Tweede Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die sentrale metafoor vir hierdie Sondag is ‘n pad. Dit kan op verskeie maniere visueel voorgestel word.
Johannes maak die pad vir die Here gereed.
Sagaria sing daarvan in sy lied, Maleagi belowe God stuur iemand wat die pad gereed maak.
Die Filippenseteks is die enigste een wat nie direk na ‘n pad verwys nie. Op ‘n indirekte wyse gaan dit egter oor die gelowige se pad van heiligmaking.

Ander tekste

Maleagi 3:1-4
3 Ek gaan nou my boodskapper stuur,
Hy sal die pad voor My uit regmaak,
en dan sal die Here na wie julle soek,
skielik na sy tempel toe kom.
Ja, die Verbondsengel na wie julle
met soveel vreugde uitsien,
gaan nou kom, sê die Here
die Almagtige.
2Maar wie kan die koms van dié Engel
verdra,
wie kan standhou wanneer Hy verskyn?
Hy is soos die vuur van die smelters
en soos die seep van die wassers.
3Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit
om die Leviete te suiwer,
om hulle te louter soos goud en silwer,
sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring
wat bestaan uit regdoen.
4Dan sal die offer van Juda en Jerusalem
weer aanneemlik wees vir die Here
soos in die ou tyd,
soos in jare lank verby.

Lukas 1:68-79
Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Filippense 1:3-11
Danksegging en gebed vir die gemeente
3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê.. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Fokusteks

Lukas 3:1-6
Die prediking van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3 Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.
2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”
7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”
13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”
Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus
(Matt 3:13–17; Mark 1:9–11)
21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Die geslagsregister van Jesus
(Matt 1:1–17)
23Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli, 24seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef, 25seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai, 26seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda, 27seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri, 28seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er, 29seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi, 30seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim, 31seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid, 32seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson, 33seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda, 34seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor, 35seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala, 36seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg, 37seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan, 38seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.

Ekstra stof

Lukas 3:1-38 – Jesus is familie van alle mense
Hierdie gedeelte handel oor 1) die prediking van Johannes die Doper, 2) die doop van Jesus en 3) die geslagsregister van Jesus. Al vier evangelies vertel iets oor Johannes die Doper se bediening. Al drie sinoptiese evangelies vertel van die doop van Jesus (Johannes nie). Net Matteus het ook ‘n geslagsregister vir Jesus, hoewel Lukas verskil van sy aanbieding daarvan.

3:1-20
Lukas plaas – anders as die ander evangelies – die prediking van Johannes die Doper binne sy historiese konteks wat nie net die politieke bestel van die Romeine en Jode – Tiberius, Pilatus, Herodes (seun van die een wat dood is by Johannes en Jesus se geboorte), Filippus en Lisanias – betrek nie, maar ook die godsdienstige – Annas en Kajafas as hoëpriesters. Dit is die 15de regeringsjaar van Tiberius, dws 27 nC.

Lukas haal vir Jesaja meer volledig aan as in die ander evangelies, en spel die vrugte van bekering uit vir gewone mense: tollenaars, en soldate. Lukas vertel ook vir ons dat Johannes, soos in die evangelie van Markus, ‘n skerp onderskeid getref het tussen sy eie bediening en dié van die Een wat kom. Daarby brei hy meer uit oor wat met die koms van die Heilige Gees sal gebeur, ‘n gebeurtenis wat onder andere ook oordeel sal insluit. Lukas vertel ook vir ons dat Johannes vir Herodes aangespreek het, en dat dié hom in die tronk opgesluit het.

Dit tref my veral hoe Lukas die roeping van Johannes beskryf as dat die “woord van God” (rhêma tou Theou) tot Johannes kom. Dit sluit waarskynlik die Bybelteks in wat hy in sy prediking insluit (Jes 40), maar die res van die proses word nie uitgespel nie, soos ook die geval was met die profete van ouds.

Hierdie rhema dui ‘n woord of stelling aan wat om aksie vra, ‘n woord wat mens dus in beweging wil bring, soos ‘n mens ook van Simeon lees (Luk 2:29). Daarteenoor word die woord Logos , hoewel op plekke steeds as sinoniem vir rhema, op baie verskillende wyses gebruik, ook vir Christus self (Joh 1) of as aanduiding van die Woord, die Bybelteks van daardie tyd. Hier is ‘n lysie van plekke waar die woord rhema in die NT voorkom om ‘n idee vir jou te gee hoe die woord gebruik is: Matt 4:4; 26:75; 27:14; Luk 1:38; 2:29; 3:2; Joh 3.34; 8:20; 15:7; Hand 2:14; 10:37; 11:14; 11:1; 13:42; 26:25; Rom 10:8,17-18; 2 Kor 12:4; 13:1 Efes 6:17; Hebr 6:5; 11:3; 12:19; 1 Pet 1:25; 2 Pet 3:2; Jud 1:17.

3:21-22
Hierdie bediening van Johannes die Doper staan duidelik in diens van die bediening wat na Hom sou kom, dié van Jesus, wie se doop die hoogtepunt van Johannes se bediening vorm, en ook die eindpunt daarvan is.
In drie perikope word hierdie Jesus se bediening gelegitimeer, deur sy doop waarby God bevestig dat Hy sy Seun is (3:21-22), deur sy geslagsregister waarmee Hy as beide God se Seun en as deel van die menslike geslag geteken word (3:23-38), en deur die versoeking waardeur Hy as getoetste aan Israel bekend gestel kan word (4:1-13), en Sy bediening kan begin.
Let ook op dat die Drie-enige God hier betrokke is: Vader, Seun en Heilige Gees.

3:23-38
‘n Paar opmerkings oor hierdie geslagsregister van die dertigjarige Jesus:

  • Op die oog af verbreek die geslagsregister (3:23-38) die doop- en versoekingsverhale (4:1-13), wat kronologies verbind word (4:1). Die kern hiervan is egter dat Jesus ook daarmee as “die seun van God” aangedui word. Lukas maak dit dus duidelik dat Jesus nié die seun van Josef is nie (3:23, 4:22), maar die seun van God, net soos dit die geval is met die doop en die versoekingsverhale. Daarom, soos dikwels die geval is in die Bybel, is die funksie van hierdie geslagsregister om die posisie van die kernpersoon, in hierdie geval Jesus, in sy identiteit as God se seun, te legitimeer.
  • Die geslagsregister gaan daarby nie net terug tot by Abraham – soos Matteus s’n in omgekeerde volgorde doen – nie, maar tot by Adam, waarmee die hele sending na die heidene, waarvan die verhaal van Handelinge ons gaan vertel, gelegitimeer word. Die boodskap van Jesus wat eerste aan die skaapwagters gebring is, en hierna aan die hele Israel, moet ook tot aan die eindes van die wêreld, na al die nasies gebring word, want Jesus is familie!
  • Die verskille tussen die twee geslagsregisters van Lukas en Matteus het waarskynlik meer met hulle verskillende teologiese uitgangspunte te make (soos die vorige twee opmerkings uitwys), as met historiese oorwegings, waarvan die aantreklikste voorstel is (Holzmeister) dat Matteus die geslagsregister vanuit ‘n geboorteperspektief beskryf (doodgewone afkoms via die vaderlike lyn) en Lukas vanuit ‘n aannemingsperspektief (as Maria ‘n enigste kind was, kon haar pa Eli volgens wet vir Josef aangeneem het om só die familielyn intakt te hou).

Liturgie

Die eerste adventkers brand reeds. Steek nou die tweede adventkers aan.

Gebed

Aanvangslied: Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Lukas 1

Seëngroet 

Sang: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4″

Verootmoediging       
Lees Johannes 14:23-31
(Agtiende Verklaring: oor vrede, uit Geloofsverklaring 2000)

Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 3:1-6

Familie-oomblik
Prediking
Gebed 
Offergawes

Wegsending: Lied 223  “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën: Filippense 1

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
“Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die tweede Sondag van Advent is die Sondag van vrede.

Die eerste Advent kers brand reeds. Steek nou die tweede Advent kers aan.

V: Ons verwerp alle vorme van geweld en ontmensliking omdat ons glo in God die Vader.
G: Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou. Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.

V: Ons erken die menswaardigheid van alle mense omdat ons Glo in Jesus Christus.
G: Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het. Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.

V: Ons praat en leef profeties omdat ons glo in die Heilige Gees.
G: Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid. Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.

V: Vrede is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.

Aanvangslied: Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Lukas 1
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Sang: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Verootmoediging
Ons kies om die vrede-tema hier uit te bou ahv Jesus se belofte dat Hy vrede nalaat, en dat Hy weer kom met die finale Vrederyk…

Lees Johannes 14:23-31
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.
25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.
“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

In die praktyk weet ons dat die vrede wat Jesus gebring het net plek-plek deurskemer as gevolg van die sondige bestel waarbinne ons leef…

Verlossing Paulus skryf aan die gelowiges in Filippi… (hoofstuk 1)
4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

en in hoofstuk 4
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Geloofsbelydenis
Ons glo

  • dat vrede ‘n geskenk van Christus die Vredevors is wat sigbaar word waar mense dit met mekaar deel
  • dat mense nie met geweld oor mekaar mag heers nie
  • dat vrede beteken dat, ook waar onreg gepleeg is, mense bereid sal wees om hulle met mekaar te versoen deur vergiffenis te vra vir onreg wat hulle gepleeg het, die onreg te probeer
  • erstel, en diegene wat vir hulle veronreg het, te vergeef
  • dat ware vrede nie ten koste van regverdigheid en die waarheid gedien word nie
  • dat God se vrede ons in staat stel om mekaar te versorg en heel te maak

(Agtiende Verklaring: oor vrede, uit Geloofsverklaring 2000)

Lied: 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Liedere

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

F133.”As Ek Stil Word”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding, Verwondering, toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel

U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.

Skriflesing: Lukas 3:1-6

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Johannes die Doper (Jesus se wegbereider) het ‘n unieke leefstyl gehad- in die woestyn geleef en vreemde kos geëet…
Matteus beskryf dit soos volg…Matteus 4

4 Johannes het nie gewone klere gedra nie. Sy klere was van vel gemaak. En hy het ’n dik leergordel om sy lyf gehad. Sy kos was baie anders as gewone mense s’n. Hy het sprinkane geëet, en heuning wat hy in die veld gekry het.

(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Dit moes darem aaklig gewees het om sprinkane te eet. Laat val die lig vir ‘n oomblik op hierdie wegbereider wat op sy beurt die lig net op Jesus laat fokus.

Kry die kinders sover om ook vreemde kos te probeer… wurms! Wurms wat jou mond erg laat brand is algemeen in die winkels beskikbaar. Deel dit aan die kinders uit dat die gemeente hulle gesigte kan sien trek…

Of maak vooraf jellie wurms. Die metode is eenvoudig om jellie in watervorm in strooitjies (die tipe wat kan knak) te giet en in die yskas te laat stol. Wanneer die jellie uit die strooitjies verwyder word (mbv warm water) lyk dit net soos wurms en kan baie grillerig wees om te eet.

Vir meer inligting kan u gaan loer hier
(Met erkenning aan Rethie vir haar vindingrykheid)
(Illustrasie deur Alida Bothma, met toestemming gebruik)

Preekriglyn

Hierdie preek vind plaas in die eerste jaar van pres. Cyril Ramaphosa se bewind in Suid-Afrika, terwyl die Zondo-kommissie ernstige getuienis oor staatskaping van voormalige en dienende ministers aanhoor. Malusi Gigaba is minister van Binnelandse Sake (by die skryf hiervan), terwyl sy voormalige baas, oud-pres. Jacob Zuma, voortgaan om die staatspresident te ondermyn. Beide pres. Zuma en sy medewerker Supra Muhamapelo maak van tyd tot tyd ‘n draai in die hof.
Ace Magashule is sekretaris-generaal van die ANC. Julius Malema is opperbevelvoerder van die EFF en Mmusi Maimane leier van die opposisie in die parlement.
Nelis Janse van Rensburg is moderator van die jongste Algemene Sinode en Dirkie van der Spuy sy adjunk.
In daardie tyd word die gemeente van die Here herinner aan die woord van God wat 2,000 jaar gelede tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom het.
Johannes het destyds (toe die tweede Romeinse keiser, Tiberius, wat Homself as God en Here beskou het, reeds 15 jaar aan bewind was) deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig:
Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

Johannes het almal verder herinner aan die woorde van die profeet Jesaja:
Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.

Wakker wees!

Iemand het gesê as jy dagdroom terwyl die eerste vers voorgelees word, het jy die hele punt van Lukas se boodskap gemis:

Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

Lukas gee hier ‘n lys van die werklike groot figure, sommige van hulle regte skurke, in die verhaal wat gaan ontplooi. Deur dit te doen, plaas hy Jesus se verhaal in die historiese konteks daarvan.
Volgens gebruik van daardie tyd, gee hy met die lysie name erkenning aan die maghebbers en gesagvoerders van die Romeinse ryk en staatsadministrasie. Dieselfde het gebeur in sy geboorteverhaal (2:1-2). In ons teks voeg hy nog die name van twee belangrike Joodse leiers by.
Mens moet ook nie Lukas se ironie miskyk nie. Net soos dit Jesus in die kleine Bethlehem was – en nie keiser Augustus nie – wat deur die engelekoor en herders as die ware Here en Koning geprys is, net so is die ware belangrike nuus dertig jaar later die optrede van Johannes die Doper in die woestyn, en nie die bevele en aksies van die belangrike figure wat Lukas hier lys nie.
Hierdie belangrike figure speel ‘n baie negatiewe rol in die verhaal, hoewel God sy bedoelinge sal laat uitwerk deur en ten spyte van hulle magsmisbruik.
Lukas se punt is: die Jesus-gebeure speel in die geskiedenis af. Dit is ‘n sprokie, feëverhaal of dagdroom nie. Dit is geskiedenis, deel van ons geskiedenis. Alles wat verder in die evangelie gaan gebeur is deel van dieselfde wêreld, dieselfde werklikheid waarin ons ook deel. Ons ken die wêreld waarin hierdie dinge gebeur. Ons verstaan hoe hierdie wêreld inmekaarsteek. Ons kan ook die gebeure sien, verstaan en glo in wat hier plaasvind.

Wegbereider

Die geskiedenis van Jesus se bediening begin in al vier evangelies met die optrede van Johannes die Doper. Wat Johannes hier begin, sou Jesus voortsit. Die evangelie wat Jesus bring, kom in kontinuïteit met Johannes die Doper se boodskap, selfs al sou Jesus met tye ander aksente lê. Beide Johannes en Jesus tree in lyn met die geloof van Israel op, en met Israel se hoop op verlossing.
Daar is ook verskil. Jesus maak die koninkryk werklik deur gemeenskap met sondaars en uitgeworpenes terwyl Johannes bloot die voorbereider hiervoor is met sy boodskap en oproep tot bekering. Daarom is Johannes ook vir ons belangrik: as wegbereider is hy ‘n venster op die werk van Jesus.
Die aandag en opwinding wat Johannes se boodskap van bekering skep (“vers 7: Die mens het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word), bou die raamwerk waarbinne Jesus se bediening sou voortgaan. Johannes berei Israel voor vir God se ingrype in die lewe van sy volk.
Johannes is ‘n profeet wat vir ons wys hoe God se bedoelinge en God se wêreld lyk. Hy is ook die hoogtepunt van die Ou Testamentiese profete. Die boodskap van bekring en reg lewe voor God is die hoogtepunt van die Ou Testamentiese profete se boodskap, en wys vooruit na die groter en meer van die verlossing wat Jesus sou bring.
Teoloë sal sê Johannes beliggaam beide belofte en vervulling.

Jesaja

Verse 4 tot 6 is ‘n aanhaling uit Jesaja 40:3-5. Lukas is die enigste van die vier evangeliste wat die aanhaling verleng deur vers 4 en 5 by te voeg. In Johannes het die profetiese voorspelling in vervulling gegaan. Johannes word hier geskets as die wegbereider vir die Messias.
Johannes is niks meer nie as “iemand”, en volgens die grondteks, is hy ‘n “stem” wat in die woestyn roep. Sy boodskap blyk daarom belangriker te wees as die boodskapdraer. En om dit by die lesers in te skerp, voeg Lukas vers 4 en 5 van Jesaja 40 by. Hierdeur wys Lukas daarop dat die verlossing van God kom en dat dit heil vir alle mense en die wêreld beteken. Dit is hoe groot die omvang van God se verlossing is.
Diegene wat hulle voor God verootmoedig, na God draai en volgelinge van die Messias word, word opgeneem in God se groot beweging na die wêreld wat liefde, geregtigheid en genesing bring.

Advent

Advent is dié tyd van die kerkjaar waarin ons stilstaan by belofte en vervulling. Ons vier die komende Jesus en sy verlossing, en ons kyk verlangend vooruit na die finale koms van God se koninkryk.
Johannes se boodskap help ons verstaan hoe belofte en vervulling werk. Veral as ons oplet hoe Johannes praat oor God se oordeel oor sonde en God se reaksie op die krisis wat sonde veroorsaak het. Johannes help ons verstaan hoe spesifiek ons oor sonde en bekering moet wees.

Bekering

Johannes die Doper het ‘n bekering en ‘n bekeringsdoop tot vergifnis van sonde verkondig.
Daar is ‘n gevaar in ons era van verdraagsaamheid en goedkoop genade. Die gevaar is dat ‘n deel van die Adventsboodskap, die deel oor bekering, weggelaat of onderbeklemtoon word. Dit is ‘n versoeking om slegs oor hoop (abstrak en algemeen) en blye tydings te praat. Daarteenoor is die blye tyding juis dat vergifnis moontlik is. Wanneer ons in Advent ons voorberei op die Kersboodskap moet ons weet dat berou en bekering ‘n wesenlike deel daarvan is.
Dit bring lewe om oor die wrange erns van sonde en die behoefte aan berou en bekering te praat. Die behoefte van ons tyd om van die werklikheid of selfs die moontlikheid van sonde te praat, bring nie vryheid of die florering van menslike lewe mee nie. Ontkenning van die gewigtigheid van die sonde laat mense onkundig en onmagtig in die aangesig van boosheid in die wêreld, en radeloos met hul eie tekortkoming.

Iemand skryf:
Denial of sin has left Christians and non-Christians alike unable to understand their predicament, save in terms of the misdoings of others or the randomness of existence. The denial of sin has unleashed despair, confusion, and anger.

Sondaar

Om te leer dat jy ‘n sondaar is en verlossing benodig, is deel van die goeie nuus van Advent. Dit beteken:

  • Jy weet wat aan die wortel van die probleem van ‘n lewe van vervreemding van God, medemens en skepping lê;
  • Jy ontdek hoe om in die regte verhouding met God te kom en met God versoen te raak;
  • Om sonde behoorlik te benoem, beteken om God se Naam te erken en om die moontlikheid van vergifnis en versoening te herken;
  • Die bring jou by die ervaring van genade en maak van jou ‘n genadige medemens vir ander.

Johannes die Doper help ons om eerlik te praat oor die dinge wat ons kultuur en tydsgees wil vermy. Aangesien ons nie met ons sondigheid en sonde werk maak nie, ontbeer ons verlossing en geestelike transformasie.

Tydsberekening

Ons het hierbo gepraat oor die gangbare Christelike uitbeelding van Johannes die Doper as ‘n getuie by die kruisiging van Jesus. Natuurlik was Johannes nie daar nie, hy was reeds tereggestel. Nogtans maak die uitbeelding sin, want Johannes oorbrug die Ou en Nuwe Testament, hy is vervulling van die ou en belofte van die nuwe.
Net so is die kerk se gebruik om in Advent (wanneer ons uitsien na Christus se geboorte) oor Johannes die Doper te praat vanweë chronologiese redes vreemd. Johannes tree immers 30 jaar na Jesus se geboorte op. Teen hierdie tyd is Jesus reeds ‘n volwassene, en word Jesus deur Johannes se bekeringsdoop gedoop aangesien Jesus sy skouer onder die mens se sonde insit.
Die kerk praat egter in Advent oor Johannes, omdat Johannes ons insig gee in die betekenis van Christus se koms na die aarde. Johannes konfronteer ons met ons sonde, met die menslik onoorbrugbare probleem van vernietigende boosheid, verwoesting, afbreek van mens en God se skepping, en met die herstel wat Jesus bring.

Wie Jesus is

Johannes help ons ook – dertig jaar na Jesus se geboorte – verstaan dat ons in Advent juig oor die volwasse Jesus. Ons Kersvreugde word nie bloot gebore uit ‘n babatjie wat tussen die diere in ‘n krip in ‘n stal lê nie. Daardie baba is ook die Lam wat geslag is, die Goeie Herder, die een wat uit die dood opgelig is en opgevaar het na die hemel, vanwaar Hy weer sal kom.
In Advent leer ons by Johannes dat die geboorte, bediening, leer, sterwe, opstanding en hemelvaart van Jesus in historiese samehang ons red. Jesus se geskiedenis, wat in ons geskiedenis, tussen al die skurke en maghebbers plaasvind, red ons van sonde en van onsself.
Die wonderskone Kersverhaal, die Lam in die krip, die baba onder die skadu van die kruis in die arms van sy moeder, is die bron van ons vreugde. Dit is ‘n vreugde wat ons met ons sondigheid konfronteer, maar ons met verwondering vul omdat dit ons sonde wegneem en ons inskakel by die toekoms van die Lam.

Hot Shots

Ons beklemtoon dat Jesus se geboorte, doop en verlossing in ons geskiedenis plaasvind. Lukas herinner ons daaraan deur al die Hot Shots van sy wêreld te lys.
In dieselfde geskiedenis, net 2,000 jaar later, ly ons ook onder die Hot Shots van ons tyd. Die maghebbers, skelms en bedrieërs van ons tyd.
Die politieke en sosiale klimaat gedurende die regeringsjaar van keiser Tiberius is gekenmerk deur ongelykhede, sosiale klasse soos die heersersklas, die koninklikes, Herodiane, ekonomiese en politieke leiers, asook die Sadduseërs en sommige Fariseërs. Die dominante klas het uit onder meer kunstenaars en priesters en Fariseërs uit ‘n laer sosiale klas bestaan. Daar was selfs “under classes” noem. Die sogenaamde “under classes” het bestaan uit nie-permanente werkers, kriminele met klein en of onbelangriker oortredings, prostitute en bedelaars. Hierdie was die groep wat die meeste uitgebuit is.
Tans het die werke van ISIS, die Midde-Oosterse konflik, ons eie politieke, ekonomiese en sosiale onstuimigheid, asook die droogte in verskeie dele van ons land, impak op hoe ons die evangelie verstaan en interpreteer met die doel om mense te help sin maak van ons geloofsoortuigings en lewensbestaan midde in die daaglikse krisisse.
Leiers van alle tye moet kennis neem van die Leier wat kom. Hulle moet kennis neem van sy doel, werkswyse en gesindhede wat Hy van sy onderdane in sy koninkryk sal duld. Sy heerskappy sal geken word aan geregtigheid, liefde, vergiffenis en vrede. Christus het die finale seggenskap, Hy is die Leier.
Dit is goeie nuus vir mense wat swaarkry, en slegte nuus vir slegte leiers. Leiers moet hulle bekeer, hulle sonde bely en na Christus draai.

Eie bekering

Ook ons eie bekering is op die spel.
Johannes het bekering verkondig, wat behels om van ons verkeerde lewenswyse weg te draai en tot geloof te kom in Jesus as Koning, Regeerder en Verlosser. Johannes het bekering verkondig wat Jesus Christus as Seun van God erken, wat eis dat ons ons vertroue in mense en of materiële dinge verskuif na vertroue in Jesus Christus.
Die bekering is dringend omdat die Here, die Messias en Koning, aan die kom is. Baie gelowiges toon in hulle geloofslewe en waaksaamheid tekens van verslapping. Daar is aanduidings dat baie mense selfgerig raak, terwyl ander op konings en strydwaens vertrou en baie mense ontrou, wanhopig en selfs ongelowig word.
Aangesien ons sonde die krisis is, is die weg van berou en bekering, die vasgryp aan Jesus Christus, die ingroei in die lewe en voorbeeld van Jesus, die weg om te gaan.

Publieke bekering

Daar is ook die vraag of ons bekering of maatskaplike aktivisme nodig het.
Suid-Afrika worstel steeds met rassisme, ongelykhede, korrupsie en geweld, veral teen vroue en kinders en die ekologiese ramp waarop ons afstuur. Dan is daar die gedurige gewelddadige protesoptogte, werkloosheid, die taaldebat oor Afrikaans as onderrigtaal en #FeesMustFall. Die onsekerheid oor voedsel en plaasmoorde is verdere kwessies wat ‘n impak het op mense se bekeringservaring en die verkondiging van bekering as verandering van lewenswyses uitdaag.
Sonde skep nie net nes in individuele lewens nie, maar ook in sosiale sisteme. Dit is duidelik dat individuele bekering en publieke bekering ten nouste verweef is. Lukas lys al die belangrike publieke leiers wanneer hy Johannes se bekeringsboodskap oordra.
Daar is die standpunt dat bekering onsin is, terwyl baie meen dit is ‘n godsdienstige foefie om mense te probeer nederig hou en hulle van ‘n kompeterende beroepslewe en geleenthede van sukses te wil weghou. Ons wêreld het egter bekeerde mense nodig wat Jesus se lewe van diens en naasteliefde uitleef, tesame met bekeerde samelewings wat op Jesus se aandrang op liefde en geregtigheid fokus.

Wegdraai

Bekering is die wegdraai van ‘n vernietigende lewenstyl. My bekering, ons bekering en ons leiers se bekering is op die spel.
Bekering geld nie net vir die toekoms nie. Dit is ook nie iets wat tot die verlede behoort nie. Bekering as die wegdraai van ‘n verkeerde lewensweg wat kwaad inhou en afbreuk doen aan menseverhoudinge en ons verantwoordelikheid teenoor die skepping, kan net goeie gevolge inhou – godsdienstig, eties en sosiaal.
Bekering is inderdaad ‘n hoopvolle gebeurtenis en kan die rigting van ons politiek, ekonomie, moraliteit en sosiale lewe bewerk. Bekering help mense ontdek wat van waarde is en wat ons doel in die lewe is. Deur bekering kan ons voldoen aan die eise van die evangelie, maar kan ons ook lig werp op ons politieke en maatskaplike probleme.

Leierskap

Johannes die Doper haal die profeet Jesaja aan om sy rol as wegbereider vir die Here te beklemtoon. Die valleie moet opgevul en die krom paaie reguit gemaak word.
Watter valleie en paaie moet in ons tyd opgevul en reggemaak word?
Opvallend genoeg doen Johannes hierdie oproep uit die woestyn. Terwyl die groot leiers van daardie tyd uit die groot sentrums van mag optree, doen Johannes dit van die kantlyn af. Tog het mense na hom gestroom om hulself te bekeer en as publieke teken daarvan in die Jordaan gedoop te word.
Bekeerde leierskap kan van enige plek af kom. Ons het nie meer groot name nodig nie. Ons het meer en meer klein leiertjies nodig wat vanuit enige denkbare posisie verantwoordelikheid vir self en gemeenskap neem.
Ons moet dus ons heil nie bloot net van Cyril, Tito, Maimane of Julius verwag nie. Die lys groot name in Lukas en in ons eie tyd neem nie ons verantwoordelikheid weg nie.
Dit neem ook nie God se aandrang dat die verlossing wat Jesus in die geskiedenis bewerk het ons geskiedenis – in ons lande, maar ook in ons stede, dorpe en gemeenskappe – heilsaam sal beïnvloed nie. Bekering, goddelik-hergeoriënteerde mense, is hiervoor nodig.
Hierdie preek het plaasgevind toe ________ (lidmate skryf hul name hier in) ‘n lid was van ________ (naam van gemeente) in die gemeenskap van ________ (naam van woonbuurt, dorp of stad) in die ________ (provinsie of land) en inisiatief geneem het om haarself te bekeer en God die Koning oral te dien.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, ons wil deel wees van die span
wat die pad vir U gereed maak,
wat die paaie vir U reguit maak.
Ons wil elke kloof opvul, en
elke berg en bult platmaak.
Krom paaie moet reguit word
en ruwe paaie moet gelyk word;
sodat mense die verlossing sal sien
wat van God kom.
Amen
(Ahv Lukas 3:4-6)

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën: Filippense 1
9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg:  Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.