Tweede Sondag in Advent

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks:  Lukas 3:1-6
Ander tekste:  Maleagi 3:1-4; Lukas 1:68-79; Filippense 1:3-11

Inleiding

Die sentrale metafoor vir hierdie Sondag is ’n pad. Dit kan op verskeie maniere visueel voorgestel word.
Johannes maak die pad vir die Here gereed.
Sagaria sing daarvan in sy lied, Maleagi belowe God stuur iemand wat die pad gereed maak.
Die Filippenseteks is die enigste een wat nie direk na ’n pad verwys nie. Op ’n indirekte wyse gaan dit egter oor die gelowige se pad van heiligmaking.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Musikale voorspel: Lied 320

Aanvangswoord
Aansteek van die eerste en tweede Adventkers.

Voorganger: Maak die pad vir die Here gereed.
Gemeente: Die Here kom.

Voorganger: Maak die pad vir die Here gereed. Hoor wat die Here kom doen.
Gemeente: Die Here kom.

Almal: Amen (Mal 3:1).

Verootmoediging: Lees Filippense 1:3-11.

Diens van die Woord

Laat ’n gemeentelid die fokusteks voorlees.

Prediker: “Die hemel en die aarde sal tot ’n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot ’n einde kom nie” (Luk 21:33).

Diens van die tafel

Die klem val vandag, ook by die nagmaal, op die hoop en wederkoms en op die heiliging deur Christus.

Gebruik Die Groot dankgebed/Nagmaalgebed.  

Voor die nagmaal
Lees weer Filippense 1:3-11.
Gevolg deur Lied 293; Sionsgesang 396

Uitsending

“Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy sou val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid
(Ou Ierse seën uit Vir die erediens, ’n handleiding).

Dit terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons Groot God en Verlosser, Jesus Christus – Hy wat Homself ter wille van ons gegee het.

Musiek en sang

Toetrede en lof: Lied 165 “O wat ’n vreugde in ons harte”;  Sionsgesang 64; FLAM 245
Verootmoediging: Lied 346 “Ek kniel voor u voete, Heer”
Diens van die Woord: FLAM 87; Sionsgesang 332; Lied 257 “O Heer, maak oop my hart se poort
Diens van die tafel: Sionsgesang 396; Lied 296 “Jesus, U is my verblyding”
Uitsending: FLAM 220; Sionsgesang 186; Lied 486 “Bring aan al die volke die boodskap”  

Preekstudie – 3:1-6

Teks

Vers 1 gee ’n duidelike tydsaanduiding (in die vyftiende regeringsjaar), met spesifieke vermelding van wie op daardie tydstip aan bewind was, wie die keiser was (Tiberius), wie die goewerneur was (Pontius Pilatus), wie die heersers was (onder andere Herodes van Galilea, asook wie die hoëpriesters was (Annas en Kajafas). Die meeste kenners stel hierdie vyftiende regeringsjaar op die jaar 27 of 28 nC. Tiberius was die opvolger van Augustus en dus die tweede Romeinse keiser.

Vers 2. Die woorde “In daardie tyd” dien om dit wat volg, veral die ontwaking en optrede van Johannes as voorganger van Jesus, te plaas in die regeringsjaar van Tiberius. Die frase “woord van God” is ’n bekende en unieke gebruik in die Nuwe Testament. Geleerdes meen Lukas beroep hom hier op die Septuagint se gebruik daarvan. Die vers openbaar die roeping van Johannes as profeet, en spesifiek dat dit in die “woestyn” gebeur het.

Vers 3. Hier word aangedui waar Johannes met sy prediking begin het, naamlik die Jordaanstreek. Hy het in die woorde van Leaney ’n doop van bekering verkondig, met gevolglike vergiffenis van sonde. Johannes se prediking beklemtoon die eenheid in die doel van beide Johannes en Jesus se prediking. Dit sluit ook aan by die opdrag wat aan die dissipels toevertrou is ná Jesus se opstanding , soos wat Lukas 24:47 dit stel: “En in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word.” Die doop na die bekering is gesien as openbare daad wat getuig het van bekering en as teken van die afwassing van sonde (Groenewald).

Vers 4-6. Hierdie is ’n aanhaling uit Jesaja 40:3-5. Lukas is die enigste van die vier evangeliste wat die aanhaling verleng deur vers 4 en 5 by te voeg. In Johannes het die profetiese voorspelling in vervulling gegaan. Johannes word hier geskets as die wegbereider vir die Messias. Groenewald meen hy is niks meer nie as “iemand”, en volgens die grondteks, is hy ’n “stem” wat in die woestyn roep. Sy boodskap blyk daarom belangriker te wees as die boodskapdraer. En om dit by die lesers in te skerp, voeg Lukas vers 4 en 5 van Jesaja 40 by. Hierdeur wys Lukas daarop dat die verlossing van God kom en dat dit heil vir alle mense en die wêreld beteken. Dit is hoe groot die omvang van God se verlossing is.

Konteks

Lukas se uitgebreide inligting omtrent die vyftiende regeringsjaar volg nie net die sekulêre patrone nie, maar dien ook om die evangelie in die raamwerk van wêreldgeskiedenis te plaas. Dit maak dit vir ons moontlik om die beraamde jaartal van die optrede van Johannes te bepaal. Die meeste kenners is dit eens dat dit rondom 27 en 28 nC was, juis omdat dit binne die tyd dat Pontius Pilatus die goewerneur van Judea en Samaria was (26-36 nC), plaasvind.

Die politieke en sosiale klimaat gedurende die regeringsjaar van keiser Tiberius is gekenmerk deur ongelykhede, sosiale klasse soos die heersersklas, die koninklikes, Herodiane, ekonomiese en politieke leiers, asook die Sadduseërs en sommige Fariseërs. Die dominante klas het uit onder meer kunstenaars en priesters en Fariseërs uit ’n laer sosiale klas bestaan. Volgens Mosala was daar selfs sprake van wat hy “under classes” noem. Die sogenaamd “under classes” het bestaan uit nie-permanente werkers, kriminele met klein en of onbelangriker oortredings, prostitute en bedelaars. Hierdie was die groep wat die meeste uitgebuit is.

Nolland argumenteer dat die insig verkry deur die deelnemers aan die geboorteverhaal, geen verdere rol in die evangelie van Lukas speel nie. Dit bring mee dat hoofstuk 3 ’n nuwe begin is van die belofteverslag of -verhaal, van die dinge wat in ons midde gebeur (Luk 1:1; Hand 10:37). Dit, saam met die sinkronisasie van vers 1 en 2, dra daartoe by dat hoofstuk 1 en 2 as van minder belang afgemaak word. Daar word selfs van hoofstuk 1 en 2 gepraat as deel van die voorgeskiedenis-tydvak.

Teen dié agtergrond verkondig Johannes die boodskap van bekering en vergiffenis van sonde. Verkondiging van bekering was niks anders as om mense op te roep om hulle van hulle verkeerde lewenswyse te bekeer, daarvan weg te draai, daarmee op te hou en verandering van hart te ondergaan nie. Van diesulkes wat tot bekering wou kom of gekom het, is verwag om hulle sondes te bely, wat beteken het hulle moes hulle sondes in die openbaar bekend maak en berou daaroor betuig en betoon. Die oproep om bekering lê ’n verband tussen Johannes en die groot profete van Israel. Hulle het ook die volk opgeroep om hulle van hulle vervreemding van en opstand teen God te bekeer. Hulle oproep se doel was dat die volk weer hulle lewe op God en sy wil moet fokus. Hulle moes weer leer om God onvoorwaardelik te vertrou en om weg te draai van alles wat God nie waardig is nie.

In Johannes se bediening het die doop op die bekering gevolg omdat dit ook ’n openbare daad was. Volgens Tiede toon Lukas se weergawe van mense se bekering en doop, die afwesigheid van die Heilige Gees terwyl daar in die bekering wat mense ondergaan, gefokus word op die omdraai van mense om die geloof in Jesus te aanvaar.

Lukas verleng die aanhaling uit Jesaja 40 en hy doen dit deur vers 6 in te sluit. Vers 6 dien om die balans en om die dreigende toon van vers 7-17 te versag. Dus, die vervulling van die doel en belofte van verlossing deur God, is nie soseer om te oordeel nie, maar om te red.

Lukas 3:1-6 maak deel uit van die groter literêre eenheid (Luk 3:1-4:13) wat handel oor die onmiddellike voorbereiding vir Jesus se openbare bediening en publieke optrede. Die geskiedkundige inligting in vers 1 word juis ingesluit omdat dit fundamenteel uitgedaag gaan word deur die nuwe gebeurtenis, verwysend na die roeping, boodskap en optrede van Johannes.

Preekvoorstel

Ons perikoop leen hom daartoe om oor meerdere temas te preek. Siende dat vers 1 geskiedkundige inligting bevat en daarom die gebeurtenis rondom Johannes, sy roeping, boodskap en optrede in die raamwerk van wêreldgeskiedenis plaas, kan dit dien as basis om te praat oor die belang en impak van die geskiedenis, byvoorbeeld van die wêreld, die kontinent, Suid-Afrika en ons eie plaaslike gemeenskappe waar ons woon, werk en speel.

Die historiese omstandighede en konteks is medebepalend vir ons interpretasie en toepassing van die Woord van God. Ons evangelie-bediening vind nie in ’n vakuum plaas nie. Ons teologiese, wetenskaplike en filosofiese omgang met die Woord van God het die geskiedenis nodig. Daarom moet ons die historiese faktore verstaan om die evangelie-boodskap effektief en relevant te kan uitlê en oor te dra.

Tans het die werke van ISIS, die Midde-Oosterse konflik, ons eie politieke, ekonomiese en sosiale onstuimigheid, asook die droogte in verskeie dele van ons land, impak op hoe ons die evangelie verstaan en interpreteer met die doel om mense te help sin maak van ons geloofsoortuigings en lewensbestaan midde in die daaglikse krisisse.

Leiers binne historiese tydvakke moet kennis neem van die Leier wat kom. Hulle moet kennis neem van sy doel, werkswyse en gesindhede wat Hy van sy onderdane in sy koninkryk sal duld. Sy heerskappy sal geken word aan geregtigheid, liefde, vergiffenis en vrede. Die opteken van die regeringsjaar van keiser Tiberius is dalk ’n aanduiding van Lukas se teologie, wat klem lê op die heerskappy van Christus.

Daar kan ook in die prediking in diepte aandag gegee word aan die boodskap van Johannes. Hy het bekering verkondig, wat behels om van ons verkeerde lewenswyse weg te draai en tot geloof te kom in Jesus as Koning, Regeerder en Verlosser. Johannes het bekering verkondig wat Jesus Christus as Seun van God erken, wat eis dat ons ons vertroue in mense en of materiële dinge verskuif na vertroue in Jesus Christus.

Die bekering beklemtoon ook ’n dringendheid juis omdat die boodskap beklemtoon dat die Here, die Messias en Koning, aan die kom is. Die dringendheid kan onderstreep word omdat baie mense in hulle geloofslewe en waaksaamheid, tekens van verslapping toon. Daar is aanduidings dat baie mense selfgerig raak, terwyl ander op konings en strydwaens vertrou en baie mense ontrou, wanhopig en selfs ongelowig word.

Suid-Afrika worstel steeds met rassisme, ongelykhede, korrupsie en geweld, veral teen vroue en kinders. Dan is daar die gedurige gewelddadige protesoptogte, werkloosheid en veral die taaldebat oor Afrikaans as onderrigtaal. Daar is vele wat voel Afrikaans word afgeskeep en dat sommige mense Afrikaans wil uit rangeer. Die onsekerheid oor voedsel en plaasmoorde is verdere kwessies wat ’n impak het op mense se bekeringservaring en die verkondiging van bekering as verandering van lewenswyses uitdaag. Daar is ook die standpunt dat bekering onsin is, terwyl baie meen dit is ’n godsdienstige foefie om mense te probeer nederig hou en hulle van ’n kompeterende beroepslewe en geleenthede van sukses te wil weghou.

Teen hierdie agtergronde is dit nodig dat ons ernstig besin oor die grondwaarhede, asook oor etiese en godsdienstige waardes van bekering, om dit sinvol aan mense oor te dra en hulle te motiveer tot die wegdraai van hulle vernietigende lewenstyl. Bekering geld nie net vir die toekoms nie. Dit is ook nie iets wat tot die verlede behoort nie. Bekering as die wegdraai van ’n verkeerde lewensweg wat kwaad inhou en afbreuk doen aan menseverhoudinge en ons verantwoordelikheid teenoor die skepping, kan net goeie gevolge inhou – godsdienstig, eties en sosiaal.

Bekering is inderdaad ’n hoopvolle gebeurtenis en kan die rigting van ons politiek, ekonomie, moraliteit en sosiale lewe bewerk. Bekering help mense ontdek wat van waarde is en wat ons doel in die lewe is. Deur bekering kan ons voldoen aan die eise van die evangelie, maar kan ons ook lig werp op ons politieke en maatskaplike probleme.

Bibliografie

Barclay, W 1975. (Revised Edition). The Daily Study Bible. The Gospel of Luke. Edinburgh: The Saint Andrew Press; Tiede, D L 1988. Augsburg Commentary on the New Testament. Luke. Minneapolis, Minnesota: Augsburg Publishing House; Groenewald, E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas. Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers; Nolland, J 1989. Word Biblical Commentary. Vol 35a. Luke 1-9:20. Dallas, Texas: Word Books Publisher; Leaney, A R C 1958. A Commentary on the Gospel According to St. Luke. London: Adam and Charles Black Limited.

© Missio 2024 | All rights reserved.