Tweede Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Op die tweede Sondag in Advent dink ons aan die aankondiging van die wegbereider wat die pad vir die koms van die Messias gereedmaak. Johannes is die wegbereider. Hy roep die mense op om hulle lewe te verander en te lewe soos God dit wil hê, naamlik dat hulle geloofsvrugte moet dra (Matt 3:1-12).

ʼn Kind gebore uit die stam van Isai sal reg leef, koning word en uiteindelik ook regter wees. Hy kom sy volk verlos (Jes 11:1-10). God sal hom ondersteun om reg te laat geskied (Ps 72:1-7, 18-19). Wanneer dit gebeur sal ons weet dat God koning is en sy Woord betroubaar. Hy is ons hoop (Rom 15:4-13).

Ander tekste

Jesaja 11:1-10
Die loot uit die stomp van Isai
11 ’n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen
en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind
in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek
volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.
4Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land
regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land
hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle
om die lewe bring.
5Hy sal regverdig
en betroubaar regeer.
6Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste
sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
7Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
8Babatjies sal by die gate van adders
speel,
klein kindertjies sal hulle hande
uitsteek na giftige slange.
9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.
10In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ’n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

Psalm 72:1-7, 18-19
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see, 
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring, 
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep, 
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm, 
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.
15Mag die koning lank lewe, 
mag daar vir hom goud uit Skeba
gebring word;
mag die mense gedurig vir hom bid
en die hele dag seënbedes
vir hom uitspreek.
16Mag daar volop graan in die land
wees, 
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif, 
mag die oes so welig wees
soos die Libanon, 
die graan so geil opskiet
soos gras in die veld.
17Mag die koning se naam
altyd onthou word, 
mag sy roem duur
so lank as die son daar is, 
sodat al die nasies hulle
in sy regering verlustig
en hom prys!

18Geloof sy God die Here,
die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam
vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld
vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.

20Hier eindig die gebede van Dawid, 
seun van Isai.

Romeine 15:4-13
4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Die evangelie is vir alle mense
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ’n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:
“Daarom sal ek U loof
voor die nasies,
en tot eer van u Naam
sal ek ’n lofpsalm sing.”
10En elders lui dit:
“Verbly julle, ander nasies,
saam met sy volk.”
11En:
“Prys die Here, alle nasies!
Loof Hom, alle volke!” e
12En Jesaja sê ook:
“Isai sal ’n nakomeling hê,
en Hy sal opstaan om die nasies
te regeer;
op Hom sal die nasies
hulle hoop vestig.”

13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Fokusteks

Matteus 3:1-12
Johannes die Doper en sy prediking
(Mark 1:1–8; Luk 3:1–9, 15–17; Joh 1:19–28)
3 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak
die paaie vir Hom reguit.”

4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 5In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. 6Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

7Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. 9Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.”

Ekstra stof

Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
Matteus spring van Jesus se geboorte en uiteindelike verblyf in Nasaret direk na die voorbereidingswerk van Johannes die Doper (3:1-12) en die publieke aankondiging van Jesus as God se geliefde Seun, soos deur sy doop met water en deur die neerdaal van die Gees in die vorm van ‘n duif op Hom bevestig word (3:13-17).

Johannes die Doper maak die pad vir die Here gereed – 3:1-12
Johannes die Doper begin sy bediening om die Joodse gemeenskap voor te berei om die boodskap van die koninkryk van die hemele wat in Jesus aanbreek, te kan ontvang.  Dit behels ‘n eenvoudige maar duidelike boodskap van bekering.  Dat dit só ‘n groot impak gehad het, word deur Matteus verbind aan die feit dat Johannes se bediening die vervulling van Jesaja 40:3 se profetiese belofte behels.

Johannes se klere van kameelhaar met ‘n leergordel om sy heupe roep daarby ook die profeet Elia in herinnering (vgl. 2 Kon. 1:8 – Elia dra velklere en ‘n velgordel; vgl. ook Sag. 13:4 wat ‘n harige kleed met profetewerk assosieer).  Later in die evangelie sal Jesus Johannes op twee geleenthede ook direk met Elia verbind (vgl. Matt. 11:12-14 en 17:9-13).

Omdat Johannes se bediening deur ‘n groot deel van die Jode erken word as van profetiese belang laat baie van hulle hul deur hom doop in die Jordaanrivier met die belydenis van hulle sondes.  Dit is interessant dat hulle kies om die doop van Johannes te aanvaar, omdat dié doop waarskynlik verband gehou het met die ander Joodse doopgebruik van dié tyd vir mense wat uit die heidense nasies die Joodse geloof aanvaar het.  Die simboliese afwas van sondes was waarskynlik die vernaamste motivering waarom dit vir hulle gepas was.

Die Fariseërs en Sadduseërs wat na sy doop kom kyk het, word egter deur Johannes baie skerp tereggewys.  Die NAV vertaling van vers 7 kan ‘n mens laat dink dat hulle ook gedoop wou word, maar in die oorspronklike staan eintlik net dat hulle “na sy doop” gekom het, sommige waarskynlik nuuskierig, ander omdat hulle gedoop wou word, en nog ander, soos ‘n mens later in die verhaal gaan agterkom, omdat hulle hom as teenstander beskou het.

Johannes laat hulle egter onder geen illusies nie.  In die eerste plek, sê hy, as hulle gedoop wil word,  moet hulle vrugte dra wat by die bekering pas, anders sal die doop niks help nie (vers 7-8).  Sondebelydenis moet ‘n nuwe lewenswyse inlei.  In die tweede plek, sê hy, moet hulle ook nie die fout maak om te dink dat hulle Joodse afkoms hulle gaan help in die verlossende oordeel van God wat op pad is nie (vers 9-10).  Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie; net ‘n gehoorsame lewe.

Hierdie verlossende oordeel van God word dan aan die een wat ná Johannes kom, gekoppel.  Jesus is die een wat hierdie verlossende oordeel van God sal voltrek – verlossing deur die Heilige Gees vir die gelowiges/gehoorsames (koring) en oordeel deur die doop met vuur vir die ongelowiges/ongehoorsames (kaf) op die dorsvloer van die wêreld (vers 11-12).

Jesus word as Seun van God bevestig deur die doop en die duif – 3:13-17
Jesus dring aan daarop dat Johannes Hom doop: “want dit is goed dat ons op hierdie manier alle geregtigheid vervul” (soos dit in die oorspronklike Grieks staan).  Dit is net deur Jesus se eie kontak met die bediening van sy voorloper, Johannes die Doper, dat Jesus sy eie bediening as uitvloeisel van Johannes s’n kan voortsit.  Só word God se wil, sy geregtigheid, vervul.  Die doop bevestig ook Jesus se menslikheid.

Nadat Jesus gedoop is, daal die Gees van God soos ‘n duif op Hom neer en ‘n stem uit die hemele bevestig Jesus se Seunskap: “Hy is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”  Al vier evangelies praat van die Gees se neerdaling in die vorm van ‘n duif wat waarskynlik verwys na die aanvanklike beweging van die Gees van God wat oor die waters gesweef het aan die begin van die skepping (Gen. 1:2) en deur sommige rabbi’s uitgelê is met die beeld van ‘n duif (Hagner).  Die duif bevestig ook Jesus se goddelikheid.

Hiermee word God se herskepping van alles wat bestaan dus beslissend ingelui.

Liturgie

In die liturgie is gebruik gemaak van voorstelle in Woord en Fees 2016/17.

Oorweeg om vanjaar ’n “Donker Advent” te herdenk.  John de Gruchy skryf dat Advent juis ’n tyd van berou en refleksie is.  Hierdie is ’n geleentheid om onsself voor God te verootmoedig in afwagting van die koms van Christus.

Gemeentes wat vanjaar hierdie “Donker Advent” wil herdenk, kan kreatiewe opsies oorweeg.

Ek dink aan goed soos ’n leë Adventkrans, sonder die normale versierings.  Dalk selfs ’n Adventkrans wat van droë wingerdstokke gemaak is en soos ’n doringkroon lyk.  Die weeklikse gebede met die aansteek van die Adventkers kan gebede van lament of klag wees.  Julle kan elke week ’n ander saak kies om op te fokus:  Advent 1 = hoop:  kan moontlik fokus op M.I.V. & Vigs.  Advent 2 = vrede:  onlus en geweld.  Advent 3 = vreugde:  onreg en armoede wat mense van hul lewensvreugde en menswaardigheid stroop.  Advent 4 = liefde:  rassisme.

Daar kan ’n swart lap agter die krans gehang word, of ’n swart lap gebruik word in stede van die gebruiklike kanselkleed.  Daar kan ook ’n onversierde Kersboom (of dooie tak of droë garingboom) in die liturgiese ruimte wees, met ’n bak vol óf donker linte óf kaartjies met linte (sodat dit aan die boom/tak gehang kan word).  Lidmate kan kort gebede op die kaartjies skryf en aan die boom/tak hang, of linte knoop as simbool van hul gebed.

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: Jesaja 11

Seëngroet 

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Wet (oproep om gereed te maak vir die koms van die koning) (Romeine 15)

Adventkrans as verootmoediging / lament

Vryspraak: Johannes 10:7-10

Lofprysing met aanvaarding van vryspraak  (Psalm 72)

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Epiklese: Gebed AHV 1 Samuel 2:1-9

Skriflesing: Matteus 3:1-12

Familie-oomblik

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 504 “Kom laat ons saam tot Jesus nader vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord 
11 ’n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen
en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind
in die diens van die Here.
“Kom Here Jesus, ja kom spoedig Heer.”

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en sy Seun Jesus Christus wat gekom het, hier is en weer gaan kom en die Heilige Gees wat ook in Adventstyd God se hoop, vrede, vreugde en liefde in ons harte wil laat leef.

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Wet (oproep om gereed te maak vir die koms van die koning) (Romeine 15)

Die evangelie is vir alle mense
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ’n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:
“Daarom sal ek U loof
voor die nasies,
en tot eer van u Naam
sal ek ’n lofpsalm sing.”
10En elders lui dit:
“Verbly julle, ander nasies,
saam met sy volk.”
11En:
“Prys die Here, alle nasies!
Loof Hom, alle volke!”

Adventkrans as verootmoediging / lament
Vir hierdie “Donker Advent” kan julle ‘n leë Adventkrans, sonder die normale versierings, gebruik. Dalk selfs ’n Adventkrans wat van droë wingerdstokke gemaak is en soos ’n doringkroon lyk.

Gebruik die aansteek van die Adventkers elke week as ’n geleentheid vir voorbidding of klag.

Tweede Adventsondag, “Sondag van vrede”, bevestig aan ons dat Johannes die Doper gekom het om die weg vir die koms van die Vredevors voor te berei. Hy wat vir alle mense vrede op aarde bring en in wie God ʼn welbehae het. Ons moet die vrede wat die Here gebring het die hele wêreld indra en bevestig.

Fokus vanoggend op die onvrede in ons land/ samelewing/ gemeenskappe. Betreur ons gebroke samelewing voor die Here en bid dat Sy vrede hoogty mag vier in hierdie advent en Kerstyd.

Vryspraak 
Genadeverkondiging / belofte:  Herinner die gemeente elke week, na die wet as oproep om gereed te maak en die Adventkrans as verootmoediging / lament, aan die belofte waarna ons met verwagting uitsien.

Johannes 10:7-10
7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Lofprysing met aanvaarding van vryspraak  (Psalm 72)
18Geloof sy God die Here,
die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam
vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld
vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.
Saam met Maria juig ek oor God my redder,
want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.
Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,
kom bied ek myself aan,
uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3″

Liedere

F164. “Elke Knie Sal Voor Hom Buig” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Fil 2:10,11)

Elke knie sal voor Hom buig.
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely
Jesus is die Heer.
God het Hom ‘n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.

Elke bloedgewaste sing
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.

Elke man en vrou en kind sing
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink
Jesus is die Heer.
Hemel,  aarde dal en kruin sing
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin
Jesus is die Heer.  [x3]
Jesus Christus. [x2]
Jesus is die Heer.

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:
3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gebed AHV 1 Samuel 2:1-9
“Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here.
Ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het.
2Daar is geen heilige soos U nie, Here
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos ons God nie.
Die Here is ’n God van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.
4“Die boog van die magtiges is verbreek,
dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.
6“Die Here maak dood en Hy maak lewend,
Hy laat afdaal na die doderyk toe
en Hy laat daaruit opkom.
7Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder, ook gee Hy aansien.
8Hy laat die geringes uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op van die ashoop af
om hulle by vername mense te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare van die aarde;
Hy het die aarde daarop gegrondves.
9“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad…
’n Mens oorwin nie deur eie krag nie, maar in die Naam van die Here!
Voed ons nou Almagtige Here, met die brood van U Woord! Amen

Skriflesing: Matteus 3:1-12

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel die verhaal van Johannes die Doper in ‘n taal wat vir kleiner kinders ontvanklik is.
Jy kan dit doen ahv die fokusteks in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Kom Ontmoet vir Johannes die Doper
3     1–3 In daardie tyd het Johannes die Doper,’n baie belangrike boodskapper van God, met die mense oor die Here begin praat. Hy het in die woestyn van Judea gepreek. Johannes het vir die mense gesê: “Hou dadelik op om lelike dinge te doen, want God se nuwe wêreld* is hier. Nou moet julle net doen wat God sê.”

Jesaja, ’n ander boodskapper van die Here, het lank terug al oor Johannes geskryf. Hy het gesê:
“In die woestyn is daar ’n man wat hard met die mense praat. Hy sê:
‘Die Here is op pad na ons toe. Julle moet na Hom luister!’”

4 Johannes het nie gewone klere gedra nie. Sy klere was van vel gemaak. En hy het ’n dik leergordel om sy lyf gehad. Sy kos was baie anders as gewone mense s’n. Hy het sprinkane geëet, en heuning wat hy in die veld gekry het.

5–6 Die mense het graag na Johannes se preke gaan luister. Van oral af het hulle gekom om te hoor wat hy sê. Baie mense wat lelike dinge gedoen het, het daar voor almal vir die Here kom sê dat hulle jammer is. Johannes het dié mense daar in die Jordaanrivier met water gedoop*.

7–10 Op ’n dag het ’n klomp skynheilige mense na Johannes toe gekom om gedoop* te word. Hy was baie vies hieroor. “Julle klomp skelms!” het hy vir hulle gesê. “Moenie dink God gaan skielik vriendelik met julle wees as ek hierdie water op julle uitgooi nie. Nee, julle moet dadelik ophou om lelike dinge te doen wat God se hart seer maak. Doen wat Hy sê! Moenie dink julle is oulik omdat Abraham julle oupagrootjie is nie. Want God kyk nie na wie jou oupa en oupagrootjie is nie. As sulke dinge vir God belangrik is, het Hy al lankal die klippe hier rondom julle in Abraham se kinders verander. As julle nie doen wat God sê nie, gaan Hy julle swaar straf. Onthou: bome wat nie vrugte dra nie, word uitgehaal! God gaan dieselfde met julle doen as julle nie doen wat die Here gelukkig maak nie. Hy gaan julle in ’n groot vuur gooi wat vir altyd brand.”

11–12 Johannes het toe vir die ander mense gesê: “Ek doop* julle met water omdat julle jammer is oor al die lelike dinge wat julle gedoen het. Maar Iemand anders kom nou na julle toe wat sommer baie belangrik is. Hy is ’n miljoen maal belangriker as ek! Maar ek het goeie nuus vir julle: hierdie belangrike Man gaan die Heilige Gees* vir julle gee. Die Heilige Gees* gaan julle lewe weer mooi en skoon maak. Hy gaan sorg dat julle net na God luister. Daar sal nie eens ’n kolletjie sonde* in julle lewe oor wees nie. Maar oppas, mense wat nie na Hom wil luister nie, is in groot moeilikheid. Die Heilige Gees* sal hulle in die vuur gooi wat vir altyd brand.”

Ander inligting wat gebruik kan word is uit die Bybelse Ensiklopedie onder redaksie van WH Gispen (1977)

Johannes die Doper. Hy was die seun v.d. Priester * Sagaria * en Elisabet *, wat ook uit die geslag van Aäron * was, ’n niggie van Maria, die moeder v.d. Here, Toe Sagaria en Elisabet reeds oud was, en nie meer verwag het om ’n kind te ontvang nie, het die engel Gabriël * in die tempel aan Sagaria voorspel dat hy ’n seun sou hê wat Johannes genoem moes word. Dié seun sou ’n groot werk van God in Israel doen; hy sou as ’n nasireër lewe en van vóór sy geboorte af met die Heilige Gees vervul word. Hy sou in die gees en die krag van Elia * vir die Here ’n toegeruste volk berei. Toe Sagaria hierdie profesie nie kon glo nie, het die engel vir hom gesê dat hy stom sou wees totdat Johannes gebore word. Elisabet het ooreenkomstig die belofte van God swanger geword en op die bestemde tyd geboorte aan Johannes geskenk. Oor die naam het daar verskil van mening onder die bure ontstaan, maar toe Sagaria verklaar dat die kind Johannes genoem moes word, het dit sy naam geword. Toe kon Sagaria weer praat, Lk. 1. Van die jeug van—*die Doper is ons niks bekend nie. Hy het in die woestyne vertoef tot sy optrede in die openbaar, Lk. 1:80. Ons weet dus nie of daar enige verkeer tussen Jesus en—*in hul jongelingsjare was nie. Op Gods tyd het—*in die openbaar opgetree. Sy uiterlike het aan dié van Elía herinner, want hy het net soos Elia ’n kleed van kameelhare en ’n leergord gedra. Hy het in die woestyn van Judéa vertoef (ons kan aanneem veral in die omtrek v.d. suidelikste deel v.d. Jordaan) en daar woestynvoedsel geëet: sprinkane en wilde heuning. Johannes het gepreek dat die koninkryk v.d. hemele naby gekom het: God stig ’n ryk in die sondige wêreld, ’n ryk waarin Hy erken en geëer word. Daardie ryk stig Hy met Christus as middelpunt. En wanneer Christus op die punt staan om te kom, ja, alreeds in die wêreld is, vgl. Jh. 1:9, dan is die vestiging van daardie ryk verseker, dan sal Sy heerlike openbaring spoedig gesien word. Om in daardie ryk te kom, is bekering noodsaaklik. Elkeen wat hom bekeer het en sy sonde bely het, is deur—*gedoop. So het daar ’n kring ontstaan wat bereid was om Jesus te ontvang. Die optrede van —*, nie in Jerusalem * nie, maar naas die priesters, al was hy die seun van ’n priester, het ’n geweldige indruk gemaak. Baie het na hom gekom, hul sondes bely, en hulle deur hom laat doop. Maar daar het ook andere met by-oogmerke gekom, sowel Fariseërs * as Sadduseërs *, wat hulle nie waaragtiglik bekeer het nie; vir hulle het—*die doop geweier, Mt. 3:1–12. Daar het ook priesters en Leviete * na—*gekom om hom te vra wie hy was. En hy het rondborstig gesê dat hy nie Elía of die profeet of die Messias was nie; hy was die voorloper v.d. Messias, soos Jesaja * voorspel het daar een sou wees, Jh. 1:19–27.Die vernaamste taak van—*was om die Messias aan te wys en te doop en te verklaar dat hy self die mindere was v.d. Messias, want dié sou nie met water doop nie, maar met die Heilige Gees en met vuur, Mt. 3:11 e.v. Dit leer ons wat die betekenis v.d. doop van—*was: dit was ’n Christelike doop: dié wat deur—*gedoop is, is nie oorgedoop nie. Maar hierdie doop was nog nie volledig nie; dit het sy noodsaaklike aanvulling gekry in die koms v.d. Heilige Gees op die Pinksterfees *. Ook Jesus het Hom deur—*laat doop. Daarin het Hy aan die mense gelyk geword en self toegetree tot die kring waarvan Hy die hoof was. Johannes was ook die getuie van Jesus se doop. Hy het die Gees soos ’n duif sien kom en die stem uit die hemel gehoor, vgl. Jh. 1:32, 33. Toe Jesus optree, was die werk v.d. Doper afgehandel, Dit skyn asof—*dit nie verstaan het nie en nog ’n tyd lank tegelyk met Jesus gewerk het, Jh. 3:22, 23. Hoewel baie, miskien die meeste, van die dissipels van—*by Jesus aangesluit het, het—*nog dissipels om hom gehad en waarskynlik nuwes gewerf. Daaruit het ’n kring van “dissipels van —*” ontstaan, soos blykbaar later in Éfese * bestaan het, Hd. 19. Tog kan daar ook gedink word aan mense wat in Palestina deur—*gedoop is, bv. tydens ’n besoek aan ’n fees, na Efese teruggekeer het en nie van Jesus gehoor het nie.Johannes het Herodes * Antipas bestraf omdat hierdie vors Heródias *, die vrou van sy broer Filippus *, as vrou geneem het. Daarom het Herodes—*gevange gehou in die vesting Machaerus * by die Dooie See *. In die gevangenis het—*begin twyfel aan die werk van Jesus; hy het 2 van sy dissipels wat hy toe nog gehad het, na die Heiland gestuur, en is deur Jesus tereggewys, Mt. 11; Lk. 7. Toe die dogter van Herodias deur haar dansery die koning en sy gaste vermaak het en as beloning die hoof v.d. Doper begeer het, het Herodes—*in die gevangenis om die lewe gebring, Mt. 14.Die werk v.d. Doper het ’n geweldige indruk op die Joodse volk gemaak. Hy was weer ’n Profeet *, Jesus noem hom “baie meer as ’n profeet … groter as al die profete”, Mt. 11:9, 11. Ook die Joodse geskiedskrywer Joséphus skrywe oor die Doper. Die optrede van Johannes het ook hierdie betekenis, dat dit sondaars na Christus gedrywe het.

Preekriglyn

Op 11 Maart 2005 ontsnap Brian Nichols uit die Fulton County hofgebou in Atlanta, in die VSA. Hy word verhoor in ‘n saak wat oor verkragting handel. Tydens sy ontsnapping vermoor hy die regter in sy saak, Rowland Barnes, asook hofverslaggewer Julie Brandau. In die proses skiet en wond hy sersant Hoyt Teasley. Later vermoor hy ook vir David Wilhelm, ‘n wetstoepasser, terwyl hy nie aan diens was nie.

Natuurlik is daar onmiddellik ‘n stadswye soektog na Nichols aan die gang. Al vlugtend beland hy in die woonstel van Ashley Smith, ‘n enkelma wat besig was om van ernstige verslawing te herstel. Hy hou haar gyselaar. Smith begin in haar nood hardop voor te lees uit Rick Warren se blitsverkoper, The Purpose Driven Life.

Hoewel feit, klink die verdere verloop van die gebeure na fiksie. Die lees van Warren se geestelike boek bring beide Smith en die voortvlugtende moordenaar Nichols by belangrike beslissings in hulle lewe. Dit lei – met een woord gesê – tot radikale bekering, die inslaan van ‘n nuwe lewenskoers.

‘n Fliek, Captive, is in 2015 oor hierdie gebeure vrygestel.

Johannes die Doper

In ons teks lees ons hoe Johannes die Doper die weg berei het vir Jesus se optrede. Hy het dit deur sy prediking in die woestyn van Judea gedoen, naby die Dooie See. Die hoofinhoud van Johannes se prediking was: “Bekeer julle…”

Johannes word op ‘n merkwaardige manier geteken. Hy het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe. Aangesien hy in die woestyn gelewe het, het hy van sprinkane en veldheuning gelewe (4). Hierdie is baie belangrike mededelings, want dit identifiseer hom met ‘n ry Ou Testamentiese profete. Sy kleredrag herinner ons aan Elia (2 Kon 1:8). Die Jode het verwag dat Elia weer sal verskyn as voorloper van die Messias. Johannes se kleredrag sê hy is die voorloper van Christus, hy is die Elia wat gekom het om die pad vir Christus oop te maak.

Daarom word hier ook beklemtoon (3) dat sy optrede die vervulling van die profesie in Jesaja 40:3 is. Hiervolgens word die pad van die Here vanuit die woestyn voorberei. Die uitkoms en verlossing wat God bring sou sy oorsprong in die  woestyn hê – waar Johannes inderdaad leef en optree.

Dat mense na hom stroom in die woestyn (nie juis die plek waar mens evangelisasie-projekte loods nie), dui daarop dat hulle God se werk in Johannes se optrede herken. Hier hoor hulle dat die koninkryk van God naby is, en doop Johannes hulle as ‘n teken van berou.

Dit is duidelik dat Johannes die wegbereider vir Jesus is. Hy beklemtoon dat Jesus sy meerdere is, en dat hy nie eers waardig is om Jesus se skoene uit te trek nie – werk wat gewoonlik deur ‘n slaaf gedoen is (11). Johannes lig dus die gordyn, sodat ons die nuwe era sien aanbreek met die koms van Jesus na die aarde. Tog is Johannes se werk van verbygaande aard. Die blywende is Christus en die koninkryk van God.

Bekeer julle!

Die betekenis van Johannes vir ons is dat Johannes nie homself nie, maar Christus verkondig het. Hy sê nie net dat Jesus sou kom nie. Hy spel ook uit dat Jesus se koms sal lei tot verlossing en die heelmaak van mense, maar ook tot ‘n oordeel oor baie. Die inhoud van sy prediking was bekering, die aanvaarding van sy boodskap van die koninkryk, van Christus as Here, met die gepaardgaande berou en vernuwing.

Die bediening van Johannes is swaar gelaai met dringendheid. Die oproep tot bekering was dringend. Die heerskappy van God is op hande. Die pad moet reggemaak word, die Koning kom. So dringend was dit dat dit vergelyk word met ‘n boom wat gevel moet word en waarvan die wortels klaar ooplê met die byl gereed om die finale hou toe te dien. Johannes se lewenswyse en optrede in die woestyn het ook die dringendheid van die situasie onderstreep. Daar was nie tyd vir mooi praatjies en luukses nie.

Sedert Johannes het die koninkryk van God gekom, Christus regeer reeds. Maar ons bid ook nog steeds, laat u koninkryk kom. Daar is deur die eeue die spanning tussen die “alreeds” en die “nog nie” van die koninkryk. God regeer reeds, maar mense moet voor sy koningskap buig. Daarom behoort daar ook by ons nog steeds ‘n dringendheid te wees oor dit wat God wil doen in die wêreld en in die lewe van mense. Daar is ‘n wêreld wat wag op die boodskap: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Wat presies beteken hierdie bekering?

Bekering is …

… aanvaarding van Jesus se koningskap
In vers 2 word die motief vir die bekering aangedui as “want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die woord wat hier met koninkryk vertaal word, beteken koningskap, heerskappy, regering. Dat die koninkryk “van die hemel” is, beteken dat hierdie God se regering is. Dit kom deur Jesus. Johannes sê daarom eintlik: die oomblik het aangebreek dat God weer Here gaan wees. Hy self gaan ingryp, daarom is die boodskap so dringend. God sal die enigste Here wees, en sy koningskap sal oor alles en vir altyd geld (Miga 4:7; Sag. 14:9).

Dit beteken bekering is niks anders nie as om God toe te laat om die Here te wees in jou lewe. Bekering is om van koers te verander. Waar jy vroeër net agter jou eie kop en jou eie belange aangegaan het, draai jy nou om. Jy slaan nou die koers van die Here in. Daar is ‘n totale koerswysiging in jou lewe. Jy is nie meer op jou eie troontjie nie, God is die Here oor jou lewe.

Ons kan ons net bekeer omdat God se regering naby gekom het. God neem die inisiatief. Selfs ons bekering is net moontlik omdat God dit moontlik maak.

Wanneer Jesus uiteindelik aan die woord kom, is sy eerste woord ook “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom.” Daarmee roep Jesus ons om sy dissipels te word. Bekering is om ‘n volgeling van Jesus te word, wat Jesus se lering en voorbeeld as die roetekaart van jou lewe neem.

… ontvanklikheid versus verharding
As nuwe denke is bekering presies die teenoorgestelde van wat die Fariseërs en Sadduseërs oor God en hulleself gedink het. Hulle het na Johannes kom kyk, maar was as godsdienstige leiers glad nie van plan om hulle te bekeer en berou oor hulle sonde te hê nie.

Daarom probeer Johannes hulle nogeens van sy boodskap oortuig. Hulle moet verstaan dat God se koningskap ook oordeel oor mense inhou. Die oordeel kom oor mense wat nie God se koningskap erken nie, en daarom op hulle eie koers bly. Selfs godsdienstige mense kan ten diepste met hulleself besig wees, eerder as met God.

Godsdienstige mense kan hulle op afkoms (“ons is kinders van Abraham”) of godsdienstige praktyke beroem. Dit sê Johannes gaan mense nie help om aan die dreigende oordeel van God te ontkom nie. Redding lê daarin om na God te draai en vrugte te dra wat by die bekering pas (8).

Bekering is om oop te wees vir God, ontvanklik vir God se regering, eerder as om in jouself en jou lewenskoers verhard te wees.

… nuwe denke oor God en oor wêreld
Die mense wat na Johannes toe stroom, bekeer hulle omdat die regering van God naby gekom het. Hulle word dan gedoop in die Jordaanrivier as ‘n teken van berou oor hulle sonde. Hulle het berou omdat hulle God nie gehoorsaam het nie. Die berou kom na die besef van God se koningskap. Die berou vloei uit hulle erkenning van God as koning, en hulle besef van sonde en eiegeregtigheid.

Dat berou oor sonde vloei uit die boodskap van God wat naby gekom het, beteken dat berou nie ‘n voorwaarde is vir bekering nie. Dit is die gevolg van bekering. En bekering is die gevolg van God se regering wat naby kom.

God neem die inisiatief om naby te kom. Dit doen God sedert Johannes spesifiek deur Jesus te stuur, Jesus is die wyse waarop God se regering naby kom. Jesus beliggaam God se regering. Jesus se werk is die manier waarop God koning word. Mense wat dit insien, draai na God toe, erken God se regering, en bekeer hulle na God. Hulle het berou oor hulle sonde.

Bekering kom neer op totale, ingrypende nuwe denke oor wie God is, oor myself, oor sonde, oor genade en wat geregtigheid voor God is. Ek verstaan God nuut, en myself voor God nuut. Ek verstaan my lewensdoel en lewensrigting nuut. Ek het gereageer op God se genade, ek het my bekeer omdat ek God toegelaat het om my te bekeer.

… veranderde gedrag
Veranderde gedrag is die dra van die vrugte wat by bekering pas. Mens leef nie anders omdat jy God se oordeel en gerig vrees nie. Mens leef anders omdat jy God ontmoet het, God se genadige regering gesmaak het, en nou jou lewensgedrag laat vernuwe het. Bekering kan gelees word in ‘n geheiligde, veranderde, liefdevolle lewe. Enigiets anders as dit is nog nie bekering nie.

Ons kan dus ê die dringende oproep tot bekering het ‘n meer innerlike kant en ‘n meer uiterlike kant. Die innerlike kant van bekering bestaan in die nuwe denke oor God. Dit hou in ‘n bereidheid om Hom toe te laat om jou aan te spreek, om ‘n nuwe openheid vir Hom in jou lewe te hê. Dit sluit veral ook die openheid in om aangespreek te word deur die Woord van God en behels dus ‘n gesindheidsverandering wat noodwendig lei tot ‘n sondebesef, erkenning en belydenis van sonde (6).

Die uiterlike kant van bekering is die dra van vrugte wat by die bekering pas (8 en 10). Dit sluit die voortgaande erkenning, belydenis van en breek met die sonde in (6). Hier gaan dit nie oor die vrees vir straf nie, maar die innerlike omkeer wat uitmond in ‘n konkrete lewe van toewyding en diensbaarheid aan God en medemens. Geloof sonder dade is nie werklik geloof nie (Jak 2:14). Mense moet nie net hoor wat ons sê nie, hulle moet sien en voel hoe ons lewe.

… ‘n nuwe begin en ‘n voortgaande beweging
Waar bekering vir die profete en die evangelies gaan om “God reg te dien”, is dit by Paulus die oproep om die “regte God” te dien. Dit wys op die onderskeiding wat gemaak kan word tussen ‘n eerste bekering, die bewustelike beslissing vir Jesus Christus, en die voortgaande bekering as die verdere bou op die basiese verbondenheid aan Christus. Vir ‘n verbondskind is die ideaal natuurlik dat hy/sy van kleins af die evangelie hoor en dit glo en sy/haar lewe aan die Here oorgee. Die belangrike is om hier en nou, elke dag, bewustelik die Here te vertrou en te gehoorsaam. Voortgaande bekering is soos heiligmaking nie die mens se eie werk nie. Dit is Christus in ‘n mens, die nuwe lewe wat die Gees gee.

… bekragtig met die Heilige Gees
As wegbereider vir Jesus doop Johannes met water, maar Jesus self sal met die Heilige Gees en met vuur doop (11). Vers 11 is die klimaks van die gebeure. Johannes is nie werd om Jesus se skoene uit te trek nie. Terwyl Johannes met water doop, doop Jesus met vuur en met die Heilige Gees. Johannes se persoon word teenoor Jesus gestel, en Johannes se doop teenoor Jesus se doop. Dit gaan eintlik om Jesus, en om Jesus se doop.

Oor Johannes se doop moet ons sê dat dit natuurlik nie die Christelike doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees is wat Jesus na sy opstanding ingestel het nie. Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop, wat heenwys na Jesus.

Oor die doop met die Heilige Gees moet ons sê dit is wat met Pinksterdag gebeur het toe die Gees uitgestort is, en ook met elke gelowige gebeur wat Christus as Here en Koning ontvang en erken. Ooreenkomstig die gebruik in Handelinge moet Christene daarom dalk liewer in hul lewe van die vervulling met die Heilige Gees. Net soos mens jou ‘n eerste keer bekeer, so is daar ook ‘n eerste ontvangs van die Heilige Gees. Net soos daar ‘n voortgaande bekering is, is daar volgens Handelinge ‘n voortgaande vervulling met die Heilige Gees.

Dit is juis die Heilige Gees wat dit vir ons moontlik maak om vanuit die Woord ‘n voortgaande lewe van bekering te lei.

Waarna ons moet hunker, skryf BA du Toit, is die sigbare, kragtige werking van die Gees in die lewe van die kerk en die individuele gelowige. Kortom: herlewing. Dit is die boodskap van Johannes die Doper aan ons vandag: “Bekeer julle…”

God stuur ons om te leef

Gebed
Gebed na die preek:  Gee elke week hier – of tydens die dankoffer – kans dat mense hul gebede / lament op klein kaartjies kan skryf en aan die leë Kersboom kom hang.

Offergawes

Wegsending: Lied 504 “Kom laat ons saam tot Jesus nader vs 1,2,3,4,5”

Seën
God se hoop sal vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede sal oor jou hart en verstand die wag hou.
God se vreugde sal jou dra ook deur hartseer tye.
God se liefde sal so ’n werklikheid vir jou wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Woord en Fees 2016-2017)
Of
13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.