Tweede Sondag in Advent – Sondag van Vrede

Sections

Oorsig

Die middelste twee Sondae in Advent fokus op Johannes die Doper. Sy bediening pas uitnemend by Advent en fokus op voorbereiding en verwagting (tweede Sondag in Advent), skuldbelydenis en vergifnis (derde Sondag in Advent).

Maleagi se profesie bevestig dat God op pad is na sy tempel. Die antwoord op die Sondag is die loflied van Sagaria wat hy met die geboorte van Johannes sing. Dit is ’n lied vol verwagting oor wat, in Jesus Christus, aan die kom is. Sy koms sal ons voetstappe in die laaste instansie rig op die pad van vrede. Johannes se eerste preek vra dan dat ons gereed moet maak vir Jesus se koms en bevestig dat almal die verlossing wat Hy bring sal sien. Filippense vra dat ons sal lewe met die oog gerig op die dag van Christus se wederkoms.

Ander tekste

Maleagi 3:1-4
3 Ek gaan nou my boodskapper stuur,
Hy sal die pad voor My uit regmaak,
en dan sal die Here na wie julle soek,
skielik na sy tempel toe kom.
Ja, die Verbondsengel na wie julle
met soveel vreugde uitsien,
gaan nou kom, sê die Here
die Almagtige.
2Maar wie kan die koms van dié Engel
verdra,
wie kan standhou wanneer Hy verskyn?
Hy is soos die vuur van die smelters
en soos die seep van die wassers.
3Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit
om die Leviete te suiwer,
om hulle te louter soos goud en silwer,
sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring
wat bestaan uit regdoen.
4Dan sal die offer van Juda en Jerusalem
weer aanneemlik wees vir die Here
soos in die ou tyd,
soos in jare lank verby.

Lukas 1:68-79
Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:

68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”

80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Filippense 4:4-7
4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Fokusteks

Lukas 3:1-6
Die prediking van Johannes die Doper

(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3  Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”
7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”
13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”
14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”

Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Eerste Sondag van Advent

Aanvangslied: Lied 320:1, 2.

Voorganger (V): Vandag is die eerste Sondag van Advent, die Sondag van Hoop.
Gemeente (G):Ons hoop is in God en in sy Seun, Jesus Christus
Hy is deur God aangewys om te oordeel oor alle dinge.
Hy is die Een deur wie God belowe het om sy volk te verlos.

V: Ons steek vandag die eerste kers aan om ons te herinner dat Hy ons hoop en die hoop van die  wêreld is. Ons dank God vir die beloftes wat Hy aan ons gemaak het en vir die lig wat Hy in die wêreld gebring het.
G: U is Immanuel, God met ons. U is ons hoop.

(Die eerste kers word aangesteek.)

V: O God van Hoop, Immanuel, God met ons.
Ons bid dat U u lig in hierdie dae in ons hart sal laat skyn.
Help ons om gereed te wees vir die dag en die uur wanneer Christus finaal verskyn.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Vernuwe ons deur die krag van die Heilige Gees, sodat ons aanbidding, ons feesviering
en ons voorbereiding vir U welgevallig sal wees – nou en vir ewig.
G: Amen.

Lied 354:1: “O Christus, ons verlange.”
(Uit Handleiding vir die Erediens. Wellington: Bybel-Media 2012: 202)

Aanvangswoord
5Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,

Vredevors.
6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. (Jesaja 9)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en sy Seun Jesus Christus wat gekom het, hier is en weer gaan kom en die Heilige Gees wat ook in Adventstyd God se hoop, vrede, vreugde en liefde in ons harte wil laat leef.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3″

Verootmoediging
Ons kies om die vrede-tema hier uit te bou ahv Jesus se belofte dat Hy vrede nalaat, en dat Hy weer kom met die finale Vrederyk…

Lees Johannes 14:23-31
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

In die praktyk weet ons dat die vrede wat Jesus gebring het net plek-plek deurskemer as gevolg van die sondige bestel waarbinne ons leef… en dat die vrede selfs binne kerkgeledere ontbreek.

Gebed
Here,
U het U kerk lief.
U het al die mense wat U kerk op aarde vorm,
baie, baie lief.
Ons prys U daarvoor.

Dankie dat die kerk aan U behoort;
Dat U dit self bou en in stand sal hou.
Daarom wil ons nou met gerustheid
opnuut die kerk
met al ons foute en swakhede èn mooi ideale
aan U opdra.

Maak met ons wat U goed dink en reg is vir nou.
En laat u Gees ons dryf, Here,
om te kom waar U ons wil hê.
Begenadig ons om ons oop te stel
vir U onverwagte , nuwe, vars leiding
deur die kragtige werking van u Heilige Gees.
Amen.
(Uit Geesgedrewe gelowiges deur Piet Naudè; 2005: 156)

Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Geloofsbelydenis
Ons glo
• dat vrede ‘n geskenk van Christus die Vredevors is wat sigbaar word waar mense dit met mekaar deel
• dat mense nie met geweld oor mekaar mag heers nie
• dat vrede beteken dat, ook waar onreg gepleeg is, mense bereid sal wees om hulle met mekaar te versoen deur vergiffenis te vra vir onreg wat hulle gepleeg het, die onreg te probeer herstel, en diegene wat vir hulle veronreg het, te vergeef
• dat ware vrede nie ten koste van regverdigheid en die waarheid gedien word nie
• dat God se vrede ons in staat stel om mekaar te versorg en heel te maak
(Agtiende Verklaring: oor vrede, uit Geloofsverklaring 2000)

Liedere

F71. “U Is Vir My Genoeg”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Vertroue/ Votum)
Teks en Musiek: Louis & Hettie Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Uit U deur U tot U is alles in my hele lewe
U is die bron van al my vrede
Vader, U is vir my genoeg

Elke hartklop elke asem elke oomblik van my lewe
Elke vreugde elke rede om te lewe kom uit U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U

Elke dankie elke loflied elke amen halleluja
Elke woord wat U verheerlik elke offer is vir U
Al my gawes al my drome my voorspoed en oorwinnings
Al my kragte dae en nagte vol genade kom uit U
U is vir my genoeg!

F133. “As Ek Stil Word”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding,  Verwondering,  toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel

U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

God praat met ons en ons luister

Epiklese Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing: Lukas 3:1-6

Prediking

Familie-oomblik

Johannes die Doper (Jesus se wegbereider) het ‘n unieke leefstyl gehad- in die woestyn geleef en vreemde kos geëet…
Matteus beskryf dit soos volg…Matteus 3:1-6 ()

Johannes die Doper en sy prediking
(Mark 1:1–8; Luk 3:1–9, 15–17; Joh 1:19–28)

3 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 

Laat val die lig vir ‘n oomblik op hierdie wegbereider wat op sy beurt die lig net op Jesus laat fokus.

Kry die kinders sover om ook vreemde kos te probeer… wurms!

Dit is darem “jellie-wurms”. Die metode is eenvoudig om jellie in watervorm in strooitjies (die tipe wat kan knak) te giet en in die yskas te laat stol. Wanneer die jellie uit die strooitjies verwyder word (mbv warm water) lyk dit net soos wurms en kan baie grillerig wees om te eet.

Vir meer inligting kan u gaan loer by http://pinterest.com/pin/567805465489063199/
(Met erkenning aan Rethie vir haar vindingrykheid)

Preekriglyn

Johannes die Doper is die wegbereider vir Jesus.  Só het die engel van die Here dit reeds voor Johannes se geboorte aan sy pa, Sagaria, in die tempel openbaar (1:17).

Vreemd dat die wegbereider in die woestyn optree.  Dis nie die soort plek vanwaar die meeste mense ‘n veldtog van stapel sal stuur nie.  Tog is sy oproep aangrypend:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom. (3:4-6)

Op ‘n pakkende manier word vertel hoe Johannes as wegbereider vir Jesus opgetree het.  Sy bediening, in die woestyn, trek skares mense.  Die woestyn word die plek waar die Woord van die Here nesskop, waar mense hulle sondes bely, hulle bekeer en ‘n bekeringsdoop as teken van hulle bekering en berou ondergaan.  Die tafel word gedek vir die koms van die Messias, die Een wat die volk van hulle sonde verlos.

Voorbereid op die Messias

Deur Johannes se optrede word die volk, ja, alle mense (6), voorberei vir die koms van die Messias.  Johannes “maak sy pad reguit.”  As ’n Koning wou gaan reis, het werkerspanne die roete waarop hy sou gaan voor hom reg gemaak – dit so reguit en so gelyk as moontlik gemaak.  Die aanhaling is uit Jesaja 40:3-5.  Jesaja roep die mense op om gereed te maak vir die koms van die Here.  Drie evangelies maak Jesaja se woorde op Johannes van toepassing.

“Elke vallei moet opgevul word”; “Berge moet gelyk gemaak word.” Die gedagte aan die geweldige omvang van die voorbereiding wat nodig is vir die koms van die Messias, word hier beklemtoon.

Hier, in die Adventstyd, help Johannes ons ook om voorbereid te wees – opnuut – op die koms van die Messias in ons leefwêreld.  Hy help ons oë oopgaan vir die koms en aanwesigheid van die Messias.  Johannes vul ons met verwagting oor die werk en betrokkenheid van die lewende Here in ons wêreld.

Hy kom vir ‘n wêreld soos hierdie

Opvallend begin hoofstuk 3 met die vermelding van die magtige politieke “who’s who” van Jesus se tyd.  Dis die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. (1)  Tiberius staan aan die hoof van die magtigste, globale ryk van die destydse wêreld.  Rome is die VSA of die China van die destydse wêreldorde.  Op daardie punt in die geskiedenis speel Jesus se bediening af.

Ons teks verwys ook na Pilatus en Herodes.  Pilatus was prokurator van Judea, plaaslike verteenwoordiger van die magtige romeinse Ryk,  in die jare 26-36 nC.  Herodes waarvan hier gepraat word, is Herodes Antipas, een van Herodes die Grote se seuns. Hy het regeer oor Galilea en Pirea vanaf 4 v.C. tot 36 n.C.

Lukas noem ook vier persone wat ‘n betekenisvolle rol in Jesus se kruisiging sou speel: Twee van hulle, Pilatus en Herodes, was politieke rolspelers.  Annas en Kajafas was godsdienstige leiers.  Kajafas het Annas as hoëpriester opgevolg.

Midde-in die wêreldgeskiedenis

Die verwysings na politieke en godsdienstige maghebbers vervul ‘n baie belangrike funksie in ons teks.  Lukas plaas die verhaal van Jesus binne die politieke situasie van Palestina en van die wêreldheersers van sy tyd.

Lukas sit sy kersliedere op ‘n ander toonaard as baie moderne mense in.  Vir ons ‘n Kersfees met die kersgebeure dikwels soos ‘n sprokie.  Ons sou die kerksverhaal begin soos mens ‘n sprokie begin: “Eendag, lank, lank gelede in ‘n vêr land….”

‘n Sprokie of ‘n storie is geen evangelie nie.  God is nie ‘n Storieboekgod van Wie mens vir kinders slaaptydstories vertel maar wat nie werklik die lewende Here is nie.  God is die lewende God en God is werklik by ons hele wêreld betrokke.

Dáárom begin die Kersverhaal nie met “eendag lank, lank gelede” nie.  So begin stories, mites, legendes … wat natuurlik wel wonderlik mooi kan wees, wat mens kan vertel van die mooie en die goeie, wat mens kan verplaas na ‘n droomwêreld van geluk, ‘n idilliese wêreld vol vreugde, ‘n sprokieswêreld, waar alles net goed en reg is … en waar God naby die mense woon.  So ‘n verhaal kan ‘n mens bly maak, solank jy jou kan verplaas die droomwêreld in.  Soos die verhaal van kersvader, wat ‘n mens tog ook bly maak, wat kinders laat lag, wat ‘n atmosfeer van ontspanning en van vreugde bring.  Maar dit is net tydelike ontspanning, net tydelike vreugde.  Dit is maar net ‘n storie en na ‘n tyd moet ‘n mens weer terug na die konkrete, alledaagse werklikheid en dan is alles maar weer dieselfde.  (Dirkie Smit, Woord teen die Lig I, p 94).

Lukas, en die Bybel, se punt is: die Kersevangelie is nié só nie.  Dis nie ‘n droom, ‘n sprokie, ‘n gedig of lied nie.  Al klink dit dikwels na ‘n droom, al is baie sprokies al daaroor vertel, gedigte daaroor geskryf en word dit die beste deur sang verkondig.  Dis geskiedenis!  Dis feite!  Dis werklikheid!  Dis nuus!

Vir die wêreldgeskiedenis
Die nuus van Jesus, vir Wie Johannes die weg berei, is juis die nuus dat God, ons God, in hierdie wêreld sy geskiedenis kom maak.  Binne hierdie aardse werklikheid waarin ons elke dag leef, kom maak God woning, kom God se koninkryk en realiseer God se vrede.

Dit beteken dat hierdie evangelie wáár is … vir die oorloggeteisterdes, die hongeriges, die noodlydendes, die vlugtendes, die onderdruktes, die bevreesdes, die eensames, die sondaars, die treurendes, die vervolgde kerke, die lydende Christene … van ons dag, ons nuusberigte, ons wêreld.  Dis waar!  Dis nie drome of stories nie.  Dis feite, nuus, werklikheid.  God het op hierdie aarde kom woon, ons ons en sy geskiedenis met ons begin ….  (Dirkie Smit, Woord teen die Lig I, p 95).

God het sy geskiedenis met ons begin, in die dae van keiser Augustus en Cirenius (Lukas 2), en verder in die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius toe Pontius Pilatus die goewerneur van Judea en Herodes die koning van Galilea was.

Hóé God geskiedenis maak

Hierdie verse sê nie net dát God in ons wêreld, en vir ons wêreld, verlossende geskiedenis kom maak nie.  Hierdie verse sê ook hóé God hierdie geskiedenis maak.

Aan die begin van hoofstuk 3 val die kollig op die magtigste mense op aarde.  Tiberius, Pilatus, Herodes, Annas en Kajafas.  Hulle is die hooffigure in die geskiedenis wat mense sal vertel.

Dan skuif die kollig na die afgeleë woestyn.  Daar tree Johannes, die seun van Sagaria op.  Hy praat nie oor massiewe politieke programme en tienjaarplanne nie.  Hy praat met gewone mense.  Hy roep hulle op om hulle te bekeer, hulle sonde voor God te bely, en hulle te laat doop as ‘n teken van hulle berou oor hulle sonde.  Só word betekenisvolle geskiedenis gemaak.

Diegene met wie die Here Hom bemoei, is nie die magtiges op die wêreldtoneel nie.  Hy maak geskiedenis, Hy berei die weg vir sy koninkryk, voor deur gewone mense wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is.

Hierdie is ‘n tema reg deur die Bybel.  Tiberius is keiser in Rome, maar God se Woord kom in die eensame woestyn in die agtertangse provinsie van Juda.  So is God, en so gebeur dit ook hier.  As God mens word en onder ons kom woon, luister skaapwagters na die onbeskryflike engelesang.  Hy kom woon by die eenvoudiges, die man met kameelhaar om sy lyf, die berouvolles, die treurendes, die nederiges, die eensames,  die behoeftiges, die sondaars.

God span die magtiges in

Terwyl al die magtiges van die wêreld genoem word, kom God se skeppende woord na Johannes in die woestyn.  Al die aksies, inisiatiewe en programme van die magtiges word ingespan en in diens geneem wanneer God se woord aksie bring.

In hoofstuk 2 besluit Augustus om ‘n volkstelling te hou.  God gebruik dit om te verseker dat Jesus volgens die profesie in Bethlehem gebore word.  Tiberius en sy gevolmagtigde, Pilatus, se politieke maneuvers laat Jesus aan die kruis beland.  Annas en Kajafas probeer Jesus uit die weg ruim en manipuleer die Romeinse staatsmag daarmee.  Hulle beloof selfs trou aan die Romeinse keiser wanneer Jesus voor Pilatus verskyn.

Intussen bereik God sy goddelike doel deur hierdie mense se knoeiery.  Jesus sterf aan die kruis, en oorwin daarmee sonde en boosheid.  Die Romeinse ryk word binne drie eeue Christelik, die heidense ryk loop sigself te pletter teen die kruis.  Die tempel oorleef ook nie.  Teen die jaar 70 n.C., ongeveer 40 jaar na Jesus se kruisiging, lê dit verwoes.

Maat God se aksie, voorberei deur Johannes die Wegbereider, vanuit die woestyn, bereik die uiteindes van die wêreld.  God se vrede vat die pad wat daarvoor voorberei is en bring hoop en lewe vir miljoene rondom die wêreld.  God se vrede plaas God se wêreld onwrikbaar op koers na God se voleinding daarvan aan die einde van die tye.

Hoopvolle verwagting

Ons word ook ingesluit in hierdie voorbereiding van die weg vir God in hierdie Adventstyd.  Ons word opnuut meegesleur deur die oproep: Berei die weg voor!  Gee julle lewe vir God se aksie sodat alle mense die verlossing kan sien wat van God kom (3:6)

Aangesien God só is …, aangesien God lewend en werksaam in ons konkrete omstandighede is, gewone mense gebruik, en selfs die bose planne van mense gebruik om God se koninkryk te laat kom, kan ons ons hoop op God vestig.  Meer nog, kan ons ons lewens gee vir God se koninkryk in hierdie wêreld.

Ons kan onsself gee om elke kloof vir die Here op te vul, elke berg en bult plat te maak, en die ruwe paaie voor te berei vir die koms van die Koning.

Dit is die eerste manier waarop mens die weg vir die Here kan voorberei: stel jouself oop vir die Here se werk, wees beskikbaar, gereed om die verrassende God en sy werk te volg.

Die tweede manier is om jou te bekeer, om jou sondes te bely.  Johannes die Doper berei die weg voor deur mense op te roep om hulleself oop te stel vir God, om hulle eiewilligheid en selfgerigtheid te bely, op te gee om hulle eie koers in te slaan, en God se koers te volg.

Die derde manier is om te praat, te getuig, te sing en uit te roep Wie God is en hoe groot God se dade is.  Die jubelende verwagting dat God teenwoordig is, God se trou van situasie tot situasie sal betoon.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, ons wil deel wees van die span
wat die pad vir U gereed maak,
wat die paaie vir U reguit maak.
Ons wil elke kloof opvul, en
elke berg en bult platmaak.
Krom paaie moet reguit word
en ruwe paaie moet gelyk word;
sodat mense die verlossing sal sien
wat van God kom.
Amen
(Ahv Lukas 3:4-6)

Offergawes

Wegsending: Lied “367 Ere aan God vs 1”

Seën
Die vrede van God
wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou
in Christus Jesus. Amen (Fil 4:7), of

God se hoop sal vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede sal oor jou hart en verstand die wag hou.
God se vreugde sal jou dra, ook deur hartseer tye.
God se liefde sal vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.