Tweede Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die tweede Sondag van Advent word tradisioneel Sondag van “vrede” genoem.

Samehang en verhaallyn van die vier tekste:

Tema: Oproep tot bekering

Die koms van die Verlosser – wat só betekenisvol is dat Hy deur ‘n boodskapper/wegbereider voorafgegaan word – het bepaalde konkrete gevolge. Hy kom louter en suiwer sy volk/kerk tot ‘n lewe van geregtigheid (Mal 3) en Hy verlos ons tot ‘n nuwe lewe (Luk 1).

Hierdie nuwe lewe word gekenmerk deur progressie en groei – die goeie werk begin in ons deur God, lei tot ‘n toename in liefde en wil kulmineer in ‘n volkome regte verhouding met God (Fil 1).

Uiteindelik is daar die appèl tot bekering tot hierdie nuwe lewe by monde van die Christus se wegbereider: dat hierdie verlossing waarlik almal se deel sal word (Luk 3).

Ander tekste

Lukas 1:68-79
Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy
heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm
oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met ’n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Filippense 1:3-11
Danksegging en gebed vir die gemeente
3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

7Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê.. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart.

9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Lukas 3:1-6
Die prediking van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:1–18; Joh 1:19–28)
3 Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.
5Elke kloof moet opgevul
en elke berg en bult
platgemaak word;
die krom paaie moet reguit
en die ruwe paaie gelyk word.
6En al die mense sal
die verlossing sien
wat van God kom.”

Fokusteks

Ek gaan nou my boodskapper stuur
17Julle het die Here moeg gemaak
met wat julle gesê het,
en dan vra julle nog:
“Waarmee het ons Hom
moeg gemaak?”
Julle het dit gedoen toe julle gesê het:
“Vir die Here is almal
wat verkeerd doen, goeie mense,
Hy hou van hulle,”
of toe julle gevra het:
“Waar is die God wat reg
moet laat geskied?”
3 Ek gaan nou my boodskapper stuur,
Hy sal die pad voor My uit regmaak,
en dan sal die Here na wie julle soek,
skielik na sy tempel toe kom.
Ja, die Verbondsengel na wie julle
met soveel vreugde uitsien,
gaan nou kom, sê die Here
die Almagtige.
2Maar wie kan die koms van dié Engel
verdra,
wie kan standhou wanneer Hy verskyn?
Hy is soos die vuur van die smelters
en soos die seep van die wassers.
3Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit
om die Leviete te suiwer,
om hulle te louter soos goud en silwer,
sodat hulle aan die Here ‘n offer kan bring
wat bestaan uit regdoen.
4Dan sal die offer van Juda en Jerusalem
weer aanneemlik wees vir die Here
soos in die ou tyd,
soos in jare lank verby.
5Dan sal Ek na julle toe kom as regter:
Ek sal sonder versuim regspreek
teen dié wat hulle met toordery ophou,
teen die egbrekers
en dié wat vals ede aflê,
teen dié wat die dagloner te kort doen,
die weduwee en die weeskind veronreg
en die vreemdeling verdring,
teen dié wat nie vir My eerbied het nie,
sê die Here die Almagtige.

Ekstra stof

Die Twaalf Kleiner Profete
Die Kleiner Profete – Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria, en Maleagi – word in die Hebreeuse OT teks as een boek geag.  Daarom is dit ook gewoonlik op een boekrol een na die ander oorgeskryf.  Dit maak deel uit van die tweede hoofdeel van die Hebreeuse Bybel (tenak), die Profete (nevi’im), in onderskeid van die Wet (torâ) en die Geskrifte (ketuv’im).

Dié boek het bekend gestaan as: “Die boek van die Twaalf“, of die “Kleiner Profete“, of soms net “Die Twaalf“.  Daar is natuurlik ook die “groter” profete: Jesaja, Jeremia en EsegiëlDaniël, hoewel ook gereken as ‘n profeet, word in terme van die indeling van die OT by die Geskrifte gereken.  Dit is ook belangrik om te onthou dat die term “kleiner” net na die lengte van die onderskeie profetiese boeke verwys – die langstes, Hosea en Sagaria het 14 hfste. en die kortste, Obadja 1 hfst. –  nie na hulle belangrikheid of betekenis nie.

Die samebundeling in een boekrol sien ons alreeds in die geskrifte van Jesus ben Sirag aan die begin van die 2de eeu v.C., ongeveer 190 v.C., soos dit ook die geval was in die Dooie See rolle, wat waarskynlik ook dateer uit die tweede eeu v.C., hoewel die orde van die boeke verskil in die onderskeie rolle wat daar gevind is.  In die Christelike OT word elke profetiese boek afsonderlik genoem, maar in die voor-Christelike uitgawes is dit duidelik dat die Kleiner Profete gewoonlik saam as een boek in een boekrol gegroepeer is.

Die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete
Teologiese kernboodskap – verhoudings word gefundeer in die liefde van die Here
Sommige geleerdes reken dat die eerste ses Kleiner Profete rondom die tema van die problematiek van ongeregtigheid (iniquity) saamgestel is, en die laaste ses Kleiner Profete rondom die tema van die verskillende antwoorde daarop (Coggins).  Ander weer vind ‘n tematiese samehang rondom die “dag van die Here” en ‘n fokus op Jerusalem wat in die meeste van die Kleiner Profete voorkom (Sweeney).

Die lyk vir my uit my eie lees van die twaalf boeke dat die teologiese kern van dié boodskap in die liefde van die Here gevind kan word, die konsep wat veral deur Hosea aangeroer word.  Dit is vir my die sleutel om nie net die samehang van die Kleiner Profete se boeke te verstaan nie, maar nog dieper, om God se genade en sy oordeel te kan begryp.

Die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete is dat God se oordeel sowel as sy genade in sy liefde en dít binne verhoudings gefundeer word – binne Israel sowel as daarbuite in sy verhouding met die nasies.

Maleagi – Bekeer julle van geestelike minagting
Die twaalfde boek, Maleagi, ongeveer sestig jaar na Sagaria, rond die boodskap van die Kleiner Profete af deur hulle op te roep om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf deur Hom nie te minag nie, terwyl hulle wag dat sy deurlugtige “dag van die Here” sal aanbreek.

‘n Gepaste noot om die hele OT af te sluit in afwagting van die vervulling van die NT se boodskap van die Messias wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan het.

Inleiding
Dit is duidelik dat die tempel al herbou en in gebruik geneem is (1:10; 3:1). Die aanvanklike opgewondenheid daaroor het egter begin taan.  Ons lees dat die altaardiens herstel is (1:7), maar dat die priesters laks geraak het en die Here met minagting behandel is (1:6).  Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere (kan jy glo!) te offer (1:8, 13-14) en daarby nie hulle volle tiendes te bring na die tempel toe nie (3:6-12).

Ironies genoeg beteken dit dat die Leviete en priesters ook daaronder ly deurdat daar geen voorsiening vir hulle is nie.  Hulle is egter in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here minag in hulle dienswerk.

Die omstandighede waarbinne dié boodskap van Maleagi dus gelewer word, lyk dus na die tyd van Nehemia, waarskynlik sy tweede termyn in Jerusalem van ongeveer 432 v.C. af.  Dit lei ons af onder andere uit die feit dat Maleagi van ‘n Persiese goewerneur praat (1:8 – die Persiese woord vir goewerneur word gebruik) en weens die feit dat Nehemia dieselfde tipe priesterlike nalatigheid en godsdienstig-gemengde huwelike aanvat (Neh. 13) as waaroor Maleagi kla.  Lees meer oor dié tydperk in Nehemia se lewe in my vorige bydrae daaroor: Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn.

Indeling
Maleagi roep die volk op deur God se antwoorde weer te gee op twee basiese probleme wat hulle met Hom het.

Die twee probleme wat hulle met Hom het, is:

  1. dat Hy hulle nie liefhet nie (1:2-5 – Hulle kla: “Hoe het U ons lief?“), en
  2. dat Hy niks doen aan boosheid en onreg nie (2:17 – Hulle kla: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die HERE, met húlle is Hy ingenome.” En: “Waar is die God wat oordeel?“).

Daarop antwoord die Here:

  1. dat hulle Hom minag en dat dit aan die basis lê van hulle ervaring van ‘n gebroke verhouding (1:6-2:9; 2:10-16), en
  2. dat hulle self onreg doen met onder andere toordery, egbreuk, godsdienstig-gemengde huwelike, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes).  Dit is dinge wat God veroordeel. (2:17-3:5; 3:13-4:3).

God het dus nie verander nie – hulle het!
Met hierdie boek roep Maleagi hulle dus op om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf en Hom nie te minag met oppervlakkige godsdienstigheid nie en Hom boonop op die koop toe op allerhande maniere te verkwalik nie.  God sal sy kant van die verbond handhaaf.  Daarop kan hulle staatmaak.  Wat in gedrang is, is hulle eie gehoorsaamheid aan Hom.

Maleagi berei hulle ook voor om die deurlugtige, maar nog toekomstige, “dag van die Here” te verwag, wanneer die lankverwagte Messias te voorskyn sal kom wat versoening in die gemeenskap sal bring.  Dan sal: “die son van redding deurbreek met genesing in sy strale.” (4:2).

Dit is ‘n gepaste noot om nie net die Twaalf Kleiner Profete mee af te sluit nie, maar die hele OT boodskap  in afwagting van die Messias-Koning wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan, soos die NT met die vier Evangelies se boodskap van Jesus, die Messias, aankondig.

2:17-3:5 – Die volk: Vir U is almal wat verkeerd doen, goeie mense.
Maleagi begin met die stelling: “Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het.”  Op hulle vraag waarmee? antwoord hy: “toe julle gesê het: ‘Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle.’” Sowel as toe hulle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?

Die Here antwoord op ‘n manier wat hulle moontlik nie verwag het nie.  In plaas daarvan om in die eerste plek die onreg in die gemeenskap aan te spreek, gaan die Here begin met sy eie mense, meer spesifieke die Leviete, voordat Hy vandaar af uit die hele geloofsgemeenskap sal verander.

  • Die probleem met die tempelpersoneel is dat hulle hulle rol om tussen God en die volk te staan en dié verhouding te fasiliteer, verwaarloos het.
  • Die probleem met die volk is dat hulle self onreg doen met dinge wat getuig van ‘n halfhartige dien van die Here wat ook tot onreg in die gemeenskap lei.  Hulle is onder andere skuldig aan toordery, egbreuk, godsdienstig-gemengde huwelike, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes).

Dit is dinge wat God veroordeel en wat Hy gaan regstel.  Let op dat die Here hulle van binne af transformeer dat hulle: “aan die Here ‘n offer kan bring wat bestaan uit regdoen.” Dit is die voorvereiste wat hulle gewone offers weer aanneemlik sal maak vir die Here.

Die Here se agent van verandering word in eskatologiese taal geskets, soos in die derde en vierde perikoop ook na vore sal kom.  Dit is sy boodskapper.  Hoewel die woord ooreenkom met Maleagi se naam, wat ook “boodskapper” beteken, word die boodskapper ook die Verbondsengel – die enigste plek in die Bybel wat dié woord gebruik word – genoem wat die gesag en die mag het om die volk te suiwer om die Here op die regte wyse te kan dien.  Hy neem dus ‘n Messiaanse karakter aan, hoewel Maleagi anders as Sagaria nie van ‘n Lydende Messias praat nie.  Sy reinigende en regsprekende werk staan voorop.  In die NT word dié boodskapper met Johannes die Doper verbind (Mark. 1:2-3; Matt. 11:10,14)

Liturgie

Sondag van Vrede
(In die liturgie word weer gebruik gemaak van Bybelmedia se Woord en Fees 2013/14.  As julle nie verlede week aandag gegee het aan Wêreldvigsdag nie, kan julle dit gerus hierdie week doen. Sien verelde week se liturgiese voorstelle.)

RUS

Toetrede: Lied 354 “O Christus, ons verlange

Aanvangswoord: (Lukas 1: 68-69)

Seëngroet

Lofsang: Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe’

Aansteek van tweede Adventskers (Geloofsbelydenis): Lied 284 Laat, “Heer, u vrede deur my vloei”

HOOR

Gebed: Lied 178 of VONKK 26 of Flam 20

Skriflsesing: Maleagi 2:17-3:5

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Skuldbelydenis / Toewyding

Genadeverkondiging: Lukas 1:76–79

Respons: VONKK 128 of Lied 329

Dankoffer

Slotsang: VONKK 91 of Lied 332

Seën 

Respons: Lied 369 of  VONKK 65

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

SONDAG VAN VREDE

Toetrede
Lied 354 “O Christus, ons verlange”

Aanvangswoord
“Lofwaardig is die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade
opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
’n Sterk Verlosser het Hy
vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
(Lukas 1: 68-69)

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het, wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.

Lofsang
Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe”

Aansteek van tweede Adventskers (Geloofsbelydenis): ondag van Vrede
Liturg:  Ons verwerp alle vorme van geweld en ontmensliking omdat ons glo in God die Vader.
Gemeente:  Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.  

Liturg: Ons erken die menswaardigheid van alle mense omdat ons glo in Jesus Christus.
Gemeente:  Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het. 
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.

Liturg:  Ons praat en leef profeties omdat ons glo in die Heilige Gees.
Gemeente:  Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye. 

Liturg:  Vrede is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees. Amen.

Sang terwyl die kers aangesteek word:
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei” terwyl die tweede Adventskers aangesteek word.

Liedere

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK: Flam / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, U laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is.

Refrein:

VONKK 128 “Eer Aan God (Lukas 2:14)  – kanon”
Lukas 2:14
Teks: Gloria . . . et in terra pax – Taizé; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Kersfees en Epifanie

Eer aan God, eer aan God in die hoogste hemel.
Eer aan God, eer aan God, halleluja!
Laat daar vrede wees vir almal op aarde,
God skenk aan ons sy genade.

Gloria, gloria, in excelsis Deo,
gloria, gloria, alleluja!
Et in terra pax hominibus bonae voluntatis.

VONKK 26 “Christus Verlosser”
Teks: Christe Salvator – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Jan Steyn 2004 (Pro Deo)
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed

Christus Verlosser,
Seun van die Vader,
Here, gee ons vrede.

Christe Salvator,
Filius Patris,
dona nobis pacem.

VONKK 91 “Die Kleine Dorpie Betlehem”
Teks: O Little Town of Bethlehem – Phillips Brooks 1868;
Afrikaanse weergawe: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie:  FOREST GREEN – Tradisioneel Engels E16
Orrelbegeleiding en kantyoryverwerking: Ralph Vaughan Williams 1906
Klavierbegeleiding: Jacus Krige 2010
© Afrikaanse teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Die kleine dorpie Betlehem
lê rustig daarie nag,
terwyl dié wonderwerk gebeur
waarvoor die wêreld wag.
Want diep in daardie donker nag
verskyn ’n nuwe dag
vir almal wat in nood verkeer
en op sy redding wag.

2.  Toe God se Seun gebore is,
was daar geen plek vir Hom;
so word ’n donker dierestal
‘n helder heiligdom.
Want soos voorspel en lank verwag
verskyn ’n Koningster,
wat ewig lig en vrede straal
na mense wyd en ver.

3.  O Koningskind daar in die krip,
U kom hier by ons woon.
Net U versoen ons sondeskuld
en maak ons lewe skoon.
Die engele bring blye eer,
want U kom ons herstel.
O Vredekoning, God met ons,
U is Immanuel.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 178 “Dona Nobis Pacem” of
VONKK 26 Christus Verlosser of
Flam 20 U Is Die Lig

Skriflsesing: Maleagi 2:17-3:5

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Jy kan ‘n video wys van iemand wat glas blaas en die inleiding van die preek gebruik as familie-oomblik.  Hier is ‘n mooi, kort video.
OF
Ons leer by Maleagi dat God nie altyd saggies en teer is nie.  Soms dring God daarop aan dat ons verander, roep God ons tot dapper dade.  Dis soos in C.S. Lewis se boek “The Lion, the Witch and the Wardrobe”.  Wanneer die kinders hoor dat hulle Aslan gaan ontmoet, is hulle met reg bekommerd.

“Is hy ‘n man?” het Lucy gevra.

“Aslan, ‘n man?” het Mnr. Bewer streng gesê.  “Beslis nie.  Ek sê vir jou, hy is die Koning van die oerwoud, die seun van die groot Koning-Anderkant-die-See.  Weet jy nie wie is die Koning van die oerwoud nie?  Aslan is ‘n leeu, die Leeu, die Groot Leeu.”

“Ooh” het Susan gesê.  “Ek het gedink hy was ‘n man.  Is hy… veilig?  Ek sal nogal gespanne wees om ‘n leeu te ontmoet.”

“Dit is so, skatjie, en moenie ‘n fout maak nie,” het Mev. Bewer gesê, “as daar enige iemand is wat voor Aslan kan verskyn sonder dat hulle knieë bewe, is hulle of dapperder as meeste of net gewoon laf.”

“So, hy is nie veilig nie?” het Lucy gevra.

“Veilig?” het Mnr. Bewer gesê.  “Hoor jy nie wat Mev. Bewer vir jou sê nie?  Wie het iets gesê oor veilig?  Natuurlik is hy nie veilig nie.  Maar, hy is goed.  Hy is die Koning.”
(Hierdie gesprek is nie in die fliek nie.)
OF
Kinders moet soms medisyne drink wat sleg smaak.  Of dalk moes van hulle al na ‘n besering oefeninge doen wat hulle seer gemaak het.  En meeste kinders weet dat die dissipline om suksesvol te wees in musiek of sport, nie altyd lekker is nie.  Hierdie ervarings sal hulle help om Maleagie se boodskap te hoor – dat ons soms moeilike dinge moet doen om dié mense te wees wat God ons geskape het om te wees.

Preekriglyn

[Nota: Dit word aanbeveel dat die Skriflesing strek van Maleagi 2:17 tot 3:4 of 3:5.]

Ontmoet Simon. Simon is die stigter en direkteur van Alisim Glas, ‘n klein besigheid wat hy in 2003 gestig het. Simon is ‘n glasblaser, en hy skep dus skep glasprodukte.

Aanvanklik het die klein maar suksesvolle besigheid uit sy huis in die klein dorpie Joska, naby Nairobi in Kenia, geopereer. Simon het die besigheid as “jua kali” begin, wat letterlik beteken hy het “onder die warm son” gewerk. Dit bedoel hy het begin met wat hy gehad het, en sy besigheid opgebou met die basiese middele en geleenthede tot sy beskikking.

Op die oomblik is Simon se produksievermoë nog klein. Hy beplan egter groei. Met sy spaargeld, beleggings en lenings het hy ‘n klein stukkie grond naby sy bestaande werkswinkel gekoop. Hy wil ‘n groter werkswinkel bou wat meer kan produseer. Op hierdie manier maak hy toenemend ‘n impak as werkskepper op ‘n klein gemeenskappie in Kenia.

Deur vuur heen

Glasblaas werk met vuur. Die rou materiaal waaruit glas bestaan word verhit tot meer as 1,300 grade Celsius. Teen hierdie temperatuur vorm die glas as ‘n vloeistof wat wit van die hitte is. Nadat al die lugblasies en onsuiwerhede uit die glas gekom het, word die temperatuur verlaag tot sowat 1,100 grade. Nou is die glas ‘n helder oranje kleur, en kan die glasblaser sy werk doen.

Die tegniek om glasvoorwerpe uit gesmelte glas te blaas, dateer reeds uit die eeu net voor Jesus gebore is. Die glasblaser gebruik ‘n blaaspyp wat self verhit word. Daarna word dit in die gesmelte glas gedruk om ‘n hoeveelheid glas “op te tel”. Dit werk byna soos heuning wat om ‘n lepel gedraai word om dit op te tel. Hierna word die glas op ‘n dik plaat staal gerol om vorm daaraan te gee. Tradisioneel is marmer in plaas van die meer moderne staal gebruik. Dit skep ‘n lagie koel glas aan die buitekant, wat die blaas van ‘n vorm in die gloeiende glas vergemaklik.

Nou is die glas gereed om geblaas en gevorm te word. Die glasblaser blaas lug in die glas en kan dit ook vorm met verskillende instrumente. Daarna word die voet en opening van die glas afgewerk, en het mens ‘n wonderlike produk.

Naas die vrye blaas van glas, kan die glas ook in voorafvervaardigde vorms geblaas word. Die buitekant van die glas druk teen die vorm vas, en so kry die glas ‘n bepaalde vorm.

Die ongelooflike skoonheid van goeie glas word gebore uit die vuur waardeur dit gesmelt en gesuiwer word. Daarna moet dit met vaardigheid afgerond word.

Die smeltkroes van vuur skep geleenthede. Dit ken ons baie goed. Nie net pragtige glas nie, maar ook suiwer edelmetale soos goud en silwer word uit die reinigende en vormende effek van vuur gebore. Vuur en smeltkroes skep inderdaad wonderlike geleenthede.

Agteruitgang

In ons teks is reiniging ook ter sprake, omdat die volk van God suiwering nodig het.

Die toneel is die Ou Testamentiese Godsvolk waarvan ‘n oorblyfsel teruggekeer het na die ballingskap in Babel. Hulle is nou geruime tyd terug in Jerusalem, die stad is herbou en die tempel is ook weer opgerig.

Waar die volk aan die begin opgewonde was oor die herstel van stad en tempel, begin die toewyding nou af te neem. Ons lees dat die altaardiens herstel is (1:7), maar dat die priesters laks geraak het. Die Here is met minagting behandel (1:6).  Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere te offer (1:8, 13-14) en daarby nie hulle volle tiendes te bring na die tempel toe nie (3:6-12).

Die Leviete en priesters ly daaronder deurdat daar geen voorsiening vir hulle is nie. Hulle is egter in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here minag in hulle dienswerk.

Onreg bring voorspoed

In Maleagi 2:17 word ‘n verdere aanklag teen die volk uitgespreek. Die volk het die Here moeg gemaak. Hoe? Hulle kyk om hulle rond en maak die optelsom dat dit goed gaan met hulle wat onreg pleeg. Dit wil lyk asof hulle wat geen erg het aan God en geen snars omgee vir die gebooie nie. God se opdrag tot sorg van die armes en noodlydendes word verontagsaam. In die wandelgange begin die gerugte dus sirkuleer dat God nie omgee as daar ongeregtigheid geskied nie en dat God die onregverdiges ondersteun, selfs aan hulle kant is. Die resultaat van hierdie gerugte is dat die volk self dade van ongeregtigheid begin pleeg. Hulle is nie meer getrou aan die verbondsverhouding met God nie.

Voorspelling

Die Here is vanselfsprekend nie tevrede nie. God reageer deur Maleagi op hierdie gerugte. God gee sy visie van die nuwe toekoms wat Hy vir Israel beplan. Hy gaan beslissend in die volk se geskiedenis handel.  ‘n Boodskapper of profeet word voorspel wat die pad sal gereedmaak.  Die profesie verwys na een of meer persone wat sal kom. Een sal kom om die pad vir die Here reg te maak. Die ander sal God se werk doen. Ons dink daarom aan Johannes die Doper, die wegbereider vir Jesus, en ook aan Jesus self wat sou kom.

God se (G)gestuurdes sal die volk op die regte pad lei om God en medemens weer suiwer te dien.

Suiwering

Net so belangrik soos die figure wat God gaan stuur, is ook die aksie wat God deur hulle gaan voltrek. In die lig van die feit dat die volk God moeg maak, sou mens ‘n reaksie van oordeel en vernietiging verwag. Wat aangekondig word, is egter nie ‘n vuur van vernietiging nie, maar eerder ‘n vuur van suiwering. ‘n Geweldige warm vuur en sterk seep word voorspel sodat daar ‘n proses van suiwering kan plaasvind. Dit begin by die Leviete, wat vir die tempeldiens verantwoordelik is. Daarvandaan sal dit uitkring:

Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit
om die Leviete te suiwer,
om hulle te louter soos goud en silwer,
sodat hulle aan die Here ‘n offer kan bring
wat bestaan uit regdoen.
Dan sal die offer van Juda en Jerusalem
weer aanneemlik wees vir die Here
soos in die ou tyd,
soos in jare lank verby (3-4).

Doel van die suiwering

Die doel van die suiwering, so blyk dit uit vers 5, is om die verbondsverhouding te herstel:
Dan sal Ek na julle toe kom as regter:
Ek sal sonder versuim regspreek
teen dié wat hulle met toordery ophou,
teen die egbrekers
en dié wat vals ede aflê,
teen dié wat die dagloner te kort doen,
die weduwee en die weeskind veronreg
en die vreemdeling verdring,
teen dié wat nie vir My eerbied het nie,
sê die Here die Almagtige (5).

God gaan die volk met groot moeite en sorg eerder suiwer as vernietig. Die proses van suiwering is natuurlik pynlik, veral as al die leuens, valsheid en onsuiwerheid wegbrand. Die doel is egter om die geloofsgemeenskap te herinner waarop dit regtig aankom, naamlik dat hulle geroep word om in ‘n egte verhouding met God te staan, en sodoende ook met die gebroke wêreld.

God roep die verbondsgemeenskap om deel te word van die beweging na die wêreld toe en om te sorg vir die arme, die vreemdeling en vir hulle wat verstoot word. Die smeltkroes dien hierdie doel. God brand die gedrag wat skade doen, weg. Die miskenning van die arme en die noodlydende doen die verbondsverhouding skade aan. Dit is die hart van God dat die arme en die noodlydende versorg en beskerm word. Om gesuiwer te word, soos die teks dit voorop stel, is om ‘n gemeenskap te wees wat in ‘n opregte, gehoorsaam verhouding met God leef en om reg te laat geskied aan die weerloses.

Ons omgewing

Dit verg nie veel verbeelding om na ons eie tyd en omstandighede te kyk en die ongehoorsaamheid aan God raak te sien nie. Baie mense verbreek die verhouding met God omdat dit nie vir hulle sin maak nie. Mense begin dink die onregverdige en skurkagtige mense gaan vooruit. God gee nie om oor onreg nie. Daarom is dit beter om die rug op God te draai en liewer te leef soos jy wil.

Dit is in die karakter van God om suiwerend by sy volk betrokke te raak. Daarom kan ons gerus oop wees vir die suiwering van God. Ons roeping is om lig te wees wat duisternis verdryf, sout wat bederf keer, suurdeeg wat die hele deeg deursuur en so reinig om aan God se bedoelinge te voldoen.

Ons eie suiwering

Dalk moet ons minder besorg wees oor ander se onsuiwerheid voor God, en meer oor ons eie proses van geestelike vernuwing. Hoe kan ons voor God gaan staan, by God aanklop om ons individuele en gemeenskaplike lewens voor God bloot te lê? Wat is nodig om die behoefte tot eie suiwering te ontwikkel en voor God uit te spreek?

God se belofte is dat God sy volk vernuwe, reinig, vorm om vir Hom diensbaar te wees. Dit verg sondebelydenis en bekering, maar ook die hernude ontdekking van God se liefde en genade. Op voetspoor van die reiniging van goud en silwer in die smeltkroes, of die wonderlike vorme wat die glasblaser uit die smeltkroes van glas te voorskyn bring, kan ons ons eie vernuwing en gehoorsaamheid van God afbid.

Ons vind ‘n aangrypende voorbeeld van hierdie soort benadering in die woorde van N P van Wyk Louw in die gedig “Vroegherfs”.

Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Ons teks moedig ons aan om ook ons lewe voor God oop te stel vir suiwering, en om sodoende gestroop te word van alles wat “pronk en sieraad” is. Eerder as ‘n boodskap van straf en verdoemenis, word die teks ‘n uitnodiging tot inkeer en ‘n voorbereiding om die Een te vier wat ons in voorbeeld kom wys het hoe ‘n lewe na God se hart werklik lyk.

Ons is tans in die Kerstyd. Ons vier die koms van die Een wat deur Maleagi en later Johannes die Doper aangekondig is. Die Een wat kom ons ons lewens te vernuwe, deur Woord en Gees.

Laat ons in die Kerstyd bid: O, kom Skepper Gees, o kom Lewende Here Jesus Christus en vernuwe ons!

God stuur ons om te leef

Skuldbelydenis / Toewyding
Kom ons stel ons lewe voor God oop vir suiwering.

Stil gebed

Genadeverkondiging
Sagaria sê in Lukas 1:76–79 oor Johannes:
“En jy, kindjie,
’n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis
van hulle sondes,
danksy die genadige ontferming
van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
om lig te bring aan dié
wat in duisternis
en in die skaduwee
van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
Kom ons leef dan vanuit hierdie kennis van verlossing  deur vergifnis van ons sondes, danksy die genadige ontferming van ons God.

Respons
VONKK 128 Eer Aan God of
Lied 329 “Want so lief ht God die wêreld gehad”

Dankoffer

Slotsang 
VONKK 91 Die Kleine Dorpie Betlehem

Lied 332 “God se liefde, so oneindig”

Seën 
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen

Respons
Lied 369 “Ere aan God” of
VONKK 65 Ere Aan God In Die Hoogste (kanon)
Teks: Gloria in excelsis Deo – Lukas 2:14  Melodie: Gloria in excelsis Deo  – Ludwig Ernst Gebhardi 1830
© Teks en melodie: Openbare besit RUBRIEK: Kanon – Kersfees en Epifanie

1. Ere aan God in die hoogste,

2. vrede op aarde, op aarde,

3. in die mense ‘n welbehae.

4. Amen. Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.