jesus verwonderd.  Aan die ander kant, vermoed ‘n mens, laat die twyfel van Johannes die Doper, die grootste aardse mens tot op daardie stadium (7:28), ons verwonderd.  Maar, natuurlik, nie vir Jesus nie.  Want Hy toon deernis met Johannes se twyfel, en kom op ’n ongelooflike kragtige manier vir hom op.  Soos Johannes vir Jesus ’n Voorloper was, so raak Jesus vir Johannes die Verlosser, die Een wat instaan en help en omgee.

Dít is wat ‘n mens van Jesus so fassineer – Hy laat Hom net deur niks afsit nie, nie eers deur die twyfel van een van die “groot seuns” van Sy tyd nie.  En dit laat ‘n mens net weer besef, dít is die Een wat ons aanbid; dít is die Een wat vir ons intree (Hebr 9:24); dít is die Een wat alles ten goede laat meewerk (Rom 8:28); dít is die Een wat die Begin en Voleinder is van ons geloof (Hebr 12:2).

Let ook op hoe die erns van die siektes van die mense wat Jesus gesond maak toeneem – die slaaf lê op sterwe. Met die weduwee van Nain wek Jesus dan ook die eerste keer iemand uit die dood uit op.   Wat vir ons sê: Jesus word nie van stryk gebring deur uitdagings nie – Hy is God.

’n Paar kort opmerkings oor die perikope:
7:1-10
Die geloof van die offisier tref ‘n mens. Hy was waarskynlik een van die godvresende heidene wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het.  Jesus se genesing van ‘n afstand af, wys dat Hy inderdaad God is, wat nie aan plek of tyd gebonde is om sy werk te doen nie, soos trouens die opwekking uit die dood ook wys.

7:11-17
Die opwekking van die weduwee se seun, behalwe dat hy dus as broodwinner vir haar sou kon sorg, sou die ingeligte Jode waarskynlik ook kon laat terugdink het aan Elisa wat daar naby – by Sunem (2 Kon. 4:18) – ’n vrou se kind uit die dood opgewek het.

7:18-35
Die twyfel van Johannes tref ‘n mens besonderlik. Dit is juis ná die opwekking van die jong seun dat hy sy kommer uitspreek of Jesus regtig die Een is wat moes kom.  ‘n Mens hoor daarin dat hy eintlik vra of sy eie bediening – as Voorloper van die Verlosser – aan die verwagtinge voldoen het.

7:36-50
Die verhaal van die sondige vrou wat in Simon, die Fariseër, se huis haar liefde vir Jesus demonstreer, wys nie net die kontrasterende reaksies op Jesus nie, maar ook Sy Goddelike vermoë om sondes te vergewe.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 163 of VONKK 29 of VONKK 77

Votum: Psalm 96

Seëngroet: (Galasiërs 1:2-5)

Lofsang: Psalm 96 of VONKK 4 of F188 of F210

Oproep: Galasiërs 1:11-23

Tyd vir stil refleksie.

Toewyding: Lied 493 of Lied 489 of VONKK 136 bFlam 7

Genadeverkondiging: (Galasiërs 1:3-5)

Geloofsbelydenis: Lied 491

HOOR

Gebed: Lied 498 of Flam 96

Skriflesing: Lukas 7:1-10

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang :Lied 505 of Lied 514 of Vonkk 104 of  Flam 72

Seën

Respons: Lied 514 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 163 S”oos ‘n wildsbok” of
VONKK 29 Sing Voor God ‘n Nuwe Lied [Taizé nav Ps 96:1] of
VONKK 77  Bring my die ou-ou tyding [halleluja-lied]

Votum: Psalm 96

Seëngroet
Aan die gemeentes in —
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen. (Galasiërs 1:2-5)

Lofsang
Psalm 96 of
VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam (Psalm 96) [bekende melodie] of
F188 Here U Is Daar (Halleluja)  of
F210. Erken nou die Heer [nav Ps 96]

Oproep
Galasiërs 1:11-23
Paulus kla dat die Galasiërs afvallig geword het.  Hy verduidelik dan die evangelie deur sy eie verhaal van bekering te vertel.

Dink na oor jou eie lewe – oor hoe jy God ontmoet het, tye wat God jou op ‘n nuwe pad gesit het, tye van bekering.  Waar staan jy nou met God?

Tyd vir stil refleksie.

Toewyding
Lied 493 “Jesus neem die sondaars aan” of
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof” of
VONKK 136 O Here, My God, Ek Verlang Na U  of
Flam 7 Here, Ek Vergeet So Gou

Genadeverkondiging
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. (Galasiërs 1:3-5)

Geloofsbelydenis
Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag”

Liedere

F210. “Erken nou die Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Erken Nu De Heer Teks en musiek: Frank van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht© Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa  (Ps 29, 96)

1. Erken nou die Heer volke van die aarde,
erken nou sy Majesteit.
Kniel voor Hom neer want Hy is waardig
vol mag en heerlikheid.

Brug:
Hoor sy stem bo-oor die water en
hoor die donder, weerlig soos vuur.
Ontsagwekkend is sy magtige stem,
luister goed hierdie heilig’ uur.

Refrein:
Alle lof nou aan die ewige Heer,
alle heerlikheid en eer.
Kom verhoog sy Naam
en buig voor Hom neer.
Hy is Koning vir altyd.

2. Verhef dan jul stem, volk van die Here.
Verheug jul en juig voor Hom.
Sy Gees gee jul krag.
Hy seën met vrede
nuwe lewe is in Hom.

F188. “Here U Is Daar (Halleluja) “
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Renthia Brits © Flam Musiek-Uitgewers
Here, U is daar
as ek u Naam aanroep – Jesus.
Waardig is u Naam. Nasies sing dit saam – Jesus.
U wat was en U wat is
oorwinnaar van die duisternis.
Hoor my loflied wat ek vir U sing.

Refrein:
Halleluja! Halleluja! Lof en ere kom U toe,
want U is waardig, God almagtig.
U liefde ken geen perke.
Halleluja! Halleluja!
Heilig is die Lam.

Brug:
Halleluja! Halleluja! U is heilig, U is heilig. (x2)

F96. “Op U Wil, Here Jesus “
(RUBRIEK: Kersflam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Johan van Dijk © 2010 Flam Musiek-Uitgewers

Op u wil, Here Jesus
wil ek bou, met my hele hart vertrou.

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis) Teks en musiek: Louis Brittz © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan.
Ons glo in U liefde soos ’n oseaan.
Ons glo in genade soos die see.
’n Stroom van vergifnis sleur ons mee
en ons bely.

Ons glo dat die Herder sy kudde lei.
Ons glo dat die Leidsman die weg berei.
Alwys alwetend onsienlik Heer.
Onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

Ons glo daar’s ’n more na die donker nag.
Ons glo aan ’n bruilof wat die bruid inwag.
Ons glo in vervulling van die Woord.
In Christus oorwinnaar oor die dood
en ons bely.

Ons sing omdat ons glo,
aanbid omdat ons glo,
bely dit dat ons glo,
ons loof U want ons glo.

Alwys alwetend onsienlik Heer,
onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy  Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik © 2000 Integrity’s Hosanna Music (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

Vonkk 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph  Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903; Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Musiek: CONVERSE – Charles Crozat  Converse 1832-1918
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

2. As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –
Hy wat van ons swaarkry weet.
Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

3. As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

VONKK 136 “O Here, My God, Ek Verlang Na U”
Nav Psalm 63:2 Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: DORSLAND – Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Die Wil van God / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Geloof en Vertroue

O Here, my God, ek verlang na U.
Ek sug, ek soek na U.
Soos stofdroë aarde verlang na die reën,
so dors ek ook na U.

VONKK 77  “Bring my die ou-ou tyding”
Teks: Tell me the old, old story – Arabella Catherine Hankey 1834-1911; GBA Gerdener, Halleluja 1931;  Jacques   Louw 2009 ©
Melodie: TELL ME – WH Doane 1832 – 1915 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin-Bybel-Media)  Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers © Musiek: openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping/Voorbereiding om God se Woord te hoor

1. Bring my die ou-ou tyding,
van God se Woord vir my.
Vertel my van sy liefde
wat sondaars kom bevry.
In sy groot genade
het God sy Seun gestuur.
Vir my het Hy kom sterwe,
Die smart en pyn verduur.

Refrein:
Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

2. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe die Seun van God
die dood oorwin vir my.
Bring my die goeie tyding,
die evangeliewoord:
Dat Jesus opgestaan het
en lewe bring uit dood.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

3. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe ek deur te glo,
verlossing kan verkry.
Bring my die blye boodskap
dat Jesus weer sal kom.
Hy gee vir ewig lewe
aan dié wat glo in Hom.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

VONKK 29 “Sing Voor God ‘n Nuwe Lied”
Psalm 96:1 Teks : Singt dem Herrn  – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik. (Engels, Afrikaanse teks in hierdie vertaling en musiek)
© 2008 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Klassiek/Meditatief – Lofprysing

Sing voor God ‘n nuwe lied.
Loof Hom tot in ewigheid.
Loof Hom tot in ewigheid.
Halleluja!

Sing to God with joyful hearts.
Praise the Lord for ever more.
Praise the Lord for ever more.
Alleluia.
* Om praktiese redes kan hierdie lied in ‘n laer toonsoort gesing word.

VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam  (Psalm 96)”
Psalm 96.  Teks: Suid-Afrika, o land so skoon en vry – Andries Wasserman, gewysig GG Cillié 1979; nuwe teks Jacques Louw 2003 ©
Melodie: GOD OF OUR FATHERS – George W Warren, 1892 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit RUBRIEK:   Klassiek –Lofprysing

1. Sing vir die Heer ‘n nuwe lied tesaam.
Sing tot sy eer en prys die Heer se Naam.
Volke getuig, verkondig sy gesag.
Kom en vertel aan nasies van sy mag.

2. Groot is die Heer – bo alle gode groot!
Aan Hom die lof – Hy red ons uit die nood.
Luister en glans omstraal sy majesteit.
Hy is die Heer – ons God in ewigheid!

3. Kom, volke, prys die Heer se eer en mag.
Buig voor Hom neer uit eerbied vir sy krag.
Juig, aarde, juig tot eer van God die Heer.
Juig en wees bly: Die Here God regeer!

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 498 “Hy wat glo, word nie beskaam nie” of
Flam 96 Op U Wil, Here Jesus

Skriflesing: Lukas 7:1-10

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Lees die Bybelverhaal dramaties met behulp van hierdie agtergrond en papierpoppe.  Gesels oor die offisier se geloof.  Verduidelik dat geloof soos vertroue is.  Illustreer vertroue deur bv. ‘n kind in iemand se arms te laat spring, met die vertroue dat die persoon die kind sal vang.

Kyk hier vir ‘n klomp opsies van pragtige inkleurprente, aktiwiteite en papierpop vorms.  Uit hierdie opsies is veral hierdie inkleurprent en hierdie aktiwiteit wat die offisier se soektog en geloof simboliseer, oulik.

Preekriglyn

James Christenson, ‘n predikant van Wisconsin in die VSA vertel hoe hulle as gesin die genesende krag van God beleef het:

James se seun Nathan was in ‘n byna noodlottige motorongeluk toe hy ‘n bok op die oop pad probeer mis het. Hy is in die hospitaal opgeneem met ‘n gebreekte been, skade aan sy rugmurg, oop wonde en ‘n long wat platgeval het. Om hom te stabiliseer het dokters hom in ‘n kunsmatige koma geplaas.

Nadat die geïnduseerde koma na vier dae beëindig is, het Nathan steeds diep bewusteloos gebly. James onthou hoe hy langs Nathan se bed gesit en bid het. Hy het ook uit die Bybel voorgelees, en die woorde wat Jesus vir Lasarus gesê het, bly herhaal: “Kom uit! Jy moet veg, jy moet wakker word!”

Die volgende oggend het Nathan uit die koma gekom. Die familie was jubelend.

Die skade aan sy rugmurg was ‘n groot bron van kommer. Nathan het ‘n fraktuur in sy nek gehad. Dieselfde werwels as die wat Christopher Reeve jare gelede verlam het, was beskadig. Nathan moes ‘n nekstut dra om te verseker die werwels beweeg nie verder uitmekaar nie. Hy het die groot risiko geloop om deels of ten volle verlam te raak.

Twee weke lank het die familie bly bid om genesing. Nathan self ook. Een aand, net voordat hy aan die slaap rak, het hy ‘n klapgeluid in sy nek gehoor. Die volgende oggend was hy geskeduleer vir skanderings om vas te stel of die gebreekte werwels besig is om verder uit mekaar te beweeg, en of daar ‘n moontlikheid van herstel is. Die toets toon toe aan dat die werwels volkome herstel het. Die breuke het volkome genees.

Drie maande later het dokters weer toestemming gegee dat Nathan aan sport kon deelneem.

James weet nie alle mense word genees nie, en dat God krag gee na kruis. Daar is nie kitsresepte vir genesing nie. James weet ook hoe mens in so ‘n situasie worstel. Jy kan skaars glo. Van ‘n groot geloof in die aangesig van soveel vrees is daar min sprake. Maar James en sy familie ken ook die Here, en sy groot gesag. Hy het nie net in die Bybelse tye genees nie. Hy kan weer en meer.

Ryk aan inhoud

Ons teks is ongelooflik ryk aan inhoud. Ons lees van ‘n offisier se slaaf wat genees is. Dit word eintlik amper toevallig vermeld. Die eintlik klem van ons teks is op Jesus en sy groot gesag. Dit wil ons help verstaan wat ‘n “groot geloof” in Jesus se oë is. Dit leer ons wie Jesus regtig is, en hoe Hy mense hanteer. Wie is Hy en wat doen Hy?

Steek grense oor

Jesus steek grense herhaaldelik en doelbewus oor. Die hele Lukas-evangelie beklemtoon veral die inklusiewe aard van God se redding vir die wêreld deur Jesus Christus. Dit is ook duidelik deur die veelvuldige oorsteek van grense en karakterisering in hierdie verhaal:

  • ’n nie-Joodse offisier wie se geloof groter as enigiemand in Israel s’n is;
  • die genesing van ’n slaaf (eerder as ’n seun, soos in Matteus);
  • die goeie verhoudinge tussen ’n nie-Joodse leier en Joodse leiers, en; d
  • ie erkenning van Jesus as Here en Gesaghebbende deur ’n nie-Joodse persoon, sonder dat Hy hom ooit tevore in lewende lywe gehoor of gesien het.

Hoe desperaat het ons as hedendaagse hoorders van die verhaal nie ook nodig om sulke motiverings om grense oor te steek te hoor nie! Die oorskryding van grense was van meet af aan deel van Jesus se boodskap aan mense – veral teenoor die binnekring, hulle wat reeds bekend was met die aankondiging van ’n Messias. Tog is dit sekerlik een van die kenmerke wat die Christelike kerk deur die eeue heen die moeilikste uitleef.

Ons val in die binnekring, die in-groep vas. Ons moet konstant en aanhoudend aangemoedig word: gee jou eie gemak, voorkeure, vooropgestelde idees prys en gooi die deure van die huis van die Here in al haar gestaltes so wyd oop as moontlik. Meer nog, moenie bloot “Almal is welkom”-bordjies op die kerkgebou se mure aanbring en die deure laat oopstaan nie; gaan uit in die strate, bou verhoudings en nooi mense op respekvolle wyse nader. Meer nog, gaan wees kerk in ander ruimtes as in kerkgeboue. Dink wyer as die ontmoeting tydens Sondag se erediens en wees bereid om verras te word deur God se teenwoordigheid oral en in almal.

Die eiesoortige gesag van Jesus

Ons teks erken die andersoortige gesag van Jesus, in teenstelling met die gesag van wêreldse gesaghebbendes. Die andersoortige gesag van Jesus trek ’n streep deur menslike gesag. Dit sien regdeur die brose strukture en sisteme wat ons opbou en waarbinne ons sogenaamd veilig voel, en rig ’n uitdaging: “Wie is in beheer, Ek of jy?” Dié vraag kom soms op verrassende wyses tot ons.

Die eerste afvaardiging van Joodse leiers is mense van gesag; persone met aansien in hulle gemeenskap en belangrike rolle in en om die sinagoge – derhalwe in die godsdiensbeoefening van “hulle mense”. Hulle word waarskynlik gerespekteer in die kringe waarin hulle beweeg. Hulle wil graag hierdie status en gesag behou – dit is immers hul identiteit wat op die spel is – en stem daarom gretig in om die offisier se boodskappers te wees.

Hoekom hierdie gretigheid? Hulle wil hom graag gelukkig hou, sodat hy hulle aanhou goedgesind mag wees; ja, ter wille van hulle gemeenskap en godsdiens, maar dalk veel eerder ter wille van die aansien wat dit hulle sal aanhou verseker. ’n Stuk selfsugtige gretigheid, ter wille van die behoud van hulle eie gesag, word hier gedemonstreer.

Tog word hierdie Joodse leiers se selfsugtige blindekolle verklap, juis in die versoek wat hulle aan Jesus rig: hulle nooi Hom na die offisier se huis om daar die genesing te kom uitvoer. Dit terwyl hulle, meer as enigiemand anders, vertroud was met die reinigingswette en die grense tussen Jood en nie-Jood!

Ons eie agendas

Nêrens in die verhaal is ongemak of verset teen die offisier se versoek te bespeur nie. Nee, dit is eerder die offisier self – ’n nie-Jood – wat Jesus wegwys as gevolg van sy kennis van die reinigingswette. Die Joodse leiers staar hulle blind teen die goeie dade van die offisier ter wille van hulle eie agenda en vergeet ten diepste in die proses wie hulle self is en wie die God is wat hulle dien.

Die Jode is bereid om hulle eie wette op te offer ter wille van die voordeel wat dit vir hulle mag inhou. Maar daarmee profeteer hulle eintlik wie Jesus is, en dat Hom hou nie deur menslike grense laat keer nie.

Hoe maklik kan ons eie agendas, begeertes en behoeftes nie die gesaghebbende mag in ons lewe word nie? Ons probeer onsself flous dat ons met edele motiewe besig is met die “regte” dinge, maar eintlik is dit vir eie gewin. Ons wil ons eie aansien beskerm, ’n front voorhou – nie net teenoor ander nie, maar ook dikwels teenoor onsself. Ons eie blindekolle en selfsug word op onverwagse momente ontbloot en bring ons voor ’n keuse: gaan ek aanhou blind wees, of gaan ek myself opnuut toewy aan die Here wat Heerser oor my lewe is?

Saam hiermee die verrassende, naamlik dat die offisier, ten spyte van sy gesag en rang in die weermag, nie een oor wie hy gesag het (menslik gesproke) kan genees nie. Menslike gesag het grense en strek net sover. Buite die konteks van die meester-slaaf verhouding, dra die gesag wat hierdie offisier voer geen gewig nie. Die beperktheid van menslike gesag teenoor Jesus se gesag is so duidelik soos daglig. Jesus se gesag ontmasker en stroop menslike gesag. Selfs al is dié gesag hoe “mooi” verpak, is daar nie in die koninkryk van God meer as een heerser nie: dit is of ek, of Jesus, die Here.

‘n Groot geloof is ‘n leë geloof

Baie mense kom diep onder die indruk van die “groot geloof” van die offisier, naamlik, dat hierdie offisier ’n voorbeeld van sterk, gewortelde, ingemesselde geloof is. ’n Geloof wat sonder enige twyfel kon vashou aan die versekerde genesing van die slaaf.

So ’n interpretasie sien geloof as iets wat ons self moet opwek. Ons moet onsself “opwerk” tot ‘n “sterk geloof” (“just stand firm in faith”), . Boekwinkels se rakke staan vol materiaal wat ons probeer oortuig dat ons met die regte stappe, gebede, woorde, gewoontes, handelinge, uitsprake, onsself kan verander in geloofsreuse. Godsdienstige programme hou aan ons kitsresepte voor waarmee ons enige en alle twyfel in onsself of God kan uitvee. Pleidooie word oraloor opgerig dat geloofsleiers en die Christelike geloof tog net weer moet vasstaan, vasvat, oortuigend en versekerd dink, praat en doen.

Ons teks teken geloof anders. Hierdie offisier het juis nie “groot” geloof gehad het nie, maar ’n “leë” geloof? ’n Gestrooptheid, ontvanklikheid, ’n laaste opsie, ’n desperate poging nadat alles anders misluk het? Dalk het die offisier by homself gedink: “Ag wat, wat het ek nou eintlik om te verloor? Ek het alles van my kant af probeer, ek kan net sowel sien of dié Jesus regtig so magtig is as wat daar aan my vertel is.”

Moontlik is Jesus se belydenis oor die offisier se geloof juis dat dit hierdie soort geloof is – ’n geloof waar niks van die self meer sigbaar is nie, maar slegs Jesus as opsie oorbly. Geloof wat nie verdien is of aanspraak maak op gesag en rang en posisie nie, maar wat kaal en leeg staan. Is dit nie tog die tipe reaksie waarop God van sy kinders wag nie? ’n Desperate afhanklikheid, waar ons wankelend, hinkend, kruipend aan die voete van Jesus sit. Daardie momente waar ons besef dat ons eie pogings ons teen mure laat vasloop. Wanneer ons bereid is om te erken dat ons op geen manier God se guns teenoor ons kan verdien nie, maar dit slegs kan ontvang en daarop kan vertrou?

Dit is van hierdie soort geloof dat James Christenson getuig.

Koninkrykstyd

So aan die begin van die Koninkrykstyd word ons uitgenooi om te erken en te bely: Jesus is die Heerser van hierdie werklikheid waarbinne ons onsself bevind. Hy is die Een wat inisiatief neem, wat uitreik, wat voorberei, wat gereed maak.

Ons rol in hierdie verhaal is om in gestroopte afhanklikheid, met ons volle gewig, in die skoot van sy liefde te val. Toe te laat dat Hy ons aanraak met sy woorde en daardeur ook genesing vir ons en almal rondom ons – vriend, vreemdeling en vyand – bewerk. Oor alle grense heen.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 505 “Jesus, U gaan voor” of
Lied 514 “Ek weet vir seker” of
Vonkk 104 Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus [ou Halleluja lied] of
F72. Ons Glo!

Seën

Respons: Lied 514 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.